Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Toring van Jasmyn
Toring van Jasmyn
Toring van Jasmyn
Ebook232 pages4 hours

Toring van Jasmyn

Rating: 5 out of 5 stars

5/5

()

Read preview

About this ebook

Toring van Jasmyn speel in die kleurvolle strate van Istanboel af. Markus Combrink reis saam met sy pa, suster en "nuwe boetie'' Neil (hy trek in by hulle na sy ouers se dood), na dié Turkse stad. Terwyl hulle pa werk, verken die tieners die pragtige besienswaardighede en raak bevriend met twee plaaslike tieners, Meryem en Sahib. Daar is politieke onrus, en bomaanvalle deur plaaslike terreurgroepe dreig om die Combrinks se vakansie in ’n nagmerrie te omskep. Boonop worstel Markus met sy ouers se onlangse egskeiding en moet Neil die verlies van sy ouers verwerk. Wanneer Markus se suster egter ontvoer word, begin die poppe behoorlik dans. Die vakansie ontaard in ’n avontuur wat die Combrinks nie sommer sal vergeet nie.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateOct 14, 2019
ISBN9780624087526
Toring van Jasmyn
Author

Derick van der Walt

Derick van der Walt is die skrywer van Lien se lankstaanskoene (Goue Sanlamwenner 2007, M.E.R.-Prys vir Jeugliteratuur en IBBY Erelys 2010) en verskeie ander bekroonde jeugverhale. Sy eerste roman vir volwassenes, Daan Dreyer se blou geranium, het in 2012 verskyn. Hy woon in Pretoria.

Read more from Derick Van Der Walt

Related to Toring van Jasmyn

Related ebooks

Related articles

Reviews for Toring van Jasmyn

Rating: 5 out of 5 stars
5/5

1 rating0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Toring van Jasmyn - Derick van der Walt

    DERICK VAN DER WALT

    Tafelberg

    Hierdie boek is bekroon met

    ’n Goue Sanlamprys vir Jeuglektuur 2019

    Ter nagedagtenis aan my broer Johann Jurie van der Walt

    en vir Johann van der Walt (jr)

    Dit is miskien die woorde op die lang ou se swart T-hemp wat jou laat vermoed dat hy ’n Amerikaner kan wees: Always be yourself, unless you can be Batman (then always be Batman).

    Dalk ook sy bruingebrande gesig en die blonde krulhare. Jy kan hom maklik op ’n branderplank voorstel.

    Die twee jong meisies wat weerskante van hom stap, ewe blond, geniet die lang ou se slimmighede, kan jy sien. Hulle giggel, skuif sonbrille reg, voel of die toppies nog in plek is. Die meisie met die blonde vlegsel, regs van die moontlike Amerikaner, se sandale is goudkleurig en haar toonnaels bloedrooi geverf.

    Jy merk ook die vrouens in swart burkas tussen die vele toeriste op. Hulle beur ongeduldig, miskien effens geïrriteerd sê die lyftaal, deur die menigte.

    Die Turkse jong mans in die gedruis op die sypaadjies kan jy ook nie miskyk nie. Jy eien hulle aan hulle donker oë en donker hare. Hulle is haastig, duidelik op pad iewers heen, nie hier op ’n besigtigingstoer saam met die toeriste nie.

    Die blonde groepie buk kort-kort en ruik nuuskierig aan die veelkleurige inhoud van die wit erdeskottels voor winkels waarin speserye hoog gestapel staan. Jy ruik kaneel, komyn, gedroogde tiemie, mentblare, koljander, paprika.

    Soms neem een van die lede van die blonde groepie ’n foto, selfies meestal. Hulle streel oor die rye en rye tekstiele wat in stringe van pale voor stalletjies se donker openinge hang. Daar’s diepblou, opaal, room, goud, herfsgele en -bruine, skelpers en -pienk. Iewers kan jy ’n vrou treurig in Arabies hoor sing, begelei deur ’n snaarinstrument, dit kan ’n siter wees. Daar is ’n aanhoudende gekliek van kameras en ’n opgewonde gebabbel van die toeriste afkomstig van elke uithoek van die aarde.

    Die stegie mond in ’n keisteenplein uit waar restaurantjies soos mossels om ’n rots gerangskik is. Vrolike sambrele, tafeltjies met mooi tafeldoeke, rondskarrelende kelners, vreemde maar verleidelike geure vanuit stomende houers, is jou eerste indrukke. Die etendes voor die restaurante se gesels laat jou aan die vrolike gedruis van ’n waterval dink.

    Die jong man met ’n swart bofbalpet op, wat skielik uit ’n agterstraat verskyn, sal waarskynlik nie jou aandag trek nie, dalk net as jy hom terloops uit die hoek van jou oog raaksien.

    Hy loop vinnig na die restaurantjie op die hoek met die helderblou sambrele waar toeriste opgewonde die oggend se ervarings en inkopies bespreek. Die inhoud van inkopiesakke word triomfantlik op tafeltjies uitgepak.

    Die pakkie in bruin papier toegedraai wat die man met die swart pet styf teen sy bors hou, sal waarskynlik ook nét per ongeluk jou oog vang. Hy stap die restaurant vinnig binne en sekondes later verskyn hy weer by die deur. Hy kyk vinnig heen en weer en stap dan haastig oor die plein.

    In ’n systraatjie kan jy vaagweg die geluid van ’n motorfiets hoor wat vinnig wegtrek.

    Jy sien eers die helder wit lig voordat jy die slag hoor. Die lig is verblindend en verhelder die binneplein met sy mooi keistene en vrolike sambrele na iets onwerkliks. So wit en so helder is alles.

    Dan hoor jy die oorverdowende slag. Vir ’n paar sekondes daarna is dit stil. Dan ruik en sien jy die rook en die vlamme wat by die restaurant se vensters uitpeul. Jy sien ook die sambrele wat aan flarde die wêreld vol lê op die binneplein, tafels en stoele omgekeer, borde en glase stukkend op die plein se stene.

    Jy hoor die gekerm en die geskree om hulp, sien die straaltjies bloed wat stadig spinnerakke oor die mooi keistene vorm.

    Eenkant lê ’n spierwit voet sonder die res van die lyf, ’n goue sandaal nog in plek, die naels bloedrooi geverf.

    snake

    HOOFSTUK 1

    Markus wikkel vir die soveelste keer in sitplek 74A van die Boeing terwyl hy die groot tannie se gesnork in sitplek 74B probeer ignoreer. Deur die vliegtuig se venster is niks te siene nie, net die donker. Nie eens ’n ster of ’n wolk of iets daar ver onder wat dalk ’n vreemde land kan wees nie.

    Die monitor op die rugkant van die sitplek voor hom wys hulle vlieg steeds oor Afrika.

    Hy loer onderlangs na Neil in sitplek 74C. Dié staar strak na die monitor op die agterkant van die passasiersitplek voor hom. Oorfone in die ore, kyk ’n fliek en dit lyk of hy nie ’n saak het met iemand anders in enige sitplek wat ’n nommer 74 het nie.

    Markus is spyt dat hy so baklei het om by die venster te sit. Neil het die beste sitplek, al kan hy nie by ’n venster uitkyk nie. Wat is daar nou eintlik om te sien? Neil kan makliker as hy opstaan, toilet toe gaan, en sommer net in die gangetjie tussen die rye sitplekke rondloop om litte te rek. En hy sien Neil vra kort-kort vir die lugwaardin nog iets om te eet en te drink. Sy glimlag elke keer vriendelik vir Neil.

    Have a heart, dink Markus vies. Wat is dit aan hierdie ou dat mense dink hy is die ene hoofseun? Hy wat Markus is, sien nie die Mister Goody-goody raak nie. Eintlik irriteer die ou die hel uit hom uit. Hoekom Neil nou in hulle Combrinks se sop moet kom rondhang, verstaan hy ook nie heeltemal nie. Het die ou nie ’n oom of ’n tannie of ’n nefie of ’n oupa iewers nie?

    Markus dink aan die skoolvakansie waarna hy erg uitgesien het voordat sy pa die onverwagse brainwave gekry het om hulle saam te vat op sy sakereis Istanbul toe. Dis sy gewete wat pla, weet Markus. Nothing more, nothing less.

    Hy sou baie eerder nou op Ballito se strand saam met Jamie-hulle wou rondhang as om in ’n vreemde land na kerke en katedrale te gaan kyk. Die simpel plek het glo meer kerke as mense wat op straat loop, klink dit vir hom aan Nina se gepraat.

    Hallo, daar ontplof actually bomme daar. Sy pa sê hulle sal veilig wees, maar hy wat Markus is, is nie so seker nie. Om in ’n bruin boks sonder asem weer in Suid-Afrika aan te land is nou nie wat hy pret sal noem nie. Jamie sê hy sou honderd keer eerder in Istanbul tussen die bomme en die aksie wou wees as op Ballito se strand. Maar Jamie verstaan nie. Jamie het nog nooit regtig verstaan nie.

    Markus kyk weer na die spyskaart met flieks op die monitor voor hom waaruit hy kan kies. Niks interesseer hom nie. Hy is al ’n paar keer deur die lysie. Hy het die meeste van die goed al lank terug by hulle huis in Pretoria gekyk. ’n Mens sou dink dat Etihad Airways darem beter kon doen om die passasiers te vermaak. Die vliegkaartjies Istanbul toe het sy pa ’n hoop geld gekos. Waarna sou Neil so lekker kyk? wonder hy effens jaloers.

    Hy moes tóg aan die slaap geraak het, besef Markus verbaas. Hy word wakker van ’n gewerskaf in die kajuit. Mense staan op, tou toilet toe. Die lugwaardinne deel nat, warm lappies op silwer skottels uit. Passasiers vee hulle gesigte en hande met die lappies af.

    Die tannie langs Markus, wat nou uiteindelik klaar gesnork het, staan op en Neil staan eenkant toe sodat sy by hom verby kan skuur.

    Sjoe, dis darem ’n lang sit, sê Neil toe Markus by hom verbyskuif. Markus antwoord nie.

    Voor die toilet tou ’n lang ry mense. Hy sug en wag sy beurt af.

    Sy pa en Nina het intussen ook lewe gekry in die ry sitplekke voor hulle, sien hy toe hy terug in sy sitplek skuif. Ek kan nie wag nie, hoor hy Nina vir sy pa sê. Markus rol sy oë.

    Hy eet lusteloos aan die klein bakkie jogurt, muesli en vrugte. En toe die roereier, worsie, gebraaide tamatie en ’n broodrolletjie. Dié verlepte bordjie kos staan nie ’n kans om iets op MasterChef te wen nie, maar hy is honger.

    Hy sluk aan die flou koffie. Op die monitor voor hom sien hy hulle is nie meer te ver van Turkye af nie.

    Ná ’n uur kondig die kaptein eers in Arabies en daarna in Engels aan dat hulle binnekort gaan land.

    Halleluja, dink Markus. Deur die venster sien hy stukkies geel, groen en bruin wat van hier af soos die lappieskomberse lyk wat sy ouma eeue terug gemaak het, voordat haar vingers stokstyf of krom, hy kan nie onthou nie, van die rumatiek geword het. Hy kan vaagweg op die horison iets uitmaak wat na ’n groep bruin stekeltjies lyk. Hulle skiet soos lang, maer miershope die lug in.

    Later word die groep snaakse miershope ’n groot bruin stad. Die klomp uitsteeksels word geboue. Groot uitgestrekte areas weerskante, met geboutjies wat huise kan wees. ’n Blink rivier vloei soos ’n reuseluislang deur die bruin landskap. Dit moet ’n helse groot stad wees, dink Markus verwonderd.

    Die vliegtuig maak ’n wye draai en begin daal. Die vlieënier is seker nie in Etihad se eerste span nie, dink Markus benoud, toe hulle half rof en hop-hop land.

    Welcome to Istanbul, sê die vlieënier oor die interkom.

    snake

    HOOFSTUK 2

    In die ontvangsarea van die lughawe staan ’n man met ’n wit kennisgewingbord voor sy bors. In krom handgeskrewe letters staan op die wit bord: Mr Johanes Combrink, Sous Africa, welcom ! Dit moet seker ’n Turk wees te oordeel aan sy pikswart hare en die meneer van ’n swart snor, dink Markus.

    Hulle pa skud hand met die vriendelike Turk.

    Markus en Neil beur met die volgelaaide trollies agter die Turk aan. Die twee groot tasse is albei Nina s’n. Wat de hel, gaan sy in Istanbul agterbly? wonder Markus vies. Hy hoop so. Vrede in Pretoria sonder haar kan dalk net pret wees.

    Op hierdie lughawe het daar twee maande gelede ’n bom ontplof. Daar’s mense dood, sê hy vir Neil.

    Neil antwoord nie.

    Die Turk vat hulle na ’n kiosk in die ontvangsvertrek waar hulle plaaslike simkaarte vir hulle selfone koop. Dan laai hy hulle bagasie agter in ’n wit Toyota-minibus met die logo van vermoedelik die hotel waarna hulle op pad is. Hy praat een stryk deur met hulle pa, wat voor langs hom inklim.

    Die wêreld lyk nou nie na iets waarvan jy ’n foto op Instagram sal wil sit nie, dink Markus terwyl die Turk die oprit na ’n besige snelweg vat. Ou en nuwe geboue, baie karre. Dit lyk nie na die wêreld waaroor Nina die laaste paar dae onophoudelik gefaff het ná ure op die internet nie.

    Die bestuurder draai later van die besige snelweg af en geleidelik begin die wêreld anders lyk. Nou straatjies waarin voertuie op en af jaag.

    Wat ek nie kan verstaan nie, is dat daar nie ’n ongeluk op elke hoek is nie. Die mense jaag soos mal hase in hierdie nou straatjies rond, mymer Neil, sy gesig teen die venster gedruk.

    Maar hulle weet van bestuur, sê Markus se pa. Hy loer skrams na die bestuurder. Ek het nog nie een oomblik onveilig gevoel nie.

    Wel, ék voel onveilig, sê Markus. Blerrie hel, hoe dink hy gaan hy by daai bus verbykom wat op ons afpyl? Hier is nie plek vir twee goed om in die straat by mekaar verby te ry nie! Hy sit vooroor op die sitplek en leun deur die gaping tussen die twee voorste sitplekke deur terwyl hy benoud met sy vinger beduie.

    Asof die bestuurder die gesprek in Afrikaans kan volg, glip hy vinnig by ’n opening in en stop tussen twee karre wat langs die sypaadjie geparkeer staan. Dis ’n piepklein gaatjie. Hoe het die ou dit reggekry? wonder Markus verstom. Dalk is sy pa reg: die mense is seker gewoond daaraan om in hierdie deurmekaar plek te bestuur.

    ’n Bus vol toeriste rammel verby en die busbestuurder waai vriendelik vir die bestuurder van die hotel se bussie. Dié waai terug.

    Hulle draai af in ’n nou straatjie.

    Sultanahmet, sê die bestuurder met sy vreemde aksent. Sy regterhand vee vaag na regs. Ons toeristebuurt. Baie mooi, baie mooi.

    Nou straatjies, stringe winkeltjies met mense wat op stoele op die sypaadjie voor die winkeltjies sit en gesels, rye en rye restaurante. Talle toeriste, kameras om die nek, stroom op die sypaadjies verby.

    Ag, kyk hoe cute! sê Nina.

    Wat is vir jou so cute, Nina? vra Markus sarkasties.

    Dis eksoties! Dis so anders as daar by ons – en kyk al die katte oral. Ek is al klaar mál oor die plek!

    Markus sug.

    Die bestuurder draai af in ’n nog nouer straatjie en stop voor ’n klein hotel. Daar is ’n hele paar soortgelyke hotelle verder af in die straat, sien Markus. Motors staan aan die linkerkant van die straat ingeryg, soos mense wat voor die Lotto-toonbank in Checkers tou. Hier is nou baie minder mense as in die strate waardeur hulle pas gery het.

    Hulle klim uit en staan na die hotel en kyk. ’n Groen rankplant met geel blommetjies peul geil oor die rooi baksteenmuur voor die hotel. Dis omtrent net drie treë tussen die muur en die straat.

    "Angel Tears Hotel," lees Nina. Bokant die ingang hang ’n koperafbeelding van ’n engeltjie met ’n kruik in die hand waaruit pienk en rooi blomme na benede rank.

    Ag, cute! Kyk, die liggies rondom die engeltjie se wangetjies lyk soos regte egte traantjies.

    Wat is vir jou so— begin Markus, maar Neil val hom vinnig in die rede.

    Dit ís liggies. Die trane is klein liggies. Hulle het beslis nie Eskom-probleme hier as die goed in die dag brand nie.

    Wat ’n nar is jy nie, ou grote, dink Markus geïrriteerd.

    Die bestuurder dra hulle bagasie die hotel binne. Markus en Neil help. Markus sleep een van Nina se extra-large tasse agter hom aan. Wat is alles in hierdie doodskis, Nina? Jy kan tog nie so baie klere nodig hê vir tien dae nie? vra hy steunend.

    Sy ignoreer hom. Neil vat sonder ’n woord die tas se trekstang by Markus. Markus ruk die trekstang van Neil af weg. Ek kan dit blerriewil self doen! Neil tree afgehaal terug.

    Markus, ek hoop nie jy gaan die hele vakansie so ’n pyn wees nie, sê sy pa.

    Markus trek die reusetas verder die hotel binne sonder om te reageer. Daar is ’n klein ingangsportaal met ’n paar wynrooi gemakstoele, ’n groot platskermtelevisie waarop ’n sokkerwedstryd uitgesaai word, plastiekblomme in ’n pot op die ontvangstoonbank. Die Turk agter die toonbank skeur sy oë met moeite van die skerm af weg om na die aankomelinge te kyk.

    Welkom in Istanbul, sê hy. Daar is ’n goue tand in sy mond. Mag julle julle verblyf hier by ons geniet.

    Nie sommer nie, dink Markus. Hy is eenvoudig nie lus vir hierdie spul nie. Wat de hel kom soek hulle nou eintlik in hierdie vreemde plek? Hy kyk in die vertrek rond. Die televisie se klank is gedemp, maar daar is baie aksie op die skerm. Die kommentaar is in Turks, vermoed hy, as hy na die opgewonde kommentator luister wat hy vaagweg kan hoor. Daar is kort-kort kameraskote van toeskouers wat lekker mal gaan.

    Sy pa vul vorms in en haal sy kredietkaart uit sy beursie. Nina en Neil fluister opgewonde onder mekaar. Nina en hulle pa het ’n suite met twee kamers op die vierde vloer van die vyfverdiepinggebou. Op die verdieping bo die suite is glo ’n daktuin waar hulle ontbyt gaan eet. Markus en Neil deel ’n kamer iewers op die grondvloer naby die ingang van die hotel.

    Nou ja, kom ons pak uit en dan kry ons mekaar oor ’n halfuur in die portaal. Die son sak al, maar ons kan ’n bietjie die wêreld gaan verken. En ek is lus vir egte Turkse kos, sê hulle pa.

    Markus loop lusteloos agter Neil aan, wat ná ’n soektog in die skemer gangetjie by kamer 9 stop. Hy sluit die deur oop. Hulle kyk rond. Twee enkelbeddens, ’n klein badkamer met blou handdoeke, ’n bedkassie met ’n leeslamp langs elke bed, ’n skryftafel tussen die twee beddens met ’n spieël daarbo, ’n ingeboude kas en groot vensters straat se kant toe. En ’n glasdeur wat op ’n klein binnehof oopmaak. Geel-en-groen gestreepte gordyne hang voor die vensters.

    Die yskas trek dadelik Markus se oog. Dalk is dit volgepak met bier om te help om die vervelige vakansie in Istanbul maliker te maak. Die vensters wat straat toe wys, kyk vas in die hotel se hoë, toegerankte baksteenmuur.

    Nie te sleg nie. Jy kan kies. Neil beduie na die twee enkelbeddens. Markus antwoord nie, maar gooi sy rugsak op die bed naaste aan die binnehof neer. Hy maak die yskas oop. Bottels water, boksies met vrugtesap – of so lyk dit altans – en ’n paar sjokoladestafies wat soos Lunch Bars lyk.

    Neil pak sy klere in die ingeboude kas.

    Markus maak die glasdeur na die binnehof oop. Daar staan ’n blou bankie met kussings wat soos die gestreepte gordyne lyk, en ’n klein tafeltjie voor die bankie met ’n asbak op. Hy gaan sit op die bankie en wens hy was ’n roker.

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1