TOE die sneltrein van Schiphol die Gare du Nord stadig binnery, kondig ’n stem met ’n swaar Franse aksent aan: “End of the line. Enjoy your stay in Paris.”
Mila staan op. Soos ’n paar keer die afgelope dag of wat moet sy haarself knyp. Sy, ’n meisie van Pretoria, is in Parys. Parys, Frankryk!
Net vyf kort weke gelede was sy so byna-byna ’n verloofde vrou, maar aan die einde van haar en Frits se verhouding was daar geen musiek meer in haar gemoed nie. Haar lewe het so voorspelbaar en saai voor haar uitgestrek gelê soos ’n sepie sonder ’n klankbaan.
Teen almal se raad in het sy met haar laaste spaargeldjies – amper niks op ’n onderwyser se salaris – met haar Schengenvisumaansoek begin en plek in die hartjie van Parys bespreek. In ’n hotel wat, volgens die webtuiste, nogal aan ’n Suid-Afrikaanse familie behoort.
En hier is sy nou.
Sy strek haar hand uit om haar klein roltassie van die