Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Bambaduze
Bambaduze
Bambaduze
Ebook220 pages3 hours

Bambaduze

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Wanneer woorde nie werk nie, moet jy 'n ander manier vind om jou stem te laat hoor.
“’n Paar blokke noord van die Rosebank-sentrum sien hy blou ligte flikker. Seker ’n motorongeluk. Hy pluk hom altyd vir mense wat nie kan bestuur as daar ’n paar druppels reën val nie. Ry mekaar moer toe.
Die gedagte aan polisie maak hom dadelik behoedsaam. Kophou, mater, sê hy vir homself. Jy ry net mooi by die spul verby. Jy kyk nie links nie, jy kyk nie regs nie. Dis nie jou issue nie. Die arme mense wat mekaar gehaak het, dis húlle issue. Niemand sal eers in jou rigting kyk nie.
Dan sien hy dis ’n padblokkade en sy lyf word koud. Hy bestuur die kar sonder 'n lisensie en ’n sleutel in die aansitter. Hy begin sweet, al is dit koel ná die reën.
Uit die hoek van sy oog sien hy een van die polisievroue aangestap kom. ’n Paar meter verder het ’n verkeerslig skielik die gees gegee. Dit het pas nog gewerk. Dis net die geel lig wat aan is. Dit flikker oor die naderende polisievrou, aan en af, aan en af.”
Bambaduze is Derick van der Walt, skrywer van die topverkoper Lien se lankstaanskoene, se vierde jeugroman. Dit verwoord ’n seun se uiting van verlies, maar ook die verligting wat aanvaarding kan bring en is uiteindelik ’n besonderse, inspirerende storie oor die heelwordproses ná trauma.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateMar 6, 2015
ISBN9780624069300
Bambaduze
Author

Derick van der Walt

Derick van der Walt is die skrywer van Lien se lankstaanskoene (Goue Sanlamwenner 2007, M.E.R.-Prys vir Jeugliteratuur en IBBY Erelys 2010) en verskeie ander bekroonde jeugverhale. Sy eerste roman vir volwassenes, Daan Dreyer se blou geranium, het in 2012 verskyn. Hy woon in Pretoria.

Read more from Derick Van Der Walt

Related to Bambaduze

Related ebooks

Related articles

Reviews for Bambaduze

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Bambaduze - Derick van der Walt

    BAMBADUZE

    DERICK VAN DER WALT

    Tafelberg

    Vir Naudé Eagleton

    en ter nagedagtenis aan Chris Viljoen

    1 Augustus 1958 – 18 Oktober 2014

    Dit was op ’n koelerige Saterdagoggend in September dat hy sy eerste kar gesteel het. Nét voor die begin van ’n pretloop wat geborg is deur ’n groot versekeringsmaatskappy in Johannesburg. Op ’n sokkerveld wat as tydelike parkeerterrein vir die deelnemers gedien het, het die kar gestaan.

    Die pretloop is deur sowat drieduisend bonte, fikse en entoesiastiese atlete en gesinne van regoor die stad bygewoon. Daar was selfs skoppende babas en kleuters, toegewoel in kombersies om hulle warm te hou, in stootkarretjies voor trotse drawwende ouers uit.

    Hy het op ’n stokou, verbleikte rooi Mazda 323 in een van die agterste rye besluit. Dit het gelyk soos ’n 1984-model, en dit was maklik om die deur aan die bestuurskant oop te forseer.

    HOOFSTUK 1

    Jurie bewe terwyl hy wag vir die parkeerkaartjie om uit die gleuf by die ingang gespoeg te word. Gautreinstasie, Rosebank. Sy vingers tik op die stuurwiel. Sy keel is droog.

    Hy is dom, besef hy, ignoreer die kaartjie wat uitpeul. Hier is sekuriteitskameras. Iemand het hom dalk reeds gesien.

    Hy sit die motor in trurat. Daar is gelukkig nie karre agter hom nie. Draai terug tot in Bakerstraat, ry om die blok tot weer in Oxford. Vir die soveelste maal kyk hy in die wit Golf se truspieëltjie.

    Die binnekant van die kar ruik na parfuum. ’n Vrou se kar.

    Hy ry om die blok en parkeer in Glenhovestraat. Trek die pet laag oor sy gesig en kyk weer in die truspieëltjie voor hy uitklim. Dit was onnosel om die kar by die stasie te wou los. Het ’n kamera hom afgeneem? Hy sal moet kophou.

    ’n Paar mense drentel op die sypaadjie verby. Dis byna nege­uur. Hy sal moet roer; tyd vir die laaste trein terug Pretoria toe. Hy steek die straat oor en loop by die stasie in. Hou sy kop laag sodat ’n sekuriteitskamera nie sy gesig kan sien nie en trek sy windbreaker se kraag hoog op.

    Op die perron staan hier en daar iemand rond. ’n Meisie met lang blonde hare soen ’n ou oopmond waar hulle op ’n bankie sit, haar een been oor sy skoot. ’n Sakeman, gepak en gedas en met skootrekenaartas, is besig op sy selfoon. Hy lyk moeg.

    Die trein stop geruisloos en die deur skuif oop.

    Jurie gaan sit ver weg van die ander passasiers. Hy bewe steeds. Hy skakel sy iPhone aan. Geen boodskappe nie. Sit sy sel­foon terug in sy sak en leun agteroor, raak rustig.

    Op Hatfieldstasie betaal hy sy parkeerkaartjie by een van die outomatiese masjiene en stap vinnig na die boonste vlak. Sy motorfiets staan nog waar hy dit vroeër vanaand gelos het. Hy sluit die bagasiekis oop en haal sy helmet uit, sit dit op en skakel die fiets aan.Daar is min karre in Pretoria se strate dié tyd van die aand. Hy draai oos en ry die nege kilometer tot by hulle donker huis agter ’n hoë muur in ’n systraatjie in Brooklyn. Die motorhek skuif geluidloos oop toe hy die afstandbeheer druk.

    Hy stoot die fiets tot by die afdak aan die agterkant van die huis. Sluit die kombuisdeur oop. Oorweeg dit om iets te ete in die yskas te soek, besluit dan daarteen. So sag as moontlik stap hy in die donker na sy kamer toe.

    Hy gaan staan en luister, kan net-net ’n gesnork uit die hoof­slaapkamer hoor. Hy maak sy kamerdeur agter hom toe en bly staan ’n oomblik met sy rug teen die deur geleun. Gooi sy helmet op die stoel in die hoek, stroop sy klere af en klim in die bed.

    Hy lê met oop oë in die donker, so wakker soos ’n haas. Staan later op en skakel die bedlampie aan, dan sy rekenaar op die lessenaar. Hy gaan sit op sy stoel en maak Outlook oop. Dink ’n rukkie en begin tik.

    Mammie Mooi

    Hope het vanoggend vir ons ’n dingetjie gedoen wat my impress het. So ’n roereier-en-worsiedingetjie op ’n broodjie, tot met ’n groen blaartjie bo-op. Jy het die Viljoens se huishulp mooi geleer. Ek het dit nie geëet nie.

    Vriendelike groete

    Jou liefhebbende seun

    Jurie

    Hy is lus en stuur dit.

    HOOFSTUK 2

    Jurie lê en luister met sy hande agter sy kop na die huisgeluide. Die gordyne voor sy kamervenster is oopgetrek en buite hoor hy voëls in die bome in die tuin. Die bure se hond blaf soos gewoonlik vir iemand wat op die sypaadjie verby stap.

    Sy kamerdeur is dié tyd van die oggend oop (anders as normaalweg), sodat hy soos ’n blinde die geluide in die res van die huis kan peil. Geluide wat sê die groen mannetjie wys, jy kan maar oor die straat loop. Hy was reeds by die toilet in die gang, het versigtig soontoe gesluip om nie sy pa raak te loop nie.

    Hy hoor die stort in sy pa se kamer loop. Hope werskaf in die kombuis, vroetel met potte en panne.

    Toe hy sy pa se voetstappe in die gang hoor, draai hy op sy sy na die muur toe en sluit sy oë. Die voetstappe sal soos elke oggend voor sy kamerdeur tot stilstand kom. Sy pa sal ’n ruk na hom staan en kyk. Hy lê soos ’n dooie, laaste asem lankal uit.

    Die voetstappe gaan soos elke oggend voort tot in die kombuis. ’n Sagte gesprek tussen sy pa en Hope waarvan hy nie die woorde kan uitmaak nie. Dan die geluid van eetgerei en breekgoed in die eetkamer. Hy ruik spek, besef hy is honger. Hy het lanklaas geëet, maar hy sal geduldig wag totdat die Mercedes by die hek uitry. Dan sal hy soos gewoonlik deur die venster na die kar se agterkant kyk en na die hek wat geruisloos toeskuif voordat hy kombuis toe stap.

    Hy moes weer ingesluimer het, want die huis is stil toe hy wakker skrik. Op sy selfoon sien hy skool gaan oor ’n halfuur begin. Hy staan net twee minute onder die stort, droog af, borsel sy tande, trek aan. In die spieël teen sy kamermuur sien hy dat hy eintlik die skeermes in die badkamerkassie moes gebruik het.

    Hy sal ’n verskoning bedink oor die stoppels en die laatkom. Die simpatie is net-net nog aan sy kant sedert laas jaar se drama. Hy sien dit in die onderwysers se oë wanneer hulle na hom kyk. Shame, sê die oë. Maar hy sal moet fyn trap om nie die sympathy vote te verloor nie.

    Hy het al baie keer agter ’n onderwyser se rug vinger gewys vir die jammergatuitdrukkings en ook die verligting in daai oë: Dank die Vader dis nie óns nie.

    Mense is weird, het hy die afgelope tyd geleer. Hulle weet nie wat om oor sekere goed te sê nie, selfs dié wat altyd ’n eiertjie lê oor alles. Soos Louis en Belinda. Dan kyk hulle na jou met daai oë en gee jou arm ’n drukkie, maak klik-klik-geluide met die tong. Dit moet help vir die woorde waaraan hulle nie kan dink nie, die stilte oor die niks-te-sê-hê.

    Hy lag partymaal in sy kop oor die mense se ongemak.

    Hy gryp sy sak en draf gangaf, skrik toe hy sy pa by die eetkamertafel sien sit. Sy pa moes mos al lankal met die Merc om die hoek verdwyn het. Nou sit en blaai hy deur die koerant wat soos elke oggend op die tafel lê. Baie dae lê dit heeldag onaangeraak daar.

    Jurie wil eers aanloop, maar hy is honger. Sy pa kyk nie op toe hy binnekom nie. Hy skep sy bord vol en gaan sit aan die ander koppenent van die tafel.

    Kort-kort word ’n koerantbladsy omgeblaai. Sy pa lees in stilte, loer oor die leesbril met die swart raam na die ellendes van die lewe, frons tussen die oë. Jurie kou terwyl hy na sy pa kyk. Die hare bokant die ore word grys. Daar is plooitjies onder die oë wat hy nou vir die eerste keer raaksien. Hy kou in stilte terwyl hy kyk.

    Sy pa kyk op. Hy kyk weg.

    Is jy nie laat vir skool nie?

    Hy antwoord nie. Sy pa lees verder.

    Moet ons nie ’n slag jou motorfiets laat diens nie? Die koerant word opgevou en eenkant gesit.

    Ons. Te cosy, soos in ’n spannetjie.

    Ek sal self, sê hy met ’n mond vol kos terwyl hy kouend na sy bord staar.

    Hy voel sy pa se oë op hom. Wat sou hý sien? Die nuwe puisie aan die linkerkant van sy neus? Die stoppels wat teen die skoolreëls is?

    Ek sal sélf. Hy stoot sy bord eenkant toe en staan op. Ek sal sê hulle moet die rekening mail. Hulle ken ons mos.

    Hy voel die oë op sy rug terwyl hy vinnig by die eetkamer uitloop.

    HOOFSTUK 3

    In die wolke bokant die boog by die hek waardeur jy die privaat skool se heilige grond betree, staan duidelik geskryf: Diep spore word hier getrap, maar nie sommer nie, my ou. T’s en C’s apply. LOL!

    Jy sien dit nie sommer die eerste dag raak wanneer jy blink gewas met jou nuwe outfit die yellow brick road betree nie. Maar later sien jy dit tóg. Die woorde is eers vaag en jy dink no way, kan nie wees nie. Maar elke dag kan jy nog ’n woord duideliker uitmaak terwyl jy voor die hek na die wolke staan en kyk, totdat jy alles mooi kan lees. Jy wil wegkyk, maar jy gaan staan elke oggend voor daai hek en kyk in die lug op sonder dat jy dit kan help. Diep spore. Jy moet van Mars wees om dáárin te pas.

    Wanneer jy Maandagoggende saam met 1 299 ander (meestal uitdrukkinglose) gesigte in die skoolsaal instap, kyk jy na die rye en rye geraamde foto’s teen die mure, dié wat met olifantpote diep kon trap. Jy kyk na die erelyste in kitscherige goue letters op die houtpanele. Die panele is met verspotte krulletjies versier, die lyste lank.

    Na die groot, geraamde foto aan jou linkerkant, die een vyfde van voor, kyk jy ’n paar sekondes langer. Die swart krulhare en die donker oë sonder uitdrukking. Geen trotse glimlag soos by die ander geraamdes nie. Dís miskien hoekom jy langer na hierdie dieptrapper kyk. Die sonstrale wat dié tyd van die oggend net-net op die portretglas reflekteer, laat dit lyk asof hy ’n stralekransie op sy kop het. Jy kyk vinnig weg.

    Jy staan op aandag saam met die 1 299 ander uitdrukkinglose gesigte en sing die skoollied so hard as wat jy kan, sodat selfs die mense in die straat moet hoor hoe klink die toekoms in aantog. Partymaal skree jy die skoollied.

    Jy kyk na die groepies op die verhoog terwyl die predikant (spesiaal genooi vir die geleentheid) vertel van geloof en genade en hoe jy nog gaan vlieg in hierdie lewe as jy dit of dat. Jy probeer hom glo. Jy kyk in die selfversekerde oë van die uit­verkorenes teen die muur en probeer moed skep uit die glimlagte.

    Die groepie links op die verhoog is die Kundiges. Hulle gee klas in stokou klaskamers waarin vele bekendes op hul dag gesit het, hoor jy gereeld. Daai ou wat vir die Springbokke gespeel het, die ou wat nou die rektor van ’n universiteit is, die beroemde navorser oorsee. Dis nie sommer elke dag se skool hierdie nie, my maat.

    Die groepie regs op die verhoog is die Leiers. Hulle het dit gemaak. Beloon vir vyf jaar se mooi en reg trap sit hulle daar. Uitdrukkingloos is húlle nie. Daar word geglimlag vir elke onsnaakse grappie van die nar agter die podium. Verontwaardig word daar gefrons oor ’n oortreding wat ’n onbesonnene gepleeg het. Deel van die span is hulle. Diep spore vol getrap.

    Op nou trappe skuur jy by ander verby na die volgende klas. Gereeld hoor jy hoe bevoorreg jy is om elke dag hiér rond te hang.

    En jy bid elke dag om, sodat jy op jou motorfiets kan klim en ver, ver weg kan ry.

    HOOFSTUK 4

    Dis seker hoe dit voel om oorsee te wees, dink Jurie terwyl hy op Hatfieldstasie vir die Gautrein wag. Die gevoel dat die trein hom na ’n vreemde land gaan neem vir ervarings wat sy nekhare sal laat rys en hom hoendervleis gaan gee.

    Op sy selfoon sien hy dis amper seweuur. Dis die usual suspects op die perron dié tyd van die aand. Die moeës op pad huis toe, die enkelinge wat waarskynlik by Rosebank gaan fliek of eet of iets anders in Johannesburg gaan doen vir ’n bietjie opwinding.

    Hy snork sag. Opwinding. Wat weet julle van opwinding?

    Die trein is soos altyd betyds. Die deur glip oop. Hy gaan sit soos altyd op een van die sitplekke aan die agterkant, teen die venster. Die trein is saans nie vol nie; die gewoel neem gewoonlik teen halfsewe af. Nou is dit mense wat sonder uitdrukking voor hulle op die grond kyk of deur die treinvenster staar, op hulle selfone tik, of met ’n frons tussen die oë op ’n skootrekenaar of tablet vroetel.

    Hy hou die mense ingedagte dop. Wat doen al hierdie mense as hulle saans die voordeur agter hulle toetrek?

    Hy wonder nie lank daaroor nie. Haal sy oorfone uit sy windbreaker se sak en prop dit in sy ore. Soek iTunes op sy foon en druk die speelknoppie. Emeli Sandé sing I’ll be your clown.

    Hy kan nie onthou dat hy dit afgelaai het nie en die song doen dit nie eintlik vir hom nie, maar hy hou van die idee: I’ll be your clown. Inderdaad. ’n Woord wat sy pa dikwels gebruik. Daar vir julle entertainment, mammie en pappie, inderdaad. Trek die toutjie, dan lag ek só en dan staan ek op my kop. Kyk, só.

    I guess it’s funnier from where you’re standing, cause from over here I’ve missed the joke …

    Hy soek iets anders om te luister. Hulle is reeds by Pretoria-stasie verby. Die trein stop op Centurion, ’n paar moeës klim af en ’n paar ander op. Die deur skuif toe. Die stem oor die interkom kondig aan dat Midrand die volgende bestemming is.

    Hy druk weer sy oorfone in sy ore en stop by Jack Parow se Cooler as ekke. Hy leun agteroor en maak sy oë toe.

    Hy voel hoe die trein tot stilstand kom, maar hoef nie te kyk waar hulle is nie, hy weet. Ná Midrand is dit Marlboro en dan Sandton en dan sal hulle die einde van die roete bereik. Rosebank.

    Hy raak verveeld met Jack Parow. Skakel iTunes af en bêre die oorfone en selfoon in sy sak. Oorkant hom sit ’n vrou en ’n dogtertjie; hy het hulle nie hoor inkom nie. Die dogtertjie kyk stip na hom terwyl sy ritmies teen die sitplek skop. Die geskop wil hom teen die mure uitdryf. Hy staan op en gaan sit op ’n ander plek. Die dogtertjie loer nou om die sitplek na hom. Hy kyk weg.

    Rosebank se perron raak sigbaar deur die treinvenster. Hy staan op en gaan staan by die deur, kyk na die paar mense wat op die perron staan en wie se gesigte niks oor hulle lewe sê nie.

    Soos gewoonlik slaan hy sy windbreaker se kraag op en trek sy pet laag oor sy oë. Dis ’n voorsorgmaatreël, waarskynlik onnodig. Geen veiligheidswag wat

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1