DIE ingangsportaal se glasdeur klap agter haar toe. Sy staan in die voorportaal van die ou woonstelblok en wonder of sy die hysbak gaan aandurf of eerder die trap klim. Op daardie oomblik skuif die metaaldeur rukkend oop en ’n ou man skuifel uit, ’n verslete inkopiesak in sy hand. Hy loer onderlangs half nors in haar rigting en beur na die uitgang.
Die hysbak ruik na ou urine. Sy bid saggies dat die ding nie met haar sal gaan staan nie. Op die sewende vloer bewe die hyser tot stilstand.
’n Gang strek lank voor haar uit. Reuke van gebraaide uie, vullissakke en goedkoop reukwater walm in die lug. Ou bekende woonstelreuke – so lank deel van haar lewe en steeds êrens in haar agterkop vasgeknoop.
Sy stap stadig die gang af. Oor die reling sien sy die hoë geboue van die middestad in die verte.
Hier en daar flikker neonligte in die skemer. Rooi. Groen. Blou. Wit. Sy