Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Negentien Minute
Negentien Minute
Negentien Minute
Ebook696 pages20 hours

Negentien Minute

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

"Hoe goed ken 'n mens werklik jou gesinslede of enigiemand anders? Hoe vernietigend is groepsdruk, hoe intimiderend die behoefte aan tuishoort?" – Deborah Steinmair, joernalis en skrywer.
Nadat hy jare lank wreed verbaal en fisiek deur klasmaats geboelie is, knak die 17-jarige Peter Houghton een oggend. Binne slegs negentien minute sterf tien inwoners van die dorp Sterling in Amerika.
Die geskokte gemeenskap is vasberade dat geregtigheid moet geskied. Soos die hofsaak ontvou en Peter getuienis lewer, kom dit egter aan die lig dat die inwoners van Sterling 'n rol daarin gespeel het om 'n innemende, liefdevolle seun in 'n massamoordenaar te laat verander.
In 'n era waarin boeliegedrag toenemend 'n probleem is, ook in Suid-Afrika, bring hierdie meesleurende boek talle insigte vir ouers, onderwysers en tieners.
LanguageAfrikaans
PublisherJonathan Ball
Release dateJul 8, 2020
ISBN9781776190010
Negentien Minute
Author

Jodi Picoult

JODI PICOULT is the #1 New York Times bestselling author of twenty-six novels. She is the recipient of numerous awards, including the New England Bookseller Award for Fiction, the ALA’s Alex Award, the New Hampshire Literary Award for Outstanding Literary Merit, and the prestigious Sarah Josepha Hale Award in recognition of her distinguished body of written work. She lives in New Hampshire with her husband. They have three children. You can visit her website at wwww.jodipicoult.com  

Related to Negentien Minute

Related ebooks

Related articles

Related categories

Reviews for Negentien Minute

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Negentien Minute - Jodi Picoult

    DEEL EEN

    As ons nie van koers verander nie

    sal ons eindig waarheen ons op pad is.

    – CHINESE GESEGDE

    Ek hoop om dood te wees teen die tyd dat jy hier lees.

    Jy kan nie iets wat gebeur het ongedaan maak nie; jy kan nie ’n woord terugtrek wat reeds hardop gesê is nie. Jy sal aan my dink en wens jy kon my van plan laat verander. Jy sal probeer uitwerk wat die één regte ding sou wees om te sê, om te doen. Ek dink ek moet dít vir jou sê: Moenie jouself blameer nie; dis nie jóú fout nie. Maar dit sou ’n leuen wees. Ons albei weet dat ek nie op my eie hierdie punt bereik het nie.

    Jy sal huil op my begrafnis. Jy sal sê dit hoef nie só te gewees het nie. Jy sal optree soos almal van jou verwag. Maar sal jy my mis?

    Belangriker – sal ek jóú mis?

    Wil ek, of jy, werklik die antwoord hierop weet?

    6 Maart 2007

    IN negentien minute kan jy die voorste grasperk sny, jou hare kleur, na ’n derde van ’n yshokkiewedstryd kyk. In negentien minute kan jy skons bak of kan ’n tandarts jou tand stop. Of jy kan ’n gesin van vyf se wasgoed opvou.

    Negentien minute is wat nodig was vir al die kaartjies na die Tennessee Titans se uitspeelwedstryde om uit te verkoop. Dis die lengte van ’n sepie-episode, sonder die advertensies. Dis hoe lank dit vat om van die Vermont-grens tot by die dorp Sterling in New Hampshire te ry.

    In negentien minute kan jy ’n pizza bestel en dit afgelewer kry. Jy kan ’n storie vir ’n kind lees of jou kar se olie vervang. Jy kan ’n myl ver stap of jy kan ’n soom insit.

    In negentien minute kan jy die wêreld tot stilstand bring. Of daarvan afspring.

    In negentien minute kan jy wraak neem.

    Alex Cormier is laat, soos gewoonlik. Dit neem twee-en-dertig minute om van haar huis in Sterling tot by die hooggeregshof in Grafton County, New Hampshire, te ry. Maar net as sy deur Orford jaag. Haastig hardloop sy op haar kouse by die trappe af, hoëhakskoene in die een hand en lêers wat sy die naweek huis toe gebring het, in die ander. Sy draai haar dik, koperkleurige hare in ’n rol en steek dit met haarnaalde onder in haar nek vas. Nou lyk sy soos die mens wat sy moet wees voordat sy haar huis verlaat.

    Alex is nou al vier-en-dertig dae ’n hooggeregshofregter. Nadat sy haar die afgelope vyf jaar as streekshofregter bewys het, was sy daarvan oortuig dat haar aanstelling dié keer makliker sou wees. Maar op veertig steeds die jongste regter in die staat. Dis ’n opdraande pad om haarself as regverdig te bewys – haar geskiedenis as staatsregshulp vir beskuldigdes het haar vooruitgeloop en staatsaanklaers beskou haar nog altyd as iemand wat aangeklaagdes se kant sal kies. Toe Alex haarself jare gelede as regter beskikbaar gestel het, was dit haar opregte wens om seker te maak dat mense in hierdie regstelsel as onskuldig beskou word totdat die teendeel bewys word. Sy het net nooit verwag dat sy, as regter, dalk nie op dieselfde voordeel van die twyfel sou kon staatmaak nie.

    Die reuk van vars moerkoffie lok Alex kombuis toe. Haar dogter sit gebukkend oor ’n stomende beker by die kombuistafel, verdiep in ’n handboek. Josie lyk doodmoeg – haar blou oë is rooi, haar bruin hare in ’n ponie vasgebind. Sê asseblief vir my jy was nie heelnag op nie, sê Alex.

    Josie kyk nie eens na haar nie. Ek was nie heelnag op nie, praat sy haar ma na.

    Alex skink vir haarself ’n koppie koffie en val neer in die stoel oorkant haar. Regtig?

    Jy het my gevra om iets vir jou te sê, reageer Josie. Jy het nie gevra om die waarheid te hoor nie.

    Alex frons. Jy behoort nie koffie te drink nie.

    En jy behoort nie sigarette te rook nie.

    Alex voel hoe haar wange warm word. Ek rook …

    Ma, sug Josie, selfs al maak jy die badkamervensters oop, ruik ek dit nog steeds aan die handdoeke. Sy kyk op, daag Alex uit om haar ander slegte ge­woontes uit te wys.

    Alex self het nie enige ander ondeugde as rook nie. Sy het nie týd vir ander gebreke nie. Sy sou graag wou kon sê dat sy vir seker weet Josie het geen ander slegte gewoontes nie, maar dan sou sy bloot dieselfde afleiding maak as die res van die wêreld wanneer hulle Josie ontmoet: Hier is ’n mooi, gewilde toppres­teerder wat beter as die meeste ander jong mense weet wat gebeur as jy die breë pleks van die smal weg volg. ’n Meisie wat vir groot dinge bedoel is. ’n Jong vrou wat presies is wat Alex gehoop het haar dogter sou word.

    Daar was ’n tyd dat Josie so trots was daarop om ’n regter as ma te hê. Alex onthou nog hoe Josie vir die bankkassiere, die sakpakkers in die kruideniers­winkel en die lugwaardinne op vliegtuie vertel het wat haar ma doen. Sy sou vir Alex uitvra oor haar hofsake en haar beslissings. Maar drie jaar gelede, toe Josie hoërskool toe gegaan het, het alles verander. Die kommunikasiekanale tussen hulle het geleidelik verstop geraak. Alex dink nie noodwendig dat Josie méér wegsteek as enige ander tiener nie, maar dinge hét verander: ’n Gewone ouer sou haar kind se vriende metafories gesproke kon oordeel, terwyl Alex dit as ’n regter heel letterlik kon doen.

    Wat’s op jou program vandag? vra Alex.

    Moduletoets. En op joune?

    Pleitverhore, antwoord Alex. Sy trek haar oë op skrefies en probeer om Josie se handboek onderstebo te lees. Chemie?

    Katalisators. Josie vryf haar slape. Reagense wat ’n reaksie veroorsaak, maar self onveranderd bly. Soos wanneer jy koolstofmonoksied en waterstof het en jy voeg sink en chroomoksied by, en … wat’s verkeerd?

    Ek het net skielik ’n terugflits oor waarom ek ’n C in organiese chemie gekry het. Het jy al ontbyt gehad?

    Koffie, antwoord Josie.

    Koffie tel nie.

    Dit tel wel wanneer jý haastig is, sê Josie.

    Alex weeg die voor- en nadele op: Om vyf minute later by die werk aan te kom, of om nog ’n swart merkie teen haar naam te kry op die kosmiese telbord van goeie ouerskap. Behoort ’n sewentienjarige nie al soggens na haarself te kan kyk nie? Alex begin goed uit die yskas haal: eiers, melk, spek. "Ek het eenkeer voor­gesit in ’n noodaansoek van ’n man wat sy vrou tot ’n staatsgestig toegelaat wou kry omdat sy gedink het sy is glanssjef Emeril Lagasse. Hy wou haar laat opneem omdat sy ’n kilogram spek in die versapper gesit en hom met ’n mes in die kombuis rondgejaag het – dit terwyl sy, nes Emeril, sonder ophou Bam! skree om die sukses van haar dis aan te kondig."

    Josie kyk op van haar handboek. Sowaar?

    Glo my, dis nie iets wat ek sou kon opmaak nie. Alex breek ’n eier in die pan. Toe ek haar vra vir wat sy ’n kilo spek in die versapper gesit het, kyk sy my net aan en sê dis duidelik ek en sy dink nie eenders oor kosmaak nie.

    Josie staan op en leun teen die toonbank terwyl sy dophou wat haar ma doen. Huishou is nie Alex se sterk punt nie. Sy weet nie hoe om vleis gaar te maak nie, maar is baie trots daarop dat sy die telefoonnommers kan onthou van elke pizzeria en Chinese restaurant in Sterling wat gratis aflewer. Ontspan, sê Alex droog. Ek dink ek sal dit kan doen sonder om die huis aan die brand te steek.

    Maar Josie vat die pan uit haar ma se hande en sit die repies spek daarin, styf teen mekaar soos matrose in hul slaapbanke. Hoekom trek jy só aan? vra sy.

    Alex kyk af na haar romp, bloes en hoëhakskoene en frons. Waarom vra jy? Lyk ek te veel soos Margaret Thatcher?

    Nee, ek bedoel … waarom so uitgevat? Niemand weet wat jy onder jou toga aan het nie. Al dra jy ’n pajamabroek. Of daai ou truitjie uit jou universiteitsdae met die gate op die elmboë.

    Of mense dit nou sien of nie, daar word steeds van my verwag om … wel, regterlik aan te trek!

    ’n Wolk skuif oor Josie se gesig. Sy raak weer doenig by die stoof, so asof haar ma die verkeerde antwoord gegee het. Alex kyk stip na haar dogter – die gekoude halfmaanvingernaels, die vlekkie agter haar oor, die sigsag-paadjie in haar hare – en sien die peuter wat laatmiddag vir haar ma by haar babawagter se venster staan en wag omdat sy weet dis amper tyd dat Alex haar moet kom haal. Ek het nog nooit pajamas werk toe gedra nie, maar ek maak wel soms my kantoordeur toe en gaan lê ’n rukkie op die vloer, erken Alex.

    ’n Verbaasde glimlag sprei stadig oor Josie se gesig. Haar ma se erkenning is amper soos ’n skoenlapper wat per ongeluk op haar hand kom sit. So ’n onver­wagse gebeurtenis, jy kan nie iemand se aandag daarop vestig sonder die vrees dat dit verlore sal gaan nie. Maar ’n klomp myle moet nog afgelê word; daar is nog beskuldigdes wie se pleitverhore aangehoor moet word en chemiese formules wat onder die knie gekry moet word. Teen die tyd dat Josie die spek op ’n stuk handdoekpapier sit om te dreineer, is die oomblik iets van die verlede.

    Ek kan nog steeds nie verstaan waarom ék ontbyt moet eet as jý dit nie doen nie, mompel Josie.

    Omdat jy eers ’n sekere ouderdom moet bereik voordat jy die reg sal hê om jou eie lewe te ruïneer. Alex wys na die roereier waarmee Josie in die pan besig is. Belowe my dat jy dit sal opeet?

    Josie kyk haar ma in die oë. Belowe.

    Nou ja, dan waai ek nou.

    Alex gryp haar reisbeker met koffie. Teen die tyd dat sy haar kar uit die garage het, is haar kop reeds op die uitspraak wat sy vanmiddag moet skryf, die klomp pleitverhore wat die klerk gelys het, die mosies wat tussen Vrydagmiddag en vanoggend soos skaduwees op haar lessenaar geval het. Sy is vasgevang in ’n wêreld wat ligjare verwyder is van haar lewe tuis, daar waar haar dogter op hierdie oomblik besig is om roereier uit die pan in die vullisdrom te skraap sonder dat sy een enkele happie gevat het.

    Josie dink soms haar lewe is ’n kamer sonder deure en vensters. ’n Oordadige kamer, beslis – ’n kamer waarvoor seker die helfte van die kinders in Sterling Hoër hul regterarm sou gee net om binne te kan gaan. Maar dis ook ’n kamer waaruit ontvlugting eintlik onmoontlik is. Josie is óf iemand wat sy nie wil wees nie, óf sy is iemand van wie niemand hou nie.

    Sy lig haar gesig op na die sproei uit die stortkop – sy het die water só warm laat word dat dit rooi knoppe op haar vel veroorsaak, haar asem wegslaan en die vensters laat toewasem. Sy tel tot by tien, spring onder die stoom uit en gaan staan kaal voor die spieël terwyl die water nog van haar afdrup. Haar gesig is geswel, perserig. Dik toue hare is teen haar skouers geplak. Sy draai sywaarts, kyk aandagtig na haar plat magie en trek dit nog ’n entjie verder in. Sy weet wat Matt sien wanneer hy na haar kyk, wat Courtney en Maddie en Brady en Haley en Drew almal sien – sy wens net sý kan dit ook sien. Die probleem is dat wanneer Josie in die spieël kyk, sy net sien wat onder daardie rou vel is, pleks van wat bo-op geverf is.

    Sy verstaan goed hoe sy veronderstel is om te lyk en veronderstel is om op te tree. Sy dra haar donker hare lank en reguit. Sy dra Abercombie & Fitch. Sy luister na Dashboard Confessional en Death Cab for Cutie. Sy hou daarvan om die oë van ander meisies in die skool op haar te voel wanneer sy in die kafeteria Courtney se grimering aansit. Sy hou daarvan dat die onderwysers haar naam reeds op die eerste skooldag ken. Sy hou daarvan as die ouens haar aangaap wanneer sy in een van die skoolgange loop met Matt se arm om haar.

    Maar daar is ’n deel van haar wat wonder wat sal gebeur as sy haar geheim vir almal vertel: dat sy party oggende sukkel om uit die bed te kom en iemand anders se glimlag op haar gesig plak; dat sy op eiers loop; ’n oneerlike mens is wat vir al die regte grappe lag en al die regte skinderstories oorvertel en die regte kêrel vang; ’n oneerlike mens wat al amper heeltemal vergeet het hoe dit voel om ég te wees … Om doodeerlik te wees, sy wou liewer nie onthou nie, want dit het selfs nog seerder gemaak.

    Daar is niemand met wie sy kan praat nie. As jy net ’n klein bietjie twyfel oor jou reg om deel van die bevoorregte, gewilde groep te wees, hoort jy nie daar nie. En Matt – wel, hy het vir die oppervlakkige Josie geval, soos al die ander. Wanneer die masker in sprokies afgehaal word, is die aantreklike prins steeds lief vir die meisie, kom wat wil – en dit alleen sal haar in ’n prinses laat verander. Hoërskool werk egter nie so nie. Sy is ’n prinses omdat sy ’n verhouding met Matt het. En die eienaardige logika is dat Matt háár gekies het omdat sy een van Sterling Hoër se prinsesse is.

    Sy kan ook nie haar ma in haar vertroue neem nie. Jy hou nie op om ’n regter te wees die oomblik wat jy jou voet buite die hof sit nie, sê haar ma altyd. Dis waarom Alex Cormier nooit meer as een glas wyn in die openbaar drink nie. Dis hoekom sy nooit skree of huil nie. Jy mag nie ’n voet verkeerd sit nie, punt. Baie van die prestasies waarop Josie se ma die trotsste is – haar punte, haar voorkoms, haar aanvaarding deur die regte groep – het sy nie bereik omdat sy dit sélf so graag wou hê nie, maar meestal omdat sy bang was sy is ’n aks minder as perfek.

    Josie draai ’n handdoek om haar en loop slaapkamer toe. Sy haal jeans uit haar kas en trek twee langmou-T-hemde bo-oor mekaar aan wat haar bors beklem­toon. Sy loer na haar horlosie. As sy nie laat wil wees nie, moet sy haar nou roer.

    Net voordat sy by haar kamer uitstap, gaan staan sy ’n oomblik stil. Sy sink op haar bed neer en vroetel onder die bedkassie vir die Ziploc-toebroodjiesakkie wat sy aan die houtraam met ’n duimspyker vasgesteek het. Binne-in is ’n voorraad Ambien. Sy het dit uit haar ma se voorskrif vir slaaploosheid gesteel, pil vir pil, sodat sy dit nie sou agterkom nie. Dit het Josie seker so ses maande geneem om ongemerk vyftien pille vas te lê, maar sy het gedink as sy almal gelyk met genoeg vodka afsluk, dit die ding sal doen. Dis nie asof sy ’n strategie uitgewerk het om, sê, volgende Dinsdag selfmoord te pleeg nie. Of dalk as die sneeu smelt, of enigiets so presies nie. Dis eerder ’n ondersteuningsplan. Wanneer die waarheid uitkom, en niemand wil meer naby haar wees nie, is dit net logies dat Josie eintlik ook nie meer naby haarself sal wil wees nie.

    Sy steek die pille weer op dieselfde plek onder die bedkassie weg en gaan ondertoe. Toe sy in die kombuis kom om haar rugsak te vat, sien sy haar chemie­boek lê nog daar, wyd oop, met ’n langsteelroos bo-op wat haar plek merk.

    Matt leun teen die yskas in die hoek. Hy moes homself deur die oop garagedeur ingelaat het. Soos altyd laat hy haar aan al die seisoene dink wanneer sy na hom kyk. Sy hare is al die herfskleure, sy oë is so helderblou soos ’n wolklose wintersdag, sy glimlag sprei so groot en wyd soos die somerson. Sy bofbalkep sit agterstevoor op sy kop en hy het ’n yshokkiesporthemp van die Sterling-universiteit oor ’n termiese hemp aan, dieselfde sporthemp wat sy eenkeer gevat en ’n maand lank tussen haar onderklere weggesteek het sodat sy hom kon ruik wanneer sy hom naby haar wou hê. Is jy nog de moer in vir my? vra hy.

    Josie huiwer ’n oomblik. Dis nie ek wat kwaad was nie.

    Matt stoot homself van die yskas af weg en gee ’n tree vorentoe totdat hy na genoeg aan Josie is om sy arm om haar middel te sit. Jy wéét ek kan dit nie help nie.

    ’n Kuiltjie verskyn in sy regterwang. Josie voel hoe haar binnekant sag word. Dis nie dat ek jou nie wou sien nie. Ek moes régtig studeer.

    Matt vee haar hare uit haar gesig en soen haar. Dis presies waarom sy vir hom gesê het om nie gisteraand te kom kuier nie. Wanneer sy by hom is, voel sy hoe sy smelt. Soms, wanneer hy aan haar raak, verbeel Josie haar sy verdwyn soos ’n stoomwolkie in die lug.

    Sy verskonings is so soet soos esdoringstroop. Dis alles jóú fout, weet jy, sê hy. Ek sou nie so mal geraak het as ek jou nie so verskriklik liefgehad het nie.

    Op daardie oomblik onthou Josie nie meer die pille wat sy in haar kamer opgaar nie. Sy onthou nie meer hoe sy in die stort gehuil het nie. Sy onthou niks behalwe hoe dit voel om bewonder te word nie. Ek is gelukkig, sê sy vir haarself, en dié woord word ’n silwer ligstraal in haar kop. Gelukkig, gelukkig, gelukkig.

    Patrick Ducharme, die Sterling-polisie se enigste speurder, sit op ’n bankie op die verste punt van die kleedkamer en luister hoe die oggendskofbeamptes die spot dryf met ’n nuweling wat so ’n bietjie ekstra vetjies om die middel het. Haai, Fisher, sê Eddie Odenkirk, wie gaan die baba kry – jy of jou vrou?

    Toe die res van die ouens uitbars van die lag, kry Patrick die jong man ver­skriklik jammer. Dis nog vroeg, Eddie, sê hy. Kan jy nie net met jou grappies wag totdat ons almal ’n koppie koffie gehad het nie?

    Ek sou, Kaptein, lag Eddie, maar dit lyk vir my Fisher het reeds al die doughnuts opgeëet en – wat de hel is daai?

    Patrick volg Eddie se blik ondertoe, tot by sy eie voete. Hy het nie vanoggend, soos sy kollegas, sy uniform in die kleedkamer aangetrek nie, maar het polisie­stasie toe gedraf pleks van om te ry, om ontslae te raak van al die lekker kos wat hy oor die naweek verorber het. Hy was Saterdag en Sondag in Maine saam met die meisietjie wat deesdae sy hart in die holte van haar hand het – sy peetdogter, die vyf-en-’n-halfjarige Tara Frost. Haar ma, Nina, is Patrick se oudste pel, die een liefde in sy lewe waaroor hy nooit kon kom nie, hoewel sy heeltemal goed vaar sonder hom. Patrick het deur die loop van die naweek tienduisend speletjies verloor, Tara ontelbare kere op sy rug rondgedra, het dit verdra dat sy hare gedoen word en – dít was sy groot fout – hy het toegelaat dat sy sy toonnaels helderpienk verf … naellak wat hy vergeet het om af te haal.

    Hy kyk af na sy voete en krul sy tone ondertoe. Meisies dink dis nogal sexy, sê hy met ’n growwe stem toe die sewe mans in die kleedkamer sukkel om nie te grinnik vir die persoon wat tegnies hul baas is nie. Patrick pluk sy uniformsokkies vinnig aan, toe sy werkskoene, en loop uit, sy das nog in die hand. Een, tel hy. Twee, drie. Toe bars almal in die kleedkamer gelyk uit van die lag, ’n klank wat hom tot in die gang volg.

    Toe hy in sy kantoor kom, maak Patrick die deur agter hom toe en kyk aan­dagtig na homself in die spieëltjie aan die agterkant. Sy swart hare is nog klam van die stort en sy gesig nog blosend van die drawwery. Hy skuif sy dasknoop boontoe, trek dit styf en gaan sit agter sy lessenaar.

    Twee-en-sewentig e-posse het die naweek in sy inboks beland – en gewoonlik beteken enigiets meer as vyftig dat hy heelweek nie voor agtuur saans gaan tuiskom nie. Hy begin hulle sif en krabbel notas op sy doen-lysie wat nooit korter word nie, maak nie saak hoe hard hy werk nie.

    Vandag moet hy dwelms staatslaboratorium toe neem. Dis nie ’n groot ding nie, behalwe dat dit beteken ’n hele vier ure van sy dag is daarmee heen. Daar is ’n verkragtingsaak wat einde se kant toe staan – die oortreder is geïdentifiseer uit een van die universiteit se Facebook-blaaie. Sy verklaring is al getranskribeer en is gereed vir die prokureur-generaal se kantoor. ’n Hawelose het ’n selfoon uit ’n kar gesteel. Hy verwag die laboratoriumresultate van bloedtoetse wat ooreen behoort te stem met dié op ’n inbraaktoneel in ’n juwelierswinkel. Daar is ’n regsverydelingsverhoor in die hooggeregshof. En die eerste, nuwe klag van die dag lê reeds op sy lessenaar – die misbruik van kredietkaarte ná die diefstal van ’n beursie, ’n misdaadspoor wat Patrick moet volg.

    Om ’n kleindorpse speurder te wees, beteken dat Patrick die hele tyd op volle sterkte moet funksioneer. Anders as die polisiemanne wat hy ken wat vir stedelike kantore werk, waar hulle net vier-en-twintig uur het om ’n saak op te los voordat dit as koud bestempel word, moet Patrick alles hanteer wat op sy lessenaar beland. Hy kan nie net interessante sake vir homself uitsoek nie. Dis maar moeilik om opgewonde te raak oor ’n ondersoek na winkeldiefstal, waar­voor ’n oortreder hoogstens met tweehonderd dollar beboet sal word, terwyl dit belastingbetalers vyf keer soveel kos omdat Patrick ’n hele week hierop moet fokus. Maar elke keer as hy begin dink sy ondersoeke is nie juis belangrik nie, loop hy hom vas in ’n slagoffer: die histeriese ma wie se beursie gesteel is, die egpaar wat ná hul aftrede ’n juwelierswinkeltjie begin het en hul hele toekoms tydens ’n diefstal verloor het, die geskokte professor wat die slagoffer van identiteitsroof is. Hoop, weet Patrick, is die band tussen hom en die mens wat hulp by hom soek. As hy nie betrokke raak nie, as hy nie eenhonderd persent aandag gee nie, gaan die slagoffer vir altyd ’n slagoffer wees. Dis hoekom hy nog elke saak kon oplos wat hy ondersoek het sedert hy by die Sterling-polisie aangesluit het.

    En tog.

    Wanneer hy alleen in sy bed lê en homself toelaat om sy lewe in oënskou te neem, kan hy nie die bewese suksesse onthou nie – net die moontlike mislukkings. Wanneer hy al om ’n gevandaliseerde skuur loop, of ’n gesteelde kar opspoor wat geplunder is en in ’n beboste gebied agtergelaat is, of wanneer hy ’n sneesdoekie gee vir ’n huilende meisie wat die slagoffer is van ’n afspraak­verkragting, kan Patrick nie help om te voel hy is te laat nie. Hy is ’n speurder, maar hy het vooraf niks bespeur nie. Al hierdie gevalle het in sy skoot geval, almal klaar stukkend, elke keer.

    Dis die eerste warm dag in Maart, daardie een waarop jy begin glo dat die sneeu eerder vroeër as later gaan begin smelt, en dat Junie nét om die draai lê. Josie sit op die kap van Matt se Saab in die leerders se parkeerterrein. Die somer is nou nader as wat die skooljaar se begin was, dink sy. Binne net drie maande is sy amptelik lid van die senior klas.

    Langs haar leun Matt teen die windskerm, sy gesig na die son gedraai. Kom ons dros, sê hy. Dis te lekker hier buite om heeldag binne te sit en doodgaan.

    As jy dros, gaan jy weggelaat word uit die span.

    Die yshokkie-streekskampioenskap begin vanmiddag en Matt speel regter­vleuel. Sterling het verlede jaar gewen en hulle verwag om weer so te maak. Jy kom wedstryd toe, sê Matt. Dis nie ’n vraag nie; dis ’n stelling.

    Gaan jy score?

    Matt glimlag skalks en trek haar teenaan hom vas. Is dit nie wat ek altyd doen nie? sê hy, maar hy praat nie meer oor hokkie nie. Sy voel hoe ’n blos bokant haar serp oor haar wange sprei.

    Skielik voel Josie ’n haelbui teen haar rug. Sy en Matt kyk op en sien hoe Brady Pryce, ’n voetbalspeler, hand aan hand met Haley Weaver, Mejuffrou Sterling, verbyloop. Haley gooi nog ’n klomp munte in Matt se rigting. Dis Sterling Hoër se manier om ’n atleet sterkte toe te wens. Jy moet gatskop vandag, Royston, skree Brady vir Matt.

    Op daardie oomblik kom hul wiskundeonderwyser met sy swart leeraktetas en ’n warmfles koffie verby. Haai, meneer McCabe, roep Matt na hom. Hoe lyk my punte vir verlede Vrydag se toets?

    Gelukkig het jy ander talente waarop jy kan terugval, meneer Royston, sê die onderwyser terwyl hy in sy sak vroetel. Hy knipoog vir Josie toe hy die munte in hul rigting gooi. Hulle val soos konfetti op haar skouers, soos sterre wat losgeraak het uit die hemelruim.

    Dis nou tipies, dink Alex toe sy haar handsak se inhoud terugpak. Sy het van sak verwissel en het haar sleutel tuis vergeet – die een wat haar toegang gee by die werknemersdeur aan die agterkant van die hooggeregshof. En al het sy die klokkie al seker ’n miljoen keer gedruk, lyk dit nie of daar iemand is wat haar kan inlaat nie.

    Verdomp, mompel sy saggies en probeer die modderpoeletjies systap om te keer dat haar hakke vuil word. Een van die voordele daarvan om aan die agterkant van die gebou te parkeer, is om nié so te hoef sukkel nie. Sy kan deur die hofklerk se kantoor tot by haar kamers loop, en as die noodlot haar goedgesind is, sal sy nog moontlik die regtersbank haal sonder om vertragings in die hofrol te veroorsaak.

    Al is daar ’n tou met ongeveer twintig mense voor haar by die openbare ingang na die hof, herken die beamptes Alex dadelik omdat sy al ses maande lank hier diens doen – anders as die streekshof waar jy van die een hofgebou na die ander moet beweeg. Die beamptes wys vir haar om na die voorpunt van die ry te beweeg. Haar sleutels, warmfles van vlekvrye staal en die Vader weet wat nog in haar handsak laat die metaalverklikkers afgaan.

    Die alarm werk soos ’n kollig. Elke oog in die voorportaal draai nou in haar rigting om te sien wie vasgetrap is. Sy laat haar kop sak en struikel amper toe sy haastig oor die gepoleerde teëlvloer loop. Toe sy vorentoe struikel, probeer ’n bonkige kêrel haar val stuit. Haai, poplap, sê hy spottend. Ek hou van jou skoene.

    Sonder om te antwoord, wikkel Alex haar los uit sy greep en kies koers in die rigting van die hofklerk se kantoor. Nie een van die ander hooggeregshofregters hoef ooit so iets te hanteer nie. Regter Wagner is ’n aangename ou, maar hy sit met ’n gesig wat lyk soos ’n pampoen wat ná Halloween agtergelaat is om te vrot. En regter Gerhardt – nog ’n vroueregter – dra bloese wat ouer is as Alex. Toe Alex die eerste keer op die bank was, het sy gedink dat dit ’n goeie ding is dat so ’n relatief jong, redelik aantreklike vrou voorsit. Dis tog ’n mosie téén stereotipering. Maar op dae soos vanoggend is sy nie so seker nie.

    Sy gooi haar handsak in haar kamers neer, glip haar toga oor haar skouers en gebruik die volgende vyf minute om koffie te drink en die hofrol na te gaan. Elke saak het sy eie lêer, maar dié vir gewoontemisdadigers is met rekkies aan mekaar gebind. Soms skryf die regters in dié lêers notas aan mekaar oor die saak. Alex maak een oop en sien die foto van ’n brandmaer man met tronktralies voor sy gesig geteken – ’n aanduiding van regter Gerhardt dat dit die oortreder se laaste kans is; dat hy volgende keer tronk toe moet gaan.

    Sy lui die klokkie om vir die hofbeampte te laat weet dat sy gereed is om te begin. Sy wag vir die bekende woorde: Staan in die hof, vir haar edele Alexandra Cormier. Toe sy die hofsaal binnestap, voel dit vir Alex – soos altyd – asof sy vir die eerste keer die verhoog tydens ’n Broadway-openingsaand betree. Jy weet daar is mense, jy weet hulle staar almal na jou, maar dit vrywaar jou nie van daardie oomblik wanneer jy nie kan asemhaal nie, wanneer jy nie kan glo dat jý die een is na wie hulle kom kyk het nie.

    Alex loop haastig tot by haar bank en gaan sit. Daar is vanoggend sewentig hofverskynings, en die hofsaal is gepak. Die eerste aangeklaagde word geroep. Hy skuifel agter die relings van die beskuldigdebank in, sy oë afgewend.

    Meneer O’Reilly, sê Alex. Toe die man opkyk, herken sy hom as die ou in die voorportaal. Dis duidelik dat hy erg ongemaklik is noudat hy besef met wie hy geflirt het. U is die persoon wat my vroeër vanoggend probeer help het, nie waar nie?

    Hy sluk. Ja, U Edele.

    As u geweet het ek is die regter, meneer O’Reilly, sou u gesê het ‘Haai, poplap, ek hou van jou skoene’?

    Die beskuldigde kyk af, weeg onfatsoenlikheid op teen eerlikheid. Ek dink so, U Edele, sê hy ná ’n effense stilte. Dis régtig mooi skoene.

    Die hele hofsaal raak tjoepstil in afwagting op haar reaksie. Alex glimlag breed. Meneer O’Reilly, sê sy. Ek kan nie méér met u saamstem nie.

    Lacy Houghton leun oor die bed se relings en bring haar gesig tot teenaan dié van haar huilende pasiënt. Jy kan dit doen, sê sy ferm. Jy kán dit doen, en jy sal.

    Ná sestien uur in kraam is almal nou doodmoeg – nie net Lacy nie, maar ook die pasiënt en die amper-pa wat byna sy uithou-drempel bereik het noudat hy besef hy is oorbodig en dat sy vrou haar vroedvrou op hierdie oomblik baie eerder by haar wil hê as vir hom. Ek wil hê jy moet agter Janine gaan staan, sê Lacy vir hom, en haar rug stut. Janine, ek wil hê jy moet my reg in die oë kyk en nog ’n keer hard druk …

    Die vrou kners op haar tande en druk met al haar krag, gee haarself heeltemal oor in haar poging om ’n nuwe mens te voorskyn te laat kom. Lacy steek haar hand uit om die baba se kop te voel, om die kleintjie by die vlies verby te kry en die naelstring vinnig oor die koppie te lig – sonder om één oomblik oogkontak met haar pasiënt te verloor. Vir die volgende twintig sekondes gaan jou baba die nuutste mens op hierdie planeet wees, sê Lacy. Wil jy haar graag ontmoet?

    Die pasiënt beantwoord die vraag met nog ’n harde druk. ’n Vasbeslote, doel­gerigte poging, toe ’n stroom dik vloeistof saam met die verskrompelde lyfie. Lacy sit die baba blitsig in haar ma se arms om seker te maak dat wanneer die baba die heel eerste keer in haar lewe huil, haar ma gereed is om haar te troos.

    Weer begin haar pasiënt huil, maar dié keer klink dit heeltemal anders. Dis klanke met ’n andersoortige melodie waarin daar nie ’n aks pyn te bespeur is nie. Die nuwe ouers buk oor hul baba. Die sirkel is voltooi. Lacy staan terug en kyk na hulle. ’n Vroedvrou se werk hou nie op sodra ’n baba gebore is nie. Maar op hierdie oomblik soek sy oogkontak met die klein wesentjie. Terwyl die ouers nou uitkyk vir ’n kennetjie wat soos tant Marge s’n lyk, of ’n neus nes Oupa s’n, sien Lacy ’n blik in die nuweling se oë vol van baie eeue se wysheid en vrede. Agt pond onontginde moontlikheid. Pasgeborenes herinner haar aan klein Boeddhatjies, met gesiggies wat heiligheid uitstraal. Dis egter kortstondig. Wanneer die baba ’n week later na haar kom vir ’n roetine-ondersoek, het hy reeds in ’n doodgewone – maar steeds piepklein – mensie verander. Daardie heiligheid het, om die een of ander rede, verdwyn. En Lacy bly wonder waar in die wêreld dit dan is.

    Terwyl sy ma aan die ander kant van die dorp besig is om Sterling, New Hampshire, se jongste inwoner die wêreld in te help, is Peter Houghton besig om wakker te word. Sy pa, wat op pad werk toe is, klop aan sy deur. Dis Peter se wekker. Op die onderste verdieping wag daar ’n papbakkie en ’n boks graankos op hom. Sy ma onthou dit altyd, selfs al word sy twee-uur in die nag uitgeroep. Dan wag daar ook ’n briefie vir hom, een wat hom ’n goeie dag by die skool toewens. So asof dit so eenvoudig is.

    Peter gooi die beddegoed van hom af. Hy loop na sy lessenaar, nog in sy pajamabroek. Hy gaan sit en meld aan op die internet.

    Die woorde op die boodskapblad swem voor sy oë. Hy steek sy hand uit na sy bril – dit lê altyd reg langs sy rekenaar. Hy sit die bril op sy neus en laat val die brilhuisie op die toetsbord. Skielik sien hy iets wat hy gehoop het om nooit weer te sien nie.

    Vinnig druk Peter CONTROL ALT DELETE. Maar hy sien steeds die prentjie voor hom, selfs nadat die skerm weer swart word. Selfs nadat hy sy oë toemaak. Selfs nadat hy begin huil.

    ***

    In ’n dorpie so groot soos Sterling ken almal mekaar en só was dit nog altyd. In ’n sekere opsig is dit gerusstellend. So asof dit ’n groot, uitgebreide familie is oor wie jy soms gek is, maar wat jy soms weer verpes. Dan is daar tye dat dit by Josie spook. Soos nou waar sy in die kafeteria-ry staan, reg agter Natalie Zlenko, ’n lesbiër wat lank gelede toe hulle in graad twee was, haar oortuig het om op die voorste grasperk soos ’n seun te staan en pie. Wat op aarde het jou besiel, het haar ma geraas toe sy hulle kaalboude en wydsbeen oor die affodille sien staan. Selfs nou, ’n dekade later, kan Josie nie na Natalie Zlenko met haar seunskapsel en haar altyd teenwoordige kamera kyk sonder om te wonder of Natalie ook nog aan daardie dag dink nie.

    Aan Josie se ander kant staan Courtney Ignatio, Sterling Hoër se alfa-meisie. Haar heuningblonde hare hang soos ’n sjaal van sy oor haar skouers en aan haar heupe klou laaggesnyde jeans wat deur die pos bestel is by Fred Segal. ’n Horde nabootsers het haar styl nagevolg. Op Courtney se skinkbord is ’n bottel water en ’n piesang. Op Josie s’n ’n bord slaptjips. Dis nog net die tweede periode, en – net soos haar ma voorspel het – wil sy sterf van die honger.

    Haai, sê Courtney, hard genoeg dat Natalie kan hoor. Kan jy vir hierdie lesbiër sê om opsy te staan dat ons kan verbykom?

    Natalie se wange slaan rooi uit. Sy druk haarself plat teen die skerm van die slaaitoonbank sodat Courtney en Josie kan verbyglip. Hulle betaal vir hulle kos en loop na ’n tafel.

    In die kafeteria voel Josie altyd soos ’n natuurkundige wat verskillende spesies in hul natuurlike, nie-akademiese habitat waarneem. Daar is die bleeksiele, verdiep in hul handboeke, wat lag vir wiskundegrappe wat niemand anders eens wíl verstaan nie. En ’n kortkop agter hulle is die kunsbetotteldes wat nael­tjiesigarette agter die skool rook en strokiesprente in die kantlyne van hul aantekeningboeke teken. En dan, altyd naby die koffie-en-lekkerny-toonbank, is die verslonstes wat swart koffie drink en wag op die bus wat hulle na die tegniese hoërskool drie dorpe verderaan vir hul namiddagklasse sal neem. Daar is die dwelmslawe wat soggens teen nege-uur al hoog is. En daar is dié wat nêrens inpas nie – kinders soos Natalie en Angela Phlug wat outomaties vriende is weens hul gedeelde randfiguurskap en omdat niemand anders hulle vriende wil wees nie.

    En dan is daar Josie se groep. Hulle sit twee kafeteriatafels vol, nie omdat hulle so baie is nie, maar omdat hulle so ’n groot ruimte vul: Emma, Maddie, Haley, John, Brady, Trey, Drew. Josie kan nog onthou hoe sy deurmekaar geraak het met hulle name toe sy haar by dié groep aangesluit het. Dis hoe uitruilbaar hulle is.

    Hulle lyk ook nogal eenders. Al die seuns dra maroen yshokkietruie. Almal se kepse sit agterstevoor, met helderkleurige pluise hare wat deur die hoedgaatjies steek en oor hulle voorkoppe hang. Die meisies lyk almal op ’n druppel soos Courtney, ’n fynbeplande ontwerpersvoorkoms. Omdat sy óók na Courtney lyk, het Josie ongemerk deel van dié groep geword. Haar hare is reguit drooggeblaas, sonder ’n sweempie van ’n karteling; haar skoenhakke is drie duim hoog, al is daar nog sneeu buite. Sy het geweet as sy dieselfde aan die buitekant lyk, dit baie makliker is om die feit te verbloem dat sy nie regtig weet hoe sy in haar binneste voel nie.

    Haai, sê Maddie toe Courtney langs haar kom sit.

    Haai.

    Het jy gehoor van Fiona Kierland?

    Courtney se oë rek. Skinderstories is net sulke goeie katalisators as chemikalieë. Die een wie se borste nie ewe groot is nie?

    Nee, dis Fiona in graad nege. Ek praat van Fiona in graad agt.

    Die een wat altyd ’n boks sneesdoekies met haar saamdra vir haar allergieë? vra Josie toe sy op ’n sitplek neersak.

    Of nie, antwoord Haley. Raai net wie is rehab toe gestuur oor sy coke gesnuif het.

    Jy lieg!

    En dis nie eens die hele skandaal nie, voeg Emma by. Haar dwelmverkoper is die leier van die Bybelstudiegroep wat altyd ná skool vergader.

    O my genade! roep Courtney uit.

    Presies.

    Haai. Matt val op die oop stoel langs Josie neer. Waar het jy so lank gedraai?

    Sy kyk na hom. Op die punt van die tafel rol die ouens die papieromhulsels van strooitjies in hul monde tot spoegballetjies en gesels oor hul skiëry aan die einde van die lente. Hoe lank dink jy gaan die ski-helling by Sunapee oop bly? vra John en mik ’n kousel in die rigting van ’n kind wat een tafel van hulle af aan die slaap geraak het.

    Die seun was verlede jaar in Josie se gebaretaalklas. Hy is ook ’n junior, nes sy. Sy arms en bene is maer en wit en lyk soos dié van ’n stokinsek. Sy mond hang wyd oop terwyl hy snork.

    Jy’t misgeskiet, sot, sê Drew. As Sunapee toe is, is daar nog Killington. Hulle het sneeu tot in omtrent Augustus. Sy spoegballetjie land in die seun se hare.

    Derek. Die kind se naam is Derek.

    Matt gluur na Josie se slaptjips. Jy gaan nie dáái eet nie, gaan jy?

    Ek is dood van die honger.

    Hy gee haar middel ’n knypie, tegelyk ’n kompliment en ’n belediging. Josie kyk na die tjips. Tien sekondes gelede was hulle nog goudbruin en het asem­rowend geruik. Al wat sy nou sien, is die olie wat die papierbord vlek.

    Matt vat vir hom ’n hand vol en stoot die res aan na Drew wat pas ’n papier­balletjie tot in die slapende seun se mond gespoeg het. Derek skrik wakker, terwyl hy hoes en stik vir die vale.

    Kolskoot! roep Drew uit en gee John ’n high-five.

    Derek spoeg in ’n servet en vryf sy mond. Hy kyk rond om te sien wie hom dophou. Josie onthou skielik een van die tekens wat sy in gebaretaal geleer het – ’n taal wat sy vergeet het die oomblik nadat sy die finale eksamen afgelê het. ’n Toe vuis wat ’n sirkel oor jou hart vorm, beteken ek is jammer.

    Matt leun oor na haar en soen haar in die nek. Kom ons waai. Hy trek Josie regop en kyk dan na sy vriende. Tot later, sê hy.

    Sterling Hoër se gimnasium is op die tweede verdieping, reg bo die area wat ’n swembad sou wees as daar nie probleme was met die verband toe die skool nog in ’n beplanningstadium was nie. Nou is dié ruimte drie klaskamers waar leerders en onderwysers gedurig met voetstappe en bonsende balle bo hul kop moet meeding. Michael Beach en sy beste vriend, Justin Friedman, albei nuwelinge, sit op die kantlyn van die basketbalbaan terwyl hulle liggaamsoefeningonderwyser vir die honderdste keer die fynere punte van dribbel aan hulle verduidelik. Die oefening is tevergeefs – die kinders in dié klas is óf uitblinkers soos Noah James, óf soos Michael en Justin wat vlot is in Tolkien se elwetaal, maar wat ’n tuislopie definieer as om ná skool so gou as moontlik by die huis te kom om ’n wedgie te ontduik. Hulle sit kruisbeen teenoor mekaar en luister na die piepgeluide wat hul afrigter, Coach Spears, se wit sportskoene maak wanneer hy van die een punt van die baan na die ander hardloop.

    Ek wed jou tien dollar dat ek heel laaste vir ’n span gekies gaan word, fluister Justin.

    Ek wens ek kan net uit hierdie klas verdwyn, kla Michael. Hopelik is daar nog ’n brandoefening.

    Justin grinnik. Of ’n aardbewing.

    ’n Oorstroming.

    Sprinkane.

    ’n Terroriste-aanval.

    Twee sportskoene kom reg voor hulle tot stilstand. Coach Spears gluur na hulle wat sit en giggel, sy arms gevou. Wil julle twee vir my sê wat’s so snaaks aan basketbal?

    Michael kyk eers na Justin en dan op na die afrigter. Absoluut niks, antwoord hy.

    Nadat sy gestort het, maak Lacy Houghton vir haar ’n beker groentee en dwaal deur die huis. Toe die kinders nog klein was en haar werk en haar lewe haar soms oorweldig het, sou Lewis haar vra wat hy kan doen om dinge vir haar makliker te maak. Dit was vir haar altyd ironies as ’n mens dink aan wat Lewis vir ’n lewe doen. Dié professor by die Universiteit van Sterling se vakgebied is die ekonomie van geluk. Ja, dis werklik ’n studierigting. En ja, hy is ’n deskundige. Hy bied seminare aan en skryf artikels en CNN het al ’n onderhoud met hom gevoer oor hoe plesier en goeie geluk in geldwaarde gemeet kan word. Tog is hy heeltemal onseker oor dit wat vir Lacy lekker sal wees. Wil sy graag gaan uiteet? Of ’n pedikuur kry? Of ’n rukkie gaan skuinslê? Wanneer sy hom vertel wat sy baie graag wil hê, verstaan hy glad nie. Sy wil graag in haar eie huis wees, sonder ander mense, en sonder dat iets haar jaag.

    Sy maak Peter se kamerdeur oop en sit haar beker op die spieëltafel neer om sy bed op te maak. Vir wat, sê Peter altyd wanneer sy hom druk om dit self te doen. Ek gaan die kamer tog net weer binne ’n paar uur deurmekaar krap.

    Sy gaan byna nooit in Peter se kamer in nie, tensy hy daar is. Dis dalk hoekom sy met die intrapslag voel iets is met hierdie ruimte verkeerd, so asof ’n integrale deel daarvan weg is. Eers dink sy dis Peter se afwesigheid wat die kamer so ’n bietjie leeg laat voel. Toe besef sy dat die rekenaar – daardie eentonige dreunklank, daardie groen skerm wat altyd reg is vir aksie – afgeskakel is.

    Sy trek die lakens boontoe en vou die kante onder die matras in. Sy trek die kwilt bo-oor en pof die kussings op. Op die drumpel draai sy om en glimlag: Die kamer lyk perfek.

    Zoe Patterson wonder hoe dit is om ’n ou met draadjies te soen. Nie dat dit eers ’n vae moontlikheid in die nabye toekoms is nie, maar sy dink tóg dis iets om te oorweeg voordat sy dalk onkant gevang word. Om die waarheid te sê, sy wonder hoe dit sal wees om ’n ou te soen. Punt. Selfs een wat nie so ortodonties benadeel is soos sy nie. En eerlikwaar, is daar ’n beter plek as ’n simpel wiskundeklas om jou gedagtes te laat dwaal?

    Meneer McCabe, wat dink hy is die Chris Rock van algebra, is besig met sy daaglikse vasvraroetine. Nou goed, twee leerders staan in die middagete-ry. Die voorste een draai om na sy vriend en sê: ‘Ek het nie geld nie! Wat gaan ek doen?’ En sy pel antwoord: ‘2x + 5!’

    Zoe kyk na die muurhorlosie. Sy tel saam met die tweede wyser totdat dit op die kop 09:50 is en staan dan op. Sy gee vir meneer McCabe ’n afwesig­heids­briefie. O, goed, afspraak met die ortodontis, lees hy hardop. "Wel, maak net seker dat hy nie jou mond heeltemal vasskroef nie, juffrou Patterson. Reg, so die pel sê: ‘2x + 5’. Dis ’n binomiaal, ’n binomial …. Snap julle dit? Buy-no-meal!"

    Zoe gooi haar rugsak oor haar skouer en stap by die klaskamerdeur uit. Sy moet haar ma om tienuur voor die skool kry. Parkering by die skool is altyd ’n nagmerrie, so hulle het afgespreek dat sy net vinnig in die kar sal spring. Gedu­rende klastyd klink die gange hol en eggo elke geluid. Dit voel amper asof jy in ’n walvis se maag rondloop. Zoe neem ’n ompad na die sekretaresse se kantoor om uit te teken en loop amper ’n kind uit die aarde in haar haas om buite te kom.

    Dis so warm dat sy haar baadjie ooprits en aan die somer- en die sokkerkamp dink – hoe dit sal voel as die plaatjie aan haar verhemelte uiteindelik uitgehaal word. Sê nou maar jy soen ’n ou wat nie draadjies het nie en jy druk te hard teen sy mond … sal jy dan sy tandvleis sny? Iets sê vir Zoe dat, indien jy hom laat bloei, hy jou waarskynlik nooit weer sal uitneem nie. En wat as hy wél draadjies het, soos daai blonde kind van Chicago wat onlangs hier by hulle begin skoolgaan het, die een wat reg voor haar in die Engelsklas sit (nie dat sy van hom hou of iets nie, hoewel hy sowaar eenkeer omgedraai het toe hy haar huiswerk vir haar aangegee het … en dit net ’n aks te lank vasgehou het …)? Sou hulle dan aan me­kaar vassit soos ratte wat vashaak en dan na die noodafdeling van die hospitaal geneem moet word? Hoe vernederend sal dít nie wees nie!

    Zoe laat haar tong oor die skerp heiningpaaltjies van metaal in haar mond gly. Dalk moet sy tydelik in ’n klooster gaan woon.

    Sy sug en kyk buitentoe om te sien of sy al haar ma se groen Explorer in die ry karre kan sien wat stadig voor die skool verbyry. Op daardie oomblik ontplof iets.

    Patrick sit by ’n rooi verkeerslig in sy ongemerkte polisiemotor en wag om op die hoofpad in te draai. Langs hom, op die passasiersitplek, is ’n papiersak met ’n houertjie kokaïen binne-in. Die handelaar wat hulle by die hoërskool vasgetrap het, het erken dis kokaïen. Tog moes Patrick die helfte van sy dag mors om dit na die staatslaboratorium te neem sodat iemand in ’n wit jas hom iets kon vertel wat hy reeds weet. Net toe hy aan die volumeknoppie van die polisieradio vroetel, hoor hy ’n stem wat sê dat die brandweer na die hoërskool gestuur word weens ’n ontploffing. Seker maar die stoomketel; die skool is oud genoeg dat die binnewerk al uitmekaar sal begin val. Hy probeer onthou waar presies Sterling Hoër se stoomketel sit, en wonder of hulle gelukkig genoeg sal wees om dié situasie te beredder sonder dat iemand seerkry.

    Skote afgevuur …

    Die lig word groen, maar Patrick roer nie. Geweerskote in Sterling is buiten­gewoon genoeg om sy volle aandag te gee aan die stem oor die polisieradio en vir ’n verduideliking te wag.

    By die hoërskool … Sterling Hoër …

    Die stem by radiobeheer raak al hoe dringender, al hoe intenser. Patrick bring die kar in beweging, maak ’n U-draai en begin met flitsende ligte in die rigting van die skool jaag. Ander stemme bars in statiese sarsies op die radio los: polisiebeamptes wat hul posisies in die dorp verskaf, die toesighouer aan diens wat probeer om mannekrag te koördineer en hulp vanaf Hanover en Lebanon ontbied. Die warboel stemme is ’n kabel met knope wat só deurmekaar en verstrengel raak dat dit klink asof daar tegelyk alles én niks gesê word nie.

    Kode 1000, sê radiobeheer. Kode 1000.

    In Patrick se hele speurloopbaan het hy daardie woorde nog net twee keer gehoor. Eenkeer in Maine toe ’n sot ’n polisiebeampte gyselaar gehou het. En eenkeer in Sterling, tydens ’n moontlike bankroof wat toe ’n vals alarm was. Kode 1000 beteken dat almal onmiddellik enige radiogesprek moet staak sodat dit ten volle beskikbaar is vir die beheerkamer. Dit beteken dat hulle hier nie met roetine-polisiesake te doen het nie.

    Dit beteken lewe of dood.

    Chaos is ’n horde studente wat uit die skool storm en bo-oor beseerdes op die grond trap. Dis ’n seun wat in een van die boonste vensters staan met ’n hand­geskrewe nota wat sê HELP ONS. Dis twee meisies wat mekaar vasdruk en ontroosbaar huil. Chaos is bloed wat die sneeu pienk kleur. Dis ouers wat eers drupsgewys by die skool aankom … en dan in ’n woedende rivier verander, wat die name van hulle kinders hardop uitskree. Chaos is ’n TV-kamera in jou gesig, nie genoeg ambulanse nie, nie genoeg polisiebeamptes nie, en geen plan oor wat om te doen noudat die wêreld wat jy ken in stukke spat nie.

    Patrick parkeer met twee wiele op die sypaadjie en pluk sy koeëlvaste baadjie van die agtersitplek af. Adrenalien pomp deur sy are, verwring sy periferale visie, verskerp al sy sintuie. Bevelvoerder O’Rourke staan met ’n megafoon in die middel van die grasperk, sien hy. Ons weet nog nie waarmee ons hier te doen het nie, sê die bevelvoerder. Die spesiale aksie-eenheid is op pad.

    Patrick voel vere hiervoor. Teen die tyd dat SWAT hier aankom, is nóg honderd skote dalk al geskiet. Nóg ’n kind dood. Hy haal sy geweer oor. Ek gaan in.

    Se moer; jy gaan nie! Dis nie protokol nie!

    Daar’s g’n protokol vir dinge soos dié nie, snou Patrick hom toe. Jy kan my later in die pad steek.

    Terwyl hy by die trappe op na die skool se ingang hardloop, raak hy vaagweg bewus van twee ander polisiebeamptes naby hom wat ook die bevelvoerder se opdragte ignoreer en agter hom aanstorm. Patrick beduie met sy vinger vir elkeen in ’n ander gang, en toe stoot hy die skool se dubbeldeure oop, druk verby leerders wat teen mekaar stamp en stoot om buite te kom. Alarms gil so hard in sy ore dat hy hom moet inspan om die geweerskote te hoor. Hy gryp ’n seun wat verby hom storm aan sy jas. Wie is dit? skree hy. Wie is besig om te skiet?

    Die seun skud sy kop, heeltemal sprakeloos, en skarrel inderhaas weg. Patrick kyk hoe hy rasend in die gang af hardloop, die voordeur oopruk en in ’n reghoek van sonlig verdwyn.

    Ander leerders vloei soos ’n stroom om hom, asof hy ’n klip in ’n rivier is. Oral is daar rook. Sy oë brand. Patrick hoor weer ’n staccato-sarsie geweerskote. Hy moet homself keer om nie blindelings in daardie rigting te hardloop nie. Hoeveel is daar? skree hy toe ’n meisie by hom verbyhardloop.

    Ek … ek weet nie …

    Die seun langs haar draai om en kyk na Patrick, verskeur tussen ’n dring­endheid om sy kennis te deel en die drang om so vinnig moontlik pad te gee. Dis ’n kind … hy skiet almal.

    Dis al wat Patrick wil weet. Hy forseer sy pad deur die stroom mense, soos ’n salm wat stroom-op swem. Papiere met skoolwerk is oral oor die vloer gestrooi, koeëldoppies rol rond onder skoenhakke. Van die plafonteëls is weggeskiet en ’n fyn, grys stoflaag bedek die stukkende liggame wat ineengestrengel op die vloer lê. Patrick ignoreer dit alles, heeltemal téén sy opleidingsinstruksies, en hardloop verby deure waaragter daar dalk ’n oortreder skuil. Hy vermy vertrekke wat waarskynlik deursoek sou moes word en beur vorentoe met sy wapen oorgehaal en met hartslae wat deur elke sentimeter van sy vel boor. Later sou hy ander beelde onthou wat nie onmiddellik in sy bewussyn geregistreer word nie: die bedekkings van die verhittingspype wat losgeskeur is sodat leerders binne-in kon wegkruip; die skoene wat oral gestrooi lê, agtergelaat deur kinders wat uit hulle uit gehardloop het; die grillerige teenwoordigheid van misdaadtoneelmerke op die vloer buite die biologieklasse waar leerders hulle eie lywe op onbedrukte koerantpapier afgeteken het vir ’n taak waarmee hulle besig was.

    Hy hardloop deur gange wat voel of hulle in sirkels by mekaar aansluit. "Waar?" sis hy elke keer wanneer hy by ’n vlugtende leerder verbyhardloop – dis sy enigste stuk navigasiegereedskap. Hy is bewus van bloedsproei oral, van leerders wat opgekrul op die vloer lê. Hy keer homself om twee keer te kyk. Hy storm by die hooftrap op. Net toe hy bo kom, kraak ’n deur oop. Patrick tol in die rondte en mik met sy vuurwapen. ’n Jong onderwyseres val op haar knieë, hande in die lug. Agter die wit, ovaalvormige gesig skuil twaalf ander, uitdrukkingloos, bevrees. Patrick herken die reuk van urine.

    Hy laat sy vuurwapen sak en wys na die trap. Soontoe, beveel hy haar. Maar hy wag nie lank genoeg om te sien of sy bevel uitgevoer word nie.

    Toe hy om ’n hoek hardloop, gly Patrick in ’n plas bloed. Nog ’n skoot weergalm deur die gebou, dié keer hard genoeg om sy ore te laat sing. Hy beur deur die gimnasium se dubbeldeure. Sy oë gly oor die enkele liggame op die vloer, en oor die basketbalwaentjie wat omgeval het – maar daar’s geen teken van ’n skieter nie. Hy weet, uit die oortydwerk wat hy gewoonlik op Vrydagaande doen om hoërskoolbalspele te monitor, dat hy Sterling Hoër se verste punt bereik het.

    Dit beteken dat die skieter óf iewers hier wegkruip, óf saam met die ander leerders verby hom gehardloop het en hy dit nie gesien het nie … Dis selfs moontlik dat die skieter hom nou hier in die gimnasium in ’n hoek vasgekeer het.

    Patrick draai weer om na die ingang om vas te stel of dit die geval is, toe hy nog ’n skoot hoor. Hy hardloop na ’n deur om uit die gimnasium te kom, een wat hy nie opgemerk het toe hy sy oë die eerste keer vinnig oor die ruimte laat gly het nie. Dis ’n vertrek vol sluitkaste met wit teëls teen die mure en op die vloer. Hy kyk af, vas in die bloedsproei wat ’n waaierpatroon op die vloer vorm. Hy steek sy vuurwapen stadig om die hoek van een muur.

    Op die een punt van die vertrek lê twee liggame bewegingloos. Op die ander punt, effens nader aan Patrick, skuil ’n skralerige seun onder ’n ry sluitkaste. Die draadraambril op sy dun gesig is effens gebuig. Hy ruk soos hy bewe.

    Is jy oukei? fluister Patrick. Hy wil nie hard praat en sy posisie aan die skieter verklap nie.

    Die seun knip net sy oë.

    Waar is hy? vorm Patrick die woorde met sy mond.

    Die seun trek ’n pistool onder sy heup uit en hou die loop teen sy eie kop.

    Patrick voel hoe ’n hittegloed hom oorweldig. Moenie fokken beweeg nie, skree hy en rig die vuurwapen op die seun. Laat val die pistool of ek skiet jou. Sweetdruppels pêrel op sy rug en op sy voorkop, en hy voel sy hande wat om die vuurwapenkolf krul om die seun in sy visier te kry. Hy is oorgehaal om die kind vol koeëls te pomp, indien nodig.

    Patrick laat sy wysvinger sagkens teen die sneller rus net toe die seun sy vingers soos ’n stervis oopsprei. Die pistool val op die grond en spat weg oor die teëlvloer.

    In ’n oogwink spring hy op die seun. Een van die ander polisiebeamptes – wat Patrick nie eens agter hom opgemerk het nie – tel die seun se wapen op. Patrick draai die seun op sy maag en slaan boeie om sy polse. Hy druk sy knie hard op die seun se ruggraat. Is jy op jou eie? Wie’s saam met jou?

    Dis net ek, kry die seun met moeite uit.

    Patrick se kop draai. Sy polsslag is ’n militêre taptoe. Nogtans hoor hy vaagweg hoe die ander polisiebeampte dié inligting oor die radio meedeel: Sterling. Ons het een in hegtenis geneem. Ons dra geen kennis van enigiemand anders nie.

    Net so seepglad as wat alles begin het, is dit verby – as iets soos hierdie enigsins as verby beskou kan word. Patrick weet nie of daar lokvalle of bomme in die skool is nie. Hy weet nie hoeveel ongevalle daar is nie. Hy weet nie hoeveel gewondes die Dartmouth-Hitchcock Mediese Sentrum en die Alice Peck-daghospitaal kan hanteer nie. Hy weet nie hoe hy so ’n massiewe misdaadtoneel moet begin verwerk nie. Die teiken is geneutraliseer. Patrick se hele liggaam begin bewe. Hy weet dat hy vandag in die oë van baie leerders en ouers en ander burgerlikes wéér te laat was.

    Hy gee ’n paar treë terug en sak op sy knieë neer, grootliks omdat sy bene eenvoudig onder hom padgegee het. Hy gee egter voor dis doelbewus. Dat hy die twee liggame aan die oorkant van die vertrek wil ondersoek. Hy is vaagweg daarvan bewus dat die ander beampte die skieter tot buite die sluitkasarea stoot, na ’n polisievoertuig wat op die skoolterrein staan en wag. Hy draai nie om om die kind agterna te kyk nie. Hy fokus eerder op die liggaam reg voor hom.

    Dis ’n seun met ’n yshokkietrui aan. Daar is ’n poel bloed onder sy een sy. Een koeëlwond in sy voorkop. Patrick steek sy hand uit na ’n bofbalkep wat eenkant toe geval het. Op die voorkant is die woorde STERLING YSHOKKIE geborduur. Hy draai die ronde kant van die keps al in die rondte, ’n skewe sirkel.

    Die meisie langs hom lê met haar gesig ondertoe. ’n Bloedkol vorm onder haar slaap. Sy is kaalvoet, en haar toonnaels is met ’n helderpienk naelpolitoer geverf – net soos dié waarmee Tara Patrick s’n geverf het. Dit voel of hy al om die ander hartklop oorslaan. Hierdie meisie, net soos sy peetdogter en haar broer en ’n miljoen ander kinders in hierdie land, het vanoggend opgestaan en skool toe gekom – nooit in haar wildste drome kon sy dink dat sy in gevaar is nie. Sy het al die volwassenes en onderwysers en skoolhoofde vertrou om haar te beskerm. Dis waarom hierdie skole, ná 9/11, hulle onderwysers dwing om te alle

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1