Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Moord op Pofadder: Die skokkende verhaal agter Suretha Brits se meesterplan en die kontrak op haar man
Moord op Pofadder: Die skokkende verhaal agter Suretha Brits se meesterplan en die kontrak op haar man
Moord op Pofadder: Die skokkende verhaal agter Suretha Brits se meesterplan en die kontrak op haar man
Ebook271 pages4 hours

Moord op Pofadder: Die skokkende verhaal agter Suretha Brits se meesterplan en die kontrak op haar man

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Wat dryf 'n pragtige jong ma van drie daartoe om haar man wreed te laat vermoor? Waarom wou Suretha Brits só graag van Leon ontslae raak?
Danksy binne-inligting van vriende, familie en die polisie, sit die ondersoekende joernalis Charné Kemp al die stukkies van die legkaart bymekaar en vertel die volle verhaal van die huurmoord op die geliefde Pofadder-hotelbaas.
'n Boeiende ware misdaadverhaal oor diamante, Krugerrande, seks, verraad en wraak.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateApr 14, 2022
ISBN9780624092674
Moord op Pofadder: Die skokkende verhaal agter Suretha Brits se meesterplan en die kontrak op haar man
Author

Charné Kemp

Charné Kemp is 'n bekroonde ondersoekende joernalis en skrywer. Sy het naam gemaak in die Afrikaanse media deur haar werk vir verskeie gewilde publikasies soos Rapport, Volksblad, Beeld, Netwerk24, Rooi Rose, Insig and Sarie. Sy is die skrywer van Moord op Griekwastad en Bloed, dunner as water. Charné woon in Kimberley.

Related to Moord op Pofadder

Related ebooks

Related articles

Reviews for Moord op Pofadder

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Moord op Pofadder - Charné Kemp

    9780624089810_FC

    MOORD

    OP POFADDER

    Die skokkende verhaal agter Suretha Brits

    se meesterplan en die kontrak op haar man

    Charné Kemp

    TAFELBERG

    Die boek word aan brig Dick de Waal opgedra.

    Hoofstuk 1

    Te laat vir omdraai

    Uiteindelik is hul plan nou in plek en is hulle op pad. Wat ’n dag! Sy gedagtes maal deur sy kop, staan ’n oomblik stil by die pakkie Russian-worsies agter in die kar. Hulle het die worsies gekoop om die honde te paai. Sal die honde ooit die goed vreet? Hy hoop so, want dit moet hulle besig hou terwyl die ander twee die job doen. Sy het darem gesê die honde vreet enigiets. Sy senuwees knaag …

    Jacques van Vuuren lig sy een hand van die stuurwiel af, vou dit ’n paar keer oop en toe om die bloedsirkulasie aan te help, doen dan dieselfde met die ander een. Dit is Woensdag 7 Oktober 2020. Die drie ry nou al ’n paar uur deur die nagdonker. Hulle is baie laat die vorige aand op Kathu weg op pad Pofadder toe, ’n rit van meer as 400 km.

    Dit is nou amper 04:00 en sy hele lyf voel styf. Hy vind dit moeilik om op die ligbaan in die pad te konsentreer. Te veel goed maal deur sy gedagtes. Alles maak hom deurmekaar. Bang ook. Eintlik moet hy nie eens hier wees nie. Hy sug. Die plan het al klaar ’n bietjie skeefgeloop.

    Links van hom sit Enrich skuins met sy kop teen die sitplek se stut, sy oë toe. Jacques kyk in die truspieëltjie om te sien of Amantle, wat agter sit, ook slaap, maar dis te donker in die kar. Hulle twee moet die job doen: Enrich Williams en Amantle Bareki, die jong student by die kollege op Kathu. Sy bynaam is Mufftown, want hy kom van Mahikeng.

    Jacques ken Enrich al van 2008 toe hulle saam op die myne rondom Kathu en aan die Weskus gewerk het. Hulle het al lekker kappe by mekaar se huise gemaak terwyl hul gesinne saam gekuier het. Maar vandat Jacques geskei is, gebeur dit nie meer nie.

    Hy sukkel maar deesdae. Dit is nou al twee maande dat hy met sy tydelike werk by die myn nie pay gekry het nie. Dis glo weens ’n deurmekaarspul met die papierwerk, sê hulle. Maar met al die kontant wat hy vir hierdie job gekry het, kon hy darem laas maand en dié maand se maintenance betaal.

    Toe hulle vroeër vanaand deur Olifantshoek ry – waar sy eks nou met sy kinders woon – kon hy nie help om terug te dink aan die dagga en drank en die fights nie. Drank maak hom aggressief, het sy eks gesê. Maar hy wil ’n beter pa wees as wat sy pa was.

    Langs hom roer Enrich, slaap dan verder. Hy het Amantle ’n paar maande gelede by Enrich se huis ontmoet. Nie ’n slegte ou nie. Enrich het voorgestel dat hulle mense van Mahikeng kry om die job te doen. Amantle het saamgestem. Die twee het ’n paar naweke terug Jacques se Polo – eintlik sy ma se kar waarmee hy die laaste paar jaar ry – geleen om Mahikeng toe te gaan. Daar het hulle die mense wat die job sou doen R50 000 van die geld gegee – ’n soort deposito. Of so het Enrich hom wysgemaak.

    Maar toe bel sy hom gister met allerhande dreigemente. Dit is ’n scam, Jacques. Jy besteel my. Die job moes vanoggend [Dinsdag 6 Oktober] al gedoen word! Ek het gesorg dat die skoonmaker nie by die huis werk nie, maar by die hotel. Ek soek my geld terug. Ek ken ook mense in Johannesburg wat dit kan doen … en wat jou en jou kinders kan uithaal.

    Hy kon hoor sy was woedend. Veral omdat sy Maandag reeds die helfte van die geld aan hulle betaal het.

    Enrich was kwaad toe hy hoor sy dreig hulle om die job dadelik te doen. Jy moenie laat die vroumens jou manipuleer nie, Jacques! het hy driftig gereageer.

    Haar dreigemente het Enrich laat afsien van sy plan om mense op Mahikeng vir die job te kry. Hulle moet dit self doen, het hy gesê. Amantle was nie so seker nie. Maar nou is hulle in die nagdonker op pad. Hy, Enrich en Amantle.

    Dié Enrich hou van geld. Hy kon dit aan sy tevrede smile sien toe hulle die eerste pakkie geld tel wat sy gestuur het. En daar is die belofte van nog. Dit is waarom Enrich sy baas by die myn gebel het om te sê sy rug is seer, hy kan nie vandag werk toe kom nie. Want hy het ander werk om te doen, ’n job wat groot geld beteken. Cash. Baie daarvan.

    Pofadder kan nou nie meer te ver wees nie. Hy bel haar op Marchand, waar sy en haar man ook ’n huis het, om te sê hulle is naby. Haar foon lui maar niemand antwoord nie. Sy slaap seker nog.

    Hy is moeg. Dit is die spanning en min slaap. Die lang stukke reguitpad van Kakamas se kant af maak ’n mens nog moeër, jy kan maklik konsentrasie verloor. Oral langs die pad is kruise en goed waar mense verongeluk het. Hy moet fokus, hy kan nie nou aan sulke dinge dink nie. Toe hy haar kort daarna weer bel om te sê die job word vandag gedoen, sê sy Leon se broer het onverwags by hom oorgeslaap. Die job sal moet wag totdat hy weg is.

    Jacques begin warm kry. Hulle het oorpakke bo-oor hul klere aan, soos dié wat werkers op die sinkmyn by Gamsberg buite Aggeneys dra. Dit moet hulle soos mynwerkers laat lyk.

    Gisteraand is daar ook maar min gepraat toe hulle die wapens en goed by Enrich se huis in die kar gelaai het. Enrich het gesê wat hulle alles moet saamvat: ’n baseball bat, handskoene, die Okapi-mes en Zippo lighter fluid. Hy sal weet. Hy wat Jacques is, het ook sy knuppel by hom. Hy hou dit altyd in die kar vir selfverdediging.

    Toe hy iemand moes kry om die job te doen het hy dadelik aan Enrich gedink. Dié het hom eenkeer vertel hoe hy perlemoen en gewere oor die grens na Zambië gesmokkel het vir ’n inkomste. Dit was in die twee jaar dat hy werkloos was. Enrich het die regte kontakte om so ’n job af te pull.

    Dit begin lig word en voor hulle lê die klipkoppe naby Pofadder. Daar waar die pad ’n klomp draaie maak. Hier groei niks. Dié stuk van die Noord-Kaap is droog, soos dit daar by hulle op Kathu ook al was.

    Met hul vertrek op Kathu het hy by die garage met die groot myntrok gestop en water en koeldrank gekoop. Hy het ook die pakkie Russians daar gekoop. Op Keimoes het hulle net vir petrol gestop en toe weer in die pad geval. Dit is al amper lig toe hulle Pofadder inry. Hy ken nie die dorp nie, maar sy het vir hom Google-foto’s en ’n adres gestuur.

    By die KLK-garage, die een aan die regterkant soos jy die dorp inkom, hou hy stil en klim uit. Die ander twee bly sit. Hy gaan badkamer toe om ’n draai te loop. Toe hy klaar is, trek hy lang stukke toiletpapier van die rol af en prop dit in sy sak. Enrich wil dit hê om hul vingerafdrukke mee af te vee.

    Hy haal sy foon uit toe hy in die kar terugklim. Dit is net ná 05:00. Hy tik gou vir haar ’n boodskap: Die manne staan reg.

    Reg so, maar sy broer is nog daar, kom haar antwoord vinnig. Hy ry ook ’n Polo, sê sy.

    Nou moet hulle net die huis kry. Hy ry verder in Skoolstraat af en draai links in Dorpstraat. Daar, dit moet die huis wees. Hy ry stadig verby die bruin huis met sy rooi dak op die hoek van Von Wielligh- en Dorpstraat. Al drie se aandag is nou op die huis. Hy sien nie die honde nie. Waar sou hulle wees? Die gordyne is toegetrek. In een van die vertrekke brand ’n lig. Sou dit sy kamer wees? Dan is hy al wakker.

    Hulle kan nie nou hier rondhang nie. Dit sal aandag trek – iets wat hulle beslis nie wil hê nie. Hy ry tot buite die dorp en hou langs die pad stil.

    Hy tik weer ’n boodskap vir haar: Wanneer kan hulle ingaan?

    Hy gaan so 6 of 6:30 hotel toe. Wag tot sy broer ry, antwoord sy. Hy weet sy track die man se selfoon met ’n app, dit is hoe sy weet waar hy is.

    Kan die manne dan ingaan?

    Sy antwoord vinnig: Ek sal laat weet wanneer.

    Sharp, tik hy.

    Hulle sal eers moet wag, sê hy vir die ander twee. Enrich brom iets onderlangs oor die job wat moet klaarkom. Dan sit hulle al drie terug en maak hul oë toe.

    Maar hy kan nie ontspan nie. Shit! Hulle wil nie te lank hier bly nie. Dit is al byna 06:25 toe sy die boodskap stuur waarvoor hulle wag: Ready to go. Die broer is weg, sê sy. Sy weet, want sy het hom gebel en ’n voorspoedige reis toegewens. Maar hulle moet eers wag.

    Die son skyn nog nie eens warm nie maar Jacques voel hoe die sweet hom aftap. Ook die ander twee raak nou kriewelrig. ’n Ruk later laat weet sy: Leon is by die hotel, die huis is leeg. Hulle kan maar ingaan.

    Hy ry terug dorp toe en hou voor die bruin huis se voorhekkie stil. Enrich en Amantle sit hul Covid-19-maskers op, vat die bofbalkolf en Jacques se knuppel en maak die hekkie oop. Amantle het die Okapi-mes by hom. Die twee het hul All Star-tekkies aan, nie boots soos Jacques nie.

    * * *

    Jacques laat nie op hom wag nie. Die twee is skaars by die hekkie in toe hy vinnig wegtrek en weer uit die dorp ry, op die N14 Pella se kant toe. ’n Hele paar kilometer verder by die afdraai na Pella hou hy stil en wag daar.

    Die gebeure van die voorafgaande dae maal deur sy kop. Suretha weet nog nie dat hy ook hier is nie. Sy dink hy reël die hele ding op sy selfoon met Enrich en Amantle. Gelukkig weet sy nie wat hul name is nie en sy ken hulle ook nie. Net hy weet wie gekontrakteer is om die moord te pleeg.

    Sy het alles deeglik van haar kant af beplan en het selfs ’n video vir hulle gestuur wat sy van die binnekant van die huis gemaak het. Dit was om vir hulle te wys by watter skuifdeur hulle moet ingaan, waar die bank in die braaikamer is waaragter hulle moet wegkruip en waar die hoofslaapkamer se kluis is. Hulle kan alles in die kluis vat, het sy gesê, sodat dit soos ’n rooftog lyk. Sy het ook gesê die braaikamer se skuifdeur na die swembad sal oop wees. Leon ly aan asma en sluit dit nooit nie. Hy wil vinnig kan uitgaan as hy vars lug soek. Dit sal maklik wees om daar in te kom. Gee net vir die honde iets om hulle stil te maak, het sy gesê. Hulle vreet enigiets.

    Jacques raak kriewelrig. Ná ’n paar minute besluit hy om terug te gaan dorp toe. Sy hand bewe toe hy die kar aanskakel. Hy wil weer verby Leon se huis ry, die plek uitcheck, seker maak alles is nog reg, kyk of daar nie mense is wat hulle kan sien nie. Maar by die huis lyk alles doodstil. Daar is nie veel beweging of mense naby of voor die huis nie. Dankie tog.

    Hy trommel met sy vingers op die stuurwiel terwyl hy stadig verbyry. Hoe lank gaan dit nog vat? Hy parkeer verder op in die straat, maar besluit dan dit gaan dalk aandag trek. Liewers die hoofstraat wat deur die dorp en verby die hotel loop. By ’n hoekkafee hou hy stil en koop ’n koeldrank. Dan ry hy verder en stop by ’n garage en kontak haar.

    Sal iemand my herken, want ek is saam met hulle hier? Sy is verbaas dat hy saamgekom het. Toemaar, niemand hierso ken jou, skryf sy terug.

    Dit is seker so, want hy en sy het mekaar nog nie te veel raak gekuier nie, en dan was dit meestal op Marchand of Augrabies. Maar die kere wat hy haar gesien het, kon hy nie ophou kyk na haar nie. Hy het altyd probeer om meer met haar te praat. En die kere dat hy wel by haar broer, Abrie, gekuier het en haar gesien het, kon hy nie glo hoe mooi sy is nie. Maar sy voel soos ’n sussie vir hom, sy is immers sy pêl se suster.

    Dan lui sy foon. Dit is ’n oproep van Amantle se selfoon af – Enrich se foon het op Kathu agtergebly. Kom haal ons, ons kan nie so lank vir die man wag nie, sê Amantle. Jacques sien dit is al rondom 10:00 se kant. Hulle moes al 06:30 met die job klaar gewees het. Hy laat weet Amantle dat hy by haar sal hoor wat aangaan. Daarna bel hy haar weer. Die mense wil waai, dit raak gevaarlik, sê hy.

    Sy klink benoud. Hy is besig met betalings, antwoord sy, maar sy sal hom aanjaag. Sy sal vir hom sê die honde is buite en dat hy hulle moet gaan toemaak want hulle het al mense gebyt.

    OK, antwoord hy. Jacques wonder wanneer sy hier sal aankom. Sy is nog op Marchand of Kakamas en soos hy die plan verstaan sal sy eers oor ’n rukkie hierheen ry. Hy moet onthou om daai foon by haar te kry. Die een wat sy weke gelede by die Somaliese winkel gekoop het en wat nie geRICA is nie. Dit is nie op haar naam geregistreer nie. Nadat sy hom die eerste keer van ’n landlyn en haar eie selfoon gebel het, het sy die nuwe een begin gebruik om met hom te praat. As daai nuwe foon in die verkeerde hande beland, sal hulle sien hoe baie sy met hom gepraat het.

    Hy ry na die oorkant van die pad en hou by die ander vulstasie stil. Later ry hy op en af deur die strate. Dit voel vir hom of sy bloeddruk en hartklop ook op en af galop.

    Sy foon ping weer met ’n boodskap van haar: Leon is op pad na huis. Hy stuur dadelik ’n boodskap vir Amantle: He is coming. Kort daarna laat weet sy dat Leon nou by die huis is.

    Jacques staar na die boodskap. Wat is op hierdie oomblik besig om in daardie huis te gebeur? Sy keel trek skoon toe. Haal asem Jacques, haal net asem, probeer hy homself kalmeer …

    Hoofstuk 2

    ’n Woeste geveg

    By die huis in Von Wiellighstraat is alles stil toe Enrich en Amantle by die tuinhekkie insluip. Al geluid is Jacques se silwer Polo toe hy wegry. Hulle weet niemand is tuis nie, maar wil in die huis kom voordat ’n verbyganger of bure hulle dalk sien. By die groot bome trap hulle oor die boomwortels, loop verby die trampolien en dan links om die hoek.

    Die onderdakswembad is teen die huis se braaikamer, aan drie kante toegebou met die voorkant oop na die grasperk en motorafdak. Aan die een kant is ’n skuifdeur wat direkte toegang van die swembad na die braaikamer gee. Dit is die een wat nooit gesluit word nie, het sy gesê. Daar is nog ’n skuifdeur aan die voorkant van die braaikamer wat op die grasperk uitloop.

    Waar sou die honde wees? Enrich sien hulle nêrens. Dalk lê hulle om die hoek en slaap, dit is ’n groot erf. Hulle het die pakkie Russians oopgesny en strooi nou ’n paar van die worsies rond. Die res vat hulle saam toe hulle die skuifdeur oopmaak en die braaikamer binnegaan.

    Die vertrek is presies soos wat dit op haar video gelyk het. Hulle sien dadelik die ligbruin bank. Die een wat sy op die video uitgewys het. Hulle moet daar wegkruip en hom inwag, het sy gesê.

    Die twee gaan lê agter die bank en maak hulself gemaklik terwyl hulle wag. Hulle fluister vir mekaar terwyl hulle kort-kort op Amantle se selfoon kyk hoe laat dit is. Dit word al later en al gevaarliker, dit besef hulle. Die spanning raak erg, maar hulle moet kalm bly. Voor die venster langs die bank staan ’n hok met ’n papegaai. Enrich kyk na die voël wat hulle met sy geel oë dophou. Hy moet net sy bek hou.

    Dit raak nou te lank, fluister Enrich. Sê hy moet ons kom haal.

    Amantle bel vir Jacques: Fetch us. It is too dangerous. Jacques sê hy sal by haar hoor wat aangaan. Eers ’n rukkie later kry Amantle ’n antwoord: Wait, half hour. He will come. Kort daarna volg nog ’n boodskap: He is coming.

    Dan hoor hulle ’n bakkie op die erf stilhou. ’n Deur klap toe en voetstappe kom nader. ’n Man skuif die deur oop en loop in die vertrek in. Dit is Leon Brits.

    Die twee spring agter die bank op en storm op hom af. Hy is verras om hulle te sien en vloek hardop terwyl hy na hulle slaan. Hulle probeer hom vasgryp, maar hy sit hom hewig teë. Die geveg woed heen en weer. In die woeste gestoei stamp hulle meubels om. ’n Houttafel spat in stukke. Die papegaai se hok op sy vier pote word ook omgestamp.

    In ’n stadium ruk Leon los en hardloop na buite met die twee aanvallers kort op sy hakke. Daar slaan Enrich hom met sy bofbalkolf hard teen die agterkop. Dit is so ’n harde hou dat die bofbalkolf uit sy hande spat. Leon steier en val op die grasperk, maar kom weer op sy voete. Die twee besef hy gaan nie maklik opgee nie. Hulle takel hom met hul vuiste, laat die houe woes op hom neerreën. Maar Leon baklei steeds terug.

    Enrich vloek. Kry die mes, skreeu hy vir Amantle.

    Amantle steek Leon verskeie kere met die Okapi-mes in die bors. Die wonde bloei hewig. Leon probeer vergeefs met sy hande en arms keer. Een geweldige hou kloof sy linkervoorarm oop, tot by die elmboog. Bloed stroom uit die lang, gapende wond en uit die wonde op sy bors. Dit kleur sy hemp rooi.

    Toe Leon begin hyg na asem, klem Enrich sy hande in ’n wurggreep om sy keel. Dit is nou of nooit. Leon spook steeds, probeer om sy vingers in Enrich se oë te druk en skop na sy aanvallers. Maar hulle kan sien dat hy nou swakker word. Hy word blou in die gesig. Dan word sy lyf slap. Hy sak grond toe waar hy stil bly lê.

    Enrich soek deur Leon se broeksakke en haal die kluissleutels en sy beursie uit. Hy haal ’n pak note uit die beursie en sit dit in sy eie sak. Ek gaan kluis toe. Laat weet Jacqie hy moet kom, skreeu hy vir Amantle. Hy knik na waar Leon lê. Gooi hom in die swembad, buite sig.

    Amantle gaan kyk in

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1