Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Reisgogga: Biografie Christine Van Wyk
Reisgogga: Biografie Christine Van Wyk
Reisgogga: Biografie Christine Van Wyk
Ebook336 pages4 hours

Reisgogga: Biografie Christine Van Wyk

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Dis 1971. In haar bagasie is Frommer se Europe on $5 a day, in haar adresboekie 'n paar telefoonnommers en in haar hart 'n droom. Christine van Wyk is 51 en sy pak op eie houtjie Europa aan met min geld maar groot durf. Dis voor die tyd van tasse met wieletjies, selfone, e-pos en internet. Sewe weke, elf lande met agtien bestemmings en geen hotelbesprekings. Engeland, Nederland, België, Frankryk, Duitsland, Oostenryk, Switserland, Italië, Griekeland, Spanje en Portugal is op haar lysie. Sy kom te staan voor groot uitdagings. Die leser ontdek saam met haar, leer van die vreemde en beleef spanningsvolle oomblikke wanneer sy groot struikelblokke moet oorkom.Reisgogga gaan oor baie van ons se begeerte om die vreemde te verken.


Ouma het ons almal in globetrotters verander, skryf Albertus Louw, een van haar meer as 40 kleinkinders. 


Reis is 'n ontdekking en ontdekking is 'n reis.

LanguageAfrikaans
PublisherPublishdrive
Release dateNov 26, 2021
ISBN1928530478
Reisgogga: Biografie Christine Van Wyk

Related to Reisgogga

Related ebooks

Related articles

Related categories

Reviews for Reisgogga

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Reisgogga - Christine Louw

    Christine Louw

    Reisgogga E-boek

    E-boek

    First published by Naledi 2021

    Copyright © 2021 by Christine Louw

    All rights reserved. No part of this publication may be reproduced, stored or transmitted in any form or by any means, electronic, mechanical, photocopying, recording, scanning, or otherwise without written permission from the publisher. It is illegal to copy this book, post it to a website, or distribute it by any other means without permission.

    First edition

    This book was professionally typeset on Reedsy

    Find out more at reedsy.com

    Publisher Logo

    Contents

    Subsidie

    Titelblad

    Kopiereg

    Reisplan

    Voorwoord

    1. Die gogga byt – 1925

    2. Die kompetisie – 1959

    3. 1971

    4. Die vlug

    5. Londen

    6. Nederland

    7. Amsterdam

    8. Den Haag

    9. Rotterdam

    10. Stad van feeste

    11. Verdwaal in Parys

    12. Wilhelm 1967

    13. Geestelik versteurd

    14. Die hof

    15. Duitsland

    16. Romantiese roetes

    17. Musiekstad

    18. Habsburgers

    19. Zürich

    20. Die groot seun en die jong vrou

    21. Die keuse

    22. Genève

    23. Die handsak

    24. Die liefde

    25. Die visum

    26. Milaan

    27. Stad in die water

    28. Florence

    29. Alle paaie lei na Rome

    30. As jy in Rome is

    31. On the Isle of Capri

    32. Griekse spreekwoord

    33. Soos gras

    34. Feit of fiksie

    35. Van toeka tot nou

    36. Die fout

    37. Non hai visa

    38. Die lang Spanjaard

    39. Oos wes SUID bes

    Woordelys

    Erkenning

    Subsidie

    Die publikasie van hierdie boek is moontlik gemaak deur ’n ruim

    subsidie van die LW Hiemstra Trust –

    opgerig deur Riekie Hiemstra ter herinnering aan

    Ludwig Wybren (Louis) Hiemstra.

    Titelblad

    Kopiereg

    REISGOGGA

    Eerste uitgawe, eerste druk: 2021

    Naledi

    Gansbaai

    7220

    www.naledi.online

    Teks © Christine Louw 2021

    Eerste uitgawe © Naledi 2021

    Alle regte voorbehou.

    Geen gedeelte van hierdie werk mag sonder die skriftelike verlof van die uitgewer gereproduseer of in enige ontsluitingstelsel bewaar of weergegee word, hetsy elektronies of meganies, deur fotokopiëring, die maak van opnames of andersins nie.

    Indien beplan word om enige gedeelte van hierdie werk vir opleidingsdoeleindes te gebruik, moet vooraf toestemming van die uitgewer verkry word.

    Omslagontwerp en uitleg deur Karen Cronje

    Geset in 12,5 op 16 pt Minion Pro

    Eerste uitgawe, eerste druk: Naledi, Julie 2021

    Gedruk deur Print on Demand, Kaapstad

    ISBN: 9781928530473

    Vir Mamma, die vrou wat ek die meeste bewonder!

    Reis is ‘n ontdekking en ontdekking is ‘n reis.

    Reisplan

    Voorwoord

    Ek smeek jou, skryf jou storie! ’n Toerlid was op haar knieë voor Christine van Wyk.

    ’n Tyd daarna is dieselfde vrou raakgery toe sy gaan draf het.

    En sy sterf.

    Christine van Wyk was in ’n yslike dilemma. Sy het gevoel sy is dit aan hierdie vrou verskuldig, maar sy het haar firma bestuur. Soms tot tien, vyftien toere per jaar – ’n voltydse taak.

    Moet nooit ophou droom nie. Christine van Wyk se woorde het in my kop bly maal.

    Mamma, ek sal Mamma se storie skryf, het ek aangebied.

    Ek wou nog altyd skryf.

    Sy en my pa het met vakansie gegaan en ek en my man is saam. Ons het by haar gesit en geluister. Stories wat ek geken het, het vars oor haar lippe en uit haar hart gekom. En ek kon my vrae vra. Telkens het sy gemaan: My kind, jy kan nie hierdie insident vertel nie.

    Tussen al die gegewens moes ek sif en ook probeer om mense se identiteit te beskerm. Daarom het ek in sommige gevalle gebruik gemaak van skuilname en ook soms vae inligting gegee.

    En dan was daar haar briewe wat sy geskryf het met haar sewe weke lange reis.

    Reisgogga gaan oor grepe uit Christine van Wyk se lewe en fokus op daardie eerste treë wat sy gegee het om haar reisdroom te sien werklikheid word.

    Ek is groot dank verskuldig aan my ma wat haar drome uitgeleef het en vir haar lewe en voorbeeld, ’n ystervrou met ’n fluweelhandskoen. Hierdie boek is die inleiding tot die geboorte van Christine van Wyk Toere ’n paar jaar later.

    Van Christine van Wyk se kleinkinders skryf:

    Ouma Christine het, soos met só baie ander rolle wat sy vertolk het, die handleiding vir oumawees ook herskryf. Om die waarheid te sê, sy het die gietvorm van die tipiese ouma aan skerwe laat spat. Christien Tustin

    "As my woorde kon wysies word,

    bring ek vir Ouma Beethoven en Bach

    want woorde raak op

    maar musiek bly klink oor eeue …" Mareli Louw (Swart)

    Ouma het ons almal in globetrotters verander. Albertus Louw

    Talente is gawes van God, onverdiend.

    Dankie vir ’n oorvloed kosbare mense wat my met hul talente omring en wat steeds my lewe verryk.

    Christine Louw

    www.reisgogga.co.za

    1

    Die gogga byt – 1925

    Als gebeur gelyk.

    Die byl vlieg deur die lug. Sy sien die bloed. Hoor die gil. Haar eie. En sy hardloop. Reguit spruit toe. ’n Doringtak krap haar arm. Sy val ’n slag. Vlieg op. Hardloop.

    Die spruitwater is koel. Haar hand brand; ook haar oë en keel. Die gras kielie haar maag. Wit kabbeltjies spoel oor die seer. Christine skuif haar hand na die stil poeletjie en sien hoe dit rooi strepies in die water maak. Duisend dorings steek in die wond. Dan bars ’n groot huil uit haar lyf los. Die gekap en heel middag se sukkel ruk snikke deur haar lyf. En sy is bang. Bang vir Mammie se skerp oë. Bang vir die diep sny. Die bloed. Die klop-klop. Die kieme.

    Christine, gebruik al twee jou hande! Christine sluk.

    Wat is dit met jou? Die kers maak vlammetjies in Mammie se oë.

    My hand is seer. Christine kyk na die kos op haar bord. Ek sien?

    Christine bring haar hand stadig onder die tafel uit. Sy skrik. Die bruinerige polishlap is nou rooi en nat. Mammie stamp die stoel om as sy vinnig opstaan.

    Genade my kind, wat het jy aangevang? Haar stem is hard. Pappie, bring die lamp en draai hom groot! Christine, kombuis toe dat ons kan sien. Christine ken daardie praat in Mammie se stem. Raaspraat.

    Wat het jy gemaak? Hemel, Christine Grobler, wat op aarde? Al die huil by die sementdam begin weer uit haar binneste boontoe borrel.

    Bring die wasskottel, warm water in die wasbeker, noodhulpkis. Christine, hou stil jou hand! En skeur ekstra verbande. Daar’s ’n ou laken bo in die linnekis. ’n Sny brood en suiker. En ’n piering, nee twee, watte en ’n vurk.

    Christine se neus loop en dit meng met haar trane. Dis sout in haar mond. Die bloed ruik soos Wagter as hy in die dam geswem het. Sy voel naar!

    Mammie gooi louwarm water oor haar hand. Drup van die alkohol, daar in die kissie, in die piering en gooi warm water by, net bietjie. Dankie. Mammie druk die watte in die piering en maak die wond skoon. Christine se kop is dronk van die skoonmaak se ruik en die steek in die sny. Bietjie vir bietjie maak Mammie die sny skoon. Christine probeer die brand in haar keel wegsluk. Pappie vryf die heeltyd oor haar kop. Dit help vir die klop in die sny en die huil wat elke kort-kort deur haar lyf ruk.

    Skat, meng bietjie broodpap met kookwater … en ’n lepel suiker, sê Mammie terwyl sy afbuk en nader kyk na die wond.

    Christine, wat op aarde het jy aangevang? Ek het hout gekap. Die huil sit alweer naby.

    Vir wat? Hou stil! Jy kon jou hand afgekap het!

    Ek wou vir Mammie … sy sluk, hout bring. Pappie kom weer agter Christine staan en sit sy groot hand op haar kop.

    Hemel, my kind. Weet jy hoe gevaarlik dit is? Jou hand kon morsaf wees! Mammie se stem is bietjie sagter en Christine probeer al die nat wegsnuif.

    So-ja, sê Mammie as sy die warm broodpap op die wond versigtig begin toedraai met ’n lang stuk wit lakenlap.

    Later, in haar bed, trek Christine die beddegoed oor haar kop sodat Mammie nie die huil moet hoor nie. Sy dink terug aan die spruit en haar hande in die koel water. Sy onthou die windpomp daar naby se tik-tik-tik … swiep … ki-klak. En toe het dit stil geword en haar hande en die wolke wat in die waterpoeletjie gewieg het ook. Die trane was soos die beeste se soutlek in haar mond. Huil het nog in haar lyf geruk toe die mooiste gogga reg voor haar in die lug kom hang het. Net bo die water. Daar was reënbogies in sy vlerkies. Die huil het gestop. Sy het bly lê totdat die gogga opgestyg en weggevlieg het. Ver weg.

    Die byl was nog daar waar sy dit gegooi het. Sy het dit saam met al die stukke hout in die streepsak gedruk, so met die een hand, en dit agter haar aan huis toe gesleep. Die kieme het in haar hand geklop.

    By die huis het sy ’n opvryflap in die polishboks gekry en dit styf om die sny gedraai. Om die kieme dood te druk. Die sak hout en byl het by die agterdeur bly lê. Sy wou só graag vir Mammie bly maak oor die brandhout.

    Later bring Mammie ’n kers en kom by haar sit.

    Oom Frik het vir jou ’n poskaart uit Switserland gestuur. Mammie klink sag en vriendelik en daar is vergewe in haar stem. Christine sit dadelik regop. Dis die Zürichmeer, sê Mammie. Christine vat die kaartjie. Dit lyk of die bootjies op die water wieg. Fyn wolkies hang bokant die seile. Langs die meer verdwyn ’n paadjie tussen blomme, gras en groot bome. Haar eie, eie kaartjie uit Switserland!

    Liewe Christine, lees Mammie. "Om te dink jy is nou sewe.

    Baie geluk! Ek hoop jy het lekker verjaar! Zürich is die grootste stad in Switserland, dit lê by die meer. Ek het self ook al in ’n bootjie op die meer gevaar. Die meeste mense hier praat Switserse Duits, amper soos Duits. Party praat Frans. Mens kan die hoë sneeuberge van hier af sien. Die Alpe. Die Jungfrau, omtrent 100 myl hiervandaan, is die hoogste top. Jy kan nou met ’n trein deur ’n tonnel tot amper bo ry. Eendag as jy groot is, moet jy self kom kyk. Baie liefde, Oom Frik."

    Jungfrau, sê Christine. En mens kan met ’n trein tot bo-op die Jungfrauberg ry?

    Dis reg, deur ’n tonnel tot amper bo. Die Jungfrau is die koningin van die berge, en Mammie druk die komberse styf agter haar rug in.

    Praat Oom Frik ook Switserse Duits?

    Nee, Duits. Mammie sit jou kaartjie hier op die kassie neer dan kan jy weer môre daarna kyk.

    Die flou kersliggie verdwyn saam met Mammie in die gang. Christine sug en draai op haar ander sy. In haar gedagtes sien sy die meer, die bootjies, die wolke en die koninginberg! Sy hoor die wind in die groot bome. En Oom Frik se stem: Eendag as jy groot is, moet jy self kom kyk. En sy onthou die gogga by die dam. Haar eie reënbooggogga wat baie ver kan vlieg.

    Die reisgoggatjie het gebyt. Speels, kielierig – ’n love-bite. Die kieme se klop het heeltemal gestop.

    2

    Die kompetisie – 1959

    Die woorde spring uit die middelblad. Christine van Wyk sak op die bed neer, die gesinstydskrif in haar hande. Werf intekenaars en wen ’n reis oorsee. Haar oë vlieg oor die detail van die aankondiging. Sluitingsdatum 31 Oktober 1959. Die persoon wat die meeste intekenaars werf, wen die prys. ’n Duisend gedagtes tuimel deur haar kop. Dis my kans. Eindelik!

    Haar brein skakel oor na hoogste rat. Sy vlieg op en drafstap na Bertus se studeerkamer. Skat, kyk! Christine sprei die Naweekpos voor Bertus oop. Hy lees alles rustig deur en staan op.

    Jy kan dit doen, ons het baie kontakte.

    Ek het ses maande. Dis my kans; my droom.

    Jy kan ook die prysgeld kies – ₤500!

    Ja, ek’t gesien. Wie sou nou dít wou doen? Ek gaan wérk hiervoor!

    Bertus trek sy vrou nader. Hy ken haar passie en deursettingsvermoë. Here, U weet van al die avontuurstories, haar drome, die opofferings. As dit u wil is, maak dit asseblief moontlik?

    Christine spring weg met ’n spoed. Sy koop ’n dik oefeningboek, skryfblokke, pakke koeverte en seëls en begin ’n lys maak van name; genommer, met kolomme vir die adresse en telefoonnommers. Dit neem weke net om adresse op te spoor. Haar brein werk oortyd.

    Sy skryf ’n brief en vertel van die voordele van so ’n Christelike tydskrif vir die hele gesin. En van haar passie. Sy meet die woorde fyn, bondig, maar duidelik. Elke brief is persoonlik gerig in haar mooi handskrif en sy bid vir elke ontvanger. Honderde. Elke dag gaan pos sy ’n klomp briewe. Soms werk sy tot ná middernag, gedring deur haar passie om die wêreld te sien. Opspoor van adresse en telefoonnommers. Briewe skryf, afmerk, kontroleer, pos oopmaak, teruggestuurde briewe se eienaars soek. Weer probeer. Elke brief is belangrik.

    Tyd sypel soos fyn, droë sand deur ’n uurglasie, maar Christine hou by. Sy is oortuig sy staan ’n goeie kans. Switserland, Italië, die hele Europa lok. Inskrywings begin instroom. Vriende is saam met haar opgewonde. Elke dag kom daar briewe van universiteitsvriende, ou gemeentelede van Brits en Koster, selfs skoolmaats. Die reisgoggatjie byt knaend. Partykeer lê Christine tot laat wakker en droom sy stap in die strate van wêreldstede: Parys, Londen, Wene …

    Here, bid sy soms alleen in die donker. U weet hoe graag ek wil gaan. Sal U asseblief gee dat dit moontlik sal wees; as U wil.

    Soms twyfel sy; wat is haar kans? Dan moedig Bertus haar aan. Die redakteur van die Naweekpos, ’n ou studentevriend, help aanspoor: Jy loop kop aan kop met iemand anders.

    Met die aanbreek van die sluitingsdatum, is sy seker sy gaan die prys wen. Die paar dae wat volg, word soos ’n soldaat wat die pas markeer. Op een plek.

    Christine is in die kombuis besig toe die posman die telegram aflewer. Bertus bring dit. Haar hande bewe liggies as sy die oranje koevert oopskeur. Haar hart doef-doef. Die woorde swem voor haar oë.

    J a m m e r  u  h e t  d i t  n i e  g e m a a k  n i e    s t o p    N a w e e k p o s

    Dit skeur binne haar. Christine sit die telegram op die kombuistafel neer. Sy wurg aan die knop in haar keel. Nege woorde van ’n telegraafmasjien op ’n telegramvorm geplak verpletter haar kleindogtertjie-drome. Sommer net so.

    Bertus slaan sy arm om haar. My skat, ek is jammer.

    Sonstrepies val deur die blindings op die oranje koevert. Sy was só seker. Sy het so hard gewerk; haar hele wese daarin uitgegiet. Haar ore tuit. Dis of alles vervaag. Veraf tingeling ’n roomysklokkie en die stem van die koerantventer koggel straataf: "Newcastle Advertiser!"

    Dan is dit so, haar stem is gelate. "Minstens … wel, baie mense is geseën om die Naweekpos te ontvang. En dis dan nie die Here se wil nie …"

    Ek maak vir ons lekker tee, bied Bertus aan.

    Dankie, Skat! Christine gaan sit by die kombuistafel en tel die telegram weer op. Dis só finaal. Wat is die Here se plan? Sy lees weer die woorde en frons. Iets is nie reg nie. Twee plooitjies tussen haar oë keep dieper. Wat is fout? Dis die sender … Dan tref dit haar. Die telegram is van Newcastle af gestuur. Skat, het jý die telegram gestuur? Sy sug. Dis daai ondeunde kyk.

    Twintig minute later kom die telefoonoproep van die Naweekpos. Bertus het die redakteur al vroeg die oggend geskakel en die goeie nuus gekry. Maar sy terglus wou hom nie los nie.

    Die vreugde om die prys te wen, is soos die suigstokkies van ses jaar oud in die Griek se kafee. Al die harde werk was tóg die moeite werd! Christine is in die wolke. Trane loop. Uiteindelik is haar droom van byna veertig jaar binne bereik. Sy begin dadelik ’n vreugde-brief skryf vir elkeen wat dit vir haar moontlik gemaak het. En sy maak lysies: Wat alles gedoen moet word; reggemaak word, gekoop word. Hulle het die goeie reistas van Bertus se studiereis Israel toe. Sy sal ’n paar stapskoene moet aanskaf en ’n warm baadjie …

    Abrie, hul oudste, is in die kosskool in Brits. Hy het daar agtergebly toe hulle die beroep na Newcastle aanvaar het. Hy moet matriek in Brits klaarmaak. Sy brief kom kort hierna. Met vorms van die Universiteit van Pretoria. Hy is oortuig dat hy volgende jaar teologie moet gaan studeer. Abrie, hulle vroeggebore seuntjie. In 1942 het so ’n baba ’n skraal kans gehad om te oorleef. Bertus en Christine het by die Here gepleit om sy lewe te spaar. Hulle het hom afgestaan aan die Here. Dit was ’n belofte waarvan net hulle twee geweet het. Nou, sewentien jaar later het Abrie sy roepstem gehoor. Hulle harte is vol. Daarmee saam kom ’n nuwe verantwoordelikheid waarmee hulle nog nie rekening gehou het nie.

    Saam kniel Bertus en Christine. Dankie, Here, vir u goedheid. Ons wy net weer vir Abrie aan U toe en elkeen van die ses dogters. U het ons ryk gemaak.

    Hulle lees deur elke vorm. Dis aansoeke en navrae. Abrie sal moet koshuis toe. Dink jy hy sal plek in Sonop kry? wil Christine opgewonde weet.

    Hy sal. Dis tradisie. Sal ’n grap wees as hy in my ou kamer land. Dit gaan geld kos. Baie geld! Maar die Here het vir my voorsien. Hy sal ook vir Abrie sorg.

    Christine stoot die papiere eenkant toe en staan op. Sy skuif die gordyne wyer oop en kyk deur die studeerkamervenster. Drie duiwe fladder op van die telefoondraad, maak ’n wye draai voor die venster verby en kies koers die blou lug in. Haar enigste seun. Hoe talentvol is hy nie! Slim, ’n leier, hoofseun van die koshuis, veelsydig. Abrie maak hulle trots, haar beker loop oor. Hy wil predikant word. Dit is duur.

    Die duiwe is weg. Sy staan lank so. In die agtergrond hoor sy ’n twee-motorige vliegtuig se klank wegsterf. Beelde van ver plekke flits voor haar verby. ’n Roomyskarretjie se klokkie lui dringend, harder. Sy voel ’n dolk in haar hart, maar weet sonder enige twyfel. Sy moet die geld kies. Sy glimlag wrang as haar eie woorde na haar toe terugkom: Wie sal nou dít wil doen!

    Ons het ₤500. Christine staan met haar rug na Bertus. Dit sal Sonop en sy eerste jaar op universiteit betaal. Bertus kom agter haar staan. Hy weet wat dit van haar verg.

    Is jy seker?

    "Seker. Ek gaan sommer nou die Naweekpos bel."

    So voorsien die Here op sy manier, erken sy later teenoor Bertus. My kleindogtertjie-droom sal ook soos die ander groot drome waar word. Ek glo dit. ’n Oop deur op sy tyd.

    3

    1971

    Êrens lui iets aanhoudend. Christine sukkel orent en voel-voel na die wekker. Die gelui hou op en sy sak dankbaar terug op die kussing. Dan begin dit weer. Sy sug en swaai om, skuif haar voete van die bed af en strompel kaalvoet na die klank in haar werkkamer. Haar voete is koud.

    Mevrou Van Wyk, dis Weskoppies. Christine probeer sin maak. Die stem gaan voort: Jammer om dié tyd van die nag te pla. Die man van Joego-Slawië het sy polse gesny. Ons hou hom onder verdowing. Christine onderdruk ’n gaap en probeer op haar polshorlosie fokus. Haar bril lê op die bedkassie. Die Weskoppies-vrou praat in haar oor: Hy roep aanhoudend na u. Ons kry hom nie stil nie.

    Ek kom dadelik. Christine is nou nugter wakker.

    Sy trek vinnig aan. Wikkel haar toe in haar dik jas. Sy sukkel met die garagedeur se sleutel in die donker. Haar hande voel dom in die gebreide handskoene en die straatlig gooi net ’n flou skynsel. Die enjin is koud en sy trek die smoorklep half uit. Die strate is stil eenuur die oggend. Lynwood Glen slaap. Links in Glenwoodweg. Links in Lynnwoodweg. Wat hou die toekoms tog vir Felix in? Dis die hoeveelste keer. Straatligte flits verby as sy die petrolpedaal dieper intrap. Verby Tukkies, Loftus Versfeld lê regs, die pad swenk links verby Affies, dan Sunnyside. Die lig slaan rooi en sy stop. Teen ’n winkelvenster lê ’n bondel mens in ’n weermagjas op ’n stuk karton. Twee meter by twee meter is sy stukkie turf vir die nag afgemeet, sy grondgebied. Dis verkluim-koue. Hoe lank sal hy kan oorleef, wonder sy. Die lig slaan groen en sy trek stadig weg. Ry stadiger. Teen ’n konstante spoed kry mens elke lig groen. Hulle is gesinkroniseer.

    Die Maatskappy vir Europese Immigrasie, MEI, het streekkantore geopen om nuwe immigrante te help inburger. Die versoek om aansoek te doen vir die pos by die Pretoriase Immigrante Komitee, kortom PIK, was vir haar ’n stryd!

    Dr Johan Heyns, sekretaris van Evangelisasie van die NG Kerk, sou objektief raad gee. Ja, het sy erken, sy wil graag die pos aanvaar, maar wat van haar pligte as leraarsvrou?

    My sussie, het dr Heyns geantwoord, as jy die Kerk op ’n breër vlak kan dien en geleenthede kry wat ander mense nie kry nie, dan moet jy nie twyfel nie.

    Sy geniet haar werk. Al beteken dit soms ongerief soos nou.

    By die inrigting se parkeerplek is dit stil; net die girts-girts van haar skoene op die gruis.

    Die gange ruik soos Weskoppies. Sy moes al voorheen iemand hier kom besoek. Die nagsuster lei haar na Felix se bed. Sy tyd in Suid-Afrika is een lang nagmerrie. Hy kan net nie hier aanpas nie. Sy gaan sit en praat sag, gerusstellend van sy land, sy ma. Hy klou haar hand vas. Zagreb en Split moet pragtige stede wees. Dubrovnik ook. Die ou geboue, die stadsmuur, die helder see. Ek sal graag nog eendag wil gaan kyk. Wie weet wat hou die toekoms in. Na ’n lang ruk bly sy stil. Felix se ooglede het swaar geword. Kommunisme het sy pragtige land stadigaan begin verteer. Sal die land ooit eendag loskom uit dié wurgende greep en oopgaan vir die buitewêreld?

    As sy asemhaling diep en reëlmatig word, staan sy saggies op.

    Sy is moeg.

    Halfvyf kruip sy tam en koud onder die komberse in. Die slaap ontwyk haar. Bertus draai om en wil vakerig weet. Is hy nou kalm?

    Ja, vir eers.

    Dis die derde maal?

    Ja, dit kan nie so aangaan nie. Die psigiater is reg. Felix moet maar liewer terug Joego-Slawië toe, hy kan eenvoudig nie hier aanpas nie.

    Miskien is die tyd nou ryp. Bertus trek haar nader.

    Sy tyd, ja, dink Christine vakerig voordat die slaap haar genadiglik toevou in sy kokon.

    Die man is ’n skisofreen. Mevrou, besef u wat u wil doen? Die beampte van Buitelandse Sake is beslis. Die regering stuur hom terug na sy eie land toe en sy toestand vereis dat ’n psigiater hom moet vergesel.

    Meneer, ek weet. Maar hoor by Weskoppies. Hy weier om terug te gaan as ek nie saamgaan nie. Ek is soos ’n ma vir hom, ek is ál persoon hier wat hy vertrou!

    Miskien, Mevrou, maar … ons moet hom veilig in die sorg van die owerhede van Joego-Slawië plaas.

    Felix het hulp nodig en ek kan hom help.

    Mevrou, ons sal na u toe terugkom. Weskoppies sal moet sertifiseer wat in belang van die pasiënt en die publiek is.

    Julle moet maar besluit, ek is beskikbaar.

    ’n Week later is Christine op die punt om ’n Portugese gesin te gaan oplaai om hul kinders by ’n Engelse skool te registreer toe iemand van Buitelandse Sake skakel. Mevrou Van Wyk, ons het lang gesprekke gevoer met u werkgewer, u huisdokter en die psigiater by Weskoppies. Christine se hart word warm. Haar werk is baie vervullend. Die stem gaan voort: Almal is dit eens dat u die Joego-Slawiër moet vergesel. Hy weier dat enige iemand anders dit doen.

    Eindelik dalk ’n deur wat oopgaan, dink sy. Buitelandse Sake sal ’n vlugkaartjie tot in Londen voorsien. En dan?

    Ons wil dadelik reëlings tref. Sal dit u pas om oor drie weke te vertrek?

    Drie weke! ’n Lamheid trek deur haar lyf. Daar is nuwe aankomelinge van Pole, Portugese wat instroom en Hongare, ook Nederlanders. Almal soek hulp. Daar is die groot funksie in die stadsaal. Hulle het die fondse nodig. Dit voel na ’n onbegonne taak.

    Is hierdie haar ééndag? Niks sal in haar pad staan nie!

    4

    Die vlug

    Dames en here, welkom aan boord vlug SA 147 na Londen. Maak asseblief u sitplekgordels vas, ons gaan binnekort opstyg. Ladies and gentlemen, welcome on board …

    Christine kyk na die stempel in haar paspoort.

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1