Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Ons is nie almal so nie
Ons is nie almal so nie
Ons is nie almal so nie
Ebook144 pages2 hours

Ons is nie almal so nie

Rating: 3 out of 5 stars

3/5

()

Read preview

About this ebook

Wat het ’n mooi Afrikanervrou in die 1950’s gedoen as die lewe begin druk? As haar man ’n verbitterde Ben Schoeman-man is wat moet aansukkel met ’n asmapompie en haar pa ’n kommunis en Katoliek agter elke bos raaksien? As die enigste afleiding die jaarlikse ATKV-konsert op Hartenbos is? Veral as haar doodgoeie bure skielik aangesê word om te trek? Deur die oë van ‘n kind vertel Jeanne Goosen hoe Doris van Greunen van dié wêreld probeer ontsnap: in die bioskoop, met haar Cavallas, met vriende soos Ant Mavis, Uncle Tank – en met Barnie, die swank. Bekroon met die M-Net Boekprys, die CNA-prys en die Rapportprys.
LanguageAfrikaans
PublisherKwela
Release dateApr 1, 2012
ISBN9780795703584
Ons is nie almal so nie

Read more from Jeanne Goosen

Related to Ons is nie almal so nie

Related ebooks

Related articles

Reviews for Ons is nie almal so nie

Rating: 3.1666666666666665 out of 5 stars
3/5

3 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Ons is nie almal so nie - Jeanne Goosen

    cover.jpg

    JEANNE GOOSEN

    Ons is nie almal so nie

    KWELA BOEKE

    Vir Sandra wat my Doris laat skryf het

    Continually I try to write it down,

    this sense of family life. For it seems to me

    that the funny voices we make with our mouths,

    or the squiggles that we put on paper,

    are only for ourselves to hear, to prove

    there’s someone there.

    BERYL BAINBRIDGE

    DEEL EEN

    My ma en ant Mavis hou langs die hoenderhok stil met my pa se Plymouth. Hulle raas en lag só dat ou mrs Haasbroek se hond oorkant die straat begin blaf.

    Sjoes! skree ant Mavis.

    Hulle kom by die agterdeur in.

    Was my kind soet? vra my ma. Sy haal ’n pakkie uit haar sak, hou dit teen die lig en lees: Which twin has the Tony . . .

    Ant Mavis sit die water op vir tee. Ag, ou Doris, sê sy, jy gaan mos ’n goeie job maak van my perm, nè?

    Don’t fear when Doris is near, lag my ma. Gertie, sê sy vir my, gaan haal vir ons bordjies. Sy haal drie doughnuts uit ’n kardoes.

    Ant Mavis kry die koppies reg en my ma sit ’n doughnut op elke bordjie. Ons gaan sit by die kombuistafel.

    Nothing to beat die Homepride se doughnuts, sê ant Mavis met ’n vol mond.

    Eet my kind lekker? vra my ma. Sy buk vooroor en soen my.

    Ant Mavis kap saggies op my kop met haar teelepel. Ou blou-oog!

    Ek lag. My ma en ant Mavis kan partykeer so snaaks wees.

    Gertie, sê my ma, gaan haal gou vir ons die lang spieël in Ma-hulle se kamer, dan gaan sit jy soet op die vloer met jou puzzle. Ons gaan ant Mavis se hare perm. Sy vat-vat aan haar eie hare, maak haar oë groot. Ou Tank gaan sy girl nie ken as hy haar vanaand sien nie. Skoon seesiek gaan hy word van al die waves.

    Ant Mavis en my ma werk in die aande en een Saterdagmiddag in die maand met die matinées in Parow se Victoria bioscope. Hulle is usherettes.

    Ant Mavis is my ma se beste vriendin. Sy en my ma dra swart skirts en wit blouse as hulle gaan usher. Hulle dra ook ’n ronde, plat hoedjie agter op hulle koppe wat met hairpins vasgesteek word. Eintlik is dit nie ’n hoed nie. Dit lyk meer soos die ronde pannetjies waarin my ma koek bak vir wanneer my oupa kom kuier. Net dieper.

    Ant Mavis is vet en jolly. Sy blaas rook deur haar neus wanneer sy ’n Cavalla aansteek. Sy kuier omtrent elke môre by ons. Partykeer sit sy en my ma op die voorhuisvloer en speel plate op ons Pilot. Hulle hou van musicals soos ‘Showboat’ en ‘Naughty Marietta’.

    My ma het al Jeanette MacDonald en Nelson Eddy se plate. Elke keer wanneer my ma ‘Maytime’ speel, sing sy en ant Mavis saam wanneer Jeanette Macdonald by die stuk kom waar sy ‘Sweetheart, sweetheart’ sing. Hulle oë word dan vol trane.

    Nothing like true love, sê ant Mavis elke keer.

    My ma sê niks en kyk net voor haar uit. My ma het ook ’n plaat van Richard Tauber wat sing. Die lied se naam is ‘For you alone’. As my ma die slag regtig treurig voel, speel sy die plaat. Ek het eenkeer gehoor sy vertel vir ant Mavis dat my pa die plaat vir haar gekoop het toe hulle nog verloof was.

    Piet was so ’n romantic, ou Mavis. Jy sal nie sê dis dieselfde man soos jy hom vandag daar sien nie. Sy vee die trane uit haar oë en blaas haar neus.

    Ag, shame, ou Doris, sê ant Mavis. Wie weet, as hy eers oor al die dinge is, kom dit weer terug. You never know.

    As hy kom kuier het, was dit nooit sonder iets nie. Altyd ’n surprise. Of chocolates, Black Magic, of partykeer blomme en eenkeer tot ’n glasbak met goudvissies. My ma staan op, kry twee glase en sê vir ant Mavis: Kom ons vat maar ’n drienk, wat.

    Ander kere sit my ma en ant Mavis by die kombuistafel en brei. Ant Mavis brei aanmekaar pullovers vir uncle Tank en kla oor sy lang arms. Hulle brei cables – met drie penne. Hulle tel die steke in Engels en merk die rye op die Woman’s Weekly-patrone met ’n potlood af. Partykeer skink my ma vir hulle van my pa se rum wat hy in die aande voor hy gaan slaap vir sy bors drink.

    Uncle Tank is ant Mavis se kêrel. Ek dink hy is jonger as sy, of ek het my ma so hoor sê vir my pa. Hy het ’n groot maag, ’n snor en kam sy hare met ’n middelpaadjie. Hy en ant Mavis praat Engels en Afrikaans deurmekaar. Hulle huur twee kamers by mrs Bonthuys, laer af, in Wateringstraat.

    Uncle Tank sukkel om werk te kry en ant Mavis sê dit maak hom baie mismoedig. Hy het net een voet en stap mank. My ma sê die vyand het sy linkervoet afgeskiet in die oorlog. Dit was in die Noorde gewees. Hy kry ’n oorlogspensioen, maar ant Mavis sê dit is heeltemal te min vir hulle om op uit te kom.

    Uncle Tank soek omtrent elke dag werk. Partykeer wanneer Isaac Levitt van die hoendervoerfabriek ’n driver nodig het, laat kom hy uncle Tank. Hy dryf dan vir ’n paar dae, solank hulle hom nodig het, die lorrie en laai hoendervoer by die winkels af.

    Party oggende wanneer uncle Tank terugkom van werk soek, kom hy hierlangs met ’n bottel Old Brown-sjerrie en dan drink hy en ant Mavis en my ma daarvan by die kombuistafel.

    Uncle Tank vertel dan dat hy amper-amper die werk gekry het. Jy kan maar sê ek het die job gekry, maar hier op die laaste vind hulle uit van my voet en toe is dit verby.

    Hy neem nog ’n sluk sjerrie, staan op en buig vooroor. Dis bad luck, sê hy, snuit sy neus uit, maak sy glas weer vol en gaan sit.

    Cruel world, sê ant Mavis, steek ’n Cavalla aan en blaas die rook deur haar neus.

    Jy weet, Doris, sê uncle Tank, hier staan ek nou vandag voor jou, ’n man met twee hande, gewillig om te werk, maar dink jy daar is in hierdie lewe iemand wat na ’n ander ou se storie wil luister? Not a damn. As jy die slag verleë is, is dit nog nie genoeg vir hulle nie. Néé, dan moet hulle nog eers op jou trap ook. Nou sit ons nog met hierdie goewerment ook, sê uncle Tank. Maar ek sê vandag vir jou, mark my words, ek gee hulle nog net twee jaar kans. Dis al. Hy wys met sy vinger na my ma. Jy kan nie so met mense werk nie, al is hulle kaffers! What a life for the poor bastards! Uncle Tank staan weer op, maar ant Mavis druk hom terug op die stoel.

    Moenie so upset raak nie, Tank. Things will work out eventually, man, sê sy.

    My pa hou nie van uncle Tank en ant Mavis nie. Ek het hom vir my ma hoor sê hulle woon saam soos man en vrou. Mavis is al erg genoeg, sê my pa, maar daardie Tánk, hy is ’n opperste kommunis.

    My ma sê dis die oorlog wat uncle Tank gemaak het soos hy is, maar as jy hom eers leer ken, is hy nie ’n bad old stick nie, sy het niks teen hom nie. Om die waarheid te sê, sy like hom nogal.

    Ek moet sê, ek hou ook van uncle Tank, en dit is waar, my pa ken hom net nie. Wanneer hy hier by ons huis kom, knyp hy my neus en sê: Hello, Aapsticks! Give us a smile. Partykeer gee hy vir my geld waarmee ek sigaretlekkers koop. Ek sit dan op die kombuisvloer en elke keer as my ma-hulle Cavallas aansteek, sit ek ’n sigaretlekker in my mond en suig daaraan. Ek hou dan my een elmboog vas met my ander hand.

    Hulle sê uncle Tank was eenkeer, net ná die oorlog, vir twee maande in die tronk. Hy en ’n ander man het voëltjies in ’n wip gevang, dit toe gedye en verkoop. Hulle het vir die mense gesê dit is Australiese mossies. Toe dit reën, spoel al die dye uit en dis hoe hulle vir uncle Tank en die ander man gevang het. Eintlik het daardie dye hulle net so baie gekos soos die voëls vir hulle ingebring het, en as jy nog al die moeite ook byreken, weet hy ook nie, sê uncle Tank.

    Bad luck was aan my kant, sê hy. Dit is maar al. Bad luck.

    Ant Mavis sê uncle Tank kan baie down raak. Die ding met sy voet het hom onder, Doris, sê ant Mavis. En jy weet mos hoe is ’n man, wys nie sy gevoelens nie. Tank het nou wel sy dinge, maar daar is nie sleg in hom nie.

    Uncle Tank kan mooi kitaar speel en sing. Hy kan Italiaanse opera sing en soos Bing Crosby croon. En dan kan hy Al Jolson ook nog goed namaak. As hy ‘There was blood on the saddle’ sing en hy jodel, klink hy nes ’n regte cowboy. Soos Gene Autrey.

    Hy en ant Mavis en my ma sit hier by die kombuistafel met ’n drienk en ’n bietjie later sê ant Mavis: Tank, give us a song, chum. Toe. Please, man.

    Dan begin uncle Tank sing en speel. Hy sing ‘Mammy’ en sy oë word vol trane. Daarna sing hy ‘You are my sunshine, my only sunshine’, net soos Bing Crosby dit sing. Later sing hy Italiaans. Hy sing ‘Back to Sorrento’, ‘O sole mio’ en ‘Santa Lucia’. Uncle Tank moet ‘Santa Lucia’ oor en oor sing. Dis ant Mavis se favourite.

    As hy klaar gesing het, maak hy sy glas weer vol en gaan sit. Hy vee dan sy gesig met sy sakdoek af.

    My ma sê: Tank, you’ve got a great talent. You’re surely a gifted man.

    Uncle Tank sê: Doris, I could’ve gone professional, you know. Maar nou ja, toe kom die oorlog en daarna was dit vir hierdie boy net bad luck. Almal sê ek moes op die stage gewees het, maar, Doris, be honest, wie wil nou vandag ’n performer hê met ’n afvoet? Tell me. Come on. Tell me . . . !

    Ag, never mind, Tankie, sê ant Mavis en raak aan sy skouer, jou skip sal ook eendag nog inkom. Just wait and see.

    Ant Mavis gaan sit op uncle Tank se skoot met haar arms om sy nek: Hei, cheer up, man! Come on! Give your Mave a kiss! Sy druk haar neus in uncle Tank se nek en sê: Kissie, kissie, kissie! totdat hy weer begin lag.

    Hy kyk na my ma: Doris, look at this. Dan lag hy maar so half en sê: Woman . . . !

    Kort voor middagete staan uncle Tank en ant Mavis op om te loop. Uncle Tank neem sy kitaar, haak in by ant Mavis en dan stap die twee.

    Cheerio, Aapsticks, sê hy vir my. Stay as sweet as you are.

    My ma het usherette

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1