Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Zephany (A): Twee ma's. Een dogter. 'n Ongelooflike ware verhaal.
Zephany (A): Twee ma's. Een dogter. 'n Ongelooflike ware verhaal.
Zephany (A): Twee ma's. Een dogter. 'n Ongelooflike ware verhaal.
Ebook350 pages4 hours

Zephany (A): Twee ma's. Een dogter. 'n Ongelooflike ware verhaal.

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Die ontvoering van baba Zephany Nurse uit die kot langs haar ma se hospitaalbed het die hele Suid-Afrika aangegryp. Haar desperate ouers het herhaaldelik gepleit dat sy veilig terugbesorg word, maar daar was geen teken van die baba nie. Vir 17 jaar lank, op haar verjaarsdag, het die Nurse-gesin kerse aangesteek en gehoop en gebid. 'n Klipgooi van die Nurse-gesin af het die 17-jarige Miché Solomon pas met matriek begin. Sy het 'n kêrel gehad en toegewyde ouers. Sy het gedroom oor die matriekafskeid en die rok wat haar ma vir haar sou maak. Sy het nie die vaagste benul gehad dat 'n nuwe meisie in die skool, wat ongelooflik baie soos sy lyk, en 'n DNS-toets haar wêreld tot in sy fondamente sou skud nie. Miché is nou 22. Met verbysterende volwassenheid, eerlikheid en deernis vertel sy hier vir die eerste keer háár storie, in haar eie woorde, oor wat dit beteken om lief te hê en geliefd te wees, en om jou eie identiteit op te eis.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateAug 9, 2019
ISBN9780624086444
Zephany (A): Twee ma's. Een dogter. 'n Ongelooflike ware verhaal.
Author

Joanne Jowell

With an academic background in English and Psychology, Joanne Jowell began writing professionally at age 28. Her first book, Managing the Quarterlife Crisis: Facing life’s choices in your 20s and 30s, was published in 2003. She lives in Cape Town with her husband, three children and wire-haired dachshunds. I am Here is her seventh book.  

Related to Zephany (A)

Related ebooks

Related articles

Reviews for Zephany (A)

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Zephany (A) - Joanne Jowell

    Joanne Jowell

    Zephany

    Tafelberg

    MICHÉ SOLOMON:

    Ek dra hierdie boek op aan Lavona en Celeste.

    Ook aan die liefde. En hoop.

    En aan mense wat wil vergewe, maar nie kan nie.

    JOANNE JOWELL:

    Vir Feniks, wat steeds verrys:

    Jy is geen mite nie, maar beslis ’n legende.

    Met liefde en trots.

    Proloog

    Jy dink jy ken iemand. Veral jou eie ma. Jy weet wanneer sy kwaad of hartseer of platsak is, of ’n verrassingspartytjie beplan. Sy is so sleg met verrassings, jou ma. Jy weet dalk nie presies wat sy beoog nie, maar jy weet sy voer iets in die mou. Sy kan net nie haar eie opgewondenheid vir jou wegsteek nie. Dis nie asof daar ’n spiertjie in haar wang spring en of sy ’n geheime wegsteekplek vir geskenke het nie. Dis net omdat jy haar, ná al die jare, so deksels goed ken.

    Jy dink jy ken iemand. Tot jy hulle nie ken nie.

    Zephany Nurse het gedink sy ken haar ma. Tot dit geblyk het haar ma is nie haar ma nie.

    Om billik te wees, Zephany Nurse het ook nie geweet sy is Zephany Nurse nie tot die dag dat sy uitgevind het haar ma is nie haar ma nie, haar pa is nie haar pa nie, en sy – wat haarself altyd net as Miché Solomon geken het – is eintlik iemand heel­temal anders.

    Op 28 April 1997 word baba Zephany Nurse in Kaapstad se Groote Schuur-hospitaal gebore as eersteling van die ouerpaar Celeste en Morné Nurse.

    Op 30 April 1997 verdwyn Zephany uit die hospitaal. ’n Uit­geputte Celeste Nurse het ’n bietjie gedut. Toe sy wakker word, ontdek sy haar baba is weg, blykbaar gesteel deur ’n vrou wat haar voorgedoen het as ’n verpleegster. Celeste onthou sy het die vrou naby Zephany se wiegie sien staan net voor sy ingesluimer het.

    Vyf dae ná Zephany se geboorte verlaat Celeste en Morné die hospitaal sonder hul dogter. Hul soektog om haar op te spoor sou 17 jaar duur.

    Miché Solomon het grootgeword in ’n gelukkige huis as die enigste biologiese kind van Lavona en Michael Solomon van Retreat, Kaapstad. In 2015 begin sy as aantreklike tienermeisie haar matriekjaar aan die Hoërskool Zwaanswyk te midde van gerugte oor ’n nuwe leerling in graad agt wat soos haar dubbelganger lyk. Miché maak vriende met die jong Cassidy Nurse. Ook na háár mening lyk dié inderdaad na haar en sy geniet oënskynlik die ouer meisie se geselskap.

    Omdat sy nie gewoond was aan buitengewoon positiewe of negatiewe aandag by die skool nie, was Miché effens verbaas om op ’n doodgewone skoologgend na die hoof se kantoor ont­bied te word. Maar haar effense verbasing het in loutere skok verander toe Miché op daardie allesbehalwe gewone dag, reg daar in dié kantoor, ontdek dat haar hele lewe ’n leuen is. Lavona en Michael was nie haar regte ouers nie. Miché Solomon was nie haar regte naam nie, en sy sou nie daardie aand huis toe gaan nie.

    Jy dink jy ken iemand. Veral jou eie ma. Tot dit blyk dat sy jou ontvoerder is.

    Dis verwarrend genoeg vir my of jou wat van buite na die situasie kyk om te probeer sin maak van dit alles. Verbeel jou die verwarring vir die jong vrou in die hartjie van dié warboel.

    Miché is nie haar geboortenaam nie, hoewel dit die naam op haar geboortesertifikaat is.

    Miché is nie die naam wat deur buitestanders gebruik word nie, hoewel dit die een is wat gebruik word deur diegene in die binnekring wat dink hulle ken haar.

    Miché is nie die naam wat ons gebruik het om haar te identifiseer sedert die storie bekend geraak het nie, maar dis die een waarmee sy haarself identifiseer, en die naam wat sy gekies het om te behou.

    En dit is die naam wat sy hier bekend maak, nadat sy dit lank genoeg geheim gehou het.

    Met dié besluit van haar word ’n baanbrekende hofbevel tot niet gemaak – ’n bevel wat die identiteit van Miché Solomon beskerm het tydens die drie jaar sedert sy wetlik meerderjarig geword het. Die regsgeleerdes en maatskaplike werkers wat hulle daarvoor beywer het om hierdie beskermingsbevel so gou moontlik nadat haar wêreld ineengestort het vir haar te bekom, het meer vermag as om haar net teen die indringerige blik van die media te beskerm. Hulle het haar die ruimte en privaatheid geskenk om ’n krisis te bestuur wat selfs die mees ervare psigoanalis sou laat kopkrap. Suigelingskap, die peuterstadium, adolessensie, volwassenheid – geeneen van dié ontwikkelingsfases met hul gepaardgaande krisisse kan kers vashou by die psigo­sosiale katastrofe wat vermoedelik Miché se voorland was nie.

    ’n Mens kan met sekerheid sê dat ons almal op die een of ander punt in ons lewe voor ’n identiteitskrisis te staan kom, gewoonlik in ’n tyd van oorgang. Hoe suksesvol ons ons weg deur so ’n krisis vind, hang af van ons volwassenheid en die hanteringsmeganismes wat ons tot op daardie tydstip in ons lewe ontwikkel het. Dié strategieë is die blink sterre aan die sielkundige uitspansel: volharding, veerkragtigheid, kommuni­kasie, selfagting, bewustelikheid (mindfulness), bevestiging, geloof. Ek kan ’n bladsy vul met al die gonswoord-eienskappe wat ons nie eens weet ons het (of nie het nie) tot die geleentheid opduik waar ons hulle prakties uitleef.

    Hopelik was tienerpuisies, katterige skoolmeisies en graadnege-vakkeuses ’n goeie oefenlopie vir Miché as dit by krisisse kom, want hier is die uitklophou wat haar buitengewone identi­teitsdilemma betref: Dit het soos ’n donderslag uit ’n helder hemel op haar afgekom. Toe Miché Solomon vir Zephany Nurse ontmoet en ontdek hulle is dieselfde mens, wel … daar is beswaarlik ’n kategorie op die Richterskaal van skokke wat vir dié een voorsiening maak.

    Ek is nie van plan om oor die moderne sielkunde en die rele­vansie van Erik Erikson se teorie oor die fases van psigososiale ontwikkeling uit te brei nie, maar ’n mens vra jouself af: Hoe het Miché Solomon haar ware identiteit ontdek en oorleef son­der om die pad byster te raak? Kan ’n 17-jarige meisie, aan die begin van matriek en op die drumpel van volwassenheid, die sielkundige trauma van ’n foutiewe gesteelde veranderde misleide identiteit hoegenaamd verwerk? Van watter soort stoffasie moet sy gemaak wees om ooit weer enigiemand te vertrou? Sy moet tog seker die kluts kwytgeraak het, van lotjie getik geraak het, uitgehaak het? Sou jy nie ook nie, as jy moes uitvind jou ma het jou hele lewe lank oor jou identiteit gejok?

    As die alledaagse soort identiteitskrisis gaan oor verlies (van selfbegrip en wie jy nog altyd geglo het jy is) en verwarring (oor wie jy regtig is), dan is Miché se geval ’n woud. In een reuse-afkapping het sy haar ma, haar familie, haar herkoms, haar naam verloor. Sy het die fisieke én die eksistensiële verloor.

    Ek het iets interessants uitgevind oor Erik Erikson, die siel­kundige wat die konsep identiteitskrisis geskep en die agt ont­wikkelingstadia vanaf suigelingskap deur adolessensie tot by laat-volwassenheid uitgestippel het. Erikson is self grootgemaak deur ’n man wat geblyk het nie sy regte pa te wees nie; nes Miché het hy ’n deel van sy vormingsjare onwetend met vals aannames geleef. Sy ma het buite-egtelik swanger geraak, uit haar tuisdorp gevlug en nie die naam van Erikson se biologiese pa bekend gemaak nie. Sy is later getroud met Erikson se pediater, wat hom aangeneem en hom sy van gegee het: Hombur­ger. Erikson het eers laat in sy kinderjare die waarheid oor sy herkoms uitgevind en vir die res van sy lewe die letsels van hierdie wete gedra. Identiteitsontwikkeling het sy persoonlike sowel as sy professionele lewe oorheers. Sy dogter sou later opmerk dat hy sy psigoanalitiese identiteit eers gevestig het toe hy sy eie van geskep en aangeneem het: Erikson.

    Afgesien van die ooglopende ooreenkoms met Miché se storie van haar ontdekking van die waarheid oor haar herkoms, lei die Erikson-verhaal tot die prikkelende vraag wat soos ou kougom aan die onderkant van ’n skoolbank aan enige identiteitskrisis kleef: Wat beteken ’n naam?

    Zephany. Miché. Die twee name is nie heeltemal so verskillend of ver van mekaar as wat hulle klink nie.

    Zephany het sy wortels in Hebreeus en beteken Die Here het verberg.

    Miché is ’n vroulike vorm van Michael en beteken wat soos God lyk.

    Maar delf ’n bietjie dieper, en jy kom af op Miché in die vorm van ’n werkwoord – ’n aksiewoord wat om nors te wees, om te versteek/weg te kruip, om te verberg beteken.

    Zephany. Miché. Sy wat wegkruip. Sy wat verborge is.

    Die verborgene.

    Hierdie storie wemel van dubbelsinnighede. Daar is minstens twee van alles, of dit nou nuanse of rol betref: ma’s, pa’s, families, protagonis-identiteite. Dit is uiters verwarrend. Sewentien jaar lank is die hartverskeurende geval rondom drie hoofrolle uitgebeeld: die radelose ma Celeste Nurse, die verpletterde pa Morné Nurse, die ontvoerde baba Zephany Nurse. Newekarakters het van tyd tot tyd op die toneel verskyn – speurders, vals leidrade, skimagtige verpleegsterfigure. Toe kom die waarheid uit, en die storie het gou ’n warboel van wortels en takke bygekry. Dit was nie meer moontlik om die een kant van die familie bloot as biologies te klassifiseer nie, want hoe moet ’n mens dan na die ander kant verwys? Aanneemfamilie? Kuns­matig? Pseudo?

    Wat alles nog meer raaiselagtig gemaak het, was dat baba Zephany, ofskoon nie meer ’n baba nie, nog nie wetlik meerder­jarig (18) was nie en dus op geen ander wyse geïdentifiseer kon word nie as met die naam waaronder sy nog altyd bekend was: Zephany Nurse. En as Zephany nie geïdentifiseer kon word nie, het dieselfde gegeld vir haar ontvoerder, by wie sy nog heeltyd gewoon en wie se van sy gedeel het. Om Lavona en Michael Solomon te identifiseer sou die naald direk laat wys na Miché Solomon, hul enigste dogter en die kind wat onwetend die mid­delpunt van ’n ontvoeringsdrama was.

    Die media het hul eie strategie ontwikkel om te help voor­kom dat reëls oortree word. Hulle het ’n netjiese skeidsmuur in die middel van die storie gebou en die karakters in twee kampe gegroepeer: regte en steel-. Regte ma Celeste Nurse en regte pa Morné Nurse steelma Lavona Solomon (die ontvoerder) en steel­pa Michael Solomon (die ontvoerder se man), al moes wie presies die stelery gedoen en wie anders daarvan geweet het nog in die verloop van ’n strafsaak bepaal word. Die hoofkarakter het deurgaans net een naam gehad: Zephany.

    In my reis deur die kronkelpaadjies van hierdie storie het ek swaar op die regte/steel- kategorisering gesteun. Maar dit was asof ek dit net nie kon laat werk nie. In elke onderhoud of gesprek oor die storie het ek gevind dat die rolspelers in ’n dolle tweepasdans vasgevang is, dat hulle in my kop en op die bladsy heen en weer oor die skeidslyn beweeg. Ek het gewonder of dit die terminologie is wat my verwar, en ek het probeer om regte te ver­vang met biologiese en steel- met wat haar grootgemaak het: Celeste, die biologiese ma, teenoor Lavona, die grootmaak­ma. Al wat dit gedoen het, was om my op ’n syspoor te bring ten opsigte van die definisie van ma en die vraag rondom wat ’n ma definieer. Word moeders gebore of gemaak? Is hulle die wegspring- of die eindstreep? ’n Verstekposisie, of een wat verdien word? Is hulle die punt van herkoms, die reis, of die bestemming?

    Ek het aanhoudend na die protagonis van die storie teruggekeer, met die veronderstelling dat hoe deurmekaar dit ook al vir my was, dit oneindig meer so moet wees vir Zephany. Maar namate ek my weg deur die storie se vele afdraaipaaie gebaan het, het ek mettertyd begryp my wie-is-wie-verwarring is nie ’n spieëlbeeld van Zephany se eie verwarring nie. Dit is ’n teenstelling. Vir Zephany Nurse, nee, vir Miché Solomon is haar steelma haar regte ma. Vanweë die gehegtheid wat sy jeens haar voel, kan die ma wat haar grootgemaak het net sowel die ma wees wat aan haar geboorte geskenk het. Boonop het Miché Solomon geen probleem daarmee om Miché Solomon te wees nie – hoe kon sy dus gevind word as sy nooit verlore was nie?

    Vir byna twee dekades is die storie van Zephany Nurse aan ons voorgehou vanuit elke perspektief behalwe dié van Zephany Nurse self. Maar Zephany is ’n hersenskim – ’n gedaante met die vorm van ’n pasgebore baba wat deur trauma in die geheue ingebrand is. Miché Solomon – dáár is die bloed en binnegoed; dáár is die kloppende hart van die storie.

    Maar daardie storie het ons nog nie gehoor nie. Is dit nie hoog tyd dat dit gebeur nie?

    Hoofstuk 1

    ’n Kind se huilkrete klink op in die feitlik leë gange van die Blue Route-winkelsentrum in Tokai, Kaapstad. Dit is die middel van die week. Mammie! Mammie! skree Miché Solomon se tweejarige dogter, Sofia, terwyl haar ma van haar wegstap na die Mugg & Bean, waar ek en Miché afgespreek het om mekaar te ontmoet vir ons eerste onderhoud.

    Miché gooi haar kop agteroor en hou aan stap na die ingang van die restaurant. Dis oukei, sê sy, meer vir haarself as teen­oor my. Sy is by my daddy. Sy sal oukei wees.

    Wil jy haar eers gaan kalmeer? vra ek.

    Nee, as sy by my daddy is, is dit oukei. Solank dit hy is. Sy sal gou gelukkig wees.

    Ek het nie veel tyd gehad om haar pa te groet nie – net ’n vinnige handdruk toe Miché hom as my daddy, Michael voor­gestel het. Hy het sag teenoor my geglimlag en sy kop liggies ge­knik voor hy die stuur van Sofia se stootwaentjie oorgeneem en met haar weggestap het sodat ek en Miché alleen in die rela­tie­we privaatheid van die restaurant se enigste rusbank kon gesels.

    Miché sak stadig terug op ’n leerkussing wat pap is van ouder­dom. Dit duik dieper in as wat sy verwag het, en sy giggel terwyl sy probeer keer dat sy wegsak. Ek het pas uitgevind sy is weer swanger, en taamlik ver, daarom is haar beweeglikheid nie juis wat ’n mens van ’n 21-jarige sou verwag nie.

    Nie dat ek weet wat om te verwag nie. Dis maar die tweede keer dat ek Miché ontmoet; die eerste keer was ’n amptelike bekendstelling aan mekaar deur ons uitgewer, wat meer daaroor gegaan het of Miché my goedkeur as haar biograaf eerder as dat ek haar opsom as my onderwerp. Hierdie terrein is net so nuut vir my soos vir die meeste mense, aangesien ek slegs van haar geweet het as Zephany Nurse, die ontvoerde baba wat onverwags opgespoor is en wat net ’n hanetreetjie van haar bio­logiese familie af woon. Maar jy kan nie ’n onderhoud met ’n hersenskim voer nie. Ek is vandag hier om ’n onderhoud met Miché Solomon te voer.

    Miché bestel warmsjokolade wat met ’n dik bolaag van ge­klopte room voorgesit word. Sy eet die punt van die wit spirale met ’n lang lepel en roer die res in. Sy maak verskoning dat sy nie soos gewoonlik gegrimeer is nie – swangerskap en ma-wees is nie goed vir my gewig of my voorkoms nie – maar dit is maklik om te sien hoe sy met ’n professionele droogblaas van haar heu­ningkleurige haardos, ’n blink robynkleur op haar delikate lippe en ’n paar stylvolle stiletto’s om vir die boepie te kompenseer, die J.Lo-vergelykings wat sy laggend toelaat, sal verdien.

    Om die waarheid te sê, ek verkies om ’n Miché sonder ’n fasade te sien. Ons gaan uiteindelik die ander kant van die Zephany Nurse-storie hoor. Wat ons wil hê is onopgesmuk eerder as ge­spuitkwas; in-die-vlees eerder as in-die-nuus.

    MICHÉ:

    Ek lyk soos my pa se familie, soos Michael se familie. Hulle is almal lank en party is nogal lig van kleur, so ek het grootgeword met die idee dat ek na sy kant van die familie lyk.

    As klein dogtertjie het ek ’n baie sterk band met my daddy gehad. Ek het nog steeds. Ek was meer avontuurlik saam met hom; ons het strand toe gegaan, of gaan draf, of entjies gaan ry, want my ma was by die huis in die kombuis of met huishoudelike goed doenig. Ek kon eerlik met hom praat, en meer met hom as enigiemand anders oor sekere dinge.

    Ek sien hom nou met my dogter, en dis net soos dit vir my was. Hy neem haar strand toe, of as ek besig is met iets, vat hy haar vir ’n roomys of om ’n entjie te gaan ry. As ek met haar raas en vir haar sê Moenie dit doen nie, nou’s jy ’n stoute meisie, is hy die een wat haar troos – die heeltyd, asof dit sy eie baba is. Sy sal hom seker eendag Daddy noem.

    Ek was regtig ’n daddy’s girl. Ek is nog steeds. Dit maak my bang om te dink aan wanneer my pa dalk doodgaan of hy homself nie meer kan help nie – op wie gaan ek staatmaak? Ek is dankbaar dat ek hom as ’n pa het, eerlikwaar.

    My pa is ’n elektrisiën, en hy het gewerk daardie dag toe Levona gesê het sy het aan my geboorte gegee in die Retreat-hospitaal. Omdat dit ’n normale geboorte was, het sy gesê, was dit nie nodig dat sy lank in die hospitaal bly nie. Ek het my ma eenkeer gevra hoekom daar geen hospitaalfoto’s van my in my baba-album is nie. Sy het gesê niemand was daar om foto’s te neem nie. Ek weet my pa was by die werk, maar dit was tog vir my vreemd dat niemand eers saam met haar gegaan het toe sy begin kraam nie. Jy wil mos ondersteuning hê in ’n tyd soos daardie. Ek het hartseer gevoel vir haar.

    Toe kom my pa huis toe ná werk, en daar was ek.

    Ons het destyds in Seawinds gewoon. Ons het daar gebly tot ek omtrent drie of vier was, en toe trek ons Hillview toe. Ons het getrek omdat my ma ’n miskraam gehad het. Sy was swanger nadat sy my gehad het. Ek onthou ek het eendag teruggekom van die crèche en sy het net daar op die bed gelê, en sy het gehuil en gehuil. Ek het my pa uitgevra toe ek ’n bietjie ouer was: Daddy, hoekom het Mammie daai dag so vreeslik gehuil? Hy vertel my toe dat sy die baba verloor het.

    My ma het gesê sy het ’n nuwe omgewing nodig, en toe trek ons Hillview toe.

    Ek onthou nog my eerste skooldag. Dis eintlik een van my hartseerste herinneringe. Toe dit tyd word vir my mammie om my by die deur te los, wou ek nie hê sy moet gaan nie. Ek het so hard gehuil, dinge gesê soos: Ek ken nie daai mense nie, ek ken nie daai kinders nie – Mammie moet by my kom sit in die klas. Ek onthou ek het die hele dag gehuil dat sy my vroeg moet kom haal.

    My daddy het destyds gedrink. Maar toe ek 13 was, was ek ernstig siek met meningitis. Ek was in die hospitaal, waar ek ’n lumbar puncture moes kry, en dit was die keerpunt vir my pa. Hy kon dit nie hanteer om my so te sien nie en hy het ’n gelofte afgelê: As God my gesond maak, sou my pa sy drinkery stop en ophou uitgaan met sy vriende. En hy het. Hy het van toe af glad nie gedrink nie – en ek is nou 21 jaar oud.

    In my grootwordjare het ons gereeld familiebyeenkomste gehad. Dit is altyd by ons huis gehou, want dis maar hoe my ma was: Sy het altyd almal bymekaargebring. Sy is die oudste, en sy het sterk daaroor gevoel dat die familie saam moet wees, moet saamstaan, mekaar gereeld sien.

    Ek het baie selfsugtig grootgeword. My tannie-hulle het altyd gesê niemand is ooit toegelaat om my te hiet en gebied of lelik met my te praat nie, want my ma het altyd vir my opgekom. Ek het grootgeword met die selfsug van ’n enigste kind, al was my broer, Gerald, daar. Gerald is eintlik my neef, maar ek noem hom my broer omdat hy in ons huis grootgeword het. Hy is my ma se susterskind, en my ma het hom grootgemaak – hy is nou 31 jaar oud. Hy was al by my ma nog voor sy en Michael mekaar ontmoet het.

    My ma het hom ingeneem toe hy een of twee jaar oud was omdat sy eie ma dit nie kon bekostig om hom groot te maak nie, en ek dink die pa wou hom laat aanneem. Toe die maatskaplike werker hulle kom sien, het my ma gesê: Gee hom eerder hier, ek sal hom grootmaak en hom onderhou. Toe sy my pa ontmoet, het hy maar net aangeneem dat dit Lavona se seun is. Gerald het my ma Mammie genoem en hy het sy eie ma op haar naam genoem.

    Hoewel my broer by ons gewoon het en altyd daar was, is hy tien jaar ouer as ek, so ons het nie regtig ’n vriendskap gehad nie. Ek weet hy het my na plekke toe geneem en hy het altyd vir mense gesê moenie met my suster lol nie, maar dit was nooit ’n hegte verhouding nie. Gerald het sy eie kamer gehad, hy het girlfriends gehad. Hy was baie na aan my ma.

    So, ek het altyd soos ’n enigste kind gevoel, want ek is basies soos een behandel.

    My vroegste herinnering is van hoe ons gaan kampeer het – ek het ’n foto van my en my pa wat op ’n rots by die Soetwater-kampeerterrein naby Kommetjie sit. Ons het elke jaar gegaan tot ek ’n sekere ouderdom was, ek kan nie meer onthou hoe oud nie. Dit was my gesin en my neefs en niggies, my broer se vriende – ons het almal gegaan as dit somer was. Dit was so lekker. My pa en sy vriende het potjie gemaak. Ek was mal oor swem en het ure lank in die water gebly. My ouer niggie moes saam met my swem en sy sou letterlik bibber, maar ek het altyd vir haar gesê: Jy gaan nie uit nie, jy gaan hier by my bly tot ek moeg word. Sy het gebewe van die koue, maar sy sou my nooit alleen laat in die water nie.

    Die koue het my nie gepla nie. Ek en my pa het dikwels St. James-strand toe gegaan en ons sou swem selfs al reën dit. Dit was soveel pret. Ek kon ure in die see deurbring. Ek het altyd gewonder wat doer ver is, agter die horison. Ek is ’n baie nuus­kierige mens. Ek het nog altyd van ’n goeie raaiselverhaal gehou … Dis nou tot ek moes uitvind dat my lewe self ’n raaisel is, vreemd en vol geheime.

    Gerald het die huis verlaat toe hy ongeveer 23 was, in dieselfde tyd dat ons na ’n ander huis getrek het, in Gladiolaweg. Ek was 13 en het toe hoërskool toe gegaan. My neefs en niggies was altyd in die omgewing – natuurlik sonder dat ek geweet het ons is nie regtig familie nie – en dis saam met hulle dat ek uitgegaan het. In die hoërskool het ek nuwe vriende begin maak wat ouer was, selfs in matriek. Ek het nie meer so baie met die neefs en niggies uitgehang nie, want alles het nou net oor vriende by die skool gegaan. Ek het kort rokke en hoëhakskoene begin dra.

    My ma is ’n naaldwerkster en sy het vir my rokke gemaak. Klere maak is waarmee sy haar inkomste verdien het; sy het by­voorbeeld sport- en skoolsweetpakke vir kinders gemaak. Sy het haar naaldwerk by die huis gedoen – ons het ’n gedeelte waar haar werksarea was – en sy het allerhande kledingstukke gemaak: pajamas, onesies vir die kleintjies, rokke. Kyk hier – ek dink ek het ’n foto van een van die rokke wat sy vir my gemaak het toe ek so 16 of 17 was.

    * * *

    Miché draai haar foon om my ’n foto te wys wat net sowel uit ’n modekatalogus kon geval het. Weliswaar gaan dit meer oor die lyf as oor die rok, hoewel die rok ook kataloguswaardig lyk. Die enigste gepaste reaksie is ’n wolwefluit, maar aangesien ek dit nooit kon bemeester nie, volstaan ek met Yowzers!

    Miché lag. Dit was toe ek nog ’n lyf gehad het! Hopelik kry ek dit eendag terug.

    * * *

    Jy kan sien die rokke was almal kort, nè? Dit het haar nie gepla om dit so te maak nie, sy wou net hê ek moet verantwoordelik wees. My daddy en my broer sou sê: Hoekom dra jy dít?! Waarheen gaan jy? Dis koud buite, trek jeans of iets aan!, maar my ma het my laat dra wat ek wil, sy het net altyd gesê ek moet verantwoordelik wees.

    My ma is nie die kwaai tipe nie. As ek laat was vir goed, of lui, sou sy nooit op my skree en sê Komaan, roer jou! nie. Maar sy het my ook nie daarmee laat wegkom nie, en sy het geweet hoe om my skuldig te laat voel. Sy sou eerder iets sê soos: Wil jy vir altyd by die huis bly? Wil jy by Checkers gaan werk? Jy kan by Checkers gaan werk as jy jouself daar sien. Jy kan hier woon vir die res van jou lewe en ’n bus vat Checkers toe. Dis jou keuse.

    Ek was altyd slim met hoe ek dinge gedoen het omdat dit nie vir my nodig was om dit agter my ouers se rug te doen nie. Hulle was reguit en het seker gemaak dat ek die gevolge verstaan; dan het hulle die keuses aan my oorgelaat.

    Dis nog steeds die tipe verhouding wat ek met my pa het. Hy sal sê: Jy weet wat is reg en verkeerd, jy moet doen wat die beste is vir jou. Nie dinge soos jy hou aan dom foute maak, jy’s simpel as jy dit doen, of jy’s laf om nog ’n kind te hê nie. Ek waardeer dit, want dis hoe ek geleer het om groot te word. Ek voel nie ek hoef dinge weg te steek omdat my daddy gaan skel nie. Ek voel nie gespanne uit vrees vir wat my mammie gaan doen nie.

    Ek was ’n cheeky kind, maar ek wou nooit my mammie teleurstel nie.

    Selfs op hoërskool het sy altyd vir my en my broer gesê: Moenie dat ek ooit by die skool in die skande gesteek moet word oor julle gedrag nie. Sy was baie reguit oor dinge, en jy was nie oneerbiedig teenoor haar nie.

    Ek was nooit so stout dat ek by die skool ’n gebrek aan re­spek vir haar veroorsaak het nie. Soos met dwelms en sulke goed. Ek het twee keer ’n bietjie dagga gerook, maar ek het nooit ’n dwelmprobleem gehad nie. Dagga was nie vir my nie – ek het bang geword vir myself, en ek het dit nooit weer gedoen nie. Ek hou nie van daai gevoel nie, om myself nie te ken nie of om my te bekommer oor my eie gedrag. Dis hoekom ek nie ’n drinker of ’n roker is nie. Ek het uitgegaan, ja, maar jy kan nie wasted raak en dan huis toe gaan na ouers vir wie jy respek het nie. En vandat ek ’n kind van my eie het, is dit natuurlik net heeltemal buite die kwessie. Ek weet as ek in die moeilikheid beland, sal my daddy daar wees vir my. Hy is nie die soort mens wat sy rug op jou draai nie en hy sal my altyd help. Maar ek sal nooit misbruik maak van sy goedheid nie, want ek ken die pyn wat hy met my mammie deurgemaak het.

    My ouers het byna nooit voor my baklei nie. Wanneer hulle nie met mekaar gepraat het nie, het ek geweet hulle het ’n argu­ment gehad. Ons sou in die kar klim en my ma sou sê: Vra jou daddy wat hy wil eet. Of my pa sou sê: Vra jou mammie of jy nou moet gaan. Dan weet ek hulle is besig om te stry. Maar die volgende dag sal jy hulle weer sien praat.

    In ons gesin was ons altyd openhartig oor enige probleme wat

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1