Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Hartebreker: Christiaan Barnard en die eerste hartoorplanning
Hartebreker: Christiaan Barnard en die eerste hartoorplanning
Hartebreker: Christiaan Barnard en die eerste hartoorplanning
Ebook348 pages4 hours

Hartebreker: Christiaan Barnard en die eerste hartoorplanning

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Vir die vroue wat hy met sy rolprentsterglimlag betower het, was Chris Barnard 'n hartebreker. Vir sy pasiënte 'n harteheler.
Dié nuwe biografie oor Suid-Afrika se beroemdste hartsjirurg vertel nie net van Barnard se kinderjare in Beaufort-Wes, sy prominente huwelike (en egskeidings) en flambojante lewe nie. James Styan ondersoek ook die impak van die historiese eerste hartoorplanting op Barnard se persoonlik lewe en op die Suid-Afrikaanse gemeenskap in die algemeen, waar apartheidswetgewing dikwels die probleme van geneeskunde nog ingewikkelder gemaak het. Die rol van swart mediese personeel soos Hamilton Naki word bespreek, sowel as die intense wedywering wat tussen ander beroemde hartsjirurge en Barnard ontstaan het.
Hoe het Barnard dit reggekry om hulle almal in dié resies om lewe en dood te wen? Hoeveel het sy welbekende sjarme daarmee te doen gehad? En wat is Barnard se nalatenskap vandag, in die lig van sy latere suksesse en aansienlike mislukkings? Styan dek dit alles in dié fassinerende nuwe blik op Chris Barnard.
LanguageAfrikaans
PublisherJonathan Ball
Release dateDec 5, 2017
ISBN9781868428410
Hartebreker: Christiaan Barnard en die eerste hartoorplanning
Author

James Styan

Vir die vroue wat hy met sy rolprentsterglimlag betower het, was Chris Barnard ’n hartebreker. Vir sy pasiënte ’n harteheler. Dié nuwe biografie oor Suid-Afrika se beroemdste hartsjirurg vertel nie net van Barnard se kinderjare in Beaufort-Wes, sy prominente huwelike (en egskeidings) en flambojante lewe nie. James Styan ondersoek ook die impak van die historiese eerste hartoorplanting op Barnard se persoonlike lewe en op die Suid-Afrikaanse gemeenskap in die algemeen, waar apartheidswetgewing dikwels die probleme van geneeskunde nog ingewikkelder gemaak het. Die rol van swart mediese personeel soos Hamilton Naki word bespreek, sowel as die intense wedywering wat tussen ander beroemde hartsjirurge en Barnard ontstaan het. Hoe het Barnard dit reggekry om hulle almal in dié resies om lewe en dood te wen? Hoeveel het sy welbekende sjarme daarmee te doen gehad? En wat is Barnard se nalatenskap vandag, in die lig van sy latere suksesse en aansienlike mislukkings? Styan dek dit alles in dié fassinerende nuwe blik op Chris Barnard.

Related to Hartebreker

Related ebooks

Related articles

Related categories

Reviews for Hartebreker

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Hartebreker - James Styan

    Hartebreker

    Hartebreker

    Christiaan Barnard en die eerste hartoorplanting

    James-Brent Styan

    Jonathan Ball Uitgewers

    JOHANNESBURG & KAAPSTAD

    Hierdie boek is vir my ma, Jurina.

    Sy was ʼn Karoomeisie met ʼn hart van goud.

    Ek onthou hoe ons Chris se verhale in die Huisgenoot gevolg het.

    Jy sou die storie weer geniet het. Ons mis jou vreeslik.

    Inhoud

    Proloog

    Deel een: Die begin 1922–1967

    Hoofstuk 1 Die Karooseuns

    Hoofstuk 2 Genie

    Hoofstuk 3 Amerika

    Hoofstuk 4 Die assistente

    Hoofstuk 5 Die mededingers

    Hoofstuk 6 Die eerste orgaanoorplantings in Suid-Afrika

    Deel twee: Die operasie, 3 Desember 1967

    Hoofstuk 7 Die mense

    Hoofstuk 8 Die hartoorplanting

    Hoofstuk 9 Die man met die goue hande

    Deel drie: Die wêrelddokter, 1968–1983

    Hoofstuk 10 Blaiberg

    Hoofstuk 11 Drie vroue en die pous

    Hoofstuk 12 Die jaar van die hart

    Hoofstuk 13 Liefde in die dae van geneeskunde

    Hoofstuk 14 Gerugte van sluipmoord

    Hoofstuk 15 Politiek

    Deel vier: Hoofstuk 17 Val en opstaan, 1983–2001

    Hoofstuk 16 Aftrede, hartseer en skande

    Hoofstuk 17 Die kringloop voltooi

    Hoofstuk 18 Die nalatenskap

    Epiloog

    Erkennings

    Notas

    Bibliografie

    Oor die boek

    Oor die skrywer

    Proloog

    Saterdagaand, 2 Desember 1967, Kaapstad

    Dit was al laataand toe die telefone regoor die Kaapse Skier­ eiland begin lui. Amelia Pittie Rautenbach, Susan Lappies Rossouw en Tollie Lambrechts was saam by ʼn kostuumpartytjie in die Kaapstadse voorstad Mowbray. Die drie teatersusters was almal in baaikostuums uit die 1920’s geklee – ʼn goeie keuse vir ʼn kostuumpartytjie op ʼn warm Kaapse Desember-aand.

    Ons was almal al lekker vrolik en het reeds ʼn paar drankies ingehad. ʼn Mens kon nie verwag dat ons die hele aand droëbek daar moes sit nie, onthou Lambrechts. Sy het die partytjie gereël en sê hulle het nog net van die pons gedrink teen die tyd wat die foon gelui het. Ek het geantwoord. Daar’s net gesê ons moet kom, daar’s ʼn skenker.¹ Die drie vroue het als net so gelos en na hul motors gehardloop.

    Ons het geweet dit is ʼn noodgeval, sê Rossouw. Die drie teatersusters het Groote Schuur-hospitaal toe gejaag. Rossouw het nie kans gehad om te verklee nie en het met haar baaikostuum onder haar teaterklere die teater ingegaan. Almal was so besig met hul eie take, niemand het eens agtergekom nie.²

    Daardie aand is ʼn span van 30 mense ingeroep om ʼn operasie uit te voer wat die wêreld tot stilstand sou bring.

    Dié operasie was ʼn paradigma-verskuiwende sprong in die mediese wetenskap en het die oeroue vraag aangeroer oor wanneer ʼn mens ­werklik dood is.

    Om enige kans op sukses te hê, moes die span wat die operasie uitvoer van wêreldklasgehalte wees. Die oorplantingspan is reeds drie weke voor die operasie op ʼn 24 uur-gereedheidsgrondslag geplaas, terwyl die harteenheid op ʼn skenkershart gewag het. Maar daardie Saterdagaand was die lang wag vir die drie teatersusters en hul kollegas uiteindelik verby. Hulle kon die finale treë na die spits van die mediese wêreld se Everest neem.

    Die wêreld sou wakker word met die nuus dat ʼn mediese span van die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad die eerste suksesvolle mens-tot-mens-hartoorplanting uitgevoer het. Die oorplanting van die liggaam se mees misterieuse en romantiese orgaan sou ʼn enorme opskudding veroorsaak. Dit was ʼn onverwagse mediese kishou wat deur onbesonge en onbekende buitestanders teen die verloop van die spel in geplant is.

    Die operasie was ʼn enorme risiko vir die leier van die span. Indien die operasie sou misluk, sou sy mediese loopbaan waarskynlik verby wees en kon hy selfs van moord aangekla word. Dit sou uiteraard groot moed en selfvertroue vra om ʼn pasiënt se siek maar steeds kloppende hart uit te sny en met ʼn skenkershart te vervang.

    Die man aan die stuur van die span sou later die volgende skryf oor Hannibal Barca, die bekende generaal wat eeue tevore sy weermag oor die Alpe geneem het en olifante gebruik het om voorraad te dra. Die geskiedenis onthou Hannibal as ʼn genie. Maar net omdat hy gewen het. As die resultaat anders was, sou hy in die boeke opgeskryf staan as ʼn sotlike dwaas. Dié skrywer en die leier van die span was Christiaan Barnard.

    Notas

    Skrywersonderhoud met Tollie Lambrechts.

    Skrywersonderhoud met Susan (Rossouw) Tawse.

    DEEL EEN

    Die begin,

    1922–1967

    Die Karoodorp Beaufort-Wes met die kerktoring wat hoog oor die middedorp troon.

    FOTO MET VERGUNNING VAN DIE AMANDA BOTHA-VERSAMELING, DOKUMENTESENTRUM, UNIVERSITEIT STELLENBOSCH BIBLIOTEEK

    HOOFSTUK 1

    Die Karooseuns

    Ten spyte daarvan dat hy ’n motorlisensie gehad het, het Adam Hendrikus Barnard nie bestuur nie. Dit was ʼn finale, bewuste besluit wat hy gemaak het die dag toe hy in sy Ford Model-T die motorhuis om die hoek van Donkinstraat 77 af misgery het en dwarsdeur die voordeur van die sendingkerk in Beaufort-Wes gejaag het. Die gryskop Adam het teen dié tyd lank reeds ʼn kleurvolle geskiedenis vol naelbyt­oomblikke agter die stuur gehad, maar dié dag toe die swart Ford tussen die kerk se dennehoutbankies beland het, was die laaste druppel wat die emmer laat oorloop het. ¹

    Dit was natuurlik die eerste en enigste keer wat Adam die kerk in ʼn motor binnegegaan het, maar een keer was genoeg en ná dié voorval het Adam beloof om nooit weer aan ʼn stuurwiel te raak nie. Die fyngeboude Adam met sy dun snor was teen dié tyd amper 70 jaar oud, met ʼn gelaat vol kreukels en kronkels wat besig was om die landskap van sy geliefde Karoo na te volg. Sy beginjare was so ver verwyderd van die dorre Karoo van Beaufort-Wes as wat ʼn mens jou kon indink.

    Adam is in die Knysnabos gebore, een van agt kinders van ʼn armblanke houtkappergesin. In die bos het Adam onder majestueuse geelhoutbome grootgeword, met wilde olifante en heldergroen-en-rooi Knysnaloeries as geselskap. Hy was ʼn afstammeling van ʼn Duitse soldaat wat in 1708 in die Kaap aan wal gestap het. Dié soldaat is getroud met die dogter van ʼn Hollandse immigrant en hulle het twee seuns en ʼn dogter gehad. Almal in Suid-Afrika met die van Barnard stam af van die egpaar se tweede seun, wat ook Adam genoem is.²

    Adam se verhaal toon vele ooreenkomste met dié van die karakters in Dalene Matthee se bekroonde roman, Kringe in ʼn bos. Die hoofkarakter in Kringe in ʼn bos se naam is Saul Barnard en baie van die fiktiewe vertellings oor Saul se lewe in die Knysnabos in die 1800’s kon netsowel op Adam Barnard se lewe gebaseer gewees het. Daar is drie groot ooreenkomste tussen die twee: ʼn diepgelowige leefstyl, ʼn gebrek aan opvoeding en absolute armoede. Vir die gesinne wat in die bos gebly het, was dit ʼn daaglikse stryd om aan die lewe te bly.³ Die bosmense van Knysna was ook bekend vir hul afgesonderdheid van die buitewêreld. Meeste bosbewoners het die bos nooit verlaat nie. Hulle is daar gebore, het daar geleef en daar gesterf.

    Maar Adam was ʼn uitsondering. Hy het aspirasies gehad om homself te verbeter en die wêreld buite die bos te sien. Hy het dus op 23-jarige ouderdom die familiebesigheid vaarwel geroep en die bos as ongeskoolde jong man verlaat. Sy jongste seun, Marius, het in later jare erken dat dié beeld van Adam wat uit die bos loop, en die impak van daardie besluit op sy lewe, een van die beelde was wat Marius se eie lewe sou definieer.

    Adam se nuwe lewe het in die Heilsleër begin, waar hy ʼn aantal jare – ook gedurende die Anglo-Boereoorlog – van onder af deur die geledere opgekom het. Op ʼn dag het hy egter ernstig siek geword en ná ʼn rits ondersoeke is hy uit die Heilsleër ontslaan.

    Adam het die beperkings van sy gebrek aan opvoeding ervaar en besluit om aan ʼn sendelingskool van die NG Kerk in Wellington te gaan studeer. Met sy aankoms by die sendelingskool is hy gevra waar hy wil begin. By die begin, was Adam se antwoord.

    Eendag, terwyl hy nog ʼn student was, het Adam hom tydens ʼn praktiese opleidingsperiode in Joubertina in Maria de Swardt, ʼn lang en aantrek­like donkerkop-dogter van ʼn welgestelde boerefamilie van George se kontrei, vasgeloop.

    Maria se mense was nie bosmense nie en hulle het net een ding met die Barnards in gemeen gehad – godsdiens. Dit was die kerk wat die twee bymekaar uitgebring het. Maria was in Joubertina besig met ʼn internskap as verpleegsuster en sy het oor naweke die orrel in die plaaslike kerk gespeel. Dit is hier waar Adam haar raakgeloop het.

    Ná ʼn kort hofmakery, en tot Maria se gesin se groot skok, is die twee getroud. Die De Swardt-gesin het Maria se huwelik as ʼn skande beskou, want hulle het geglo hul dogter het benede haar stand getrou.⁵ Dit het Adam en Maria egter nie afgeskrik nie.

    Twee jaar later het Adam sy studies voltooi. Ná vier jaar se studies kon graduandi as onderwysers of sendelinge gaan werk.⁶ Vir Adam was die keuse om sendeling te word maklik. Sy agtergrond, tesame met die lesse van die Heilsleër en veral ʼn reël van bediening sonder diskriminasie, ongeag velkleur of status, sou hom verder lei. Vir hom sou naasteliefde nie net ʼn begrip bly nie, maar ʼn leefwyse word. Daarvan getuig sy onderskraging van onderdruktes, gevangenes en bruin en swart mense, selfs tydens die ergste dae van apartheid en dikwels tot groot persoonlike nadeel.

    Die egpaar Barnard het ná ʼn aantal jare se omswerwinge, wat ʼn tyd se verblyf in Graaff-Reinet ingesluit het, hulle uiteindelik in 1911 by die sendingkerk op Beaufort-Wes gevestig, die einste kerk wat Adam jare later met die Ford Model-T binnegery het.

    Hulle het hulle in die statige ou sendingpastorie op dieselfde erf as die sendingkerk gevestig. Aanvanklik was die adres Donkinstraat 77, later jare het die straatnommer na 91 verander. Voor die huis was ʼn klein blomtuintjie waar veral rose gegroei het. Agter, ʼn groot erf waar Adam en Maria se vier seuns hul grootwordjare omgespeel het.

    Daar was vrugtebome en wingerde en netjiese beddings waar groente gekweek is. Daar was onder meer ʼn groot okkerneutboom en ʼn uitgegroeide suurlemoenboom, onthou Johannes Barnard, die oudste van die vier Barnard-seuns, in latere korrespondensie met Die Burger.

    In daardie beginjare, skaars 10 jaar ná die verwoestende Anglo-Boereoorlog, was die Suid-Afrikaanse platteland nog aan die herstel van dié vernietigende stryd wat volke geskei en verniel het. Die platteland was ʼn teelaarde van geharde mense, gewoond aan swaarkry en harde werk. Afrikaner-nasionalisme was reeds besig om diep wortel te skiet, ʼn nasionalisme gegrond op die behoefte aan ʼn eie identiteit en ʼn afkeer aan Engeland. Miskien weens ʼn gebrek aan Engelse mense om te teiken, is daar op die platteland algaande gefokus en gediskrimineer volgens ras. Ook Beaufort-Wes was in daardie jare erg verdeeld. Die Gamkarivier, eintlik ʼn droë rivierloop wat net soms gevloei het, het deur die dorp gesny en ʼn natuurlike grens gevorm wat die dorp volgens ras verdeel het. Aan die eenkant van die Gamka was die wit bo-dorp met die sakekern, die landdroshof en die poskantoor. Dis ook waar die groot huise van die meer gegoede wit mense was. Aan die ander kant van die rivier was die bruin mense se kleiner krothuisies, sonder elektrisiteit en met min tot geen ander geriewe aangelê. Adam se gemeente sou vir die volgende 37 jaar uit ledemate bestaan wat onder die sowat 7 000 bruin mense in die distrik gewerf is.

    Die rasseskeiding is vererger deur die aanbreek van die Eerste Wêreldoorlog. Daar was groot ongelukkigheid in Afrikaner-geledere oor die Suid-Afrikaanse regering se besluit om aan Engelse kant tot die oorlog toe te tree. Dié ongelukkigheid sou onder meer lei tot ʼn mislukte rebellie wat Afrikaner-gemoedere nog verder omgekrap het.

    Op Beaufort-Wes was daar ook spanning. Sake is vererger omdat die Barnards een van weinig wit gesinne op Beaufort-Wes was wat teen die Duitsers gekant was. Die wit inwoners van die dorp was grootliks simpatiek teenoor die Duitsers en hulle het hul misnoeë teenoor die Barnards dikwels duidelik gemaak.

    Johannes was vier jaar oud toe die oorlog uitbreek. Hy was by geboorte een van ʼn tweeling, maar sy sustertjie is doodgebore. Johannes word aangehaal oor die vreesaanjaende effek wat die oorlog op hom as jong seuntjie gehad het: Ek onthou ʼn aand toe baie mense singende en dansende op en af in die hoofstraat geloop het. Pa het my vertel hulle was bly, want Duitsland was besig om die oorlog te wen.

    Johannes skryf hy was as jong seun verskrik oor wat met hom en sy ouers sou gebeur indien die Duitsers die oorlog wen. Die gesin het egter onverpoosd uitgebrei tydens die oorlogstyd. Ná Johannes is nog vier seuns gebore: Dodsley, Abraham, Christiaan en Marius.

    Tragedie het die gesin getref toe klein Abraham voor sy derde verjaardag aan ʼn hartkwaal sterf. Abraham is oorlede ten spyte van sy ouers se beste pogings om alles te doen om hom te red. Hulle het onder meer groot onkoste vir die arm gesin aangegaan om vir Abraham die beste mediese behandeling in die Kaap te kry, maar dit was ook verniet. Abraham is in Muizenberg in Kaapstad oorlede en is ook daar begrawe.

    Adam het die aand van Abraham se afsterwe langs die bed gesit en die kleuter ʼn droë Marie-beskuitjie probeer voer. Hy het ook met ʼn vuurhoutjie sy seun se naels skoongemaak in ʼn poging om hom rustig te hou. Die vuurhoutjie en Marie-beskuitjie met een afgekoude hoek was uiteindelik al wat Adam van sy tweede seun oorgehad het. Dít en ʼn foto van Abraham in die sitkamer.⁹ Christiaan en Marius sou in later jare verduidelik hul broer het waarskynlik ʼn lekplek in sy hart gehad – iets wat vandag maklik is om te herstel, maar in daardie jare ongeneeslik was.

    Maria het gesukkel om die afsterwe van haar babadogtertjie en jong seuntjie te verwerk. Hul dood sou daarna altyd ʼn hartseer skadu oor Adam en Maria se lewens gooi. Maria het haar al hoe meer verdiep in eng konserwatiewe godsdiens. Ná Abraham se dood het sy byvoorbeeld net swart gedra. Haar emosies het ook verander en sy het gereelde woede­uitbarstings gehad, waarvan Johannes dikwels die spit moes afbyt. Hy het gewoonlik ʼn ongegronde harde pak slae ontvang, soms met ʼn swaar haarborsel. Sy het al hoe erger geword en my al hoe meer vir die kleinste ding gestraf, skryf Johannes.¹⁰ Toe word Christiaan gebore en sy ma het ʼn nuwe oogappel.

    Die Barnard-gesin het nie geld gehad om ʼn dokter vir die geboorte te ontbied nie, dus is Christiaan Neethling Barnard op die 8ste November 1922 deur ʼn vroedvrou met die van Neethling die lewe in gehelp.

    Toe Christiaan – die gesin het hom Chrisjan genoem – gebore is, was Beaufort-Wes steeds weinig meer as ʼn skaapboerdery-gemeenskap en ʼn spoorweghalte tussen Johannesburg en Kaapstad. Die dorp was besonder trots op die reuse-boerekerk – die grootste gebou op Beaufort-Wes – met sy pragtige kerktoring en gietyster-weerhaan aan die boonste spits. Dié imposante kerk se kerktoring kon kilometers ver gesien word.

    Die boerekerk, ook bekend as die moederkerk, is gebou in die vorm van ʼn kruis. Dit was ʼn gesellige vergaderplek vir gemeentelede, met mooi houtafwerkings, ʼn hoë afgewerkte plafon en ʼn enorme kerkklok. Ds. Rabie is aangestel om die sowat 3 400 uitsluitlik wit boeregesinne van regoor die distrik te bedien.

    Adam Barnard se sendingkerkgebou was veel eenvoudiger. Daar was geen kerkklok of kerktoring nie, slegs ʼn klein orrel en eenvoudige dennehoutbanke sonder versiering.

    Die twee kerke was albei in die hoofstraat in die middedorp, nie veel meer as 50 meter van mekaar af nie.¹¹ Net die ou stadsaal het tussen hulle gestaan, maar die skeiding kon netsowel 100 kilometer gewees het. Die bruin mense in Adam se kerk is nie in die boerekerk toegelaat nie en afgesien van die Barnards, het geen wit mense na Adam se kerk gegaan nie.

    Die twee herders se omstandighede was ook allermins dieselfde, want al het die dorpsmense op dieselfde plek gewoon, dieselfde God geloof en dieselfde liedere gesing, was hul velkleure verskillend. Terwyl Adam na sy skape omgesien het in hul gehuggies op die rand van die semi-woestyn om die dorp, het ds. Rabie gereeld in die grootste huise en plase van die kontrei aan tafel gesit en sy volk bedien.

    Vir die Barnard-seuns was dinge nie altyd maklik nie. Tuis was kos nie volop nie. Ons vier het nooit honger gely nie, maar was dikwels baie honger. Moeder het die spensdeur tussen etenstye gesluit gehou. Sy het uiters spaarsaam te werk gegaan. Elke dag se kos is versigtig afgemeet – soveel suiker, koffie, ensovoorts. Wanneer dit op was, was daar niks meer voor die volgende oggend nie. Dit was sulke tye wat die tuin gehelp het. Daar het ons in die seisoen groenmielies, bone en tamaties gekry wat ons rou verslind het. In die winter as alles kaal was, was die suurlemoenboom ons toevlug. Ons het die suur vrugte skil en al geëet, vertel Johannes.¹²

    Adam was nie ʼn dominee nie, sy titel was eerwaarde. Dit is omdat hy as sendeling deur die kerk opgelei is. Vir sy sendingwerk is eerw. Barnard R40 per maand betaal, terwyl ds. Rabie se loon R120 per maand was.

    Om ʼn ekstra geldjie te verdien, het Adam vroeg elke Sondagoggend net oor die 3 kilometer na die tronk buite die dorp geloop om reeds teen sewe-uur die evangelie van vergifnis ook aan die siele agter tralies te verkondig. Hiervoor is hy ʼn verdere R3 per maand betaal.

    Adam se werk in die tronk het dikwels gelei tot ʼn klop aan die deur wanneer gevangenes wat vrygelaat is hulp benodig het. Gewoonlik het hulle vir geld gevra om huis toe te kan gaan. Soms wou hulle dit eerder gebruik om die dors te les en dan het die eerwaarde die arme drommels met ʼn vurige preek en leë hande weggejaag.

    ʼn Portret wat in 1930 van die Barnard-gesin geneem is. Agter van links na regs staan Maria Barnard, Johannes Barnard, Adam Barnard en ʼn vriendin van die gesin. Voor van links na regs is Marius Barnard, Christiaan Barnard en twee vriende. Dodsley Barnard is afwesig.

    FOTO MET VERGUNNING VAN DIE HEART OF CAPE TOWN-MUSEUM.

    Adam het ook dikwels sy jaarlikse vakansie opgeoffer en vir ʼn ekstra inkomste in die wit mense se kerk gepreek terwyl ds. Rabie op vakansie was.

    Christiaan en sy broers moes tweedehandse klere dra, wat aangegee is van een broer na die ander.¹³ Maria het haar seuns ook in handgemaakte kakieklere geklee, gewoonlik ʼn hemp en ʼn kortbroek. Vir die jong Barnard-broers was die belangrikste deel van die kakie-kortbroeke die sakke, maar om materiaal te spaar het Maria net een sak toegelaat. Die seuns kon kies watter kant van die broek die sak moet sit, solank dit aan die regterkant was.¹⁴

    Maria het soms as orrelis van die boerekerk opgetree, maar sy was effens doof. Dit was nie ʼn krisis nie, maar haar gehoor was swak genoeg dat sy nie kon hoor wanneer die dominee ʼn lied aankondig nie. Om dié probleem te oorkom het Maria later die hulp van haar twee jongste seuns ingeroep.

    Eers het Chrisjan sy ma bygestaan. Wanneer dit tyd was vir Maria om op die kerk se blaasorrel los te trek, het hy haar ʼn ligte stampie gegee en dan het die klanke van Praat ek Mense Eng’le tale of Rock of Ages oor die gemeente weergalm. Later jare sou Marius die rol oorneem.

    Toe Chris en Marius jonk was, het rassediskriminasie hoogty gevier in die konserwatiewe dorp. Daar was selfs ʼn aandklokreël vir almal in die dorp wat nie wit was nie. ʼn Klok, waarskynlik die boerekerk se klok bo in die kerktoring, sou om nege-uur in die aand lui en dan moes al die nie-blankes uit die dorp uit wees.¹⁵

    Die dorpsmense het op die vier Barnard-seuns neergesien oor hul pa se werk onder die bruin mense. Die seuns is dikwels verstoot omdat hul pa bruin mense se hande geskud het. Vader se roeping is dikwels onder ons seuns se neuse gevryf. Sommer gou-gou was ons bekend as die seuns van die ‘Hotnot-predikant’. Die naam het nie net gespruit uit die feit dat Vader sendeling was nie, maar ook omdat ons arm was en armoedig gekleed. Ons het nie geld gehad om uit te gee soos die kinders van die ryk wolboere en ander dorpenaars nie.¹⁶

    Chris kon as jong seun nie die wette van die land verstaan nie. Dié reëls het gesê dat mense as gevolg van die kleur van hul velle nie dieselfde is nie.¹⁷

    Adam het sy hande vol gehad met sy behoeftige gemeentelede, maar hy het sy liefde oor sy seuns uitgestort. Maria moes egter na die seuns omsien en help met die skoolwerk. Sy word beskryf as ʼn harde en ambisieuse vrou wat hulle aangerand het indien hulle nie eerste gekom het nie. Chris moes as seun die vloere skrop. Maak nie saak hoe lank en hoe hard hy geskrop het nie, dit was nooit goed genoeg nie.

    Maria het Chris hard gedryf om altyd eerste te wees. Tweedebeste was nie ʼn opsie nie.¹⁸ My Chris kon altyd regkry wat ander kinders moeilik gevind het, het Maria eenkeer gesê.¹⁹ Teenoor die ander seuns was Maria minder genadig. Marius het eenkeer op skool die topposisie in die klas afgestaan en het ʼn pak slae van sy ma ontvang wat hy nooit vergeet het nie. Maria was ʼn goeie vrou en ma, maar sy was ʼn koel en afsydige moeder.

    Maria en Adam se toegewydheid teenoor mekaar was ooglopend, daaroor het die seuns nie getwyfel nie. Hulle het egter nooit ervaar dat hul ouers ʼn fisieke teken van liefde, soos ʼn drukkie of ʼn soen, teenoor mekaar in die openbaar toon nie. Marius het geglo hierdie gebrek aan warmte was vanweë Maria se ortodokse opvoeding en haar swak gehoor, wat daartoe bygedra het dat sy haar tot ʼn mate algaande van die wêreld afgesluit het. Maria is in later jare deur een van haar skoondogters daarvan beskuldig dat sy versuim het om haar kinders te leer wat liefde is.²⁰

    Die Barnard-seuns se streng Calvinistiese ouers het hulle geleer dat die meeste dinge sonde is. Drink, rook en dans was byvoorbeeld heeltemal buite die kwessie. My ma het geglo dans is die vinnigste pad na die hel toe, onthou Chris.²¹ Hy is natuurlik verbied om op Vrydagaande die danse in die dorpsaal by te woon. Maar as 16-jarige het hy besef geen meisie sal twee keer kyk na ʼn ou wat nie dans nie, om nie eens te praat van ʼn ou wat nie toegelaat word om danse by te woon nie.

    Chris moes dus soms sy ouers uitoorlê. Die spertyd was tienuur in die aand. "Toe speel ek die Cinderella-ding. Ek sou teen sewe-uur sonder ʼn das of netjiese klere by die huis uitglip, dan by ʼn vriend se huis netjies aantrek en my hare kam. By die dans ontmoet ek my gunstelingmeisie en dans tot die klok 10-uur slaan. Dan moes ek halsoorkop terug hardloop huis toe. Dit was

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1