‘Dis die hemel,” sê ’n inwoner wat op Kylemore grootgeword het. “Jy vóél die berg,” beskryf ’n inkommer haar verknogdheid aan Pniël.
Dis min dat ’n mens ’n plek verken met soveel magiese energie soos die Dwarsriviervallei. Die vallei lê ingemessel tussen die Groot- en Klein-Drakensteinberg, Simonsberg en Botmanskop. Van Stellenbosch af rigting Franschhoek daal jy oor die Helshoogtepas verby Kylemore aan jou regterkant, dan Johannesdal en Pniël. Regs agter Pniël, weggesteek agter Boschendal, lê Lanquedoc of Lyntjiedok soos die plaaslike mense dit noem.
Bekende wynplase omring die dorpies. Die berge toring hoog en dramaties bo hulle uit. Bome hou die bekoring van die dorpies geheim.
Maar as jy net ’n straat of drie van die R310 afdraai, ontdek jy gemeenskappe wat gesetel is in waardes, geloof en trots.
Dié dorpies se geskiedenis is gewortel in vryheid en die kerk. Op 1 Desember 1838 is slawerny amptelik in die Kaapkolonie afgeskaf.
Baie van die vrygestelde slawe het geen heenkome of huis gehad nie en ’n tuiste gevind in die gemeenskappe wat sendinggenootskappe gestig het.
Pniël was die eerste sendingstasie wat op 6 September 1843 deur die Apostoliese Unie buite Kaapstad gestig is.
Pieter de Villiers en Paul Retief van die plaas Goede Hoop het 19 hektaar aan die sendingstasie geskenk. Tydens die inwyding lees eerw. G.W. Stegmann uit Genesis 32:29-30: “Hy het Jakob net daar geseën, en Jakob het die plek Pniël genoem, want, het hy gesê, ‘ek het God van aangesig tot aangesig gesien en tog het ek nie omgekom nie’.” Só het Pniël sy naam gekry: Pniël beteken “aangesig van God”.
Die plaas Papiere Molen het ook later daardie jaar bygekom. “Die 49,5 morg is in 99 hoewes onderverdeel wat aan die eerste inwoners toegestaan is. ’n Woonerf of bouperseel en ’n tuinerf waarop die mense vrugte en groente kon kweek, is aan elkeen toegeken. Aan die begin