Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Emily Hobhouse: Geliefde verraaier
Emily Hobhouse: Geliefde verraaier
Emily Hobhouse: Geliefde verraaier
Ebook493 pages6 hours

Emily Hobhouse: Geliefde verraaier

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Hierdie boek vertel die volle, grootliks onbekende verhaal van Emily Hobhouse, nie net 'n Anglo-Boereoorlogheld nie, maar ook 'n aktivis en stryder teen onreg en onderdrukking op verskeie kontinente. Elsabé Brits het Emily se handgeskrewe notas, dagboeke en plakboeke in 'n trommel in Kanada ontdek, en haal hieruit en uit ander nuwe bronne aan. Só gee sy 'n genuanseerde, vars blik op 'n buitengewone vrou wat voortdurend in die spervuur was. Van kleintyd het Emily haar verset teen haar lot. Vir vroue was daar min geleenthede en sy moes boonop haar siek pa oppas. Tog raak sy wêreldwyd betrokke by die stryd teen onreg en oorlog. In twee oorloë het sy duisende lewens gered, en nogtans is sy - 'n ware patriot - in haar eie land onbekend en alleen dood. As kampvegter vir vrouestemreg en in haar uitgesproke teenkanting teen onreg is Emily Hobhouse 'n ikoon wat vandag nog inspireer. Ontdek die onbekende sy van 'n verbasend moderne vrou.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateJul 18, 2016
ISBN9780624075752
Emily Hobhouse: Geliefde verraaier
Author

Elsabé Brits

Elsabé Brits is 'n veelbekroonde wetenskapjoernalis wat in 1999 by Die Burger in Kaapstad begin werk het, ná ses jaar as joernalis by 'n gemeenskapskoerant in Polokwane. Sy skryf nou vir Netwerk24.com en steeds vir Media24 se Afrikaanse dagblaaie. Haar eerste boek, Kyk my in die oë, oor bipolêre gemoedstoornis, het in 2011 by Tafelberg verskyn. Hoewel Elsabé spesialiseer in wetenskapjoernalistiek, was dit haar liefde vir feite én vergete verhale wat haar die spoor van Emily Hobhouse laat volg het. Emily het sedertdien onlosmaaklik deel van haar lewe geword.

Related to Emily Hobhouse

Related ebooks

Related articles

Reviews for Emily Hobhouse

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Emily Hobhouse - Elsabé Brits

    ELSABÉ BRITS

    Tafelberg

    Die uitleg van hierdie digitale uitgawe van Emily Hobhouse: Geliefde verraaier verskil van dié van die gedrukte uitgawe omrede van bruikbaarheid. Die teks word in geheel weergegee, maar alle foto’s wat in die drukboek verskyn kon nie gebruik word nie.

    Skets: Ruan Huisamen.

    Aanloop

    In die winter van 2013 het ek Rykie van Reenen se jeugboek oor Emily Hobhouse, Heldin uit die vreemde , in ’n snuisterywinkel op Prins Albert in die Karoo raakgeloop. Soos baie ander mense het ek Emily se storie breedweg geken, maar daar was dinge in die boek wat my bygebly het. Een daarvan was die indruk dat Emily veel méér was as die vrou uit die Britse upper class wat haar tydens die Anglo-Boereoorlog die lot van die vroue en kinders in konsentrasiekampe in die verre Suid-Afrika aangetrek het.

    Ek het meer oor haar begin lees, ook boeke wat my vrou, Carol, vir my van oorsee bestel het. Die laaste strooi was toe ek lees van die vindingryke ploegplan wat Emily bedink het om die verslae burgers van Transvaal en die Vrystaat ná die oorlog weer op die been te kry.

    Dit het my ook gefassineer dat in Suid-Afrika so min bekend is oor Emily die liberale sosialis, pasifis en feminis.

    So bevind ek my veertien maande later in ’n motor saam met Will, ’n Kanadese moteleienaar, op ’n grondpaadjie op Vancouver-eiland. Die pad kronkel deur ’n laning bome verby ’n aspersieplaas en ’n skool tot by ’n houthuis. In die deur staan ’n klein, effens krom vroutjie met ylerige spierwit hare.

    Jennifer Hobhouse Balme. A! Jy is hier, sê sy. Welkom! Ons groet en ek vou albei my hande om hare.

    Uiteindelik, ná byna ’n jaar se e-posse, ’n ligte slenter om toegang tot die Britse Biblioteek in Londen te verkry, ’n byna onbetaamlike deursoeking op die lughawe van Vancouver en ’n reis van ’n paar duisend kilometer uit Suid-Afrika, is ek hier aan die Cowichan-baai in ’n klein vissersdorpie aan die Stille Oseaan.

    Jennifer se oupa, prof. Leonard Trelawny (L.T.) Hobhouse, was die jonger broer van Emily. Jennifer (geb. 1929) is waarskynlik die laaste lewende persoon wat staaltjies oor Emily kan vertel wat sy eerstehands by bloedverwante van haar groottante gehoor het. ’n Jaar tevore, in September 2013, het ek Jennifer opgespoor en ons het begin korrespondeer. Sy het laat weet dat haar pa, Oliver, ’n trommel en ’n paar bokse met van Emily se besittings aan haar nagelaat het, maar sy het nie veel uitgewei nie.

    Sy nooi my vriendelik binne. In die studeerkamer op die boonste verdieping begin sy die familie uit te lê. Haar oupa, L.T. Hobhouse, ’n bekende akademikus in sosiologie, was nie net Emily se jonger broer nie, maar ook onder die broers en susters die naaste aan haar. Sy seun, Oliver Hobhouse, was Emily se oogappel en uiteindelik ook haar erfgenaam. En Oliver was Jennifer se pa.

    As Oliver se enigste oorlewende kind het hy alles wat hy van Emily geërf het, aan haar nagelaat. En nadat Jennifer in 1966 met ’n Kanadees getroud is, het dit saam met haar hierheen gekom.

    In een hoek van die studeerkamer staan ’n naaldwerktafeltjie wat aan Emily behoort het. Twee van haar boeke – The Brunt of the War and Where it Fell en War Without Glamour – is op die rak.

    Op die koffietafel lê ’n stapel handgeskrewe papiere, toegevou in nou al verslete bruinpapier. Hier is haar onvoltooide outobiografie nog net so, vertel Jennifer, wat self twee boeke oor Emily — To Love One’s Enemies en Agent of Peace — geskryf het. Kopspelde wat byna ’n eeu oud is, hou die blaaie steeds bymekaar. Dit is een van net twee kopieë wat Emily met die hand geskryf het. Dele daarvan het sy getik, soms met die tikmasjien op haar skoot terwyl sy in haar laaste jare in die bed gelê het.

    Sy het in 1922 daarmee begin, maar kon dit nie voor haar dood voltooi nie. Dele is deur ander mense getik.* Die manuskrip is in die vorm van ’n lang brief aan waarskynlik haar beste vriendin, Rachel Isabella (Tibbie) Steyn, vrou van die Vrystaatse president, Marthinus Steyn.

    In daai boks is haar goed oor die Anglo-Boereoorlog, wys Jennifer, in dáárdie een alles oor Duitsland en die Eerste Wêreld-oorlog... Jy weet van die kinders in Leipzig? En die Russiese babas? en sy wys na bokse op die vloer. Daar’s ook ’n trommel.

    Binne-in die trommel met ou foto’s is ’n boks. Toe ek dit oplig, lê dit daar: drie plakboeke wat Emily gemaak het; twee daarvan oor haar ervarings in Suid-Afrika en een oor haar werk in Duitsland ná die Eerste Wêreldoorlog. Dan is daar nog ’n ouer plakboek met sketse wat Emily se ma gemaak het, en ’n paar foto’s!

    En — om alles te kroon — in die trommel lê ook vier A5-boekies in hardeband, almal netjies gemerk. Dagboeke. Nog nêrens het ek van die bestaan daarvan gelees of gehoor nie.

    Dit het die Tweede Wêreldoorlog in Oliver se prokureurskantoor in Londen oorleef te midde van honderde geboue wat tydens die bomaanvalle platgevee is. Ook in die trommel is daar honderde briewe, dokumente, foto’s en ’n afskrif van Emily se onvoltooide outobiografie.

    Dit is alles hier, in Kanada op ’n eiland. Wat ’n wonderlike vonds!

    Híér is Emily ... in dié dagboeke en plakboeke. ’n Ongekende, intieme blik op die ware Emily.

    Ek bewe behoorlik van opgewondenheid. Hier gaan ek — hopelik — antwoorde op baie van my vrae oor die enigmatiese en onverskrokke Emily kry: Wie was sy werklik, en wat het daartoe gelei dat haar land, baie van haar vriende en selfs van haar familie haar verstoot het? Sou dit anders gewees het as sy ’n man was?

    Hoe het sy dit reggekry om deur die verstikkende bande van die Victoriaanse tyd waarin sy gebore is, te breek en ’n wêreldburger te word? Wat het haar besiel om haar op ’n verre donker vasteland te gaan vereenselwig met mense met wie sy geen bande gehad het nie?

    Was sy ’n held of ’n skurk? Of dalk selfs ’n verraaier?

    1

    Van slaweskip tot vryheidsvlug

    I envied the boys the special tutors they had, people whose brains they had the right to pick; of whom they might ask questions. I never had anyone to cut my mental teeth upon. School lessons always bored me ... They never taught me the things I wanted to know.

    Emily Hobhouse, 15 jaar oud

    ’N egpaar van St. Ive in Cornwallis word voor die hof gedaag omdat hulle wreed is teenoor hulle kinders. Toe die owerhede by die huis opdaag, is die ma erg ontsteld, want sy kan nie behoorlik na die kinders omsien nie omdat hulle te arm is.

    Die polisieman wat die huis deursoek, kan nêrens kos vind nie. Die kinders is vuil, maer en verhonger. ’n Dokter wat die kinders ondersoek het, sê hulle is erg verhonger maar nie mishandel nie.¹

    Die volgende getuie is die 31-jarige Emily Hobhouse. Sy besoek die familie gereeld, en het al voorheen vir hulle kos en melk geneem. Sy getuig hulle ís arm en verwaarloos. Die pa kan nie werk nie, want hy is te swak. Sy het die diepste simpatie met hulle. As hulle tronk toe gestuur word, getuig Emily, sal hulle slegter daaraan toe wees om die stryd van die lewe te voer.²

    Die magistraat besluit teen gevangenisstraf. Emily betaal die £10 waarborg vir hulle.

    Sy besoek gereeld die armes in haar pa, Reginald Hobhouse, die aartsdeken van Bodmin, se gemeente van St. Ive en die naburige Pensilva, vyf myl van Liskeard in Cornwallis in die suidweste van Engeland. St. Ive (in Engels uitgespreek Eve) is ’n mooi piepklein dorpie wat genoem is na Sanctus Yvo, ’n biskop wat in 1201 die Engelse van paganisme na die Christendom help bekeer het.³

    Emily hou ’n lys van armlastiges by wat sy gereeld besoek en probeer bystaan.⁴ Dit is ook sy wat ’n biblioteek in die omgewing begin en te voet die siekes in die gemeente besoek, omdat daar nie ’n dokter is nie.⁵ Dít is egter nie vir haar genoeg nie, in haar brand ’n vlammetjie om méér te doen, ’n groter verskil te maak.

    Emily Hobhouse is op 9 April 1860 gebore as iemand van stand, van die hoër Engelse Victoriaanse klas. Aan albei kante van die familie het suksesvolle mense diep spore getrap.

    Haar ma, Caroline (geb. 1820), se pa was sir William Lewis Salusbury Trelawny, die agste baronet, en erfgenaam van die herehuis Harewood in Calstock, Cornwallis. Dié titel is deur Charles I aan die Trelawny-voorsate gegee. Toe hy in 1857 sterf, het hy ’n ruim erfporsie aan sy kinders en vrou, Patience Christian Carpenter, nagelaat. Caroline, Emily se ma, het £10 000 geërf – destyds ’n reusebedrag.

    Caroline, ’n aanvallige vrou met bruin hare en blou oë, was iemand van distinguished bearing, combined with quick parts and a natural manner of extreme charm. She applied her unusual abilities to the education of her children, shewing herself an indulgent and devoted mother, skryf Emily oor haar ma.

    Die Hobhouse-familie se geskiedenis kan sover teruggevoer word as 31 Augustus 1686 toe John Hobhouse ’n huis naby die Minehead-hawe aan die Bristol-kanaal in Somerset gehuur het. Hy was getroud met Anne Maddox en drie van hul seuns was Henry, Isaac en Benjamin. Die familie het lank in die area gewoon en in 1708 open Henry Hobhouse ’n skeepstimmerwerf in Minehead, en sy broer Isaac begin sake doen met handelaars in die Britse kolonie Virginië in Amerika. Die familie raak uit Bristol by die seevaart betrokke as skeepseienaars en handelaars en die mans word volwaardige burgers met stemreg.

    Die firma van Isaac Hobhouse, wat ook vir Henry Hobhouse I – ’n seun van Benjamin – in 1729 as vakleerling aanvaar het, open die familie se deure na welvaart. Hy dryf handel tussen Bristol, die weskus van Afrika, die Wes-Indiese Eilande en die plantasie-kolonies in Amerika.⁹ Isaac het ’n groot fortuin opgebou, klaarblyklik ook uit slawehandel. Die skip Greyhound, wat aan Isaac se maatskappy behoort het, het slawe uit Wes-Afrika na Virginië geneem, waarna dit volgelaai met goedere na Engeland teruggekeer het.¹⁰ In ’n brief aan Isaac word daar verwys na ’n skip wat arrives well slaved, I hope shall make a pleasing acc of ’em.¹¹

    Dié verbintenis met die slawehandel is nie vir die familie weggesteek nie – ook nie vir Emily nie. Die familielandgoed en huis, Hadspen, in Somerset naby die dorpie Bruton is in September 1785 deur Henry Hobhouse II, ’n Oxford-geskoolde prokureur, gekoop.

    Emily se ander oupa, Henry Hobhouse III (1776-1854), ook ’n Oxford-student, en sy vrou, Harriet Turton (1780-1838), is albei voor haar geboorte oorlede. Henry III het ook aan Oxford in die regte studeer en was ’n prokureur vir die tesourie en ondersekretaris in die kantoor van binnelandse sake in Londen onder sir Robert Peel. Hy was ook ’n magistraat op die platteland.¹² Teen dié tyd was die familie reeds vername mense.

    Emily se pa, Reginald, was een van vier seuns wat ook vier susters gehad het. Die seuns het almal aan Eton en Oxford se Balliol College studeer. Die seuns Henry IV (erfgenaam van die landgoed en herehuis Hadspen), Edmund en Arthur het almal danksy goeie opvoeding sukses behaal.

    Reginald – volgens Emily ’n droë, humorlose, konserwatiewe man – het ná sy studies danksy sir Robert Peel, die eerste minister vir wie sy pa gewerk het, op die dorpie St. Ive die predikant in diens van die Kerk van Engeland geword. (Nie te verwar met St. Ives [uitgespreek eyeves] aan die verre suidwestelike kus van Engeland nie.) Nadat hy sewe jaar lank alleen in ’n kothuis oorkant die 14de eeuse kerk gebly het, is hy met Caroline getroud. Hulle het ’n groot pastorie ’n honderd meter van die kerk af vir hulle laat bou.

    Emily was die vyfde van ses oorlewende kinders en ook die jongste van die dogters. Die kinders was Caroline (Carrie, geb. 1854), Alfred (geb. 1856), Blanche (geb. 1857), Maud (geb. 1859), Emily (geb. 1860) en Leonard (geb. 1864).

    Sy en haar susters is deur ’n goewernante tuis onderrig. Lady Hobhouse, haar oom Arthur, Lord Hobhouse, se vrou, het nie van die een goewernante gehou nie. Dié het Emily as straf op ’n stoel laat staan en toe lady Hobhouse daarvan hoor, was dit die einde van die goewernante.¹³

    Emily skryf só oor haar vroegste herinnering uit daardie dae: I do not know if the sense of having an ego of one’s own comes to others at a given moment, or grows imperceptibly, but it was when I was three or four years old that I learnt this. I was sent to see the time ... I suddenly realised the clock was not me and I was not it but outside it and different ... It was a curious revelation.¹⁴

    Die hulpprediker by die kerk in St. Ive, St. Aubyn Rogers (vir wie die kinders Old Rodge genoem het), het ’n sagte plekkie vir hulle gehad. Hy het vir elkeen ’n lappie grond op die terrein om die pastorie skoongemaak sodat elkeen sy eie groente kon plant. Hy het ook vir hulle tafels en stoele gemaak om buite te sit, pyle en boë om mee te skiet, en het saam met hulle wegkruipertjie gespeel. Hy eet ook saam met hulle en skiet broodballetjies tot binne-in Emily se mond.

    Op ’n dag speel hy twee uur lank pluimbal met Emily – tot haar pa se frustrasie omdat hulle onder sy studeerkamervenster raas. Sy tel hulle het die pluim 2 000 keer geslaan.¹⁵

    Vir Emily is Rogers soos ’n pa; haar eie pa is vandat sy ses jaar oud was, sieklik. Ou Rodge was alles vir ons, veral my toegewyde slaaf. Hy is deel van die gelukkigste tye in haar lewe.¹⁶ In die somer hou hulle vakansie by die see of besoek die familietuiste Hadspen in Somerset.

    Kleintyd al kry Emily die bynaam The Missis. Die oorsprong is vermoedelik ’n Valentynskaartjie, wat sy van die familie kry toe sy sewe jaar oud was, waarop gestaan het: Wherever I am, I will always be the missis.

    Almal dink dit pas by haar, en Missis bly haar lewe lank ’n bynaam.¹⁷

    Leonard is op agt jaar na die spogskool Eton, soos die res van die seuns uit die familie, terwyl die dogters minderwaardige tuisonderrig gekry het. Hoewel daar ’n ruim Victoriaanse tuis-biblioteek was waarin Emily haarself verdiep het, en sy geleer het om naaldwerk te doen, te sing en klavier te speel en selfs Frans te praat, was dit nie vir haar genoeg nie. Dié soort onderrig was die norm vir meisies van haar stand, maar sy wou meer hê. Haar begeerte is om ook te gaan studeer en haar soos haar broers vir ’n beroep te bekwaam.

    Emily word 15 en staan op die drumpel van vrouword, maar sy verstaan dit nie. "Ek soek tevergeefs na iemand in my lewe met wie ek kan praat en dinge bespreek, en wat dinge kan verduidelik, maar niemand het tyd daarvoor nie. Die goewernantes is oppervlakkig en onbekwaam en ek is een van ‘die kleintjies’ en van geen belang nie.

    Ek is jaloers op die seuns en die spesiale leermeesters wat hulle het, mense wie se breine hulle mag tap. Ek het niemand wat my hiermee kan help nie. Die klasse verveel my, omdat dit (soos dit vir ons geleer word) oppervlakkig is. Hulle vertel my nooit wat ek wil weet nie. Wanneer ’n mens vrae vra, word gesê: ‘Klein dogtertjies moet nie vrae vra nie.’¹⁸

    Op 16 word Emily na ’n afrondingskool in Londen gestuur, waar Maud reeds is. Blanche was ook reeds daar, maar het baie siek geword. Die afrondingskool bied nie die onderrig waarna Emily smag nie. Sy wil leer, maar pleks daarvan kry sy perdrylesse en te min kos. Wat sy wel geleer word, is hoe om te onthaal en eendag ’n goeie vrou vir ’n man te wees. Dit maak Emily bitter. Haar gebrekkige onderwysopleiding is die kernoorsaak van baie van die foute in my lewe, skryf sy jare later.¹⁹

    In die winter van 1876 neem die ouers drie van hul vier dogters – Blanche, Maud en Emily – na Menton in die suide van Frankryk kort nadat die oudste dogter, Caroline, getroud is. Die hoofrede vir die besoek was om Blanche, wat waarskynlik aan tuberkulose gely het, kans te gee om te herstel. Die gesin bly die hele winter daar en begin daarna stadig terugkeer huis toe. Blanche herstel egter nie en sterf op 19 jaar in Toulouse, Frankryk.²⁰

    Hierna was daar nie meer genoeg geld om Emily langer na die afrondingskool te stuur nie, hoe onvanpas dit ook al vir haar was. Sy moes maar tevrede wees met skilder- en vioollesse in die naburige Liskeard.²¹

    Feitlik alles in Emily se lewe het nou verander. Haar suster Carrie, soos hulle haar genoem het, is getroud. Blanche is oorlede en haar ma se gees is vermorsel. Haar pa werk ál meer in die gemeente, weg van die huis af. Emily het geen uitlaatklep vir haar verstandelike vermoëns nie en sy leef haarself in drome en gedagtes uit.

    Ek het saam met helde in my verbeeldingswêreld geleef en dolverlief geraak op dié wonderlike wesens.

    Emily het ver ente in die omgewing gaan stap. Sy wil verre en wye wêrelde omhels en verken, baie mense ontmoet en sy droom van ’n universele bekering na goedheid – vir my was dit die Kerk van Engeland en ’n opheffing tot materiële welstand. Uiteindelik kom Emily tot ’n lewensbelangrike besef: Wat vir haar saak maak, maak nie vir alle ander mense saak nie and that you can’t make a silk purse out of a sow’s ear. Sy besef die gemeente is maar ’n klein wêreldjie en ver verwyderd van ’n groter werklikheid daarbuite.²²

    Sy stem ook nie met haar pa saam dat godsdienstig andersdenkendes – diegene wat nie met alles van die Anglikaanse Kerk saamstem nie – verstoot moet word nie en besoek sulke mense gereeld.²³

    Haar pa se preke, waarna sy al twintig jaar lank luister, staan haar later nie meer aan nie. Die probleem is hy het so min om te sê – nie dat hy dit nie kon sê nie. Hy het te verwyderd van gewone mense geleef om hulle goed te verstaan. Alles wat modern was in die wetenskap en wat denkrigtings betref, het hy nie gelees nie. Net een keer hoor sy hom uit sy hart preek en toe huil hy.²⁴

    In 1880 word Emily se ma siek weens ’n breingewas en sterf binne maande. Emily is 20 jaar oud, haar broer Leonard studeer aan Oxford en Alfred is lankal uit die huis en land-uit na Nieu-Seeland. Net Maud is nog daar en hulle sien nou om na haar pa, wat ná sy vrou se dood ook siek geword het. Hy is nou nog meer in homself gekeer, afgesonder en weier dat Emily haar talente ontwikkel.

    Maud trou in 1889 sonder haar pa se seën met een van die kerk se hulppredikers, Ernest Hebblethwaite, waarskynlik om van die onderdrukkende atmosfeer tuis te ontsnap.²⁵

    Emily gee Sondagskoolklasse, sy sing in die kerkkoor en speel die orrel. Haar lewe draai om haar pa en die groepie mense in St. Ive. Sy lees elke dag vir hom uit The Times en bly só op die hoogte van wat in die wêreld aangaan – dít prikkel haar belangstelling in die politiek. Soos haar broer en oom, lord Hobhouse, ontwikkel Emily liberale politieke oortuigings, nie konserwatief soos haar pa nie.²⁶ Sy durf dit egter nie met hom bespreek nie.

    Leonard trou in 1891 met Nora Hadwed in Oxford, waar hy eers by Merton College en later by Corpus Christi College klasgee. Hul eersteling, Oliver, word ’n jaar later gebore en is een van die min vreugdes in Emily se lewe.²⁷

    Emily se pa weier dat sy enige jong mans ontmoet. Sy moet na hom omsien en haar kanse om te trou en ’n gesin te hê raak skraal. Die eensaamheid en frustrasie dwing haar tot morbiede introspeksie en histerie, want al wat sy kan doen, is sing, klavierspeel en vioolspeel. I was so low that I took to illumination … (’n soort ligbehandeling teen depressie).

    Uiteindelik probeer sy om te skryf, maar dit kan sy nie doen voordat sy nie van die kettings van St. Ive verlos is nie. Dekades later skryf sy daaroor: Ek kry geen aantekeninge van daardie jare nie. Dit is opgeteken in my gees en gelukkig sal dit saam met my sterf. Dit was ’n tydperk van marteling …²⁸

    Die omstandighede moet hel gewees het vir iemand met Emily se verstand en gees. Ses jaar lank bly sy (afgesien van die bediendes) alleen in die pastorie saam met haar pa.

    Op die bitter koue dag van 27 Januarie 1895 sterf hy. Dit was die einde van ons lewe as ’n familie.

    Al Hobhouse se besittings – van ’n perd, varke en hoenders tot meubels, skilderye en ’n tjello – word opgeveil. Emily erf £5 300 van haar pa.²⁹

    Twee weke ná sy dood pak Emily haar tasse en verlaat St. Ive. Sy het nooit weer daarheen teruggekeer nie.

    Die motor se meter wys dit is net 2°C toe ek die 8 km van Liskeard na St. Ive aflê. Dis ’n piepklein plattelandse gehuggie waardeur ’n mens kan ry sonder om dit te besef.

    ’n Pragtige ou kerk, ongeveer in die middel van die paar huise, kan ’n mens nie miskyk nie. Ek herken dit aan foto’s daarvan wat ek gesien het. Dit is waar Reginald Hobhouse ’n halfeeu lank die predikant was.

    Hier is ek skielik in die hartjie van Emily se vroeë leefwêreld. ’n Honderd meter verderaan is die pastorie waar sy haar eerste lewensjare deurgebring het.

    Soos vooraf afgespreek, ontmoet ’n paar gemeentelede my hier. Ons is groot aanhangers van Emily, vertel Dennis en sy vrou, Doreen.

    Ons stap na die kerkhof wat die kerk omring. Emily se ma en pa lê langs mekaar begrawe. Aan die oorkant staan die kothuisie nog waar haar pa gebly het voordat hy getroud is en voordat die pastoriepaar hul nuwe blyplek betrek het.

    Ek loop om die kerk, op die paadjie langs na die deur waardeur Emily elke Sondag vir soveel jare geloop het, verby die doopvont van klip aan die agterkant van die kerk waar sy op 1 Mei 1860 gedoop is, af met die paadjie tot by die preekstoel van waar Reginald preke gelewer het wat sy begaafde dogter so verveel het.

    Teen die muur langs die preekstoel is daar afsonderlike brons-gedenkplaatjies: vir Reginald vir 50 jaar diens, vir Leonard, Emily, Alfred en Maud; en nog een vir Reginald, sy vrou en die ander kinders.

    ’n Gemeentelid, Paddy, vertel Emily het in die koor gesing en het ook die orrel gespeel. Dáár is die koorbanke. Die mans het hiér gesit en die vroue aan die oorkant, dit was nog altyd so. Emily moes in dié bank gesit het, beduie hy.

    Wanneer ’n mens in dié bank sit, is die preekstoel verhewe voor jou, met die kerkgangers links en die loodglasvensters regs. Die orrel wat Emily bespeel het, is reg agter my. Ek verbeel my Emily is ook hier, en sluit my oë om 125 jaar terug te reis en my in te dink in Emily se posisie.

    Met baie nou trappies waarop ’n mens jou voet skuins moet draai, kan ’n mens in die donker kerktoring opklim. Aan die een kant is daar vashouplek aan ’n blou tou. Aan die ander kant is daar niks.

    Bo van die toring af het ’n mens ’n mooi uitsig oor die omgewing. Skuins oorkant is die reghoekige ou klip-en-rooistandsteen-pastorie van die Hobhouse’e — ’n Britse Erfenisgebou wat uit 1852-1854 dateer. Daar is twee verdiepings, met ’n solder, kelder en buitegeboue op die erf van ’n paar akker. Die dak is van pragtige leiklip.³⁰

    Dennis en Doreen verseker my dis feitlik onmoontlik om in die huis toegelaat te word. Talle joernaliste, TV-spanne en skrywers het al in die stof gebyt. Vier maande tevore het ek egter langs ’n omweg met die eienaar kontak gemaak wat voorlopig ingestem het tot ’n besoek. Maar sal hy dit nog onthou, en finaal instem?

    Sowaar! Hy onthou my lang storie oor die telefoon en nooi my vriendelik binne.

    Ek stap oor die drumpel Emily se wêreld binne. Bo die deur hang die oorspronklike klokkietou waarvan daar in elke belangrike vertrek een was — ’n soort naelstring tussen eienaars en bediendes. Wanneer iemand die toutjie getrek het, het daar op ’n bord in die bediende-area ’n klokkie by die naam van die vertrek gelui sodat die bediendes geweet het waarheen om hulle te haas.

    Hul kamers is naby die kelder, spens en kombuis met sy ruim kookarea en afsonderlike opwasarea. Dit word duidelik van die leefarea van die huismense deur ’n dik deur afgesper en die houtvloer verander hier na dienlike teëls. ’n Buitedeur lei na die stalle en buitegeboue waar voorrade geberg is.

    Daar is ’n ruim leefkamer, of drawing room waar die familie sou gesit en lees of gesels het. Die vuurherd is nog daar en word omvou deur swart marmer. En ook ’n studeerkamer waar al die boeke moes gewees het.

    Op met die trappe is die slaapkamers met dik, afgekante houtbalke in die dak. Daar is verskeie slaapkamers met aantrekkamers en badkamers met kaggels, maar dit is onmoontlik om te sê watter slaapkamer Emily s’n was. Die vensters is ruim en kyk uit op die groot erf waar die kinders heerlik sou baljaar het. Dis ook hier waar Emily en Old Rodge pluimbal gespeel en die kinders hul eie klein groentetuintjies gehad het.

    Die pastorie waarin Emily-hulle gebly het, is sedert 1965 in private besit.

    Ons stap agter om die huis en ek staan lank in die tuin en kyk na die mooi ou huis, die buitegeboue en die stalle. Daar is ’n aangename tuin om die huis, met baie blomme en groente. Daar is vier veldjies en ons het twee koeie, twee varke en baie troeteldiere, skryf Maud in 1873 toe Emily 13 was.³¹

    Ná hul pa, Reginald, se dood in Januarie 1895 was hier twee vet varke, ’n perd, koeie en kalwers te koop. Die toe perdekar wat te koop was, is mooi uitgevoer met kussings en lanterns.

    Die groot woonkamer se vensters kyk uit op die veld agter die huis. ’n Mens kan jou verbeel jy sien Emily en haar susters by dié venster uitkyk, elkeen dalk met ’n boek in die hand.

    In dié woonkamer was daar destyds ’n klein sofa en klavier, skryftafel en hope boeke. In die somer is wit gordyne met groen gaas opgehang. In die winter hang hier gordyne van karmosyn en ’n helder vuur brand in die kaggel, het Maud geskryf.³²

    Met die terugry op die nou, kronkelende pad na Liskeard val daar ysreën; die kontras kan kwalik groter wees tussen die groen modderige nat velde van Cornwallis en die skel son, hitte en stof van Suid-Afrika wat Emily se blonde hare nog rooi sou kleur.

    2

    Die wye wêreld in

    I feel as if I were in fairyland or the Arabian Nights and pens won’t tell adequately all I have seen and done …

    Emily Hobhouse, 1895, New York

    Emily het die stof van St. Ive van haar voete geskud en wil die wêreld sien – nie net Oxford waar sy gewoonlik by haar broer en sy gesin tuisgaan, of Londen waar haar oom Arthur, lord Hobhouse en tante Mary, lady Hobhouse woon nie. Langer as 1895 gaan sy nie wag om haar eie pad te stap nie, al is dit ongehoord vir ’n vrou van haar stand om op 35 jaar die wêreld in te vaar.

    Sy het nog nie duidelikheid oor ’n loopbaan of haar lewenspad nie, maar twee dinge weet sy wel: Sy wil meer van die wêreld sien en sy wil mense help. Net soos talle myners – die Cornish Jacks soos hulle genoem is – van Cornwallis na Amerika geëmigreer het om daar ’n nuwe bestaan te maak, so slaan Emily dieselfde koers in.

    Die Engelse mynwerkers het ervaring daarvan gehad om tin, koper en porseleinklei te ontgin en het in hul duisende na Amerika getrek. En vanselfsprekend sal hulle maatskaplike behoeftes hê. Met die hulp van die vrou van die aartsbiskop van Kantelberg, Edward Benson, maak Emily kontak met aartsdeken Appleby in Minnesota, Amerika sodat sy daar welsynswerk onder die Cornwalliese myners kan doen.

    In Julie 1895 vertrek sy per boot na New York waar sy ’n paar dae oorbly. Sy is in die sewende hemel oor wat sy daar sien en ervaar en skryf aan Maud: Ek voel of ek in feëland of die Arabiese Nagte is.³³ Daarna reis sy na Chicago en dan per trein na die myndorp Virginia in Minnesota waar sy op 14 Augustus aankom. Sy en haar bediende, Mary Scourney van Cornwallis, gaan tuis in Bodock House, ’n losieshuis, in Maplestraat. Gelukkig het hulle hul eie lakens en komberse saamgebring, want die losieshuis is aan die vuil kant.

    My eerste reaksie is om te hardloop en te vlug, skryf sy aan Maud, maar hulle bly tog die nag daar oor.³⁴ In die vuil losieshuis gaan sy nie langer bly nie; sy raap en skraap meubels bymekaar – twee ou hospitaalbeddens en ’n paar stoele – om in ’n kothuis in te trek.³⁵

    Die eerste aand in die kothuis, met die bed skoon oorgetrek met haar eie beddegoed, klim Emily moeg in. Maar die kooi wemel van luise!³⁶ Die plek is oortrek van die goed. Sy gryp haar klere en ’n paar persoonlike besittings en hardloop in die nag terug na die losieshuis – die mindere van die twee euwels.

    Myners en hul wilde gewoontes is nie aan Emily onbekend nie; daar is ’n paar myne naby haar ou tuisdorp en vanweë haar pa se werk in die gemeenskap weet sy maar te goed hoe die mans kan drink en dobbel. In Virginia is daar 42 drinkplekke en 12 myne in die omgewing. Dit is bitter koud en modderig in die winter en snikwarm in die somer. Die dorp het onder meer ’n saagmeule, winkels, ’n koerant, elektrisiteit en 5 000 inwoners.³⁷

    Emily begin in die gemeenskap werk, maar sy tref net 55 mense van Cornwallis aan. Wel, besluit sy, sy het haar woord gegee dat sy hier sal werk en daar moet ander mense wees wat haar nodig het. Baie mense sit net rond en doen niks, skryf sy. Met £200³⁸ wat sy onder die inwoners insamel, begin sy ’n biblioteek, open ’n ontspanningsaal, stig ’n kerkkoor en Sondagskool.³⁹ Haar blyplek stel sy vir algar oop en sy leer volwassenes lees en skryf. Wanneer die nood druk, laat sy tot van die mense op die vloer in haar kothuis slaap.

    Die dokter in die hospitaal is eintlik ’n tandarts. Emily besluit om daar ook te help, want die pasiënte word gereeld verwaarloos. Sy ruil hul beddegoed om en sing vir die siekes.⁴⁰ Sy neem ’n siek vrou wat ingewandskoors het na haar eie blyplek om

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1