Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

DA of nie?: 'n Kieser se krisis
DA of nie?: 'n Kieser se krisis
DA of nie?: 'n Kieser se krisis
Ebook206 pages2 hours

DA of nie?: 'n Kieser se krisis

Rating: 4 out of 5 stars

4/5

()

Read preview

About this ebook

Staan die DA hoegenaamd 'n kans by die stembus?

Of sal verkiesings in Suid-Afrika bloot 'n ras-sensus bly? Is swart kiesers se ongemak met die Demokratiese Alliansie 'n kwessie van beleid - of van toon?

Eusebius McKaiser is bekend daarvoor dat hy geen doekies omdraai nie. In hierdie vermaaklike, ietwat voor-op-die-wa en soms tong-in-die-kies boek, bekyk hy ons amptelike opposisie van naderby.


"Moenie vir hom suurstof gee nie. Hy jaag omstredenheid na. Narsissisme in extremis. Soek net aandag."
- Helen Zille oor Eusebius McKaiser (Twitter, September 2013)

"Ek dink Helen Zille is 'n goeie leier."
- McKaiser oor Zille ... maar hy sê ook:

"Zille is die verkeerde persoon om die Demokratiese Alliansie ná 2014 tot 'n oorwinning teen die ANC te lei."
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateFeb 14, 2014
ISBN9780624062523
DA of nie?: 'n Kieser se krisis
Author

Eusebius McKaiser

Eusebius McKaiser is 'n genoot by Wits se Sentrum vir Etiek in Johannesburg. As politieke ontleder skryf hy vir Suid-Afrikaanse én internasionale media, waaronder die New York Times. Hy is bekend op radio en TV, en bied tans sy eie program aan op Power FM. Sy vorige boek, A Bantu in My Bathroom, is 'n topverkoper. Hy het regte en filosofie studeer en is ook 'n voormalige Suid-Afrikaanse en wêreldkampioenredenaar.

Related to DA of nie?

Related ebooks

Related articles

Reviews for DA of nie?

Rating: 4 out of 5 stars
4/5

1 rating0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    DA of nie? - Eusebius McKaiser

    DA OF NIE?

    rule.jpg

    ’n Kieser se krisis

    Eusebius McKaiser

    logos.jpg

    Inleiding

    rule.jpg

    Die bekentenis van ’n verwarde kieser

    Dit was ’n lieflike herfsoggend toe ek op 18 Mei 2011 in my woonstel in die boheemse Melville, Johannesburg wakker word. Buite was dit nog doodstil, met geen teken van Mandela se born free-generasie wat tot laatnag in dié plesierige voorstad jolyt hou nie.

    Daar was nog ’n rede vir daardie vroegoggend-rustigheid. Dit was ’n openbare vakansiedag, altyd ’n goeie rede vir selfverklaarde oorwerkte Suid-Afrikaners om laat te slaap voordat die braaivleisvure aangesteek word. Of so het ek gevrees. Gevrees, ja, want op daardie openbare vakansiedag was die kiesers veronderstel om die pad te vat stembus toe om hul nuwe plaaslike owerhede aan te wys. Kommentators het hul lyf sangoma gehou en heldersiende geraak. Baie van hulle het met sekerheid ’n lae stempersentasie voorspel. Dit het gelyk of hulle in die kol kon wees, want die stilte het oor alles gehang toe ek my woonsteldeur agter my toetrek om in Sandton te gaan stem – ek het vroeër daar gewoon en was nog daar geregistreer – maar dit was darem nog vroeg.

    Uiteindelik was dit toe ’n heel suksesvolle verkiesing wat die stempersentasie betref, met 57,6% van geregistreerde kiesers wat by die stembus opgedaag het. Baie demokrasieë wêreldwyd kon ons beny. Hul stempersentasies in plaaslike verkiesings is dikwels laer as 40%.

    Ek het daardie dag vroeg gestem omdat ek moes. Ek sou dié dag as een van die ateljee-aanbieders die verkiesing vir ’n ­televisiekanaal dek en daar sou nie later tyd vir toustaan wees nie. Terwyl die taxi sy weg van Melville af baan, deur Parktown-Noord en Rosebank, oor Illovo na Sandton, het ’n enkele gedagte my 32-jarige kop gevul. Vir wie moes ek stem? Ek het nog nie besluit nie. Ek het twee stemme tot my beskikking gehad: ’n proporsionele een vir die party van my keuse wie se idees ek vertrou het, en nog een vir ’n wykskandidaat wat met ’n eenvoudige meerderheidstem regstreeks deur die kiesers aangewys sou word. Ek het nie die vaagste benul gehad hoe ek sou stem nie. Nie die vaagste benul nie.

    Jare lank het ek die basiese beleidstellings van die African National Congress geheel en al oortuigend gevind. Die party steun die idee van ’n welsynstaat. Daarvoor is ek dankbaar: as eerstegenerasie swart gegradueerde het ek ’n verpligting om geld aan arm familielede tuis te stuur. Ek het armoede gesien. Ek het dit ervaar. Wat meer sy, ek verstaan die maatskaplike konteks waarin arm mense se vermoëns nooit ontwikkel nie. Ek het ’n emosionele weerstand teen ’n onbarmhartige houding teenoor armoede. My onderpresterende bloedverwante het nie letterlik gekies om uit te sak op skool of as tieners swanger te raak nie. Ek is dus dankbaar dat daar ’n welsynstelsel is wat verseker dat hul kinders nie doodgaan van die honger wanneer oom Eusebius een maand nie kan bydra nie. Dit snap die ANC.

    Bowendien het die ANC baie gou ná die geboorte van ons demokrasie verstaan dat die wêreld nou binne ’n neoliberale raamwerk moes funksioneer. Die neoliberale ekonomie het baie en komplekse beginsels. Die ANC moes ’n fundamentele verandering maak en hy het dit in groot mate gedoen weens die harde werk van daardie beroemde Vigs-ontkenner, maar darem redelik begaafde houer van ’n meestersgraad in die ekonomie, Thabo Mbeki: die party moes sy sosialisties-geïnspireerde idees van sterk staatsbetrokkenheid by die ekonomie prysgee. Die ANC moes aanvaar dat markte betreklik doel­treffende meganismes is om bronne toe te ken en om vraag en aanbod en volhoubare loonvlakke te bepaal. In die praktyk het dit beteken dat daar afgesien moes word van ’n beleid soos die Herkonstruksie en Ontwikkelingsplan (HOP) ten gunste van beleggersvriendelike beleidsrigtings wat groei sou bevorder en hopelik nog werksgeleenthede sou skep.

    Natuurlik sal baie linksgeneigde ekonome ons daarop wys dat werkloosheid in Mbeki se bewindsjare toegeneem het. Die punt is eenvoudig dat dit onvriendelik, eintlik heeltemal verkeerd sou wees om te beweer dat die ANC geweier het om ’n makro-ekonomiese raamwerk te kies wat in pas was met ’n wêreld waarin markgebaseerde ekonomiese stelsels die ideologiese stryd gewen het teen stelsels gebaseer op die kommunistiese bevelsekonomie.

    Wat maatskaplike beleid oor lewenstyl- en identiteitskwes­sies betref, was ek ook tevrede met die ANC. Natuurlik is daar homofobiese mense en seksistiese varke in die ANC. Dit kan nie anders in ’n groot party met lede en ondersteuners uit die hele gemeenskap nie. Tog was die ANC-leiers (of die meeste van hulle) bereid om die liberale weg in te slaan toe dit saak gemaak het. So het die party byvoorbeeld sy LP’s in 2006 verplig om vir die Wet op Burgerlike Verbintenisse te stem en dit dus vir gay pare moontlik te maak om te trou. Die ANC het nie sy lede toegelaat om elk volgens eie oortuiging te stem nie, anders as wat die DA, heel onliberaal, gedoen het.

    Die ANC het meer waarde geheg aan betekenisvolle gelykheid vir gay en lesbiese Suid-Afrikaners as aan die persoonlike oortuigings oor homoseksualiteit wat in die harte van LP’s kon geskuil het. Net so het die ANC nooit sy parlementêre meerderheid gebruik om aan die baie liberale bepalings oor die doodsvonnis, lyfstraf en ander maatskaplike kwessies te torring wat uit bevindings van die konstitusionele hof voortgespruit het nie.

    Dit wil nie sê dat ek uitermate dankbaar is omdat die ANC net doen wat hy in elk geval veronderstel is om te doen nie. Natuurlik moet hy die standaarde respekteer wat ons as gemeenskap gekies het om ons wetlik en grondwetlik te bind. Maar as iemand met ’n diepe verbintenis tot die ideaal van die liberale gemeenskap, was ek lank gemaklik met die ANC se nominale steun vir liberale sosiale beleid, al was dié steun dalk nie altyd uit die diepte van die ANC-hart nie. Die ANC aanvaar tog wel, al is dit soms teensinnig, dat individuele outonomie nie op die altaar van populisme geoffer behoort te word nie.

    Ek was dus daardie oggend op pad na die stembus in die versoeking om die ANC te beloon vir beleide en ideologieë wat sterk weerklank gevind het in my persoonlike ervaring, in my familie se hopelose situasie in Grahamstad en in my verbintenis tot die liberalisme.

    Tog was ek nie seker of ek myself regtig so ver sou kon kry om vir die ANC te stem nie. Met dié dat korrupsie in die staat onder opeenvolgende ANC-regerings endemies geword het, was die gaping tussen beleidsideale en lewering groot en is dit steeds besig om te groei. Die kommentators se voorspellings oor ’n lae stempersentasie was nie misplaas nie, al het dit later geblyk verkeerd te wees: miljoene Suid-Afrikaners word nog steeds elke dag gemarginaliseer en kon maar net sowel geen stemreg gehad het nie. Erger nog, te veel ANC-aangestelde staatsamptenare is onstellend arrogant en eien hulself te veel toe.

    So betrap ek my toe telkens dié oggend dat ek my afvra: Eusebius, wil jy regtig die arrogansie van soveel onderpresterende, eties-ontspoorde ANC-politici beloon? Wil jy? Ek kon nie in alle eerlikheid ja antwoord nie. In elk geval nie met ’n skoon gewete nie. Ná alles, hoe ek ook al beleids- en ideologiese debatte geniet, hulle is irrelevant as mense se lewens nie regtig verbeter nie. Daarby het ek in daardie stadium oorgenoeg poli­tici van die drieledige alliansie ontmoet wie se reuse-ego’s en buitensporige aansprake ’n bitter smaak in my mond gelaat het.

    Ek moes byvoorbeeld een keer vir SABC3 se program Interface ’n onderhoud voer met die ANC se tesourier-generaal, Mathews Phosa. Dit was ons eerste ontmoeting. Die program is vooraf opgeneem en toe ek by die ateljee aankom, was hy reeds daar, vroeër as die afgespreekte tyd. Hy het skaars gegroet, of hy begin op my skreeu omdat ek laat is, wat ek nie was nie. Toe wou hy in die mees sarkastiese toon denkbaar weet of ek van plan was om hom om verskoning te vra. Ek sal dit maar moet doen, was sy raad. Sy hele houding tydens die hele tirade was dié van iemand wat gereken het hy is die koning van die SABC. Dit het nooit by hom opgekom dat hy slegs ’n gas in ’n aktua­liteitsprogram was nie en dat dit hom die voorreg gebied het om sy standpunte aan die publiek en die kiesers te stel. Pleks daarvan het hy hom gedra asof die plek aan hom behoort.

    Ek raak nie maklik uitgeboul deur sulke gedrag nie, maar daardie keer het dit my onkant gevang. Vir ’n oomblik was ek selfs geïntimideer. Wat my die meeste geskok het, was die ongeërgde houding van my kollegas wat al lank by die SABC was. Toe het ek stadig begin besef dat die Phosas van die ANC nie net gewoond was om hulle te gedra asof die kiesers hulle iets skuld nie, maar dat hulle, tragies genoeg, ook gewoond daaraan is dat baie mense in staatskorporasies soos die SABC optree asof dié mense werklik op hul arrogansie geregtig is.

    My ontsteltenis het plek gemaak vir woede en vasbeslotenheid en toe die onderhoud uiteindelik begin, het ek hom taai vrae gevra om te sien of hy die ANC se beleid en die regering se verrigting kon regverdig.

    Hy het eers sy houding verander toe hy sien dat hy nie met ’n beangste hansie-my-kneg te doen het nie. Teen dié tyd het my kollegas se monde oopgehang. Hulle was duidelik nie gewoond daaraan dat mense by die SABC onderhoude voer soos die BBC se Tim Sebastian nie.

    Ek moet Phosa ter ere na gee dat, toe hy eers aanvaar het dat ek my werk doen en daarop aandring om dit eerlik te doen, ons albei die onderhoud baie geniet het. Tydens een van die onderbrekings het hy selfs opgemerk, Jy het nou pret, nè? Voordat hy daar weg is, het hy my ’n ferm, vriendelike handdruk gegee.

    Phosa se aanvanklike uitbarsting en arrogansie was tipies van die gedrag van baie senior ANC-leiers en staatsamptenare. Te veel van hulle is nie skaam oor hul gebrek aan prestasie en die feit dat hulle hulself afvee aan etiek nie. Selfs jonger leiers, soos die voormalige woordvoerder van die ANC-jeugliga, Floyd Shivambu, probeer die hele tyd hul politieke mentors en helde na-aap. Ek het dit self gesien en alte dikwels aan eie lyf gevoel.

    Hierdie en ander voorbeelde het daardie oggend van 2011 se plaaslike verkiesing deur my kop gemaal. Ek kon myself eenvoudig nie sover kry om vir ’n party met sulke karakters te stem nie.

    Ek het ’n alternatief begin oorweeg: sal ek dalk maar vir die Demokratiese Alliansie stem?

    Maar dié idee het my ook nie regtig aangestaan nie. Aan die een kant was daar genoeg bewys dat die DA die munisipa­liteite waar hy aan bewind was heel doeltreffend bestuur het. DA-raadslede het blykbaar ’n goeie werksetiek, met ’n opregte begeerte om groot ideologiese en beleidsrusies opsy te skuif en eenvoudig aan te gaan met die werk om gemeenskappe veiliger te maak, slaggate toe te gooi, rekeningprobleme uit te stryk, ensovoorts. Waarom sal jy nie ’n openbare verteenwoordiger wil hê wat jou lewensgehalte in jou deel van die stad sal verbeter nie? Die keuse lyk vanselfsprekend – as jy nie verder daaroor nadink nie.

    Net toe ek begin wonder of ek ’n slag moet waag om vir die grootste opposisieparty te stem, het die huurmotor waarin ek was verby ’n gholfbaan iewers in die omgewing van Parktown-Noord gery. Ek het na die weelderige groen gras van die gholfbaan gekyk. Hier was nie sprake van die strome vuil water uit verstopte afvoerslote waarmee die townships te kampe het nie. Wat ek daar in Parktown-Noord gesien het, was ’n fees vir die oog.

    Ek het ook gesien dat ’n stuk of vyf mans gholf speel, en met dié dat ek nie kleurblind is nie, het ek opgemerk dat hulle wit, middelklas en geset was. Hulle het duidelik hul spel geniet en gelag en grappies gemaak. Daar was nog vyf mans by hulle, almal swart: die joggies wat swaar gedra het aan die spelers se gholfsakke. Daardie prentjie het my maag laat draai. Dit het my aan die strukturele ongelykhede herinner wat steeds in Suid-Afrika bestaan en wat dit waarskynliker maak dat ’n swart mens vir ewig die handlanger sal wees en die wit mens die baas.

    Dit verstaan die DA nie. Die meeste van die party se ondersteuners, en veral sy leiers, sal hierdie siening van die tafel af vee. Sommige sal gou verduidelik dat wit mense eenvoudig meer van gholf hou, soos swart mense sokker verkies. Hulle sou sê dié instinktiewe reaksie van my wys bloot dat ek ’n rasseprobleem het. Sommige van hulle sal daaraan aanstoot neem dat ek in my vertelling selfs net na die velkleur van die twee groepe op die gholfbaan verwys. Hoekom, sal hulle vra, praat ek nie maar net van ryk en arm mense nie? Is gholf nie ’n aktiwiteit wat meer met rykdom as velkleur te make het nie? Baie ryk swart mans speel ook nou gholf, en baie arm wit mans aan die buitewyke van Pretoria sal tog ontuis voel op die gholfbaan? Dis die soort goed-geoefende teenargument wat ek weet ’n tipiese DA-gespreksgenoot sal kwytraak. Of ten minste, so ervaar ek dit.

    En in ’n eng akademiese sin is dit redelike argumente. (Ek antwoord nie hier daarop nie, want reaksies is nie waaroor dit in hierdie storie gaan nie.) Die probleem is dat al hierdie slim argumentjies ’n heel ander toets druip wanneer dit by die politiek kom: verstaan jy as politikus die hart van die kiesers? Het jy ’n gevoel vir hulle? Herken jy die geskiedkundige agter­grond wat verklaar hoekom hulle die wêreld sien soos hulle dit sien? Wat dit betref, verstaan te veel DA-politici – veral wittes, wit ­liberale inkluis – eenvoudig nie die swart meerderheid nie. Vanaf hul a-historiese, kleurblinde platform vee hulle ons ­rasse-identiteite en die realiteite van ons lewens weg.

    Kan ek regtig vir ’n party stem wat die politieke lewe reduseer tot ’n akademiese oefening in rasionele keuseteorie? Kan ek hierdie party vertrou om te verstaan dat my susters nie selfgemaakte verloorders is nie, maar twee volwassenes, vasgevang in ’n bose kringloop van tussengenerasiegeweld, armoede en verwaarlosing? Ek kan nie die DA vertrou om dit te verstaan nie. Vir die DA se beleidmakers sal my susters bloot objekte van maatskaplike beleid wees, soos die Engelse filosoof PF Strawson by geleentheid oor geestesongestelde mense gesê het.

    Ek het ongemaklik gevoel by die gedagte van ’n stem vir ’n party wat, in die styl van die ryk Engelse elite van ouds, die emosionele bande wat ek met my land se geskiedenis het, minag. Daardie geskiedenis strek tot ver voor die koms van die demokrasie in ons land. Ek sou ongemaklik wees om vir ’n party te stem wat meen ek is belaglik

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1