Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Wie Gaan in 2019 Regeer?
Wie Gaan in 2019 Regeer?
Wie Gaan in 2019 Regeer?
Ebook280 pages4 hours

Wie Gaan in 2019 Regeer?

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

In die plaaslike verkiesing van 2016 is die ANC bloedneus geslaan toe hy drie metrorade aan die opposisie moes afstaan. Gaan die verdeelde regerende party onder Cyril Ramaphosa kan verenig en in 2019 'n meerderheid by die stembus behaal? Of gaan die DA en die EFF hul groot ideologiese verskille kan oorkom om die ANC uit die kussings te lig?
Sedert Jacob Zuma as president bedank het, het Suid-Afrika se politieke landskap dramaties verander. Die gesoute politieke joernalis Jan-Jan Joubert kyk na alle moontlike scenario's en neem die leser agter die skerms na waar die geheime politieke smouswerk plaasvind.
Hy oorweeg al die beskikbare opsies vir politieke partye in die aanloop tot die volgende verkiesing. Sal die ANC 'n koalisie vorm om in beheer te bly? En wat is die kans dat dié party na die EFF sal draai om meer steun te werf?
Een ding is seker - ooreenkomste sal aangegaan word. Die uitslae van plaaslike en tusenverkiesings wys vir Joubert dat die volgende verkiesing die eerste in 25 jaar kan wees waarin geen party 'n volstrekte meerderheid behaal nie.
In eksklusiewe onderhoude deel politieke leiers ook hul standpunte oor die belangrikste kwessies wat burgers en partye verdeel – of dalk kan verenig.
LanguageAfrikaans
PublisherJonathan Ball
Release dateMay 9, 2018
ISBN9781868429097
Wie Gaan in 2019 Regeer?
Author

Jan-Jan Joubert

Jan-Jan Joubert grew up in Durban and matriculated from Gelofte School in Pinetown. He obtained the degrees BA and BA Honours in history (cum laude), as well as a postgraduate higher education diploma, from Free State University in Bloemfontein, and an honours degree in journalism from Stellenbosch University. He was education reporter for the Johannesburg daily newspaper Beeld before he started covering parliament from the press gallery in 2001, becoming political editor of Beeld, Die Burger and Rapport, and parliamentary bureau chief of the Sunday Times. He is a frequent contributor to radio and television programmes, a theatre critic and has contributed a chapter to A History of South Africa: From the Distant Past to the Present Day, published under the auspices of the South African Academy for Science and Art. His first two books, Who Will Rule in 2019? and No Crumbs from the Table, were both published in 2018. This is his third book. Joubert lives in Cape Town and has seven godchildren.

Read more from Jan Jan Joubert

Related to Wie Gaan in 2019 Regeer?

Related ebooks

Related articles

Reviews for Wie Gaan in 2019 Regeer?

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Wie Gaan in 2019 Regeer? - Jan-Jan Joubert

    Lof Wie Gaan Regeer in 2019

    Verpligte leesstof om die Zuma-Ramaphosa-oorgang, koalisiepolitiek en die politieke dinamika in die aanloo[ tot die 2019-verkiesing te verstaan. – Max du Preez

    ’n Helder, bewysgedrewe en opwindende blik op ons onlangse politieke verlede, wat boeiende scenario’s bied vir hoe sake in die toekoms kan uitwerk. – Justice Malala

    Akronieme

    ACDPAfrican Christian Democratic Party

    ANCAfrican National Congress

    CopeCongress of the People

    CosatuCongress of South African Trade Unions

    DADemokratiese Alliansie

    EFFEconomic Freedom Fighters

    IVPInkatha-Vryheidsparty

    LPlid van die parlement

    LURlid van die uitvoerende raad

    NOPnasionale ontwikkelingsplan

    NUKnasionale uitvoerende komitee

    OVKOnafhanklike Verkiesingskommissie

    PACPan Africanist Congress

    SAKPSuid-Afrikaanse Kommunistiese Party

    SEBswart ekonomiese bemagtiging

    UDFUnited Democratic Front

    UDMUnited Democratic Movement

    VOORAF

    Vooraf

    Politieke joernalistiek is terselfdertyd een van die lekkerste én slegste beroepe. Dit stel jou bloot aan die beste en die slegste in mense wanneer hulle hul soetste sukses en bitterste mislukkings smaak.

    As jy antwoord op sy roepstem, bied politieke joernalistiek ’n wonderlike maar gevaarlike geleentheid om die mensdom in al sy feilbaarheid te beleef. Dit gee jou ook die kans om, in die woorde van Philip Graham, eertydse hoofbestuurder van die Washington Post, aan a first rough draft of history te help skryf.

    Ek is sedert 2001 ’n politieke joernalis. Ek is eenvoudig versot op my werk, omdat dit my in staat stel om eerstehands te beleef hoe die Suid-Afrikaanse geskiedenis gemaak word en ek dit kan beskryf soos dit van hierdie oomblik af gebeur het. Sommige sleuteloomblikke op my beroepspad was die skeuring in die Demokratiese Alliansie (DA) in 2001 toe die Nuwe Nasionale Party weggebreek en daarmee die opposisieprojek tien jaar teruggesit het, en die gevolglike eerlose sterfte van die eens magtige Nasionale Party. Dan was daar die stryd wat tussen 2002 en 2008 tussen Thabo Mbeki en Jacob Zuma ontvou het en die hoopvolheid van die Motlanthe-era. Die opkoms en val van die Zuma-presidensie is gekenmerk deur die tragedie van staatskaping, maar ook deur gewone mense se inspirerende pogings om terug te veg. Sedert Desember 2017 was daar die opwinding van die Ramaphosa-era en tussendeur vele verkiesings, parlementsdebatte en ander politieke gebeure.

    Na my mening is die groot verskil tussen die politieke joernalistiek en ander vorme van joernalistiek dat politieke joernalistiek ’n aaneenlopende, inmekaargevlegte verhaal eerder as ’n reeks losstaande gebeure is. ’n Misdaadverslaggewer sal byvoorbeeld vandag oor ’n spesifieke misdaad berig en môre oor ’n gans ander, onverwante misdaad. Maar in die politieke joernalistiek is byna alles waaroor jy skryf, verwant aan of die gevolg van ander politieke gebeure, terwyl dit ook oor doodgewone menslikheid gaan wat op so baie maniere beslag kry. Baie van die dinge waaroor ’n politieke joernalis verslag doen, volg op of is verwant aan ander gebeure en hang af van die (dikwels wisselende) verhoudings tussen mense.

    In ’n groot mate bou alles in die politiek op alles wat voorafgegaan het en alles het die potensiaal om toekomstige gebeure te beïnvloed. ’n Goeie politieke verslaggewer moet dus in staat wees om verbande te trek en die samehang tussen menseverhoudinge, magspel en beleidsonderstrominge te verstaan en te beskryf – daardie dinge wat nie noodwendig op die oppervlak waarneembaar is nie en wat politici ongesê laat.

    My beroep het my ook die voorreg gebied om onderhoude met van die grootste en mees besondere Suid-Afrikaners te voer – mense soos die Nobelpryswenners aartsbiskop Desmond Tutu en oudpresidente Nelson Mandela en FW de Klerk. Ander bewonderenswaardige Suid-Afrikaners met wie ek te doen gekry het, sluit in die voormalige openbare beskermer, adv. Thuli Madonsela, die politikus wyle dr. Frederik van Zyl Slabbert, die swemmer Ryk Neethling, die Stellenbosse rektor wyle prof. Russel Botman, die onderwyskenner prof. Jonathan Jansen, die akademikus en denker wyle prof. Jakes Gerwel en die sakeman en patriot mnr. Johann Rupert.

    Soos enigeen sal weet wat die land liefhet en belangstel in haar verlede, hede en toekoms, is die Suid-Afrikaanse politiek soos ’n morsige kontaksport waarin hoop en wanhoop mekaar dikwels vinnig afwissel. Om daaroor te berig, is soos om in die voorste ry by ’n boksgeveg te sit. Jy sien al die aksie van naby, maar dit beteken ook dat die sweet – en soms selfs die bloed – van die vegters op jou beland, ongeag hoe hard jy probeer om op ’n veilige afstand te bly.

    As dit ’n politieke geveg is, sal die bokser wat teen die toue is dikwels boonop uit die kryt klim en jou ’n opstopper kom gee, al is dit teen die reëls. Die politieke joernalistiek het my dus ook al blootgestel aan die kleinlikheid, bitsigheid en sinlose wraaksugtigheid van sekere mense vir wie baie Suid-Afrikaners hoë agting het. Ek sal geen name noem nie, want ek het lankal besluit om nie self te doen wat ek in ander mense onaanvaarbaar vind nie.

    ’n Ander metafoor vir die dilemma van die politieke joernalis is dat jy naby genoeg aan die politieke son moet vlieg om die meeste lig moontlik op die onderwerp te kry, maar nie so naby dat jy self brand nie. As jy dié balans kan handhaaf, is die politieke joernalistiek ’n uitdagende en intellektueel lonende beroep.

    In hierdie boek neem ek die leser agter die skerms waar die belangrike besluite geneem word, oordele gevel en ooreenkomste aangegaan word wat vir ons almal wesenlike gevolge inhou. Ek het probeer om reg te laat geskied aan die vreugde wat my werk my verskaf en die hoop waarmee dit my vir die toekoms van ons geliefde land vervul. Deurgaans respekteer ek die nodige vertroulikheid en beskerm my bronne. En, soos altyd, aanvaar ek verantwoordelikheid vir die akkuraatheid van my feite en die geldigheid van my interpretasies.

    Wanneer ’n mens meer as net middelmatige politieke joernalistiek probeer bedryf, is dit noodsaaklik om baie na te vors, op te lees, na te dink, op te weeg, vertroue te bou … maar nooit te vergeet om dit ook te geniet nie. Hoewel die naleeswerk soms vervelig kan raak, is dit noodsaaklik dat jou kennis oor ’n onderwerp vergelykbaar of verkieslik beter is as dié van die politici met wie jy te doen het.

    Jy moet navorsing doen om die inhoud en veral die betekenis en impak van wetgewing, regulasies en partypolitieke dokumente onder die knie te kry. Op dié manier bekom ’n mens die noodsaaklike basiese kennis wat voorkom dat jy maklik mislei word; dit dien as’t ware as ’n hawemuur. Wanneer jy verby dié hawemuur beweeg, bevind jy jou op die groot en opwindende – maar gevaarlike en bedrieglike – oopsee van ware, taai politieke verslaggewing. Dis hier waar jy die spesie politikus raakloop.

    Verreweg die meeste Suid-Afrikaanse politici is puik mense wat poog om die kiesers te dien en hard werk in ’n beroep waaroor landsburgers graag ’n oorhaastig negatiewe oordeel uitspreek. Talle politici het my oor die jare goed behandel, lekker gespreksgenote geword en heerlik met my gestry. ’n Paar het selfs gewaardeerde vriende geword. Politici is per slot van rekening ook maar net mense, al vergeet sommige van hul ywerigste kritici dit graag!

    Wanneer ek oor die joernalistiek klasgee, vertel ek die universiteitstudente altyd ook dié storie: Daar was ’n ou dame wat buite ’n dorp gewoon het en baie eensaam was. Elke dag het sy dorp toe gestap om kruideniersware te koop. Eendag, op pad terug, stap sy verby ’n slang. Die slang het maar oes gelyk; hy was trouens op sterwe na dood.

    Die ou dame het die slang opgetel, huis toe gevat en versorg tot hy gesond was. Hulle het gaandeweg selfs vriende geword en die ou dame was nie meer eensaam nie.

    Toe, op ’n dag, pik die slang haar.

    In haar sterwensoomblikke roep die ou dame uit: Ek het na jou omgesien, jou gevoer en jou lewe gered. Ek dog ons is vriende. Waarom het jy my gepik?

    Die slang antwoord: Omdat ek ’n slang is.

    Daar is soveel waarheid in dié verhaal. Sommige politici is slange en hulle is giftig. Diesulkes moet ’n mens maar op ’n afstand probeer hou en so ordentlik moontlik teenoor hulle optree, al is dit ook hoe moeilik. As jy iets skryf wat hulle of hul party nie aanstaan nie, kan jy selfs hulle teiken word as hulle glo dat jy bymotiewe het of ’n vendetta teen hulle voer.

    As ’n politieke joernalis moet jy dus altyd jou motiewe en optrede krities ondersoek om te verseker dat jy so gebalanseerd en objektief as moontlik verslag doen. Tog moet jy weet sulke aanvalle gaan van tyd tot tyd op jou geloods word ongeag die feite en balans in jou verslaggewing; dis gewoon deel van die werk. Die politieke joernalistiek is nie ’n gewildheidskompetisie nie. Dit maak jou sommer baie gou taai.

    In al die jare dat ek oor die politiek verslag doen, het ek nog net drie werklik gemene politici ontmoet wat my loopbaan wou verongeluk. So iets is uiteraard uiters onaangenaam, maar ’n mens moet dit maar hanteer. Dit help as jou koerant jou in sulke moeilike omstandighede ondersteun – wat nie altyd ’n gegewe is nie.

    Goeie diskresie is natuurlik noodsaaklik. Terselfdertyd moet jy minstens met sommige politici ’n vertrouensverhouding opbou as jy die nodige inligting en insig wil bekom. En vertroue is mos ’n anderste ding; dit moet wederkerig wees.

    ’n Professionele verhouding met ’n politikus kom neer op gee en neem. Dit stel jou bloot en kan gevaarlik wees, maar dis noodsaaklik. Die verhouding kan nie net ’n transaksie wees nie. Die joernalis moet op die politikus kan vertrou om korrekte inligting en ’n eerlike interpretasie te verskaf; die politikus moet die joernalis kan vertrou om feitelik akkuraat en gebalanseerd verslag te lewer.

    Nogtans is dit soos om in aandele te belê: Selfs as jy ’n ingeligte en versigtige belegging maak, is die dividend onvoorspelbaar. Soms laat jou oordeel jou in die steek en pluk jy die wrange vrugte, maar dikwels is die riskante wedersydse besluit om mekaar te vertrou absoluut die moeite werd.

    Vir my bly die politieke joernalistiek ’n intellektuele uitdaging wat elke dag die moeite werd is om aan te pak. Dit bly ’n voorreg om die politieke reis van die land wat ek so liefhet te karteer vir almal wat dit geniet om daaroor te lees en iets daarvan probeer wys word.

    Die gedig Soet is die stryd van ID du Plessis het my lewensleuse geword. Dit hang geraam in my woonstel:

    Jy sê die stryd is verlore,

    Ons nasie te arm en klein,

    Ons taal uit ’n drang gebore

    Wat een van die dae verdwyn?

    My vriend, dit mag heeltemaal waar wees

    Wie weet wat die toekoms gaan baar?

    Miskien moet ons oormôre klaar wees

    Om weer hierdie droom te laat vaar;

    Maar as ons net altyd moet strewe

    Na wat tot oorwinning gaan lei,

    Wat baat dan die stryd van die lewe

    Waarin ons onseker moet bly?

    Solank jou bedoelings maar goed is,

    Gaan jy jou oor neerlae kwel?

    Solank jy volhard en vol moed is

    Dis tog die probeerslag wat tel!

    Nee, soet is die stryd vir die stryer

    Al moet hy uiteindelik verloor;

    Maar die man wat sy deelname weier,

    Is die man wat sy nasie vermoor.¹

    HOOFSTUK 1

    Die wederkoms in Nelson Mandelabaai

    In die vroeë oggendure op Vrydag 5 Augustus 2016 het die vuurvreter-vakbondleier Zwelinzima Vavi beweer hy het die wederkoms beleef.

    Jesus is gisteraand in die strate van die Nelson Mandelabaai-metro opgemerk – hy’s terug! het Vavi getwiet en daarmee pres. Jacob Zuma in eie munt terugbetaal.

    Dit was twee dae ná die plaaslike regeringsverkiesing en die ondenkbare het pas gebeur. Die ANC is in die grootste metropolitaanse gebied van sy Oos-Kaapse hartland ontsetel. Zuma het sedert 2004 verskeie kere in die openbaar verklaar dat die ANC sal bly regeer tot die dag wat Jesus na die aarde terugkeer. Hiermee het hy opposisiekiesers en talle Christene van alle politieke oortuigings op hul tande laat kners.

    Op dié Vrydag is hy verkeerd bewys.

    Die ANC sou nie net die Nelson Mandelabaai-metropolitaanse gebied, wat Port Elizabeth, Uitenhage en omliggende gebiede insluit, verloor nie. Teen die Saterdagaand het die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) bevestig dat die ANC ook in die Johannesburg- en Tshwane-metrogebiede verloor het, asook in meer as 30 munisipale en distriksrade landwyd. In die maande daarna het kiesers met verstomming beleef hoe koalisieregerings ’n alledaagsheid geraak het.

    Vandag nog glo baie Suid-Afrikaners die ANC is bestem om altyd te regeer. Mense wat dít steeds glo, behoort eerder na die syfers te kyk. Nasionaal het die ANC se steun binne slegs twee jaar afgeneem van 62% in die algemene verkiesing van 2014 tot 53% in 2016 se plaaslike regeringsverkiesing.

    Sedertdien is die ANC verder geknou deur staatskaping, verdeeldheid in sy leierskap en heelwat ander ontwrigtings. Die party se beeld onder die kieserspubliek het sedertdien nouliks verbeter. Hoewel Zuma se bedanking en Cyril Ramaphosa se verkiesing tot president van die land in Februarie 2018 die nasionale gemoed opgevrolik het, staar dieselfde dwingende kwessies die ANC steeds in die gesig.

    Tussen die plaaslike regeringsverkiesing op 3 Augustus 2016 en 31 Desember 2017 was daar landwyd 118 munisipale tussenverkiesings waartydens die ANC in elke wyk ’n kandidaat gestel het. Die gemiddelde swaai téén die ANC in dié tydperk was ’n verdere 7,4%.

    ’n Mens kan stry tot die perde horings kry oor hoe verteenwoordigend die 118 wyke is, maar enige regerende party sal baie bekommerd raak as sy steun in die vorige verkiesing op 53% gestaan het en hy daarna gemiddeld 7,4% steun in meer as 100 tussenverkiesings verloor het.

    Hoewel een swaeltjie nog nie ’n somer maak nie, is dit interessant om te sien dat die ANC kort nadat Ramaphosa sy intrek in Tuynhuys geneem het twee tussenverkiesings in die Wes-Kaap verloor het. Al het die DA in Februarie 2018 in tussenverkiesings in die Karoo en die Overberg ’n mate van steun ingeboet, het hy steeds groot oorwinnings behaal. In Overstrand wyk 13 (wat Vermont en Onrusrivier by Hermanus insluit) het die party se steun ongeveer dieselfde gebly rondom 96%. In Beaufort-Wes wyk 2 (wat ’n deel van die dorp Nelspoort en sekere plase insluit) het die DA se steun afgeneem van 66% in 2016 tot 60%.

    Tot en met 2016 was Suid-Afrika ’n byna perfekte voorbeeld van ’n eenparty-dominante staat. Hoe het dit gebeur dat daar skielik so ’n goeie kans is dat die ANC in die volgende verkiesing uitgeknikker kan word?

    Die antwoord op die vraag hoe dié party sedert 1994 waarskynlik die indrukwekkendste morele hoë grond in die geskiedenis verloor het, word in die volgende hoofstukke verskaf. Daarby ook die fassinerende verhaal van hoe ’n reeks munisipale koalisies en samewerkingsooreenkomste sedert 2016 oor ideologiese grense heen ontstaan het en watter gevolge dit vir die algemene verkiesing in 2019 kan inhou.

    Sal 2019 ’n nasionale koalisieregering oplewer? Indien wel, uit watter partye sal so ’n regering bestaan? Wat is die moontlikheid dat die ANC en die Economic Freedom Fighters (EFF) saamspan? Of sal die EFF en die DA – daardie onpaar paartjie in menige munisipaliteit – met ander opposisiegroepe saamwerk teen die ANC?

    Watter beleidskwessies is van kritieke belang in die onderhandelinge tussen die vennote in so ’n koalisieregering? Watter verskil sal die verkiesing van Cyril Ramaphosa tot ANC-leier en president van die land maak aan dié party se kanse om te wen?

    En, les bes, wat gaan die kiesers dink van die potensiële goëlbal in Ramaphosa se arsenaal: dat opposisiepartye genooi word om in 2019 aan ’n regering van nasionale eenheid onder leiding van die ANC deel te hê?

    In 2019 sal daar baie meer op die spel wees as in enige verkiesing sedert 1994. Teen dan sal die politieke klimaat handomkeer verander het sedert daardie dae van relatiewe harmonie. Dit gaan ’n felle politieke stryd wees om die grootste politieke prys: die mag om die nasionale regering te vorm.

    In wese gaan die nasionale en provinsiale verkiesings van 2019 ’n stryd wees tussen diegene wat meen die ANC onder Ramaphosa kan die kanker van korrupsie in die party en die land hokslaan, en diegene wat meen dit is onmoontlik. Hoe dit ook al sy, die ANC is die enigste party wat realisties gesproke in ons proporsionele kiesstelsel ’n kans het om op sy eie meer as 50% van die stemme te lok.

    Daar is egter ook ’n besliste moontlikheid dat die ANC minder as die helfte van die stemme kry, gegewe die voortdurende wegvloei van ANC-steun na opposisiepartye. Indien dit gebeur, is koalisies die politieke spel van die toekoms op provinsiale en dalk ook nasionale vlak, soos dit reeds toenemend op munisipale vlak die geval is. As die ANC se steun tot onder 50% van die stemme val, is nasionale of provinsiale koalisies of saamwerkooreenkomste onvermydelik, of die ANC daarvan hou of nie.

    Sedert 1994 was die ANC die magshebber in die Suid-Afrikaanse politiek. Die party beskik oor stewige meerderhede in alle provinsies behalwe die Wes-Kaap. Daarom het hy tot onlangs nog onoorwinlik voorgekom.

    Trouens, dit was tot so onlangs as 2016 hoogmode onder talle politieke kommentators om die onsin te verkondig dat die enigste politiek wat in Suid-Afrika saakmaak, die politiek binne die ANC is. Volgens dié mense was die enigste ware opposisie vir die ANC te vinde binne die party en sy alliansievennote: die SA Kommunistiese Party (SAKP) en die Congress of South African Trade Unions (Cosatu). Die politiek buite die regerende alliansie kon dan grootliks geïgnoreer word.

    Die aanhangers van dié eens gewilde denkskool het die verskuiwing in die politieke psige van die land misgekyk. As jy jou ore gespits gehou het, goeie kontakte gehad het en tred gehou het met die groot politieke partye se meningspeilings, was dié verskuiwing opvallend. Dié politieke verandering sou selfs sonder sulke gesofistikeerde hulpmiddels voorsien kon word deur iemand wat die stempatrone in tussenverkiesings volg en dit akkuraat op nasionale vlak toepas.

    Ek wil graag aantoon hoe veranderende voorkeure, dienslewering op die verskillende regeringsvlakke, gemeenskapsaktivisme, die verhouding tussen politieke partye, hul onderskeie beleidsbesluite en die behoorlike gebruik van statistiese gegewens dit vir enigiemand moontlik maak om sonder te veel moeite verkiesingsuitslae redelik korrek te voorspel. As ’n mens dit deeglik doen, hoef jy nie deur verkiesingsuitslae verras te word nie en sal jy gevolglik beter vir die toekoms kan beplan.

    Die voorspelling van verkiesingsuitslae is eerder ’n oefening in logika waarin jy bogenoemde faktore in ag moet neem, as om jou aan politieke analiste te steur wat bloot op persoonlike aanvoeling staatmaak. Dan kan jy baie van die slaggate vermy waarin talle kommentators trap.

    Die joernalis Gareth van Onselen het in twee artikels die patetiese stand van sommige verkiesingsanalises op sy kenmerkende vlymskerp manier uitgewys.¹ Kennelik is dit beter vir ons almal om ons eie, feitegebaseerde ontledings en verkiesingsprojeksies te doen. Moet op prinse nie vertrou nie!

    Indien hulle hul aan die beskikbare feite gesteur het, sou die 2016-uitslae nie so ’n groot verrassing vir baie mense – insluitend geskokte ANC-hooggeplaastes – gewees het nie. In wat volg, vertel ek hoe die klaarblyklike waterskeidingverkiesing van 2016 agter die skerms verloop het en hoe die ongewone koalisies en saamwerkooreenkomste in politieke agterkamers tot stand gekom het.

    Baie water moet nog in die see loop voor die 2019-verkiesing en enigiemand wat voortydig voorspellings of projeksies wil waag, sal dwaas wees. Intussen kan die tersaaklike metodiek aangeleer word hoe om betroubare voorspellings te maak wanneer die nodige inligting beskikbaar raak en hoe om die belangrikste tendense te identifiseer wat potensiële koalisies kan laat slaag of misluk.

    Is die samewerking tussen opposisiepartye soos die DA en die EFF bloot Bismarckiaanse opportunisme (my vyand se vyand is my vriend) deur teenstanders van die nasionale demokratiese rewolusie, soos die ANC ons wil wysmaak? Of is dit ’n uitvloeisel van die vasberadenheid van patriotiese Suid-Afrikaners wat in landsbelang bereid is om individuele en ideologiese verskille te oorbrug ten einde die land uit die asblik te red, soos die EFF se Julius Malema dit op ’n onderskatte mediakonferensie in Februarie 2016 gestel het?

    Kan die ANC sy foute self regstel en, indien wel, hoe?

    Behoort ’n koalisieooreenkoms ná 2019 die ANC in of uit te sluit? En watter ANC-faksies moet ingesluit en watter uitgesluit word? Wat is die impak van die ANC se nuwe leierskap op die party, die nasionale politieke magspel en op moontlike koalisies?

    ’n Selfs nog belangriker vraag: Wat sal die impak van so ’n veranderde politieke landskap op die lewe van Jan en San Publiek wees? As ons wegbeweeg van die wiskunde van politieke magsbalanse, die eb en vloed van individuele magsbasisse (die sogenaamde Big Man-politiek) en die politici vir wie ’n kabinetspos wink, watter impak sal dit hê op gewone mense wat graag vir hulle en hul gesinne hier ’n toekoms wil skep?

    Watter verskil kan dit aan die ekonomie en die samelewing maak? Wat traak die politiek ons hoegenaamd?

    Om dié vrae te probeer beantwoord, moet ons die samehang tussen mag, eiebelang, idealisme, sinisme, politieke persoonlikhede en beleid in ag neem. Wat vuur die hoofspelers in hierdie spel aan en watter impak kan hulle op die politiek en ons privaat lewe in die toekomstige Suid-Afrika hê? Wat is die opsies en moontlikhede?

    Al hierdie kwessies het van belang geraak nadat die verstommende uitslae van die plaaslike regeringsverkiesing in 2016 gewys het dat politieke verandering in Suid-Afrika tog moontlik

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1