Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Vegter en balling: Boereoorlog-ervarings van veldkornet Charles von Maltitz
Vegter en balling: Boereoorlog-ervarings van veldkornet Charles von Maltitz
Vegter en balling: Boereoorlog-ervarings van veldkornet Charles von Maltitz
Ebook283 pages3 hours

Vegter en balling: Boereoorlog-ervarings van veldkornet Charles von Maltitz

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Hoe moet dit voel om vir maande, selfs jare, van jou familie geskei te wees en geen idee te hê of jy jou plaas en jou land ooit weer sal sien nie? Nadat hy in die Brandwaterkom gevange geneem is, is veldkornet Charles von Maltitz in die Groenpunt- en Simonstad-krygsgevangenekamp en later in Trichinopoly in Indië aangehou. Sy lot was soortgelyk aan dié van duisende ander burgers wat gedurende die Anglo-Boereoorlog na kampe op St. Helena, Ceylon, Bermuda en elders gestuur is.
Sy dagboek, nou vir die eerste keer gepubliseer, skets ’n boeiende beeld van die lewe as ‘’n Boerekrygsgevangene. Dit vertel van die fisieke ontberings en emosionele swaarkry tot die dinge wat hom en sy makkers deurgedra het. Daar is siekte en dood, ontrouheid – ook van Boervroue en medegevangenes – en selfs gewaagde ontsnappingspogings. Sy raak waarnemings en skerp insig bied ’n unieke blik op die alledaagse lewe in die kampe, maar ook op die onderstrominge soos die konflik tussen pro-Britse Boere en die onversetlikes. Tussendeur sorg Charles se besondere humorsin vir talle kostelike beskrywings.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateMar 7, 2013
ISBN9780624056942
Vegter en balling: Boereoorlog-ervarings van veldkornet Charles von Maltitz

Related to Vegter en balling

Related ebooks

Related articles

Related categories

Reviews for Vegter en balling

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Vegter en balling - Chris Schoeman

    1

    ’n Duitser skiet wortel in Afrika

    Charles von Maltitz se verhaal is in vele opsigte soortgelyk aan dié van tientalle Vrystaatse en Transvaalse Boere­kry­gers. As veldkornet in die Ficksburg-kommando het hy amper ’n jaar lank moedig teen die Britse magte in die Anglo-Boere­oorlog geveg voordat hy in die Brandwaterkom in die Fou­ries­burg-distrik krygsgevange geneem is. Hy is daarna eers by Groenpunt en Simonstad aangehou voordat hy na Trichino­poly in Indië gestuur is. ’n Paar maande ná vredesluiting op 31 Mei 1902 het hy saam met talle ander krygsgevangenes na Suid-Afrika teruggekeer, waar hulle opnuut ’n lewe moes maak in ’n verwoeste land.

    Dié offisier het ’n merkwaardige verhaal en nie net oor sy dramatiese ontsnappingspoging uit die kamp in Trichinopoly in Indië of die wyse waarop hy vriend en vyand se vertroue kon wen nie. Sy getroue dagboekinskrywings toon ’n sterk persoonlikheid en ’n man van bogemiddelde intelligensie wat boonop ’n wonderlike humorsin gehad het. Sy dikwels gedetailleerde aantekeninge en eerlike opmerkings bied ’n blik op die alledaagse lewe in die krygsgevangenekampe, watter fisieke ontberings hulle te bowe moes kom en die emosionele druk wat hulle verduur het.

    Charles von Maltitz kom uit ’n familie met pioniersbloed in hul are en ’n sterk militêre agtergrond. Sy stamboom strek oor twee kontinente, want die eerste Von Maltitz wat in Suid-Afrika voet aan wal gesit het, was die Duitser Johann Conrad von Maltitz (1793-1847) – Charles se oupagrootjie. ³ Hy was ’n afstammeling van die Huis van Von Maltitz wat teruggevoer kan word na Albrecht von Maltitz wat in die jaar 934 n.C. in Sakse in vandag se Duitsland gebore is.

    Volgens die familiegeskiedenis Von Maltitz in Africa het Johann von Maltitz in die 2de Nassau-regiment onder Napo­leon in Spanje diens gedoen. Hy is egter gevange geneem en na Madrid gestuur waar hy aan die Britse owerhede oorhandig is. Hierna is hy na Engeland gestuur waar hy in Portsmouth gevange gehou is.⁴ Met die uitbreek van die Vierde Grensoorlog in die Oos-Kaap in 1812 het Brittanje weens ’n tekort aan troepe ook onder die Duitse gevangenes vrywilligers begin werf. Johann het saam met die 60ste Regi­ment na Suid-Afrika vertrek waar hy op 2 Desember 1813 aan die Kaap geland het.⁵ Ná vyf jaar het hy die militêre diens verlaat en vir sowat twee jaar in Sentraal-Afrika grootwild gejag. Daarna het hy besighede in Port Elizabeth, Kaapstad en later in Uitenhage bedryf.

    In 1822 trou Johann met Maria Magdalena Terblanche (1799-1859) en die egpaar vestig hulle ’n dekade later in Colesberg.⁶ Charles se oupagrootjie was die heel eerste persoon wat ’n winkel in Colesberg bedryf het. Vroeg in 1833, toe die Franse sendeling Eugene Casalis dié dorpie op pad na die Transgariep besoek het, was hy verbaas toe Johann von Maltitz met hom in sy eie taal kon gesels. Von Maltitz het op daardie tydstip in een van die huisies rondom die ou strooidakkerkie gewoon.⁷ Teen die einde van 1842, toe ’n Britse garnisoen daar gevestig is, was sy winkel een van ’n paar in die hoofstraat. Ten tyde van sy dood in 1847 het hy reeds die plaas Riekertsfontein (later Longwood) en ’n winkel in Dwarsstraat besit. ⁸

    Johann en Maria se oudste seun was Peter Johan Michael (1825-1893).⁹ Hy is in 1844 in Colesberg met Johanna Catha­rina van Brakel de Waal (1826-1900) getroud en hulle het elf kinders gehad, waarvan slegs sewe hul kinderjare oorleef het.¹⁰ Een van hierdie kinders was Adriaan Friedrich von Maltitz (1848-1910), Charles se pa.

    Peter en sy broer, Ludwig (1823-1865), het later uitgebrei­de belange in die dorp en in die omgewing gehad. Jaar na jaar het hulle plase opgekoop en teen 1860 het hulle een groot veeplaas besit wat myle ver vanaf die Toverberg (vandag Coleskop) al langs die Hanover-pad gestrek het.¹¹ Out­standing among them and high in social stature in the local community were the Von Maltitz brothers who, with their store in the dorp near to their town house on Vaalbank (as the rise behind the church was called) and their farms with­in riding distance, participated in all spheres of Toverberg [Colesberg] life, skryf Thelma Gutsche in haar geskiedenis van dié dorp.¹² Ludwig was in ’n stadium selfs lid van die Kaapse Parlement.

    Die kleinhandelwinkel in Dwarsstraat, oos van die bekende N.G. Kerk, het hulle in 1847 saam met die plaas Riekerts­fon­tein by hul pa geërf. Hulle het ook ’n vei­lingbesigheid besit. Peter en sy gesin het op Riekertsfontein sowat 20 km suidwes van Colesberg gewoon en later na een van sy ander plase, Middelwater, verhuis. Hul dorpshuis was in Stockenstroom­straat¹³ – vandag een van die mooiste strate in Colesberg.

    Peter was ’n welvarende boer wat renperde geteel en met skape en volstruise geboer het. Hy was bekend daarvoor dat hy dinge in groot styl gedoen het. In 1853 het hy byvoorbeeld skaapramme van die Franse imperiale stoet ingevoer en hy het gereeld perdewedrenne op die dorp gereël. Hy het egter nie bloot ’n gemaksugtige lewe gelei nie. Voor die uitbreek van die Agtste Grensoorlog in 1850 het Peter ’n groe­pie vrywilligers van Colesberg na Cradock gelei aangesien laasgenoemde dorp op daardie tydstip deur Xhosas en Hot­tentotte bedreig is. Die groep het ’n tydjie aan die front deurgebring¹⁴ en sodoende het Peter die militêre tradisie binne die Von Maltitz-familie voortgesit, soos sy seun en kleinseuns ook ná hom sou doen.

    Toe Peter se broer Ludwig in 1865 sterf, is die broers se huise en winkels saam verkoop. Peter wou meer tyd aan sy boerdery afstaan en het op Middelwater aangebly. Die winkel is aan C.W. Mathews verkoop, wat egter nie die mas opgekom het nie en Peter se hoofklerk, ene Kilgour, het toe die besigheid oorgeneem.¹⁵ Peter het egter vir hom borg gestaan – met rampspoedige gevolge. Toe die besigheid vou en Kilgour boonop die kluts kwytraak, moes Peter met die aardige bedrag van £36 000 vorendag kom.¹⁶ Hy het die saak in die hande van die Raad van Eksekuteurs gelaat, maar hulle het eenvoudig alles aan die hoogste bieër verkoop en Peter is insolvent verklaar. Hy was toe 45 jaar oud.

    Hierna het hy ’n ossewa gepak en ná ’n drie maande lange trek in 1867 by sy swaer, Pieter de Waal, in die Vrystaatse Riemland aangesluit.¹⁷ Dié streek sluit die hedendaagse dorpe van Heilbron, Petrus Steyn, Lindley, Arlington en Rosen­­dal in. Hierdie uitgestrekte wêreld van graslande was gedurende die vroeë 1800’s bekend om groot troppe wild. Dié wild is gejag en dit het groot hoeveelhede rieme opgelewer, vandaar dat die Voortrekkers die gebied die Riemland ge­noem het.

    Peter het hier drie plase aan die walle van die Kromspruit gekoop wat in 1876 in sy naam oorgedra is.¹⁸ Weldra was hy weer ’n welvarende man. Hy is in 1893 op sy plaas Saxony oorlede en sy vrou, Johanna, in 1900.¹⁹

    Toe Peter von Maltitz in 1867 al sy bates verloor het, was sy seun Adriaan 20 jaar oud. Adriaan het sy skoolopleiding aan die bekende South African College School (SACS) in Kaap­stad ontvang. Hy was sedert sy kinderjare gewoond aan ’n weelderige leefstyl en die ramp wat sy pa getref het, was vir hom ’n groot slag. Adriaan het sy pa nie na die Riemland vergesel nie. Hy was in daardie stadium verloof aan Alida Hendrina Roos (1848-1913) en hulle is in 1868 in Colesberg getroud. (Alida se pa, Charl F. Roos, het die ossewa geskenk wat Adriaan se pa gebruik het om na die Riemland te trek.)

    ’n Jaar nadat Adriaan en Alida getroud is, is hul eerste­ling, Charles Francois Roos von Maltitz, op 8 Maart 1869 op die plaas Rietbult by Colesberg gebore. Hy was die eerste van vyf seuns wat hul kinderjare oorleef het. Daarna kom Pieter (gebore 1873, gedoop Peter), Jan (gebore 1874, gedoop Johan), Maltitz (gebore in 1877, maar sterf die volgende jaar), Attie (gebore 1881, gedoop Adriaan), Fritz (gebore 1884, gedoop Friedrich), Emil (gebore 1889, sterf as jong seun in 1902), en Ludwig (gebore 1891). Hulle het ook drie dogters gehad: Johanna, Alida en Charlotte.

    Adriaan was ’n aantreklike, lang man en sy oop, vriendelike geaardheid en vrygewigheid het hom gewild gemaak.²⁰ Hy was, om ’n hedendaagse literêre verwysing te gebruik, ’n oom Schalk Lourens-tipe figuur en was bekend as ’n bobaas-storieverteller. Hy was blykbaar ook ’n vreeslose mens wat terselfdertyd rusteloos was en klaarblyklik impulsiewe besluite geneem en opgetree het soos die gier hom beet­gepak het.

    Adriaan het eers vir sy skoonpa (wat geen seuns gehad het nie) op dié se plaas Wittekrantz in die Ficksburg-distrik gewerk.²¹ Charles von Maltitz sou hierdie plaas jare later uit sy oupa se boedel koop. Die lewe op die plaas was egter vir Adriaan te eentonig en hy het toe besluit om na die diamantdelwerye in Kimberley te gaan in die hoop om vinnig ryk te word.²² Sy planne het egter op niks uitgeloop nie en hy het van 1877 tot 1878 as eiendomsagent in Ficksburg²³ gepraktiseer. Maar ook dít het hom gou begin verveel en hy is daarna weer terug na Wittekrantz.

    Daar het Adriaan weer met oorgawe begin boer en selfs ’n bietjie geld gemaak, maar sy rusteloosheid het nogmaals die oorhand gekry. Hy het in 1880 gedurende die Basoeto-oorlog as ’n vrywilliger by die Kaapse regeringstroepe aange­sluit. (Die sogenaamde Basoeto-oorloë is veroorsaak deur geskille oor grondgebied tussen die Basoeto’s van Moshoe­shoe I in vandag se Lesotho en die boere van die Oranje-Vrystaat. Die eerste oorlog het reeds in 1858 uitgebreek en die laaste in 1880 waarna vrede in 1881 bereik is.)²⁴

    Daarna is Adriaan Kaapkolonie toe waar hy ’n kleinhandelbesigheid in sy geboortedorp, Colesberg, begin het. Hy het Wittekrantz in die hande van sy plaaswerkers gelaat, maar moes met sy terugkeer vyf jaar later agterkom die plaas is verlate en die huis van alles gestroop.²⁵ Hy het weer begin boer en sy verblyf daar is eers weer deur die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog onderbreek.

    Charles se ma, Alida, was ’n innemende, saggeaarde vrou, wat ook uit ’n gegoede familie gekom het. Haar pa was ’n vooraanstaande inwoner van Colesberg voordat hulle na die Ficksburg-omgewing verhuis het. Dit sê baie van haar karak­ter dat sy ná die gemaklike jare in Colesberg die moeilike tye op die plaas in die Oos-Vrystaat te bowe kon kom.

    Die Von Maltitz-kinders het, soos hul ouers, ’n goeie opvoeding gehad. Hulle is onderrig deur ’n eerwaarde Fowkes wat op ’n naburige plaas gewoon het. Fowkes was ’n gekultiveerde Engelse heer wat daarvoor gesorg het dat hulle ’n deeglike algemene kennis opgedoen het wat hulle later in hul lewe baie goed te pas sou kom.²⁶

    Charles het oënskynlik baie van sy pa se eienskappe geërf. Soos sy pa was hy ’n lang man van goed oor die ses voet, maar het wat gelaatstrekke betref meer op sy ma getrek. Hy het ’n hoë voorkop, reguit hare en ’n prominente Romeinse neus gehad wat hy glo van sy Roos-voorvaders geërf het.²⁷

    Hy was ’n belese man wat baie wilskrag gehad het. Charles het reeds as jongman nie vir uitdagings geskrik nie en sommer vroeg al sy eie winkel in Ficksburg geopen. In 1887, op 18-jarige ouderdom, het hy voorts ’n gedeelte van die plaas Wittekrantz uit sy oupa, Charl Roos, se boedel gekoop. (Charles se seun Johan het in die 1960’s steeds daar geboer.)

    Charles was ook ’n vurige kêrel, van die soort wat iemand nie maklik sou vergewe as hy eers aan sy verkeerde kant beland het nie. Dié eienskap word goed geïllustreer deur die volgende staaltjie wat oor hom vertel word: Charles se een suster, Johanna (Dolly), is getroud met een van sy beste vriende, Tewie Wessels, wat ’n groot perdeteler was. Op ’n dag het die twee mans op Wittekrantz stry gekry nadat Tewie glo een van Charles se opreg geteelde perde gekritiseer het. Ná hierdie voorval moes Charles eendag ’n vroulike familie­lid in Clocolan gaan aflaai waar Tewie haar sou oplaai en na sy plaas neem. Charles het sy perde aangejaag, die familielid vinnig afgesien en dadelik omgedraai huis toe (Tewie weer het gesorg dat hy ’n uur laat was!).²⁸

    Wat die twee mans nie toe kon geweet het nie, was dat hulle noodgedwonge sou moes versoen raak nadat hulle in die Anglo-Boereoorlog saam in die krygsgevangenekamp in Groenpunt beland het.

    Vyf jaar voor die oorlog is Charles met Hester Greyling getroud wat op ’n plaas in die Ficksburg-omgewing gewoon het. Hulle het agt kinders gehad.²⁹ In daardie dae was die markte maar treurig en wyd verspreid. Charles het ’n geleentheid gesien om transport te ry langs die hoofroetes tussen Pieter­maritzburg, Johannesburg en Barberton. Sy broer Pieter was toe reeds uit die skool en hulle twee het besluit om met muil­waens kos en ander voorraad van Natal, asook graan van die Vrystaat, na die goudvelde in Johannesburg te vervoer.³⁰

    Die Oos-Vrystaatse vlaktes, valleie en heuwels het dié streek baie geskik gemaak vir gemengde boerdery. Graan- en beesboerdery was van die vernaamste landboubedrywe. In die Anglo-Boereoorlog sou die Oos-Vrystaatse graanbedryf van groot belang wees vir die Boere se oorlogspoging. Genl. Christiaan de Wet het dit ook besef en hard probeer om dié streek uit die Britte se hande te hou:

    I was very anxious to prevent the ‘granary’ of the Orange Free State from falling into the hands of the English . . . This ‘granary’ lay in the Ladybrand, Ficksburg and Beth­lehem districts, and not only supplied the Free State, but also the greater part of the Transvaal . . . In spite of the fact that the English, in order to destroy our crops, had let their horses and draught oxen loose upon the land, there was still an abundant harvest . . . And so it happened that whilst the men were at the front, the housewives could feed the horses in the stable. But lord Roberts, acting on the advice of unfaithful burghers, laid his hand upon the housewives’ work, and burnt the grain that they had stored.³¹

    Beesboerdery in die Oos-Vrystaat was aanvanklik gerig op die verskaffing van trekosse wat op daardie tydstip onontbeerlik was vir vervoer, maar met die ontdekking van goud en die toestroming van duisende gouddelwers het die aanvraag na slagosse skerp toegeneem. Charles het hier ook ’n geleent­heid gesien en mettertyd in slagbeeste begin handel dryf. Hy het egter ’n groot terugslag beleef toe die runderpes in 1896 uitgebreek en hy nie entstof tot sy beskikking gehad het nie.³²

    Voor 1896 was runderpes nog nie in Suider-Afrika bekend nie. Vroeg in 1896 is gevind dat groot getalle beeste en wild aan al twee kante van die Zambezirivier aan ’n onbekende siekte vrek, van waar dit vinnig deur transportosse suidwaarts versprei is. Ten spyte van streng voorsorgmaatreëls het die pes Kimberley in Oktober 1896 bereik en ’n groot poging is aangewend om die verspreiding by die Oranje­rivier te stuit deur ’n draadheining van ongeveer 1 000 myl (1 600 km) op te rig langs die noordelike grens van die Kaap­kolonie en sowat 1 000 treë (ongeveer 1 km) suid van die Oranjerivier.

    Teen die einde van 1898 was die runderpes onder beheer, maar teen daardie tyd het reeds meer as 2,5 miljoen beeste in Suid-Afrika alleen gevrek.³³ Charles was een van die talle boere wat groot verliese gely het. Hy moes sy beesboerdery van voor af begin, maar het hom nie deur dié terugslag laat onderkry nie.

    2

    Aan die oorlogsfront

    Oktober 1899 tot Junie 1900

    Toe die Anglo-Boereoorlog op 11 Oktober 1899 uitbreek, was Charles von Maltitz 30 jaar oud. Die vreedsame, landelike bestaan van die Oos-Vrystaatse boere was eensklaps iets van die verlede.

    Charles se tuisdorp, Ficksburg, is aan die voet van die Imperani-berg geleë en lê op die walle van die Caledonrivier, wat ook die grens met Basoetoland (vandag se Lesotho) was. Die maande voor die oorlog is vir die Vrystaatse burgers langs die grens met Basoetoland deur onrustige afwagting gekenmerk. Hulle was bekommerd dat die Basoeto’s, wat Britse onderdane was, hulle aan Brittanje se kant sou skaar en die Vrystaat moontlik kon binneval. Dit het egter nooit gebeur nie en talle Vrystaters het in werklikheid in Basoe­toland gaan skuiling soek en feitlik vir die duur van die oorlog ’n heenkome daar gevind.

    Adriaan von Maltitz en vyf van sy seuns – Charles, Jan, Pieter, Adriaan (Attie) en Friedrich – het aan die begin van die oorlog by die Boerekommando’s aangesluit. Ingevolge wet­gewing van die Republiek van die Oranje-Vrystaat moes alle burgers tussen die ouderdomme van 16 en 60 militêre diens verrig, tensy hulle ’n geldige rede gehad het om nie opgekommandeer te word nie. Vroeg in Oktober 1899 het pres. M.T. Steyn³⁴ van die Oranje-Vrystaat sy kommandante en veldkornette opdrag gegee om alle geskikte burgers vir die verwagte oorlog op te kommandeer.

    So ’n oproep tot diens kon enige tyd van die dag of nag gebeur. ’n Boervrou van die distrik Senekal, Charlotte du Preez, het onthou hoe sy en haar man so ’n nagtelike besoek deur Jan von Maltitz ontvang het. Dit was laat die aand van die 1ste Oktober 1899 en ek en my man was al in die bed toe daar aan die voordeur geklop word, skryf sy. Ons kyk na mekaar, dit is seker die Kommandeerman – en so was dit ook. Dit was die dapper jong Jan von Maltitz.³⁵

    Jan was ’n gewilde en gerespekteerde man in sy gemeenskap. Hy word deur Du Preez as altyd grapperig en vinnig met ’n antwoord beskryf, maar ook as dapper en verstandig. Toe haar man op Nuwejaarsdag 1900 saam met Jan na die Colesberg-front

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1