Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Louis Botha: Krygsman, Generaal, Staatsman
Louis Botha: Krygsman, Generaal, Staatsman
Louis Botha: Krygsman, Generaal, Staatsman
Ebook439 pages6 hours

Louis Botha: Krygsman, Generaal, Staatsman

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

"Hy was een van die grootste geeste ter wêreld." – Winston Churchill
Louis Botha was ʼn briljante Boeregeneraal wie se taktiese vernuf en intuïtiewe aanslag op die front vir etlike oorwinnings oor die Britse magte gesorg het. Maar dit was sy engimatiese karakter en vaste oortuiging om to hou by wat hy geglo het reg was, wat hom as ʼn leier van die Boerevolk bevestig het.
Richard Steyn gee op meesterlike wyse insae in die lewe van hierdie grootse Suid-Afrikaanse krygsman en staatsman. Hy beskryf verhelderend hoe Botha saam met sy hegte vriend, Jan Smuts, die vier Suid-Afrikaanse kolonies na Uniewording in 1910 gelei het.
Gedurende die Eerste Wêreldoorlog was hy aan die voorpunt van die Suid-Afrikaanse magte se suksesvolle inval van Duits-Suidwes-Afrika, wat tekenend was van sy onwrikbare oortuiging dat ʼn man daad by woord moet voeg. Tog is hy deur talle Afrikaners verkwalik vir sy steun aan Brittanje, en die Afrikaner-rebellie, waartydens hy teen voormalige makkers moes optree, het sy hart gebreek.
Botha se groothartige en vrygewige omgang met mense – van Vereeniging tot Versailles – het home bo sy tydgenote laat uitstaan. Die boek weerstaan die versoeking om sy lewe deur moderne lense to evalueer en probeer eerder om die konteks van die politiek van sy tyd verduidelik.
LanguageAfrikaans
PublisherJonathan Ball
Release dateDec 22, 2020
ISBN9781776190294
Louis Botha: Krygsman, Generaal, Staatsman

Related to Louis Botha

Related ebooks

Related articles

Reviews for Louis Botha

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Louis Botha - Richard Steyn

    Richard Steyn

    LOUIS BOTHA

    KRYGSMAN, GENERAAL, STAATSMAN

    Jonathan Ball Publishers

    JOHANNESBURG • KAAPSTAD • LONDEN

    INHOUDSOPGAWE

    Titelbladsy

    Lys van kaarte

    Opdrag

    Lof vir die titel

    Voorwoord

    Inleiding

    1 Grootwordjare

    2 Hy druk sy stempel af

    3 Oorlogswolke

    4 Die oorlog begin

    5 In bevel

    6 Buller uitoorlê

    7 Die gety keer

    8 Op die verdediging

    9 Pretoria val

    10 Brandende plase

    11 Die oorlog sleep voort

    12 Uiteindelik, vrede

    13 Milner is steeds daar

    14 Terug na die politiek

    15 Aan bewind

    16 Die hervormer

    17 Uniewording

    18 Premier van die Unie

    19 Tekens van moeilikheid

    20 Skeuring

    21 Oorlog toe

    22 Rebellie

    23 Hartseer

    24 Die laaste los drade

    25 Inval in Duits-Suidwes-Afrika

    26 ’n Taktiese triomf

    27 Moeilike tye

    28 Swak gesondheid

    29 Vredesluiting

    30 ’n Onherstelbare verlies

    Eindnotas

    Geselekteerde bibliografie

    Oor die boek

    Oor die skrywer

    Kolofonbladsy

    LYS VAN KAARTE

    Suid-Afrika tydens die Anglo-Boereoorlog, 1899–1902 32

    Die Boere-inval in Natal 34

    Gevegte rondom Dundee en Talana 36

    Die Slag van Ladysmith (Modderspruit en Nicholsonsnek 40

    Die Slag van Colenso, 15 Desember 1899 53

    Die Slag van Spioenkop, 24 Januarie 1900 64

    Buller se deurbraak by Ladysmith 14–27 Februarie 1900 72

    Duits-Suidwes-Afrika 1914–1915 207

    AAN JAMES, GORDON, CHARLES, MARK, DIE TWEE PETERS, EN IN HERINNERING AAN TIM.

    Die drama, inderdaad, die tragedie, van die geskiedenis vloei voort uit hoe ons die spanning tussen die bewuste wil en bedoeling van die deelnemers in die verlede verstaan en daarmee saam die onderliggende omstandighede wat hul dade aan bande gelê en hul toekoms gevorm het.

    – NATHAN A FINN

    Die biografieë van mans en vroue, die soort individue wat hulle geword het, kan nie verstaan word sonder verwysing na die historiese strukture waarin die milieu van hul alledaagse lewe georganiseer was nie.

    – C WRIGHT MILLS, DEUR CHARLES VAN ONSELEN, IN The Small Matter of a Horse

    Ons het ’n verpligting om historiese figure in die konteks van hul tyd te plaas en hulle te gun wat hulle soms nie ander gegun het nie: begrip.

    RICHARD COHEN, AANGEHAAL DEUR HAROLD EVANS, Do I Make Myself Clear?

    VOORWOORD

    In 2019 is die dood van Louis Botha ’n eeu gelede herdenk. Hy was een van die Homeriese figure van die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Vandag word sy herinnering en nalatenskap, soos dié van sy hegte kollega Jan Smuts, deur lede van ’n moderne geslag beswadder, ’n geslag wat eerder met ’n beskuldigende vinger na historiese ongeregtighede wys as om ruimte te maak vir die tyd en omstandighede waarin Botha geleef en geveg en sy mense gelei het.

    Sy lewe was relatief kort, maar soos burggraaf Bolingbroke opgemerk het, behoort die duur van groot manne se lewens deur die lengte en belang van hul rol bepaal te word, nie deur die aantal jare tussen die dag wat hulle in die wêreld gekom en die een toe hulle dit verlaat het nie.¹

    Ondergeskoold as jeugdige op ’n afgeleë plaas en sonder opleiding in die gevegskuns, het Botha uitgestyg as die militêre leier van sy mense, ’n vegtende bevelvoerder van so ’n gehalte dat hy die respek en bewondering van elke vyand afgedwing het. Hy het dapper weerstand gebied, maar moes uiteindelik die onvermydelike nederlaag in die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) aanvaar voordat hy sy politieke vernuf aangewend het om sy mede-Afrikaners die daaropvolgende vrede te laat wen terwyl hulle oor die verlies van hul republieke gerou het. Hy was een van die grondleggers en die eerste premier van die Unie. Saam met Jan Smuts het hy die lotsbepalende besluit geneem om sy jong land se lotgevalle aan dié van die Britse Ryk te koppel, nie uit dienstigheid soos sy kritici beweer het nie, maar weens die noodsaak van versoening tussen Afrikaans- en Engelssprekende Suid-Afrikaners, as versekering teen vyandelike invalle en as ’n waarborg vir die ekonomiese opheffing wat ’n verbintenis met die Britse Ryk kon bied. Om sy onderneming teenoor die Britte gestand te doen, het Botha tydens die Eerste Wêreldoorlog (1914-1918) self die slagveld betree – die enigste eerste minister van die dominiums wat dit gedoen het. Vir hom was sy woord sy eer en hy het geglo as ’n mens jou woord gegee het, hou jy daarby.

    Louis Botha se keuse om wat hy as die weg van eer en plig beskou het te volg, het ’n hoë tol van hom geëis. Sy handhawing van sy land se grondwetlike verpligting teenoor Europa het sy laaste lewensjare met smart en spanning gevul. Hy was intens bewus van die wanvoorstelling van sy motiewe en hoe hulle opsetlik verkeerd verstaan is en het die slagoffer geword van vlae van depressie, vererger deur tye van swak gesondheid. Die Afrikaner-rebellie van 1914 het hom tot in sy diepste wese geraak en het meer lyding as enigiets anders in sy lewe veroorsaak.

    Anders as Smuts, was Botha nie iemand wat sy gedagtes op papier neergepen het nie en hy het geen memoires of ’n dokumenteskat nagelaat waarin navorsers kon delf nie. Enige verslag oor sy lewe moet aanmekaargeryg word uit drie seminale boeke en uit die baie memoires en geskiedenisse van die tweede Anglo-Boereoorlog (ook bekend as die Suid-Afrikaanse oorlog). Twee mans uit verskillende agtergronde wat nader aan hom was as die meeste mense het ná Botha se dood simpatieke biografieë oor hom geskryf: die redakteur van Pretoria se invloedryke De Volkstem (Die Volkstem vanaf 1907), dr. FV Engelenburg; en Brittanje se goewerneur-generaal in Suid-Afrika, Sydney (later graaf) Buxton.

    Engelenburg bied die volledigste verslag van Botha se lewe en sy boek word verryk deur ’n roerende huldiging, In memoriam, wat Jan Smuts in 1929 geskryf het. As vriende en kamerade het ons saam deur die ernstigste krisisse van ons lewens gegaan, het Smuts geskryf, saam moes ons die mees lotsbepalende besluite neem. Ek het hom in die ernstigste toetse waaraan ’n mens onderwerp kan word gesien, toetse wat enige swakplekke in sy innerlike samestelling sou ontbloot en na vore sou gebring het. En dit is die manier waarop hy al hierdie toetse deurstaan en ware grootheid van gees getoon het wat hom laat uitstaan in al my herinneringe aan die groot manne wat ek geken en saam met wie ek gewerk het.²

    Op sy beurt het Engelenburg hom daaraan verwonder dat dit Botha minder as 20 jaar geneem het om wêreldbekend te raak as soldaat en nasionale leier. Maar roem eis sy tol: Die 15 jaar van onophoudelike politieke, diplomatieke en militêre manhaftigheid wat gevolg het, het glorie én ontwyding meegebring, soos met enige staatsman gebeur wat kop en skouers bo sy tydgenote uitstaan, het hy opgemerk. Asof in ’n poging om ’n greintjie troos uit Botha se vroeë dood te put, het hy bygevoeg: Vir hom was die groot voorreg beskore om hierdie lewe op die hoogtepunt van sy ambisies as ’n Suid-Afrikaner te verlaat.³

    Graaf Buxton, ’n Britse kabinetslid wat in 1914 as goewerneur-generaal na Suid-Afrika gestuur is, het in die laaste vyf jaar van Botha se lewe ’n buitengewoon hegte vriendskap met hom ontwikkel. As ’n vooraanstaande Britse politieke leier het Buxton in sy tyd met baie groot manne te doen gekry, maar hy het Botha as die menslikste en beminlikste van almal⁴ bestempel. Hy was deurdrenk van daardie ondefinieerbare magnetisme en sjarme wat eie is aan die gelukkige een wat dit besit, maar wat nie ontleed of beskryf kan word nie,⁵ het Buxton geskryf.

    Buxton en sy opmerksame vrou, Mildred, verskaf baie skerpsinnige insigte in Botha se persoonlikheid – sy natuurlike eenvoud en oorgeërfde skerpsinnigheid, sy persoonlike warmte en gemoedelikheid, sy hoflikheid en inagneming van ander se gevoelens. Tog, het Buxton geoordeel, was Botha as eerste minister soms te verdraagsaam en sagmoedig, tot sy eie nadeel. Sy gevoeligheid vir persoonlike kritiek, veral van sy eie mense, het hom dikwels verwond en depressief gelaat en laat wonder of hy in die politiek moet bly.

    Dit wat die persoonlike eienskappe van hierdie merkwaardige Boere-Afrikaner betref, iemand wat soveel van die grotes en belangrikes van sy tyd beïndruk het. Maar wat van sy nalatenskap, nadat die terugblik oor ’n eeu heen sommige van die mislukkings en oordeelsfoute van sy politieke loopbaan skerp omlyn het? Sy verantwoordelikheid vir die aanvaarding van die Wet op Naturellegrond van 1913 in sy tyd as premier en ook as minister van naturellesake kan nie ontken word nie – ’n wet waarvan ons die vernietigende uitwerking vandag nog voel. Dié wet het verreikende gevolge – hoe onvoorsien ook al – vir die lewens van swart mense oor die hele Suid-Afrika gehad en het die grondslag gevorm van ander wetgewing wat die segregasie van swart en bruin mense en Indiërs oor die hele Suid-Afrika in die jare ná Botha se dood verskans het.

    Tog, soos Martin Meredith opmerk, in Botha se tyd het wit mense, en selfs baie swart mense, ruimtelike en sosiale segregasie as die sleutel tot rassevrede en die vermindering van eeue se konflik beskou. Dit was die Lagden-kommissie, nogal deur Milner aangestel en beman deur koloniale amptenare met progressiewe standpunte, wat in 1903 aanbeveel het dat swart en wit mense permanent apart gehou moet word om spanning af te weer en beskaafde wit regering te behou. Ná Lagden, sê Meredith, is die praktyk van segregasie tot ’n politieke doktrine verhef en van toe af deur feitlik elke wit politikus as ’n respektabele slagspreuk gebruik.

    Botha se persoonlike houding teenoor swart mense was ’n mengsel van respekvolle paternalisme teenoor enige individu met wie hy in aanraking gekom of wat vir hom gewerk het, en die oortuiging dat swart mense as ’n groep nie dieselfde politieke regte as wit mense kan geniet nie. Volgens Buxton, met wie hy die kwessie dikwels bespreek het, het Botha in baie opsigte ’n breë en simpatieke benadering gehad tot sake wat die naturelle geraak het.⁷ Hy het immers saam met hulle grootgeword en het hul tale vlot gepraat. Sy roerende besorgdheid oor Dinuzulu, die Zoeloe-koning wat onregverdig deur die Natalse owerheid behandel is, is in teenstelling met sy oortuiging, soos afkeurend deur ’n Britse joernalis aangehaal, dat geen selfrespekterende wit man in die parlement langs enigeen anders as ’n wit man sal sit nie.⁸

    Gedagtig aan die verskille tussen die Kaap en die ander provinsies oor die stemregkwessie, was Botha volgens Buxton bowenal besorg dat die naturellevraagstuk die Afrikaans- en Engelssprekendes kon verdeel. Dít moes onder geen omstandighede gebeur nie. Met woord en daad en waar hy invloed gehad het, het hy sy bes gedoen om enigiets te vermy wat na sy mening sou neig om rassegevoelens aan te wakker en die welsyn van die ‘naturelle’ te benadeel.

    Wat die verhouding tussen Afrikaans- en Engelssprekendes betref, word daar tot vandag toe oor die wysheid van Botha se beleid geargumenteer. Kyk ’n mens met agternawysheid na die kloof wat tussen Botha en JBM Hertzog ontwikkel het en wat die Afrikanerdom in twee sou skeur, lyk dit of albei kante gefouteer het. Die grond het uiteindelik verkrummel onder Hertzog se beskuldiging dat Botha Suid-Afrikaanse belange onderhewig gestel het aan dié van imperiale Brittanje: Hertzog het self die republikeinse ideaal laat vaar toe hy dominiumstatus vir Suid-Afrika onder die Statuut van Westminster (1931) verkry het, gebaseer op Botha en Smuts se aanvoorwerk by opeenvolgende Imperiale Konferensies.

    Hertzog was nietemin waarskynlik reg in sy oortuiging dat die Afrikaners gevaar geloop het om deur die alomteenwoordige Engelse kultuur oorweldig en ingesluk te word as hulle nie vir hul kulturele, onderwys- en taalregte opstaan nie. Sonder die Hertzogiete se aandrang op die gelyke behandeling van Afrikaans in skole, is dit heeltemal moontlik dat die taal nie sou oorleef het nie, wat nog sou groei.

    Botha het feitlik altyd Hollands (of Afrikaans) in die openbaar gepraat, maar hy het net so ’n intense afkeer in taalfanatici as in jingo’s gehad.¹⁰ Tog was hy vreemd onbewus, sê Engelenburg, van die skade wat amptenare aangerig het wanneer hulle dikwels die gelykheidsklousule in die Unie Grondwet geïgnoreer en voorkeur aan Engels gegee het. Botha het geredeneer dat sy regering nie verantwoordelik gehou kan word vir die gedrag van individuele staatsamptenare nie. Toe dit ook nog blyk dat ’n gesonde geesdrif vir Afrikaans in propaganda teen Engels misbruik word, het sy belangstelling in die taalkwessie verder afgeneem. Vir dié misrekening sou hy duur by die stembus betaal.

    *

    Die taak van die historikus, soos AJP Taylor ons herinner, is om die verlede te verduidelik, nie om dit te regverdig of te veroordeel nie.¹¹ Dit is ook, volgens Gordon S Wood, om die dade van die wat ons vooraf gegaan het in die konteks van hul tyd te plaas, om hul blindheid en dwaasheid met simpatie te beskryf, om die mate waarin hulle vasgevang was in omstandighede waaroor hulle min beheer gehad het te erken en om te begryp in watter mate hulle gevolge geskep het wat hulle nooit bedoel het nie.¹²

    Dit is in dié gees dat hierdie boek geskryf is. Dit weerstaan die versoeking om Louis Botha se lewe deur moderne lense te evalueer en probeer eerder om politieke houdings wat ’n eeu gelede algemeen in koloniale Afrika en feitlik wêreldwyd was te verduidelik, maar nie te verdedig of regverdig nie. Soos Henry Kissinger in A World Restored, sy seminale studie van Metternich, verduidelik, is daar gewoonlik iets tragies rondom staatslui, want hulle is gedoem om met faktore te worstel wat nie na die wil gebuig kan word en in ’n leeftyd nie verander kan word nie … Soos die profete word staatslui nie in hul vaderland geëer nie. ’n Staatsman wat die ervaring van sy mense te ver vooruit is, sal nie binnelandse konsensus verkry nie, hoe wys sy beleid ook al is.¹³ Hiervan bied Suid-Afrika se geskiedenis meer as een voorbeeld.

    Soos dit by die terugblik duidelik word, was baie politici van ’n eeu gelede slagoffers van demografiese, ekonomiese, sosiale en kulturele magte wat hulle nie ten volle kon verstaan nie, en waarvan hulle nie eens bewus was nie. Deur Louis Botha en sy generasie só te verstaan en hulle ’n menslikheid te gun wat hulle nie altyd ander rasse gegun het nie, behoort veral wit Suid-Afrikaners wyser en minder veroordelend oor ons gemeenskaplike verlede te maak. Dit kan ons almal ook meer bewus maak van die tekortkominge en beperkinge van ons persepsies van die hede.

    INLEIDING

    Die Suid-Afrika waarin Louis Botha gebore is en grootgeword het, was ’n laslappiestreek van setlaarstate in voortdurende gisting. Vroeër in die 19de eeu het twee epogmakende gebeure op mekaar ingewerk op maniere wat grondbesetting en magsverhoudinge oor die hele Suider-Afrika beïnvloed het: Die Mfekane (of Difaqane), ’n tydperk van revolusionêre veranderinge en oorloë tussen inheemse stamme, wat die tradisionele strukture van die Afrika-gemeenskap vernietig het; en die Groot Trek uit die Kaap die Goeie Hoop. Oral was mense aan die trek na waar daar meer kos en geredelik beskikbare grond en weiding vir hul vee was en, bowenal, bevryding van vervolging en onderdrukking, hetsy deur stamhoofde of heerssugtige koloniale owerhede.

    Brittanje het die Kaap in 1806, gedurende die Napoleontiese oorloë, om hoofsaaklik een rede beset: Hy het ’n voorradepos nodig gehad vir skepe op die lang en moeilike seereis om die suidpunt van Afrika na Indië en die Verre Ooste. Om oor die oseane te heers, het die wêreld se voorste seevaart- en handelsland ’n netwerk van basisse nodig gehad om sy internasionale seeroetes te bewaak. Die Kaap was ’n strategiese bate wat nie toegelaat kon word om in Franse (of ander Europese) hande te wees nie. Brittanje wou nie in die interne sake van nog ’n imperiale buitepos betrokke raak nie, maar was nogtans kort voor lank verstrengel in ’n komplekse, finansieel onlonende situasie binne en anderkant die grense van die Suider-Afrikaanse kolonie wat hy formeel in 1814 gestig het. Soos die gerekende historikus en kenner van die destydse Britse Ryk, Ronald Hyam, geskryf het: Van al die streke in die wêreld waar Brittanje sy invloed wou laat geld, het nie een soveel komplikasies met soveel onbeheerbare dilemmas as Suid-Afrika gehad nie. Gevolglik het Brittanje gevoel hy is vasgevang tussen sy liberale besorgdheid oor die wit mense en sy humanitêre besorgdheid oor die swart mense.¹

    As die besettingsmag was Brittanje, regstreeks of onregstreeks, verantwoordelik vir die beskerming van al die Kaap se inwoners, nie net sy eie mense nie. Dit het ingesluit die afstammelinge van die nomadiese San en Khoi-Khoi; die Afrikaner-afstammelinge van die Hollanders – die eerste Europeërs wat hulle in 1652 aan die Kaap gevestig het; ’n groot gemengde (bruin) bevolking; asook verskeie Xhosa-stamme langs die oosgrens.

    Ná minder as twee dekades het die plattelandse Afrikaners meer as genoeg van Britse regering gehad. Hierdie Afrikanerboere (of Boere) was diep godsdienstig, met ’n weersin in aardse gesag en het hulleself as die suiwer ras beskou, uitverkore op ’n swart vasteland, die skeppers van hul eie lot.² Toe Brittanje in 1833 slawerny oral in sy ryk afskaf en sodoende die Afrikaners se tradisionele lewenswyse bedreig, het sowat 6 000 Boeregesinne hul ossewaens gepak en met hul helpers en vee die binneland in getrek. Teen 1845 het meer as 15 000 burgers en hul gesinne, vergesel van 5 000 bediendes, die kolonie verlaat op soek na nuwe weivelde – en bevryding van die bemoeisieke Britte.³

    Soos Sarah Gertrude Millin kleurryk skryf: [Hierdie Boere] het met hul kuddes volgens die seisoen van hoëveld na laeveld getrek. Hulle het in tente of in huise van sinkplaat en modder gewoon. Slap in die saal, met lang stiebeuels, het hulle op hul toiingrige perde gery. Hul literatuur was die Bybel – die Ou Testament, eerder as die Nuwe. Hulle het geen koerante gesien nie. Hulle het geen nuus gekry nie. Europa was uitasem aan die verander en hulle het niks daarvan geweet nie. Hulle het die vryheid en sekuriteit, die waardigheid en krag, die vorstelikheid en gasvryheid van alleenheid gehad – daarmee saam ’n engheid, ontwykendheid, ledigheid, onwetendheid.

    Die meeste Voortrekkers het hul weg noordwaarts gebaan, oor die Oranje- en Vaalrivier na die hoë grasveldplato, maar sommige het ooswaarts oor die Drakensberge na die vrugbare Natal getrek. Die inheemse stamme se sterk weerstand teen die indringing is slegs met die gereelde gebruik van vuurwapens in toom gehou. Al het hierdie trekkers ’n gemeenskaplike doel gehad, was hulle alles behalwe verenig. In die klein republieke wat hulle in dele van die latere Transvaal en Oranje-Vrystaat gestig het, was daar gereeld onderlinge twiste, wat dikwels op ’n skietery uitgeloop het.

    Aanvanklik het die Kaapse koloniale administrasie die trekkers maar laat begaan, oortuig dat hul wankelende republieke uiteindelik weens verouderde boerderymetodes, ’n gebrek aan finansiering en die aggressiewe weerstand van swart stamme sou verbrokkel. In Natal was Brittanje egter minder toegeeflik en het geweier om enige Voortrekker-aansprake op onafhanklikheid te erken. Die risiko dat Port Natal (Durban) in vreemde hande kon val, was net te groot.

    Die Britte was gretig om ontslae te raak van finansiële en veiligheidsverpligtinge in dele van Suider-Afrika wat van min ekonomiese waarde was. Hulle was bowendien bekommerd oor rassebotsings as die Boere verder noord- en ooswaarts sou uitbrei en dat dit die vrede en stabiliteit oor die hele subkontinent kon bedreig. Teësinnig het die Britte dus in 1852 en 1854 met onderskeidelik Transvaal en die Oranje-Vrystaat oor onafhanklikheid ooreengekom. In ruil vir hul onderneming dat hulle nie verder noordwaarts sou uitbrei nie, sou die twee Boererepublieke alle seggenskap oor hul interne sake kry. Dit het beheer oor die veel talryker naturelle binne hul grense ingesluit.

    Albei die republieke het nogtans swak en onstabiel gebly. In Transvaal, waar die Venda, Pedi, Noord-Sotho en Tswana baie naby aan die wit mense gewoon het, was grondkwessies en arbeidsverhoudinge ’n konstante bron van konflik. In die verre noorde het al die wit mense weens onrus in Venda uit die Zoutpansbergdistrik weggetrek.

    In die Vrystaat was daar in die eerste 14 jaar drie oorloë tussen die Boere en die Basotho. In die Britse kolonies het dit nie veel beter gegaan nie. Die Kaap is deur droogtes, sprinkane, ’n daling in die wolprys en ’n tekort aan geld geteister. In Natal het die klein wit bevolking in voortdurende vrees vir ’n Nguni-opstand of ’n inval uit Zoeloeland oor die Tugelarivier geleef. Nie verbasend nie, het Brittanje sy twee beleggings in Suider-Afrika as van die Britse Ryk se lastigste, duurste en nie-winsgewendste besittings beskou.

    Die imperiale belange in Suid-Afrika het egter oornag in 1867 ’n gedaanteverwisseling ondergaan toe ’n diamant in Hopetown in die Kaapkolonie ontdek is. Dit is in 1869 gevolg deur die ontdekking van spoeldiamante op die oewer van die Oranjerivier in die Vrystaat. Twee jaar later is die wêreld se rykste diamantvonds op Griekwagrond op die grens tussen die Kaapkolonie en die Vrystaat ontdek. Nie lank nie, of Griekwaland-Wes het die derde Britse kroonkolonie in Suid-Afrika geword. In 1886 is die rykste goudare ter wêreld op die Witwatersrand, ’n rotsagtige rif op die Transvaalse hoëveld, oopgeboor. In minder as twee dekades het verafgeleë Suid-Afrika van ’n ekonomies hopelose geval in ’n gesogte skatkamer verander.

    Honderde fortuinsoekers van oor die hele wêreld, veral van die Britse Eilande, het na die diamant- en gouddelwerye gestroom, op soek na kitsrykdom. Die Boere het hulle die Uitlanders genoem, en die mynmaatskappye wat kort op hul hakke gevolg het, het ’n nuwe en onwelkome bedreiging vir die Afrikanerlewenswyse en patriargale regeringstyl geword.

    *

    In Natal, die Zoeloes se voorvaderlike tuiste, is die klein wit bevolking van Britse soldate en hul families by Fort Victoria aan die Port Natalse kus en trekboere in die binneland tussen 1849 en 1852 aangevul deur nog 5 000 Britse setlaars, geborg deur ’n immigrasieskema, en in 1860 deur ingeboekte arbeiders wat uit Indië gebring is om in die suikerrietplantasies langs die kus te werk. Hierdie nuwe aankomelinge was ’n inspuiting vir die sukkelende koloniale ekonomie, waarvan die ontwikkeling gestrem is deur onpraktiese grondgebruik en die afwesigheid van ’n toereikende kommunikasienetwerk. Totdat ’n spoorlyn in die 1870’s gebou is, is goedere in Natal per ossewa vervoer.

    In die tyd rondom Louis Botha se geboorte was Mpande die Zoeloe-koning. Vyf en twintig jaar tevore het sy voorganger, Dingane, ingestem om die grond tussen die Tugela- en die Umzimvuburivier aan Piet Retief en sy invallende Voortrekkers af te staan in ruil vir die gesteelde vee wat die Boere van ’n mededingende opperhoof teruggeneem het. By die ondertekeningseremonie in Dingane se kraal is Retief se groep van 67 trekkers en 30 bediendes oorweldig en wreedaardig vermoor. Elf dae later het Zoeloe-impi’s Boerelaers langs die Bloukrans- en Boesmansrivier aangeval. Vyfhonderd mense, meestal bediendes, het gesterf en meer as 25 000 beeste, asook skape en perde, is gebuit. Wraak het spoedig gevolg. Op 16 Desember 1838 het 470 Boere onder leiding van Andries Pretorius Dingane se leër van tussen 8 000 en 10 000 man naby Dundee in die Slag van Bloedrivier vermorsel. Oorleweringe oor dié gebeurtenis is diep in die Afrikanerkultuur ingegrif. Botha se pa, Louis, was 11 jaar oud, en hy was saam met sý pa op die toneel.

    Ná die geveg het die seevierende Voortrekkers die Republiek van Natalia op grond suid van die Tugela gestig. Dit het die klein Britse nedersetting by Port Natal ingesluit. Die skeuring in Zoeloe-geledere ná die ramp by Bloedrivier het Mpande gedwing om hulp van die Boere te vra om sy halfbroer Dingane omver te werp. Die Boere het geesdriftig op dié versoek gereageer. ’n Paar maande later het die Natalse Volksraad Mpande as koning van die Zoeloes aangewys en hom as leier van die vasalstaat tussen die Tugela en die Umfolozi (vandag Mfolozi) aangestel.

    Van die Boere se hoop om beheer oor die hawe te kry, het egter niks gekom nie. Die Britse regering het steeds die trekkers as Britse onderdane beskou en het geweier om aan enige eis om onafhanklikheid te voldoen. In Mei 1842 was daar ’n gewapende skermutseling oor die beheer van Port Natal tussen die Britte en die Boere wat by Congella kamp opgeslaan het. Die Britte het etlike manskappe verloor en die koloniale administrasie het toe teësinnig die hele gebied tussen die Umzimkulu- (vandag Mzimkulu) en die Umfolozirivier geannekseer, met die Drakensberge as die noordelike grens.

    In 1845 is Natal formeel tot ’n afsonderlike distrik van die Kaapkolonie verklaar. Dit het dadelik ’n einde aan die kortstondige Republiek van Natalia gemaak. Anders as wat met die Kaap die geval was, was Natal se grense nou baie duidelik aangedui en die kolonie het vreedsaam gebly so lank die Mpondo in die suide en Mpande se Zoeloes in die noorde min tekens van aggressie getoon het. Die Boere het geweier om hulle aan die Britse regering te onderwerp en het weer eens hul skrede na Transvaal gewend. Ander het verkies om ’n lewe in die welige Natal te maak en hulle het talryk en voorspoedig geword. Prominent onder hulle was die familie van ’n trekker uit die Kaap, ene Philip Botha.

    HOOFSTUK 1

    GROOTWORDJARE

    Kindertyd

    Die man wat bestem was om Suid-Afrika se eerste premier te word, is op 27 September 1862 op die plaas Onrust, naby Greytown, in Natal gebore. Louis Botha was die sewende in ’n Boeregesin van 13 kinders – sewe dogters en ses seuns. Soos sy latere politieke tydgenote Jan Christiaan Smuts en JBM (Barry) Hertzog, was hy by geboorte ’n onderdaan van koningin Victoria.

    Sy Botha-voorouers was Duits-Frans, waarskynlik die afstammelinge van ’n jong soldaat, Friedrich Boot, wat in 1678 uit die Duitse staat Thuringia na die Kaap gekom het. Meer as ’n eeu en ’n half later was die Bothas onder die eerste Boere wat die Suidwes-Kaap vir weivelde in die noorde en ooste verruil het om weg te kom van die arrogante Britte wat, volgens hulle, nie Afrikanerbelange op die hart gedra het nie.

    Louis se oupa, Philip, het die veeleisende trek per ossewa aangepak: van Swellendam in die Suid-Kaap oor die Drakensberge ooswaarts na ’n onbewoonde gebied in Natal tussen Durban en Pietermaritzburg. Dit staan vandag steeds as Botha’s Hill bekend. Sy seun, Louis, is in 1829 gebore en het tot op 21 op sy pa se plaas gewoon. Daarna het hy noordwaarts getrek na De Rust naby Greytown, ’n dorpie wat Harold Spender, die Britse joernalis en Botha se vroeë biograaf, beskryf het as in daardie tyd die mees afgeleë beskaafde kol in hierdie deel van Suid-Afrika, op die grens van die wildste deel van Zoeloeland.¹

    Louis se ma, Salomina (Minnie), was van Hugenote-afkoms. Sy was die mooi en gewilde dogter van Gerrit van Rooyen, ’n welvarende sakeman van Uitenhage in die Kaap en goeie vriend van die Boereleier Andries Pretorius. Sy het Louis se pa op Greytown ontmoet, waar hulle getroud is en 12 van hul kinders gebore is.

    Die lewe op die De Rust-plaas was moeilik. Die Bothas se plaashuis het meer as een keer afgebrand, weens vonke van die kombuisvuur of weens brandstigting deur Zoeloes wat ontevrede was oor die wit man se indringing. Daar was bitter min geriewe. Soos al die Boere, moes die gesin op die geweer staatmaak om hulle teen aanvallers en wilde diere te beskerm en om vleis op tafel te kry; wild was volop.

    Soos sy pa, het Louis sr. met bees en skaap geboer en met velle en wol ruilhandel gedryf in die dae voordat daar markte en spoorweë was. Hy was hartstogtelik onafhanklik van gees en rusteloos van aard. Toe Louis jr. sewe jaar oud was, het geldnood sy pa gedwing om te verkoop en sy groot gesin op grond by Vrede in die Noordoos-Vrystaat, op die pad tussen Natal en Pretoria, te hervestig. Daar het hy later ’n welvarende boer geword.

    ’n Sonnige geaardheid

    Soos alle Boerekinders het die jong Louis in ’n diep godsdienstige, Calvinistiese familie grootgeword. Hy het van jongs af perd gery en het vroeg leer skiet, maar hy het min formele onderrig gekry. Hy het geleer wat hy kon van rondreisende Hollandse onderwysers en die bietjie wat sy ouers hom kon bied. Gevolglik het hy min gelees. Hooghollands was destyds die formele skryftaal van die Boere, maar Afrikaans was hul spreektaal. Louis het Engels net by besoekers aan sy ouerhuis gehoor en dit nooit vlot gepraat nie. Selfs in sy latere lewe was hy altyd huiwerig om dit in die openbaar te gebruik.

    Hy het van kindsbeen af saam met swart kinders op die plaas geleef en gespeel en hul geskiedenis en gebruike leer ken. Hy het Zoeloe en Sotho vlot leer praat, maar hy was immer bewus van die baas-en-kneg-verhouding tussen sy familie en hul plaaswerkers.

    Fisiek was hy ’n toonbeeld van jeugdige krag – lank en sterk gebou, met ’n vriendelike glimlag en viooltjieblou oë wat in sy middeljare uitgebult het. Hy het ’n gemaklike persoonlikheid gehad, graag konsertina gespeel, ander mense se geselskap bo sy eie verkies en vriende gemaak net waar hy gegaan het. Intellektueel was hy instinktief, eerder as serebraal – ’n man van aksie eerder as ’n student – maar onmiskenbaar intelligent. Hy het gesonde verstand aan die dag gelê wanneer hy die regte mense kies om hom te adviseer, die regte mense om hom te lei, die regte mense om sy beste vriende te word.² Hy was met ’n natuurlike gesag geseën en selfs as tiener het sy ouer broers en susters dikwels na hom geluister.

    Tog kon Louis se sonnige geaardheid en aangename persoonlikheid nie heeltemal sy gebrek aan innerlike selfvertroue verberg nie, ook nie sy gevoeligheid vir afkeur en kritiek nie, skryf sy opmerksame biograaf, Johannes Meintjes. In sy latere lewe was hy altyd hoflik teenoor vroue en hy was gelukkig getroud, maar hy het altyd die geselskap van mans nodig gehad. Hul gesprekke, hul warmte en hul vriendskap was vir hom so nodig soos suurstof.³ Sy kerneienskap, wat hom deur sy hele lewe gekenmerk het, was sy onwankelbare toewyding en lojaliteit aan die sake waarin hy geglo het. Tog was hy maklik seergemaak wanneer ander hom gekritiseer of sy optrede teengestaan het.⁴

    Die Bothas se plaashuis by Vrede was die tuiste van ’n groot en hegte familie, waarvan die baie kinders na mekaar omgesien en die plaaswerk gedoen het. In die dae voor die Anglo-Boereoorlog was huwelike tussen Afrikaners en Engelssprekendes nie ongewoon nie en sommige van Louis se susters is met Engelse wat hulle in Greytown ontmoet het getroud. In die gasvrye Botha-huishouding is alle besoekers welkom laat voel. Al sou die lede van sy familie hulle mettertyd aan teenoorgestelde kante van die Boer-en-Brit-skeidslyn bevind, het Louis nooit rede tot teësin in individuele Engelse gehad nie, en dit ook nooit ontwikkel nie.

    Tienerjare

    Louis het sy tienerjare meestal in die veld deurgebring, wat hom gehard en selfstandig gemaak en sy persoonlike verantwoordelikheidsin ontwikkel het. Sy pa het meer as een keer sy volhardingsvermoë getoets deur hom saam met die skaaptroppe te stuur wanneer hulle vir winterweiding van die koue Vrystaat na die warmer Zoeloeland is. Hy was gretig om te leer en het gou uitgevind wat die basiese beginsel van suksesvolle veeboerdery is, iets waaroor hy sy lewe lank passievol was.

    Onderweg na Transvaal het Natal se invloedryke sekretaris van naturellesake, sir Theophilus Shepstone (Somtseu onder die Zoeloes en Stoffel Slypsteen onder die Boere),⁶ ’n nag op die Bothas se plaas deurgebring. Shepstone het vlot Afrikaans gepraat en die jong Louis, toe 15 jaar oud, was verstom om te hoor hoe hy planne vir die moontlike anneksasie van Transvaal namens die Britse kroon met sy pa bespreek. Botha sr. was heftig daarteen gekant en het sy besoeker gewaarsku dat die gevolge rampspoedig kon wees. Shepstone moes sy opdragte uit Londen uitvoer en kon hom dus nie aan dié goeie raad steur nie. Die gevolg was die eerste van twee bittere konflikte tussen die Boere en die Britte, waarvan nie een van die twee kante ooit heeltemal sou herstel nie.

    Moeilikheid in Transvaal

    Die dryfkrag agter imperiale Brittanje se voorgestelde anneksasie van Transvaal was die minister van kolonies, lord Carnavon. Twitters, soos hy onder sy politieke kollegas bekend was omdat hulle

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1