Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Anton Rupert: Die lewe van ’n sakelegende
Anton Rupert: Die lewe van ’n sakelegende
Anton Rupert: Die lewe van ’n sakelegende
Ebook705 pages10 hours

Anton Rupert: Die lewe van ’n sakelegende

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Die verstommende storie van ’n sakelegende wat een van Afrika se welvarendste maatskappye uit niks opgebou het. Wat was Anton Rupert se geheim? Sy sienings oor die skepping van werk en welvaart in ’n sukkelende ekonomie, is sy blywende nalatenskap met diepgaande lesse vir Suid-Afrika vandag. Sy storie is meer relevant as ooit. Hier vertel die gesoute sakeskrywer Ebbe Dommisse die volle verhaal, met kleur en anekdotes, in dié opgedateerde uitgawe van sy hoogaangeskrewe biografie van Rupert.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateMar 8, 2024
ISBN9780624094746
Anton Rupert: Die lewe van ’n sakelegende
Author

Ebbe Dommisse

Ebbe Dommisse is op 14 Julie 1940 op Riversdal gebore. Hy behaal 'n BA-graad aan die Universiteit van Stellenbosch en ook 'n MA-graad in joernalistiek aan die Columbia Universiteit in New York. Hy begin in 1961 sy loopbaan as joernalis by Die Burger, waar hy in 1990 redakteur word tot met sy aftrede in 2000. Ebbe is die medeskrywer (met Alf Ries) van topverkopers Broedertwis (1982) en Leierstryd (1990) - en ook hierdie boek met Willie Esterhuyse, Anton Rupert - 'n lewensverhaal.

Read more from Ebbe Dommisse

Related to Anton Rupert

Related ebooks

Related articles

Reviews for Anton Rupert

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Anton Rupert - Ebbe Dommisse

    9780624094746_FC.jpg

    Skrywers werk lank en doen intense navorsing om ’n boek te skep wat uiteindelik gepubliseer word. Die e-boekweergawe van so ’n titel is, net soos die gedrukte uitgawe, nie gratis nie. Daarom mag jy nie die e-boek gratis versprei nie, maar moet jy dit by ’n gemagtigde e-boekhandelaar koop. Indien jy die e-boek gratis versprei, oortree jy die Wet op Outeursreg 98 van 1978 en stel jy jouself bloot aan vervolging.

    Die lewe van ’n sakelegende

    EBBE DOMMISSE

    Tafelberg

    Voorwoord

    DIE LEWENSLOOP van Anton Rupert, ’n rolmodel vir geslagte van jonger Suid-Afrikaanse sakelui, wek steeds groot belangstelling in die sakewêreld sowel as die wyer politieke landskap.

    Hierdie heruitgawe verskyn nadat die biografie van 2004 die eerste boek was wat ’n volledige oorsig van sy hele loopbaan, van kindsbeen af, gegee het. Hy was lank onwillig dat ’n biografie geskryf moet word, totdat Hannes van Zyl, destyds hoof van Tafelberg Uitgewers, met die eeuwisseling weer die idee van sy lewensverhaal geopper het. Dr. en mev. Huberte Rupert het toe daartoe ingestem.

    Die uitgewer het my in 2001 genader om die skryfwerk te onderneem, ’n opdrag wat tegelyk uitdagend en veeleisend was, maar deurentyd fassinerend. Anton Rupert was ondanks sy openbare profiel ’n uiters private mens, maar met wye belangstel­lingsvelde, terwyl sy verhaal ook deel uitmaak van die opkoms van die Afrikaner in die ekonomie.

    In hierdie heruitgawe is dele wat eintlik nog méér relevant geraak het in die knel­lende ekonomiese situasie wat Suid-Afrika ongelukkig sedert die hoopvolle oorgang van 1994 begin beleef het, behou of opgedateer, terwyl gebeurde wat minder rele­vant geraak het, ietwat verkort is.

    Besonder relevant is byvoorbeeld staatsinmenging in private inisiatief, onder meer rakende ’n wanindruk in sommige kringe dat die destydse regering Afrikaner-entrepreneurs soos Rupert bevoordeel het, terwyl regerings­beleid en kwotastelsels hom eerder benadeel het. Ondanks sorgwekkende werkloosheid heers daar ook steeds in die ANC-regering ’n strewe na hegemonie van die staatsbestuur en die ekonomie, terwyl Rupert eerder klein sakeondernemings en nywerhede as die hoof­bron van werkskepping bevor­der het. Bowenal is sy diepgaande siening van deel­genootskap en medebestaan, die maatskaplike verantwoordelikheid van sake­onder­nemings asook innovasie en waagmoed van sakelui so belangrik as ooit.

    Dele in die vroeëre uitgawes oor Rupert se opvolger, sy seun Johann, wat die beheer van die ou Rembrandt Groep oorgeneem het, is bondiger saamgevat, aangesien die jonger Rupert se eie besondere stuurmanskap inderdaad ’n afsonderlike biografie verg – veral betreffende Richemont, wat hy tot die naasgrootste groep in die internasionale mark vir luukse goedere uitgebou het.

    Hoewel lede van die Rupert-familie samewerking met die skryf van die aanvank­like manuskrip verleen het, was dit hul wens sowel as die skrywer s’n dat die boek nie ’n goedgekeurde biografie moet wees nie. So ’n benadering in die geval van ’n bio­grafie kan soms geloofwaardigheids- en ander probleme oplewer, en vir ’n bio­graaf is dit sekerlik wenslik om ’n sekere afstand van die onderwerp te probeer handhaaf.

    Die eerste uitgawe van die biografie het vier herdrukke beleef voordat die tweede uitgawe verskyn het. Daarin is gebeurde bygewerk tot en ná dr. Rupert se dood op 89-jarige ouderdom op 18 Januarie 2006, drie maande nadat sy vrou, Huberte, gesterf het. Navorsing en boekstawing het ’n paar jaar geduur waarin ’n groot ver­skeidenheid van mense en bronne geraadpleeg is, in die buiteland sowel as hier te lande – veral in die ou Rembrandt-argief, wat sedertdien tot niet gegaan het, hoewel materiaal oor die Ruperts behoue gebly het.

    ’n Opregte woord van dank gaan aan almal wat met die navorsing behulpsaam was, in die besonder lede van die Rupert-familie sowel as hul groot aantal vriende, kennisse en kollegas wie se hulp onontbeerlik was. Dank is ook verskuldig aan Riaan de Villiers vir hulp met die redigering en opdatering van die heruitgawe, en aan Linde Dietrich vir die vertaling.

    Laastens ’n besondere dankwoord aan my vrou, Daléne, vir haar liefde, geduld en sorgsaamheid tydens al die ure en dae voor die rekenaar.

    EBBE DOMMISSE

    Kaapstad 2023

    DEEL I

    KEERPUNT

    HOOFSTUK 1

    Gesplete atome en parke vir vrede

    ANTON RUPERT het net een keer in sy loopbaan willens en wetens ’n hele dag van sy kantoor weggebly. Dit was op 6 Augustus 1945, nadat die eerste atoombom bo die Japanse hawestad Hirosjima ontplof het. Dit het die gang van die geskiede­nis – en sy lewensuitkyk – onherroeplik verander.

    Hy was toe nog in Johannesburg, ’n onervare jong ondernemer met ’n fabriek wat pyptabak verwerk en in die knellende oorlogstoestande gesukkel het om kop bo water te hou. Toe hy die oggend van die ontploffing verneem, bel hy sy kantoor om te sê dat hy die hele dag nie beskikbaar sou wees nie – hy bly tuis om die vernietigende mag van die kernbom te oordink.

    Met sy kennis van chemie, waarin hy ’n meestersgraad verwerf het, begryp hy dat iets ontsettends gebeur het. Daardie dag sterf 100 000 van die 245 000 inwoners van Hirosjima, platgevee deur die geweld van kernkrag, en nog 100 000 agterna. Drie dae daarná verpletter die tweede en laaste atoombom die skilderagtige hawestad Nagasaki, en nog 80 000 mense kom om.

    Die verwoestende kernbomme eindig Japan se deelname aan die oorlog. Vyf dae daarna erken keiser Hirohito dat Japan vir die eerste keer in sy geskiedenis verslaan is. Hy het die oervrees vir Armageddon, die einde van die wêreld, uitgespreek. Die beelde van algehele vernietiging deur die twee atoombomme, Little Boy en Fat Boy, het nie net Japan se moed gebreek nie, maar die hele mensdom geruk. Sedertdien is nog veel kragtiger kernbomme gebou en het interkontinentale ballis­tiese missiele hul trefkrag verder uitgebrei.

    Rupert skryf later: Sedert die ontsluiting van die krag van die atoom – sedert Hirosjima – het alles verander, behalwe ons manier van denke. In hierdie atoom-era is geen land meer so afgeleë dat dit ’n skuilplek geword het nie. Die Bybelse ‘Ek is my broer se hoeder’ het ’n koue werklikheid geword; depressies is nou wêreld­wyd; welsyn ook. In hierdie eeu waarin minstens twee volke oor genoeg bomme beskik om alles uit te wis, leef ons soos skerpioene in ’n bottel – en hy wat alles wil behou, sal alles verloor.¹

    Voortaan, besef hy, sou slegs medebestaan die mensdom kon red – Mense sal eenvoudig móét leer saamleef. Die begrip sou Rupert vir die res van sy lewe aanvuur. ’n Blywende herinnering daaraan staan later in sy kantoor: die beeldhouer Rodin se bekende Die Katedraal, ’n bronsbeeld van twee regterhande wat hy in die jare sestig aangekoop het. Dit word vir hom ’n simbool van medebestaan, en die grondslag van sy filosofie van deelgenootskap waarop hy sy sakeryk sou bou.

    Daarmee saam beskou hy maatskaplike verantwoordelikheid as een van die drie groot verpligtinge van ’n suksesvolle sakeonderneming. Dit geld vir medebestaan tussen mens en mens, maar ook medebestaan tussen mens en natuur. In Millennia­park op Stellenbosch beywer hy hom later vir die ontwikkeling van transnasionale wild- en natuurparke wat multilaterale samewerking tussen regerings van verskillende lande verg. Vredesparke – met die wenslike voorvereiste van vrede tussen volke en nasies, sodat bedreigde spesies veilig sou kon voortbestaan ondanks ’n menslike bevolkingsontploffing wat die biologiese kringloop bedreig – word ’n dwingende visie wat Rupert tot in sy tagtigerjare dag in en dag uit na sy hoof­kantoor terugbring.

    Die Ruperts verskyn gereeld op die saketydskrif Forbes se lys van die wêreld se 500 rykste mense, die miljardêrs met geskatte bates van meer as 1 000 miljoen Amerikaanse dollar. Naas die Ruperts lys Forbes net een ander familie uit Afrika: die Oppenheimers, erfgename van die Suid-Afrikaanse mynmagnaat sir Ernest Oppenheimer en sy seun Harry.² Die vernaamste verskil tussen dié twee families is dat Rupert met feitlik niks begin het nie, en ook nie op sy land se minerale ryk­dom staatgemaak het nie.

    Hy begin as chemiestudent met ’n belegging van net £10 in ’n klein tabak-onderneming, en ontwikkel dit stelselmatig in ’n internasionale ketting van tabak­belange onder die wêreldbekende vleuels van Rembrandt en Rothmans. Onder die vaandel van SFW en Distillers produseer hy ook van die bekendste Suid-Afrikaanse wyne en spiritualieë. Later betree hy die internasionale mark in luukse goedere met die maatskappy Richemont, wat beroemde handelsmerke soos Cartier, Alfred Dunhill en Mont Blanc insluit.

    Daarby ontwikkel hy tot ’n mens vir alle seisoene, met aktiewe belangstellings buite die sakelewe: bewaarder van sy land se historiese erfenis, beskermheer van die kunste; rigtingwyser op politieke mynvelde; weldoener wat ander help om hulleself te help. Tog bly hy ’n intens private persoon; iemand wat nie geredelik media-onderhoude toestaan nie en wie se private lewe soos sommige van sy groot saketransaksies dikwels in geheimsinnigheid gehul is.

    Hy stel ook belang in die natuur en dierelewe, die grondslag waarop die idee van vredesparke ontwikkel. Die verskuiwing van die eerste trop olifante uit die Krugerwildtuin na die Groter Limpopo-wildpark – wat ook nasionale parke in Mosambiek en Zimbabwe sou omvat – vind plaas op 4 Oktober 2001, op Rupert se 85ste verjaardag. Die eerste oorplasing van grootwild na die beoogde vredes­park was vir hom ’n verjaardaggeskenk sonder weerga: die verwesenliking van ’n tien jaar lange droom.

    Sy eggenote, Huberte, was steeds aan sy sy. Dié sterk vrou was reg deur sy loopbaan, van hul studentedae af, sy steunpilaar en klankbord. ’n Week tevore, op 27 September 2001, het hulle hul diamantbruilof, die sestigste herdenking van hul huwelik in 1941, gevier.

    Rupert put besieling uit die denke van Albert Schweitzer oor eerbied vir die lewe. Die Duitse dokter-filosoof en filantroop, wenner van die Nobelprys vir Vrede in 1952, het sy lewe aan die genesing van Afrikane in sy hospitaal in Lambaréné in Gaboen gewy. Die beginsel word ook weerspieël in ’n aangrypende bronsbeeld in die ingangsportaal van Rupert se kantoorgebou op Stellenbosch. Daar stap besoekers verby die Duitse kunstenares Käthe Kollwitz se Mutter mit Zwillingen, die uitbeelding van ’n moeder wat haar tweeling in haar arms koester. Op ’n verdie­ping daarbo in ’n kleinerige kantoor, naas ’n ontvangslokaal waaroor Rodin se Katedraal waak, het Rupert ná sy aftrede sy dagtaak voortgesit.

    In sy tagtigerjare loop die voorheen energieke entrepreneur geboë weens ruggraat­ver­kromming. Hy begin moeilik lees, en alle korrespondensie en leeswerk moet met behulp van ’n videoskerm op sy lessenaar vergroot word. Tipies van Rupert hou hy dit as ’n bate voor – omdat hy minder kon lees, sê hy, bied dit aan hom die kans om meer te dink.

    Anton Rupert is op 18 Januarie 2006 in sy slaap oorlede, in die huis by Thibault­straat 13 op Stellenbosch waar hy en Huberte langer as ’n halfeeu gewoon het – net twee maande ná haar dood op 6 November 2005.

    Die lewensverhaal van hierdie legendariese sakeleier en weldoener oorspan ’n kwart van die moderne Suid-Afrika se geskiedenis. Dit begin met sy geboorte tydens die Eerste Wêreldoorlog in sy geliefde Karoo.

    DEEL II

    VORMING

    HOOFSTUK 2

    Oos-Kaapse wortels

    ANTON RUPERT is op 4 Oktober 1916 in die historiese Oos-Kaapse dorp Graaff-Reinet gebore. Hy was van Duitse, Engelse en Hollands-Afrikaanse herkoms. Sy oupagrootjie aan vaderskant (en die Ruperts se Suid-Afrikaanse stamvader) was Johann Peter Ruppert, ’n Pruis van geboorte, en ’n setlaar aan die oosgrens. (Die tweede p het mettertyd verval.) Van moederskant was Rupert ’n Suid-Afrikaner uit die negende geslag.

    Johann Ruppert had ’n interessante geskiedenis. Hy het hom ná die uitbreek van die Krimoorlog in 1854 aangesluit by die Britse leër, wat soldate op die Euro­pese vasteland gewerf het. Ná die oorlog is lede van die German Legion die keuse gegee om hulle aan die Kaapse oosgrens te vestig. Voor sy koms was Johann by Colchester, noordoos van Londen, gestasioneer. Weens die tekort aan vroue in die Kaap is die jong soldate wat vir emigrasie na Brits-Kaffraria gewerf is, aan­gemoedig om voor hul vertrek te trou. Ruppert, toe agttien jaar oud, trou dus op 19 Oktober 1856 met Emma Susanna Grandfield-Crosby, ’n sewentienjarige mei­sie van Colchester.

    Altesame 2 362 offisiere en manskappe van die German Legion, vergesel van net 361 vroue en 195 kinders, is teen 1858 gevestig in die latere Ciskei, wat toe drasties ontvolk was – onder meer weens die pokke-epidemie van 1857, asook die Xhosas se nasionale selfmoord weens die gesigte van die profetes Nonquase. Nog 2 700 Duitse burgerlike setlaars, vriende of familie van die militêre setlaars, het hulle later by die groep aangesluit.

    Johann Peter en sy metgeselle het per skip in Oos-Londen aangekom. Hy was aanvanklik gestasioneer op Berlin, een van die Oos-Kaapse dorpe wat toe ’n Duitse naam gekry het, en grond is daar aan hom toegeken. Die projek verloop egter nie soos die Britse owerheid beoog het nie. Die grensprobleme het afgeneem, en met die uitbreek van die Indiese muitery kort daarna vertrek meer as duisend lede van die German Legion vrywillig na Indië. Net 386 het teruggekeer. Min van die Duitse setlaars het suksesvol geboer, want hul kleinhoewes was te klein, en meestal ongeskik vir landbou. Die legioen is in 1861 ontbind.

    Ruppert en sommige ander setlaars verhuis toe na Graaff-Reinet. Weens die Groot Trek was die dorp ook ontvolk. Nogtans was dit een van die grootste dorpe in Kaapland, met ’n besonder kleurryke geskiedenis, wat ’n groot rol in Anton Rupert se lewe sou speel.

    Graaff-Reinet is die oudste dorp in die Oos-Kaap, en een van die oudstes in Suid-Afrika. Dis in 1786 gestig deur die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie as die administratiewe setel van sy vierde distrik in die latere Suid-Afrika. As sulks was dit geregtig op ’n drosdy. Die dorp is vernoem na die Kaapse goewerneur Cornelis Jacob van de Graaf en sy vrou, Cornelia Reynet. Ten tyde van sy stigting is die distrik deur sowat 600 boeregesinne bewoon. In 1795 lei Adriaan van Jaarsveld ’n opstand teen die gesag van die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie, en die dorp word dus as die eerste Boere-republiek bestempel. Verskeie ander opstande volg, maar almal loop mettertyd dood.

    Twee Oos-Kaaplanders wat landwye bekendheid verwerf het, Andries Stock­enström (1792-1864) en ds. Andrew Murray (1794-1866), is daarna as die ware stigters van die dorp beskou. Die Skotse sendeling Andrew Murray (senior), wat hom in 1822 op Graaff-Reinet gevestig het, het later moderator van die sinode van die NG Kerk geword. ’n Indrukwekkende kerkgebou is opgerig en hy en sy vrou, Susanna, het lank in Reinethuis – die pragtige Kaaps-Hollandse pastorie – gewoon. Lede van die Londense Sendinggenootskap, onder wie dr. John Philip en dr. JT van der Kemp, stigter van die sendingstasie Bethelsdorp, was ook op Graaff-Reinet aktief.

    Stockenström het die stelsel van plaaslike bestuur ingestel. Hy lê die dorp in strate en erwe uit en laat watervore aanlê. Hy was slegs 23 toe hy in 1815 as landdros aangestel is, en verwerf roem as ’n versiende Oos-Kaaplandse leier. Sy siening van medebestaan in die onstuimige grensgebied sowel as twee lewensbeginsels – waarheid en geregtigheid – wat hy ook teenoor die Britse sendelinge voorstaan, stem grootliks ooreen met Anton Rupert se latere filosofie.

    Vroeë reisigers beskryf Graaff-Reinet – met sy groot getal indrukwekkende ge­boue in die hoefyster-kromming van die Sondagsrivier – as die Juweel van die Karoo. Heelparty is in die Kaaps-Hollandse boustyl, maar daar is ook Georgi­aanse dubbelverdiepinghuise, Victoriaanse huise versier met broekieskant, en platdak-Karoohuise. In die twintigste eeu word Graaff-Reinet die dorp met die meeste historiese gedenkwaardighede in die land.

    Die afstammelinge van die rebelle van 1795 ontwikkel al hoe meer griewe teen die Britse koloniale owerheid, en teen 1838 is die Groot Trek in volle gang. Verskeie Trekkerleiers het noue bande met Graaff-Reinet gehad. Gerrit Maritz was ’n welgestelde wamaker op die dorp (sy plaas Welgevonden buite die dorp is ’n eeu en ’n half daarna deur Anton Rupert se seun Anthonij aangekoop), en Andries Pretorius van Bloedrivierfaam het in die distrik geboer. Die huwelike van die Trek­kerleiers Piet Retief en Louis Trichardt is in die plaaslike kerk voltrek. Sarel Cilliers is op die nabygeleë Nieu-Bethesda gebore, en Andries Hendrik Potgieter is op Graaff-Reinet gedoop.

    Twee Republikeinse presidente, Jacobus Nicolaas Boshof van die Oranje-Vrystaat en Thomas Francois Burgers van Transvaal, het uit Graaff-Reinet gekom. Later het ’n toekomstige eerste minister van Suid-Afrika, dr. DF Malan, die kansel van die NG kerk op Graaff-Reinet verlaat om in 1915 die eerste redakteur van Die Burger, die oudste Afrikaanse dagblad, te word. Die Pan-Africanist Congress se stigter-leier, Robert Mangaliso Sobukwe, het ook op Graaff-Reinet skoolgegaan en is daar begrawe.

    Baie ander kultuurleiers, sakelui, opvoedkundiges, medici en landbouers het hul stempel op Graaff-Reinet afgedruk. Die dorp was kosmopolities; naas die sterk Afrikaanse teenwoordigheid was daar Engelssprekendes soos die Murrays en Hay­wards, Jode soos die Mosenthals en Herbsteins, en aanvanklik ’n klein groepie swartmense en heelwat meer bruinmense.

    Toe Johann Ruppert hier aankom, heers daar ’n wêreldwye depressie ná afloop van die Krimoorlog en die Amerikaanse Burgeroorlog. Die vraag na wol neem af, en witroes tref die dorp se florerende wingerdbedryf. Die siekte word in 1868 deur die toediening van swael in bedwang gebring, en die dorp verwerf ’n reputasie as bron van brandewyn en witblits, wat op groot skaal gestook is.

    Ná die ontdekking van diamante in 1867 stroom fortuinsoekers via Port Eliza­beth (later Gqeberha) en Graaff-Reinet na Kimberley. In een stadium was daar meer as sestig uit­spanplekke op die dorp, wat die Poort na die Noorde geword het. ’n Verdere bloeitydperk volg toe die spoorlyn van Port Elizabeth in 1879 die dorp bereik, waarvandaan met ossewaens verder na die ontluikende binneland ge­reis kon word. Cleghorn & Harris se eerste afdelingswinkel in Suid-Afrika open op Graaff-Reinet, en die dorp spog ’n ruk lank met vier koerante.

    Ruppert werk eers as voorman op die plaas Bloemhof, en toe op Graaff-Reinet as wamaker voordat hy in 1882 oorlede is – volgens familie-oorlewering in ’n skietongeluk tydens ’n jagtog. Drie kinders uit sy huwelik met Emma Susanna is vroeg oorlede, twee tien dae ná mekaar in 1869 in die witseerkeel-epidemie. Die oudste seun, Anthony Edward Rupert, Anton Rupert se oupa, is ook op 44-jarige ouderdom oorlede. As gevolg hiervan is die Ruperts tot vandag toe nie ’n groot familie nie.

    Die pionier-egpaar Ruppert behoort tot die Anglikaanse gemeente St. James op die dorp. Enkele jare ná hul aankoms op Graaff-Reinet besluit die koloniale regering in 1865 dat onderrig in alle staatskole in die Kaapkolonie in Engels moet geskied. Engelse koerante aan die Kaap, oortuig dat die Engelse die dominante ras is, verkondig ’n militante vorm van kulturele imperialisme, en die Cape Argus maak Afrikaans af as ’n bastard jargon, onwaardig om hoegenaamd ’n taal genoem te word. Desondanks verafrikaans die Ruperts (soos talle ander immigrant­gesinne) geleidelik. Nadat die pionier-egpaar se oorlewende seun met ’n Afrikaanse meisie trou, word die familie mettertyd lidmate van die NG Kerk.

    Oupa Anthony Edward Rupert word ’n bekende bouer. Hy het aanvanklik van plaas tot plaas vir boere gewerk – soms te perd, maar soms te voet. Hy is 1885 met Maria Elizabeth Dippenaar getroud, en agt kinders is uit hul huwelik gebore. Daarna bou hy ’n skoolgebou op Graaff-Reinet en nog een op Letskraal buite die dorp, die plaas waar Andries Pretorius voor die Groot Trek geboer het. Op die nabygeleë Petersburg, op die ossewaroete na Kimberley, bou hy ’n kerk waar sy naam op die hoeksteen staan. Kort voor die uitbreek van die Anglo-Boere-oorlog vestig hy en sy gesin hulle op Graaff-Reinet, waar hy ook huise restoureer.

    Die oudste van sy agt kinders, John Peter Rupert, gebore in 1888, was jare lank prokureur op Graaff-Reinet, waar die familie bykans ’n eeu sou woon. Sý seun Anton is 28 jaar later gebore.

    HOOFSTUK 3

    Op skool in die Karoo

    ANTON RUPERT – die oudste van drie seuns – het op 4 Oktober 1916 die lewenslig aanskou. Hy heet na sy oupa aan vaderskant, Anthony Edward, maar is op universiteit tot Anton vernoem nadat hy in sy jeugjare Boetie genoem is. Sy broers Jan (gedoop John Peter) en Koos (gedoop Jacobus Albertus) is in 1922 en 1929 gebore. Albei het in die regte gestudeer, maar nie die regspraktyk betree nie, en albei sou hulle later by die Rembrandt Groep aansluit.

    Hul vader, bekend as Oom John, was ’n gesiene gemeenskapsleier. Hy moes in die moeilike jare tydens die Anglo-Boereoorlog (1899-1902), toe krygswet in die Kaapkolonie gegeld het en baie Afrikaners, hoewel hulle Britse onderdane was, nes hul taalgenote en bloedverwante in Transvaal en die Oranje-Vrystaat verarm is, uitspring en gaan werk. Hy is daarná terug skool toe en het in 1909 aan die Graaff-Reinet Kollege klaargemaak.

    Nadat hy op dié dorp sy ingeskrewe klerkskap by CH Maasdorp voltooi het, werk hy aanvanklik vir prokureurs op Kimberley, Mosselbaai en Prins Albert, maar begin toe sy eie praktyk op Graaff-Reinet. Hy stel aktief in die onderwys asook in kinderwelsyn belang. In sy tyd as voorsitter van die Kinderwelsynvereniging is die sekretaresse die dorp se maatskaplike werker, Tini Malan, wat met BJ (John) Vorster getrou het voordat hy in die oorlogsjare geïnterneer is en in 1966 eerste minister van Suid-Afrika geword het.

    John Rupert kry ook vroeg te doen met JG (Hans) Strijdom, wat op die nabygeleë Willowmore grootgeword en Vorster as eerste minister voorafgegaan het. Nadat Strijdom sy regstudie op Stellenbosch voltooi het, bring sy oom hom na Graaff-Reinet om die moontlikheid van ’n klerkskap in Rupert se praktyk te bespreek. Rupert meen egter dat Graaff-Reinet se moontlikhede te beperk is, en raai hom aan om in Transvaal te gaan werk. Strijdom trek na Pretoria, daarna Nyl­stroom, en word bekend as die Leeu van die Noorde.

    In die vroeë vyftigerjare besoek Strijdom – toe Transvaalse leier van die NP – Anton Rupert op Stellenbosch. Hy wou van dr. DF Malan, toe eerste minister, wegbreek omdat hy oor die koms van ’n republiek met hom verskil het. Rupert stap twee keer saam met die vurige Strijdom om sy huis en oortuig hom dat hy geduldig moet wees; sy kans as leier sou kom. Strijdom neem daarna wel by Malan oor, maar word siek en sterf in die tuig.

    John Rupert word ook sekretaris van die eerste tak van die Nasionale Party (NP) wat ná genl. JBM Hertzog se opsienbarende De Wildt-toespraak van 7 Desember 1912 gestig is. Dié Vrystaatse regter en oorlogsheld het ná uniewording in die eerste Suid-Afrikaanse kabinet gedien, met genl. Louis Botha as eerste minister, en in 1911 saam met Botha en genl. Jan Smuts in die Suid-Afrikaanse Party opgegaan. Hertzog het egter al hoe sterker met Botha en Smuts se konsiliasiepolitiek en hul sienings van die taalkwessie verskil. Hy verklaar dat hy Suid-Afrika se belange bokant dié van die imperialisme plaas en dan Suid-Afrika eerste stel.

    Botha laat hom in 1912 uit die kabinet, en in 1914 stig hy die NP. In 1913 ver­oorsaak hy ’n opskudding toe hy op ’n Stellenbosse taalfees ’n telegram van MT Steyn, oud-president van die Vrystaatse Republiek, voorlees wat lui: Die taal van die veroweraar in die mond van die verowerde is die taal van slawe.

    Op Graaff-Reinet loop al hoe meer ondersteuners van die SAP na die NP oor, en dit word die sterkste party. John Rupert se vrou, Hester, word die voorsitter van die vrouetak van die party, wat in 1924 in koalisie met die Arbeidersparty die bewind sou oorneem.

    John Rupert se stokperdjies was die digkuns en bestudering van tale; hy kon nege tale lees. Hy het egter nooit na die buiteland gereis nie, en kon ook nie ’n studiebeurs na Nederland benut nie. Hy tree op in verskeie druk bespreekte hofsake, waarvan sommige uit die Rebellie van 1914 tydens die Eerste Wêreldoorlog ge­spruit het.

    Onder meer verskyn hy vir die redakteurs van Graaff-Reinet se Onze Courant en Aberdeen se Nuwe Tijd toe hulle aangekla word van sedisie weens berigte oor genl. Manie Maritz, wat met sy troepe na die Duitsers oorgeloop het. Die klagtes is uiteindelik teruggetrek. Hy verdedig Onze Courant se redakteur, JA (Sambok) Smith, later ’n leiersfiguur in die Ossewa-Brandwag, ook oor ’n berig dat die Britse lugmag bomme op stede van ’n neutrale land gegooi het. Die berig blyk waar te wees, en ook hierdie aanklag word teruggetrek. Rupert tree ook meermale op vir bruinmense, soms pro bono. Hulle het na hom as die Groot Seur verwys, en Anton het later Klein Seur geheet.

    Onder sy goeie vriende en kliënte tel ook die NG pastoriepaar, ds. Jozua Francois Naudé en mev. Ada Naudé. Ds. Naudé was een van die ses Bittereinders wat aan die einde van die Anglo-Boereoorlog geweier het om die Verdrag van Vereeniging te onderteken. Hy was ’n medestigter van die Afrikaner-Broederbond (AB), die geheime organisasie wat as teenvoeter vir die Vrymesselaars en Sons of England gestig is om Afrikanerbelange te bevorder. Die egpaar was die ouers van die anti-apartheidstryder dr. CFB (Beyers) Naudé en drie dogters genaamd Ligstraal, Hymne en Vryheidster. Beyers is genoem na die legendariese kmdt.genl. Christiaan Frederik Beyers, onder wie sy vader in die Anglo-Boereoorlog geveg het en wat tydens die Rebellie in die Vaalrivier verdrink het.

    Ds. Naudé was ook die voorsitter van die beheerraad van die Hoër Volkskool op Graaff-Reinet, die eerste Afrikaansmedium-hoërskool in Kaapland. John Rupert was medestigter en 21 jaar lank eresekretaris van die beheerraad van die skool, waar Anton sou matrikuleer.

    Reeds in 1922, ’n jaar voordat Boetie Rupert begin skoolgaan, betrek die Hoër Volkskool die statige gebou van die Midlands Seminary. Die hoof, dr. G von W Eybers, wat sy doktorsgraad in Londen verwerf het, voel sterk oor moedertaal­onderrig. Hy begin al in 1919 in Afrikaans pleks van Nederlands klas gee. Dit ontketen ’n opvoedkundige taalstryd op die dorp wat lei tot die stigting van die Union High School, ’n Engelsmedium-kosskool wat die Springbokvleuel Chum Osche onder sy oudleerlinge tel.¹

    Kerklike verdeeldheid ontstaan ook oor die taalkwessie nadat ds. Naudé in 1921 sy intreepreek as nuwe NG leraar in Afrikaans gelewer het. Beswaardes, onder wie heelparty wat Nederlands as die geskikte taal vir die kerkdiens beskou, protesteer heftig teen die gebruik van Kitchen Dutch in die Groot Kerk van die Murrays. Die NG gemeente skeur, en die Nuwe Kerk word afgestig.

    Anton Rupert se eggenote, Huberte, vertel dat haar skoonvader tydens mev. Naudé se destydse hofsaak heelparty kliënte verloor het, want mense het hom kwalik geneem dat hy haar help verdedig het – ’n voorbeeld van die lojaliteits­beginsel wat later vir Anton so swaar sou weeg. Maar hy het dit vir sy vriend Jozua gedoen, wat self swaar gekry het. En toe Anton se pa in 1961 sterf, het Anton gedink hy gaan vir Beyers vra om sy pa te begrawe. Dr. Naudé, toe leraar van die NG gemeente Aasvoëlkop in Johannesburg, het ingewillig, en die begrafnisdiens in die Groot Kerk op Graaff-Reinet gelei.

    John Rupert ontmoet sy eggenote, Hester Adriana van Eeden, van wie hy ’n broer geken het, op die trein van Port Elizabeth na Klipplaat, ’n spoorweghalte naby haar vader se plaas in die distrik Jansenville. Hulle trou in Desember 1915, en ’n jaar later word Anton in hul kliphuis by Cradockstraat 110 op Graaff-Reinet gebore. Die oorspronklike geboortehuis bestaan nie meer nie; die tennisbane van die Laer Volkskool is daar gebou. Die gesin verhuis mettertyd na Cradockstraat 84, waar hulle regoor dr. Karl Bremer, later minister van gesondheid in die Malan-regering, woon.

    Anton Rupert se geboorte val midde-in die Eerste Wêreldoorlog. Teen daardie tyd was die groter eensgesindheid in Suid-Afrika ná Uniewording ook verby, en die land weer eens verdeeld oor Botha en Smuts se besluit om Duits-Suidwes-Afrika (vandag Namibië) binne te val en dus aan die kant van die Britse empire te veg. ’n Rebellie breek uit nadat genl. Manie Maritz hom by die Duitse magte aangesluit het. Hoewel dit gestuit word, neem verset teen Botha en Smuts se konsiliasiepoli­tiek toe, veral nadat Hertzog met sy toespraak op De Wildt die meesleurende beleid Suid-Afrika Eerste verkondig het. Op die koop toe haal Smuts se teregstelling van die rebelleleier Jopie Fourie hom bittere verwyte op die hals wat hom sy lewe lank sou agtervolg.

    ’n Vername gevolg van die Rebellie is die stigting van die Helpmekaarvereniging om rebelle te help om boetes en skadevergoeding te betaal. Die eerste insamelings­veldtog lewer ’n kwartmiljoen pond op, en loop uit op ’n volkskongres oor armoede wat op 22 November 1916 – Anton se geboortejaar – op Cradock, Graaff-Reinet se buurdorp, gehou is. Dit blyk dat daar 105 518 hulpbehoewendes is, van wie 39 021 dood armen is, en dat ’n kwart van die land se 280 000 wit kinders nie op skool is nie.

    Hoewel die kongres min kon doen om die verarming te stuit, word die Helpmekaarbeweging een van die belangrikste organisasies wat Afrikaners se ekonomiese ontwikkeling aanhelp. Die monstering van Afrikanerkapitaal tydens die Eerste Wêreldoorlog lei ook tot die stigting van sommige groot Afrikanerondernemings, by uitstek die mediamaatskappy Nasionale Pers (later Naspers) in 1915, die ver­sekeringsreuse Sanlam en Santam in 1918, en die Koöperatiewe Wijnbouwers­vereniging van Zuid-Afrika Beperkt (KWV), ook in 1918.

    Een van die groot dryfkragte agter die Helpmekaarvereniging was ds. JD Kestell, wat ook ’n deurslaggewende invloed op jong Rupert sou uitoefen. Kestell het die begrafnisdiens gelei van oudpres. MT Steyn, wat aan die voet van die Vrouemonu­ment in Bloemfontein begrawe is nadat hy in sy laaste toespraak op sy sterfdag op 28 November 1916 in die Gedenksaal van Bloemfontein gesê het: Die Helpmekaar is uit God gebore.

    In Anton Rupert se jeugjare op Graaff-Reinet woon talle bruinmense, wat destyds stem­­geregtig was, op die taamlik kosmopolitiese dorp. Die verwydering van ge­kleurdes uit die middedorpe van plekke soos Graaff-Reinet en Stellenbosch ingevolge die Groepsgebiedewet sou vir hom een van die groot dwaashede van die NP word.

    Anton se moeder, mev. Hester Rupert, een van tien kinders, was ’n sorgsame, lieftallige vrou wat ’n groot invloed op Anton gehad het. Hy het meermale lewens­riglyne aangehaal wat hy van haar ontvang het, soos: Wat help dit om die wêreld te oorwin en jou siel te verloor? En: Werp jou brood op die water, en ná vele dae sal dit na jou terugkeer.

    Ná dr. DF Malan se vertrek uit Graaff-Reinet word mev. Rupert in 1915 die sekretaresse van die vereniging Jong Zuid-Afrika. Die vereniging, aanvanklik ge­noem Zonen van Zuid-Afrika omdat dit as teenvoeter vir die Sons of England ’n gemeenskaplike Suid-Afrikaanse patriotisme wou bevorder, het sy naam in 1912 verander toe vroue ook toegelaat is. Die bestuur het mettertyd kant gekies teen die destydse premier, Louis Botha, en almal het ondersteuners van Hertzog en die NP geword.

    Mev. Rupert se pa, Jacobus Albertus (Oom Kootjie) van Eeden, ’n Kaapse patriot en ’n medestigter van die Afrikanerbond van JH (Onze Jan) Hofmeyr, die eerste politieke party in die land, het eweneens ’n groot invloed op sy kleinseun Anton uitgeoefen. Tot sy dood op 84-jarige leeftyd het hierdie oupa aan moederskant, ’n suksesvolle boer, dikwels met sy kleinseun landsake bespreek.

    Oom Kootjie, wat soos sy dogter Hester ook in 1944 oorlede is, was ’n afstam­meling van een van die oudste Nederlandse families in Suid-Afrika. Die stamvader van die Van Eedens, Jan Janse van Eeden (Jan van Oldenburg), het in 1662 in Suid-Afrika aangeland en mettertyd op die plaas Kromme Rivier (waarvan die latere Bergzicht ’n deel was) buite Stellenbosch geboer. Soos voorheen vermeld, is Anton Rupert dus van moederskant ’n Suid-Afrikaner uit die negende geslag.

    Oom Kootjie het ’n veelbewoë geskiedenis gehad. Sy pa is op Somerset-Oos oorlede toe hy nege jaar oud was. Hy word toe, soos hy later skryf, as wild en on­tembaar van natuur aan ’n ryk boer, ene C Buys, as ingeboekte gegee. Hy moet daar met drie ander seuns hout kap om stene vir ’n waterleivoor te brand. Waarlyk dit alles laat ’n mens dink aan die Israeliete by Farao in Egipte, merk hy op.

    Hy woon ook ’n plaasskool by voordat hy ná vyf jaar teruggaan na sy moeder, wat intussen met ’n gegoede boer van Jansenville, CJ Grobler, getroud is. Hy word ingespan as bokwagter, maar loop weg om in die grensoorlog te gaan veg. Nadat hy gewond is, word hy transportryer totdat hy trou met Anna Gertruida Lötter, ook ’n weeskind. Hulle koop vee met spaargeld wat hy verdien het, en hy gaan ’n paar gewaagde spekulasies met grond aan wat hom ’n groot stoot gegee het.

    Ná 14 jaar koop hy Gannavlakte, ’n plaas aan die Sondagsrivier in die distrik Jansenville, vir £3 250. In teenstelling met die latere waternood in die Karoo kon destyds volop water vir besproeiing uit die rivier gepomp word. Dit stel hom in staat om ’n groot boerdery tot stand te bring. Sedert 1884 neem Oom Kootjie aktief aan die politiek deel, onder meer 22 jaar as voorsitter van die distriksbestuur van die Afrikanerbond, en hy is ook assistent-veldkornet, voorsitter van die skoolkomitee, ouderling in die kerkraad, en lid van die runderpes- en brandsiektekomitee.

    Tydens die Anglo-Boereoorlog word hy ’n ruk op Port Alfred geïnterneer. Sy twee oudste seuns, Frederick (Frik) en Francois (Soois) – ouer broers van mev. Hester Rupert – het hulle op 7 Maart 1901 as jong seuns by die verbytrekkende Boerekommando van kmdt. Willem Fouché aangesluit. Ná ontberings op kommando het hulle hulle aan die Engelse kolonne oorgegee. As Kaapse rebel is die 17-jarige Soois op Graaff-Reinet deur ’n krygshof skuldig bevind aan hoogverraad, maar hy is deur lord Kitchener begenadig en tot ’n jaar tronkstraf gevonnis. Die Vrede van Vereeniging bevoordeel hom, want ná net ses maande in die tronk op Grahamstad (later Makhanda) word hy vrygelaat en kon hy met ’n vry spoorweg­pas huis toe gaan.

    Die Van Eedens se vierde seun is op 27 Maart 1901 gebore, en word Smartryk gedoop. Sy naam verwoord die emosies van duisende Afrikaners, ook in die Kaap­kolonie, wat as gevolg van die oorlog in armlastigheid verval het. Baie het op die rand van hongersnood gestaan. Boonop het die Britse regering se karige aanbod van £3 miljoen skadevergoeding aan die einde van die oorlog verdere bitterheid veroor­saak. Louis Botha, die eerste premier ná Uniewording in 1910, wat ’n aanbod van £900 vergoeding vir £20 000 se oorlogskade ontvang het, het die tjek teruggestuur.

    Die verhaal van die Boereheld Gideon Scheepers, wat in die Anglo-Boereoorlog op 23-jarige leeftyd op Graaff-Reinet deur die Britse magte gefusilleer is, maak ook ’n groot indruk op Boetie Rupert. Kmdt. Scheepers, van wie ’n standbeeld en ’n gedenksteen op die dorp staan, was ’n baasverkenner wat ’n suksesvolle guerrilla-inval in die Kaapkolonie gelei het voordat hy gevang is.

    Anton se vader was as 13-jarige seun teenwoordig by die uitspraak van die Britse krygshof op Kerkplein op Graaff-Reinet. Anton meen self dat die verhaal van Schee­pers soos sy pa dit aan hom vertel het, sy lewe verander het. Scheepers se vervolging was ’n skouverhoor wat daarop gemik was om Kaapse republikeinsgesindes ’n les te leer – juis terwyl die oorlog Brittanje in Rudyard Kipling se frase no end of a lesson geleer het. Die Britse offisiere het Scheepers, wat heelparty Kaapse rebelle oorreed het om hulle by die Boeremagte aan te sluit en self getuig het dat hy sowat 1 300 Britte krygsgevange geneem het, aan dertig beweerde oorlogsmisdade skul­dig bevind en ter dood veroordeel.

    Die vonnisse en teregstellings moes op bevel van genl.maj. John French in die openbaar plaasvind. Geblinddoek en sittende op ’n stoel is Scheepers die volgende dag, 17 Januarie 1902, op sy moeder se verjaardag, deur ’n vuurpeloton van die Coldstream Guards tereggestel. Ongebluste kalk is oor sy lyk in die graf by die toneel gegooi, maar sy oorskot is vermoedelik dieselfde nag verwyder en het spoorloos verdwyn.

    Scheepers was een van agt mense wat op Graaff-Reinet tereggestel is terwyl die meeste dorpe in die Kaapkolonie onder krygswet en militêre sensuur was. Soos die konsentrasiekampe, wat die lewens van 28 000 vroue en kinders geëis het, en die Britse opperbevelhebber, lord Kitchener, se beleid van verskroeide aarde, waardeur honderde plaashuise afgebrand en veetroppe vernietig is, het die teregstellings van Kaapse rebelle en Boerekrygers bittere verset uitgelok. Sowat veertig rebelle het in die Kaapkolonie so hul lewe verloor. Soos elders het die teregstel­lings die gevoelens van republikeinsgesindes op die verdeelde dorp erg laat verhard.

    Die martelaarsgeskiedenis van Scheepers, wat nie ’n Kaapse rebel was nie, maar ’n Oos-Transvaler en bevelvoerder van die Vrystaatse Staatsartillerie, word een van die treurigstes uit ’n oorlog wat ’n blywende letsel op die Suid-Afrikaanse geskiedenis gelaat het. Sy graf is nooit gevind nie. Op haar honderdste verjaardag in 1956 sê sy moeder dat sy nie vergeet nie, maar vergewe: Laat ons eerder in liefde en vrede lewe as een onverdeelde volk.²

    As jong seun maak Boetie Rupert ook kennis met ander Boerehelde. Een van hulle is kaptein Henri Slegtkamp, wat saam met die Skot Jack Hindon lid van Danie Theron se Verkennerskorps was. Op besoek aan Graaff-Reinet boei Slegtkamp die jong Rupert met sy verhale van die Boereoorlog. Hy het as jong Nederlander na Suid-Afrika gekom om avontuur te soek; hy het in Transvaal geveg teen die Jameson-inval van 1895/6, wat deur die geskiedskrywer CW de Kiewiet as die mees berugte insident in die geskiedenis van die Britse empire bestempel is; en het dadelik op kommando gegaan toe die Anglo-Boereoorlog uitbreek.

    Met die honderdjarige herdenking van die Anglo-Boereoorlog in 1999 het Rupert die legger oor Scheepers wat vroeër in die besit van die Britse intelligensie­departement was, van ’n boekhandelaar in Kaapstad aangekoop. Daarin verskyn Scheepers se laaste briewe (aan sy moeder, aan pres. MT Steyn en aan genl. Christiaan de Wet) en sy dagboekaantekeninge, soos vertaal deur John Gregorowski, wat in die Krygswetkantoor op Graaff-Reinet gewerk het. Daar is ook unieke foto’s van Scheepers en ander Boerekrygsgevangenes wat deur die Graaff-Reinetse foto­graaf Ivie H. Allan in die gevangenis op die dorp geneem is.

    Die monument van Scheepers en die ander tereggesteldes van Graaff-Reinet het ’n ander nadraai gehad, een wat op die toekomstige nyweraar Rupert ’n blywende indruk gemaak het. Die stadsraad wou ná die oorlog nie geld beskikbaar stel nie vir die monument, wat ’n sterwende Scheepers toon wat deur genl. De Wet gekoes­ter word. Dit is toe in 1908 onthul op grond wat deur Jurie Laubscher, eienaar van die poppefabriek van Graaff-Reinet, geskenk is. Hy het meer as sewentig werkers in diens gehad wat die welbekende Graaff-Reinet-pop gemaak het, waarvan daar etlike voorbeelde in die Reinethuis op Graaff-Reinet is.

    Toe die Paktregering van Nasionaliste en Arbeiders in 1924 ná die opstand van die mynwerkers in Johannesburg aan die bewind gekom het, het hulle die eerste superverligte arbeidswette gemaak, onthou Rupert. Jy moes soveel lig en soveel spasie toelaat, en meer as drie is ’n fabriek. Oom Jurie Losper, soos hy in die wandel genoem is, kon nie aan daardie vereistes voldoen nie, en toe is Graaff-Reinet se grootste fabriek daarmee heen.

    In Rupert se kinderdae was Graaff-Reinet ’n tipiese plattelandse dorp: geen elektrisiteit, geen lopende water en geen teerstrate nie. Drinkwater het uit ’n tenk gekom wat reënwater van die huis se dak opgevang het. Leiwater het gekom van Maggie se Put, ’n standhoudende fontein wat twee miljoen gelling suiwer vars water per dag gelewer het op die plek waar die dorpsdam vandag is. Die water is gekook vir badwater. Die dorp het eers laat in die jare twintig lopende kraanwater gekry. Studietyd saans was aanvanklik by kerslig of ’n paraffienlamp. Elektrisiteit is met verloop van tyd verskaf, met gloeilampe wat in die middel van die vertrek aan ’n draad gehang het. ’n Elektriese eenheid het toe ’n sjieling gekos, dus was krag duur.

    Ek kom van een van ons oudste Karoodorpe waar ek in my jeug geen binnens­huise waterleiding, geen afloopbad, geen elektriese lig geken het nie, vertel hy in sy bundel Wie in wondere glo. Daar was geen radio, geen gehoortoestelle, geen radar, geen spuitvliegtuie, geen diesel, geen bolpuntpen, geen selfopwenhorlosie, geen flitskamera, geen bandmasjien, ja, selfs geen papiersakdoeke nie.³

    John Rupert het nog vroeg in die jare twintig vir ’n hofsaak in Kaapstad met sy Model T Ford op die grondpad na Beaufort-Wes gery en daarvandaan die trein gehaal. In die middel van die dekade het hy ’n Chevrolet aangeskaf wat naderhand in die Vervoermuseum, die gerestoureerde stasiegebou op Heidelberg in Gauteng, ’n laaste staanplek gekry het. Die voertuie is later na die Motormuseum op die Rupert-plaas L’Ormarins in Franschhoek verskuif.

    Een van Boetie Rupert se vroegste herinneringe is dat hy sy oumagrootjie Emma Susanna – die klein ou vroutjie – in ’n ouetehuis in Kaapweg, Port Elizabeth, gesien het voordat sy in 1919 oorlede is. Haar man, die eerste Rupert in Suid-Afrika, het haar reeds in 1882 ontval. Sy moeder het ook ’n brief aan hom getoon wat oumagrootjie Emma, ’n Britse boorling, aan haar geskryf het, wat sy met ’n bood­skap met vyf kruisies afgesluit het: And remember to give my love to Anthony.

    Hy word groot in tye toe die belangrikste mense op baie Suid-Afrikaanse dorpe die predikant, die skoolhoof en die landdros was; gesagsfigure wat ’n stempel ge­laat het op geslagte Afrikaners wat op die platteland grootgeword het. Sondae op die dorp, sterk onder die invloed van die Murrays wat soos ander gestrenge Skotse kerkvaders leraars van die NG Kerk geword het, was streng Calvinisties. Kinders moes kerk en Sondagskool toe gaan, en sport is as sondig beskou. Selfs naaldwerk was verbode, omdat die naald in God se oog sou steek.

    Sy broer Koos beaam die streng Calvinistiese kultuur waarin hulle grootgeword het. Ons pa was baie jare bevriend met die skoolhoof en die predikant. Maar my pa het nooit kerk toe gegaan nie; hy het gaan bergklim. Hy het ’n gedig oor die Verlate Vallei geskryf: ‘Dis die plek waar ek wil sit, dis die kerk waar ek wil bid.’ Ons het saam met my ma kerk toe gegaan. Ek het nie van Sondagskool gehou nie. Ds. Naudé het soms op die preekstoel gehuil, en dit het my baie ontstel. Koos voeg by: Ons was nie eens veronderstel om op ’n Sondag te gaan stap nie. Dit was die Skotte se invloed.

    Hoewel hul moeder godsdienstig was, loop sy nie daarmee te koop nie. Ook hul vader se waardes was Calvinisties: die etiek van hardwerkendheid, eerbaarheid en soberheid. Omdat sy ouers egter nie wetties was nie, het Anton van vroeg af ’n afkeer gehad van reëls en regulasies wat innovasie en individualiteit verlam. Terwyl hy teen ’n wettiese lewenshouding is, het hy die dissipline, hardwerkendheid en eerbaarheid van die Calvinisme sy eie gemaak.

    Boetie Rupert gaan in 1923 op sesjarige ouderdom skool toe. Die laerskoolkin­ders het nie skooldrag gehad nie, maar het wel skoene gedra. Op sy eerste skooldag beland Boetie met sy splinternuwe skoolklere in ’n watersloot terwyl hy die baba­waentjie van sy pasgebore broertjie, Jannie, stoot, en hy moes ou klere gaan aantrek om droogvoets skool toe te gaan.

    Hy voltooi die eerste twee standerds, sub A en sub B, in een jaar. Hy is links­handig, maar word nie, soos destyds dikwels gebeur het, gedwing om regs te skryf nie. Daarmee help dr. Karl Bremer, toe pas terug van oorsee, deur aan te beveel dat hy links bly skryf.

    Een van sy klasmaats is Bremer se dogter Elizabeth (Van der Merwe, skryfster van kinderboeke). Sy onthou dat hy in sub A saam met haar aan ’n vierkantige tafeltjie vir vier gesit het. Die twee ander klasmaats was Hendrik Momberg en Marié van Schalkwyk (getroude van Pallister), die dogter van dr. Bremer se vennoot, dr. Johannes van Schalkwyk, skrywer van Raad in tyd van siekte, die eerste mediese handleiding in Afrikaans.

    Aanvanklik verskyn Boetie Rupert se naam nie boaan die prestasielys nie. Eliza­beth onthou dat hul onderwyseres, mej. Bella Laubscher, dogter van die poppefabriek se eienaar, hom in sub B in die klaskamer na vore geroep het. Hy staan kop onderstebo terwyl sy sê die jonge heer Rupert staan negende, maar hy kan veel beter vaar.

    Die teregwysing sink in. Reeds in die laer standerds begin hy eerste staan. Eliza­beth, wat met hom wou meeding, kon hom nooit inhaal nie. In st. 7, haar laaste jaar op Graaff-Reinet (Bremer het toe as Volksraadslid na Kaapstad verhuis), kon sy weer nie bybly nie. Sy gaan by sy moeder, wat sy as Missus Rupert aangespreek het, haar lot bekla, en dié het haar toe getroos.

    Boetie, wat kon lees voordat hy skool toe gegaan het, lees baie; saans meermale ’n kinderboek. En hy was weetgierig. In die goed toegeruste dorpsbiblioteek kon hy koerante sowel as tydskrifte soos die Scientific American en die London Illustrated News kry, en hy lees ook omtrent al die boeke. In ’n ouerhuis waar dit nie aan liefde ontbreek nie, bly sy ma saam met hom wakker wanneer hy saans laat sit en leer, en gee hom ’n warm drankie voordat hy gaan slaap.

    Die Karoo, met Graaff-Reinet op ’n wye vlakte aan die voet van die Sneeuberge en neffens die indrukwekkende Spandauskop en die Vallei van Verlatenheid (’n diep kloof met majestueus opgestapelde rotse wat die Ruperts verkies om die Bergkatedraal te noem), maak ’n onuitwisbare indruk op die jong skoolseun. Hy gaan dikwels saam met sy pa in die veld stap.

    Hy beskou dit as ’n absolute voorreg dat hy as kind in die Karoo grootgeword het. "Weet jy, baie van die groot gelowe kom uit die woestyn. Christus, Moses en Mohammed was almal daar. Dis waar jy sewejaar-droogtes het, waar jy jou nie­tig­heid ervaar as jy na die sterrehemel kyk en waar jy genoodsaak is om te dink. Daarteenoor het Karl Marx sy besieling vir die kommuniste se bybel, Das Kapital, in die Britse Museum gekry."

    Hy is nie net lief vir die Karoo nie, maar ook vir sy mense. In later jare, toe hy verneem dat die bestuurshoof van ’n groot onderneming nie tot die Vredesparkstigting wou bydra nie, merk hy verontwaardig op: En hy kom van Cradock af!

    In sy vader se prokureurskantoor doen hy vroeg reeds kennis van die regsberoep en regskwessies op, en leer hy om aandag aan detail te gee. Hy het later ook opgelet dat suksesvolle sakelui soos Harry Oppenheimer van Anglo American en Donny Gordon van Liberty Life oneindige aandag aan detail skenk. John Rupert skerp ook meermale by sy seun in: Eerlikheid is die beste beleid. Jou woord moet jou eer wees. Nog ’n stelling wat sy seun sy lewe lank sou bybly, is ’n priemende oordeel: Ek is nie bang vir die duiwel nie, maar ek is bang vir ’n skelm mens.

    ’n Gekoesterde lewenswaarde van sy vader wat Anton in later jare meermale aanhaal, is dat ’n mens in jou pasoppens vir die verleiding van lof moet wees: Vandag skreeu hulle hosanna, môre kruisig hulle jou. Soms wanneer hy iemand ’n kompliment toeswaai, sal hy byvoeg dit bring ook verantwoordelikheid mee, want dan word van die persoon wat die kompliment ontvang, verwag om daardie vlak te handhaaf.

    Boetie Rupert volg reeds as jong seun die politiek. Die eerste keer dat hy na ’n radio luister, is dit ’n kristalradio wat die uitslae van 1929 se verkiesing uitsaai. Hy was toe twaalf jaar oud en ’n groot bewonderaar van genl. Hertzog, wat ná sy bewindsoorname in 1924 vyftien jaar lank die eerste minister sou bly. Elizabeth van der Merwe vertel dat hy in standerd vier of vyf ’n plakboek aan haar gewys het, met ’n foto van Hertzog: Dit is my held!

    Boetie en ’n maat bou self ’n kristalradio. As lugdraad gebruik hulle ’n lang stuk bloudraad wat hulle op die huis se dak wou vasmaak. Toe hulle op die dak klim, val die stuk draad oor kragdrade, gelukkig sonder dat hulle daaraan geraak het, en die kortsluiting skop die hele buurt se krag uit. Boetie se vader was woedend.

    Ongeveer daardie tyd staan Boetie en Elizabeth op ’n dag toe die munisipaliteit ’n voertuigoptog gereël het, op ’n straathoek onder ’n uithangbord van sigarette. Die jong Rupert sê toe Suid-Afrika behoort nie sulke sigarette in te voer nie. Ons be­hoort dit self te maak.

    Hy het hier ’n gevoel uitgespreek wat reeds geruime tyd onder Afrikaners vaardig was. ’n Paar dekades tevore het Di Afrikaanse Patriot op 19 November 1880 dit kleurryk verwoord: Een van die vele snare wat ons aangeroer het en wat weer­klank gevonde het in die harte van duisende Afrikaners, en nog gedurig vorttril, is: dat vreemde geluksoekers die handel in ons land heeltemal in hulle hande het; dat die ver hulle verryk met onbillike winste te neem; en dan nog die eie geld van onse Boere gebruik om hulle te onderdruk soos gelukvools eers dik en vet is.

    Hy ontwikkel vroeg ’n belangstelling in die nywerheidswese en in museums. Die Ruperts het dikwels in vakansies by ouma Rupert en hul vader se jonger suster, mej. Florence Rupert, in Port Elizabeth gaan kuier. Tant Florrie, ’n onderwyseres, neem die jong Anton na verskeie fabrieke rondom Algoabaai. Onder meer besoek hulle die eerste aanlegte van Ford en General Motors, waar motorvoertuie ge­mon­teer is. Hulle kom ook by die Wolbeurs, Pyotts se beskuitjiefabriek en Mobs se skoen­fabriek. Anton vertel later dat hy al as seun ’n redelike indruk van die begin van ons nywerhede gekry het.

    Komende uit Graaff-Reinet, waar daar geen nywerheid was nie, was dit vir my ’n droom en ’n sprokieswêreld om te sien hoe ‘iets’ gemaak word . . . lekkergoed, beskuitjies, skoene, ja selfs hoe ’n motor aanmekaargesit word, want destyds het ons nywerhede meesal uit ‘aanmekaarsit’ bestaan, sê hy jare later aan skougangers in Port Elizabeth. Vandag het u hier reeds die tweede fase van vervaardiging binne­gegaan en kan mens met groter trots daaraan dink dat ’n motor al nader aan tuisvervaardiging staan as in daardie begindae.

    Die land se oorgang van landbou en mynbou na die nywerheid het so ’n indruk op hom gemaak dat dit sy beroepskeuse beïnvloed het. Produksie het my altoos gefassineer. Later op universiteit het ek besef hoe belangrik die nywerheid as werkverskaffingsbron is, sê hy later in ’n radio-onderhoud.⁷ Die Ruperts se vakan­sieplek was Port Elizabeth, waar sy ouma Rupert van 1923 tot haar dood in 1930 gewoon het. Tant Florrie neem Anton ook na die plaaslike slangpark en die museum.

    Hy blink nie as sportman uit nie, maar speel wel rugby en tennis sosiaal. Jare later wou ’n verslaggewer van die Amerikaanse tydskrif Fortune weet watter soort oefe­ning hy doen. I do mental gymnastics and I jump to conclusions! antwoord hy.

    Hy word een van die eerste lede van die Voortrekkerbeweging, waarvan hy ’n groen knopie in sy lapel gedra het. Die beweging, waarvan Japie Heese die stigter op Graaff-Reinet was, maak in die jare twintig sy eerste verskyning in die Hoër Volkskool – enkele jare voordat die landwye Voortrekkerbeweging in 1931 as ’n Afrikaanse teenvoeter vir die Boy Scouts tot stand kom.

    Kleintyd speel hy saam met ander seuns Cowboys en Indiane. By een so ’n geleentheid is een van die dorp se groot karnallies, Robey Leibbrandt, betrokke. Leibbrandt, die latere Olimpiese bokser en Nazi-simpatiseerder wat in die Tweede Wêreldoorlog weens hoogverraad ter dood veroordeel is, is in 1913 gebore en beland as ’n tienerseun op skool op Graaff-Reinet.

    Sy vader, ’n Boerekrygsman wat met Robey se begenadiging in 1948 deur Smuts as een van sy dapperste manskappe bestempel is, is van 1914 tot 1924 as ’n offisier in die staande mag op Graaff-Reinet gestasioneer. Hy huur in een stadium die Rupert-oupa se huis. Op ’n dag het Robey en sy broers in ’n spelery die skoolhoof se oudste seun, Von Welfling Eybers, met ’n tou aan ’n sipresboom opgehang. Sy tone het gelukkig grond geraak en van die ouer mans kon hom lossny. Boetie Rupert, toe pas op skool, het die voorval self gesien.

    In 1928 plaas die skool se jaarblad ’n Engelse opstel van Boetie, toe in standerd vyf, oor ’n besoek aan die Pretoriase Dieretuin wat sy latere belangstelling in die natuur en dierelewe weergee. The first thing which attracted my attention was the gorgeously-coloured speaking-parrots. Then I came to the cage of the gorilla – a mighty big and strong animal. After a few minutes walking I came to the monkey­cage from where I walked to the hippopotamus, a very large animal with the largest mouth I have ever seen. Hy sluit af: I thoroughly enjoyed this well-spent and interesting afternoon.

    Sy belangstelling in drukwerk, vorm en kleur

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1