Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Elita en haar lewe met F.W. de Klerk
Elita en haar lewe met F.W. de Klerk
Elita en haar lewe met F.W. de Klerk
Ebook278 pages3 hours

Elita en haar lewe met F.W. de Klerk

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Die hoogs private Elita de Klerk vertel hier vir die eerste keer haar volle verhaal. Ná ’n eensame jeug in die weelderige Kolonaki in Athene en in deftige kosskole, trou sy op jeugdige ouderdom met die aantreklike miljoenêr Tony Georgiades en neem haar intrek in die imposante Stud House in Londen. Maar steeds bly sy soekend. Sy vergesel haar man op talle sakereise wêreldwyd en word ma. Tog voel sy leeg. Die spoggerige hotelle en stralerjakkerlewe laat haar koud. Haar soektog bring haar na Suid-Afrika en ’n ontmoeting met die indrukwekkende FW de Klerk, die man wat eiehandig Suid-Afrika transformeer. Maar hulle is albei getroud …
Moeilike besluite en baie hartseer volg, maar vandag is Elita oplaas ’n vervulde vrou.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateApr 1, 2011
ISBN9780624051572
Elita en haar lewe met F.W. de Klerk

Related to Elita en haar lewe met F.W. de Klerk

Related ebooks

Related articles

Reviews for Elita en haar lewe met F.W. de Klerk

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Elita en haar lewe met F.W. de Klerk - M Meiring

    Elita en haar lewe met FW de Klerk

    Martie Retief Meiring

    Tafelberg

    Erkenning

    Om in mense se persoonlike lewe te krap is ’n tameletjie. Vir Elita en FW de Klerk was ’n boek soos dié aanvanklik buite die kwessie, maar ná baie huiwering en lang oorweging het hulle wel ingestem om onderhoude toe te staan, ten spyte van ’n veeleisende program. En om selfs toegang tot hul dagboeke en fotoalbums te verleen. Hiervoor sal ek nooit genoeg dankie kan sê nie, en ook vir die feit dat hulle geen eise of voorwaardes gestel het nie. Ook, as joernalis, bedank ek hulle dat hulle aanvaar het dat hulle verhouding hom gedeeltelik in die publieke domein afgespeel het en daarom ’n element van nuuswaardigheid het.

    Talle gesprekke en onderhoude het plaasgevind met vriende en familielede. Hiervoor bedank ek vir Nadia Lanaras, Maria Geurtsos, Jonathan Hudson, Ada Papadopoulos, George Lanaras, Niki Sergaki, Marianne Louw, Una Ramsay, Jeanette Curitz, Theresa Papenfus, wyle Koos Rupert, Dave Steward, George en Tharina Joubert, Nico en Ruda Retief, Nontas Andries, Fana en Wilma Malherbe, Sakkie en Hettie de Klerk, en veral vir Brenda Steyn, wat nooit moeite ontsien het om inligting te help versamel nie.

    My spesiale dank ook aan Marinus Wiechers, wat van Marike de Klerk se laaste briewe aan hom beskikbaar gestel het. Ons glo al twee, uit ons persoonlike kennis van Marike, dat hierdie laaste briewe ’n ietsie van haar humor en moed weerspieël.

    Ten slotte bedank ek graag my geduldige uitgewer Erika Oosthuysen, teksredakteur Suzette Kotzé-Myburgh, proefleser Estelle Crowson en ontwerper Nazli Jacobs.

    Martie Retief Meiring

    Januarie 2008

    Voorwoord

    Op 29 Januarie 1998 flits die nuus deur die wêreld: die gewese president van Suid-Afrika gaan sy vrou verlaat vir die vrou van ’n vriend.

    Dit word ’n opspraakwekkende gespreksonderwerp. Op verskeie kontinente word die vraag herhaaldelik gestel: Hoe is dit moontlik dat twee mense uit sulke verskillende wêrelde by mekaar kon uitkom? Die agtergronde van FW de Klerk, voormalige president van Suid-Afrika, en Elita Georgiadis, ’n Grieksgebore miljoenêrsvrou, kon immers beswaarlik meer uiteenlopend wees. Sý wêreld was in stormagtige politiek gedrenk; háár wêreld was een van reise en onthale en ontmoetings met rykes en beroemdes. Hy was sestien jaar ouer as sy, hy 62 en sy 46. Hulle het verskillende gelowe gehad. Hulle het verskillende huistale gepraat.

    Gissings en bespiegelinge oor die aard van hul verhouding en die ontstaan daarvan – en natuurlik ook die onaanvaarbaarheid daarvan – is wyd in sosiale kringe asook in die media uitgepluis. Nie net in Suid-Afrika nie, maar ook in Europa, veral in Griekeland, sowel as in die Verenigde State. Hoe kon sy, so gereken in internasionale kringe en bekend as ’n onbevange en simpatieke mens, verlief raak op ’n man wat vir soveel jare van sy lewe die apartheidsbeleid, wat deur die wêreld as so afskuwelik beskou word, aangehang het? Die intrige verbonde daaraan spreek vanself.

    Wie is sy? wou Suid-Afrikaners weet oor dié vrou in die lewe van hul bekende politieke leier. Wie is hy? het die Griekse gemeenskappe en Britse vriende gevra, wat wel geweet het hy was die president van ’n Afrika-land en dat hy ’n rol in ’n belangrike wêreldgebeurtenis gespeel het, maar wat nie veel van hom as persoon geweet het nie.

    Hul geheime verhouding het beslag gekry teen die agtergrond van ’n politieke omwenteling wat dwarsdeur die wêreld die aandag aangegryp het. ’n Liefdesverhouding het ontwikkel tussen ’n president en Nobelpryswenner wat wêreldroem verwerf het deur die dramatiese verandering wat hy in sy problematiese land gelei het, en ’n vrou sonder enige betrokkenheid by die politieke kwessies wat sy lewe bepaal het. As die eggenoot van ’n gedrewe sakeman was haar lewe dié van rykdom en bevoorregting; sy het oral deur die wêreld gereis, was deel van ’n hegte gesin en gasvrou van vele huise, wat ’n landgoed en herewoning ingesluit het.

    Meer nog: hulle was al twee steeds getroud met ander mense.

    Juis daarom was dit geen eenvoudige en maklike liefde nie. Albei het jare lank probeer om nie van hul huweliksmaats te skei nie. Hulle het voortdurend vir mekaar gesê: Dit kan nie. Ons moet ons gevoelens aflê. Albei sou die gramskap van vyande én vriende aan die lyf voel toe hul verhouding uiteindelik in die hoofopskrifte uitgebasuin word. Hulle sou vriende in die proses verloor; daar was beskuldigings van verraad, en selfs dat hulle hul geloofsbeginsels verloën het.

    Hy sou uiteindelik verklaar dat hy teen die skyn van konvensionele fatsoenlikheid sy keuse moes maak. Ek het verlief geraak op ’n eerbare vrou van buitelandse afkoms.

    Sy sou sê: Ek het ’n wonderlike mens ontmoet en ek het hom met my hele hart liefgekry.

    Hulle het mekaar vir die eerste keer in ’n teater ontmoet. Later sou bekendes, die skindertonge en die media ook na hul verhouding verwys as ’n Griekse drama – ’n drama wat hom tot aan sy einde voor die gretige oë van die plaaslike en internasionale media sou uitspeel.

    Hy was gewoond aan die openbare oog, sy was skugter daarvoor. Toe sy onmiddellik ná die bekendmaking van hul verhouding uit Suid-Afrika na Griekeland vertrek het, het ’n verslaggewer van die Sunday Times ook plek op die vliegtuig bespreek en het sy vir die eerste keer in haar lewe ’n onderhoud met ’n koerant gehad.

    Haar swaer, Totis Vernicos, het haar geterg: Jý, Elita, ’n openbare onderhoud voer! Die skok daarvan om met die media te praat was vir haar net so groot soos die foto’s en berigte in die Griekse koerante. Is daardie vrou regtig ek? het sy verslae gevra. En toe gesug: Ja, dis ek.

    Sy het FW toe reeds tien jaar al geken. Sou sy ooit kon droom dat haar lewe só verweef met Suid-Afrika sou raak, ’n land wat sy tien jaar terug skaars geken het, en nog minder verstaan het.

    Een: ’n Jong vrou met ou wysheid

    In Mei 1989 het Tony en Elita Georgiadis ses plekke bespreek vir die musiekblyspel Les Misérables in die Queens-teater in Londen. Hul gaste vir die aand was Tony se broer Alex en sy vrou, Annie, en twee Suid-Afrikaners, FW en Marike de Klerk. Ná die opvoering sou hulle in die uitgelese Marks-klub gaan eet sodat die Georgiadisse die De Klerks beter kon leer ken.

    Tony Georgiadis het intensiewe sakebelange in Afrika en veral Suid-Afrika gehad. Hy was alom bekend in skeepskringe, en sy sakeryk het dwarsoor die Westerse wêreld gestrek. Hoewel hy en Elita Suid-Afrika sedert 1980 gereeld besoek het, het hulle nog nooit die geleentheid – of die nodigheid – gehad om FW de Klerk te ontmoet nie.

    Baie goeie vriende van die De Klerks, doktor Dawie en Suzaan de Villiers, het as ambassadeurspaar in Londen reeds goed bevriend geraak met die Georgiadis-familie, deels as gevolg van die Georgiadis-broers se gevestigde belange in Suid-Afrika. FW de Klerk is pas as leier van die Nasionale Party in Suid-Afrika verkies, en was dus die toekomstige president van die land. As ambassadeur én as vriend van beide het Dawie de Villiers gedink dit sou gaaf wees dat die twee mans kennis maak, en dat Tony met sy internasionale sakebedrywighede ’n goeie klankbord vir FW sou wees.

    Dit was FW se eerste buitelandse besoek in sy nuwe leiersposisie, en sy doel daarmee was hoofsaaklik om die beplande indringende veranderinge aan die apartheidsbeleid aan staatshoofde in die buiteland te verduidelik. Die belangrikheid van die besoek het onder meer geblyk uit Margaret Thatcher, premier van Brittanje, se aanduiding dat sy hom graag wil ontmoet. FW was ’n taamlik onbekende faktor buite Suid-Afrika, en daar was ook in die sake- en politieke kringe waarin die Georgiadis-broers beweeg het nuuskierigheid oor hom.

    Op die aand van hul afspraak was FW nog besig met onderhoude met Britse politici, en daar is gereël dat Tony en Elita Marike de Klerk solank by die hotel sou ontmoet en na die teater sou gaan, waar FW later by hulle sou aansluit.

    Elita het die Suid-Afrikaanse vrou ietwat gespanne gevind, en in ’n poging om haar op haar gemak te stel, het sy lighartig gesê: Dis tog so waar hoe belangrik die vrou agter die man eintlik is.

    Tot haar verbasing het Marike onthuts op dié opmerking gereageer. Wat weet jy dan van my? het sy agterdogtig gevra.

    Elita het besef dat sy verkeerd verstaan word en dat sy die ouer vrou met meer omsigtigheid sou moes behandel. Nee, dis mos maar wat hulle altyd sê, het sy die situasie probeer ontlont.

    Ná die eerste pouse het FW by die geselskap in die teater aangesluit en sy plek tussen Elita en Marike ingeneem. Hy het dadelik Marike se hand in syne geneem en Elita het dié gebaar opgemerk. ’n Goeie man, het sy goedkeurend gedink.

    Toe hulle agterna by die Marks-klub gaan eet, was Marike steeds senuagtig, maar dit was ook duidelik dat sy die opvoering geniet het. Vir Elita was dit opvallend hoeveel aandag FW (wat sy Efwia uitspreek) tydens die ete aan sy vrou gegee het, en sy het ook opgelet hoe gemaklik hy lyk. Sy pak en das was nie die formele soort wat die Europeërs dra nie. Hy was warmer en toegankliker as die Europese sakemanne wat sy ken, met geen aanstellerigheid of pogings om te imponeer nie. Amper naïef op ’n mooi manier, en baie eerlik, het sy hom opgesom.

    Sy vriendelike oë, ’n amper onnatuurlike diep blou, het haar getref, en ook sy skoolseunagtige sjarme. Hy het gemaklik met haar gesels en hy het regtig belang gestel in wat ek dink, sou sy agterna sê.

    Op sy beurt onthou hy sy eerste ontmoeting met haar só: Ek was verbaas oor en ingenome met so ’n jong, intelligente vrou met sulke ou wysheid.

    Die Georgiadis-broers het baie belang gestel in FW se politieke sienings en het hom indringende vrae gevra. Sy antwoorde daarop het Elita laat besef dat dié man vasberade was om dinge in sy land ingrypend te verander. Die beeld het by haar opgekom van iemand wat ’n moeilike en riskante kruistog onderneem, en sy het instinktief gevoel dat sy hom wil help.

    Saam met haar, aan haar onderklere gespeld, dra sy altyd, ’n porseleinknopie bekend as ’n evil eye iets wat in die Midde-Ooste beskou word as ’n beswering teen onheil of ongeluk. In die kleedkamer het sy die knopie gou gaan losmaak, dit in haar hand toegevou en toe vir die ietwat verbaasde en verleë FW gegee.

    Hy het nie geweet wat dit voorstel nie en Elita het laggend gesê dis ’n talisman teen onheil. Dis ’n ‘oog’ wat jou sal help om die ongeluk af te weer en wat goeie geluk vir jou sal bring – so glo ons Grieke, het sy verduidelik. Agterna sou sy dikwels wonder waarom sy so impulsief opgetree het deur aan ’n vreemde man so ’n persoonlike item te gee.

    Uit FW se reaksie op dié gebaar het sy hom geskat as ’n konserwatiewe man, maar dit het wel gelyk asof Marike plesier daaraan gehad het. Elita het weer opgelet hoe gemaklik Marike en FW by mekaar gelyk het toe Marike hartlik saamgelag het oor sy onbeholpenheid met die onverwagte geskenk.

    Hoewel hy die knopie later verloor het, sou FW nog deeglik kennis neem van Elita se bygelowe. Jare later sou hy self nooit sonder soortgelyke talismanne in sy sakportefeulje reis nie – ’n seeklippie in ’n goue hartvormpie, ’n silwerkruis en ’n miniatuurvouertjie met haar foto – hoewel hy geen bygeloof daaraan sou heg nie.

    Dié klein episode het ekstra vrolikheid om die tafel gebring, maar gou daarna het Marike weer teruggeval in haar gespannenheid. Sou sy nie van hulle hou nie? het Elita gewonder. Of sou sy baie besorg wees oor FW se missie in Londen?

    Só voelbaar was Marike se afsydigheid dat die Georgiadisse laat die aand op pad huis toe vir mekaar gesê het: Gawe man, gekompliseerde vrou.

    Kort daarna het die twee egpare weer in Londen ontmoet en feitlik onmiddellik ’n toegeneë vriendskapsband gesmee. Tony was baie bewus daarvan dat FW op ’n soort bekendstellingsending deur die wêreld reis en het, gedagtig aan sy sakebelange in Suid-Afrika, die De Klerks na hul onthale genooi. FW en Marike is ook verseker dat hulle baie welkom is in die Georgiadis-huis in Londen.

    Wat aanvanklik bloot as kontakte beskou is, het gaandeweg ontwikkel in vriendskap. Hoewel dit FW se streng voorneme was om nie betrokke te raak by die Georgiadis-sakeondernemings nie, het die twee mans mekaar goeie gespreksgenote gevind oor allerhande sake. As nyweraar en internasionale belegger kon Tony sy sienings meet teen FW se juridiese en politieke insigte. Daarby het hulle ’n strawwe rookgewoonte gedeel.

    Met die Georgiadisse se eerste besoek aan Suid-Afrika ná die ontmoetings in Londen het FW en Marike hulle in Kaapstad ontvang. Albei pare het gevind dat hulle baie gemeenskaplike Suid-Afrikaanse vriende het. Dit het ’n gereelde gebruik geword dat die egpare mekaar in Engeland of in Suid-Afrika ontmoet het.

    Gaandeweg het hulle die dinge begin doen wat goeie vriende doen: mekaar laatnag gebel, mekaar se kinders ontvang, saam inkopies gedoen, roomys by straatkafees geëet, kunsaankope bespreek, vakansies saam deurgebring. Hulle sou moeite doen om tyd en ruimte vir mekaar te skep, en in die volgende drie jaar sou hulle mekaar baie goed leer ken.

    FW sou verneem van Elita se bevoorregte kinderlewe in Griekeland en hy sou ook bewus word van die eensaamheid van die grootwordjare van ’n sensitiewe kind wat soms as ’n poor little rich girl bestempel kon word.

    Twee: ’n Kind van Kolonaki

    Elizabeth Lanaras is op 11 Maart 1952 gebore in Kolonaki, ’n weeldebuurt van Athene. Haar ouers, George en Helen (wat as Nitsa bekend was), het behoort tot die jonger geslag bevoorregte Grieke wat besig was om hul lewens ná die Tweede Wêreldoorlog te herbou.

    Elita, hul eersteling, was ’n gesonde, ronde baba, gretiglik verwelkom deur haar oumas, ’n oupa, en ’n versameling tantes, ooms, niggies en nefies wat, soos die talle foto’s getuig, al die rituele rondom die geboorte van ’n Griekse baba bygewoon het. Outydse kiekies toon die baba in haar badjie, op haar bedjie, die doopplegtigheid, haar eerste treetjies, haar eerste babapartytjie, sittend op oumas se skote, vasgehou deur ’n stugge oupa, as ’n peuter met ’n vet magie aan haar pa se hand op die strand.

    Dié foto’s verraai geen sweem van die sukkelende, stuwende wêreld buite hierdie kring van mense wat so dikwels en so graag laggend gegroepeer het om afgeneem te word nie. Dié beelde van ’n vrolike familie en vriende rondom verjaardagkoeke, aan keurig gedekte tafels, by monumente, die arms om mekaar se skouers geslaan, vertel baie van die onverwoesbare Griekse gees. Want buite Kolonaki was Athene nog grotendeels ’n verpletterde stad. Die verwoesting van ’n wêreldoorlog, gevolg deur ’n burgeroorlog, het mooi Griekeland in ’n ellende van armoede en hongersnood gedompel.

    Ná die aanvanklike welslae wat die Griekse magte teen Mussolini se Italiaanse inval in Oktober 1940 gehad het, het Hitler sy eie troepe, die Duitse SS, met tenks en Stuka-bomwerpers vroeg in 1941 Griekeland ingestuur. Die ganse land is beset tot 1944, toe die Nazi’s uiteindelik verdryf is.

    Ten spyte van hul bevoorregte posisie het jong Grieke soos George en Nitsa ook gely onder die gebrek en verskrikking wat die land in ’n knelgreep gehou het tydens die Duitse okkupasie. Reeds voor die oorlog was daar sterk verdeeldheid in Griekeland, maar tydens hul weerstand teen eers die Italianers en daarna die Duitsers is die faksieverskille op die agtergrond geskuif. Voorlopig was daar samewerking tussen die militante, kommunisties gesinde Nasionale Liberale Front en die pro-regeringsmagte, die Griekse Demokratiese Liga, wat die monargie ondersteun het.

    Onmiddellik ná die onttrekking van die Duitsers het hierdie samewerking verbrokkel toe die pro-kommunistiese magte probeer het om die regering oor te neem. ’n Bittere burgeroorlog het gevolg en in die volgende vier jaar nog meer lyding veroorsaak, sodat sowat ’n agtste van die Griekse bevolking altesaam in die twee oorloë uitgewis is. Die Griekse moreel is verder ondermyn deur die sogenaamde pedomasoma, waartydens sowat 28 000 kinders deur die kommunistiese guerrillas ontvoer en na naburige kommunistiese lande geneem

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1