Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Tuiste in eie taal
Tuiste in eie taal
Tuiste in eie taal
Ebook1,131 pages14 hours

Tuiste in eie taal

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

In sy Tuiste in Eie Taal (1980) is Steyn die eerste belangrike akademikus van die tydperk wat die aard van bedreigings vir Afrikaans se toekomstige posisie omvattend identifiseer en ontleed. Hy merk daaroor op dat die grootste gevaar in die Afrikaanse intellektuele lewe nie meer is dat meningsvormers sal versuim om die stryd teen ekonomiese en politieke onreg te voer nie. Die groot gevaar is eerder dat hulle in die proses van oopskryf, en van regskryf wat verkeerd is, ook sal doodskryf, sodat nuwe geslagte Afrikaners sku sou wees om vir hulle volk en taal in te tree.Vir Steyn is Afrikaner-nasionalisme die beweging wat Afrikaners as volk en Afrikaans as kultuurtaal behou en bevorder het in die dekades na die vernietigende Anglo-Boere-Oorlog.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateDec 17, 2016
ISBN9780624078265
Tuiste in eie taal
Author

J.C. Steyn

Jacob Cornelius Steyn is op 31 Julie 1938 op die plaas Mara, distrik Fouriesburg, in die Vrystaat gebore. Aan die einde van 1944 is sy ouers na die distrik Petrus Steyn, en hy was daar in ’n plaasskool en daarna die hoërskool op Petrus Steyn. Van 1958 tot 1958 was hy heeltydse student aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat en behaal die BA-graad met onderskeidings in die hoofvakke Afrikaans-Nederlands en Duits. Terwyl hy van 1959 tot Julie 1964 verbonde is aan die Bloemfonteinse dagblad, Volksblad, behaal hy as deeltydse student die M.A. in Afrikaans en Nederlands (cum laude). Van September 1964 tot Desember 1967 studeer hy aan die Gemeentelijke Universiteit van Amsterdam, waar hy die doktoraal-eksamen in 1966 (cum laude) behaal met hoofvak algemene taalwetenskap en byvakke Nederlandse taalkunde en Suid-Sotho. Van 1968 tot Junie 1970 was hy lektor in algemene taalwetenskap aan die Universiteit van Port Elizabeth, en daarna tot Maart 1985 aan die Randse Afrikaanse universiteit. Vir 'n kort periode – van Julie 1974-Augustus 1975 – was hy verbonde aan die hoofredaksie van Rapport. Sy doktorsgraad verwerf hy in 1968 aan die Universiteit van Port Elizabeth. Van April 1985 tot Desember 1997 was hy professor/navorser aan die Universiteit van die Vrystaat. Steyn het honderde koerantartikels oor veral taalpolitiek geskryf, asook sowat honderd artikels in vaktydskrifte en boeke. Hy is die skrywer van ’n digbundel Die grammatika van liefhê (1975), en die volgende prosawerke: Op pad na die grens (1976), Dagboek van ’n verraaier (1978), Die verlore vader (1985) en Hoeke Boerseuns ons was (1991). Ook van ’n aantal nie-fiksiewerke is hy die outeur. Hulle is Tuiste in eie taal (1980), Trouwe Afrikaners. Aspekte van Afrikanernasionalisme en Suid-Afrikaanse taalpolitiek 1875-1838 (1987), Van Wyk Louw – ’n lewensverhaal (1998), Penvegter: Piet Cillié van Die Burger (2002) en Die honderd jaar van M.E.R (2004). Verder is hy die skrywer (en in enkele gevalle medeskrywer) van 21 van die 22 artikels in W.D. Beukes (redakteur) en J.C. Steyn: Boekewêreld. Die Nasionale Pers in die uitgewersbedryf tot 1990 (1992). Behalwe laasgenoemde (wat by Nasionale Boekhandel verskyn het) is al die boeke deur Tafelberg uitgegee. Steyn het ses keer pryse van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ontvang. Dit is die Eugène Maraisprys vir debuutwerk vir Die grammatika van liefhê (1976), die C.J. Langenhovenprys vir taalwetenskap (1988), die Elisabeth Eybersbeurs vir navorsing in Nederland (1996), die N.P. van Wyk Louwmedalje vir skeppende bydraes tot die ontginning van sekere vakgebiede (2000), die Stalsprys vir geskiedwetenskappe vir N.P. van Wyk Louw – ’n lewensverhaal (2003) en die Louis Hiemstraprys vir nie-fiksie vir Die 100 jaar van M.E.R (2005). Ander pryse wat hy ontvang het, is die Ingrid Jonkerprys vir sy poësiedebuut Die grammatika van liefhê (1976), twee keer die Recht Malan-prys vir nie-fiksie vir Tuiste in eie taal (1981) en N.P. van Wyk Louw – ’n lewensverhaal (1999), die Louis Luytprys vir Tuiste in eie taal (1981), en die Insig-prys vir nie-fiksie (2000) vir N.P. van Wyk Louw – ’n lewensverhaal. Die Recht Malan-prys vir nie-fiksie is ook in 1993 aan die redakteur en skrywers van Boekewêreld. Die Nasionale Pers in die uitgewersbedryf tot 1992 toegeken.

Related to Tuiste in eie taal

Related ebooks

Related articles

Related categories

Reviews for Tuiste in eie taal

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Tuiste in eie taal - J.C. Steyn

    J.C. Steyn

    Tuiste in eie taal

    Die behoud en bestaan

    van Afrikaans

    Tafelberg

    AAN MY OUERS

    INLEIDING

    As volk is die Afrikaner, vergeleke met die groot volke van die wêreld klein en onbeduidend … As die Afrikaner droom, durf hy alleen droom van dinge wat groot volke as vanselfsprekend aanvaar: die reg op ’n plek van sy eie, die reg om as volk te mag voortbestaan en om sy eie taal te durf praat.

    Klein en onbeduidend, soos Beeld in ’n Geloftedag-hoofartikel skryf,[1] is Afrikaans ook in vergelyking met tale soos Chinees, Hindi, Russies, Spaans, Engels, Frans en Duits. Tog is daar letterlik honderde en honderde tale wat nóg kleiner is. Van Afrika se meer as duisend tale het net ongeveer 40 meer as ’n miljoen sprekers. Die helfte hiervan is kleiner as Afrikaans. Die 700 tale van Nieu-Guinee en omstreke het altesaam sowat 2,4 miljoen sprekers en die 250 Austronesiese tale in Melanesië word deur gemeenskappe van ’n paar honderd tot ’n paar duisend gepraat. Australië het 260 inheemse tale met naastenby 47 000 sprekers.

    Partykeer is dit ’n paar families op ’n afgeleë dorpie, dalk net ’n huisgesin of twee, soms twee of drie persone wat die taal gebruik. Dat sulke tale feitlik oornag kan uitsterf, is verstaanbaar. The stark fact is that languages, like animal species, are now dying at an alarming rate. Even as I am speaking, one or another rare or so-called ‘primitive’ tongue is vanishing from the face of the earth, het George Steiner in 1977 in ’n radiopraatjie gesê.[2]

    Ons sê gewoonlik dat ’n taal groot is as dit baie sprekers het, dat hy kwyn as al hoe minder mense hom gebruik en sterf as niemand dit meer praat nie. Nie alle klein tale is noodwendig kwynende of sterwende tale nie. Eskimo, wat sowat 40 000 sprekers in Groenland het, is springlewendig en het ’n amptelike taal van die eiland geword. Sommige van die Indiane-tale in Midde- en Suid-Amerika word as bloeiend beskou al het hulle net ’n paar honderdduisend sprekers en al het hulle ’n internasionale taal soos Spaans as mededinger.

    Afrikaans ís dus ’n klein taal, maar beslis nie een van die kleinstes nie, selfs nie eens die kleinste Germaanse taal nie. Volgens die 1974-uitgawe van die Encyclopaedia Britannica is Fries, Faroees, Yslands en selfs Noors kleiner. Daar is buitendien baie tale oor die hele wêreld met ongeveer net soveel gebruikers as Afrikaans.

    Tog het baie mense al getwyfel of Afrikaans sal oorleef. Van die skryfster Olive Schreiner is daar ’n bekende uitspraak van 1896: In fifty years’ fight and struggle against it as we wish, there will be no Boer in South Africa speaking the Taal, save as a curiosity, only the great English-speaking South African People.[3] Baie Afrikaners het destyds net so gedink. Op 24 Oktober 1890 het studente van die Victoria-Kollege, die latere Universiteit van Stellenbosch, ’n debat oor aktuele taalsake gehou. Een van die vrae was: Is daar hoop dat ’n beskaafde Afrikaanse Hollands op die duur in beskaafde kringe in Suid-Afrika naas Engels sal voortbestaan? Vyftien van die studente het gemeen ja, maar twintig nee.[4] Dié wat getwyfel het, sou seker baie deugdelike en oortuigende argumente kon aanvoer vir hul geloof dat Afrikaans aan die sterwe was. Onder die twyfelaars was daar sommige van die beste geeste van die Afrikanervolk.

    Heelwat publikasies handel deesdae oor oorlewing en minimum-bestaansvoorwaardes. Dis glad nie verbasend dat mense ook oor die oorlewing van Afrikaans praat nie. Party sprekers van veel sterker tale is tereg of ten onregte bekommerd oor hul taal. ’n Rubriekskrywer het in ’n tydskrif oor Nederlands gesê: We moeten ons volstrekt niet voorstellen dat onze taal een onbedreigde taal is … Dit was na aanleiding van die verdringing van Nederlands in die Wes-Duitse gebied Neder-Rynland en Frans-Vlaandere in Frankryk, asook die verfransing van die Belgiese hoofstad Brussel.[5]

    Verskeie Franse leiers raak weer onrustig oor die vordering van Engels en die verswakking van die internasionale posisie van Frans. Oud-pres. Georges Pompidou van Frankryk het oor die bedreiging van Engels vir die Europese Ekonomiese Gemeenskap gesê: As ons toegee oor taal, sal ons platgeloop word. Dis ons taal wat maak dat ons nie ’n bloot gesigslose land tussen ander is nie.[6]

    Tale soos Engels, Chinees, Russies en Spaans is werklik in ’n benydenswaardige posisie. Maar ’n mens het nie ’n danige verbeelding nodig nie om te besef dat ook húlle oorlewing nie doodseker is in ons tyd met sy atoommissiele, neutronbomme, bakteriologiese en chemiese oorlogvoering en manipulasie van die weer nie.

    Dis onmoontlik om sinvol oor die toekoms van enige taal te praat as ’n mens nie weet hoe en waarom tale groei en kwyn en wat die sprekers van kwynende tale gedoen het en vandag nog doen om die agteruitgang van hul tale te stuit nie. Die prosesse waarvolgens tale groei en kwyn en die faktore wat die prosesse aan die gang sit, is die onderwerp van die eerste twee hoofstukke in Afdeling A, en taalbeplanning teen dreigende ondergang dié van die derde.

    Die moderne samelewing het baie dinge geriefliker en gemakliker gemaak, maar vir klein tale lewer modernisering van die gemeenskap allerhande probleme. Daarop word ook in hoofstuk 3 ingegaan.

    Ná hierdie algemene hoofstukke word in Afdeling B die geskiedenis van Afrikaans tot in ons tyd behandel. Hoe en waarom het Afrikaans gegroei en waarom het dit nie groter vordering gemaak nie? Die antwoorde op hierdie vrae bly ter sake vir die toekoms, want hulle help ’n mens bewus maak van foute van die verlede wat ons moet vermy, maar ook van groeimoontlikhede wat ’n mens kan probeer benut.

    Die voorwaardes vir die voortbestaan van Afrikaans is die onderwerp van die verskillende hoofstukke van die laaste afdeling. Wat staan in die weg van ’n volgehoue groei? Dit kan skyn asof so ’n benadering negatief is: die klem val miskien meer op knelpunte en probleme as op groeimoontlikhede. Maar dis inderdaad skyn. Die oplossing van probleme, of pogings om van die nood sover moontlik ’n deug te maak, is reeds ’n vorm van groei.

    Die studie van taalgroei, taalagteruitgang en taalhandhawing behoort tot die taalsosiologie. Dié boek is gegrond op taalsosiologiese en taal- en politiek-historiese studies oor Afrikaans en ander tale. Tog sal die leser plek-plek iets teëkom wat die taalsosioloog miskien nie tot sy studieveld sal reken nie: die mislukking en sukses van terroristestryde, dekadensie, permissiwiteit en sensuur, en die belangrikheid van die landbou. Maar soos in die loop van die boek duidelik sal word, is al hierdie sake in mindere of meerdere mate van belang vir ’n gesprek oor die toekoms van Afrikaans.

    Hierdie boek is wel gegrond op taalsosiologiese en historiese werke, maar soos die taalsosioloog L. Pietersen skryf, is die verklaring en voorspelling van taalhandhawing en taalverlies een van die onbevredigendste hoofstukke van dié vak. Taalsosioloë kon nog nie ’n model opstel wat die bloei of agteruitgang van tale afdoende verklaar nie.[7]

    Gelukkig hoef ons ook nie te probeer voorspel nie. Die voorspellings van natuurwetenskaplikes en historici oor toekomstige ontwikkelinge is meestal onjuis. Die Britse historikus A.J.P. Taylor sê dat ontdekkings wat veronderstel was om die voordeligste te wees, dikwels die rampspoedigste was, terwyl die ergste gebeurtenisse partykeer die heilsaamste gevolge het. It is still a safe guess that things will never be as bad or as good as we expect them to be. And the only wise course is still to follow Voltaire’s advice: cultivate your garden – if you have one.[8]

    Junie 1980

    AFDELING A

    Die groei en agteruitgang van tale

    HOOFSTUK1

    Hoe groei en kwyn tale?

    When a Russian pilot seeks to land at an airfield in Athens, Cairo or New Delhi, he talks to the control tower in English.Hierdie stelling van ’n Keniase joernalis haal ’n professor van Oeganda aan in ’n opstel waarin hy nogal geesdriftig skrywe oor die opkoms van die Afro-Saxons, swart Afrikane waarvan die moedertaal Engels is. Die professor, Ali Mazrui, meen dat daar teen die einde van die eeu waarskynlik meer Afro-Saxons as Britte sal wees.[1] Die opkoms van die Afro-Saxons is maar een verskynsel wat toon hoe ’n belangrike wêreldtaal Engels geword het, ’n skrale vier eeue nadat geleerdes van Engeland geskryf het oor die taal wat nie eens oral op this island gepraat word nie en in onbruik sal raak as al die mense van die eiland eendag opgevoed is![2]

    Maar terwyl die een taal so dramaties gegroei het, moet ’n bekommerde digter van ’n ander taal skryf:

    Ik ben van hen

    die luisteren als ze spreken,

    want ik spreek een taal,

    die mijn buur niet meer verstaat.

    Ik spreek haar voor mezelf.

    Tussen God en mij

    stel ik de vraag:

    Of’t nog de moeite loont

    het woord getrouw te zijn

    zoals ik doe.

    Hierdie digter is Ronan Hunon, wat skrywe oor sy taal Bretons, ’n taal wat volgens Jan Deloof, vertaler van die gedig een taal in doodsnood (is), … een taal die sterft, … een taal die vermoord wordt.[3] Bretons en sy drie naaste familielede – Iers, Wallies en Skots-Gaelies – is die laaste oorblyfsels van ’n taalfamilie, die Keltiese tale, wat eeue gelede oor ’n groot deel van Europa gepraat is. Met talle ander tale het dit nog slegter gegaan, byvoorbeeld die uitgestorwe tale soos Sumeries, Etruskies, Egipties, Goties, Tasmanies, verskeie inheemse Australiese tale en Indianetale van Amerika.

    Waarom het Engels gegroei, Egipties gesterf en is Bretons in doodsnood?

    Hierdie vraag kan ons eintlik moeilik skei van ’n ander vraag: Hoe verloop die sterf-en groeiprosesse van tale?

    Die lotgevalle van Iers gee ons ’n aanduiding van hierdie prosesse.[4]

    Sowat agt eeue gelede is Iers nog oor omtrent die hele Ierland gepraat. Nadat die eiland in die twaalfde eeu onder Engelse gesag gekom het, het die taal langsamerhand agteruitgegaan, veral sedert die sewentiende eeu toe baie Engelse in Ierland kom woon het. Nogtans was Iers aan die begin van die negentiende eeu nog die vernaamste taal, veral buite die stede.

    Tussen 1816 en 1848 misluk die aartappeloes egter ’n paar keer heeltemal of gedeeltelik. Die misoes van 1846 is gevolg deur ’n strawwe winter en ’n epidemie van famine fever – ’n kombinasie van tifus en terugkerende koors (relapsing fever) – en gou daarna ook disenterie en skeurbuik. Talle mense is dood van honger en siekte. In 1847 het dit effens beter gegaan, maar in 1848 baie erger. Geweldige sterftes was die gevolg. Die bevolking van Ierland het van 8,2 miljoen in 1841 tot 6,5 miljoen in 1851 en 4,5 miljoen in 1901 gedaal.

    Dit was nie net honger en siekte wat tot die groot verlies gelei het nie. Talle Iere het na Kanada en die VSA geëmigreer. Dit was die instinktiewe reaksie van ’n paniekbevange bevolking. Die aanvanklike histerie was teen 1846 tot die kleinboere beperk, maar gou het dorpenaars ook aangesteek.

    Mettertyd het ’n ander tendens duidelik geword, naamlik dat al hoe meer Iere eers op ’n hoë leeftyd getrou het. Buitendien het minder mense ook getrou. Dié neiging het tot in ons tyd voortbestaan. Teen 1951 was 97 persent van die jong mans van tussen 20 en 24 jaar nog ongetroud en 81 persent van die jong vroue; onderskeidelik 84 persent en 54 persent van die mans en vroue tussen 25 en 29 was ongetroud en 68 en 36 persent van die mans en vroue tussen 30 en 34. Net ná die Tweede Wêreldoorlog het boere gemiddeld ná hul 39ste jaar getrou en een uit vier boere tussen 65 en 74 was ’n vrygesel.

    Hoewel daar darem nog altyd redelik baie kinders gebore is en die geboorte-aanwas die verlies deur sterfte kon oorskry, is die toename telkens deur emigrasie uitgewis.

    Vanweë die hoë sterftesyfer en emigrasie het Iers nie net swakker geword nie, maar al hoe swakker. Hierdie al hoe swakker-word is nie vanselfsprekend nie. Dit blyk duidelik as ons onthou dat die Swart Dood (die pes) van 1348 na bewering die lewens van 25 miljoen mense, ’n kwart van die bevolking van Europa, geëis het.[5] Hoewel daar onsekerheid oor die presiese syfers is, het Italië blykbaar die helfte van sy bevolking en Engeland en Frankryk ongeveer ’n derde van hul bevolkings verloor.[6]

    Italiaans, Frans en Engels het voortbestaan, ondanks die baie sterfgevalle, maar Iers het agteruitgegaan toe ’n vergelykbare ramp die Iere getref het. Waarom? In die geval van Iers het nog iets bygekom.

    In Amerika was die Ierse immigrante ’n minderheid. Dié wat nog nie Engels geken het nie, en veral hul kinders en kleinkinders, het Engels aangeneem. In Ierland self was ’n deel van die bevolking eeue lank in aanraking met Engelse immigrante en hulle het die immigrantetaal, Engels, aangeneem, veral ná die groot ramp.

    Behalwe die suiwer fisieke prosesse (doodgaan of wegtrek) was daar dus ’n ander proses wat Iers laat agteruitgaan het, een wat aan die gang gesit is deur kontak met sprekers van ’n ander taal. Hierdie twee soorte prosesse speel ’n rol in alle gevalle van taalgroei en agteruitgang en hulle word in die res van die hoofstuk toegelig onder die hoofde Demografiese prosesse en Assimilasie.

    1 DEMOGRAFIESE PROSESSE

    Demografiese prosesse is prosesse wat die grootte, samestelling en verspreiding van bevolkings verander.

    Die geskiedenis van Iers illustreer twee demografiese prosesse. Die eerste is die styging in die geboortesyfer en/of ’n daling in die sterftesyfer wat die getal sprekers van die taal natuurlik mettertyd meer laat word, of anders ’n daling van die geboortesyfer en/of ’n styging van die sterftesyfer wat die aantal sprekers minder kan laat word. Die bevolkingsaanwas kan dus groei of krimp. Daar kan ’n bevolkingsontploffing kom of die bevolking kan om die een of ander rede kwyn.

    Die tweede demografiese proses is ’n bevolkingsverskuiwing of migrasie. Die Iere het weggetrek omdat daar ’n sogenaamde stoot- en trek-faktor was. Die stoot-faktor was die haglike ekonomiese toestand: All we want, is to get out of Ireland … we must be better off anywhere else than here, het die woordvoerder van ’n groep emigrante gesê.[7] Die trek-faktor was die aantreklike vooruitsigte in die nuwe wêreld. Hierdie nuwe wêreld was ook die aantrekkingskrag vir miljoene ander immigrante uit alle dele van Europa.

    Volksverhuisings het ’n rol gespeel in die geskiedenis van seker alle tale.

    Die Indianetale het deur migrasie in Amerika gekom; die sprekers van feitlik al die huidige Europese tale is die nageslag van mense wat van êrens uit die Ooste die gebied binnegetrek het; álle Suid-Afrikaanse tale is eintlik migrantetale omdat die voorouers van die sprekers daarvan oorspronklik uit ander dele van Afrika of Europa gekom het.[8]

    Daar is verskillende soorte migrasies. Die volksverhuising van die Magjare uit Midde-Rusland na die huidige Hongarye beskou die demograaf Ralph Thomlinson as ’n voorbeeld van ’n inval.[9] Die hele bevolking het uit hul eie land weggetrek na ’n ander. Ander bekende invalle is dié van die Gote en Vandale in die Romeinse Ryk.

    Die onderwerping van die Indiese beskawings deur die Ariërs uit Oos-Europa tussen 2000 en 1500 v.C. is bekend as verowering. Die veroweraars vestig hulle in die verowerde land, trou met die verowerdes en laat ’n nuwe bevolking ontstaan. Soms verdring die migrante die oorspronklike bevolking. So het die blankes die Indiane in Noord-Amerika weswaarts laat trek.

    Slawerny het ’n ander soort migrasie tot gevolg. Tussen 1550 en 1850 het verskeie Europese moondhede tussen 10 en 20 miljoen swartes as slawe na die Westelike Halfrond weggevoer.

    Ten slotte is daar kolonisering. ’n Groep mense gaan woon onder toesig van die moederland in ’n nuwe land. Die moederland bestuur die kolonie asof dit deel van sy eie land is, of baie dikwels as ’n wingewes wat hy ter wille van sy eie ekonomiese belange kan uitbuit. Die inheemse bevolking mag nie sy eie sake bestuur nie.

    Migrasie skep altyd die moontlikheid vir taalgroei of taalagteruitgang, maar daar is ander faktore wat bepaal of daardie moontlikheid werklikheid word. Die taal van die migrante kan die taal word van die land wat hulle binnegeval, verower of gekoloniseer het. Engels het die taal van ’n deel van Noord-Amerika en Ierland geword. Die migrantetaal kan ook verdwyn terwyl die inheemse of oorspronklike taal bly bestaan: die Germaanse invallers in die Romeinse Ryk (soos die Gote en Vandale) het hul tale prysgegee en die tale van die verowerdes aangeneem.[10]

    2 ASSIMILASIE

    Laat ons weer kyk na die voorbeeld van die Iere en ander Europeërs wat na die VSA geïmmigreer het.

    Sommige immigrante het as kinders nog hul moedertaal geleer, maar dit later in hul lewe verleer. Dié wat getrou het met vroue of mans wat reeds Engels was, het Engels makliker aangeneem as dié wat nog met taalgenote getrou het. Groot groepe immigrante het binne twee of drie geslagte met die Amerikaanse bevolking geassimileer geraak.

    Assimilasie is ’n term wat verskillende wetenskappe gebruik, maar alle gebruike hou verband met die Latynse werkwoord waarvan die woord afgelei is, nl. assimilare, wat om gelyk te maak beteken.

    Thomlinson onderskei drie stappe in die assimilasie van immigrante.[11] Die eerste is opneming in die ekonomie van die land, die tweede is biologiese samegroeiing deur ondertrouery en die derde is kulturele en sosiale assimilasie.

    Wanneer iemand die norme en waardes van die nuwe gemeenskap in so ’n mate aanvaar dat hy feitlik nes die ander lede daarvan optree, kan ’n mens sê dat hy geassimileer is. Immigrante wat nog met die taal sukkel, is nie volledig geassimileer nie.

    Die assimilasieproses kan só verloop dat ’n enkeling of groep in die samelewing van die nuwe land opgaan sonder om die kultuur enigsins te verander.

    Die kulture van die verskillende groepe kan ook met mekaar saamsmelt en ’n nuwe kultuur vorm wat elemente van albei het, maar ook van albei verskil.

    N.J. Rhoodie en C.F. Swart sê daar is ook ’n derde moontlikheid, nl. kulturele pluralisme, wat nie die verdwyning nie van een van die twee kulture impliseer, maar (inhou) dat hulle langs mekaar bestaan en ontwikkel.[12]

    Hierdie drie moontlikhede bestaan ook vir tale waarvan die sprekers in dieselfde gebied met mekaar in aanraking kom. Die tale kan vermeng raak sodat ’n nuwe taal ontstaan, die een taalgemeenskap kan die taal van die ander aanneem, of daar kan ’n min of meer stabiele twee- of meertalige situasie (die ekwivalent van kulturele pluralisme) ontstaan. Laat ons kortliks na elk van dié drie moontlikhede kyk.

    2.1 TAALVERMENGING

    In ’n taalkontaksituasie gebruik dieselfde mense verskillende tale – hulle is tweetalig (of meertalig) en praat die ander taal in sommige opsigte soos hul eie taal. So kan ’n Duitssprekende Engels soos Duits praat as hy sê: He comes tomorrow home omdat ’n mens dié woordvolgorde in Duits gebruik: Er kommt Morgen nach Hause.[13] So ’n taalgebruiker pas die norme van sy moedertaal op die ander taal toe, of anders gesê, die norme van sy moedertaalsisteem versteur die norme van sy tweede taal. Sulke taalversteurings kan alle aspekte van die taal raak: ’n mens kan woorde uit die moedertaal in die tweede taal gebruik, sekere klanke uitspreek soos klanke in jou moedertaal of die sintaktiese patrone van jou moedertaal in die tweede taal gebruik.[14]

    Ook die omgekeerde van die versteuring van die tweede taal kan plaasvind: taalgebruikers kan die norme van die tweede taal in hul moedertaal toepas. In die omgang sê baie Afrikaanstaliges dat iemand sy tale mix as hy baie uit Engels oorneem. Noorse immigrante in die VSA gebruik dieselfde uitdrukking: han mixer (hy mix/meng).[15]

    In ’n taalkontaksituasie is daar altyd versteurings in sowel die moedertaal as die tweede taal.

    Taalversteurings kan in so ’n groot mate en by soveel sprekers voorkom dat die karakter van een of albei tale kan verander. Die tale smelt saam of konvergeer. So ’n taal, wat die produk van menging is, is Tsonga. Dit het ontstaan uit ’n vermenging van Zoeloe met die inheemse Tsonga- en Tembe-tale van Mosambiek.

    E.B. van Wyk beskryf die geskiedenis as volg: "Gedurende die bewind van Shaka het ’n Zoeloe-generaal, Soshangana, na Mosambiek uitgewyk, waar hy die plaaslike Bantoes onderwerp en by sy gevolg geïnkorporeer het. Die oorspronklike Mosambiekse tale was waarskynlik verwant aan die Shona-tale van Rhodesië, maar as gevolg van die invloed van Zoeloe het ’n nuwe taalgroep ontstaan wat nóg Nguni nóg Shona is, hoewel dit ’n duidelike brug tussen dié twee taalgroepe vorm. Soshangana se mense is in Suid-Afrika ook bekend as die Sjangaans, ’n naam waarvan die herkoms duidelik is. ’n Deel van die stam het later as gevolg van interne struwelinge weggebreek en weswaarts uitgewyk, waar hulle hulle in Noord-Transvaal en die Oos-Transvaalse Laeveld gaan vestig het."[16]

    Uriel Weinreich noem vier kriteria wat ’n mens kan help bepaal of daar ’n nuwe taal uit die kontak tussen twee tale ontstaan het of nie. Die eerste kriterium is die mate van verskil. Die twee tale wat in aanraking met mekaar kom, moet taamlik baie van mekaar en ook van die nuwe taal verskil voor ons kan sê dis regtig ’n nuwe taal. Verder moet die nuwe taal taamlik stabiele vorme hê, die sprekers moet dit vir ’n hele paar funksies kan gebruik en hulle moet dit self ook as ’n taal beskou.[17]

    ’n Taal kan derhalwe op twee maniere sterf: mense kan ophou om dit te praat, of dit kan so verander vanweë versteurings deur ’n ander taal dat dit in een of ander stadium ophou om dieselfde taal te wees as voorheen.

    2.2 TAALVERPLASING (TAALVERSKUIWING)

    Die proses waarvolgens ’n groep mense hul eie taal laat vaar en ’n nuwe taal aanneem, noem ons taalverskuiwing (’n direkte vertaling van language shift), taalverplasing (’n term van E.B. van Wyk), taalverwisseling (’n woord wat H. Rooseboom gebruik in sy vertaling van H. Vedder se geskiedenis van Suidwes-Afrika) of taaloorname (wat A.J.G. Oosthuizen gebruik in sy beskrywing van die akkulturasieproses aan die Rand).

    Taalverplasing hoef nie gepaard te gaan met kulturele of sosiale assimilasie nie. Dit word getoon deur ’n raaiselagtige geval van taalverplasing in Suider-Afrika.

    Die Damaras van SWA/Namibië noem hulleself swart mense (Nu Khoen). Dis ook die Namas se benaming vir hulle, terwyl die Herero’s van die swart slawe (Ovazoro) praat. Hierdie swart mense praat dieselfde taal as die rooi mense, soos hulle die Namas noem. Ondertrouery en sosiale vermenging het selde plaasgevind in die paar eeue wat verloop het nadat die Damaras die taal van die Namas aangeneem het.

    Waarom die Damaras die taal van die Namas aangeneem het, is onbekend. Dr. H. Vedder behandel in sy werk oor die voorgeskiedenis van Suidwes ’n paar gissings. Hy het onder die Damara in die Otavi-hoogland sowat ’n dosyn woorde opgeteken wat nie voorkom in Nama of ander tale van die gebied nie. B. Stuck het vasgestel dat hulle met woorde in die Soedantale verwant is.

    Na aanleiding daarvan wonder Vedder: Is die verklaring miskien dat die rondtrekkende Namastamme op hul trektogte iewers in die binneland van Afrika uit die negerstamme bediendes verkry het, wat dan met hulle saam getrek het en geen lus gehad het om hul meesters, wat baie vee besit het, te verlaat nie omdat die kosvoorsiening by ’n ryk veebesitter altyd gewaarborg is? Het deur die verkeer met hul geel base miskien geleidelik in die loop van geslagte die eie taal vergeet geraak en het hulle nie miskien ná verloop van tyd die taal van die meesters aangeneem nie? As dit die oplossing van die raaisel is, dan het ons ook ’n verklaring van die feit dat die Bergdama sonder uitsondering die Nama-taal praat. Ook die opvallende verskil in liggaamsbou van hierdie swart ras, wat varieer tussen die suiwer neger-tipe en die fyn Herero-tipe kan ons dan verklaar. Ons het dan te doen met mense uit allerlei Afrikaanse stamme, wat in die loop van die eeue bediendes van die rondswerwende Hottentotte geword en dan by hulle gebly het. Ook sou dit ’n bietjie lig werp op die sonderlinge feit dat juis hierdie volk, wat onder die volke van Suidwes op die laagste trap van ontwikkeling staan, die kuns verstaan het om yster te smelt en te bewerk. Al die Bergdama het wel nie die kuns verstaan en beoefen nie, maar dit is ’n feit dat die Bergdama die eerste smede in Suidwes was. Het hulle nie hul bedrewenheid saamgebring uit die tuiste van die smede van Afrika, die noordelike gebiede, en het hulle nie die kuns wat hul meesters nie verstaan het nie, beoefen in diens van hul base omdat hul meesters die produkte (asgaaie en pylpunte) nodig gehad het nie?[18]

    Hierdie verklaring is ’n maklike en bevredigende oplossing vir die raaisel van hul taalverwisseling, skryf Vedder, maar die geskiedenis van die Nama staaf nie hierdie veronderstelling nie. As die Bergdamaras saam met die Nama getrek het met hul koms na Suider-Afrika, sou daar in die ou berigte aanduidings gewees het dat daar by die Namas ’n swart volk was. Dergelike mededelinge bestaan egter nie.

    Daarom bied Vedder ’n ander hipotese aan. By die oerbevolking van die Boesmans het ’n tak van ’n negeragtige oerbevolking van Midde- of Noord-Afrika hulle aangesluit. Die aard van die land het albei groepe gedwing om dieselfde leefwyse te volg, naamlik jag en veldkos insamel.

    Later het ander immigrante uit die huidige Oos-Botswana, Xhosas en vlugteling-Wambo’s by die oer-Dama aangesluit. Hierdie groepe het met mekaar ondertrou. Later het ook die San-Boesmans wat Nama gepraat het, die land binnegetrek. Hulle was beter ontwikkel as die Damaras en laasgenoemde het die ondergeskiktes van die San geword. Die Damaras het miskien daarom die taal van die San aangeneem.

    Die immigrasie het moontlik nie sonder stryd verloop nie, skryf Vedder. Tot in ons dae het die San van die noorde daarin geslaag om die Bergdama as lyfeienes aan hulle diensbaar te maak en om hulle as slawe te behandel. As die vraag gestel word hoe ’n jagter en veldkos-insamelaar ’n kneg kan besig hou en hom laat werk, dan verwys ek na die gebruik van die San en Boesmans dat ’n skoonseun ná die huwelik nog ’n volle jaar by hulle moet bly voordat hy met sy jong vrou na sy eie familiegroep mag terugkeer. Wat hy gedurende dié jaar met sy pyl en boog skiet, moet hy aan die skoonouers aflewer. Ook verwys ek na ’n Bergdama wat my eenmaal in die hoogland van Otavi ’n olifantskuil gewys het. Hy het gesê: In hierdie val het ek ’n olifant met my asgaai doodgesteek. Van die vlees het ek niks geproe nie, want ek was toe in diens van ’n San-Boesman.[19]

    Ná die San het ook die Nama gekom en daarna het die vlugtelinglewe van die Bergdama begin wat nooit tot ’n volksverband ontwikkel het nie … Hul swerf- en vlugpaaie kan nie nagespoor word nie, want dan sou die geskiedenis van elke afsonderlike familiegroep beskryf moet word, wat maar net ’n aaneenskakeling van veediefstalle, vervolging, vermoording en vlug in ontoeganklike bergklowe was.[20]

    In ’n taalverplasingsproses kan die lede van die ou taalgemeenskap op een van twee maniere na die nuwe taalgemeenskap oorbeweeg: (a) óf die nuwe taal goed of minder goed as tweede taal aanleer ná puberteit, (b) óf die nuwe taal van kleins af leer as eerste taal, miskien saam met die ou taal wat hulle moontlik mettertyd verleer.

    Ons kan om twee redes onderskei tussen die taalverplasingsproses soos dit by kinders en volwassenes geskied. Die eerste is dat die kind nie kan kies watter taal of tale hy gaan verwerf as eerste taal/tale nie. Die kind se ouers maak die keuse. Ten tweede is daar ’n wesenlike verskil tussen die manier van verwerwing van ’n eerste taal of tale voor en ná puberteit. Ná puberteit verloor feitlik elke mens die vermoë om ’n taal sonder aksent aan te leer.[21]

    2.2.1 TAALVERPLASING BY KINDERS

    Die taalverwisseling by die kind moet ons noodwendig sien as ’n deel van die sosialiseringsproses, soos sosioloë dit noem. C.D. Roode beskryf die sosialiseringsproses soos volg. Gesien vanuit die oogpunt van die gemeenskap, is sosialisering die proses waardeur die gemeenskap sy kultuur as besondere lewenswyse van een geslag tot ’n volgende oordra en individue laat inpas by die aanvaarde en wesenlike wyses van geordende sosiale lewe. Gesien vanuit die oogpunt van die individu, is dit die proses van persoonlikheidsontwikkeling, die ontwikkeling en bewuswording van die self.[22]

    Ons kan nou kyk na die rol van die normale sosialiserende instansies in die proses van taalverwisseling.

    Taalverplasing of taalverwisseling vind onder meer en miskien veral deur middel van die gesin plaas. Dit kan op een van twee maniere gebeur.

    Die ouers kan uit dieselfde taalgemeenskap kom, maar om die een of ander rede besluit om van kleins af ’n ander taal met hul kinders te praat.

    Byna alle Friese ouers op die platteland maak hul kinders in Fries groot, maar in die stede praat net 70 persent Fries met hul kinders. In die twintigerjare van dié eeu het baie ouers in Süderlûgum in Sleeswyk met mekaar Deens gepraat en met hul kinders Duits. Sowat 60 persent van die ouers het nie hul moedertaal met hul kinders gebruik nie en daarom het die persentasie van Deenssprekende kinders in die gebied tussen 1924 en 1931 van 60,1 tot 33,9 afgeneem.[23]

    Die tweede manier waarop ’n taalverskuiwing via die gesin plaasvind, is deur ’n huwelik waarin die ouers tot verskillende taalgemeenskappe behoort.

    Ten minste een van die twee ouers moes natuurlik tweetalig gewees het, en die kinders uit so ’n huwelik kan (a) óf tweetalig grootword, (b) óf in die taal van nie een van die twee ouers nie, óf (c) in die taal van een van die twee, en dan natuurlik in die taal van die eentalige ouer (as daar ’n eentalige ouer was).

    Voorbeelde van (a) is oral te kry waar taalgemengde huwelike voorkom. In die provinsie Posen in Duitsland was daar in 1910 altesame 4 595 gemengde huwelike tussen Duits- en Poolssprekendes. Van die 11 721 kinders uit hierdie huwelike was 5,8 persent tweetalig (terwyl 52 persent Duits- en 42,2 persent Poolssprekend was). Gevalle van die tweede moontlikheid, (b) hierbo, kom volgens Ali Mazrui deesdae dikwels in Afrika voor. Kinders uit gemengde huwelike tussen ouers wat albei ’n hoë opvoeding gehad het, is dikwels Engels; die tale van albei ouers word dus laat vaar.[24] Wat oor die algemeen gebeur, is dat die kinders grootword in die taal van een van die twee ouers. Die vreemdste van al die genoemde moontlikhede is dat ouers wat een taal praat, hul kinders in ’n ander taal grootmaak. In Frans-Vlaandere (’n deel in Frankryk waarin die bevolking ’n Nederlandse dialek praat wat verwant is met Wes-Vlaams) leer baie ouers hul kinders eers Frans en later, soms nadat hulle ’n ruk skoolgegaan het, die Nederlandse dialek. Iets soortgelyks doen sommige Ierssprekendes in die Gaeltacht, die mees Ierstalige gebied in Ierland: eers Engels, later Iers.

    Die ouers doen dit in albei gevalle vir die beswil van die kinders. In Frans-Vlaandere was die onderwysmedium baie lank net Frans, en om te sorg dat die kinders nie van die begin af ’n agterstand op skool het nie, het die ouers hul kinders die onderwystaal geleer.

    Sukses in ’n taalverskuiwing (sukses van die kant van die ontvangtaal gesien) deur middel van die gesin vereis dat ten minste een of albei ouers die nuwe taal goed beheers. Daar is ook ander vereistes. Dirk Wilmars vertel hoe Vlaamse ambagsmanne en winkeliers in die negentiende eeu soms ’n bietjie geld gemaak en dit dan as hul plig beskou het om hul kinders in Frans op te voed. Die opvoeding verloop nog taamlik goed solank die woordeskat van die kind beperk is. Maar sodra hy ouer word, begin die kind die taal praat van Vlaamse familielede, bure en ander kinders met wie hy speel. Die verfransingspogings het net geslaag as die ouers genoeg geld gehad het om hul kinders af te sonder van die familie en na duur Franse skole te stuur.[25]

    Daarmee is nog ’n faktor genoem wat die taalverskuiwingsproses by die jong kind bepaal, naamlik die omgewing waarin hy grootword.

    Die Nederlandse skrywer Godfried Bomans het, terwyl hy ’n televisiereeks oor Vlaandere en die stand van Nederlands in Brussel gemaak het, op ’n paar spelende kinders in die Belgiese hoofstad afgekom. Die volgende gesprek het tussen Bomans en ’n Vlaamse dogtertjie plaasgevind:

    BOMANS:Ben je op een Vlaamse school?

    KIND:Op een Vlaamse school.

    BOMANS:Heb je daar een meneer of een juffrouw in de klas?

    KIND:Een juffrouw.

    BOMANS: Een juffrouw. Spreekt die Vlaams?

    KIND:Ja.

    BOMANS:Nooit Frans?

    KIND:Nee.

    BOMANS:En jullie spreken onder mekaar ook Vlaams?

    KIND:Ja.

    BOMANS:Maar ik heb je toch al die tijd met je vriendinnetje Frans horen spreken?

    KIND:Ja, zij kent geen Vlaams.

    BOMANS:Ze kan het toch leren?

    KIND:Jawel, maar dat doet ze niet.

    BOMANS:Maar jullie spreken toch ook haar taal? Dan zou ze net zo goed die van jullie kunnen leren.

    KIND:Maar dat doet ze niet.

    BOMANS:Jullie zijn met z’n vieren. En zij is alleen.

    KIND:Jawel, maar ze doet ’t niet.

    BOMANS:Dit is eigenlijk een van de meest verhelderende gesprekken die ik tot dusver gevoerd heb.[26]

    Dat die taal van leeftydgenote ’n rol speel, word ook getoon deur ’n verskynsel wat in die teenoorgestelde rigting as taalverskuiwing werk.

    P.H. van der Plank skryf dat hy met ’n besoek aan die Elsas vasgestel het dat ouers wat onder mekaar die Elsassiese dialek praat, hul kinders in Frans leer reken en tel het om hulle so vir die skool voor te berei. (Op skool is Frans die enigste onderwystaal.) In dieselfde tyd dat die kinders op skool net in Frans onderrig kry, leer hulle die dialek by hul maats. Van der Plank meen dat ongeveer een tiende van die Walliessprekendes in Wallis en Duitstaliges in Elsas-Lotharinge die minderheidstaal buite die gesin leer, vermoedelik deur aanraking met kinders van dieselfde ouderdom.[27]

    Sommige sosioloë meen dat portuurgroepe in die moderne samelewing die belangrikste sosialiserende instansie geword het. Hulle sê dat primitiewe gemeenskappe op tradisie, en negentiende-eeuse gesinne op gesag staatgemaak het om norme en gedragsmodelle oor te dra. Vandag is dit die goedkeuring van die leeftydgenote wat vir die jongeres belangrik is.[28]

    Uit hierdie kort bespreking kan ’n mens reeds agterkom dat taalverplasing by jonger mense ook deur ’n derde sosialiserende instansie kan plaasvind, nl. deur die onderwys. Die klem val op kan; skole help nie altyd om kinders ’n ander taal as hul ouers s’n te laat aanneem nie.

    Nadat Ierland in 1921 onafhanklik geword het, het onderrig in Iers verpligtend geraak. Ná ruim tien jaar het die helfte van die kinders wat die laerskool verlaat het, in die Engelstalige gebied Iers gepraat. Desondanks het die omgangstaal in daardie deel van Ierland Engels gebly.[29]

    As die skool die enigste instansie is wat aan die kinders ’n nuwe taal wil oordra, is dit minder doeltreffend, in ieder geval oor ’n kort tydperk. Die gesin moet saamwerk en daar moet aansporing van ’n ander aard wees, soos die vooruitsig op ’n goeie betrekking vir almal wat die nuwe taal ken.

    ’n Vierde sosialiserende instansie is leesstof en in die moderne tyd ook die radio, televisie en rolprente. Wat die assimilasie van Amerikaanse immigrantekinders makliker maak, is dat hulle reeds voordat hulle begin skoolgaan, heeldag na televisieprogramme in Engels kan kyk.

    Dis te betwyfel of taalverplasing ná puberteit ooit volkome kan wees. Joseph Conrad (1857-1924), een van die belangrikste twintigste-eeuse Engelse prosaskrywers, het Engels eers geleer toe hy sowat twintig was. Sy moedertaal was Pools, en daarna het hy, voor Engels, ook Duits en Frans geleer. ’n Mens sou dink dat, as daar iemand moet wees wat ’n taal volkome aangeneem het, dit ’n groot skrywer soos Conrad moet wees. Tog het hy teen die einde van sy lewe Engels al meer met ’n aksent gepraat en nie-Engelse uitdrukkinge gebruik. Toe hy siek word, het hy met homself Pools gepraat.[30] Baie mense praat soms voor hul dood of in tye van spanning, nood of hartstog die verlore taal van hul jeug. Conrad het net Pools gepraat wanneer hy siek of baie opgewonde was.

    2.2.2 TAALVERPLASING BY VOLWASSENES

    Taalverplasing by ’n nuwe geslag kan makliker of moeiliker gemaak word deur die houding en gedrag van die ouers en ander ouer mense.

    Dis dus belangrik om te weet onder watter omstandighede ouer lede van die taalgemeenskap self ’n taalverplasing (sy dit miskien ’n onvolledige verplasing) ondergaan en wat dit is wat hulle geneë maak dat hul kinders en ander se kinders die ander taal aanneem.

    Uiteraard is die een voorwaarde vir taalverplasing by ouers die mate van kennis van die tweede taal. Dié kennis word medebepaal deur hoe dikwels ’n volwassene die tweede taal moet gebruik, en hóé: práát hy dit net, en miskien in baie beperkte soort situasies? Moet hy dit ook skryf en leer hy dit so intensief dat hy daarin leer dink en selfs droom? Die taalgebruiker kan baie met die betrokke taal in aanraking kom omdat hy dit vir sy werk nodig het of moet ken vir kerkdienste, inkope doen, of kuier by mense in dieselfde buurt.

    Basies kom dit daarop neer dat ’n verbreking van die taalisolasie van die betrokke taalgebruiker tot taalverskuiwing kan lei.

    Twee soorte taalisolasie maak taalverskuiwing moeilik: sosiale en geografiese afsondering.

    Op die dorp Kupwar in Suid-Indië praat die bevolking van 3 000 mense vier tale – Urdu, Marathi, Kannada en Telugu. Daar bestaan historiese getuienis dat sprekers van Kannada en Marathi die laaste seshonderd jaar met mekaar in aanraking kom en sprekers van Urdu en die ander die laaste vier eeue. Tog is die situasie taamlik stabiel. Waarom? Die gemeenskap is verdeel in sosiale groepe, die gevolg van ’n onbuigsame kastestelsel. Die gesinne praat net hul eie taal met mekaar, hoewel ten minste al die mans meer as een taal ken en gewoonlik Marathi in gemengde groepe gebruik. Daar is wel ’n baie sterk onderlinge beïnvloeding tussen die tale, maar die sosiale stelsel het taalverplasing voorkom.[31]

    Geografiese isolasie help om klein tale te laat voortbestaan. Die talle klein tale van Afrika, Asië en Oseanië kon tot dusver behoue en selfs lewenskragtig bly deur hul afsondering en in baie gevalle ook deur die toekenning van spesifieke funksies aan elk van die aangeleerde tale, indien die gebied meertalig was. (Voor die kolonisering van Afrika was daar baie mense wat meer as een taal moes leer. In Mali was die politieke elite se taal Maninka; Arabies is egter gebruik vir politieke en handelsbetrekkinge met ander lande van Noord-Afrika. Die res van die bevolking het hul eie tale gebruik en Maninka vir kommunikasie met lede van ander taalgroepe of die regeerders.)[32]

    Twee soorte beweging kan isolasie deurbreek. Mense kan van een plek na ’n ander trek en/of van een posisie in die samelewing na ’n ander styg of daal. Vir laasgenoemde soort beweging bestaan die term sosiale mobiliteit, d.w.s. die verandering van sosiale posisie en inkomstepeile van mense en groepe deur onderwys, beroepswisseling en vordering.

    Albei soorte beweging kan ’n groot invloed op die taalsituasie van ’n land hê. Migrasie kan die wegtrekkende en/of agterblywende lede van ’n taalgemeenskap getalsgewys verswak. Hoe kleiner ’n taalgemeenskap, hoe groter is die nadelige gevolge van die wegtrek van taalgenote en/of die intrek van andertaliges.

    Die klein Gaeliessprekende gemeenskap van Skotland verloor sowel deur immigrasie as emigrasie. Jong Gaeliessprekendes trek weg na die Engelse suide om beter werk te kry – en verengels daar. In hul plek kom afgetrede staatsamptenare, leëroffisiere en ander uit Engelstalige gebiede in die Gaeliese gebied woon en versterk die Engelse oorwig bo die Gaeliessprekende. Dieselfde proses verswak die Walliessprekendes in Brittanje en die Bretons in Frankryk.

    Op sy ergste is die gevolge van die verbreking van isolasie waar immigrasie veroorsaak dat die sprekers van die taal as ’t ware verstrooi word in ’n ander taalgemeenskap. (Ons kan om dié rede onderskei tussen verstrooide en gekonsentreerde taalminderhede.)

    Immigrante wat trek na ’n gebied waar twee taalgroepe met mekaar wedywer, is geneig om hulle aan te sluit by die oënskynlik sterkste groep. Dis heel natuurlik. Sterkste impliseer gewoonlik ook ekonomies magtigste – en waarom sal immigrante juis ’n lojaliteit hê teenoor die armste groep? ’n Mens immigreer na ’n land om jou posisie te verbeter, nie te verswak nie. Baie immigrante wat hulle in Québec in Kanada gaan vestig, is ’n bedreiging vir die Frans-Kanadese omdat hulle liewer Engels as Frans aanleer. Engels is ekonomies voordeliger.

    Sosiale mobiliteit of beweeglikheid kan op verskillende maniere ’n uitwerking op die taalsituasie hê. Voorlopig net twee hipotetiese voorbeelde – in latere hoofstukke sal konkrete voorbeelde dikwels ter sprake kom.

    Gestel iemand uit ’n verarmde taalgroep A kry deur onderwys en inspanning ’n goeie betrekking by ’n werk of in ’n staatsdepartement waar die mense taal B praat. Vir sy werk is kennis van B noodsaaklik; sy kollegas is meestal B-sprekendes; miskien ontmoet hy onder hulle of hul kennisse ’n B-sprekende meisie met wie hy gaan trou; sy praat net B en hulle gaan woon in ’n gegoede B-sprekende buurt. Hul huistaal sal heel waarskynlik B wees en die kinders sal waarskynlik daarin grootword, veral as dit ook die skooltaal van die buurt is. So kan sosiale beweeglikheid veroorsaak dat die lid van een taalgemeenskap as ’t ware sosiaal immigreer en in ’n andertalige gemeenskap verswelg word.

    Iets anders wat kan gebeur, is dat soveel mense uit taalgroep A naderhand sosiaal kan vorder en na die posisies van taalgroep B immigreer dat hulle die aanvanklik oorheersende (en deur oorheersing geïsoleerde) taalgroep B begin oorweldig sodat hulle naderhand taal A moet aanleer.

    In ’n meertalige situasie sal die volgende kragte dus altyd ’n rol speel in die groei of agteruitgang van tale: getalsterkte, sosiale en geografiese beweeglikheid, woon- en werkplek en die gemengde huwelik (wat in hierdie boek altyd, tensy anders vermeld, die taalgemengde huwelik beteken en nie die ras- of godsdiensgemengde huwelik nie).

    In die Sowjet-Unie bevoordeel die groot binnelandse migrasie veral Russies.[33] Baie gemengde huwelike word gesluit en waar die vrou ’n nie-Slawiessprekende is (d.w.s. nie Russies of Oekrains nie), word die vader se taal die taal van die gesin, hoewel die kinders darem iets van die moeder se taal sal leer. Waar die vrou Russies of Oekrains is, sal sy wel die eggenoot se taal leer, maar met die kinders haar eie taal praat. In die stedelike gemengde huwelike is daar min verskil tussen Russiese en Kaukasiese gemengde huwelike. In albei gevalle word Russies die huistaal. Die vader het die taal op skool geleer, en die moeder kan dalk ’n onderwyseres wees of albei kon dikwels met Russies in aanraking gekom het. In sulke gesinne is daar dikwels ’n soort tweetaligheid: die kleiner tale word vir sommige funksies gebruik en Russies vir ander, maar dis baiekeer nie te lank nie of Russies is die enigste taal.

    Waar die verspreiding van lede van ’n taalgemeenskap dit vir hulle maklik maak om die ou taal te laat staan, kan ’n mens verwag dat die bestaan van kompakte of gekonsentreerde taalgemeenskappe die behoud van tale sal bevorder.

    In die VSA is daar (of wás daar tot baie onlangs) klein godsdienstige gemeenskappies wat in hierdie wêreld, maar nie ván hierdie wêreld nie wou wees. Hulle het selfonderhoudende samelewings opgebou wat hulle heeltemal van die omgewing afgesonder het. Party was gekant teen motors, telefone en elektriese toerusting soos radio’s. Deur hulle doelbewus van die buitewêreld af te sonder, kon hulle hul taal behou. Die doel van die isolasie was nie die behoud van die tale nie, maar die godsdiens. Die waarde van die ou taal was dat dit die verderflike invloed van die wêreld makliker kon weghou.

    Belangriker is die sogenaamde taaleilande (Sprachinseln), d.w.s. gebiede waar minstens 80 persent van die bevolking die hooftaal daagliks gebruik. Hoe groter die taaleiland, hoe groter is die vermoë om in die VSA assimilasie met Engels teen te staan. In die VSA is daar minstens vier redelik groot taaleilande: die Spaanssprekendes van Noord-Nieu-Mexiko en Suid-Carolina, die Franssprekendes van Suid-Louisiana, en die Duitssprekendes van Oos- en Midde-Pennsilvanië en die suide van Noord-Dakota en die noordweste van Suid-Dakota.[34] In Amerika het party taaleilande reeds half weggesink. Waar 9 miljoen Amerikaners in 1910 nog Duits gepraat het, was daar teen 1966 maar sowat 50 000 sprekers onder agttien.

    Groter blootstelling aan ’n tweede taal as gevolg van taalkontak en veral verstrooiing van ’n taalgroep skep die moontlikheid vir taalverplasing. Of dit wel gaan plaasvind, hang van twee dinge af: winste en verliese in die funksies waarin die ou en nuwe taal gebruik word, en die houding van die taalgebruikers teenoor die ou en nuwe taal.

    2.2.3 WINSTE/VERLIESE IN FUNKSIES

    Ons gebruik taal vir talle soorte situasies. Die baie woorde wat na taalgebruik verwys, toon dit aan: praat, spreek, preek, skryf, lees, luister, gesels, sê, skerts, vloek, sing, skinder, vertel, stry, vra, antwoord, meedeel … Bowendien kan ons praat met gesinslede, vriende, vreemdelinge, parlementslede, predikante, kroegmaats, kinders, grootouers …; jy kan spreek op ’n politieke vergadering, volksfees of in die parlement; jy kan iets vra by ’n polisieman, poskantoorklerk of buskondukteur; ’n mens lees boeke, tydskrifte, strokiesprente, koerante; jy luister radio en kyk-en-luister televisie …

    Op grond hiervan onderskei taalsosioloë soms tussen twee basiese soorte taalfunksies: hoë en lae funksies. Die hoë funksies is die gebruike van taal in staatsinstellings, kerkdienste, universiteitslesings, radio en televisie, en lae funksies soos die gebruik van taal in gesprekke met vriende en familielede, vir vloek en grappe vertel. Albanese Griekse kinders praat omtrent oral Grieks, behalwe wanneer hulle skurwe grappe vertel en in die toilette rook. Die seuns praat nie in Griekse Albanees (Arvanitika) met meisies nie, behalwe as hulle wil aandag trek deur in Arvanitika te vloek of wedstryde hou om te kyk wie die meeste woorde ken, en die meisies dan toeskouer-hoorders is.[35]

    Die hoë funksies is so uiteenlopend van aard dat ’n mens moet onderskei tussen (i) ekonomiese funksies in (a) die openbare sektor soos die staatsdiens en munisipaliteite en (b) die private sektor; (ii) kulturele funksies soos in (a) die letterkunde, (b) massamedia, (c) godsdiens, (d) onderwys, en (e) die vermaaklikheidslewe; en (iii) praktiese funksies wat saamhang met die funksies onder (i). ’n Taal wat vir ’n staatsamptenaar ekonomiese funksies het, het vir die publiek praktiese waarde. ’n Mens kan dit gebruik vir telegramme, vir klagtes by die polisiekantoor, briewe aan staatsdepartemente, ens.

    Die onderwys dien as skakel tussen die ekonomiese, praktiese en ander kulturele funksies. ’n Taal kan nie ekonomiese funksies hê as dit nie die onderwysmedium is waarin mense vir betrekkings opgelei word nie. Die publiek kan ook net in hul taal briewe aan die staatsdiens skryf as hulle dit léér skryf het.

    Hieruit kan ’n mens nou aflei watter soorte prosesse funksiewinste aan ’n taal besorg. Dit kan ekonomiese funksies in die openbare sektor verwerf as sy sprekers ryk word en al meer werk aan ander mense kan verskaf. ’n Simpatieke stadsraad of regering kan eis dat munisipale of staatsamptenare ’n sekere taal vir aanstelling of bevordering ken. Sulke eise het dikwels ’n invloed op die sosiale beweeglikheid, waarna in die vorige afdeling verwys is, van lede van ’n taalgroep. Die winste in funksies in die openbare lewe en sosiale mobiliteit hang dus af van die verwerwing van politieke mag in die staat, streek, dorp of stad.

    In meertalige state gebruik die burgers hul tale op verskillende maniere in die verskillende funksies.

    Die eerste moontlikheid is dat die lede van die taalgroepe geografies deurmekaar, maar sosiaal geskei van mekaar woon en hul tale vir sowel die hoë as die lae funksies gebruik. So ’n situasie het aan die einde van die Eerste Wêreldoorlog en die beginjare van die Republiek Tsjeggo-Slowakye in die Tsjeggiese stede bestaan. Die kultuurlewe van die Duits- en Tsjeggiessprekendes was heeltemal geskei van mekaar.

    Die Praagse skrywer Egon Erwin Kisch vertel in sy outobiografie van sy ervaringe as verslaggewer vir ’n Duitse koerant in Praag voor 1914. Sy base het hom berispe omdat hy sy telefoonoproepe in Tsjeggies by Tsjeggiese telefoonoperateurs gemaak het pleks van in Duits. Tsjegge en Duitsers wou nie saam met mekaar in dieselfde sokkerspan of teen mekaar speel nie. Koerante het kulturele bedrywighede van die ander taalgroep geïgnoreer. Die Duitse koerante sou in besonderhede die aankoms en vertrek van die Oostenrykse keiser beskryf, maar niks sê van die Tsjeggiese uitstalling wat hy kom open het nie. Die antagonisme het bestaan ondanks alle pogings van die regerings om die twee groepe se teenstrydige eise met mekaar te versoen.[36]

    Dis te verstaan dat hierdie soort situasie taamlik seldsaam is. Wanneer mense deurmekaar woon, moet hulle noodwendig soms met mekaar in aanraking kom. Selfs in die Tsjeggiese situasie was die skeiding nie volkome nie, want handelaars en staatsamptenare het in hul werk kontak met lede van albei taalgroepe gehad.

    ’n Tweede moontlikheid is dat die lede van twee taalgroepe in dieselfde staat geografies van mekaar geskei is. Twee voorbeelde is België en die meeste kantons van Switserland. In België is Frans beperk tot die suidelike deel van die land en Nederlands tot die noordelike deel, onderskeidelik Wallonië en Vlaandere. Brussel, die hoofstad, is tweetalig. Vlaminge en Wale woon saam in die stad.

    In ’n situasie soos dié van Brussel, of enige ander streek of land waarin lede van taalgemeenskappe deurmekaar woon, is daar nou drie moontlikhede.

    Die eerste is dat net een groep sy taal gebruik vir hoë én lae funksies. Aangesien die sprekers van die ander taal dieselfde staatsinstellings, winkels en ander dienste as die eerste taalgemeenskap het, moet hulle noodwendig hul eie taal net vir die lae funksies gebruik en die taal van die ander groep vir die hoë funksies. ’n Tweede moontlikheid is dat die sprekers albei hul eie tale vir lae funksies gebruik, en een taal vir sommige, en die ander taal vir die ander hoë funksies.

    Die derde teoretiese moontlikheid is dat albei taalgemeenskappe hul taal vir sowel hoë as lae funksies gebruik. Hierdie moontlikheid, wat eintlik die regverdigste is, bestaan feitlik nêrens nie. Die sprekers van taal X is maar altyd meer geneig om taal Y aan te leer as wat die sprekers van taal Y geneig is om taal X aan te leer. In die tweetalige Brussel leer die Vlaminge almal Frans, maar Franssprekendes leer nie almal Nederlands nie.

    Joshua Fishman skryf dat ’n Vlaamse staatsamptenaar in Brussel Frans praat op kantoor, Standaard-Nederlands by sy klub en ’n Vlaamse dialek by sy huis. Volgens Fishman het hierdie voorbeelde ekwivalente in ander gebiede: Standaard-Duits, Schweizerdeutsch en Reto-Romaans in dele van Switserland; Hebreeus, Engels en Jiddisj in Israel; Riksmaal en plaaslike dialekte in Noorweë; Standaard-Duits, Plattdeutsch en Deens in Sleeswyk. Die Brusselse staatsamptenaar sal bowendien nie altyd Frans op kantoor gebruik nie – soms ook Nederlands; nie altyd Nederlands in sy klub nie – partymaal ook Frans; nie net altyd sy Vlaamse dialek tuis nie, soms ook Standaard-Nederlands of Frans.[37]

    Dié soort situasie noem taalsosioloë ’n diglossie-situasie. (Die term diglossie is ingevoer deur Charles Ferguson, maar verder ontwikkel deur ander taalkundiges soos Joshua Fishman.)

    Die soort situasie van Brussel is die algemeenste: die een taal is, wat funksies betref, in ’n sterker situasie as die ander. ’n Franssprekende kan taamlik seker wees dat hy oral in Brussel – by staatskantore en private ondernemings, by huisgesinne of openbare plekke – in Frans geholpe sal raak as hy iets vra; ’n Vlaming kan seker wees dat Nederlands net op sommige plekke voldoende sal wees om mee oor die weg te kom.

    Die groei of agteruitgang van ’n taal blyk uit die toename of afname van sy gebruik in hoë funksies. Dis gewoonlik nuttig om laasgenoemde te kan verbind met sosio-ekonomiese status en omgewing.

    Ondersoeke oor die taalgebruik in Friesland toon dat Nederlands by die hoogste prestigegroepe oorheers terwyl Fries by die laer prestigegroepe ’n sterker posisie het. In elke beroepsgroep neem die persentasie van Nederlandstaliges met die jare toe. Vir die status van Fries is dit sorgwekkend.[38]

    Die geskiedenis leer dat, hoe minder funksies ’n taal het, hoe kleiner is sy oorlewingskans (tensy ’n heeltemal afgesonderde groep die taal gebruik). Die verlies van hoë funksies lei dikwels tot ’n verlies van lae funksies. Wanneer ’n taal sy vernaamste lae funksie – die taal van die huisgesin – verloor het, is die moontlikheid op oorlewing bitter skraal, al herwin hy later die verlore hoë funksies. Ná sestig jaar van pogings om Iers te laat opbloei deur alle hoë funksies daaraan toe te ken, is sy voortbestaan onseker, want dis net by ’n klein aantal gesinne nog die huistaal.

    Maar verlies van hoë funksies hoef nie noodwendig tot verlies van lae funksies te lei nie. Daar is dus ook ander dinge in die spel wat die voortbestaan van tale bepaal.

    2.2.4 TAALHOUDING, STATUS EN TAALGETROUHEID

    Andertaliges staan dikwels positief teenoor ’n taal met ’n hoë status en leer dit daarom gretig aan. As hulle nie baie getrou aan hul eie taal is nie, kan hulle dit later prysgee.

    Hiermee is drie sake genoem wat in elke taalverplasingsproses ’n rol speel: die status van ’n taal, houding, taalgetrouheid.

    Getalsterkte, ekonomiese waarde en kulturele gehalte is van die dinge wat die status van ’n taal bepaal. ’n Taal het prestige op grond van sy egte of vermeende hoedanighede. Daar kleef ’n stigma aan ’n taal as sy eie sprekers dink (of meen dat andertaliges of selfs sy eie sprekers dink) dat mense hul taal vereenselwig met agterlikheid, ongeletterdheid, armoede en, in ’n stedelike gemeenskap, met bekveldagtigheid.

    ’n Taal kry sonder twyfel prestige deur faktore wat baie mense sou beskou as van twyfelagtige of bedenklike waarde soos militêre sukses en die onregverdige Mammon. Napoleon se militêre genie het help bydra tot die prestige van Frans; rykdom, die krag van die Britse vloot en die koloniale ryk het bygedra tot dié van Engels in die negentiende eeu; ekonomiese en militêre mag (onder meer die Geallieerde oorwinning van 1945) het Engels sy huidige prestige help besorg. Albei tale is daarby hoogstaande kultuurtale. (Op al hierdie sake word in die volgende hoofstuk verder ingegaan.)

    Die status van ’n taal word ten dele ook bepaal deur die beeld wat sy eie sprekers en andertaliges van die taal en sy sprekers het – ’n ingewikkelde kwessie, want die wete dat andertaliges min van hulle dink, kan by ’n klein groep bydra tot ’n negatiewe beeld van hulleself. (Die bepaling klein of swak is noodsaaklik: die lae dunk wat die Engelssprekendes van die Iere gehad het, was medeverantwoordelik vir die Iere se ongunstige beeld van die tipiese Ier – maar die minagting en selfs haat van sommige Iere vir die Engelse het nie laasgenoemde se aansien in eie oë aangetas nie. Dit geld vir meer groepe as die Iere en Engelse.)

    In ’n artikel tot ’n nommer van die International Journal for the Sociology of Language oor Language death maak Wolfgang Dressler en Ruth Wodak-Levdolter ’n terloopse opmerking: … negative stereotypes and prejudices affecting minorities may lead to inferiority complexes which modify the self-image.[39]

    Ongelukkig skryf hulle nie verder daaroor nie, maar ’n negatiewe selfbeeld speel ’n rol in die agteruitgang van klein tale. ’n Paar anekdotes illustreer dit duidelik.

    George Borrow, skrywer van Wild Wales, het in 1854 deur Wallis gestap. Toe hy op ’n dag by ’n Walliese werker verbyloop, het die man sy kop weggedraai. Hy het nie Engels geken nie en was bang dat die vreemdeling hom in dié taal sou aanspreek.

    In Cornwallis, waar die taal Kornies in die negentiende eeu uitgesterf het, het die moeder van Nicholas Boson van Newlyn (gebore 1624) probeer verhinder dat hy die taal leer. Sy het die knegte en bure verbied om Kornies met hom te praat. Maar hy het dit tog aangeleer en jammer gevoel dat dit sou kon uitsterf. Hy het uiteindelik daarvoor gesorg dat die enigste oorgelewerde Korniese volksverhaal opgeteken is.[40]

    Met die kolonisering van die Amerikas en die siektes en rampe wat die Indiane getref het, het dit dikwels gebeur dat van die Indiane om geen besondere rede nie selfmoord gepleeg of hul pasgebore en jong kinders gewoonweg nie versorg het nie, met die gevolg dat hulle dood is. Hulle het, soos een skrywer dit stel, hul lewenswil verloor. Die Indiane het, soos die Spanjaarde, geglo dat siekte ’n straf van God is. Die Spanjaarde wat reeds immuun was, het nie siek geword nie, maar die Indiane wel. Vir albei groepe was dit eienaardig dat God of die gode net die een groep straf en die ander oorsien. God en die gode is aan die kant van die wittes, en teen die rooies, het hulle gemeen.[41]

    Die geskiedenis van die taalgemeenskap (en die oordeel oor daardie geskiedenis) is medebepalend vir sy status. Die geskiedenis kan ’n nuwe geslag ontmoedig of inspireer. Sukses in vroeëre taalstryde of selfs tydperke van verdrukking deur ’n ander groep kan dien as mobiliserende krag. Aanhoudende mislukking kan ’n groep by voorbaat demoraliseer. Wat die Walliesers baie lank in hul taalstryd gestrem het, is die feit dat hulle so min welslae in die verlede gehad het. ’n Mens kan verwag dat daar ’n verband gaan wees tussen status en houding. As ’n taal ’n lae status het, kan moedertaalsprekers en andertaliges negatief daarteenoor staan.

    Tale wat in onbruik raak, kry maklik komiese assosiasies. Dialekkolomme in Frans-Switserse koerante en Pennsilvanies-Duitse afdelings in party tydskrifte van Pennsilvanië word aan humoristiese stof gewy. Onder kinders van Amerikaanse immigrante lok ’n woord in die ouers se taal soms ’n onbedaarlike lagbui uit.[42] Onverskilligheid, spot, taaldéfaitisme en selfhaat is almal negatiewe houdings wat met taalagteruitgang gepaard kan gaan.

    Hierdie negatiewe gevoelens hóéf egter nie noodwendig te lei tot ’n verlies van getrouheid teenoor die betrokke taal nie. Tale sonder veel aansien kon soms lank uithou teen taalverskuiwings. Die term taalgetrouheid of taallojaliteit (’n term van Uriel Weinreich[43]) spreek vir homself: dis ’n strewe om die gebruik van die taal, en gewoonlik ook die korrekte gebruik daarvan, te bevorder. Sprekers wat getrou is aan hul taal, sal probeer om bedreigings soos getalsverlies deur emigrasie, ’n laer bevolkingsaanwas, taalverplasing en taalvermenging die hoof te bied.

    In elke taal- en kultuurkontaksituasie is daar altyd oorgangs- of grenspersoonlikhede: mense wat moet kies tussen die twee tale en kulture. Een so ’n grensfiguur is ’n persoon uit ’n benadeelde taalgemeenskap wat getroud is met iemand uit ’n taalgroep met hoë status. As so ’n vader of moeder moet besluit oor die kinders se huis- en onderwystaal, moet hy of sy dikwels bewus of onbewus twee oorweginge teen mekaar opweeg: die beswil van my kinders en die beswil van my taal.

    Dis vir die beswil van my kinders dat mense soms hul kinders na ’n andertalige skool stuur of dat die ouers in ’n taalgemengde huwelik die kinders grootmaak in die taal wat die belangrikste funksies in die gemeenskap beklee. Maar daardie beswil kan van gemeenskap tot gemeenskap en van tyd tot tyd verskillend wees.

    Dit kan wees dat die ouer van die verloortaal sterk nasionaalgesind is en voel: Ek is ’n verraaier as ek die taal laat vaar en toelaat dat my kind dit doen; dis nié in belang van my kind om afgesny te word van sy eie familie en my mense nie.

    Godsdienstige mense wil graag hê dat hul kinders ook op die regte pad bly. Die taal van die kerk en van die godsdiens oor die algemeen kan ’n belangrike rol in die taalkeuse vir hul kinders speel. In Amerika het die Lutherse kerke aanvanklik die immigrantetale soos Duits, Deens, Noors en Sweeds in die kerk bly gebruik. Solank die kerke en kerkskole die ou taal behou het, was dit vir die immigrante ’n aansporing om hul taal te handhaaf. Einar Haugen skryf: In the case of the Norwegians, as apparently among most immigrants, the church is the primary institution which provides the immigrants with a justification for the use of language.[44] Toe die Lutherse kerke eers verengels het, het hulle die pogings om tale soos Duits en Noors te handhaaf, moeiliker gemaak as wat hulle reeds was.

    Die besluit van individue oor die oorname van ’n ander taal hang baie af van die persoonlikhede en waardesisteem van die betrokkenes. Hoeveel waarde heg hulle aan die godsdiens of ’n taalgebonde kerk? Is hulle sterk nasionaalbewus? Is daar ’n sterk gevoel teen taalverraad in die gemeenskap en gee die ouer om oor wat die mense van sy/haar taalverraad gaan sê? Is die ouer dalk baie geheg aan familie wat hy of sy nie wil vervreem deur ’n ander taal

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1