Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

André P. Brink En die spel van liefde: 'n biografie
André P. Brink En die spel van liefde: 'n biografie
André P. Brink En die spel van liefde: 'n biografie
Ebook646 pages10 hours

André P. Brink En die spel van liefde: 'n biografie

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

'n Buitengewone en uitstekende manuskrip." – Prof. Gerrit Olivier
André P. Brink en die spel van liefde is die heel eerste biografie van 'n Suid-Afrikaanse skrywer wat gedurende sy leeftyd in dieselfde asem as Gabriel García Márquez, Peter Carey en Aleksandr Soltzjenitsen genoem is, en wie se romans in meer as 30 tale vertaal is.
In Leon de Kock se langverwagte biografie word Brink se persoonlike dagboeke en joernale as die belangrikste bronmateriaal hanteer. Brink het meer as 50 jaar lank sy ervarings en gedagtes pligsgetrou opgeteken: hierdie notaboeke, waartoe De Kock eksklusief toegang verkry het, word nou vir die eerste maal bekend gemaak.
Die spel van liefde is 'n omvangryke biografie wat die leser 'n openhartige, onverbloemde blik gee op Brink se gedagtes en gevoelens – oor homself én ander. Brink beskryf die hoogte- en laagtepunte van sy vyf huwelike asook sy verskeie verhoudings met 'n groot aantal vroue – 'n onderwerp wat hy in sy memoir, 'n Vurk in die pad, maar slegs vlugtig bespreek. Gedurende sy leeftyd het Brink hom nie net teen die politieke bestel verset nie, maar veral ook teen tradisionele seksuele sedes.
In hierdie biografie van 'n skrywer aan wie die Nobelprys vir letterkunde byna toegeken is, bekyk De Kock Brink se persoonlike, outobiografiese aantekeninge vanuit 'n kritiese, literêre oogpunt. Daarmee saam vergelyk hy die dagboeke met akademiese en ander, alledaagse bronne, waaronder getuienisse deur Brink se vriende, familie, eggenotes en minnaresse. Die spel van liefde is 'n unieke, belangrike toevoeging tot die Suid-Afrikaanse lettere, maar veral ook tot navorsing oor Brink se lewe en skryfwerk.
LanguageAfrikaans
PublisherJonathan Ball
Release dateMay 8, 2019
ISBN9781868427956
André P. Brink En die spel van liefde: 'n biografie
Author

Leon De Kock

Leon De Kock is ’n literêre vertaler, digter, skrywer en akademikus. Sy mees onlangse boek is Losing the Plot: Crime, Reality and Fiction in Postapartheid Writing. In 2000 het hy die Suid-Afrikaanse Vertalersinstituut se toekenning vir uitnemende vertaalwerk ontvang vir sy Engelse weergawe van Marlene van Niekerk se roman Triomf. Sy en Karin Schimke se vertaling van Vlam in die sneeu (Flame in the Snow) – ’n bundel van André Brink en Ingrid Jonker se liefdesbriewe – is in 2016 met ’n SALA-toekenning vir literêre vertaling en in 2018 met die Sol Plaatje-prys vir vertaling bekroon. Hy woon in Kaapstad.

Related to André P. Brink En die spel van liefde

Related ebooks

Related articles

Reviews for André P. Brink En die spel van liefde

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    André P. Brink En die spel van liefde - Leon De Kock

    LEON DE KOCK

    Jonathan Ball Uitgewers

    Johannesburg & Kaapstad

    Inhoudsopgawe

    Titelbladsy

    Mottos

    Skrywersnota

    Voorwoord

    HOOFSTUK 1 Geskryfde lewe, geskryfde liefde

    HOOFSTUK 2 Ingrid Jonker en die vroee sestigs: die woord word vlees

    HOOFSTUK 3 Angs en angoisse

    HOOFSTUK 4 Die maalkolk in

    HOOFSTUK 5 Onder die vulkaan

    HOOFSTUK 6 Noodtoestande

    HOOFSTUK 7 Harde liefde

    HOOFSTUK 8 Verootmoediging

    HOOFSTUK 9 Ontsondiging, kanonisering

    Eindnotas

    Erkennings

    Lof vir die titel

    Oor die boek

    Oor die skrywer

    Kolofonbladsy

    There will be time, there will be time

    To prepare a face to meet the faces that you meet;

    There will be time to murder and create,

    And time for all the works and days of hands

    That lift and drop a question on your plate;

    Time for you and time for me,

    And time yet for a hundred indecisions,

    And for a hundred visions and revisions,

    Before the taking of a toast and tea.

    Uit: T.S. Eliot, The Love Song of J. Alfred Prufrock

    If one tells the truth, one is sure, sooner or later, to be found out.– Oscar Wilde

    "[D]ie geslagsdaad is die seksuele ekwivalent van gebed. In albei kom die uitreiknood, die verloor-en-vind-paradoks tot sy grootste konsentrasie. Elk moet voordurend hernieu word, omdat hulle momenteel is – en die momentele aanraking met die Ander … skep voortdurend die noodsaak van herhaling. Sowel die gebed as die geslagsdaad is vir die menslike mens ’n paradoks van byna ondraaglike ekstase én agonie. En die belydenis van sonde, en die afstroop van die klere is, respektieflik, die onontbeerlike, vanselfsprekende voorwaarde vir die religieuse en die seksuele moment.... – André P. Brink, Seks en religie", Standpunte, 1964

    SKRYWERSNOTA

    Aanhalings uit Brink se joernale word in dié boek sonder redigering weergegee, behalwe in gevalle waar daar onduidelikheid is en verklarende inligting in vierkantige hakies bygevoeg is. Aanhalings uit resensies en ander kommentaar in Engels word in baie gevalle in die skrywer se oorspronklike Engels weergegee, behalwe in gevalle waar dit nie in die Afrikaanse sinskonstruksie pas nie. In gevalle waar ander tale gebruik word, is die gedeelte óf vertaal óf in die betrokke taal weergegee met vertalings of verduidelikings onmiddellik daarna.

    Wanneer Brink woorde of sinsnedes in sy joernaal onderstreep het (soms met dubbele onderstreping), word dit hier gekursiveer. In sulke gevalle is die beklemtoning altyd dié van Brink self, tensy anders vermeld. Dit is ook van toepassing op Brink se gepubliseerde werke, én boeke deur ander outeurs. Sommige woorde in aanhalings uit Brink se joernale word ook beklemtoon met akuuttekens – die tradisionele wyse om woorde in Afrikaans te beklemtoon. Woorde word dus op twee verskillende wyses beklemtoon in die Afrikaanse teks, soos in Brink se oorspronklike joernale (waar akuuttekens én onderstreping gebruik is.)

    Wanneer Brink in sy joernale mense by die naam genoem het, het hy dikwels voorletters gebruik, gevolg deur ’n punt. Estelle is byvoorbeeld E. Hier word dit só behou, maar sonder die punt daarna. Waar dit onduidelik is, word die naam in vierkantige hakies aangevul.

    In gevalle waar skuilname gebruik word om mense se privaatheid te beskerm, word dié skuilname nie tussen aanhalingstekens geplaas nie, behalwe wanneer die betrokke naam vir die eerste keer gebruik word. In gevalle waar Brink die persoon se werklike naam gebruik het, en dit in ’n regstreekse aanhaling uit sy joernaal verskyn, word die skuilnaam in vierkantige hakies geplaas om aan te dui dat Brink self die persoon se regte naam gebruik het.

    Wat weglatings uit aanhalings betref, word dit op die gebruiklike wyse aangedui, naamlik deur ’n ellipsis met ’n spasie aan albei kante. In sy joernale het Brink dikwels self ’n ellipsis gebruik om ’n denk- of skryfpouse aan te dui. Om sulke pouses te onderskei van my eie weglatings, word ’n ellipsis steeds gebruik, maar met géén spasie voor of na dit nie. Wanneer Brink ’n ellipsis gebruik het om een van sy eie sinne in sy joernale stadigaan te laat wegsterf, gebruik ek ’n ellipsis met géén spasie tussen die laaste letter van die sin wat wegsterf en die eerste punt van die ellipsis nie. Dié styl word ook gebruik wanneer ánder skrywers se werk aangehaal word en waar hul sinne ook wegsterf. Die doel hiervan is om sulke sinne te onderskei van gevalle waar ek sélf die laaste gedeelte van ’n aangehaalde sin weglaat, in welke geval vier punte (’n ellipsis en een ekstra punt) op dieselfde manier gebruik word.

    Afrikaanse titels van Brink se werke wat nooit gepubliseer is nie (byvoorbeeld 90 Dae), word nie gekursiveer nie maar tussen aanhalingstekens geplaas. Dit geld ook in gevalle waar Brink verwys na titels van werke nog vóór hulle uitgegee is, byvoorbeeld wanneer Brink in sy joernaal sê hy werk aan ’n manuskrip met die titel Kennis van die aand.

    In gevalle waar Brink briewe in Engels geskryf het, byvoorbeeld aan Hermione Harris en Anthony Akerman, word aanhalings uit sulke briewe verbatim in Brink se oorspronklike Engels weergegee. In gevalle waar hy ’n oënskynlike fout gemaak het terwyl hy in Engels of in ander tale geskryf het, word die gebruiklike sic – letterlik so is dit in die oorspronklike geskryf – in vierkantige hakies bygevoeg.

    Grahamstad, waar Brink baie jare deurgebring het, het intussen Makhanda geword om die 19de-eeuse Xhosa-profeet en -krygsman te vereer. In hierdie boek bly die stad se naam egter Grahamstad omdat die stad so bekend gestaan het tydens die gebeure wat in hierdie biografie weergegee word. Op ’n soortgelyke manier word ander name wat intussen verander het ook gebruik, byvoorbeeld die H.F. Verwoerd-lughawe in Port Elizabeth, wat nou bekend staan as die Port Elizabeth Internasionale Lughawe. Die doel hiermee is om die korrekte historiese konteks te verskaf vir die gebeure wat in die boek beskryf word.

    VOORWOORD

    André Philippus Brink, of net André Brink – soos hy internasionaal bekend staan – word algemeen beskou as een van die talentvolste, produktiefste, en uitdagendste outeurs in die geskiedenis van Suid-Afrikaanse letterkunde. Brink, wat in Februarie 2015 op die ouderdom van 79 oorlede is, was ’n gebore en getoë Afrikaner. Hy het van die beste eienskappe vergestalt van die puriteine van Afrika,¹ soos die historiese romansier W.A. de Klerk na Afrikaners verwys het. Nie net was hy spaarsamig, hardwerkend en produktief nie, maar sy opvoeding en innemendheid het allerlei mense bekoor. Daarby was sy maniere onberispelik, sy humorsin legendaries, en sy openbare beeld elegant. Brink het die rol van andersdenkende in die apartheidsjare met onderskeiding vervul, ondanks die veiligheidspolisie se volgehoue intimidasie teen hom oor baie jare.

    Sy produktiwiteit was verbysterend – hy het sy 24 romans aangevul met ’n magdom ander werke, insluitende verhoogstukke, vakliteratuur, vertalings, letterkundige en kunskritiek en hope joernalistiek. In 1982 en 1991, toe hy op die kruin van sy loopbaan was – en toe weer in 1999 – het hy die Nobelprys naelskraap misgeloop.² Hy is al deur internasionale kritici in dieselfde asem genoem as skrywers soos Aleksandr Solzjenitsin, Gabriel García Márquez en Peter Carey. Ook was hy die eerste Afrikaanse skrywer wie se werk deur die apartheidsregering verbied is – in die opspraakwekkende geval van sy beroemde roman, Kennis van die aand. Dié roman het sy eie mense, wat neokoloniale rasseskeiding tot omvattende wetlike diskriminasie verhef het, as huigelaars ontmasker wat enersyds oor apart maar gelyk praat en andersyds politieke teenstanders martel en uit geboue gooi.³ Brink se botsings met sensuur het regstreeks verband gehou met sy reputasie as internasionaal gerespekteerde skrywer. Hy het in Afrikaans en Engels geskryf en sowel kuns as beredenering gebruik om rasseongelykhede te beveg. Dít het hy oor baie jare heen vreesloos gedoen, en duur daarvoor betaal.

    Soos alle biografieë rangskik André P. Brink en die spel van liefde die betrokke bronmateriaal op ’n spesifieke manier. Aangesien dit onmoontlik is om ’n lewensgeskiedenis ten volle te beskryf en elke aspek daarvan te dek, moet die meeste biografieë en outobiografieë gemotiveerde aannames maak oor die menselewens wat hulle beskryf. Indien die biograaf gelukkig genoeg is om herhalende temas te identifiseer, mag ’n patroon of ’n stel patrone verskyn wat op ’n groter, dog ontwykende, lewensverhaal dui, en sou die egte só ontrafel kan word.

    ’n Biografiese uitbeelding van ’n skrywer soos André Brink is nóg ingewikkelder omdat hy oor ’n tydperk van 52 jaar noukeurige en omvattende dagboekinskrywings gemaak het. Hy het in sy laaste skooljaar, 1952, daarmee begin.

    Indien Brink se handgeskrewe joernale as afsonderlike boeke uitgegee sou word, sou hulle ’n groot aantal volumes beslaan. Die biograaf se taak is om die koring van die kaf te skei en om beduidende patrone, temas en gebeure bloot te lê. Verder lees die biograaf ego-dokumente (soos joernale en dagboeke) ontledend en met ’n skeptiese oog – teen die bestaande feite in, binne die toepaslike sosiale en intellektuele konteks, en ook in verhouding tot uiteenlopende vertellings.

    Die Brink-joernale lees maklik en vloeiend. Hoewel Brink soms sy eie telegrammatiese snelskrif aangewend het, is sy dagboek-skrywery allermins slordig of onhandig. Heel uitsonderlik wend die joernale fiksie-tegnieke aan soos dialoog, tematiese sinspeling, terugflitse, voorbeduiding en die rangskikking van gebeure in ’n tydgebonde raamwerk. Brink sou byvoorbeeld ’n dagboekinskrywing begin deur te verklaar dat baie dinge in die dae of weke sedert sy vorige skrywe gebeur het, en dan op die inhoud daarvan sinspeel. Daarmee saam tree Brink op as ’n eerstepersoonsverteller en gids terwyl hy besonderhede verskaf oor die betrokke toneel en agtergrond, saam met bondige dialoog en sy eie kommentaar op die gebeure wat hy onder die loep neem. Daar is baie gevalle waarin selfanalise tot diepe onthullings lei, selfs bekentenisse. Brink se algemeen aanvaarde fotografiese geheue en sy merkwaardige vermoë om in ’n oogwink afgeronde prosa te kon lewer sorg vir boeiende leesstof oor sy lewe soos dit ontvou het; die joernale skep ’n soort bronvertelling waarmee enige ernstige Brink-biograaf moet worstel.

    Brink het dít wat hy ervaar het met groot toewyding gedokumenteer; en hy het homself nie gespaar nie. Hy het homself ook gereeld ondergrawe terwyl hy ingewikkelde denkpatrone neergepen het wat in veelvuldige, teenstrydige teorieë uitgekring het, byna asof hy met homself gestry het. Dit is asof hy toegegee het dat geen enkele verstand die volle waarheid van enige saak uit ’n enkele hoek kan begryp nie. Soms was hy eenvoudig nie by magte nie – of bloot onwillig – om moeilike aangeleenthede, ongemaklike waarhede inkluis, uit te pluis. Die man wat in die joernaal te voorskyn kom is minder besorg oor sy beeld op papier as oor die ontginning, deur middel van die skryfproses, van ’n omvattende stel verklarings oor wat in sy lewe gebeur het. Hoewel dit op die oog af voorkom asof hy die joernale net vir homself geskryf het, blyk dit ook dat Brink daarvan bewus was dat ander mense mettertyd sy joernaalinskrywings sou lees. ’n Voorbeeld daarvan is ’n inskrywing uit 2002 waarin hy ’n gewese minnares verseker dat hy reeds begin het om sekere name in sy joernale uit te krap om aan [haar] te bewys dat [hy] [haar] nooit sal verraai nie, nie eers na [sy] dood nie.⁴ Dit volg nadat die vriendin self klaarblyklik die moontlikheid geopper het dat Brink iets mag oorkom, en dat kompromitterende materiaal dan in sy papiere te voorskyn sal kom.⁵ Die gedagte aan toekomstige lesers druk swaar op albei se gemoedere, wat sterk dui op hul gesamentlike veronderstelling dat Brink se papiere ná sy dood noukeurig deur akademici en navorsers ondersoek sou word.

    Brink se fenomenale geheue het sy gedetailleerde verslaggewing versterk, en die joernale is gevolglik relatief betroubaar, in sowel die omvang van die dekking as die diepte van die persoonlike onthullings wat hulle bevat. Dikwels verleen Brink drama aan sy teenstrydige gedagtes en gevoelens oor verskeie onderwerpe – mees opvallend die vroue in sy lewe. Terwyl hy geskryf het, het hy met sy eie, ongeredigeerde en teenstrydige impulse geworstel. Sy neiging was om te besin oor situasies en motiverings, moontlikhede en geleenthede. In hierdie biografie het ek probeer om die verteltekstuur – die onbeslistheid en kringdenke – van Brink se beskryfde lewe te behou. Synde onverwerkte ervaring voldoen die lewe nie aan die woordekonomie van ’n vertelling nie. Daarom het ek in sommige gevalle toegelaat dat die neergepende lewe soos dit ervaar is, sy warrelende, wanordelike vorm, of vormloosheid, onthul.

    Dit wil voorkom asof Brink se vernaamste oogmerk, toe hy sy joernaalinskrywings gemaak het, die verkenning en ware oordrag van sy gedagtes en gevoelens was, ofskoon dit gedoen is in die oomblik van begeerte, of die kilte van twyfel en angstigheid. Die joernaal was sy veilige hawe, die skoon bladsy sy mees vertroude vesting. Dáár kon hy aan homself bewys dat hy inderdaad die persoon was wat hy deur middel van sy dade in die buitewêreld geprojekteer het. Op dié manier het hy sy ervarings gekonsolideer en bevestig. In haar biografie oor James Joyce skryf Edna O’Brien dat dié outeur sy geheimste impulse op papier verewig het om sowel sy nalatenskap as sy bevryding te boekstaaf; op soortgelyke manier het Brink sy eie waarheid oor homself en die mense om hom vreesloos neergeskryf. En soos Joyce het hy geen poging aangewend om hierdie geskrifte te vernietig nie, al was daar oorgenoeg kanse daarvoor.

    Een voorbeeld van die soort selfkritiek wat ’n mens in Brink se joernale raak lees is ’n inskrywing oor sy ergernis teenoor Hermione Harris, sy soms gewillige, soms teensinnige geliefde in die middel-sestigerjare, tydens ’n vakansie saam met Breyten en Yolande Breytenbach in Ponta do Ouro, Mosambiek, in 1967. Brink beskryf sy woedende uitbarsting te midde van beproewende reisomstandighede, en Harris se beweerde seksuele onttrekking aan hom:

    [D]ié viciousness in my het ek tevore al gesien, bowenal by Ingrid, telkens as ek begin vrees het ons staan nie meer saam nie; die wêreld is te swaar vir 2 wat nie eendragtig is nie. En dan word dit ’n perverse soort toets: O.k., jy hou jou terug; dan sal ek jou wys dat ek so bitter kan wees dat jy nie van my sal durf hou nie (kleinserige selfverdediging): ek sal bitsig & wreed wees; en as jy net die destruktiewe sien dan faal jy; as jy sien hoe dit gebore word uit bang, gekwetste liefde, dan kom ons saam anderkant uit. Perverse sadisme wat heeltemal destruktief word.

    Hier ontleed Brink een van sy meer twyfelagtige karaktertrekke en haal homself oor die kole, hoewel sulke bekennings ironies een van sy sterk punte was. Brink se beskrywings in sy joernale is ongetwyfeld deur verskeie faktore beïnvloed, in geen geringe mate nie deur sy begeerte om homself aan homself – en uiteindelik aan ander – in ’n positiewe lig te stel. Hy was inderdaad geneig om homself beurtelings te kasty en te prys, en dus moet hierdie vertellings oor die algemeen liefs met omsigtigheid gelees word. Brink was ook geneig om in sy uitvoerige en gedetailleerde seksbeskrywings sy meesterskap oor vroue te beklemtoon. Dit is iets wat hy lewenslank kompulsief in sy joernaal gedoen het, ’n feit wat die leser heel moontlik skepties sal stem, eerstens teenoor Brink se geaardheid en tweedens oor die betroubaarheid van sy dagboekinskrywings. Tog bly die joernale ’n aanloklike bron omdat dit ál plek is waar Brink sy ewige sosiale maskers grotendeels afgestroop het. Agter hulle het ’n meer komplekse en minder selfversekerde persoonlikheid geskuil as wat hy dikwels voorgegee het.

    In 2015, toe ek die eerste keer daaraan gedink het om ’n biografie oor André P. Brink te skryf, het ek ’n werk voorsien wat meer spesifiek sou fokus op die vormgewende aspekte van Brink se skryfwerk. Maar nadat Brink se weduwee, Karina Szczurek, my toegang gegee het tot die joernale en ek baie maande lank met hulle gesit het, het ek besef dit is uiters belangrik om ’n boek te skryf wat Brink se eie, dringendste belange weergee, gegrond op sy eie optekeninge oor homself en sy doen en late. Ek het besluit om, waar moontlik, in die spore te trap van die joernale se ooglopendste en mees uitgesproke selfvertellings. Daarmee kon ek Brink verder laat aansluit by dít wat nog altyd ’n belangrike genre in die Suid-Afrikaanse letterkunde was, naamlik lewensgeskrifte of, in Engels, life writing. Lesers sou dan kon bespeur waar Brink self die klem gelê het terwyl hy sy ervarings neergeskryf het. Ek het ook probeer om die bygaande letterkundige werke oop te kloof en hul betekenis, omvang, ontvangs en belangrikheid binne die (Suid-)Afrikaanse letterkunde vas te stel.

    Diane Wood Middlebrook, die skrywer van Anne Sexton: A Biography, sê oor haar boek die volgende: In die kuns van biografie ... is dit aanmatigend van die lewendes om te dink hulle kan ’n geheelbeeld van ’n mens se lewe oordra. Ek wou Sexton uitbeeld op grond van haar eie, ingewikkelde stel terme.⁸ Brink se joernale, waarin ’n uitsonderlike lewe delikaat en in fyn besonderhede vasgevang word, bevat feitlik daaglikse beskouings van sy persoonlike ervarings. Die intieme onthullings wat spruit uit hierdie skryfproses is die onderbou van my eie vertelling, en ek het my daardeur laat lei in my verkenning van die maniere waarop Brink homself laat geld én gekritiseer het. Op grond van patrone wat begin verskyn het moes ek oordeelkundig te werk gaan met die joernaaluittreksels wat ek gekies het om hier weer te gee. Ek het probeer om liewer nie die stem van die joernale te oorskadu nie, maar om eerder toe te laat dat André P. Brink homself hoorbaar kon maak in die ontvouing van sy innerlike lewe oor 52 jare se self-optekening. In daardie sin gee hierdie boek Brink se éie interpretasies van homself weer, en verteenwoordig dit wat hy sélf gedink het hy werklik was. Natuurlik is dit onmoontlik vir ’n betrokke leser-skrywer om nie menings te vorm en soms kommentaar te lewer nie, al sou dit net wees om kulturele en akademiese kontekste te verskaf. Waar my kommentaar ’n waardeoordeel insluit, lewer ek dit omsigtig, as ’n blote voorstel tot interpretasie. My doel is deurgaans om ’n ingeligte begrip van André P. Brink en sy werk te vorm: ’n invloedryke skrywer en ’n komplekse mens wat baie dilemmas vir homself geskep het. Om Middlebrook weer aan te haal: Wat die biograaf die onderwerp skuld, stem ooreen met dít wat die psigoanalis die analisant skuld wanneer verborge materiaal aan die lig kom: nie oordeel nie, maar insig.

    Brink se verborge skatkis, sy joernale, bevat filosofiese en letterkundige bepeinsinge, staaltjies, politieke denke, vorderingsverslae oor skryfprojekte, en relase van daaglikse gebeure. Die opwindendste en driftigste joernaalskrywery word egter in Brink se liefdes- en seksbeskrywings gevind. Sowel die toonaard as die erns van hul inhoud verhef hulle tot die status van merkwaardige biografiese stof. Nietemin is die meeste van Brink se buitengewoon uitvoerige seksbeskrywings hier geredigeer ter wille van omsigtigheid en takt. En tog illustreer dié beskrywings die manier waarop hy homself uitgebeeld het, en wys hulle presies hóé sy joernaal- en romanskrywes vervleg is. ’n Kritikus van die Londense Literary Review het een van Brink se romans in die vroeë 2000’s beskryf as a porn video of memories played by an old man clinging to the last vestiges of virility; vir dié kritikus was Brink self ’n pudendologist – ’n deskundige op die gebied van vroulike geslagsdele.¹⁰ Brink se seksbeskrywings is moontlik die element in sy romans wat onder die striemendste kritiek deurgeloop het; in sy joernale, waar seks en seksuele liefde ’n deurlopende tema is, word die kloutjie by die oor gebring, en kan ’n mens baie duideliker sien wat die motief agter sy oënskynlike seksbeheptheid was.

    Brink se joernale, gelees saam met sy romans, onthul ook ’n komplekse stel aangeleenthede, afgesien van die persoonlike genot wat die romansier klaarblyklik daaruit geput het om sy avonture op te teken. Hier tree ’n betekenisvolle nuutskepping na vore, die term literarisering, om die wyse te beskryf waarop sy skryfwerk – in sowel sy joernale as sy romans – die vroue wat hy liefgehad het herverbeel en herskep het, onbelemmerd deur die byvoeging van saai, banale sake. Dié term is ’n belangrike sleutel indien ’n mens Brink se lewe en werk volkome wil verstaan. Dwarsdeur Brink se volwasse lewe was die belofte van seksuele liefde sy vryheidsfakkel. Lawrence Durrell se uitspraak dat die liefde a form of metaphysical enquiry is het Brink se lewenslange credo geword en sy skryfwerk in al sy vorms beïnvloed. Hierdie biografie ondersoek dus die verband tussen Brink se joernaalinskrywings, sy lewe, en sy skryfwerk. Die doel hiervan, soos reeds gesuggereer, is om dié komplekse skrywer beter te begryp.

    In Februarie 1957, toe ’n jong Brink ’n boek oor eksistensialisme gelees het en aantekeninge gemaak het oor die filosofie van Martin Heidegger, Jean-Paul Sartre en Gabriel Marcel, het hy Marcel soos volg omskryf: Liefde: die óópmaak van een mens na ’n ander en daardeur die toegang tot die groter liefde van God. In die liefde transendeer die mens homself.¹¹ Dié gedagte word vir Brink ’n leitmotief. Tien jaar later, toe hy ’n geswore eksistensialis was, sou hy die volgende skryf terwyl hy aan depressie gely het: Nee, wat, dit bly maar my domein: die liefde.¹² Met godsdiens weggestroop het net menslike, seksuele liefde as kernfilosofie oorgebly. Meer tersaaklik het hy sy bestaan grotendeels op ’n verhewe opvatting van seksuele omgang gegrond, waarin hy ook ’n vorm van transendensie gevind het. Sy daaglikse behoefte om déúr die liefde te lewe was van só ’n aard dat hy afsondering nóg in tyd nóg in ruimte kon verduur. (In baie gevalle nie eens vir ’n enkele aand nie: hy moes altyd bý die vrou wees wat hy liefgehad het, in gesprek of seksuele nabyheid.)

    Hierby was sy seksuele tog, ná die verskyning van Ingrid Jonker in sy lewe, grotendeels ’n opstand teen die wette van die Calvinistiese vaders. Brink se tekste was grensoorskrydend en het die boeie van tradisionele Afrikaanse letterkunde afgegooi. Vir ’n nuwe generasie lesers en skrywers was hy ’n belangrike rolmodel. Marita van der Vyver sou byvoorbeeld ná Brink se dood onthou hoe verstom sy was toe sy as jong vrou die stoute dele in Die ambassadeur (1963) teëgekom het en besef het dat dit moontlik is om so in Afrikaans te skryf.¹³ Brink het gehelp om ’n nuwe geslag Afrikaners te bevry, en ’n persoonlike en politieke gedragskode geskep wat nie aandadig was aan die Calvinisme en apartheid-ideologie nie.

    In die lig hiervan, en met die wete dat Brink sy breedvoerige memoir ’n Vurk in die pad / A Fork in the Road nagelaat het, probeer hierdie boek nie om die reeds bekende Brink-verhaal volledig oor te vertel nie. In plaas daarvan bevat dié biografie besonderhede uit Brink se joernale wat gapings in sy memoir oorbrug, naamlik sy vyf huwelike en sy talle liefdesverhoudings. Op hierdie manier word ’n soort binneverhaal gekonstrueer oor ’n uitsonderlike en uiters invloedryke Suid-Afrikaanse lewe. In sy joernale steek Brink niks weg nie en skryf hy met selfvertroue en openhartigheid, en soms met berou en selftwyfel, oor sy lewe en die vroue wat hy bemin het. Soos ek vroeër aandui het sy opgetekende lewe hom dikwels in ’n lig gestel wat nie as glinsterend beskryf kan word nie. In sy joernale wou Brink nie sy herinneringe ter wille van ’n leserspubliek gedenk soos in ’n Vurk in die pad nie. Hy het eerder, in die naspel van ervaring, en te midde van konflik, of begeerte, probeer vasstel wie en wat hy as individu was.

    Waar die joernale om welke rede ook al stil word – in die negentigerjare, en weer in die tyd ná 2000 – maak ek staat op konvensionele biografiese metodes en bronmateriaal soos onderhoude, koerantberigte en -artikels, resensies en kritiese ontledings van sy gepubliseerde werk. Ek streef deurgaans daarna om die kerngebeure in Brink se lewe na te speur – in sy skryfloopbaan, huwelike, openbare lewe en in die geskiedenis van die land waaraan hy hom gewy het. Ek wy amper drie volledige hoofstukke aan gebeure in die sestigerjare, terwyl ander belangrike fases meestal in een hoofstuk behandel word. In die sestigerjare was Brink se joernaalinskrywings diepgrondig; dit was ook dié tydperk – tot en met die sewentigerjare – waartydens die skrywer, wat homself as ’n "suitor, troebadoer, romantikus" beskryf het,¹⁴ sy verkenningstogte geloods het om seksueel-romantiese bevryding en vervulling te vind.

    Die eerste twee hoofstukke oor die 1960’s (Ingrid Jonker en die vroeë sestigerjare: die woord word vlees, en "Angs en angoisse") dek die Ingrid Jonker-verhaal en die nasleep daarvan, wat Brink breedvoerig en in groot detail in sy joernale vertel het. Hy onthul inhoud wat voorheen duister was, en nie eens in die briewewisseling voorkom wat in 2015 gepubliseer is nie.¹⁵ Daardie briewe het heelwat besonderhede verswyg – naamlik die binneverhaal van wat gebeur het toe die minnaars saam was, aangesien die korrespondensie op daardie gebeure gevolg het. Die besonderhede was reeds aan albei bekend.

    In die briewe verklaar Brink sy liefde aan Jonker, meestal in beeldryke taal. In die joernale tree hy egter in gesprek met homself oor sy innerlike tweestryd, oor hoe moeilik die verhouding was en oor hoe sleg hy oor sekere gebeure gevoel het. Natuurlik skryf hy ook oor hoe vlot sake verloop het, en doen hy met behae verslag oor seks met Ingrid, soos die geval waar hy sy en Jonker se vyftigste fok verkondig.

    Soos Albert Camus het Brink geglo die enigste manier waarop ’n mens ’n onvrye wêreld kan oorleef is om jou eie lewe ’n daad van verset te maak. Dit sou nie vergesog wees om te sê dat Brink sy bestaan in navolging van dié geloof georden het nie. Boonop het hy vryheid – veral politieke en seksuele vryheid – verbind met die soekende, dog kwesbare avontuurlustigheid van Don Quichot, sy ander letterkundige held. Brink se lewe en sy boeke is met mekaar verstrengel: sy fiktiewe karakters herhaal dikwels ware ervarings of was gereeld voorafskaduwings van dinge wat werklik in sy lewe gebeur het. Sy komplekse loopbaan het dus bestaan uit ’n soort vervlegting van leef-en-skryf; uit die magdom outobiografiese geskrifte tot my beskikking torring André P. Brink en die spel van liefde hierdie twee aspekte van mekaar los, maar weef hulle dan weer inmekaar – dié keer op ’n meer ekonomiese en kritiese wyse.

    ’n Opmerking oor die gebruik van tydvorms in hierdie boek: terwyl Brink aan Die ambassadeur geskryf het, wou hy dit Teenwoordige tyd onvoltooid noem, dus die historiese teenwoordige tyd.¹⁶ Brink se teenwoordige tyd onvoltooid vat die onderliggende gevoel in Die ambassadeur vas – in navolging van sy eksistensialistiese credo – dat die huidige oomblik ál is wat ’n mens kán of mág besit. Vir Brink het dié vervlietende oomblik, wat in die meervoud ’n mens se hele lewe uitmaak, nie die sekerheid van voltooiing ingehou nie, godsdienstig of te not. Onthou dat Brink in dié tyd besig was om sy eie, sekulêre religie van seks te skep, maar vir hom het dit geen transendensie gebied nie. Die teenwoordige tyd was dus vir dié romanskrywer meer as ’n blote skryftegniek – dit was ’n erkenning van die werklikheid in sy felste, beduidendste en kortstondigste vorm. In sy joernale maak Brink deurgaans gebruik van die historiese teenwoordige tyd. Die teenwoordige tyd word hier gebruik wanneer Brink die leser regstreeks deur sy joernale aanspreek, om dan só die dringendheid van sy joernaalinskrywings oor te dra. Waar die verhaallyn dit vereis, skakel André P. Brink en die spel van liefde oor na die verlede tyd, maar gebruik dan weer die historiese teenwoordige tyd wanneer Brink die drama van sy bestaan in die teenwoordige tyd onvoltooid hervat.

    Ten slotte, wat die identiteit van persone in Brink se lewe betref, word skuilname gebruik in gevalle waar dit nodig is om privaatheid te beskerm. Daar word na sy weduwee as Karina Brink verwys, hoewel sy as skrywer bekend staan as Karina Magdalena Szczurek of Karina M. Szczurek. Hierdie biografie het staatgemaak op die gulhartigheid van talle mense wie se eie verhale bygedra het tot die waarheid en tekstuur van André P. Brink se lewe; stemme wat met die skrywer s’n vervleg is.

    HOOFSTUK 1

    GESKRYFDE LEWE, GESKRYFDE LIEFDE

    Die klem in hierdie hoofstuk val op André P. Brink se jeug – veral sy matriekjaar in 1952 – en sy daaropvolgende universiteitsjare op Potchefstroom. In matriek aan die Hoërskool Lydenburg het hy begin met die joernaalinskrywings waarin hy sy lewensverhaal deurlopend sou opteken. Die skrywer sou tot 2004 – dus meer as 50 jaar lank – uitvoerig oor homself verslag doen, met beskrywings van wat hy gedoen het en, veelseggend, hoe hy gevoel het oor dit wat vir hom belangrik was. As ’n mens Brink se joernale uit die vyftigerjare lees saam met die uitsprake wat hy later oor sy kinderjare sou maak, word sleutelelemente van sy vroeë psigiese ontwikkeling sigbaar. Om hierdie belangrike stof deeglik uit te lig, word die gebruiklike chronologiese vertelling hier soms onderbreek, maar die draad van die storie word so gou moontlik weer opgeneem.

    Brink se eerste dagboek lei ’n magdom outobiografiese vertellings in waarin hy hom dit ten doel stel om kernwaarhede van sy lewe vas te lê. Die eerste boek is ’n diep persoonlike – maar tog ook ekshibisionistiese – selfoptekening, met eienskappe van die soort vertonerige skryfstyl wat kenmerkend is van jong skrywers. Vir Brink word die skryfproses ’n vorm van belydenis wat algaande sterker word soos die joernale oor baie jare aangroei. Daar is altesaam 43 joernale van verskillende groottes, met ’n somtotaal van 980 000 woorde.¹ Aangesien ’n gemiddelde roman om en by 90 000 woorde beslaan, kan ’n mens sê Brink se joernale is min of meer gelyk aan 11 romans – dit wil sê bykans die helfte van die 24 romans wat hy gedurende sy leeftyd gepubliseer het. Hoewel die joernale nie met fiksie vergelyk kan word nie, is hulle ’n gewigtige, vroeër onbekende onderafdeling van Brink se oeuvre. Die joernaalinskrywings is almal handgeskrewe en bevat betreklik min korreksies. In sy vroeë, jeugdige inskrywings is Brink se handskrif elegant en duidelik leesbaar, maar dit verwissel geleidelik van gedaante en in die laaste volume van 2004 is dit soms baie moeilik om sy amperse gekrabbel te ontsyfer.

    Die eerste dagboek fokus veral op twee onderwerpe. Eerstens doen die 17-jarige André noukeurig en pligsgetrou verslag oor sy prestasies op skool en in buitemuurse aktiwiteite soos klavier, skilder, atletiek en tennis. Sodra hy sy intellektuele, skeppende en fisieke suksesse klaar opgeteken het, wend hy hom tot sake van die hart, met liefdesverklarings in liriese prosa.

    Hy het vroeg reeds begin nadink oor sy skryfwerk en ernstig volhard met wat hy later die spel van liefde of liefdespel sou noem – iets wat vir hom altyd met taal en die skryfproses verweef was. Dié wedersyds aanvullende fokus op, en verwewing van skryf en die liefde sou ’n lewenslange neiging word. Daarby het sy gemoed skerp gewissel na gelang van sy selfvertroue en suksesse: oor die algemeen was Brink uiters optimisties, maar hy was ook geneig tot intense angs en het homself gedurig bevraagteken, veral as hy nie geslaag het in wat hy ook al aangepak het, of volgens sy eie oordeel nie goed genoeg presteer het nie. Van vroeg af toon hy dus ’n skerpsinnige, geesdriftige instelling, afgewissel met innerlike foltering, waaroor hy min in die openbaar sê maar heelwat in sy joernaal bely. Hy het Frederich Nietzsche se der Wille zur Macht of magswil konstant nagestreef: die verwesenliking, in hierdie leeftyd, van ’n mens se hoop en hunkering. Brink het bowenal gestrewe na welslae in die skryfkuns sowel as in die liefde. Sy lewensverhaal lê dus vasgevang in dié oorkoepelende strewe, aangedryf deur ’n gemoed wat wispelturig tussen die pole van vreugde en mismoedigheid gewissel het.

    Skryf en liefde was vir Brink onafskeidbaar met mekaar verstrengel. Soos gou duidelik sal word, het Brink dikwels meer selfversekerd gevoel – selfs meer eg – in die skryfhandeling as in sy eintlike ervaring van die lewe. Wat van die begin af reeds opval in sy uitvoerige selfbeskrywings – wat ’n mens ook as selfvergestalting kan beskryf – is hoe gladweg die geskryfde lewe en die geskryfde liefde vir dié skrywer bymekaar inskakel. Die joernale, wat ’n uitsonderlike argief uitmaak, word ’n driftige verslag, enersyds van skryf-en-dink en andersyds van Brink se ontluikende verhoudings met vroue, waarin hy koestering en ’n eindelose bron van opwinding sou vind. Wat vroue betref, was dit in baie gevalle die gedagte aan, of die afwagting van liefde, eerder as die persoon self, wat sy drif aangevuur het. In sy finale skooljaar, toe hy net 17 jaar oud was, sou Brink behep word met ’n meisie wat hy Martie noem, maar dié geliefde sou ’n skimbeeld bly. Hy sou haar nooit ontmoet nie; hy het haar naam na willekeur verander; en hy was onseker oor haar ouderdom en selfs haar voorkoms. Tog het sulke leemtes Brink glad nie verhinder om Martie in ’n liriese wolk te hul nie. In die woorde van ’n sentrale karakter in een van sy latere romans, sou Brink homself spoedig bewys as die soort mens wat nie eintlik [kan] lewe sonder om verlief te wees nie.² Hy kon die fisieke afwesigheid van die beminde regstel deur haar in die skryfhandeling te herskep en te omvorm, waardeur sy weer in sy gemoed sou verskyn in die vorm wat hy begeer of verbeel het. Later sou hy hierdie proses beskryf as literarisering, sy eie nuutskepping wat spesifiek gerig is op die manier waarop hy die vroue wat hy begeer het, literêr sou omskep en hulle daardeur onbereikbaar maak – om homself te beskerm, soos hy dit beskryf.³ Reeds op die ouderdom van 17 word sy afwesige meisie in sy verbeelding gestalte gegee deur ontlening aan die Romantiese digters John Keats en Percy Bysshe Shelley. Brink se neiging om die liefde te skryf eerder as te beoefen sou vir die grootste deel van die vyftigerjare voortduur. Die daad sou die woord eers teen ’n verbysterende snelheid inhaal toe die jong skrywer Ingrid Jonker in die vroeë sestigerjare ontmoet, en dít ondanks uiterste seksuele onderdrukking in die voorafgaande tyd.

    Brink se joernaalgeskrifte uit die vyftigerjare, toe hy matriek geskryf en sy universiteitsopleiding in Potchefstroom voltooi het, is die hoeksteen van die verhaal wat in hierdie hoofstuk volg. Die gebruiklike biografiese fokus op die skrywer se kinderjare word hier dus effens ingeperk. Brink vertel self die verhaal van sy kleintyd in sy memoir, ’n Vurk in die pad,⁴ en dit is dus oorbodig om daardie storie hier te herhaal. Nietemin word ’n kort opsomming van die skrywer se kinderdae later verskaf, soos Brink dit in sy memoir, joernale en ander bronne weergee.

    André Philippus Brink is op 29 Mei 1935 in Vrede in die destydse Oranje-Vrystaat gebore. Hy was die oudste van Aletta (Lettie) en Daniël Brink se vier kinders. As landdros is Daniël Brink van die een dorp na die ander in die Vrystaat, die noordelike deel van die Kaapprovinsie, en die voormalige Transvaal verplaas. André word dus groot in ’n reeks klein Suid-Afrikaanse dorpies: Vrede, Jagersfontein, Brits, Douglas en Lydenburg (toe sy pa as landdros op Sabie gedien het). Ná sy matriekjaar het sy ouers uit Sabie na Bothaville getrek, en ten laaste Potchefstroom toe, waar hulle afgetree het. Brink se broer, Johan, is die jongste en ’n fisikus; sy susters is Marita (tweede jongste en ’n sielkundige) en Elsabe (Elbie) die tweede oudste. Elsabe was ook bekend as die skrywer Elsabe Steenberg en is in 1998 oorlede. Brink se ma was ’n onderwyseres en albei sy ouers was geesdriftige lesers, soseer dat hy sy jeug as bedolwe onder boeke beskryf. Brink se ouers het ’n ongeëwenaarde bewondering vir Shakespeare gehad, met Dickens en die Brontës daarby in sy ma se geval.⁵ As tradisionele Afrikaners was sy ouers egter nie ingenome met Engelse invloede op die Suid-Afrikaanse geskiedenis en veral die politiek nie.⁶

    In ’n Vurk in die pad skryf Brink oor die geweld, openlik en verborge, van klein dorpies soos dié waarin hy grootgeword het. Dít is plekke, sê Brink, wat gekenmerk word deur "’n oorskot van geweld".⁷ Dié behels dikwels skade wat gedemp of bedek en bepaal deur die huislike is, soos die plaaslike dominee wat sy vrou agter geslote deure aanrand. Heelwat voorvalle word ook gekenmerk deur rasgedrewe wreedheid.⁸ Die kultuur van skade aandoen is só diepliggend dat skoolseuns agter die kleedkamers sou spog oor die hoof se rottanghale op hul lywe – en vir enigiets minder as bloedhale is hulle uitgelag.⁹ Brink beskryf hoe ’n meisie met die naam Elise, die dogter van ’n polisiesersant, hom na ’n plek gelei het waar hulle kon afluister hoe lyfstraf aan jeugdiges toegedien word – deur Brink se pa, wat, volgens hom, nooit tuis oor sulke dinge gepraat het nie.

    In sulke gevalle is die betrokke jong man na die polisiestasie op die hoek van ’n tamaai erf geneem waarop die landdros se huis ook gestaan het. Die skuldige jongeling is na ’n sinkplaatskuur met ’n skilferige rooi dak gelei en kaal uitgetrek. Vier polisiemanne het hom op sy maag op ’n lang, smal tafel vasgedruk. Onheilspellend was ’n distriksgeneesheer ook op die toneel. Ná die loesing is die deur oopgegooi … en [het] al die konstabels bulderend van die lag saam[ge]drom terwyl die kaal jong man soos ’n afkophoender … kruis en dwars oor die gruis van die agterplaas rondhol. Brink vertel verder: Ek onthou nog hoe [Elise] gelag het – al was daar, verbeel ek my nou, iets histeries in die lag… Een keer was sy so opgewonde dat sy self haar rok opgelig het, haar oë onnatuurlik groot en koorsig, om my te wys hoe sy haar natgemaak het.¹⁰

    Geweld, wil dit blyk, het as ’n soort sosiale en persoonlike grammatika gedien wat ’n mens op verskeie maniere kan vertolk. Een van die beduidendste oomblikke in Brink se kinderdae hou verband met sy pa se rol in ’n rasverwante voorval. Vir die jong André was Daniël Brink almagtig: Hy was immers die magistraat. Hy was tweede in bevel, ná die Here God. Hy’t alles geweet van Reg en Verkeerd, van Goed en Kwaad.¹¹ En tog het dit spoedig moeilik geword om tussen reg en verkeerd, goed en kwaad te onderskei. Een dag, vertel Brink, het ’n swart man by hul agterplaas in gesteier, met bloed wat uit ’n kopwond stroom. Hy het geslinger soos ’n dronk man.¹² Hy is aangerand, en dit het gelyk asof sy gesig eers uit fatsoen geslaan en daarna deur ’n vleismeul gestoot is. Toe die verwonde man daar opdaag, was Brink besig om teen ’n buitemuur tennis te speel. Oudergewoonte was sy pa op die tennisbaan, soos altyd op Saterdae. Die verminkte man het na die agterdeur gestrompel, daar op die gruis inmekaar gesak en sy rug teen die muur probeer stut. Uit sy dik geswelde lippe het hy met groot moeite laat weet hy wil met die baas, die magistraat, praat.

    Duiselig van skok het Brink by die man gaan hurk en met hom probeer praat. Die ware skok was egter sy pa se ongeërgdheid oor die man se situasie toe hy uiteindelik tuiskom. Die landdros het geen ag op die bloeiende man geslaan nie en die huis binnegestap asof daar niks fout was nie. Toe sy seun agter hom aanhardloop en hom smeek om iéts te doen, het Daniël Brink vir André bot herinner dit was Saterdag. Die beseerde man moet Maandag terugkom. ’n Huilende André het volhard en sy pa belowe toe hy sal die saak bekyk nadat hy gestort het. Maar toe die vars en skoon landdros (tweede in bevel ná God) uiteindelik te voorskyn kom, som hy die situasie baie gou op en sê vir die smekende man: Jy moet polisie toe gaan. Daar is niks wat ek vir jou kan doen nie. Dis nie my werk nie. Die man het deur die bloed in sy mond geantwoord: Ek was klaar by die poelies. Hulle’t my ook geslaan. Dis hoekom ek nou hier is. Maar die landdros het aangedring hy moet polisie toe gaan. En toe stap hy weg, sonder antwoorde vir óf die man óf sy seun:

    In ten minste twee van my boeke het ek al oor dié insident geskryf, in die hoop dat ek die herinnering sou kon besweer. Maar dit help nie. Dit bly nog altyd by my spook ... En ek dink nie dit is ’n oordrywing om te sê dat die wêreld van daardie dag af vir my ’n ander plek geword het nie. My pa ’n ander mens.¹³

    Dit is natuurlik ’n veel ouer Brink wat hier skryf, en ’n mens moet byvoeg dat sy uiteensetting heel moontlik aangedik is – oordrewe tonele van rassegeweld het Brink se romans gekenmerk, soos byvoorbeeld in Houd-den-bek en Philida. Dit is ook veelseggend dat Brink in sy impressionistiese memoir nalaat om te noem hoe lank dit hom sou kos om te sien, of aan homself uit te spel, dat die ander mens wat sy pa op daardie oggend voor sy oë geword het, nie versoen kon word met menslike waardes nie. Brink se politieke ontwaking was inderwaarheid ’n uitgerekte proses, waarvan die eerste tekens tydens sy universiteitsjare op Potchefstroom verskyn het te midde van sy steeds vurige lojaliteit aan die Volk en die Afrikanersaak. Die ware breekpunt sou kom in die oorgang tussen die bedaarde vyftigerjare en die plofbare sestigerjare, maar dit sou allermins so vinnig gebeur soos dit uit hierdie insident en Brink se kommentaar daarop blyk.

    In sy memoir spreek Brink homself egter nie vry van aanspreeklikheid aan geweld nie, maar in sy oorvertelling lê hy die klem op sy vermeende aggressie tydens speletjies toe hy nog ’n kind was. In een geval raak Brink halsoorkop verlief op 11-jarige Driekie, die plaaslike dominee se dogter. Spoedig speel hy skool-skool in die motorhuis saam met Driekie, sy suster Elbie, wat Driekie se klasmaat is, en ’n hele paar ander kinders. Brink, wat skat dat hy in daardie stadium dertien of daarlangs was, speel onderwyser. Hoewel ek uitgesien het daarna om klas te gee en kennis aan my jong gehoor oor te dra, is die hele oggend eintlik rondom lyfstraf beplan. Dit was die enigste manier wat ek kon prakseer om Driekie by te kom.¹⁴ Met die soepel maar stewige lat wat ek vroegtydig van die peperboom gesny het, begin hy slae uitdeel. Brink slaan Elbie drie keer op die hand, en volgens hom het dit al haar wilskrag gekos om nie te huil nie. Onderwyser André roep toe vir Driekie nader. [Sy] het gewoon verseg om haar hand uit te steek, en botweg geweier om te buk. Al uitweg was om die slae op haar kaal bene te verduur. Sy begin huil, ’n dun, hoë kermgeluidjie wat my hart verskeur het. Tog het die jong Brink nog ’n kwaai hou na haar bobeen gemik. [S]y het padgegee, die stoel omgeskop waarop sy gesit het, en laat spaander na die verste kant van my tafel. Daarna volg ’n onbehoorlike stoeiery.¹⁵ Dié voorval het natuurlik André se vooruitsigte met Driekie gekelder. Uit die perspektief van die 74-jarige skrywer van ’n Vurk in die pad is die gedagte aan hoeveel onopgeruimde geweld daar destyds in my binneste moet gewees het ontstellend, veral die mate waartoe dit met die broeiende wêreld rondom hom verband gehou het.¹⁶

    ’n Mens wil amper sê die onopgeruimde geweld in die 13-jarige Brink hou ook verband met sy erotiese ontwaking, en met sy innerlike begeerte om ’n weerbarstige wêreld te beheer. Veel later in sy lewe, op 65, sou Brink psigoterapie ondergaan. Die sielkundige stel voor dat een van die hoofoorsake van sy probleem die feit is dat sy ma hom kortstondig in die steek gelaat het toe sy siek geword het terwyl hy nog baie klein was.¹⁷ (Daar word niks verder oor die siekte geskryf nie, maar ’n mens neem aan die baie klein André se moeder is óf hospitaal toe óf onbereikbaar afgesonder in ’n siekbed.) André se probleem, wat nou voor die sielkundige ter tafel gelê is, het te doen gehad met die skrywer se komplekse verhoudings met vroue en sy herhaalde rusteloosheid in dié verband. In sy notas oor die psigoterapie beskryf Brink een van sy vernaamste kenmerke as [m]y oú [sic], & alles-oorheersende nuk: vrees vir chaos, vir beheer verloor.¹⁸ Sy terapeut het gemeen verskeie onderbrekings in Brink se kleintyd het tot ’n fundamentele onsekerheid en ’n behoefte aan beheer gelei. Veral belangrik, volgens die terapeut, was twee sleutelonderbrekings in sy kinderjare: eerstens, dié van sy moeder se siekte; en tweedens, sy pa se voetstappe wat ’n poging tot die seksdaad in sy kinderdae onderbreek het. Laasgenoemde word later bespreek.

    Brink se probleem, sy innerlike wankeling, hou verder ook sterk verband met sy moeilike verhouding met sy afwesige en onbuigsame pa.¹⁹ Dit is ’n verhouding wat dwarsdeur Brink se lewe ’n netelige saak was. Kort ná sy veertigste verjaardag in 1975 is Brink byvoorbeeld deur Bram Fischer se dogters genooi om ’n huldeblyk by dié linksgesinde advokaat, se begrafnis in Bloemfontein te lewer. Brink het op die punt gestaan om te vertrek, maar sy pa het hom emosioneel afgepers en die skrywer kon nie anders as om die besoek te laat vaar nie. Daniël Brink het gedreig om ’n doktersafspraak, wat weens sy kwynende gesondheid lewensbelangrik was, af te stel as sy seun sou voortgaan met die huldeblyk aan Fischer. Dié daad, sê Brink, is iets wat hy sy pa nooit kon vergewe nie. Brink se vriende moes sy huldeblyk Bloemfontein toe neem, en hy het desnoods weggebly.²⁰

    Jare later, in 1993, sou Brink beskryf hoe hy sy pa amper met ’n kussing versmoor het in ’n sorgeenheid in Potchefstroom. Brink sê hy was op die nippertjie om genadedood te pleeg op die eens vorstelike Daniël Brink, wat toe 88 jaar oud was en in ’n koma gelê het ná ’n reeks beroertes. Toe sy 58-jarige seun hom daar besoek, het die spektakel van sy bewustelose pa wat in sy eie ontlasting lê hom diep getref. Hy was net ’n liggaam. ’n Smerige liggaam. Nie eers [sic] ’n liggaam nie, ’n jammerlike bondeltjie bene, met vel oorgetrek. Opgekrul soos ’n fetus, geheel en al weerloos en ellendig, kerm hy feitlik onhoorbaar terwyl [die verpleegsters] hom met ’n bot doeltreffendheid hanteer.²¹ Brink sê voorts:

    Dit was bowenal die vernedering wat my oorweldig het. Selfs in tye waarin ons met moeilikheid gekommunikeer het, en selfs toe daar groot afstande tussen ons was, het sy gravitas, sy kalmte en sy stille waardigheid ontsag afgedwing. Die juiste feit dat mens nie na hom kon uitreik of hom kon aanraak nie, het nog altyd bevestig dat hy ’n buitengewone mens was, iemand wat letterlik apart gestaan het. En nou was al daardie waardigheid uitgekalwer, afgebreek tot hierdie patetiese bondeltjie vel en been, genadeloos blootgelê aan die oë van die wêreld.

    Ek weet nog steeds nie hoe dit gebeur het nie, maar toe ek my weer kom kry, staan ek bo-oor hom met sy kussing in my hand, gereed om dit teen sy gesig vas te druk. Ek het geweet hy sou dalk daarteen kon stry, maar sy teenstand sou kortstondig en swak wees, en daarna sou hy swig. Alles sou verby wees. Ek kon dit nie meer uithou nie. Ek was seker daarvan dat as ek hom sou vra en hy sou antwoord, hy sou gesmeek het dat ek hom verlos en tot in die vrede van die dood inhelp.²²

    Die rede wat Brink dan aanvoer vir sy besluit om sy pa nié te versmoor nie, is veelseggend:

    As ons liefde eenvoudig en ongekompliseerd was, dink ek nou, sou ek dit waarskynlik gedoen het. Vir sy ontwil. Om dit vir hom makliker te maak. Om hom van die pyn te verlos, en ter wille van sy waardigheid. Maar as ek dit wel gedoen het, sou dit ook, ten minste in ’n sekere mate, vir myself gewees het. Omdat ek dit nie meer kon verduur nie. Daar kon selfs bitterheid ter sprake wees. Wrewel. Of skaamte. En dalk, al klink dit verregaande, wraak. Vir dit wat nie tussen ons vermag is nie. Vir dit wat, tussen vader en seun, nie gebeur het en nie gesê is nie. Die samekoms van hierdie uiteenlopende impulse het dit onmoontlik gemaak om die daad deur te voer.²³

    Dit is betekenisvol dat Brink, toe hy byna 60 jaar oud was, steeds onopgeloste gevoelens teenoor sy pa gekoester het. Die wond wat veroorsaak is deur die skeiding tussen hom en sy ma toe hy baie klein was, en sy latere onvermoë om die afstand tussen hom en sy pa te oorbrug, het ’n beduidende nasleep gehad. Brink se band met sy ma, wat al hoe sterker geword het nadat sy van haar siekte herstel het, was uiters emosioneel:

    Ons het verskeie skouspelagtige argumente in my kinderdae en jeug gehad – ek het waarskynlik meer van my ma se temperament as my pa s’n: haar impulsiwiteit en emosionaliteit ... haar humorsin, wat dikwels roekeloos was, haar geneigdheid om te oordryf en lieg, haar voorliefde vir die kunste, hetsy musiek of letterkunde of skilderkuns. Maar as ons nie aan die baklei was nie het ons eindelose, openhartige gesprekke gevoer. Selfs in my studentejare, toe ek tuis was vir die vakansie, het ek graag soggens by haar in die bed ingekruip om oor absoluut alles te gesels wat my gefassineer of geprikkel of bekommer of uitgedaag het, van Shakespeare tot seks, van politiek tot poësie, van liefde tot biblioteke.... Ek kon haar nie verduur as sy nukkerig was nie, en ek was gek na haar wanneer sy gelag het; ek het woedend geraak as sy kortaf met my pa was, en haar vergewe as sy hom weer omhels het.... Alles in ag genome, was sy die tuiste waar ek geborge gevoel het, die vuurherd waarby ek warmte kon vind, die wind wat my spinnerakke weggewaai het, die son waarin ek kon bak, die baarmoeder wat aan my die lewe geskenk het.²⁴

    In die lig van bostaande behoort dit niemand juis te verbaas dat Brink se avonture met ’n groot aantal vroue talle elemente van die bostaande beskrywing herhaal nie: argumente gevolg deur versoening, met die gevolglike beloning van eindelose gesprekke. Sy ma se emosionaliteit het hy ook nagevolg. Hy was geneig tot teenstrydige en ambivalente gevoelens, van afkeer tot aanbidding, woede tot vergifnis. Die vraag of Brink self, soos sy ma, geneig was om te oordryf en lieg, kan nie maklik beantwoord word nie – sy eksistensialistiese toewyding aan die naakte eerlikheid het sulke neigings moontlik ondermyn. Tog het kritici Brink se gehegtheid aan ’n verhewe vorm van waarheid – wat gedurende hierdie tyd veral met skrywers geassosieer was – bevraagteken: hulle het sy soeke as taamlik vertonerig beskou.²⁵ Uit sy joernale blyk dit ook dat Brink sy minnaresse se private dagboeke en briewe gelees het. Dit sluit in Ingrid Jonker se persoonlike dagboek; die briewe van sy tweede vrou, Salomi (wat hy oopgemaak en gelees het voordat hy hulle gepos het, en in een geval selfs gesensor het); die persoonlike skrywe van sy vierde vrou; en dagboekinskrywings van sy jare lange geliefde, Hermione.

    Dit is moeilik om hierdie geheime afloerdery met die goue standaard van eerlikheid te versoen, hoewel sulke gedrag moontlik toegeskryf kan word aan Brink se selferkende drang om, soos hy dit stel, ’n control freak oftewel ’n beheervraat te wees – ’n stelling wat Brink goedkeurend toeskryf aan ’n sielkundige, astroloog, [en] healer wat hy in 2002 besoek het. Brink sê alles wat dié waarsêer voorgestel het was in die kol.²⁶ Sy neiging "om altyd in beheer te moet wees was moontlik ’n onbewustelike reaksie op die vrees dat hy nie sy ma se goedkeuring, wat sy tot die uiterste weerhou het, kon verwerf nie. Hy sou in 2000–2001 sy sielkundige vertel dat sy ma hom meedoënloos gedryf het om te presteer (ek kon nooit genoeg leer nie). Dit het gelei tot ’n gepaardgaande dráng om altyd haar goedkeuring te moet kry".²⁷ In sy notas oor die psigoterapiesessies merk Brink op dat hierdie dinamiek tussen hom en sy ma tot baie wrokkigheid gelei het, en dat hy sy oordadige smagting na vroulike goedkeuring later verplaas het na sy vroue,²⁸ veral sy vierde vrou (sien hoofstuk 7).

    Hoewel Brink vervreemd van sy pa gevoel het, en ondanks sy emosionele verknogtheid aan sy onvoorspelbare, onbestendige ma, was daar in sy jeug reeds ’n sterk drang na beheer, soos wat die erotiese ondertone in Driekie se loesing aandui. Nog so ’n voorbeeld is Brink se storie oor hoe hy in sy kleintyd een van Elbie se poppe vermoor het. Hy beskryf die pop as ’n [r]egte klein bedorwe brokkie met blou oë wat oop- en toegaan en ’n tuitbekkie met ’n stupid grynslaggie.²⁹ Die pop se naam was Toetsie en Brink het haar verpes omdat sy hom nagmerries besorg het (snags het sy my in my drome gepla). Uiteindelik besluit hy om haar dood te maak, wat hy doen deur ’n ysterpen deur haar geverfde keel te kap, en haar in ’n vlak graf [te] begrawe.³⁰ In ’n

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1