Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Die Einde van verslawing
Die Einde van verslawing
Die Einde van verslawing
Ebook304 pages3 hours

Die Einde van verslawing

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Sonder om verslaafdes te verdoem verskaf Dr. Hitzertoth en Dr. Kramer praktiese en toepaslike raad. Die einde van verslawing gee advies en inligting oor verslawing. Hierdie boek belig die feit dat drank- en dwelmmisbruik nie noodwendig te doen het met swakheid nie, maar dat dit ’n komplekse interaksie is van biologiese, psigologiese en sosiale faktore. Die boek sal vir sowel verslaafdes as hul gesinne en vriende van groot waarde wees.
LanguageAfrikaans
Release dateApr 28, 2011
ISBN9780798154949
Die Einde van verslawing

Related to Die Einde van verslawing

Related ebooks

Related articles

Reviews for Die Einde van verslawing

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Die Einde van verslawing - Dr Volker Hitzeroth

    Die einde van verslawing

    Dr Volker Hitzeroth & Dr Liezl Kramer

    Human & Rousseau

    Bedankings

    Ek is ’n spesiale woord van dank aan ’n aantal mense en organisasies verskuldig sonder wie hierdie boek nie moontlik sou wees nie.

    In die eerste plek bedank ek die akademiese inrigtings waar ek die afgelope twee dekades gestudeer het, spesifiek die universiteite van Pretoria, Stellenbosch en Londen. Hierdie drie inrigtings het my akademiese loopbaan begin, oor die jare as mentors opgetree en my loopbaan gekweek. Sonder die Departement Psigiatrie aan die Universiteit Stellenbosch en die M.Sc.-program aan die Universiteit van Londen sou hierdie boek nie moontlik wees nie.

    Tweedens bedank ek my gewaardeerde kollegas in Suid-Afrika en Brittanje vir hul bystand oor die jare. Ek het veel by hulle geleer en sien uit daarna om nog meer by hulle te leer. Die voorreg om naas hulle te werk, het my reis in die medisyne, geestesgesondheid en verslawing soveel lonender gemaak.

    In die derde plek gee ek erkenning aan al die pasiënte wat my toegelaat het om deel van hul behandeling te wees. Uit akademiese teorie kon ek veel leer, maar dit is slegs in die praktyk dat ek ’n waardering kon vorm vir die komplekse aard van elke pasiënt wat my spreekkamer binnegestap het.

    My uitgewer Ansie Kamffer, jy verdien ’n spesiale dankwoord omdat jou geduldige en gereelde aanmanings my aangespoor het om die boek te voltooi.

    En ten slotte, ’n dankwoord aan my vrou, wat die belofte gehou het wat sy jare gelede gemaak het.

    Voorwoord

    Oor die afgelope jare het ek ’n behoefte gevoel om my ervaring en kennis as psigiater in die veld van dwelm- en alkoholverslawing met ander te deel. Ek wil graag hê dat my werk tot voordeel van ander kan strek.

    Die terrein van dwelms en alkohol is berug vir sy verwaarlosing as psigiatriese subspesialiteit. Redes hiervoor is onder meer dat dit dikwels onvoldoende gefinansier word en erg gestigmatiseer word deur die algemene publiek. Die uiteinde is dat nie veel bekend is oor die sielkundige uitwerking van dwelms en alkohol en die gepaardgaande verslawing nie. Die beskikbaarstelling van hierdie kennis sal hopelik praktiese bystand bied aan diegene wat dwelms en alkohol misbruik, sowel as aan hul naasbestaandes en die professionele gesondheidswerkers wat in die veld werk. Ek hoop dat hierdie inligting mense wat deur verslawing geraak word, sal bemagtig om hul weg tot herstel te vind.

    Dwelm- en alkoholverwante probleme is sedert die begin van die mensdom, toe die eerste mense geesteswysigende middels begin inneem het, deel van ons bestaan en sal seker nog lank met ons wees. Navorsing wys dat dergelike probleme meer algemeen in sekere dele van die wêreld voorkom en in ’n erger graad, en dat jonger mense toenemend daardeur geraak word. In die lig van voortdurende veranderings in die samelewing en dwelmgebruikspatrone, en ons mediese insig in dwelms en alkohol wat ook voortdurend verander, is dit waarskynlik dat die aard van verslawing mettertyd sal verander en ook weer beskryf sal word.

    Hoewel navorsing (ook genoem die mediese getuienisbasis) geweldig gegroei het, heers veel onsekerheid nog in die veld. Dit is dié gebrek aan sekerheid en helderheid wat dikwels lei tot alternatiewe en onveilige behandeling. Daarom beklemtoon ek graag algemeen aanvaarde beginsels van behandeling. Hoewel ’n onlangse en omstrede subspesialiteit soos verslawing verskillende benaderings en opinies in die hand werk, is dit noodsaaklik dat ’n mens binne die fokus van veilige en doeltreffende mediese praktyk bly.

    In ’n poging om hierdie boek so toeganklik moontlik te maak, gee ek ’n hoofstroom-oorsig van die vak in ’n hopelik leesbare styl. Dienooreenkomstig sal ek nie op die jongste navorsing en wetenskaplike omstredenheid fokus nie, aangesien laasgenoemde nog min invloed sal hê op die huidige kliniese omstandighede in huise en kantore. Ek probeer ook om die leser bewus te maak van die verskille tussen geldige opvattings, benaderings en mites.

    Inligtingsbronne

    Die inhoud van hierdie boek berus nie op persoonlike navorsing of primêre wetenskaplike materiaal nie, maar is uit ’n verskeidenheid sekondêre bronne saamgestel. ’n Bronnelys word aan die einde van die boek verskaf. Enigeen met ’n dieper belangstelling in dwelms, alkohol en verslawing en die behandeling daarvan kan hierdie bronne gerus self raadpleeg.

    Terminologie

    Hoewel ek ’n verskeidenheid terme gebruik wat soms lyk of dit slegs die manlike geslag weerspieël, moet daar nie hieruit afgelei word dat betrokkenheid by dwelm- en alkoholverslawing hoofsaaklik die sfeer van mans is nie. Waar ek slegs die manlike term gebruik, moet die vroulike geslag as daarby inbegrepe verstaan word. Ter wille van eenvoud en toeganklikheid word die terme dwelm, alkohol middel, gebruiker, verslaafde en afhanklike soms omruilbaar gebruik. Daar moet uitgewys word dat in die streng wetenskaplike literatuur hierdie terme streng verskillende betekenisse het. So word die term verslaafde in hierdie boek soms ter wille van bondige verwysing gebruik en is dit nie bedoel as ’n gelaaide waardeoordeel nie.

    Nie-diskriminerend

    Dwelm- en alkohol-afhanklikheid tref geen onderskeid nie. Probleme kom voor in goeie en slegte gesinne, by gelukkig getroude pare, rykes én armes, enkelouers, die jonges en die oues, en by mans sowel as by vroue. In ’n neutedop: Dit kan jou of my, jou gesin of my gesin ook tref. Verder is dwelms en alkohol nie jou of my probleem nie, dis ons probleem. Afsonderlik sal ons maar ’n klein impak maak, maar saam kan ons ’n groot verskil maak. Die eerste stap is om so ingelig moontlik te word.

    HOOFSTUK 1

    Klassifikasie van dwelms wat misbruik word

    Dwelmgebruikers, hul familielede en die groot publiek is oor die algemeen nie goed ingelig oor die verskillende soorte dwelms wat misbruik word nie. Hulle vind die paadjie deur die dwelmdoolhof maar moeilik. Die meeste mense vorm ’n mening op grond van emosionele en sensasionele brokkies inligting wat angswekkend lyk, maar waarskynlik eerder wolhaarstories is as wetenskaplike bewyslewering. Sulke brokkies inligting gaan gewoonlik oor die gevaar wat dwelms inhou, die verslawingspotensiaal en problematiese gedragspatrone, sosiale optredes en interaksies wat die gevolg van dwelmmisbruik is. Dikwels ontbreek ’n samehangende insig in die verskillende dwelms wat misbruik word en die werking daarvan.

    Dit is belangrik dat enigiemand wat betrokke is by alkohol- of dwelmverslaafdes in ’n persoonlike hoedanigheid, ’n gesinsverwantskap of binne ’n professionele terapeutiese opset die verskille tussen die soorte dwelms en die onderskeie uitwerkings daarvan verstaan. Dit is lewensbelangrik om ’n oorsig te kry en ingelig te word. As jy of ’n vriend of ’n gesinslid aan ’n fisieke siekte soos diabetes, hoë bloeddruk, kanker of epilepsie sou gely het, sou jy soveel moontlik oor die toestand wou uitgevind het. Dieselfde geld vir dwelm- en alkoholverwante probleme. Die eerste stap om meer ingelig te raak, is om eers ’n oorsigtelike begrip te kry. As ’n mens eers ’n begrip in die breë het, is dit makliker om ’n weg om die probleem te vind. Die meeste mense is dan in staat tot die volgende stap.

    Hier volg nou ’n maklik verstaanbare indeling van dwelms en alkohol waarby die meeste dwelms wat misbruik word, ingesluit word. Onthou, dis slegs ’n vertrekpunt om dwelmgebruik en die daaropvolgende behandeling te verstaan.

    Die groot aantal dwelmmiddels, hul onderskeie chemiese samestellings en verskillende uitwerkings en die tallose kliniese nagevolge skep groot verwarring. ’n Indeling van dwelmmisbruik is derhalwe geweldig moeilik.

    ’n Eenvoudige riglyn vir die indeling van dwelms sou die wettige status al dan nie van die dwelm kan wees. Sommige middels is wettig met onbeperkte toegang (byvoorbeeld kafeïen), terwyl ander wettig is met beperkings op die beskikbaarheid daarvan (byvoorbeeld, alkohol en nikotien is albei wettig, maar nie beskikbaar vir kinders onder die ouderdom van 18 jaar nie, of bepaalde soorte medisyne wat slegs beskikbaar is met ’n voorskrif van ’n professionele gesondheidsorgwerker). In die laaste instansie is ’n klomp ander middels uitdruklik onwettig (byvoorbeeld kokaïen, heroïen en amfetamien). So ’n indeling kan oorsigtelike duidelikheid verskaf, maar is nie noodwendig akkuraat nie. Die wettigheid van bepaalde middels verskil van land tot land. ’n Voorbeeld is dagga, wat in sommige lande goedgekeur word, terwyl dit in ander lande verbode is. Dieselfde situasie geld vir alkohol, wat in die algemeen in Westerse lande vryelik aan volwassenes verkoop word, maar in Midde-Oosterse lande beperk word. In baie lande is kodeïen en ander soorte medisyne geredelik by apteke beskikbaar, terwyl die besit in ander lande tot inhegtenisneming kan lei omdat dit hoogs geskeduleer is en streng beheer word.

    ’n Tweede metode waarvolgens middels wat misbruik word, ingedeel kan word, is dat die chemiese samestelling van die middel as primêre bepaler gebruik word. Vir farmakoloë is dit ’n bruikbare stelsel, maar vir ander mense kan dit omslagtig en onprakties wees. Vir diegene sonder ’n agtergrond in chemie is chemiese teorieë soms moeilik om te verstaan en ingewikkeld om toe te pas. Is dit werklik belangrik dat ecstasy geklassifiseer word as 3.4-metielleniendioksie-N-metielamfetamien (MDMA)? En wie stel daarin belang om te weet dis verwant aan 1-(3.4 metiellenien-dioksifeniel)-2-aminopropaan (MDA)? Albei hierdie middels val in ’n heel ander chemiese kategorie as heroïen (’n opioïed-agonis) en delta-9-tetrahidrokannabinol (dagga). Sulke chemiese name en klassifikasies is verwarrend as jy nie ’n apteker of ’n dokter is nie.

    ’n Derde wyse van indeling is volgens die roete van inname, naamlik deur die mond (oraal), inspuiting (binneaars), deur die neus (snuif) of deur dit te rook of in te asem. Ook dít blyk ’n onbevredigende stelsel van indeling te wees. Alkohol word meestal oraal ingeneem (deur dit te drink), terwyl sommige ander dwelms op ’n verskeidenheid wyses ingeneem kan word. Hoewel heroïen óf ingespuit óf gerook óf ingeasem kan word, gebeur dit nie op dieselfde wyse as waarop sigarette gerook word nie. Heroïen word op ’n spesifieke manier verhit en dan ingeasem. Omdat die rookkrulle vermoedelik soos ’n draak se stert lyk, word dit chasing the dragon genoem. Kokaïen en amfetamien kan ingespuit, gerook óf gesnuif word. Verskeie soorte voorgeskrewe medisyne kan oraal (in tabletvorm of as kapsules) geneem word, maar dit kan ook fyngedruk en dan gesnuif of ingespuit word.

    Ná jare lange mediese studie, spesialisering in psigiatrie, en daaropvolgende werksaamheid in die verslawingsveld, het ek ’n indelingstelsel ontwikkel wat ek prakties en maklik begryplik vind. Ek gebruik hierdie stelsel om gebruikers, hul gesinne en mediese studente oor misbruik te onderrig. Die indelingstelsel is afgelei van die terme wat middelgebruikers self gebruik. Hierdie terme is stimulante (uppers), depressante (downers) en psigedelia (psychedelics). Dié drie terme verskaf ’n eenvoudige benadering tot die indeling van dwelms. Alle middels wat hulle tot misbruik leen, kan hiervolgens in vyf breë groepe geklassifiseer word, naamlik:

    Stimulante

    Depressante

    Psigedelia,

    Ander dwelms wat misbruik word, maar wat nie netjies in een van die bogenoemde kategorieë inpas nie.

    Dwelms wat kategorieë oorvleuel.

    Ek het ander publikasies raakgeloop wat ’n soortgelyke indelingstelsel gebruik. Die bogenoemde stelsel is dus ’n hibried van my eie idees en ander, algemeen aanvaarde kategorieë oor dwelmmisbruik. Party akademici kan redeneer dat heelparty dwelms wat misbruik word in alternatiewe kategorieë geplaas moet word. Hul redes is velerlei, maar is meestal gegrond op die chemiese samestelling of die kliniese uitwerking van ’n middel. Hulle is nie noodwendig verkeerd nie. Uiteenlopende opinies wys hoe moeilik dit is om ’n komplekse situasie op ’n eenvoudige manier te verduidelik. Dit is daarom dat ek die vyfde kategorie – middels wat met die eerste drie kategorieë oorvleuel – ingevoeg het. Die vyfde groep dwelmmiddels kan in meer as een kategorie ingedeel word omdat hul chemiese samestelling en kliniese uitwerking verskil.

    Stimulante (uppers)

    Die meeste stimulante van die sentrale senustelsel beïnvloed ’n chemiese stof, dopamien, in die brein.

    Klassieke stimulante

    Die klassieke stimulante sluit amfetamien en kokaïen in. Voorbeelde van algemene name waarmee na amfetamien verwys word, sluit in metamfetamien, crystalmeth, speed, tik of ice. Algemene name waarmee na kokaïen verwys word, sluit in coke, crack, candy, rock, snow en flake. Die rookbare vorm van amfetamien (tik, ice) en kokaïen (crack) is hoogs gekonsentreerd en verfyn en daarom so erg verslawend.

    Ander stimulante

    Ander stimulante sluit in cathinone (khat, cat), ecstasy (XTC, E, adam, X, MDMA), PMA (Doctor Death), kafeïen (koffie), nikotien (tabak) en party soorte medisyne wat slegs met ’n doktersvoorskrif by apteke beskikbaar is. Sodanige medisyne sluit in produkte wat efedrien, pseudo-efedrien en metielfenidaat (Ritalin) bevat. Medisyne wat oor die toonbank gekoop kan word, sluit in eetlusdempers, verkoue- en teengriepmiddels.

    Depressante (downers)

    Die meeste depressante van die sentrale senuweestelsel het ’n uitwerking op ’n chemiese stof, GABA, of die opio-ïedsisteem, in die brein.

    Klassieke depressante

    Klassieke senustelseldepressante sluit in alkohol (etanol), opiate (heroïen) en opioïede (sintetiese voorskrifmedisyne). Algemene name vir heroïen sluit in smack, brown sugar, Thai white, horse of H. Ander depressante van die sentrale senuweestelsel sluit in kalmeermiddels en hipnotiese middels, soos die bensodiasepiengroep en ’n ouer medisynegroep bekend as die barbiturate.

    Ander depressante

    Ander depressantmiddels sluit in GHB (gamma-hidroksibutiraat of liquid ecstasy), Zopiclone en Zolpidem, wat algemeen as slaapmiddels voorgeskryf word, en metakaloon (Mandrax, star, flowers, boggel, Mandies, ludes, Q, vitamien Q, Quaalude). Ander middels in hierdie groep sluit in meprobamaat en chloorhidraat.

    OPIATE EN OPIOÏEDE

    Opiaat en opioïed is van die woord opium afgelei, wat verwys na ’n papawerplant, ook bekend as Papaver somniferum. Opiate is middels wat berei of gesintetiseer word uit die natuurlike opiumsamestelling en die onderskeie chemiese komponente daarvan. Voorbeelde is onder meer heroïen, morfien en kodeïen. Roetine-dwelmtoetse spoor gewoonlik die teenwoordigheid van opiate op. Opioïede sluit al die middels in wat aan een of meer van die opioïedreseptore in die brein bind. Dit is soortgelyk aan opiate, maar nie noodwendig regstreeks of onregstreeks uit die natuurlike papawerplant berei nie. Dit is dus sintetiese middels met opiaatagtige eienskappe. Voorbeelde is petidien en metadoon. Roetine-dwelmtoetse vir opioïede word gewoonlik op versoek gedoen. Die term opioïede sluit dus die opiate in. Die twee terme word dikwels soos sinonieme gebruik.

    Hallusinogene / psigedelia

    Die meeste hallusinogene beïnvloed ’n chemiese stof in die brein wat as serotonien bekend is. Dit kan ook die cholinergiese en kannabinoïede breinstelsels beïnvloed.

    Klassieke hallusinogene

    Die klassieke hallusinogene verwys na LSD (lisergiensuurdiëtielamied, candy, blotter, microdots of acid), MDA (Eve, love drug), meskalien (meskalkaktus) en psilosibien (magic mushrooms).

    Ander hallusinogene

    Ander middels wat as hallusinogene geklassifiseer kan word, sluit in PCP (fensiklidien, angel dust), ketamien (Special K, K of Kitcat) en cannabis (weed, dagga, dope, hasjisj, grass, Durban poison, Malawi cob, skunk of marijuana).

    Ander middels wat misbruik word

    Hierdie is dwelms wat nie netjies in enige van die bogenoemde drie kategorieë pas nie.

    Anaboliese steroïede

    Dit word gebruik om die prestasie en spiermassa van atlete en spierbouers te verhoog. Dit word dikwels juice of roids genoem.

    Middels wat ingeasem word

    Hierdie middels word gevind in gom, naellakverwyderaars, reukweerders, lugverfrissers, verf, sigaretaanstekervloeistof, verfverwyderaars, haarspuit- en skoonmaakmiddels. In hierdie groep is daar vyf chemiese klasse. Dit is alifatiese hidrokoolstof (insluitende petrol, bensien en terpentyn), eenvoudige verstikkende middels (butaan en propaan), aromatiese hidrokoolstofsoorte (tolueen, benseen en xileen), gechlorineerde hidrokoolstofsoorte (dichloroëtileen, trichloroëtaan en chloroform) en nitrosegas (laggas).

    Vlugtige nitriete

    Dit staan in die algemeen bekend as poppers en sluit in amiel, butiel en isobutielnitraat.

    Ek sê vroeër in hierdie hoofstuk dat ek die indelingstelsel so eenvoudig moontlik probeer hou. Maar, soos ek sê, party soorte dwelms word nie so maklik ingedeel nie. Hulle neig daartoe om die opgelegde grens van indeling te oorskry en kan dus in meer as een kategorie ingedeel word. Hierdie middels is die vyfde groep.

    Dwelms wat kategorieë oorvleuel

    Ecstasy, MDA en meskalien

    Kan as stimulante of hallusinogene beskou word. Dit het ’n uitwerking op sowel dopamien as serotonien.

    Cannabis en PCP

    Word in my indelingstelsel as hallusinogene aangedui, maar kan ook stimulant- of depressant-effekte hê.

    Middels wat ingeasem word

    Kan ook ’n depressant-uitwerking hê.

    Let asseblief daarop dat ek in die kategorieë hierbo afsonderlik aan elke dwelmmiddel aandag gee. Dit is ongelukkig tog so dat die meeste mense wat dwelms en alkohol misbruik, dikwels meer as een dwelm op ’n keer gebruik. Stimulante kan as opkikker gebruik word, terwyl depressante daarna gebruik sal word om af te koel. ’n Aantal depressante word soms saam gebruik, byvoorbeeld alkohol en bensodiasepienmiddels word saam gebruik om ’n verhoogde uitwerking te kry met moontlik lewensgevaarlike gevolge. Hallusinogene kan ’n slegte trip veroorsaak, met as resultaat die gebruik van depressante om te herstel. Ander algemene kombinasies sluit in alkohol en kokaïen, kokaïen saam met dagga, en kokaïen en heroïen saam. Afhangende van die plaaslike dwelmkultuur kom verskillende kombinasies dikwels voor. Verskeie verdunningsmiddels kan ook by ’n dwelm gevoeg word om volume te verkry. Daar is ’n verskeidenheid verdunningsmiddels, wat suiker, verskeie soorte medisyne, ander dwelmmiddels, kinien en strignien kan insluit. Tot waspoeier en rottegif word blykbaar soms hiervoor aangewend. Veelvuldige dwelmmisbruik, veral as

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1