Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Suid-Afrikaanse kookboek vir diabetes
Suid-Afrikaanse kookboek vir diabetes
Suid-Afrikaanse kookboek vir diabetes
Ebook443 pages3 hours

Suid-Afrikaanse kookboek vir diabetes

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Statistieke bewys dat diabetes skrikwekkend toeneem onder Suid-Afrikaners. Al hoe meer mense – ook kinders – se lewe en eetgewoontes word deur die siekte geraak. Hierdie kookboek sal jou help om jou diabetes en insulienweerstandigheid onder beheer te kry en bevat meer as 100 smaaklike en gesonde resepte, resepte met maklik verkrygbare, bekostigbare bestanddele, belangrike inligting oor tipe 1- en tipe 2-diabetes, swangerskap-diabetes, ingekorte glukosetoleransie en die glukemiese indeks (GI), ’n voedingstofanalise by elke resep, wenke vir spyskaartbeplanning en inkopielyste en pragtige foto’s van die geregte. Hilda Lategan het die beste resepte uit haar twee topverkoper-boeke in die 'Suid-Afrikaanse kookboek vir diabetes en insulienweerstandigheid' -reeks gekies, sodat jy en jou gesin elke dag heerlik en gesond kan eet. Die resepte is watertandlekker en strek van ontbyt, sop, styselgeregte, ligte en hoofmaaltye tot gebak en iets vir jou suikertand.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateSep 17, 2015
ISBN9780624071846
Suid-Afrikaanse kookboek vir diabetes
Author

Hilda Lategan

Hilda Lategan is ’n geregistreerde Suid-Afrikaanse dieetkundige met ’n gevestigde private praktyk in Pretoria. Sy het die graad B.Sc. Dieetkunde aan die Universiteit van Pretoria behaal, waarna sy ’n Nagraadse Diploma in Hospitaaldieetkunde aan die Universiteit van die Vrystaat voltooi het. Sedert 1975 werk sy in verskeie vertakkings van die beroep, waaronder as hospitaaldieetkundige, wat haar waardevolle ervaring in terapeutiese voeding, voedseldiensbestuur en resepontwikkeling besorg het. Hilda glo die lewe is veel meer as bloot “bestaan” en “oorleef” en dat lekker eet saam met geliefdes ’n groot deel hiervan uitmaak. Met die gejaagdheid van die moderne lewe is daar egter ’n toename in leefstylsiektes, wat nie net oorgewig, diabetes, hoë bloeddruk en kardiovaskulêre siektes insluit nie, maar ook voedselsensitiwiteit en siektes van die spysverteringskanaal soos prikkelbare dermsindroom en gastritis, om maar ’n paar te noem. Hierdie toestande – net soos voedselallergieë – kan slegs bestuur word deur ’n gebalanseerde leefwyse en verstandige eetgewoontes, wat die uitsluiting van sekere voedselsoorte kan beteken. Uit jare se ondervinding weet Hilda mense soek altyd resepte wat – ondanks die beperkinge wat die dieet stel – maklik is om te berei, en ook smaaklik, bekostigbaar en gesond is. Verder moet die bestanddele vryelik beskikbaar wees. Om aan hierdie behoefte te voorsien is haar groot inspirasie.

Read more from Hilda Lategan

Related to Suid-Afrikaanse kookboek vir diabetes

Related ebooks

Related articles

Reviews for Suid-Afrikaanse kookboek vir diabetes

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Suid-Afrikaanse kookboek vir diabetes - Hilda Lategan

    VOORWOORD

    Die diagnose van enige siektetoestand kan baie beklemmend wees, veral as daar in die proses ook aan jou eetgewoontes gekarring word! Om lekker te kan eet is ’n natuurlike behoefte en vir baie van ons deel van ’n daaglikse roetine.

    Wanneer jy jou leefwyse moet verander en ook jou eetgewoontes aanpas ter wille van beter gesondheid en lewensgehalte, kan jy moedeloos raak as jy nie die kennis en vaardigheid het om sulke maaltye te berei nie, veral as jy nog altyd die idee gehad het dat gesonder kos vaal en smaakloos is.

    Op versoek van Tafelberg-Uitgewers het ek die beste resepte uit my vorige twee kookboeke, Suid-Afrikaanse kookboek vir diabetes en insulienweerstandigheid Deel 1 en 2, geneem en nuwe inligting asook staatmakerresepte bygewerk. Die doel van die resepte in hierdie kookboek is om kos vir die hele gesin te berei wat nie net ’n laer glukemiese indeks (GI), minder vet en minder kilojoules het nie, maar ook gesond en maklik is om te maak.

    Ondanks die titel van die boek is die geregte ook veilig en geskik vir die beheer van verhoogde bloedvette soos cholesterol en trigliseriede, verhoogde bloeddruk, jig, lae bloedsuiker, hardlywigheid en gesonde verslanking.

    Danksy my daaglikse konsultasies met pasiënte is ek baie bewus van die neiging onder Suid-Afrikaners om vetterige wegneem- en gemorskos te eet as gevolg van hul beperkte tyd om maaltye te berei. Daarom is die meeste resepte in hierdie kookboek bedoel vir maklike en voedsame maaltye en versnaperings – vir tussen maaltye en laataand – wat met oorwegend bekende, beskikbare en bekostigbare bestanddele berei kan word.

    Hierdie boek vervang nie ’n besoek aan ’n dieetkundige nie. Met ’n maaltydplan wat volgens jou persoonlike en unieke behoeftes uitgewerk is, kan jy die resepte en inligting in die boek soveel beter benut om jou bloedsuiker te beheer.

    Dit is my wens dat die boek jou sal help om smaaklike en voedsame maaltye te geniet wat jou bloedsuiker- en bloedvetvlakke beheer en goeie gesondheid en ’n kwaliteitlewe bevorder.

    Lekker eet!

    Hilda Lategan RD (SA)

    INLEIDING

    Daar word geraam dat 366 miljoen mense wêreldwyd diabetes het, en volgens die Internasionale Diabetesvereniging (IDF) sal sowat 552 miljoen mense teen 2030 aan die siekte ly. Hierdie syfers is heelwat hoër as vorige skattings.

    In Suid-Afrika word gereken dat daar tans reeds 3,5 miljoen mense (sowat ses persent van die bevolking) met diabetes gediagnoseer is. ’n Verdere vyf miljoen Suid-Afrikaners is na raming prediabeties vanweë insulienweerstandigheid, ’n toestand wat bydra tot verhoogde bloedglukose, hoewel hierdie bloedglukosewaardes nie hoog genoeg is dat die persoon met tipe 2-diabetes gediagnoseer kan word nie. Dit neem gemiddeld sewe jaar voordat iemand met diabetes gediagnoseer word, en teen dié tyd het daar dikwels reeds komplikasies weens die siektetoestand ingetree. Die meerderheid van lyers het tipe 2-diabetes.

    Ondanks hierdie skrikwekkende syfers is daar die bemoedigende boodskap dat diabetes nie ’n geïsoleerde, onbekende siekte is wat net vir jou of jou naasbestaandes tref nie, en dat daar mediese navorsing, voedingkundige inligting en medikasie is wat kan help met die beheer van die siektetoestand.

    Die vroeë diagnosering van diabetes tesame met die pro-aktiewe behandeling daarvan is belangrik om komplikasies op lang termyn te voorkom en ’n beter lewensgehalte en lewensverwagting te verseker. ’n Persoon met diabetes wie se toestand beheer word, is nie siek nie en hy of sy kan ’n gesonde, aktiewe en gelukkige lewe sonder komplikasies lei. Soos enige ander mens behoort ’n persoon met diabetes ’n gesonde leefstyl na te streef en hy of sy moet gereeld oefen, gebalanseerd eet, matig alkohol gebruik en genoeg rus en ontspan.

    Waarom ontstaan diabetes?

    Insulien is die hormoon wat glukose in die liggaamselle opneem en help om dit in energie om te sit. Insulien is ook betrokke by die omskakeling en die berging van onbenutte glukose en energie in die vorm van liggaamsvet.

    Diabetes is die toestand waar die liggaam nie die bloedglukosevlakke doeltreffend kan beheer nie omdat die pankreas (die klier wat insulien vervaardig) te min of geen insulien produseer nie. Dit gebeur ook dat die pankreas wel insulien produseer, maar dat dit nie doeltreffend gebruik word nie, in gevalle wat later onder tipe 2-diabetes bespreek sal word.

    Wanneer te min of geen insulien teenwoordig is, kan die glukose nie behoorlik in die sel opgeneem word nie. Die bloedglukose styg en die bloed word gevolglik dik en stroperig, terwyl van die oortollige glukose ook in die urien uitgeskei word. ’n Hoë bloedglukosevlak is gevaarlik en kan ernstige komplikasies inhou as dit nie behandel word nie.

    Wat is die simptome van diabetes?

    Die simptome van ’n onbeheerde hoë bloedglukosekonsentrasie sluit in:

    1.Oorweldigende dors, omdat die liggaam die glukose in die bloed probeer verdun sodat dit deur die niere uitgeskei kan word. Hierdie proses lei tot die oormatige uitskeiding van urien en kan uiteindelik dehidrasie en die verlies van elektroliete tot gevolg hê.

    2.Moegheid en swakheid, omdat te min glukose die selle bereik waar energie geproduseer word.

    3.Lyfseer en griepsimptome as gevolg van metaboliese wanfunksie en inflammasie.

    4.Versteurde sig, omdat die veranderings in die bloedglukosevlakke die druk in die oogbal verhoog, terwyl die posisie en vorm van die lens in die oogbal ook verander.

    5.Naalde-en-spelde-sensasie in die voete en hande weens die aantasting van die senuwee-eindpunte.

    6.Knaende honger, die behoefte om aanhoudend te peusel en gewigsverlies, omdat die glukose nie doeltreffend in die liggaamselle opgeneem en in energie omgeskakel word nie. Die liggaam breek dan van sy eie vet en proteïene (spiere) af om in sy behoefte vir energie te voorsien.

    7.’n Jeukerige vel, infeksie en vertraagde wondgenesing weens die gunstige teelaarde wat deur die teenwoordigheid van suiker geskep word vir bakterieë en ander organismes.

    8.Koma – verlies van bewussyn, ’n gevaarlike toestand.

    ’n Ongesond hoë bloedglukosekonsentrasie en diabetes mellitus word gediagnoseer op ’n kapillêre bloedglukosekonsentrasie van 7,1 mmol/liter (vastend) of 11,1 mmol/liter (twee uur ná ’n maaltyd of lukraak) en met ’n HbA1c van hoër as 6,5%. Die HbA1c is ’n merker van hoe doeltreffend jou bloedglukose die voorafgaande drie maande beheer is.

    Die bloedglukosekonsentrasie kan ook te laag daal (laer as 3,5 mmol/liter) indien te veel insulien gespuit word of medikasie nie volgens voorskrif gebruik word nie, as die voorgeskrewe maaltydplan nie gevolg word nie, maaltye oorgeslaan word, onbeplande fisieke aktiwiteit meer energie vereis as waarvoor in die maaltydplan voorsiening gemaak is, of alkohol gedrink word sonder ’n versnapering of maaltyd daarna. Die simptome van ’n lae bloedglukosekonsentrasie of hipoglukemie sluit in:

    •Honger, moegheid

    •Bewerigheid, duiseligheid, bleekheid, hartkloppings

    •Versteurde sig, afname in konsentrasie, kloppende hoofpyn

    •Naarheid, sweterigheid

    •Gemoedskommelinge (geïrriteerdheid, verwardheid, aggressie)

    •Koma

    Verskillende soorte diabetes

    Die volgende word onderskei:

    •Tipe 1-diabetes

    •Tipe 2-diabetes

    •Swangerskap-diabetes

    •Ingekorte glukosetoleransie

    Tipe 1-diabetes

    Tipe 1-diabetes kom minder algemeen as tipe 2-diabetes voor. Tipe 1-diabetes ontstaan as gevolg van ’n absolute tekort aan insulien weens skade aan die eilandjies van Langerhans in die pankreas waar insulien geproduseer word. Hierdie toestand is onomkeerbaar en tipe 1-diabete is baiekeer nie oorgewig nie. Insulieninspuitings, saam met ’n gebalanseerde dieet, is ’n belangrike deel van die behandeling. Ongekontroleerde hoë bloedglukose kan op lang termyn bydra tot skade aan die bloedvate, met die gevolglike voorkoms van hartvatsiektes, nierskade, nierversaking, diabetiese retinopatie (oogskade), neuropatie (aantasting van die senuwee-eindpunte) en amputasie van die laer ledemate weens swak bloedtoevoer en gangreen. By kinders met swak gekontroleerde tipe 1-diabetes kom ketoasidose (’n toestand wat die gevolg is van energieproduksie uit vet pleks van glukose), groeivertraging en vertraagde puberteit ook voor.

    Tipe 2-diabetes

    Tipe 2-diabetes is die algemeenste vorm van diabetes en daar is ’n genetiese verband, wat beteken dat die siektetoestand in families voorkom.

    Die simptome en diagnose van tipe 2-diabetes word dikwels vir tot sewe jaar misgekyk hoewel die wanfunksionering van die betaselle reeds teenwoordig is. Lank voordat ’n persoon dus daarvan bewus is, kan chroniese verhoogde bloedglukose reeds bydra tot skade aan die bloedvate, met die gevolglike voorkoms van hartvatsiektes, beroerte, nierskade, nierversaking, diabetiese retinopatie (oogskade), neuropatie (aantasting van die senuwee-eindpunte) en amputasie van die laer ledemate weens swak bloedtoevoer en gangreen in later jare.

    Tipe 2-diabetes hou dikwels verband met vetsug en ’n onaktiewe leefstyl, hoewel eersgenoemde nie altyd by ouer pasiënte teenwoordig is nie. Die ontstaan van tipe 2-diabetes is dikwels die metaboliese gevolg van te veel vet in die buik, spierweefsel en lewer. Hierdie vervetting, in kombinasie met hoë bloedglukose, dra by tot betaselwanfunksie, verhoogde bloeddruk, ’n tipiese bloedvetprofiel (lae HDL, verhoogde trigliseriedvlakke, verhoogde LDL) en insulienweerstandigheid. HDL, oftewel hoëdigtheidslipoproteïen, is die goeie cholesteroldraer en help met die skoonmaak van die are. LDL, die laedigtheidslipoproteïen, is die slegte cholesteroldraer wat die aarwande laat aanpak.

    Met insulienweerstandigheid word die insulienproduserende betaselle van die pankreas oorgestimuleer om te veel insulien af te skei in ’n poging om die bloedglukose binne normale perke te kry. Ten spyte van die verhoogde sirkulerende insulien kom dit voor asof die liggaamselle ’n weerstand ontwikkel teen die normale werking van insulien.

    Emosionele en fisieke stres kan ook ’n bydraende faktor van tipe 2-diabetes wees. Die liggaam word aan verhoogde fisieke stres blootgestel wanneer lang werkure tot erge uitputting lei. Indien maaltye in hierdie tyd oorgeslaan word, kan dit bydra tot die weerhouding van voedingstowwe vir die instandhouding van die liggaamsweefsel en moontlik ook inflammasie veroorsaak.

    Verslanking, ’n gesonde leefwyse, gesonde eetgewoontes en gereelde oefening word as belangrike aspekte van die behandeling van tipe 2-diabetes beskou. Medikasie word dikwels bygevoeg ooreenkomstig die persoon se bloedwaardes. Na gelang van die aard van die betaselwanfunksie begin mense met tipe 2-diabetes deesdae baie vroeër met insulienterapie om agteruitgang op lang termyn weens die toestand te vertraag.

    Waar tipe 2-diabetes vroeër as die siekte van ouer mense beskou is, word die toestand toenemend by kinders waargeneem en word aanbeveel dat sulke kinders na ’n spesialis verwys word.

    Swangerskap-diabetes

    Swangerskap-diabetes ontstaan as gevolg van hormoonveranderings tydens swangerskap. Hoewel die toestand ná die baba se geboorte gewoonlik spontaan verbeter, bestaan die moontlikheid dat vroue met swangerskap-diabetes mettertyd tipe 2-diabetes sal ontwikkel. Dit is belangrik om bloedglukose tydens swangerskap te beheer met ’n gebalanseerde maaltydplan en ook ná die baba se geboorte steeds gesonde eetgewoontes te handhaaf.

    Ingekorte glukosetoleransie of prediabetes

    Mense met ’n ingekorte glukosetoleransie het verhoogde bloedglukosewaardes, maar nie sodanig dat dit as diabetes gediagnoseer kan word nie. Hierdie siektetoestand staan ook as prediabetes bekend. Die behandeling van die toestand sluit in gesonde eetgewoontes, gereelde oefening en langtermyn-gewigsbeheer. Ingekorte glukosetoleransie kan verbeter, konstant bly, of in tipe 2-diabetes ontwikkel.

    Sensitiwiteit vir suiker

    Tydens konsultasies kom ek dikwels mense met allergieë teë by wie suiker of sukrose en verfynde koolhidrate ongemak veroorsaak. Hierdie ongemak kan wissel van skielike moegheid, hoofpyn, migraine, buikongemak, buikopsetting en winderigheid tot los stoelgange.

    In die geval van ware sukrose-intoleransie is daar ’n tekort aan die ensiem sukrase, wat sukrose in glukose en fruktose moet afbreek. Die simptome van hierdie siektetoestand is onder meer diarree en opgeblaasdheid, wat veroorsaak word deur gisting en gasproduksie in die maagdermkanaal. Hierdie sensitiwiteit vir suiker hou nie verband met diabetes nie, maar lyers vind wel baat by ’n suikervrye dieet.

    Wat word beskou as goed gekontroleerde diabetes?

    Soos voorheen genoem, kan bloedglukosevlakke wat oor ’n lang tydperk skommel of hoog bly, die vate beskadig wat bloed aan die hart, niere, oë en senuwee-eindpunte voorsien.

    Hoewel die vastende bloedglukosewaardes belangrik is, word toenemend gekyk na die bloedglukosewaardes twee uur ná ’n maaltyd.

    SEMDSA gee in hul 2012-riglyne die volgende ideale vingerprikwaardes vir bloedglukose:

    ’n Gedeelte van die rooibloedsel bekend as hemoglobien word beïnvloed deur die hoeveelheid glukose wat in die bloedstroom teenwoordig is. Dit is raadsaam om gereeld die HbA1c-toets te laat doen. Soos reeds genoem, is die HbA1c ’n merker wat aandui hoe doeltreffend jou bloedglukosebeheer die voorafgaande drie maande was. Dit behoort elke ses maande herhaal te word. Dit is die ideaal om die HbA1c so laag moontlik te hou sonder om hipoglukemie te veroorsaak.

    SEMDSA* gee die volgende riglyne vir HbA1c-waardes:

    Goue reëls vir die beheer van diabetes

    •Berus daarin dat diabetes by jou gediagnoseer is.

    •Verstaan wat diabetes is en wat die behandeling daarvan behels.

    •Gebruik jou medikasie soos voorgeskryf en gesels met die lede van jou diabetiese versorgingspan as jy onseker voel.

    •Verstaan en ken die beginsels van goeie voeding en pas dit elke dag toe.

    •Hou jou bloedglukose in bedwang deur:

    –’n gebalanseerde dieet volgens jou behoeftes te volg, of

    –’n gebalanseerde dieet te volg, insulieninspuitings en/of diabetiese pille te gebruik soos voorgeskryf, en

    –tesame met jou behandeling ook gereeld oefening te doen.

    •Hou noukeurig rekord van jou bloedglukoselesings, veral indien dit baie wissel.

    •Wees eerlik as jy oortree met die verkeerde eetgoed en nie die medikasie korrek gebruik nie.

    •Hou jou liggaamsgewig binne 10% van die ideale gewig vir jou lengte of handhaaf ’n liggaamsmassa-indeks (LMI) – ’n aanduiding van gesonde gewig – van onder 25 kg/m2.

    •Versorg jou voete gereeld. Meld dadelik indien seertjies of skaafplekke nie wil genees nie en laat ’n verantwoordelike persoon jou toonnaels knip.

    •Laat jou bloeddruk gereeld die lede van toets as jy las van hoë bloeddruk het.

    •Wees so aktief moontlik.

    •Besoek gereeld die lede van jou versorgingspan, onder wie jou geneesheer, dieetkundige, oogkundige en voetkundige.

    Gesonde eetgewoontes

    Voedsel vorm ’n belangrike deel van enige mens – ook die persoon met diabetes – se lewe en dit behoort steeds genotvol te wees. Die voedsel wat ons eet behoort ook goeie voedingswaarde te hê. Wanneer diabetes by jou gediagnoseer word, word jy gedwing om jou eetgewoontes te hersien en aan te pas, wat voordele vir die instandhouding van jou liggaam sal inhou.

    Riglyne vir goeie voeding

    Die Suid-Afrikaanse voedselgebaseerde dieetriglyne is in 2012 hersien en gedurende 2013 gepubliseer. Hierdie riglyne is eenvoudig om na te volg en sluit die volgende in:

    •Eet daagliks ’n verskeidenheid voedselsoorte en versprei dit in eweredige maaltye oor die dag.

    •Maak styselryke voedsel deel van die meeste van jou maaltye. Eet meer lae-GI-voedsel.

    •Eet elke dag minstens vyf porsies vrugte en groente.

    •Eet gereeld gaar droë bone, erte, lensies en soja.

    •Neem elke dag laevetmelk, -maas, -jogurt of maaskaas in. Jy kan daagliks – volgens jou voedselbegroting – vis, hoender, maer rooivleis of eiers eet.

    •Gebruik vet spaarsaam. Kies plantolies eerder as harde vette en kies meer dikwels mono- en poli-onversadigde vette.

    •Kweek die gewoonte aan om daagliks genoeg skoon, veilige water te drink.

    •Gebruik sout en soutbevattende voedsel spaarsaam.

    •Gebruik alkohol oordeelkundig en in oorleg met jou geneesheer en dieetkundige.

    •Gebruik suiker en suikerbevattende voedsel en drank spaarsaam en in oorleg met jou dokter en dieetkundige.

    •Wees meer aktief en hou jou liggaamsgewig in toom.

    Die gebruik van voedselruillyste

    Om die keuse van geskikte voedsel vir gebalanseerde maaltye te vergemaklik en bloedsuiker doeltreffend te beheer, word die gebruik van voedselruillyste aanbeveel. Daar is ses ruillyste en op elkeen verskyn voedselitems van spesifieke hoeveelhede. Al hierdie items – in bepaalde porsiegroottes – verskaf naastenby dieselfde hoeveelheid energie, vet, koolhidrate en proteïen en kan dus in jou maaltydplan afgewissel word. Die items op elke lys het ’n spesifieke funksie en geen enkele voedselgroep kan in al die voedingsbehoeftes voorsien nie. Voedselitems uit al ses ruillyste is dus nodig om aan ’n mens se voedingsbehoeftes te voldoen. Die lyste is ’n goeie hulpmiddel wanneer jy jou insuliendosis volgens die berekening van die hoeveelheid koolhidrate in jou maaltyd wil aanpas. Die glukemiese indeks (GI) kan verder baie doeltreffend saam met hierdie lyste gebruik word.

    Die koolhidraat- (CHO-), proteïen-, vet- en energie-inhoud van die voedselitems in elke ruillys word soos volg uiteengesit:

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1