Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Ekseem - jou noodsaaklike gids
Ekseem - jou noodsaaklike gids
Ekseem - jou noodsaaklike gids
Ebook374 pages2 hours

Ekseem - jou noodsaaklike gids

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Ekseem kan jou byna waansinnig maak – maar gelukkig kán dit, met die regte kennis, suksesvol behandel word. Tussen 10 en 20% van mense, volwassenes sowel as kinders, ly op die een of ander tyd onder ekseem. Hierdie boek bring vir alle ekseemlyers hoop. Regina Malan verduidelik in helder en verstaanbare taal hoe jou vel werk en wat ekseem veroorsaak. Sy deel ook die nuutste wetenskaplike kennis oor hoe jy ekseem kan oorkom deur daaglikse velsorg, leefstylaanpassings, mediese behandeling, te let op wat jy eet, bewus te wees van die verband tussen liggaam en siel. 'Ekseem: Jou noodsaaklike gids' verskaf al die jongste inligting asook praktiese advies. Dié boek volg ’n gebalanseerde, geïntegreerde benadering wat jou bemagtig en nuwe hoop gee.
LanguageAfrikaans
Release dateJul 31, 2015
ISBN9780798169295
Ekseem - jou noodsaaklike gids
Author

Regina Malan

REGINA MALAN het in Rustenburg gematrikuleer en daarna haar BA-graad aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys behaal. Nadat sy haar graad behaal het, het sy as vertaler en taalversorger in Bellville begin werk. Latere jare was sy in die hoedanigheid van redakteur aan ’n uitgewery in Johannesburg verbonde. Sy het nagraads studeer en haar D Litt et Phil in letterkunde aan die Randse Afrikaanse Universiteit (tans Universiteit Johannesburg) verwerf, waarna sy as deeltydse dosent aangestel is. ’n Kort kursus in joernalistiek het haar aan die wêreld van tydskrifte blootgestel. Tans werk sy op ’n vryskutbasis as tydskrifjoernalis, vertaal en redigeer ’n groot verskeidenheid tekste en doen skryfwerk in Afrikaans en Engels vir individue en maatskappye. ’n Kinderboek, 'The Butterfly Tree', waarvan sy die outeur is, was in 2013 op die lys van die Golden Baobab-prys vir die beste Afrika-prenteboek vir kinders tussen die ouderdomme van 6 en 8. Sy is getroud met dr Johan Malan, ’n bedryfsielkundige, het twee volwasse kinders en woon in Johannesburg.

Related to Ekseem - jou noodsaaklike gids

Related ebooks

Related articles

Reviews for Ekseem - jou noodsaaklike gids

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Ekseem - jou noodsaaklike gids - Regina Malan

    Ekseem

    Jou noodsaaklike gids

    Regina Malan

    Human & Rousseau

    Die uitleg van hierdie digitale uitgawe van Ekseem: Jou noodsaaklike gids mag verskil van dié van die gedrukte uitgawe, afhangende van die instellings op u leestoestel. Die uitleg vertoon optimaal indien die standaardinstelling op u leestoestel gebruik word. Lesers kan egter eksperimenteer met die instellings vir verskillende perspektiewe op die teks.

    Afdeling 1

    VERSTAAN EKSEEM

    As jy ekseem verstaan, is dit baie makliker om dit te beheer en te bestuur.

    1

    Wat is ekseem?

    EKSEEM laat jou jeuk. En krap. En dryf jou byna tot raserny. Dis onooglik. Dit skrik mense af. Dit maak jou moedeloos en depressief. As jy ’n ekseemlyer is, weet jy dié dinge, want jy ervaar alles aan jou eie lyf. Maar daar is goeie nuus en dus hoop: ekseem kán suksesvol behandel en bestuur word, al kan dit nie genees word nie.

    Die heel eerste stap om die toestand te verbeter is om dit te verstaan. Daar is soveel ouvroustories verbonde aan ekseem. Dis aansteeklik, sê sommiges. Dis ’n allergie. Jy kry dit omdat jy of jou omgewing nie skoon genoeg is nie.

    Die woord ekseem is afkomstig van ’n Griekse woord wat beteken om oor te kook of om te borrel. Vir gesondheidspesialiste in die Antieke tyd het dit waarskynlik gelyk of die vel kook – vandaar die beskrywing.

    Dié teorieë is doodgewoon nie waar nie. Die jongste mediese navorsing wys dat die oorsaak in jou genetiese samestelling lê. In sy boek Eczema-free for Life sê dr. Adnan Nasir dat ekseem veroorsaak word deur die abnormale ontwikkeling van sowat twintig gene wat bepaal hoe jou vel op die omgewing reageer.¹ Ekseem is nie ’n siekte of ’n allergie nie, sê hy, dis ’n kwesbaarheid van jou liggaam.

    VERSTAAN HIERDIE TERME:

    Ekseem: ’n Versamelterm vir verskillende vorme van dermatitis, soos byvoorbeeld atopiese dermatitis (waaroor hierdie boek handel), kontak-dermatitis (bv. ’n kolletjie onder jou horlosie of oorbel) en seborree-dermatitis (wat by babas die vorm van sogenaamde cradle cap aanneem).

    Dermatitis: Ontsteking van die vel wat gepaardgaan met ’n uitslag, rooiheid en ’n gejeuk. Die vel vorm soms blasies wat kan stukkend gaan en begin etter.

    Atopiese dermatitis: Die algemeenste tipe ekseem. Atopies (letterlik beteken dit vreemde siekte) wys op ’n oorgeërfde geneigdheid om hipersensitiewe reaksies soos dermatitis, hooikoors en asma te ontwikkel. Dit word ook aangebore ekseem genoem. Hierdie vorm van ekseem is so algemeen dat die woord ekseem eintlik as sinoniem vir atopiese dermatitis gebruik word. Hierdie boek handel ook net oor atopiese ekseem.

    BESKRYWING VAN EKSEEM

    Ekseem is ’n chroniese velprobleem wat gekenmerk word deur ’n uitermatig droë, jeukerige en geïrriteerde vel. Die woord chronies dui nie op die intensiteit van die toestand nie, maar op die langdurigheid daarvan. Hoewel kinders dit soms teen die ouderdom van ses tot tien jaar ontgroei, is dit dikwels ’n lewenslange probleemtoestand wat jy nie kan genees nie, maar wel kan behandel en bestuur.

    Dié chroniese toestand het ’n sikliese verloop. Soms kom daar ’n akute opvlamming wat gekenmerk word deur talle klein blaartjies of speldekopblasies wat met vog gevul is en op rooi, opgehewe vel voorkom. As die blasies stukkend gaan, byvoorbeeld as jy dit baie krap, lek die vloeistof uit en sien jy die kenmerkende sugdreinering wat met ontsteking gepaardgaan. Wanneer die vloeistof uitdroog, vorm ’n aaneenlopende dun kors en selfs ’n skubberigheid op die vel.²

    Na ’n akute opvlamming kan daar ’n periode wees waar die toestand onder beheer is en dit selfs lyk of die vel genees het. Dié fase kan ’n paar dae, weke, maande of selfs jare duur. Daar word dan gesê die ekseem is in remissie. Op ’n dag vind daar skielik ’n verslegting plaas en die hele proses begin weer van voor af. Soms kan jy ’n prikkel identifiseer wat die nuwe opvlamming aangebring het, maar soms lyk dit of dit spontaan ontstaan. Dit is eenvoudig die siklus waarvolgens ekseem verloop.

    DIE JEUK-KRAP-SIKLUS

    ’n Ander siklus is die sogenaamde jeuk-krap-siklus (sien Figuur 1.1). Die jeuk van ekseem is veel meer as net ’n irritasie. Dit is konstant daar, kan selfs pynlik wees en is feitlik onuithoubaar.

    As jy reageer op die jeuk en jou vel krap, word chemikalieë in jou vel vrygestel wat dit nog erger laat jeuk. Hoe groter die jeuk, hoe meer krap jy, maar hoe meer jy krap, hoe erger word die jeuk en hoe harder wil jy krap. Dit is ’n bose kringloop wat die toestand net vererger.

    Deur die gekrap beskadig jy die vel wat reeds verswak is. Daar tree dus baie maklik infeksie in wat veroorsaak word deur bakterieë, virusse en fungi. ’n Algemene infeksie is dié van die bakterie Staphylococcus aureus (ook bekend as staf-infeksies) wat lei tot klein stukkende plekkies, krake in die vel, geel of rooi korsagtigheid en rowe.³

    As daar ’n goggatjie op jou vel loop, sal dit jeuk. Jeuk is ’n boodskap aan jou brein dat daar iets op jou vel is wat potensieel gevaarlik kan wees. Die natuurlike reaksie op ’n gejeuk is om te krap of die vermeende goggatjie van jou vel af te vee. Sodoende word jy teen insekbyte, parasiete wat jou vel probeer binnedring of plantmateriaal wat gevaarlike chemiese stowwe afskei, beskerm.⁴ By ’n ekseemlyer waarsku die gejeuk nie soseer teen ’n potensiële gevaar nie, maar teen ’n mikroskopies klein irriterende stof wat deur die buitenste skanslaag van die vel gedring het.

    Al ontgroei baie kinders ekseem teen die tyd dat hulle nege of tien jaar oud is, beteken dit nie hulle is daarvan genees nie. Die geneigdheid tot hierdie veltoestand is altyd in jou liggaam. Ouderdom as sodanig het nie ’n direkte verband met ekseem nie. As dit verdwyn namate jy ouer word, beteken dit bloot jou liggaam se natuurlike genesingsmeganisme werk beter.

    As die gejeuk, en dus ook die gekrap, stopgesit kan word, word die komplikasie van infeksie ingeperk en kan die droogheid van die vel en die uitslag self makliker behandel word.

    Die probleem met die gekrap is dat dit naderhand gewoontevormend word. Die ekseemlyer is soms nie eens daarvan bewus dat hy/sy al weer krap nie. Om bedag te wees op die kraphandeling is ’n baie belangrike aspek in die bestuur en opklaring van die ekseemtoestand. Dit kry in Hoofstuk 10 meer aandag (sien Leer die krapgewoonte af).

    Dit is nie maklik om die gekrap af te leer nie. Die genot wat die gekrap meebring, word selfs in jou brein weerspieël. By die Wake Forest Universiteit se Baptistiese Mediese Sentrum is ’n studie onder leiding van die dermatoloog dr. Gil Yosipovitch gedoen waarvan die resultate in die Journal of Investigative Dermatology uiteengesit is. Beeldtegnologie is gebruik om waar te neem wat in ’n mens se brein aangaan as jy krap. Dit was opmerklik dat dele van die brein wat normaalweg aktief is wanneer ’n mens negatiewe emosies en herinneringe ervaar, beduidend minder aktief geword het tydens ’n gekrap. Dit baan die weg vir nuwe medikasie wat dieselfde strelende effek kan hê op die spesifieke breinarea wat die verligting ervaar.

    HOE ALGEMEEN KOM DIE TOESTAND VOOR?

    Atopiese dermatitis kom wêreldwyd voor en dit is kommerwekkend dat die voorkoms daarvan algaande toeneem. Dit kom min of meer ewe veel by mans en vroue voor. Om redes wat nog nie bekend is nie, is kinders van ma’s wat ouer was by hul geboorte meer geneig om ekseem te ontwikkel as dié van jonger ma’s.

    Tussen 10% en 20% van alle mense ontwikkel een of ander tyd gedurende hul lewe ekseem. Die syfers wissel van land tot land en hang ook af van die vlak van nywerheidsontwikkeling van die bevolking. Die toestand is minder algemeen onder landbou-gebaseerde bevolkings, terwyl die voorkoms daarvan in geïndustrialiseerde lande volgens die Franse Stigting vir Atopiese Dermatitis oor die afgelope drie dekades verdriedubbel het.⁶ Die redes daarvoor is nie heeltemal duidelik nie, maar dit kan verband hou met lewenstylfaktore en dieet.

    Daar is nie baie navorsingsyfers oor die voorkoms van ekseem in Suid-Afrika beskikbaar nie. Beperkte navorsing van ISAAC (Internasionale Studie van Asma en Allergieë in die Kinderjare) het bevind tussen 5% en 10% van Kaapse skoolkinders het ekseem. Die meeste gevalle van ekseem kom egter by voorskoolse kinders voor.

    Die oorsaak van ekseem lê binne-in jou liggaam. Jy het ’n eienskap geërf wat bepaal hoe jou vel op prikkels en irritante sal reageer. Omdat die oorsaak by faktore binne eerder as buite jou liggaam lê, staan ekseem bekend as ’n endogene toestand.

    Wetenskaplikes reken dat omtrent 65% van ekseempasiënte reeds in hul eerste lewensjaar simptome van ekseem toon en 90% van pasiënte toon simptome voor die ouderdom van vyf jaar.⁸ Die toestand begin selde eers na die ouderdom van 30 jaar en is dan oor die algemeen die gevolg van ’n blootstelling van die liggaam aan uiters strawwe toestande of ook aan medikasie. Dokters kry egter wel pasiënte wat eers op die ouderdom van 60 of selfs 80 vir die eerste keer ekseem ontwikkel. Dit is oor die algemeen moeiliker om ekseem wat eers in volwassenheid begin, te behandel.

    ’N WERKLIKE GEVAL

    Abby vertel: Ek is met ekseem gebore en het meer as tien jaar daarmee saamgeleef. Toe ek vyftien was, het dit so ernstig geraak dat my hele liggaam daardeur bedek is. Ek het snags wakker geword met bloed en dooie velvlokkies oor my hele bed. My bene het gelyk asof hulle verbrand het, en die vlokkies was so groot en so baie dat ek dit op ’n hoop kon vee. Dit het soos ’n hoop sand op die vloer gelyk. Dit was angswekkend.

    As ek in die straat geloop het, het mense na my gestaar. Ek was konstant by die dokters vir ondersoeke en voorskrifte vir steroïedmedikasie, wat nie gehelp het nie. Die dokters het gesê ek sou nooit gesond word nie.

    Dit was seer om te loop vanweë die ekseem op my knieë en gewrigte, dit was seer om my gesig te was en my hele lyf het gebrand as ek stort. Ek was bang om mense te ontmoet en bang oor wat hulle van my sou dink. Ek het bly bid dat die Here my moes genees.

    Uiteindelik het ek ’n naturopaat en voedingkundige besoek wat gesê het my toestand is te wyte aan gebrekkige voedingstowwe in my liggaam, ’n sensitiwiteit vir sekere kosse, beskadigde ingewande en ’n sensitiwiteit vir sekere produkte.

    Vir die volgende ses maande het ek skoon produkte gebruik wat natuurlik was en geen chemikalieë bevat het nie. Ek het ook aanvullings gebruik, ’n detoks gedoen en my hele dieet verander. Ek het hipoallergeniese produkte vir die ekseem begin gebruik, wat gehelp het om die vergiftiging van my liggaam stop te sit. Ek het vir twee maande ’n baie streng skoon dieet gevolg, want my liggaam was so sensitief dat wanneer ek ook al die verkeerde kosse geëet het (hoofsaaklik suiker, koring en allerhande souse), my ekseem dadelik sou opvlam.

    Namate ek die allergene uitgeskakel het, d.w.s. koring, suiker, MNG, verwerkte kos, ens., en my liggaam die voedingstowwe gegee het wat dit nodig gehad het (met groente, vrugte, volgraan- en superkosse), het ek binne twee maande ’n dramatiese genesing gesien. Dit was ’n wonderwerk! Nooit vantevore het ek dit beleef nie.

    Dit het nog ’n jaar geneem voordat 90% van my vel genees was, want daar was soveel skade. Dit het daarna nog ’n rukkie geneem voor die laaste 10% genees het (en dit was die moeilikste deel). Ek het gesien wat ’n kragtige geneesmiddel kos is. Dit is die natuur se grootste geskenk: goeie kos en ’n skoonmaak van die ingewande.

    Vandag kan ek weer meer normaal eet. My liggaam kan gifstowwe baie beter verwerk omdat ek goeie natuurlike produkte vir ekseem gebruik en omdat ek daagliks die regte voedingstowwe inneem.

    (Bron: http://www.primephysiquenutrition.com/how-i-overcame-severe-eczema-when-doctors-said-there-was-no-cure)

    IS EKSEEM AANSTEEKLIK?

    Dit gebeur dikwels dat meer as een lid van ’n gesin of ’n familie aan ekseem ly. Dit is egter belangrik om te onthou dat elke ekseemlyer die toestand individueel opdoen. Jy steek nie by ’n ander ekseemlyer aan nie en as jy daaraan ly, kan jou kinders ook nie by jou aansteek nie.

    Ekseempasiënte kan wel soms sekondêre infeksies soos koorsblare en fungus-infeksies opdoen wat wel aansteeklik kan wees deur middel van velkontak.

    As ekseem nie aansteeklik is nie, hoekom kom dit dan in gesinne en families voor? Omdat ’n mens die geneigdheid om ekseem te ontwikkel oorerf. Wetenskaplikes het vasgestel dat die abnormale ontwikkeling van sowat twintig gene, spesifiek gemoeid met hoe jou liggaam op die omgewing reageer, een van die oorsake is.⁹ Hierdie abnormale gene het veral ’n effek op twee belangrike sake: (a) die vel se funksionering as ’n skans- of beskermingslaag teen omgewingsaanslae en (b) die reaksie van jou immuunstelsel op prikkelmiddels en bakterieë wat jou vel binnedring.

    Die feit dat ekseem aan die toeneem is, kan egter nie net aan oorerflike gene toegeskryf word nie. Verskillende aspekte van die omgewing waarin ’n mens leef, speel ook ’n groot rol.

    Ekseem is nie aansteeklik nie en kan dus nie van een persoon na ’n ander oorgedra word nie. Nóg volwassenes nóg kinders sal ekseem opdoen deur in aanraking te kom met iemand wat wel die toestand onder lede het.

    In Afdeling 2: Oorsake van ekseem word die abnormale ontwikkeling van die gene, die probleme met die skansfunksie van die vel, die foutiewe immuunrespons en die omgewing as oorsake uitvoeriger bespreek.

    2

    Die diagnosering van ekseem

    AS ’n mens ’n irriterende veluitslag het, is die aangewese ding om dokter toe te gaan vir ’n akkurate diagnose. Dit kan ekseem wees, maar dit kan ook ’n ander veltoestand wees. Sonder die regte diagnose is dit moeilik om behandeling te kry wat die toestand behoorlik kan laat opklaar. Baie veltoestande wat op die oog af dieselfde lyk, vereis totaal verskillende behandelingsmetodes. Soms kan ’n algemene praktisyn ook nie die diagnose doen nie en moet jy by ’n velspesialis of dermatoloog uitkom.

    WANNEER MOET JY DOKTER TOE GAAN?

    Normaalweg is ekseem nie ’n mediese noodtoestand nie en soms kan jy verligting kry met behulp van oor-die-toonbank-medisyne, velrome en lewenstylaanpassings. In die volgende gevalle moet jy egter by ’n dokter uitkom om meer effektiewe behandeling te kry:

    •As die ekseem inbreuk maak op jou daaglikse lewe, met ander woorde jou werk word benadeel, jy kan nie belangrike byeenkomste bywoon nie, jou slaap word voortdurend onderbreek deur die gejeuk, en so meer.

    •As oor-die-toonbank-middels soos hidrokortisoonroom nie die uitslag verlig nie.

    •As die uitslag rooi, opgehewe en seer is; as blasies vorm, vloeistof uitloop en ’n kors gevorm word; as jy koors het. Al dié dinge dui op infeksie en vereis mediese aandag. Dit mag selfs nodig wees om in sulke gevalle na die ongevalleafdeling van ’n hospitaal toe te gaan.

    •As jy ’n verswakte immuunstelsel het,

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1