INA PAARMAN
Almal het met Ina Paarman grootgeword. Sy is ’n reus in die Suid-Afrikaanse koslandskap en op 84 steeds aktief betrokke by die handelsmerk wat van haar ’n huishoudelike naam gemaak het
Wat is die grootste wanindruk wat die publiek van Ina Paarman het?
Eerstens, “is daar werklik so ’n persoon?” Hulle dink dit is net ’n handelsnaam. En dan is mense teleurgesteld dat ek so kort (1,6 m) is. Ek stap op ’n dag verby die blommeverkopers in Adderleystraat, toe sê een: “Is jy dan nie Ina Paarman nie? Op TV is jy so groot soos ’n huis, maar jy’s so klein soos ’n muis.” Mense verwag iemand meer imposant en dominant.
Wat fassineer jou omtrent kos?
Die intellektuele deel. Hoekom werk dit? Wat is ’n makliker of gesonder manier? Watter geure pas werklik by mekaar, soos steak en tjips of aarbeie en room.
Tuinmaak is ’n groot vreugde in jou lewe. Het jy ander stokperdjies?
Ek lees graag. Veral biografieë, en elke paar jaar lees ek die klassieke werke, soos Anna Karenina, weer. Dit voel asof ek konstant van myself gee, en ek het nodig om iets terug te sit. Kookboeke kom en gaan. Yotam Ottolenghi se boeke is baie goed, maar ek hou veral van tegniese kostydskrifte uit Amerika wat resepte analiseer en beproef. Moenie vra vir die name nie, want dan gee ek my geheime weg!
Een van die eerste produkte wat jy ooit verkoop het, was slaaisous aan die voormalige presidentsvrou Marike de Klerk, wat in die 1980’s jou kookskool bygewoon het. Dit het seker gevoel asof jy die boerpot slaan?
Ja, jong, hulle het ’n geselligheid gehad, toe plaas sy ’n groot bestelling. Ek sê vir my man, Ted, is dit nie wonderlik dat al die hoge mense ons slaaisous gaan proe nie. Maar hoe gaan sy betaal, wou hy weet. Ek’t gedink sy sal betaal