Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Die Belydenis
Die Belydenis
Die Belydenis
Ebook572 pages10 hours

Die Belydenis

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Die ontdekking van 'n dooie baba in 'n skuur op 'n Amiese plaas in Amerika dreig om 'n jong vrou se lewe te verwoes.
Omstandigheidsgetuienis dui daarop dat die 18-jarige Katie Fisher, 'n ongetroude Amiese meisie wat glo die pasgeborene se ma is, vir die moord verantwoordelik is. Katie hou vol: sy het nie die baba vermoor nie.
Terselfdertyd vlug Ellie Hathaway, 'n ontnugterde advokaat, na familie wat in dieselfde streek woon om haar kop skoon te maak. Haar tannie is verwant aan Katie en kort voor lank stem Ellie teensinnig in om Katie te verdedig.
Ellie word as Katie se toesighouer aangestel terwyl sy op borgtog is en moet boonop by die Fishers intrek. Om Katie te verdedig, moet Ellie haar nie net diep ingrawe in 'n wêreld wat radikaal van haar eie verskil nie, maar ook 'n manier vind om Katie volgens háár verwysingsraamwerk te verstaan.
Wanneer 'n man uit haar verlede weer sy verskyning maak, word Ellie terselfdertyd gedwing om haar eie vrese en begeertes te konfronteer.
Uit die pen van die gewilde skrywer van My Sister's Keeper verskyn dié boeiende verhaal van twee vroue . . . en een geheim.
LanguageAfrikaans
PublisherJonathan Ball
Release dateFeb 15, 2020
ISBN9781868429998
Die Belydenis
Author

Jodi Picoult

JODI PICOULT is the #1 New York Times bestselling author of twenty-six novels. She is the recipient of numerous awards, including the New England Bookseller Award for Fiction, the ALA’s Alex Award, the New Hampshire Literary Award for Outstanding Literary Merit, and the prestigious Sarah Josepha Hale Award in recognition of her distinguished body of written work. She lives in New Hampshire with her husband. They have three children. You can visit her website at wwww.jodipicoult.com  

Related to Die Belydenis

Related ebooks

Related articles

Related categories

Reviews for Die Belydenis

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Die Belydenis - Jodi Picoult

    I

    I must be a Christian child

    Gentle, patient, meek and mild;

    Must be honest, simple, true

    In my words and actions too …

    Must remember, God can view

    All I think and all I do.

    – Amiese skoolrympie

    EEN

    SY HET AL DIKWELS GEDROOM hoe haar sussie dood onder die yslaag dryf, maar vanaand sien sy vir die heel eerste keer in haar geestesoog hoe Hannah beur om uit te kom. Sy sien haar oë, oopgesper en melkerig; sy voel Hannah se naels teen die ys skraap. Toe skrik sy wakker. Dis nie winter nie – dis Julie. Daar is nie ys onder haar handpalms nie, net gekreukelde lakens. Maar daar is weer iemand aan die ander kant wat veg om vry te kom.

    Toe die vuis dieper in haar maag begin boor, byt sy op haar onderlip. Sy ignoreer die pyn wat in vlae kom en gaan en hardloop kaalvoet op haar tone die nag in.

    Die skuurkat miaau hard toe sy binnekom. Teen dié tyd hyg sy na haar asem en haar bene bewe soos wilgertakke. Sy gaan lê op die hooi in die verste hoek van die kalwerhok, trek haar bene styf teen haar lyf op. Die geswolle koeie draai hul nagblou oë in haar rigting, maar kyk dan vinnig weg, so asof hulle weet hulle moenie getuies wees nie.

    Sy konsentreer op die Holsteins se velle totdat die swart kolle daarop voor haar oë begin swem. Sy byt styf vas op haar nagrok se opgerolde soom. Haar lyf word ’n drukgang, asof haar binnegoed uitgedop word. Sy onthou hoe sy en Hannah altyd deur die gat in die draadheining op die spruit se wal gekruip het, hulself op hul knieë en elmboë vorentoe getrek het, totdat hulle met ’n gekreun en gesteun wonderbaarlik aan die ander kant deurval.

    Dis skielik verby, so vinnig as wat dit begin het. En daar, op die gekoekte, gevlekte hooi, tussen haar bene, lê ’n baba.

    Aaron Fisher draai hom om onder die helderkleurige kwilt en staar na die wekker langs die bed. Daar was niks, geen geluid nie, tog het iets hom wakker gemaak. Ná vyf-en-veertig jaar van boer en melk kan die kleinste dingetjie hom uit sy newels ruk. ’n Voetstap in die mielies, ’n patroonverandering van die wind, die skuurgeluid van ’n ma-koei se tong teen ’n pasgebore kalfie.

    Hy voel hoe die matras meegee toe Sarah agter hom op haar elmboog regop kom. Haar lang vlegsel krul oor haar skouer soos ’n matroos se tou. Was ist letz? Wat is verkeerd?

    Dis nie die diere nie. Dis nog ’n hele maand voordat die eerste koei moet kalf. Dis nie ’n inbreker nie; daar was te min geraas. Hy voel hoe sy vrou haar arm om hom sit en sy rug styf teen haar bors druk. Nix, mompel hy. Niks. Maar hy weet nie mooi of dit Sarah is, of homself, wat hy probeer oortuig nie.

    Sy weet sy moet die naelstring knip wat pers om die baba se maag spiraal. Haar hande bewe toe sy haar strek om die ou skêr by te kom wat aan ’n pen by die hok se deur hang. Dis geroes en met stukkies hooi bedek. Twee vinnige knippe en die naelstring gee mee, begin bloed uitspuit. Sy knyp haar vingers geskok om die punte om die bloed te stop, kyk vervaard om haar rond op soek na iets om dit mee af te bind.

    Sy vroetel in die hooi en vind ’n klein stukkie baaltou wat sy vinnig om die naelstring draai. Die bloed begin stadiger vloei, hou dan heeltemal op. Sy sak verlig terug op haar elmboë. Toe begin die pasgebore baba huil.

    Sy raap hom op en druk hom styf teen haar vas, begin hom wieg. Met een voet skop-skop sy die hooi om die bloed met ’n skoon laag te bedek. Die baba se mond gaan oop, en toe begin hy suig aan die materiaal van haar nagrok.

    Sy weet wat die baba wil hê, wat hy nodig het, maar sy kan dit nie doen nie. Dit sal alles werklik maak.

    Pleks daarvan sit sy haar pinkie in die baba se mond. Sy laat die sterk klein kake daaraan suig en doen wat sy geleer is om te doen wanneer sy erg gespanne is, dit wat sy nou al maande lank doen. Here, bid sy, laat dit asseblief weggaan.

    Die klank van kettings wat ratel maak haar wakker. Dis nog donker, maar die koeie raak uit gewoonte in hul aparte hokke wakker. Die are staan blou op hul vol uiers, soos volmane wat tussen hul bene hang. Haar lyf pyn en sy is moeg, maar sy weet sy moet wegkom uit die skuur voordat die werkers opdaag om te begin melk. Sy kyk af en besef dat ’n wonderwerk gebeur het: Die bloedbevlekte hooi lyk vars, behalwe vir ’n klein vlekkie onder haar boude. En die twee goed wat sy vasgehou het toe sy aan die slaap geraak het – die skêr en die pasgebore baba – is weg.

    Sy staan moeisaam op en kyk vol eerbied en respek dak toe. "Denke," fluister sy, en hardloop toe buitentoe, die nag se skaduwees binne.

    Soos alle ander sestienjarige Amiese seuns gaan Levi Esch nie meer skool nie. Hy het graad agt geslaag en sweef nou iewers tussen kind-wees en oud genoeg om in die Amiese geloof gedoop te word. Intussen werk hy as huurling by Aaron Fisher wat nie meer ’n seun het om hom op die melkplaas te help nie. Levi het die werk gekry op die aanbeveling van sy ouer neef, Samuel, wat nou al vyf jaar lank op die Fishers se plaas werk. Almal weet Samuel gaan seker een van die dae met die Fishers se dogter trou en sy eie plaas begin, en dit sal beteken dat Levi bevorder word.

    Sy werkdag begin soggens om vieruur, soos op al die ander melkplase. Dis nog pikdonker. Hy kan nie Samuel se perdekarretjie sien naderkom nie, maar ver weg hoor hy die klingeling van die tuie en leisels. Hy gryp sy platrand-strooihoed en hardloop buitentoe, spring dan op die sitplek langs Samuel.

    Hallo, sê hy uitasem.

    Samuel knik in sy rigting, maar draai nie sy kop nie, sê nie ’n woord nie.

    Wat makeer? terg Levi. Wou Katie jou nie gisteraand tot siens soen nie?

    Samuel gee Levi ’n oorveeg wat sy hoed tot agter in die karretjie laat vlieg. Waarom hou jy nie net jou bek nie? snou hy. Die wind fluister deur die getande rand van die mielieland toe hulle in stilte verder ry. Ná ’n rukkie hou Samuel aan die voorkant van die Fishers se werf stil. Levi boor sy stewelpunt in die sagte grond en wag vir Samuel om die perd weiveld toe te neem voordat hulle skuur toe stap.

    Die ligte vir melktyd word deur ’n kragopwekker aangedryf, nes die suigpompe wat aan die koeie se spene vasgemaak word. Aaron Fisher kniel by een van die trop en sproei ’n jodiumoplossing op die uier. Hy vee dit dan droog met ’n bladsy wat hy uit ’n ou telefoonboek geskeur het. Samuel, Levi, groet hy.

    Hy sê nie wat hulle moet doen nie, want teen dié tyd weet hulle al. Samuel stoot die kruiwa tot onder ’n silo en begin die voer meng. Levi skep die mis agter elke koei met ’n graaf op en kyk so nou en dan in Samuel se rigting. Hy wens hy was al die senior plaashulp.

    Die skuur se deur gaan oop en Aaron se pa drentel in. Elam Fisher woon in die grossdawdi haus, ’n woonstelletjie wat aan die hoofgebou vasgebou is. Hoewel Elam met die melkery help, ken Levi die ongeskrewe reëls: Maak seker dat die ou man niks swaar dra nie; sorg dat hy hom nie ooreis nie; laat hom glo dat Aaron nie sonder hom kan klaarkom nie, hoewel Aaron kan, enige dag van die week. Seuns, groet Elam met ’n bulderstem. My maggies, ons het ’n kalf ryker geword.

    Aaron frons. Nee, ek het in die hok gekyk.

    Elam skud sy kop. Ek ruik dit, ek kén daai reuk.

    Dis seker Levi wat ’n bad nodig het, spot Samuel terwyl hy ’n graaf vars voer voor die eerste koei gooi.

    Levi gly op ’n hoop mis toe Samuel met die kruiwa verby hom loop. Hy beland op sy boude in die voortjie waarin die afval versamel word en vervies hom toe Samuel uitbars van die lag.

    Ag, kom nou, keer Aaron, hoewel ’n glimlag om sy mond speel. Los hom, Samuel. Levi, ek dink Sarah het jou ekstra stel klere in die tuiekamer gesit.

    Levi se wange brand toe hy opspring. Hy loop verby Aaron, verby die swartbord waarop die statistieke van die koeie wat moet kalf geskryf is, en gaan in by die kamertjie waarin die komberse en halters van die plaas se werkperde en -muile gebêre word. Nes die res van die skuur is dit kraaknetjies. Gevlegte leisels van leer lyk soos spinnekopdrade teen die muur en die rakke is vol ekstra perdeskoene en houers vol smeersalf.

    Levi kyk om hom rond, maar sien g’n klere nie. Toe sien hy iets helders in die stapel perdekomberse. Wel, dit maak sin. As Sarah Fisher sy klere gewas het, het sy dit waarskynlik saam met die ander wasgoed gedoen. Hy lig die swaar streepkombers op en herken sy spaarbroek en smaraggroen hemp wat in ’n bondeltjie opgerol is. Hy tree vorentoe om dit uit te skud en kyk dan vas in die klein, stil gesiggie van ’n pasgebore baba.

    Aaron, skreeu Levi uitasem toe hy gly-gly voor hom gaan stilstaan. Aaron, jy moet kom. Hy hardloop terug tuiekamer toe. Aaron en sy pa kyk na mekaar en hardloop agter die seun aan, met Samuel agterna.

    Levi staan voor ’n stoeltjie met ’n hoë stapel perdekomberse. Bo-op lê ’n slapende baba wat in ’n seun se T-hemp toegedraai is. Ek … ek dink nie dit haal asem nie.

    Aaron gee ’n tree vorentoe. Hy het lank laas so ’n klein babatjie gesien. Die sagte vel van sy gesiggie is koud. Hy kniel en lig die koppie met sy hand op. Hy hoop om ’n asempie in sy oor te voel. Hy druk sy hand plat teen die kleintjie se bors.

    Toe draai hy na Levi. Hardloop na die Schuylers toe en vra of jy hulle foon kan leen, sê hy. Bel die polisie.

    Toe, laat waai, sê Lizzie Munro vir die offisier aan diens.Ek gaan nie na ’n kleintjie wat nie reageer nie. Stuur ’n ambulans.

    Hulle is reeds daar. Hulle soek ’n speurder.

    Lizzie rol haar oë. Elke jaar sedert sy ’n speursersant by die Paradise-Oos-polisiestasie is, lyk dit of die paramedici jonger word. En dommer. Dis ’n mediese oproep, Frank.

    Wel, iets is nie pluis daar nie. Die luitenant gee haar ’n stukkie papier met ’n adres daarop geskryf.

    Fisher? lees Lizzie en frons toe sy die van en die adres sien. Hulle is Amies?

    Dink so.

    Lizzie sug en gryp haar groot swart beursie en polisiekenteken. Jy weet dis tydmors. Voorheen het Lizzie soms met Amiese tieners van die Ou Orde te doen gehad wanneer hulle in die een of ander ou se skuur bymekaargekom het om te drink en te dans en die vrede te versteur. Een of twee keer is sy al uitgeroep om ’n verklaring af te neem van ’n Amiese sakeman by wie daar ingebreek is. Meestal het Amiese mense maar min kontak met die polisie. Hulle gemeenskap bestaan amper onsigbaar binne die gewone wêreld, soos ’n lugborreltjie wat onbewus is van die vloeistof rondom hom.

    Neem net hulle verklarings af en ek sal opmaak daarvoor. Frank hou die deur vir haar oop toe sy uit haar kantoor stap. Ek sal vir jou ’n lekker vet oortreding kry waarin jy jou tande kan slaan.

    Jy hoef nie enige gunste vir my te doen nie, sê Lizzie, maar sy glimlag onderlangs toe sy in haar kar klim en in die rigting van die Fishers se plaas ry.

    Die voorkant van die Fishers se werf is toegeparkeer deur ’n polisiekar, ’n ambulans en ’n perdekarretjie. Lizzie stap voordeur toe en klop.

    Niemand maak oop nie, maar ’n stem agter Lizzie groet skielik. Die intonasie van die vrou se dialek versag haar konsonante. ’n Middeljarige Amiese vrou met ’n ligpers rok en ’n swart voorskoot loop vinnig tot by Lizzie. Ek is Sarah Fisher. Kan ek help?

    Ek is speursersant Lizzie Munro.

    Sarah knik haar kop ernstig en neem Lizzie na die skuur se tuiekamer waar twee paramedici oor ’n baba buk. Lizzie hurk langs een van hulle. Wat gaan hier aan?

    Pasgebore, met die klem op pás. Geen pols of asemhaling toe ons hier aankom nie en ons kon hom nie bybring nie. Een van die plaaswerkers het hom in daardie groen hemp toegedraai gekry, onder ’n perdekombers. Kan nie sê of hy doodgebore is of nie, maar dis duidelik iemand wou die liggaam wegsteek. Ek dink een van julle ouens is daar anderkant by die melkstal, hy kan jou dalk meer vertel.

    Wag so ’n bietjie – iemand het aan hierdie baba geboorte gegee en dit toe probeer wegsteek?

    Jip. Omtrent drie ure gelede, mompel die paramedikus.

    Die eenvoudige mediese oproep raak skielik ingewikkelder as wat Lizzie verwag het, en die waarskynlikste verdagte staan net so ’n meter van haar af. Lizzie kyk op na Sarah Fisher wat haar arms om haar vou. Sy bewe. Die baba … dis dood?

    Ek is bevrees so, mevrou Fisher.

    Lizzie maak haar mond oop om nog ’n vraag te vra, maar haar aandag word afgelei deur die veraf klank van toerusting wat rondgeskuif word. Wat is dit?

    Dis die werkers wat besig is om klaar te melk.

    Lizzie lig haar wenkbroue. Melk?

    Dié soort dinge … sê die vrou sag, moet steeds gedoen word.

    Lizzie voel skielik uit haar hart vir haar jammer. Die lewe gaan staan nie stil vir die dood nie. Sy behoort dit beter as die meeste mense te weet. Sy versag haar stemtoon en sit haar hand op mevrou Fisher se skouer, onseker oor haar sielkundige toestand. Ek weet dis seker baie moeilik vir jou, maar ek sal jou ’n paar vrae oor jou baba moet vra.

    Sarah Fisher kyk Lizzie vas in die oë. Dis nie my baba nie, sê sy. Ek het geen idee waar dit vandaan kom nie.

    ’n Halfuur later buk Lizzie vooroor, langs die misdaadfotograaf. Bepaal jou by die skuur. Amiese mense hou nie daarvan dat daar foto’s van hulle geneem word nie. Die man knik, skiet ’n hele film vol in die tuiekamer, met ’n klomp nabyfoto’s van die babalykie.

    Sy verstaan ten minste nou waarom sý hierheen uitgeroep is. ’n Ongeïdentifiseerde, dooie baba, ’n onbekende ma wat hom weggegooi het. En dit alles rég in die middel van ’n Amiese plaas.

    Sy het reeds met die bure gepraat, ’n Lutherse egpaar wat sweer hulle het nog nooit iets by die Fishers gehoor nie, nie eens harde stemme nie. Hulle het géén idee waar die baba vandaan kom nie. Hulle het twee tienerdogters, een nogal met ’n neus- en naeltjiering, wat alibi’s het vir die vorige nag. Maar hulle het tóg ingestem tot ginekologiese ondersoeke om hulle as verdagtes uit te skakel.

    Sarah Fisher, aan die ander kant, het nie.

    Lizzie dink hieroor na terwyl sy in die melkkamer staan en kyk hoe Aaron Fisher ’n klein, draagbare melkkan in ’n tenk leegmaak. Hy is lank en donker, met enorme arms met spiere soos kabels, te danke aan jare se plaaswerk. Sy baard raak aan sy tweede hempsknoop. Toe hy klaar is, sit hy die kan neer en draai om na Lizzie om sy volle aandag aan haar te gee.

    My vrou was nie swanger nie, speurder, sê Aaron.

    Jy’s seker?

    Sarah kan nie nog kinders hê nie. Die dokters het daarvoor gesorg omdat sy amper gesterf het toe die jongste gebore is.

    Jou ander kinders, meneer Fisher … waar was hulle toe die baba gevind is?

    ’n Skaduwee skuif oor die man se gesig, verdwyn net so vinnig as wat dit verskyn het. My dogter het geslaap, op die boonste verdieping. My ander kind … is weg.

    Weg, pad-af, by haar eie huis?

    Dood.

    Die dogter wat aan die slaap was … hoe oud is sy?

    Agttien.

    Toe hy dít sê, kyk Lizzie op. Nie Sarah Fisher of die paramedici het vir haar gesê daar is nog ’n vrou op die plaas wat kinders kan hê nie. Is dit moontlik dat sy swanger was, meneer Fisher?

    Die man se gesig word só rooi dat Lizzie bekommerd raak. Sy is nie eens getroud nie.

    Dis nie ’n voorwaarde nie, meneer.

    Aaron Fisher staar met koue oë na die speurder en sê duidelik: Dit is, vir ons.

    Dit voel of dit ’n ewigheid gaan duur om al veertig koeie te melk, en dit het niks te doen met die aankoms van ’n tweede groep polisiebeamptes nie. Samuel maak die hek van die weidingskraal toe nadat hy die bulkalwers laat uitgaan het en loop in die rigting van die hoofopstal. Hy moet eintlik vir Levi gaan help om die skuur vanoggend nog ’n keer uit te vee, maar dié keer kan dit wag.

    Hy sukkel nie nog om te klop nie. Maak net die deur oop, so asof die huis reeds syne is en die jong vrou binne, by die stoof, ook aan hom behoort. Hy gaan staan ’n oomblik stil en kyk hoe die son haar profiel af-ets en haar heuningkleurige hare verhelder. Sy beweeg vinnig, vat raak terwyl sy die ontbyt voorberei.

    Katie, sê Samuel toe hy binnegaan.

    Sy draai vinnig om. Sy skrik en laat die lepel in haar hand in die bak beslag val. O, dis jy, Samuel. Ek het jou nie nou al verwag nie. Sy kyk oor sy skouer, so asof sy verwag om ’n hele leër agter hom te sien. Mam het gesê ek moet genoeg vir almal maak.

    Samuel tree vorentoe en vat die bak by haar. Hy sit dit op die toonbank en neem haar hande in syne. Jy lyk nie goed nie.

    Sy grynslag. Dankie vir die kompliment.

    Hy trek haar nader aan hom. Is jy oukei?

    Toe sy oë hare ontmoet, is dit so blou soos die oseaan wat hy eendag op die omslag van ’n reistydskrif gesien het en – so verbeel hy hom – net so oneindig diep. Dis wat hom in die eerste plek na Katie aangetrek het, toe hy haar in ’n volgepakte kerk gesien het. Dis wat hom laat glo het dat, selfs jare van nou af, hy enigiets vir hierdie een vrou sal doen.

    Sy maak haar los uit sy arms en begin die pannekoek omdraai. Jy weet hoe ek is, sê sy uitasem. Hierdie Englischers maak my senuweeagtig.

    Dis nie ’n klomp nie. Dis net ’n handjie vol polisiemanne. Samuel frons bekommerd, waar hy agter haar rug staan. Hulle gaan dalk met jou wil praat. Dit lyk of hulle met almal wil praat.

    Sy sit die spaan neer en draai dan stadig om. Wat het hulle daar gevind?

    Het jou ma jou nie vertel nie?

    Katie skud haar kop stadig heen en weer. Samuel huiwer, verskeur tussen haar vertroue in hom om die waarheid te vertel en die begeerte om haar so lank as moontlik heeltemal in die donker te hou. Hy trek sy hande deur sy strooikleurige hare, sodat dit regop staan. Wel, hulle het ’n baba gekry. Dood.

    Hy sien hoe haar oë groter word, daardie ongelooflike oë, en toe sink sy op een van die kombuisstoele neer. O, sê sy saggies, geskok.

    Hy gee vinnig ’n tree tot by haar, hou haar styf teen hom vas en fluister dat hy haar sal wegneem van hier af, bokker die polisie. Hy voel hoe haar lyf sag word teen syne, en ’n oomblik lank voel Samuel hy het gewen – ná so baie dae waarin sy hom afgejak het, om uiteindelik weer dít te ervaar. Maar Katie se lyf verstyf skielik en sy beur weg van hom af. Ek dink nie dis die regte tyd nie, sê sy nors. Sy staan op en draai die stoof se gasbranders toe, vou haar arms oor haar middellyf. Samuel, ek dink ek sál daarvan hou as jy my iewers heen vat.

    Enige plek, belowe hy.

    Ek wil hê jy moet my na daardie baba neem.

    Dis bloed, bevestig die patoloog en kniel in die kalwerhok voor ’n klein, donker vlekkie. En die plasenta. Dis nie ’n koei s’n nie, te oordeel aan die grootte. Iemand het onlangs ’n baba gehad.

    Doodgebore?

    Hy huiwer ’n oomblik. Dit kan ek nie sê voordat ek nie ’n lykskouing gedoen het nie – maar my gevoel sê vir my nee.

    So dit het net … doodgegaan?

    Dit het ek ook nie gesê nie.

    Lizzie sit terug op haar hurke. Jy sê vir my iemand het hierdie baba doelbewus doodgemaak?

    Die man trek sy skouers op. Dis vir jou om uit te vind.

    Lizzie maak vinnig sommetjies in haar kop. Met so min tyd tussen die baba se geboorte en dood is die kans goed dat die oortreder die kleintjie se ma is. Waarvan praat ons? Verwurging?

    Eerder versmoring. Ek behoort die voorlopige lykskouingsverslag môre gereed te hê.

    Lizzie bedank hom en loop weg van die misdaadtoneel. Skielik is dit nie meer ’n saak van kinderverlating nie, maar ’n potensiële moord. Daar is genoeg rede om ’n lasbrief vir bloedmonsters by ’n streekslanddros te kry, getuienis wat ’n vinger sal wys na die vrou wat dit gedoen het.

    Sy steek vas in haar spore toe die skuur se deur oopgaan. ’n Lang, blonde man – een van die plaaswerkers – en ’n jong vrou tree tot binne die ligkol. Hy knik in Lizzie se rigting. Dit is Katie Fisher.

    Sy is pragtig, op daardie sterk Germaanse manier wat Lizzie altyd laat dink aan vars room en lente. Sy dra die tradisionele drag van die Ou Orde van die Amiese groep: ’n langmourok, bedek met ’n swart voorskoot wat tot net onder haar knieë hang. Haar kaal voete is vol blase. Lizzie het haar nog altyd verwonder aan hierdie Amiese jongklomp wat so sonder skoene op die grondpaaie hardloop. Maar dis hoe hulle die somer deurbring. Die meisie is so senuweeagtig dat Lizzie amper haar vrees kan ruik. Ek is bly jy is hier, Katie, sê Lizzie vriendelik. Ek het na jou gesoek om vir jou ’n paar vrae te vra.

    Op daardie oomblik beweeg Katie nader aan die blonde reus langs haar. Katie het laas nag geslaap, sê hy. Sy het nie eens geweet wat gebeur het totdat ek haar vertel het nie.

    Lizzie probeer die meisie se reaksie peil, maar iets het haar aandag afgetrek. Sy staar oor Lizzie se skouer tot in die tuiekamer waar die patoloog toesig hou oor die verwydering van die baba se lykie.

    Skielik beur die meisie van Samuel af weg en hardloop by die skuur se deur uit, met Lizzie wat haar tot by die plaashuis se stoep agternasit.

    Net soos alle reaksies op die dood is hierdie een ook hewig. Lizzie sien hoe die meisie probeer om haar gevoelens onder beheer te kry en wonder wat dit veroorsaak het. As dit ’n gewone tiener was, sou Lizzie hierdie gedrag as ’n aanduiding van skuld beskou. Maar Katie Fisher is Amies, wat vereis dat sy haar gedagtes suiwer moet hou. As jy Amies is, is dit moontlik dat jy in die Lancaster-distrik sonder televisienuus en blou-films, verkragting en vrouemishandeling en moord grootword. Dis baie moontlik om ’n dooie baba te sien en werklik uiters geskok te wees.

    Tog was daar die afgelope jare gevalle van tienerma’s wat hul swanger-skappe weggesteek het en ná die geboorte bewyse vernietig het deur van die pasgeborene ontslae te raak. Tienerma’s wat heeltemal onbewus was van dit wat hulle gedoen het. Tienerma’s van alle soorte en gelowe.

    Katie leun teen ’n pilaar en huil in haar hande. Ek is jammer, sê die meisie. Toe ek dit sien – die lykie – het ek aan my suster gedink.

    Die een wat dood is?

    Katie knik haar kop. Sy het verdrink toe sy sewe was.

    Lizzie kyk in die rigting van die lande, ’n groen see wat bewe in die bries. In die verte runnik ’n perd, ’n ander een antwoord. Weet jy wat gebeur wanneer ’n mens ’n baba kry? vra Lizzie sag.

    Katie trek haar oë op skrefies. Ek bly op ’n plaas.

    Ek weet. Maar diere is anders as vroue. En as vroue geboorte skenk en nie ná die tyd mediese sorg kry nie, plaas hulle hulself dalk in groot gevaar. Lizzie huiwer ’n oomblik. Katie, is daar enigiets wat jy my wil vertel?

    Ek het nie ’n baba gekry nie, antwoord Katie en kyk reguit na die speurder. Ek het nie. Maar Lizzie kyk na die stoepvloer. Daar is ’n klein maroen vlekkie op die witgeverfde planke. En ’n druppel bloed loop stadig teen Katie se kaal been af.

    TWEE

    Ellie

    MY NAGMERRIES WEMEL VAN KINDERS. Ses dogtertjies, om presies te wees – twee donkerkoppies en vier blondekoppies, met kniekoppe wat onder die plooirompies van die St. Ambrose-skool uitsteek en hande wat in hul skoot wring. Hulle het blitsvinnig, voor my oë, grootgeword, die oomblik toe die leier van die jurie my kliënt, die laerskoolhoof wat hulle gemolesteer het, vryspreek.

    Dit was my grootste triomf nóg as verdedigingsadvokaat in Philadelphia. Dié uitspraak het my naam gemaak en gesorg dat my telefoon sonder ophou lui, die bellers almal eweneens welopgevoede ikone van die samelewing wat hoop om deur die skuiwergate van die reg te glip om hul eie geraamtes in die kas te verdoesel. Die aand ná die uitspraak neem Stephen my uit na Victor’s Café vir ’n ete wat so duur is, jy kan ’n tweedehandse kar daarmee koop. Hy stel my aan die bestuurder voor as Jeannie Cochran en vertel my dat die twee senior vennote in sy eie firma, die voorste regspraktyk in die stad, my uitgenooi het om met hulle te kom gesels.

    Stephen, sê ek, uit die veld geslaan, toe ek vyf jaar gelede daar was vir ’n onderhoud, het jy vir my gesê jy kan nie ’n verhouding hê met ’n vrou wat by dieselfde maatskappy werk nie.

    Hy trek sy skouers ongeërg op. Vyf jaar gelede, Ellie, sê hy, was dinge anders.

    Hy is reg. Vyf jaar gelede was ek nog besig om my loopbaan te bou. Vyf jaar gelede het ek geglo die hoofbegunstigde van ’n vryspraak is my kliënt, nie ek nie. Vyf jaar gelede sou ek net kon droom van ’n geleentheid soos die een wat Stephen my in sy firma aanbied.

    Ek glimlag vir hom. So hoe laat is die vergadering?

    Later verskoon ek my om badkamer toe te gaan. ’n Toesighouer sit geduldig daar en wag langs ’n houer met komplimentêre grimering en haarsproei en parfuum. Ek loop na ’n toilethokkie en begin huil – oor daardie ses meisietjies, oor die bewyse wat ek suksesvol getroef het, oor die prokureur wat ek wou wees jare gelede toe ek my regsgraad gekry het; een wat so beginselvas was dat ek hierdie saak nooit sou aanvaar nie. Wat nog te sê so hard werk om dit te wen.

    Ek gaan weer buitentoe en draai die kraan oop om my hande te was. Ek trek die symoue van my pakkie se baadjie op en begin my vel skrop, werk die seepskuim tussen my vingers en in my naels in. Iemand tik op my skouer. Ek draai om en die toesighouer gee vir my ’n linnehanddoek aan. Haar oë is hard en donker soos okkerneute. Skat, sê sy, party vlekke kom nooit uit nie.

    Daar is nog ’n kind in my nagmerries, maar ek het nog nooit sy gesig gesien nie. Dis die baba wat ek nooit gehad het nie, en soos dinge nou gaan, nooit sal hê nie. Mense maak grappies oor biologiese horlosies, maar hulle is daar, binne vroue soos ek – hoewel ek nog nooit dié tik-tik as ’n aanmaning gesien het nie, eerder as die voorspel tot ’n bomontploffing. Wag, wag … en dan – boem! – is al jou kanse in hulle kanon.

    O, het ek al gesê? Ek en Stephen woon al agt jaar saam.

    Die dag nadat St. Ambrose se skoolhoof vrygespreek is, stuur hy vir my twee dosyn rooi rose. Stephen kom die kombuis binne net toe ek hulle binne-in die vuilgoeddrom druk.

    Waarom doen jy dít?

    Ek draai stadig om na hom. Pla dit jou ooit? Dat, as jy eers één keer ’n grens oorgesteek het, jy nie kan teruggaan nie?

    Liewe Vader, jy praat al weer soos Confucius. Sê tog net wat jy bedoel, Ellie.

    Dis presies wat ek doen. Ek wou net weet of dit jou ook tref. Nét hier. Ek wys na my hart wat steeds bitter seer is. Kyk jy ooit na die mense wat oorkant jou in ’n hof sit, dié wie se lewens geruïneer is deur iemand wat jy voor jou siel weet skuldig is?

    Stephen tel sy koffiebeker op. Iémand moet hulle verdedig. Dis hoe ons regstelsel werk. As jou hart so bloei, gaan werk liewer vir die staat. Hy trek ’n roos uit die vuilgoeddrom, knak sy stam af en druk dit agter my oor in. Jy moet ophou dink hieraan. Wat dink jy van die idee om by Rehobothstrand te gaan branderski? Hy leun nader en voeg by: Kaalgat.

    Seks is nie ’n pleister nie, Stephen.

    Hy gee een tree agteruit. Jammer, ek het vergeet. Dis al so lank gelede.

    Ek wil dit nie nou bespreek nie.

    Daar gaan nie ’n bespreking wees nie, El. Ek het reeds ’n een-en-twintigjarige dogter.

    Maar ék nie. Die woorde hang in die lug, so delikaat en kwesbaar soos ’n seepborrel die oomblik voordat dit bars. Kyk, ek kan verstaan waarom jy nie die vasektomie wil laat omkeer nie. Maar daar is ander maniere …

    Daar is nie. Ek gaan sowaar nie sit en kyk hoe jy saans ’n katalogus met spermskenkers fynkam nie. En ék soek nie ’n maatskaplike werker wat deur alles van my gaan, van my belastingopgawes tot my onderklerelaai, en dit om te besluit of ek waardig genoeg is om die een of ander Chinese kind groot te maak wat iewers op ’n bergpiek gelos is om van blootstelling te sterf nie …

    Stephen, hou net op! Jy’s heeltemal op hol!

    Tot my verbasing bly hy dadelik stil. Hy gaan sit, sy lippe styf opmekaar gepers, woedend. Dit was onnodig, sê hy ná ’n rukkie. Ek bedoel, Ellie, dit het my wragtig seergemaak.

    Wat?

    Dit wat jy nou net gesê het. My Vader – jy’t my ’n fokken poephol genoem!

    Ek kyk hom vas in die oë. Ek het gesê jy is op hól.

    Stephen knip sy oë, bars dan uit van die lag. Op hol – o, Vader! Ek het jou nie gehoor nie.

    Wanneer laas hét jy, dink ek, maar kry dit reg om die woorde terug te sluk voordat dit oor my lippe kom.

    Pfister, Crown en DuPres se regspraktyk is in Philadelphia se middestad, versprei oor drie verdiepings van ’n moderne glas-en-staal-wolkekrabber. Dit vat my ure om aan te trek vir my afspraak met die vennote. Ek besluit teen vier uitrustings voordat ek een vind wat my die meeste selfversekerd laat lyk. Ek gebruik ekstra deodorant. Ek drink ’n koppie kafeïenvrye koffie, bang dat die ware jakob my hande sal laat bewe. Ek stip die roete in my geestesoog uit en maak voorsiening vir amper ’n uur se reistyd, hoewel dit net tien kilometer van hier af is.

    Om presies elfuur skuif ek agter my Honda se stuurwiel in. Senior vennoot, mompel ek in die truspieël. En enigiets minder as $300 000 per jaar is onaanvaarbaar. Ek sit my sonbril op en kies koers hoofpad toe.

    Stephen het ’n CD in my kar gelos, ’n mengsel van wat hy graag sy gatskopmusiek noem. Hy luister graag daarna wanneer hy op pad is na litigasies. Ek glimlag effens toe ek dit in die gleuf druk, laat die tromme en die egalige ritme deur die kar weergalm. Ek draai die volume hard, so hard dat ek skaars die kwaai toeter van ’n bakkie hoor toe ek ingedagte van baan verwissel en voor hom inry.

    Oeps, mompel ek, en doen strekoefeninge met my hande op die stuurwiel. Die motor gee skielik ’n ruk. Ek gryp die stuurwiel stewiger vas, maar dié aksie vererger dit na ’n boksprong. Vrees loop soos ’n stroom water uit my keel na my maag, daardie oombliklike paniek wat posvat wanneer jy besef iets verskrikliks is verkeerd en dis te laat om dit reg te maak. In my truspieël sien ek die vragmotor naderkom. Sy bestuurder lê op die toeter toe my kar ’n helse skudbeweging maak en doodruk, in die middel van die honderd-kilometer-per-uur-verkeer.

    Ek sluit my oë, staal my teen die botsing wat toe nie plaasvind nie.

    Dertig minute later bewe ek nog steeds waar ek langs Bob staan, die ou wat Bob’s Auto Service sy naam gegee het. Hy probeer verduidelik wat met my kar gebeur het. Om ’n lang storie kort te maak … dit het gesmelt, sê hy en vee sy hande aan sy oorpak af. Die oliebak het gekraak, die enjin het opgepak en die onderdele het saamgekoek.

    Saamgekoek, herhaal ek stadig. So, hoe haal jy hulle weer uitmekaar?

    Jy kan nie. Jy koop ’n nuwe enjin. Jy praat van vyf- of sesduisend.

    Vyf of ses … Die meganikus begin wegstap. Haai! Wat is ek veronderstel om tot dan te doen?

    Bob laat sy oë oor my uitrusting, my aktetas en my hoëhakskoene gly. Kry vir jou ’n paar Reebok-tekkies.

    ’n Telefoon begin iewers lui. Moet jy dit nie antwoord nie? vra die werktuigkundige. Ek besef skielik die geluid kom iewers uit die donker dieptes van my eie aktetas. Ek kreun toe ek my afspraak by die regspraktyk onthou. Ek is reeds vyftien minute laat.

    Waar de hel is jy? blaf Stephen toe ek antwoord.

    My kar het gevrek. In die middel van die hoofweg. Reg voor ’n aankomende vragmotor.

    My liewe magtig, Ellie, dis waarom daar taxi’s is!

    Ek is stilgeskrik. Nie goeie hemel, is jy oukei? nie. G’n wil jy hê ek moet jou kom help? nie. Ek sien hoe Bob sy kop skud oor die verwronge ingewande van dit wat eers my enjin was. En voel ’n onverklaarbare vrede op my neerdaal. Ek gaan nie vandag die afspraak kan nakom nie, sê ek.

    Stephen sug hoorbaar. Wel, ek veronderstel ek kan John en Stanley oorreed om te herskeduleer. Ek bel jou nou-nou terug.

    Die verbinding gaan in my hand dood. Ingedagte sit ek die sel af, loop dan na my kar. Die goeie nuus, sê Bob, is dat, nadat jy die enjin vervang het, jy ’n so te sê splinternuwe kar gaan hê.

    Ek het baie van my oue gehou.

    Hy trek sy skouers op. Verbeel jou dan dis jou ou kar. Met ’n splinternuwe hart.

    Ek sien skielik weer die vragmotor agter my op die snelweg heen-en-weer swaai en toet. Die ander karre wat uitswenk. En ek wat daar sit soos ’n klippie in ’n rivier. Ek ruik weer die warm teer wat golfies onder my hakke maak en smelt toe ek bewerig, op my tone, oor die grootpad loop. Ek het nog nooit in die noodlot geglo nie, maar dié ervaring was té kritiek, ’n té seker teken. So asof ek letterlik tot stilstand gedwing moes word voor ek besef ek hardloop in die verkeerde rigting. Nadat my kar ingegee het, het ek die polisie en ’n klomp diensstasies gebel, maar nooit daaraan gedink om Stephen te bel nie. Om die een of ander rede het ek geweet dat, as ek gered moes word, ek vir myself sou moes sorg.

    Die telefoon begin weer lui. Goeie nuus, sê Stephen nog voor ek hom kan groet. Die Twee Grotes het ingestem om jou sesuur vanmiddag te sien.

    Op daardie oomblik weet ek ek gaan padgee.

    Stephen help om my goed agterin my kar te laai. Ek verstaan dit heeltemal, sê hy, al is dit nie waar nie. Jy wil ’n bietjie tot rus kom voor jy jou volgende groot saak kies.

    Ek wil inderdaad ’n blaaskans vat voordat ek besluit of ek ooit weer ’n ander saak gaan aanvaar. Punt. Maar dis iets wat Stephen hoegenaamd nie sal verstaan nie. ’n Mens gaan swot nie regte, dien op Law Review se redaksie en gaan werk in die loopgrawe sodat die saak van ’n leeftyd aan jou toegeken word, net om daarna jou loopbaankeuse te bevraagteken nie. Die ander moontlikheid is dat Stephen maar net nie kan aanvaar dat ek hom vir goed verlaat nie. Ek verstaan dit, want ek voel net so. In ons agt jaar saam het ons nooit getrou nie, maar ons het ook nooit van mekaar af padgegee nie.

    Sal jy my bel wanneer jy daar aankom? vra Stephen. Hy soen my nog voor ek kan antwoord. Ons lippe skei soos ’n naat wat uitmekaartrek. Ek klim in my kar en ry weg.

    Ek veronderstel ander vroue in my posisie – en daarmee bedoel ek nie vroue wat gebroke of onseker is, of wat onlangs ’n groot som geld ontvang het nie – sou ’n ander bestemming kies. Soos die Grand Cayman-eiland, Parys of ’n selfontdekkingstaptog deur die Rockies. Ek het altyd geweet dat, as ek my wonde wil lek, ek sal koers kies na Paradise in Pennsilvanië. As kind het ek elke somer ’n week daar gekuier. My oupagrootjie se broer het ’n plaas daar gehad en geleidelik stukkies en brokkies van sy grond verkoop tot die dag van sy dood. Sy seun, Frank, het toe in die groot huis ingetrek, gras geplant waar die mielielande was en ’n skrynwerkerswinkel geopen. Frank is net so oud soos my pa en het lank voor my geboorte met Leda getrou.

    Ek kan nie juis sê wat ek tydens al daardie somers in Paradise gedoen het nie, maar wat ek nog al die jare baie goed onthou, is die rustigheid in hul huis, die gemaklike doeltreffendheid waarmee hulle dinge gedoen het. Ek het eers gedink dis omdat Leda en Frank nooit hul eie kinders gehad het nie. Maar later het ek besef dis iets binne Leda, iets wat te doen het daarmee dat sy Amies grootgeword het.

    Dit was onmoontlik om ’n somer lank in Paradise te kuier en nié met die Amiese mense van die Ou Orde in aanraking te kom nie – ’n gemeenskap wat ’n inherente deel van die Lancaster-distrik is. Die Eenvoudsmense, soos hulle hulself noem, het behendig met hulle perdekarretjies deur die swaar verkeer gevleg. Hulle het in hulle outydse kleredrag in rye in die kruidenierswinkel gestaan; hulle het skamerig vir ons geglimlag wanneer ons vars groente by hulle plaasstalletjies koop. Om die waarheid te sê, dis hoe ek van Leda se verlede uitgevind het. Eendag, toe ons staan en wag om ons arms vol mielies te betaal, begin Leda met die vrou agter die toonbank praat. In Pennsilvaans! Ek was elf jaar oud en toe Leda, net so Amerikaans soos ek, na die Germaanse dialek oorslaan, het my mond oopgehang. Leda gee my toe ’n tiendollarnoot. Ellie, gee dit vir die dame, sê sy hier langs my, in die wete dat sy dit ewe goed self kon doen.

    Op pad huis toe het Leda aan my verduidelik sy was ’n Eenvoudsmens tot sy met Frank getrou het. En Frank is nie een nie. Volgens die Amiese godsdiensreëls is sy onder die bann geplaas, wat beteken dat sy uitgesluit word van sekere sosiale gebruike van mense wat nog Amies is. Sy mag met Amiese vriende en familie praat, maar mag nie saam met hulle aan tafel eet nie. Sy mag langs hulle op die bus sit, maar nie vir hulle ’n geleentheid in haar motor aanbied nie. Sy mag hulle ware koop, maar ’n derde party moet die transaksie beklink, soos ek pas moes doen.

    Haar ouers, susters en broers het minder as tien myl van haar af gewoon.

    Mag jy by hulle gaan kuier? het ek gevra.

    Ja, maar ek doen dit byna nooit nie, het Leda gesê. Eendag sal jy verstaan, Ellie. Ek bly nie weg omdat dit vir my ongemaklik is nie. Ek bly weg omdat dit vir húlle ongemaklik is.

    Leda wag my in op die Strassburg-stasie. Toe ek met my twee tasse uitklim, maak sy haar arms wyd oop. Ellie, Ellie, sing-praat sy. Sy ruik na lemoene en Windex, en haar breë skouers is die perfekte rusplek vir my kop. Ek is nege-en-dertig jaar oud, maar in Leda se omhelsing voel ek weer elf.

    Sy stap vooruit na die kleinerige parkeerterrein. Gaan jy my vertel wat fout is?

    Niks is fout nie. Ek was sommer net lus om by jou te kom kuier.

    Leda maak ’n snorkgeluid. Jy kom net kuier wanneer jy op die rand van ’n senuweeineenstorting is. Het daar iets met Stephen gebeur? Toe ek nie antwoord nie, trek sy haar oë op skrefies. Of dalk het daar níks met Stephen gebeur nie – en dis die probleem?

    Ek sug. Dis nie Stephen nie. Ek het pas ’n baie moeilike saak afgehandel, en … wel, ek het rus nodig.

    Maar jy het die saak gewen. Ek het dit op die nuus gesien.

    Ja, wel, wen is nie alles nie.

    Tot my verbasing reageer sy glad nie.

    Ek raak aan die slaap kort nadat Leda op die snelweg indraai en skrik eers wakker toe sy voor haar huis stop. Ek is jammer, sê ek verleë. Ek het nie bedoel om so in te konk nie.

    Leda glimlag en tik liggies met haar hand op myne. Bly so lank as wat jy nodig het om te rus en ontspan.

    O, dit sal nie lank wees nie. Ek vat my tasse op die agtersitplek en stap vinnig agter haar aan teen die stoeptrappies op.

    Wel, ons is bly jy is hier, of dit vir twee nagte of twee dosyn is. Sy draai haar kop skeef. Daar lui die foon, sê sy. Sy stoot die voordeur oop en draf binnetoe om die gehoorbuis op te tel. Hallo?

    Ek sit my tasse neer en rek my uit om my stram rug te laat ontspan. Leda se kombuis is kraaknetjies, soos altyd. Dit lyk nog presies soos ek dit onthou: die borduurlappie teen die muur, die koekieblik wat soos ’n varkie lyk, die swart-en-wit linoleumteëls. As ek my oë toemaak, kan ek my maklik verbeel ek het nooit hier weggegaan nie, of glo dat die heel moeilikste keuse wat ek vandag moet maak, is om te besluit of ek wil opkrul op die Adirondack-stoel in die agterplaas of op die lendelam swaai op die stoep met die sif-voorkant.

    Leda staan oorkant my in die kombuis, duidelik verras om die stem te hoor van wie ook al gebel het. Sarah, Sarah, sssj, kalmeer sy die persoon aan die ander kant van die lyn. Was is letz? Ek kan net hier en daar brokkies onbekende woorde uitmaak: an Kind … er hat an Kind gfuna … es Kind va dodt. Ek plak my op ’n kroegstoeltjie neer en wag dat Leda klaar praat.

    Nadat sy tot siens gesê het, rus haar hand nog ’n rukkie lank op die gehoorbuis. Sy draai om na my, bleek en duidelik geskok. Ellie, ek is so jammer, maar ek moet iewers heen gaan.

    Het jy my nodig …

    Jy bly nét hier, sê Leda ferm. Jy is hier om te rus.

    Ek sien hoe haar kar wegtrek. Wat ook al die probleem, Leda sal dit regmaak. Sy het dit nog altyd gedoen. Ek sit my voete op ’n ander stoeltjie en glimlag. Ek is nog net vyftien minute in Paradise en ek voel al klaar beter.

    DRIE

    NEH! SKREEU KATIE EN GEE ’n skop na die paramedikus wat haar in die ambulans probeer laai. Ich will net gay!

    Lizzie kyk hoe die meisie baklei. Die onderkant van haar rok, ’n ryk groen kleur, het nou swart bloedvlekke op. Die Fishers, Samuel en Levi staan styf teen mekaar in ’n halfmaan. Die groot, blonde man gee ’n tree vorentoe. Hy byt op sy tande. Los haar, sê hy op duidelike Engels.

    Die paramedikus draai om. My vriend, ek probeer haar net help. Hy slaag daarin om Katie agter in die ambulans te dwing. Meneer en mevrou Fisher, u is welkom om saam te ry.

    Sarah Fisher snik hard en klou aan haar man se hemp. Sy pleit by hom in ’n taal wat Lizzie glad nie verstaan nie. Hy knik sy kop, draai om en stap weg. Hy roep na die mans om saam met hom te kom. Sarah klim versigtig in die ambulans en hou haar dogter se hand vas. Sy praat saggies met Katie totdat sy gekalmeer het. Die paramedici maak die dubbeldeure toe. Terwyl die ambulans stadig in die plaaspad afry, skop dit klippies en stofwolke op.

    Lizzie weet sy moet maak dat sy by die hospitaal kom en met die dokters praat wat Katie gaan ondersoek, maar sy talm eers ’n rukkie. Sy hou eerder vir Samuel dop. Hy het nie vir Aaron Fisher gevolg nie, maar staan nog steeds doodstil op dieselfde plek en kyk die ambulans agterna totdat dit in die verte verdwyn.

    Om haar flits die wêreld verby. Bo haar kop lyk die ry buisligte soos die strepe in die middel van ’n teerpad, soos wanneer sy vanuit ’n perdekarretjie daarop afkyk. Die draagbaar onder haar kom skielik tot stilstand en ’n stem bo haar kop sê: Lig wanneer ek tel … een, twee drie! Katie voel hoe sy deur die lug trek tot op ’n koue, blink tafel.

    Die paramedikus vertel vir almal wie sy is en, in hemelsnaam, dat sy dáár gebloei het. ’n Vrou se gesig verskyn bo hare, probeer haar toestand bepaal. Katie? Praat jy Engels?

    Ja, fluister sy.

    Katie, is jy swanger?

    Nee!

    Kan jy vir ons sê wanneer laas jy gemenstrueer het?

    Katie se wange word bloedrooi. Sy draai haar kop weg, sê nie ’n woord nie.

    Die ligte en die klanke van hierdie eienaardige hospitaal is vir haar vreemd. Die helder skerms met hul bewegende golwe, die biep- en gonsgeluide wat haar vaspen, die sonderlinge sinchronisiteit van staccato-stemme wat haar aan kerkgesange laat dink.

    Bloeddruk tagtig oor veertig, sê ’n verpleegster.

    Hartklop een-dertig.

    Asemhaling?

    Agt-en-twintig.

    Die dokter kyk na Katie se ma. Mevrou Fisher? Was jou dogter swanger? Sarah kyk net na die man, versteen weens alles wat om haar gebeur. In vadersnaam, mompel die dokter, trek net haar romp uit.

    Katie voel hoe hul hande aan haar klere pluk, haar privaatheid bedreig. Dis deel van ’n rok en ek kry nie die knope nie, kla ’n verpleegster.

    Daar is g’n knope nie. Dis vasgespeld. Wat de …

    Knip dit af, as jy moet. Ek soek ’n bloedmonster, ’n urinemonster, ’n volledige bloedtelling … en stuur dan die bloedsoort en monster na die bloedbank, al die statistiek. Die dokter se gesig sweef weer bokant Katie. Katie, ek gaan nou jou baarmoeder ondersoek. Verstaan jy? Ontspan nou. Ek gaan nou aan jou raak tussen jou bene …

    Met die eerste, sagte aanraking gee Katie ’n skop in sy rigting. Hou haar vas, sê die dokter, en twee verpleegsters sit haar enkels in ginekologiese stiebeuels. Ontspan nou. Ek sal jou nie seermaak nie. Trane rol oor Katie se wange terwyl die dokter allerhande goed vir ’n verpleegster met ’n knyperbord sê. "Behalwe wat na lochia rubra lyk, het ons ’n sponsagtige, nie-saamgetrekte uterus, grootte sowat vier-en-twintig weke. Lyk soos ’n verrekte servikale opening. Kom ons doen nou ’n

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1