Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Nuwe hoop vir ADHD by kinders en volwassenes: 'n Praktiese gids
Nuwe hoop vir ADHD by kinders en volwassenes: 'n Praktiese gids
Nuwe hoop vir ADHD by kinders en volwassenes: 'n Praktiese gids
Ebook400 pages3 hours

Nuwe hoop vir ADHD by kinders en volwassenes: 'n Praktiese gids

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Daar is hoop vir ADHD-lyers!

Helena Bester, een van Suid-Afrika se voorste kenners van ADHD, vertel met groot meelewing die suksesverhale van sommige van die duisende mense wat sy al kon help. In 'n geselstrant, toegelig met gevallestudies, deel sy:

• die jongste inligting oor ADHD by kinders én volwassenes
• nuwe behandelingsmetodes, waaronder neuroterugvoer-terapie
• wenke vir ouers en onderwysers
• oefeninge wat daagliks gedoen kan word
• raad met die dieet
• die nuutste oor medikasie

Neuroterapie, wat vir alle vorms van ADHD ingespan word en ook met welslae vir angstigheid, slaaploosheid, depressie, epilepsie, breinbeserings, outisme en verslawing gebruik word, word in diepte bespreek.

Die skrywer gee die leser in hierdie omvattende gids die moed en kennis om aandagafleibaarheid tuis en in die klaskamer met vertroue te pak.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateJun 2, 2014
ISBN9780624063872
Nuwe hoop vir ADHD by kinders en volwassenes: 'n Praktiese gids
Author

Helena Bester

Helena Bester is the author of three authoritative books on ADHD and learning problems: 'Help, my kind makeer iets', 'Help, my child is causing chaos', and 'How to cope with AD/HD'. Offering neurotherapy as an additional therapy in her practice since 2005, she no longer works only with children. Helena’s approach is a holistic one. Her sympathetic attitude and broad knowledge are a source of renewed hope for many.

Related to Nuwe hoop vir ADHD by kinders en volwassenes

Related ebooks

Related articles

Reviews for Nuwe hoop vir ADHD by kinders en volwassenes

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Nuwe hoop vir ADHD by kinders en volwassenes - Helena Bester

    NUWE HOOP VIR

    ADHD

    by kinders en

    volwassenes:

    ’n Praktiese gids

    Helena Bester

    Tafelberg

    Ons kan weet

    Verby die graafvermoë van woorde weet

    Maar eers moet ons in stilte

    Alle kognitiewe waarheid vergeet

    Liefde, en liefde alleen, gee alles betekenis.

    – Teresa van Ávila

    Hierdie boek is opgedra aan jou, die leser.

    Voorwoord

    Helena Bester se jongste boek, Nuwe hoop vir ADHD by kinders en volwassenes, is ’n maklik verstaanbare, praktiese gids met kundige advies vir ouers, onderwysers, terapeute en enigeen wat die simptome van ADHD ervaar. Sy bied aan lesers antwoorde op hulle vrae oor die diagnose, verwante toestande, medikasie, dieet, neuroterugvoer-terapie en ander behandelingsmetodes, tesame met hanteringswenke en oefeninge wat daagliks gedoen kan word. Die hoofstuk oor neuroterugvoer is bygewerk met die bevindinge van die geweldig baie studies wat die afgelope dekade oor die onderwerp onderneem is. Die leser word as ’t ware aan die hand geneem en maak die skrywer se kliniese reis oor baie jare se ervaring van werk in die veld mee. Dit is duidelik dat sy ’n passie het om mense met ADHD te help, net soos sy ook die mense in die lyer se lewe wil bystaan. Of jy self ADHD het of ’n ouer, onderwyser of terapeut is wat met ADHD-individue werk, beveel ek hierdie boek met die grootste vrymoedigheid aan.

    Roger deBeus, Ph.D.

    Gelisensieerde sielkundige

    Lid van die ISNR (International Society for Neurofeedback and Research)

    Assistent-navorsingsprofessor

    Universiteit van Noord-Carolina, Asheville, VSA

    Inleiding

    Vir dekades het ek byna uitsluitlik met kinders met ADHD asook hulle ouers gewerk. ADHD (attention deficit hyperactivity disorder), oftewel aandaggebrek-hiperaktiwiteitsindroom of aandagafleibaarheid, word deur een of meer van die volgende hoofsimptome gekenmerk: onaandagtigheid, hiperaktiwiteit en impulsiwiteit. Ek het uitgebreid navorsing gedoen om alternatiewe te probeer vind vir die hoofstroombehandeling, wat hoofsaaklik voorgeskrewe stimulantmedikasie behels.

    Moontlik ontwikkel ’n mens met verloop van tyd ’n sesde sintuig oor die onderwerp waaraan jy jou lewe wy. ’n Veearts-vriendin wat al duisende sterilisasies op diere uitgevoer het, het eenkeer vir my gesê ’n mens vervolmaak eers iets nadat jy dit tienduisend keer herhaal het. Ek glo nie ek het al tienduisend ADHD-gevalle geëvalueer nie, maar wel baie oor baie jare. En ja, van die eerste oomblik dat iemand wat om hulp kom aanklop voor my sit, begin my brein voorbewustelik my uitgebreide databasis van opgegaarde feite skandeer vir enige van die subtiele, dikwels onmeetbare tekens waarmee ADHD verbind word. As dit ’n kind is wat vir evaluering kom, eien ek soms reeds iets hiervan in een of albei van die ouers in die onderhoud wat ek voor die tyd met hulle voer.

    Die gediggie voor in hierdie boek gaan oor daardie iets – tussen die feite, verby die feite en verby die kognitiewe, meetbare realiteit lê elke mens se waarheid. Al veralgemeen ek baie in hierdie boek, besef ek met my hele hart, siel en verstand dat jy en jou kind uniek is. Ek reduseer niemand waarmee ek werk tot die betrokke toestand wat die persoon na my toe bring nie. Maar meetbaar of andersins, moet ons die tekens, simptome en neigings duidelik kan identifiseer om die probleem doeltreffend te takel, veral indien die persoon se funksionering daardeur beperk word.

    Lesers wat moontlik van my vorige boeke gelees het of na van my toesprake of radiopraatjies geluister het, sal weet dat ek graag die lof van mense met ADHD besing. Hulle is meestal baie eerlik; hulle reken die kwaad nie toe nie; hulle ken die kuns van oorgawe; en die hiperaktiewe groep verskaf die energie wat vooruitgang dryf. Waarom is dit dus nodig om mense van ADHD te genees? Het dit nie mode geword om elke tweede mens met aandagafleibaarheid – met of sonder hiperaktiwiteit – te diagnoseer en behandel nie? Is die fokus op hierdie toestand nie oordrewe sodat dit noodwendig tot oordiagnosering lei nie? Moet ons nie liefs aanvaar dat mense verskil sonder om etikette om hulle nek te hang nie? Laat ons nie met ons diagnoses en terapieë mense konformeer tot die veilige bekende nie? Dit is van die geldige vrae wat in hierdie boek onder die loep geneem word.

    Een van die nuwe alternatiewe behandelings wat in diepte bespreek word, is neuroterugvoer-terapie. Dit word vir alle vorms van ADHD ingespan, en alhoewel minder algemeen, word dit ook met groot welslae in die behandeling van onder meer angssteurnisse, slaaploosheid, depressie, epilepsie, breinbeserings, outisme, opponerend-opstandige versteuring en verslawing gebruik. Die terapie is trouens in Oktober 2012 deur die American Academy of Pediatrics as ’n vlak-1-behandeling (dit wil sê, ’n voorkeuropsie in die voorgestelde behandelingsprotokol) en die beste ondersteunende terapie vir aandagverwante probleme aangedui. Ons kom later hierna terug.

    Vandat neuroterapie in my praktyk as aanvullende terapie aangebied word, fokus ek nie langer uitsluitlik op die behandeling van aandagverwante probleme nie, maar ook op dié van die toestande wat hierbo genoem word. Die verskil wat hierdie terapie in mense se lewe maak, is iets wat ek bevoorreg is om te aanskou en een van die redes waarom hierdie boek gebore is. Ek sluit regdeur die boek aanhalings van hierdie mense in – of hulle sélf of hulle kind die terapie ontvang het.

    Vroeër is geglo dat ADHD ontgroei word. Ons weet nou dat dit meestal nie die geval is nie. Sommige mense ontwikkel wel die vermoë om die simptome beter te bestuur, maar dit geld nie almal nie. ADHD met of sonder hiperaktiwiteit by volwassenes, nog ’n fokuspunt in hierdie boek, het ’n groot uitwerking op jou prestasie en verhoudings. Die meeste lyers bo dertig jaar is nooit gediagnoseer nie. Twintig jaar gelede is die simptome wat onderwysers en ouers deesdae as dié van ADHD herken, anders geïnterpreteer. Die kind is as stout of lui of moedswillig afgemaak. Dikwels is dit eers jare later, wanneer die persoon se eie kind met ADHD gediagnoseer word, dat hy besef dat hy dieselfde probleem het.

    Die bestuur van die simptome wat met ADHD verbind word, of dit nou as volwassene of kind is, is agt jaar ná my vorige boek steeds ’n bron van kommer. Ongeag watter terapie gevolg word, moet die lyer vaardighede aanleer om te verhoed dat die simptome sy lewe oorneem. Terselfdertyd moet die ouer vaardighede aanleer om die kind te ondersteun en die onderwyser om die nodige aanpassings in die leeromgewing te maak. Wenke in hierdie verband word in hierdie boek gegee.

    Ek glo steeds, net soos wat ek in die inleiding van my vorige boek geskryf het, dat ons nie deur ander mense se oordele gedefinieer word nie en dus ook nie deur ’n diagnose nie. Ons eie vrese is ons enigste beperking. Ek weet ook dat wanneer ons ons vrese die hoof bied, die verskrikking van daardie vrese verdwyn. Miskien probeer jy al jare die simptome van aandagafleibaarheid of ’n ander probleem wegsteek of onderdruk. Ek nooi jou om oopkop saam met my die pad na ’n moontlike oplossing te stap.

    Die gevalle waarna in hierdie boek verwys word, is gebaseer op werklike gevalle. Die name en besonderhede is egter verander of gevalle saamgevoeg ter wille van vertroulikheid.

    1

    Agtergrondgeskiedenis van ’n tipiese geval

    ’n Tipiese beeld: Walter se storie

    Ek ontmoet byna net soveel pa’s met ADHD as wat ek kinders met ADHD ontmoet. Natuurlik is daar ook baie ma’s met ADHD, maar drie maal meer seuns as meisies word met aandaggebrek-hiperaktiwiteitsindroom gediagnoseer.

    Talle ouers, veral pa’s, kom met hulle eie storie vorendag wanneer hulle besef dat hulle ’n hele leeftyd met dieselfde probleme geworstel het as wat nou by hulle kind geïdentifiseer of gediagnoseer is. Vir van hulle gaan daar ’n lig op wanneer hulle besef dat hulle self ADHD het en hulle voel verlig dat die monster wat hulle wêreld so deurmekaar krap, uiteindelik ’n naam het. Maar daar is ook diegene wat baie ongeduldig is met hulle kind omdat dit vir hulle voel asof hulle van voor af dieselfde stryd moet stry. Hulle is vuisvoos gestraf oor hulle vergeetagtigheid, impulsiwiteit, onbetroubaarheid, oorhaastigheid en onbedagsaamheid. Hulle moes self leer hoe om die deurmekaarheid in hulle kop te hanteer. Hulle wil nie weer met dieselfde probleme opgesaal word nie.

    Walter se vrou het gebel. Sy, Helga, is raadop. Dit voel asof daar vyf kinders in die huis is en nie net vier nie. Dis nou reg of weg, het sy gesê. Helga het gehoor van die nuwe behandeling vir ADHD wat by my praktyk beskikbaar is.

    Helga het nie self kinders nie. Sy het Walter twee jaar ná sy eerste vrou se dood ontmoet en hulle is kort daarna getroud. Walter kan so dierbaar en snaaks wees, vertel Helga. Maar ná ’n paar maande se getroude lewe het ek begin voel asof ek in ’n nagmerrie leef.

    Hulle lewe saam was in ’n chaos gedompel. Die kinders het geen roetine gehad nie en daar was nie behoorlike reëls nie. Hulle wou saans televisie kyk totdat hulle aan die slaap raak en was baie traag om gebalanseerde maaltye op vaste tye te eet. Daar was gedurig klagtes van die skool. Helga het getrou die kinders se huiswerkboeke nagegaan, maar die huiswerk is gereeld nie gedoen nie omdat dit bloot nie aangeteken is nie. Helga het die probleme een vir een gepak, soos ’n akker of blombedding wat jy stelselmatig skoonmaak en bewerk. Kort voor lank was die basiese strukture in plek. Daar was slapenstye, huiswerktye, etenstye en kuiertye. Daar was minder klagtes van die skool en Helga het meer in beheer gevoel.

    Aanvanklik het Helga haar nie te veel gesteur aan die woedeuitbarstings en kinderagtige optrede wat soms by Walter kop uitgesteek het nie. Sy was te oorweldig deur die aanpassings wat die kinders van haar geverg het. Dit is eers by nabetragting dat sy besef het dat Walter se onvoorspelbaarheid reeds van die begin van hulle verhouding aanwesig was.

    As kind het Walter nie van skool gehou nie. Hy was gedurig in die moeilikheid en is as stout bestempel. Sy huiswerk was dikwels nie gedoen nie en sy punte swak. Hy was met die verkeerde maats deurmekaar en het in ’n stadium selfs die skool probeer afbrand. Walter vertel hy besef nou dat hy gewoon sy maats se uitdaging aanvaar het sonder om aan die nagevolge te dink. Dit voel vir hom asof hy soms tonnelvisie het en glad nie die groter prentjie kan raaksien nie. Hy betrap homself byvoorbeeld gedurig op ’n oorreaksie en dit maak nie saak hoe onredelik sy optrede is nie, dit voel vir hom asof hy nie daaruit kan loskom nie. Hy voel magteloos daarin vasgevang. Dit is soms asof hy van buite af toekyk op homself.

    Daardie dag met die brandstigting was dit dieselfde. Hy het by ’n klaskamer ingebreek onder aanmoediging van sy vriende. Hy was meegesleur deur die aandag en die intensiteit van die emosies. Daardie dag sou hulle vir die onderwyser ’n les leer. Dit was eers toe hy die petrol oor die opgefrommelde koerantpapier uitgooi en dit aan die brand steek dat hy besef het watter ernstige saak dit is en watter erge gevolge dit kan hê. Hy het die vlamme verwoed probeer blus terwyl sy vriende laat spaander het. Hy sê dat dit nooit sy bedoeling was om die skool af te brand nie. Dit was net asof sy optrede met hom weggehardloop het. Gelukkig kon Walter daardie dag die vlamme blus, maar op ’n meer simboliese vlak kan vure soms deur ondeurdagte optrede aangesteek word wat nie so maklik geblus kan word nie.

    Helga vertel dat Walter soms tuiskom wanneer die jongste seuntjie reeds in die bed is. Hy sal die kamer luidkeels binnestorm terwyl Helga ’n slaaptydstorie lees. Hy sal die kind uit die bed optel en ’n stoeiery begin, waarna hy weer wawyd wakker is. Dit voel dikwels vir Helga asof Walter net van sy eie behoeftes bewus is en geen sin vir verantwoordelikheid het nie. Hy sal byvoorbeeld uitgelate voel en aan tafel ’n spelery met die kinders op tou sit wat in ’n tranedal eindig omdat hy nie grense stel of wal gooi wanneer dinge handuit ruk nie. Helga voel selfs asof sy nie met vrymoedigheid die kinders onder sy toesig kan laat wanneer haar aandag elders vereis word nie.

    Walter bedryf sy eie onderneming, wat dikwels na aan bankrotskap was vanweë ondeurdagte besluite. Ook hier moes Helga reddingswerk verrig. Die onderneming is lewensvatbaar en het baie potensiaal. Walter het dikwels in die verlede ’n tweede en selfs derde onderneming aan die gang probeer kry terwyl hy nalaat om behoorlik na sy bestaande onderneming om te sien.

    Ná skool het Walter by ’n rits verskillende firmas gewerk. Dit het gewoonlik goed begin, maar ná ’n ruk het hy onbetroubaar geraak of in ’n onderonsie met ’n ander werknemer betrokke geraak. Gelukkig het hy sy pa se onderneming geërf. Met tye het dit goed gegaan, maar hy kon nie goeie beginsels konsekwent deurvoer nie. Hy was byvoorbeeld soms baie vriendelik met kliënte en dan weer kortaf en selfs ongeskik. Helga het van Walter se take self oorgeneem en ander gedelegeer om die wisselvalligheid in die gehalte van hulle diens te beperk.

    Helga het die punt bereik waar sy nie langer kans gesien het om Walter se verantwoordelikhede op haar te neem en gedurig krisisbestuur te verrig nie. Sy wou ’n huwelik hê waarin verantwoordelikhede gedeel word en sy soms op haar lewensmaat se leiding kon staatmaak.

    Walter is reeds as kind met aandagafleibaarheid gediagnoseer, spesifiek die soort met hiperaktiwiteit. In sy geval het die hiperaktiwiteit met opponerende gedrag gepaardgegaan.

    By sekere kinders en volwassenes is sekere simptome van ADHD meer prominent as by ander. Nie alle mense met ADHD het alle simptome van die toestand nie. Almal se gedragspatrone, swak en sterk punte, persoonlikhede en vaardighede verskil. Wanneer ek van tipiese gevalle praat, wil ek geensins mense se individualiteit ondermyn nie. Ek wil mense help om hulle emosioneel te identifiseer met die inligting in hierdie boek, en daarom deel ek nie slegs feitelike kennis nie.

    Die eerste onderhoud

    Verskeie vakgebiede kan lig werp op die soort vrae wat die terapeut tydens die aanvangsonderhoud kan vra. Deur ervaring en persoonlike voorkeur verander of verfyn die terapeut daardie vrae totdat dit soos akkurate soekligte die relevante hoekies belig.

    In hoofstuk 1 gee ek ’n voorbeeld van hoe so ’n aanvangsonderhoud kan verloop. Gaan gerus deur die lys vrae en probeer dit met betrekking tot jou kind of jouself as kind (indien jy die inligting tot jou beskikking het) beantwoord. Onderwysers en terapeute of studente kan die vrae as riglyne gebruik om die relevante agtergrondinligting makliker deur te sif.

    Ek sluit hoëfrekwensieresponse, oftewel die antwoorde wat ek die algemeenste van ouers hoor, op die vrae in. By sekere vrae kon ek (nog) nie responspatrone vasstel nie, hoewel daardie vrae met sekere aspekte van ADHD verband hou. ’n Mens hoor en lees byvoorbeeld dikwels dat slaapprobleme algemeen is onder mense met ADHD. Van die duisende kinders met ADHD met wie ek die afgelope drie-en-twintig jaar vir lang tye intensief gewerk het, is daar minder wat slaapprobleme het as dié wat nie het nie. By vrae waar daar volgens my nie ’n duidelike patroon is nie, dui ek dit so aan.

    Vrae is vir die terapeut ’n werktuig van onskatbare waarde. Maar selfs belangriker is die vermoë van die terapeut om te kan luister. Ongeag hoe deurtastend die vrae is wat die terapeut vra, is daar altyd ’n moontlikheid dat ’n belangrike komponent misgekyk word. Nog ’n gevaar is dat ’n bepaalde stel vrae die probleem net vanuit een hoek belig. Dit kan jou as terapeut bevooroordeeld maak. Dit is soos wanneer jy op rooi motors op die pad fokus: Dit kan later vir jou voorkom asof daar baie meer rooi motors is as wat daar werklik is. En hoe langer jy, figuurlik gesproke, deur ’n bepaalde lens, of dan stel vrae, na ’n mens kyk, hoe duideliker gaan sekere aspekte van daardie persoon raak en hoe vaer ander, wat ’n uitwerking kan hê op die vorm van intervensie waarop jy besluit. Daarom is my eerste stelling gewoonlik: Vertel my, ek luister. Hierdie belangrike oop vraag kan vir jou as terapeut ’n perspektief bied wat jou beperkende lens of vrae nie kan nie.

    Vir jou as leser vra ek nou die volgende: Verwoord die kern van die probleem soos jy dit by jou kind (of jouself of ’n kind in jou klaskamer) ervaar. Bewuswording is ’n belangrike stap in genesing of dan in die besluitneming wat tot ’n positiewe verandering kan lei.

    Prof. Rudolph E. Tanzi van die departement neurologie aan die Harvard-universiteit se mediese skool sê in Super Brain (2012), ’n boek wat hy saam met die medikus en skrywer Deepak Chopra geskryf het, dat ons in elke taak wat ons uitvoer óf onbewus óf bewus óf self-bewus (bewus van ons eie rol in die situasie eerder as skaam) is. Wanneer ons onbewus is, word ons deur ons emosies en laer breinfunksies voortgedryf. Die brein is dan in ’n ongebalanseerde staat van funksionering. Ons besluitnemingsfunksies is verswak en ons gedrag word deur onder meer vrees en woede beheer.

    Wanneer ons bewustelik optree of in ’n bewuste staat verkeer, kan ons verwoord hoe ons oor iets voel. Die emosies word dan deur die hoër breinfunksies, wat oordeelsvermoë insluit, in perspektief geplaas. Die brein is dus in ’n meer geïntegreerde staat, met die hoër sowel as die laer breinfunksies wat ’n rol speel. Emosionele sowel as kognitiewe breinfunksies word betrek. Ons voel nie so verswelg deur ons emosies en asof ons geen beheer oor die situasie het nie. Die ADHD-lyer voel dikwels oorweldig deur ’n emosie waarbinne hy vasgevang is, dermate dat sy oordeelsvermoë en besluitnemingsfunksies verdring word.

    Wanneer ons bewus is van ons eie betrokkenheid binne ’n situasie – wanneer ons met ander woorde self-bewus is – kan ons oor ’n saak nadink. Sodra ons daardie bewustheid het, kan ons ons eie gedrag beoordeel en die regte keuses uitoefen. Slegs sodoende kan ’n positiewe verandering plaasvind. Emosies is nie die teenoorgestelde van ’n staat van bewustheid nie, maar is juis ’n belangrike soeklig wat kan uitwys watter vrae ons moet vra om insig en groei mee te bring.

    Ek glo bewustheid is nie net vir mense met ADHD noodsaaklik vir die bestuur van hulle simptome nie, maar ook vir elkeen van ons op ons groeipad as mens. In die hoofstuk oor neuroterapie gaan ons verder hieroor gesels, aangesien hierdie behandeling mense help om meer bewus van hulle eie gedrag te wees.

    Terug by die aanvangsonderhoud: Jy hoef nie by ’n spesifieke punt te begin wanneer jy die probleem soos wat jy dit beleef, aan die terapeut beskryf nie. Party mense se gedagtegang is meer analities en ander s’n minder sistematies. Party ma’s kom met ’n tienpuntlys, waar punt een die swangerskap is. Ander ma’s begin by iets wat die vorige dag gebeur het en ander som die probleem in een sin op.

    Dit ontstel my wanneer ek soms hoor dat toetsafnemers net tien minute vir die eerste onderhoud opsy sit. Tyd is wel ’n faktor, maar ek verstaan nie hoe ’n mens ná enkele vrae by die kern van die probleem kan uitkom nie. Ná die besoek staan jy dalk met ’n voorskrif in die hand, maar twyfel, vrae en vrese in die kop en gemoed.

    Nadat die ouer op my eerste stelling – vertel my, ek luister – gereageer het, vra ek vrae oor aspekte wat relevant kan wees wat die ouer nie reeds aangeroer het nie. Dit is hoofsaaklik in ouers se response op daardie eerste stelling dat ek ooreenkomste en patrone, verskuil agter algemene simptome, begin raaksien het wat ek nie noodwendig andersins sou nie. ’n Groot persentasie van kinders met ADHD het byvoorbeeld op ’n baie jong ouderdom baie hoë koors of koorsstuipe gehad. Die meeste is emosioneel baie sensitief, alhoewel dit soms voorkom asof hulle geensins bewus is van ander mense se behoeftes nie. Hulle is ook dikwels kreatiewe denkers. Veral by volwassenes blyk dit duidelik dat mense met ADHD nie van probleme hou nie. Hulle wil waarskynlik voel dat dinge rondom hulle onder beheer is omdat daar so dikwels chaos in hulle eie gedagtes is.

    Hieronder gee ek vrae wat van nut kan wees – nie net by die opstel van ’n intervensieprogram vir ADHD nie, maar ook vir ander praktiese aspekte in die bestuur van die toestand. Dalk laat dit jou as ouer glimlag in die wete dat talle ander ouers dieselfde pad loop. Soos reeds genoem, sluit ek algemene antwoorde of kommentaar in en dui ek aan as daar geen duidelike patroon is nie. Vrae wat meer toepaslik is in ’n aanvangsonderhoud met volwasse ADHD-lyers, word verderaan in hierdie boek bespreek.

    Hou asseblief in gedagte dat die antwoorde gebaseer is op

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1