Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

1 Recce, volume 3: Onsigbaarheid is ons krag
1 Recce, volume 3: Onsigbaarheid is ons krag
1 Recce, volume 3: Onsigbaarheid is ons krag
Ebook385 pages7 hours

1 Recce, volume 3: Onsigbaarheid is ons krag

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Die Slag van Cuito Cuanavale is al dekades lank 'n bron van hewige konflik en emosie, maar tot nou toe was min bekend oor die Recces se teenwoordigheid en impak tydens dié omstrede gevegte.
In hierdie laaste boek van die spanningsvolle trilogie oor 1 Recce onthul Alexander Strachan, bekroonde skrywer en self  'n oud-Recce, meer oor die Recces se betrokkenheid daar.
Propvol spanning, adrenalien, hoogdrama en onvergeetlike vertellings deur oud-Recces wat dié ervarings eerstehands beleef het.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateMar 10, 2022
ISBN9780624088868
1 Recce, volume 3: Onsigbaarheid is ons krag
Author

Alexander Strachan

Alexander Strachan is op 9 Junie 1955 in die distrik Ladysmith in KwaZulu-Natal gebore. Hy matrikuleer in 1972 aan die Hoër Landbouskool Tweespruit. Ná studie in tale aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat (en later in literatuur-wetenskap aan Unisa) word hy professor in Zoeloe aan die Universiteit van Zoeloeland. Ná sy bedanking skryf hy voltyds en sit sy wildboerdery voort. Alexander is ’n vlot Zoeloespreker en hou hom deeltyds besig met industriële teater wat hy volledig via die medium van die inheemse tale aanbied. Alexander se debuutbundel kortverhale, ’n Wêreld sonder grense (1984), is met die Eugène Marais-prys bekroon. ’n Wêreld sonder grense maak saam met die werk van ander skrywers (soos JC Steyn, Etienne van Heerden en Koos Prinsloo) deel uit van grensliteratuur. Daarna verskyn die romans Die jakkalsjagter (1990) en Die werfbobbejaan (1994). Hiermee wen hy De Kat en Antenne se Groot Romanwedstryd, en vir laasgenoemde word hy bekroon met die WA Hofmeyr-prys. Met sy derde roman, Dwaalpoort (2010), wen hy wéér die W.A. Hofmeyr-prys. In 2015 verskyn sy mees onlangse werk, Brandwaterkom.

Read more from Alexander Strachan

Related to 1 Recce, volume 3

Related ebooks

Related articles

Reviews for 1 Recce, volume 3

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    1 Recce, volume 3 - Alexander Strachan

    9780624089810_FC

    Alexander Strachan

    1 RECCE

    ONSIGBAARHEID IS ONS KRAG

    Tafelberg

    Opgedra aan

    Genl.maj. Frederich Wilhelm Loots SSA SD SM

    Outeursnota

    1 Recce: Onsigbaarheid is ons krag is die derde en finale boek in die trilogie oor 1 Recce. Soos die vorige twee boeke is dit ’n vertelling van die wel en weë van dié besonderse eenheid se mense. Dit strek van 1981 tot 1996 toe die eenheid gesluit is. Die drie boeke volg dus chronologies op mekaar. Die eerste boek, 1 Recce: Die nag behoort aan ons, vertel van die vorming en stigting van hierdie spesialiseenheid en van enkele vroeë operasies. 1 Recce (volume 2): Agter vyandelike linies dek die tydperk van 1977 tot 1981. Dit begin met die soektog na dr. Jonas Savimbi en beskryf militêre operasies in die destydse Rhodesië (vandag Zimbabwe) en in Angola.

    Net ’n handvol van die baie operasies waarby 1 Recce betrokke was, kan in die trilogie behandel word. Dit gee die leser nietemin ’n baie goeie indruk van wat die daaglikse lewe van ’n Recce behels het.

    1 Recce: Onsigbaarheid is ons krag spring weg met Operasie Kerslig, ’n hoëprofiel- seewaartse operasie wat in die hart van Luanda – byna 3 000 km van 4 Recce se operasionele basis by Langebaan – afspeel. Dit was ’n gekompliseerde strooptog op die olieraffinadery in die stad se hawe – een met dramatiese voorvalle wat die Recces nie kon voorsien nie.

    In hoofstuk 2 – oor die Recces se herorganisering – kry die leser ’n verdere blik op die ontwikkeling van hierdie formidabele eenheid. Dit bevat staaltjies oor onder meer die stigting van hul eie kroeg in die woonkwartiere en die petaljes wat daarmee gepaardgegaan het. Daar word ook vertel hoe die bedrewenheidskenteken vir operateurs sy beslag gekry het.

    In nog een van die Recces se gereelde strooptogtake, Operasie Katiso, moes die brandstofverskaffing van Beira na Zimbabwe ontwrig word. Hoewel dit ’n seewaartse operasie was, moes die operateurs ’n klompie hindernisse op land oorkom om tot by die teiken en terug te kom – onder meer ’n rivieroewer met ’n mangrove-moeras wat hulle moes oorsteek. Hul vordering is aansienlik bemoeilik deur die stinkende modder waarin hulle vasgesuig is. Boonop het miljoene muskiete die manne geteister terwyl hulle hul moeisaam met sleep-aksies vorentoe getrek het.

    Om hulle met die omgewing vertroud te maak waarin hulle ’n operasie gaan uitvoer, het die Recces dit gewoonlik in soortgelyke toestande ingeoefen. In Operasie Equator (waarin hulle lokomotiewe en die rangeerwerf in die kusstad Lobito moes saboteer) sou hulle deur suikerrietlande moes beweeg om die teiken te bereik. Dus doen hulle ’n deel van die inoefening in die suikerrietplantasies naby Empangeni in Zoeloeland.

    Die leser kry in die vertelling oor Operasie Sea Warrior ’n blik op ’n diep-penetrasie-operasie met ’n ontplooiingstydperk van minstens drie maande. Die teikengebied was in sentraal-Angola waar hulle spoorvervoer moes ontwrig en terselfdertyd ook die Unita-guerrillamagte oplei. Die Recces se sesmanspan werk saam met Unita-spanne – wat hulle besonder goed van hul taak kwyt – om die treine en spoorlyne te saboteer. Hierdie ontplooiing staan onder meer uit vanweë die doeltreffende samewerking met Unita. Met die Recce-span se terugkeer ná drie maande was hulle byna onherkenbaar met hul lang hare en baarde.

    Die neerskiet van vliegtuie was hoog op die Recces se agenda. Dit is ’n besonder gekompliseerde en tegniese taak wat spesifieke vaardighede van die operateurs verg omdat allerhande probleme met die lansering van die grond-tot-lugmissiele dikwels opduik. In Operasie Sea Warrior 2 kry die leser ’n indringende blik op hierdie soort operasies.

    Ontsnap-en-ontwykingstegnieke vorm ’n belangrike deel van die operateurs se opleiding. In Operasie Gwarri word vertel hoe ’n verkenningspan wat deur die vyand ontdek is, oorleef het deur dié tegnieke toe te pas. Selde nog in die geskiedenis is twee operateurs so meedoënloos deur ’n vyandelike mag gejag. Voortgedryf deur hul sterk oorlewingsdrang en hul ervaring het die twee elke tegniek tot hul beskikking gebruik om nie in die hande van die vyand te val nie. Hul bomenslike poging is ’n voorbeeld van hoe ’n operateur homself steeds deur die bos voortsleep al het hy die einde van sy kragte bereik.

    Stuit die aanmars na Jamba! – die gevegte rondom Cuito Cuanavale – is in ’n mate die kulminasie van die boek en baie verteltyd word daaraan bestee. ’n Gemeganiseerde mag en artillerie is op ’n konvensionele wyse aangewend, maar die klem val hier op die Recces as die oë en ore van die gevegsgroepe se bevelvoerders. Hulle is maande lank tussen die Suid-Afrikaanse en vyandelike magte ontplooi in observasieposte waarvandaan hulle die vyand van naby kon dophou en vuurleidingsbevele oor die radio gee. Die Recce-spanne in Fapla-uniforms en met vreemde wapens het hulself so goed in die bos versteek dat daar selfs gevrees is dat die Suid-Afrikaanse gemeganiseerde aanmars bo-oor hulle sou ry wanneer hulle ’n Fapla-brigade aanval. Mettertyd was hul kleredrag in toiings en was hulle bykans onherkenbaar vir enige buitestander.

    Die boek word afgesluit met ’n vertelling oor die laaste Recce wat in ’n vuurgeveg gesterf het en die uiteindelike ontbinding van 1 Recce in 1996.

    In al die operasies waarna verwys word, was dit die Recces se doelwit om in die eerste plek onsigbaar vir die vyand te wees. Hulle het kontak vermy en hul onderskeie take ongesiens uitgevoer. Die subtitel van die boek, Onsigbaarheid is ons krag, is afgelei van 1 Recce se leuse, Through stealth our strength.

    ALEXANDER STRACHAN

    Woordelys

    HOOFSTUK 1

    Operasie Kerslig

    Vlammehel in die hart van Luanda

    Die verkenningspan beweeg in die rigting van die raffinadery in Luanda se hawe. Hulle is spoedig tussen geboue wat nie op die ou lugfoto’s en kaarte was wat hulle vooraf bestudeer het nie. Met eerstelig wat vinnig naderkom, is Jack Greeff bang dat hulle nie voor dagbreek hul beplande skuilplek gaan bereik nie. Hulle besluit om van skadukol tot skadukol deur die beboude gebied te beweeg. Die beskikbare nagtyd word nou min en hulle volg ’n geroeste draadheining na waar hulle yl, verspreide bosse sien.

    Onderweg sien Greeff donker voorwerpe voor hulle en toe hy met sy nagsigbril kyk, sien hy tot sy skok dat die heining om ’n groot voertuigpark is. Die twee besef hulle is in die middel van ’n militêre gebied. Hulle is vasgedruk tussen die voertuigpark oos van hulle en die platohelling en see aan hul westekant.

    Hulle bereik die yl bosse en vind ’n groot genoeg skuilplek met ’n groterige boom in die middel. Ongeag die min blaredekking wat dit bied, kan dit as ’n observasiepos gebruik word. Die bosse om hulle stink erg na menslike ontlasting, maar daar is nou nie meer genoeg nagtyd oor om ’n beter oplêplek vir die dag te soek nie.

    Sam Fourie maak hom gemaklik naby die boomstam en kamoefleer hul rugsakke deeglik met blare en gras. Greeff klim in die boom om die gebied beter te bespied. Hy los sy gekamoefleerde Uzi-submasjiengeweer teen die stam. Oral sien hy militêre voertuie en selfs ’n T-55-gevegstenk sowat 20 m van hul skuilplek. Met die aanbreek van eerstelig ontwaak Luanda en die span hoor voertuigverkeer en hawegeluide om hulle.

    Waar hy in die boom sit, hoor Greeff skielik duidelik die woord capitán (kaptein in Spaans) regs van hulle. Ek het my kop stadig gedraai en afgekyk op twee Kubaanse soldate in kamoefleerdrag sowat 30 m weg. Hulle het reg op ons afgeloop gekom. Ek het verstar en besef dat hulle my sonder twyfel sou sien as ek beweeg. Ek was in ’n boom vasgekeer met bykans geen blaarbedekking nie en dit ’n skrale 5 m bo die grond. Greeff laat sak sy regterhand stadig na die blieper aan sy linkerboarm, bliep ’n paar keer om Fourie te waarsku en bly toe doodstil. Hy het geen idee wat Fourie onder hom doen nie.

    Die twee Kubane het al nader aan die bos gekom en in ’n harde, opgewekte toon gepraat. Ek het die een uit die onderste hoek van my regteroog dopgehou. Hy het sy gulp oopgemaak en toe buite sig verdwyn. Ek het verwag om enige oomblik die gedempte skote uit Sam se Uzi met sy knaldemper te hoor, waarop ek uit die boom op die oorlewende Kubaan sou spring. Ek kon nie waag om te beweeg nie. Waar de duiwel is Sam en hoekom het hy hulle nie uitgehaal nie?

    Ná wat vir Greeff soos ’n uur gevoel het, blaas ’n voertuig se toeter iewers en die twee Kubane drafstap terug na die voertuig. Toe hulle buite sig is, klim hy uit die boom tot waar Sam Fourie grootoog sit. Hy het op my voet gepis terwyl hy my reguit in die oë kyk, sê hy verontwaardig. Fourie en hul uitrusting was so goed gekamoefleer dat die niksvermoedende Kubane hom nie raakgesien het nie.

    * * *

    Die aanloop tot Jack Greeff en Sam Fourie se verkenning het middel 1981 begin toe die Spesiale Magte se bevelvoerder, genl.maj. Fritz Loots, opdrag gegee het dat ’n uitvoerbaarheidstudie gedoen moet word om die Petrangol-raffinadery in Luanda aan te val en te vernietig. Die raffinadery het ’n taamlike groot gebied op ’n lae plato net noord van Luanda se hawe beslaan.

    Die Recces het reeds vorige suksesse behaal met soortgelyke operasies om die Angolese, Kubaanse en Swapo-magte se operasies in die suide van Angola te ontwrig. So het die vernietiging van die brandstofbergingsinstallasies ’n jaar tevore in Lobito se hawe (in Operasie Amazon)¹ ’n groot invloed op die vyand se brandstoftoevoer gehad. Daar was geen groot brandstofbergingsfasiliteit in Lubango, hoofstad van die Cunene-provinsie, of in Menongue in die Cuando Cubango-provinsie nie. Die Angolese moes dus brandstof van Luanda per pad na die suide van Angola vervoer, wat ’n groot logistieke probleem was.

    Reeds in 1977 het kmdt. Jakes Swart, toe 1 Recce se bevelvoerder, aan maj. Hannes Venter en lt. Coen Vlietstra, inligtingsoffisier, opdrag gegee om ’n uitvoerbaarheidstudie te doen oor hoe die vyandelike logistieke roetes in die Cunene- en Cuando Cubango-provinsie ontwrig kan word. Venter en Vlietstra het toe teikens van strategiese belang geïdentifiseer. Dit het onder meer die brandstofbergingsinstallasie in Lobito en Moçâmedes (tussen 1985 en 2016 bekend as Namibe) ingesluit, asook die olieraffinaderye in Luanda en Cabinda.

    Dit het onder meer tot Operasie Backlash gelei waarin operateurs van 1 Recce in Oktober 1979 ’n brug en ’n padoppervlak in die Serra da Leba-bergpas en die Humbia-treintonnel noord van die pas gesaboteer het. Venter en Vlietstra het ook vyandelike logistieke lugroetes geïdentifiseer en in November 1980 het spanne van 1 Recce gedurende Operasie Agony twee Antonov-26-vragvliegtuie en twee Mi-8-helikopters neergeskiet.²

    Die volgende teiken was Petrangol se raffinadery in Luanda wat petrol, diesel, LP-gas (LPG) en vliegtuigbrandstof geproduseer het. ’n Belgiese maatskappy, Petrofina SA, was ’n medeaandeelhouer en het die raffinadery bestuur. Die meeste van die produkte was vir interne gebruik en baie min is uitgevoer. Die oorlogspoging in die suide van Angola was van hierdie produkte afhanklik, dus was die raffinadery in Luanda ’n teiken van groot strategiese belang.

    Baie min inligting was beskikbaar en 1 Recce moes ’n verskeidenheid bronne gebruik om inligting in te samel. Ou kaarte, koerant- en tydskrifartikels en enige ander inligting waarop die inligtingsoffisiere hul hande kon lê, is bestudeer. Hulle het ook ’n ou swart-en-wit-video in die hande gekry oor die hawe en die gebied verder noord. Dit was van groot hulp omdat die voorgenome strandlandingsgebied duidelik op die video sigbaar was.

    Tydens die uitvoerbaarheidstudie moes onder meer strandlandingsplekke vir 4 Recce se bote, moontlike toegangsroetes na en van die teiken, die teikenuitleg en die beskerming daarvan geïdentifiseer word. Ssers. Jack Greeff moes ook ’n uitvoerbaarheidstudie doen om te bepaal of ’n nabyverkenning moontlik is.

    ’n Meer volledige prentjie van die raffinadery en die onmiddellike omgewing het begin vorm aanneem. Daar was sowat vyftig bergingstenks vir die verskillende petroleumprodukte asook twee groot balvormige LPG-tenks, drie distilleringtorings en ’n verwerkingsaanleg. Aan die een kant van die aanleg is ’n groot plakkerskamp en aan die teenoorgestelde kant ’n industriële gebied. Aan die westekant in die rigting van die see is dit oop, gebroke terrein met ’n sandoppervlak en klipperig. Hier en daar was kleinerige bosse wat min dekking teen sig en vuur gebied het. Teen die strand is dit baie skuins met vertikale grondformasies wat tot op die plato strek. Die tipiese karooplantegroei hier het beperkte dekking verskaf. Vanaf die plato is die strand direk onder duidelik sigbaar met een of twee plekke wat moontlik vir strandlandings geskik was.

    Suidwes van die raffinadery is die Lagostaspunt-ligtoring wat as navigasiehulpmiddel gebruik kon word. Daar was militêre ontplooiings in die omgewing, onder meer ’n 23 mm-lugafweerbattery sowat 500 m noordwes van die raffinadery en ook ’n polisiepos net suid daarvan. Veiligheidswagte en moontlik ook Fapla-troepe het die aanleg beskerm. Dit was dus beslis nie ’n maklike teiken nie.

    Nadat die uitvoerbaarheidstudie afgehandel is, het kol. Ewald Olckers, 1 Verkenningsregiment se bevelvoerder, Loots ingelig dat die operasie uitgevoer kan word mits aan die EEI’s (essensiële elemente van inligting) voldoen kan word. Om dié rede is aanbeveel dat ’n nabyverkenning deur 1 Recce uitgevoer moet word. Loots het die aanbevelings aan die Hoof van die Weermag, genl. Constand Viljoen, voorgelê. Viljoen gee opdrag dat die operasie beplan en teen einde November 1981 uitgevoer moet word. Die voorwaarde is steeds dat aan die EEI’s voldoen moet word.

    Teen hierdie agtergrond is Operasie Kerslig amptelik geregistreer met D-dag op 29 November 1981 – wat in die donkermaanperiode val.

    1 Recce kry opdrag om die operasie uit te voer en die nabyverkenning te doen. 4 Recce moet die bootspan verskaf asook die verkennerswemmers om die strandlandingspunte te verken. Loots was oorhoofs in bevel en die Spesiale Magte se aangewese nuwe bevelvoerder, brig. AJ (Kat) Liebenberg, (hy het in Januarie 1982 bevel by Loots oorgeneem en is tot generaal-majoor bevorder) vergesel die mag as waarnemer aan boord van die aanvalsvaartuig SAS Oswald Pirow. Liebenberg het saamgegaan sodat hy blootstelling aan die Spesmagte-operasies kon kry, spesifiek seewaartse operasies, wat vir hom vreemd was.

    Die SSO Ops Vloot by die Spesmagte-HK, kapt. (Vloot) Woody Woodburne, is die operasiebevelvoerder aan boord van die SAS Oswald Pirow, waar sy taktiese hoofkwartier (Tak HK) sal wees. Kdr. Arnè Söderlund is die vloottaakmag se bevelvoerder en kaptein van die SAS Oswald Pirow. Die SA Vloot verskaf ook ’n tweede aanvalsvaartuig, die SAS Jim Fouché met kdr. Fanie Uys as kaptein, en ’n ondersteuningskip, die hidrografiese SAS Protea met kapt. Bob Pieters as kaptein.

    Die SA Lugmag kry opdrag om ’n C-130- of C-160-vliegtuig te verskaf om tydens ontsnap-en-ontwykingsprosedures as Telstar (’n vliegtuig wat tydens operasies vir kommunikasiedoeleindes ontplooi word) te dien en ook ’n Wasp-helikopter wat aan boord van die SAS Protea moet wees. Die Afdeling Medies Spesiale Take (sedert 1987 bekend as 7 Mediese Bataljongroep) kry opdrag om ’n chirurgiese span met hul toerusting aan boord van die SAS Protea te ontplooi ingeval daar ernstige beserings is, asook twee dokters op elke aanvalsvaartuig.

    Die verkenning en die strooptog sal in ’n gekombineerde operasie uitgevoer word weens die groot afstand – Luanda is 1 500 seemyl (2 778 km) van Langebaan. Die twee aanvalsvaartuie, met kapt. Woodburne, brig. Liebenberg en die verkenningspan op die SAS Oswald Pirow, sal na die teikengebied vaar vir die verkenning. Die missiebevelvoerder, kmdt. André Bestbier, bevelvoerder van 1.1 Kommando by 1 Recce, en die strooptoggroep sal dan ’n paar dae later op die SAS Protea volg. Die twee aanvalsvaartuie sal ná die verkenning wes van Luanda by die SAS Protea aansluit. Kapt. Woodburne en brig. Liebenberg en die verkenningspan sal dan na die SAS Protea oorgeplaas word vir ’n inligtingsvoorligting deur die verkenningspan. Indien nodig, kan herbeplanning dan gedoen word. Aanvulling van die twee aanvalsvaartuie sal ook hier plaasvind.

    Op D-dag sal kapt. Woodburne, brig. Liebenberg en kmdt. Bestbier saam met die strooptoggroep met die twee aanvalsvaartuie na Luanda vaar terwyl die SAS Protea in ’n hougebied wes van Luanda bly. As die verkenningspan nie al die EEI’s kan bevestig nie of meen dat die operasie nie suksesvol uitgevoer kan word nie, of as die plan heeltemal verander moet word – wat verdere opleiding noodsaaklik sal maak – sal Woodburne die operasie kanselleer en die mag sal na Langebaan terugkeer.

    Die konsepplan is goedgekeur en 1 Recce en 4 Recce het in hul onderskeie eenhede met gedetailleerde beplanning begin. Alles is deur die operasiebevelvoerder, kapt. Woodburne, gekoördineer. Bestbier en die strooptoggroep se bevelvoerder, kapt. Douw Steyn van 1 Recce, en die spanleiers het ure in die beplanningskamer deurgebring om kaarte en alle ander beskikbare dokumente en inligtingsverslae in detail te bestudeer.

    Die operateurs weet iets is aan die broei maar het geen idee wat en waar nie. Ook sers. Roy Vermaak let die bedrywighede op. Die eerste vloer van die HK-gebou by 1 Recce was die ops-vloer en het aan 1.1 Kommando [bekend as die Kommando] behoort. Operasionele aandenkings van die Kommando is met trots in die HK-vleuel uitgestal, van gebruikte SAM-7-lanseerders en dele van vliegtuie wat neergeskiet is tot kampanjeskilde. Operasionele foto’s is in die goed beveiligde opskamer oorkant die bevelvoerder se kantoor uitgestal. Die leierselement was in en uit die opskamer en ons ander range het geweet die SAW se hoogs ontwikkelde operasionele beplanningsproses het in alle erns begin.

    Die fyn uitgewerkte plan is aan genl.maj. Loots en die onderskeie hoofde van die weermag, lugmag en vloot vir finale goedkeuring voorgelê. Genl. Viljoen het ’n paar vrae gehad en dit toe goedgekeur.

    Opleiding het nou in alle erns begin. Daar is daagliks oefeninge om die reeds superfikse Recces nog fikser te maak. Hulle hardloop op die strand en in kniediep water, doen roetemarse met volle gevegsuitrusting en swaargelaaide rugsakke asook strawwe swemoefeninge in die vloot se swembad in die Durbanse hawegebied. Die operateurs is opgewonde want iets is aan die gebeur.

    Hulle oefen dag en nag infiltrasietegnieke, hindernisoorsteking oor keerwalle, mure en draadheinings, kontakdrills, mediese prosesse en die afvoer van verliese – ’n werkdag van 16 uur. Elkeen weet presies wat van hom verwag word. Die spanne oefen ook tot vervelens toe hoe om kleefmyne teen brandstoftenks te plaas. Dit is dieselfde tipe kleefmyne wat in Operasie Amazon gebruik is, maar dié keer met nuwe tydmeganismes wat ’n teenligmeganisme insluit. Dit is ontwikkel deur EMLC (’n hoogs gespesialiseerde en geheime ingenieursmaatskappy wat spesiale toerusting aan Spesmagte verskaf het)³.

    Die spanleiers besoek die olieraffinadery in Durban om vertroud te raak met die tipiese uitleg en funksionering van sulke aanlegte. Intussen het AO1 Peet (Pote) Coetzee, 1 Recce se lugfotovertolker, ’n baie akkurate skaalmodel van die teiken gebou. Die operateurs bou ook mock-up’s van die teiken op die Bluff by die ou walvisstasie. Hulle weet egter steeds nie waar en wat die teiken is nie. 1 Recce se teeninligtingsoffisier werk hard om OPSEK (operasionele sekerheid) tot die letter toe te pas. Naamlyste is opgestel van almal wat kennis dra van die operasie. Hy het ook verseker dat dokumente agter slot en grendel is en niemand behalwe die leierselement in die beplanningskamer toegelaat word nie.

    Die spanne oefen snags in die Durban-omgewing om groot elektriese substasies aan te val. Hulle het nabyverkennings uitgevoer, toegangsroetes bepaal, beligting bestudeer en die aantal wagte en hul paraatheid dopgehou om swakpunte te identifiseer. Kpl. Piet (Vaatjie) van Zyl onthou ’n voorval tydens ’n oefening:

    "Daar was twee wagte met ’n hond by die hoofhek van ’n groot substasie. In die noordoostelike hoek was ’n sekuriteitslig buite werking. Ons het besluit om daar ’n gat in die heining te knip, in te gaan en ons ‘kleefmyne’ op die transformators te plaas. Die wagte het ’n klokstelsel gebruik waarvolgens hulle elke 30 minute ’n elektroniese apparaat teen ’n kontakpunt moes druk om hul rondtes te registreer. Ons het die draad geknip en deur die gat begin kruip toe die hond ons gewaar en begin blaf. Hier kom die moeilikheid nou, het ons gedink, en reggemaak om die sekuriteitsbestuurder oor die radio te roep. Tot ons verbasing kom die wag by die waghuis uit, skop die hond – wat toe in sy hok terugkruip – en loop terug die waghuis in. Ons het ‘myne’ teen al die transformators geplaas sonder dat die

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1