ANTARKTIKA Deel 2 REISJOERNAAL
Die sneeubedekte spitse van Suid-Georgië-eiland verskyn bo die waterhorison ná 1 450 km se oopsee van die Falkland-eilande, waar ons laas land gesien het. ’n Eiland só afgesonder soos hierdie word slegs per toeval ontdek. Dis die eerste keer in 1675 gewaar nadat ’n skip wat om die suidpunt van Suid-Amerika gevaar het, tydens ’n storm van koers af gewaai is.
Presies ’n eeu later is kapt. James Cook en van sy makkers aan boord die HMS Resolution die eerstes wat die moeite doen om voet aan wal te sit. Hulle vuur ’n salvo of twee af en kleim dit in die naam van koning George III van Engeland. Maar hulle was eintlik op soek na Antarktika, en toe hulle om die onderste voet van die eiland vaar, doop hulle dit terstond Cape Disappointment.
In die laat 1700’s en regdeur die 1800’s word Suid-Georgië gereeld besoek deur robjagters, en later walvisjagters. Dié geharde lotjie word die eerste mense om hier te deurwinter. Wat dryf hulle? Die profyt wat gemaak word met die pelse van robbe, asook die vet van see-olifante en walvisse wat afgekook word tot olie.
Suid-Georgië is sekelvormig, sowat 170 km lank en nêrens breër as 40 km nie. Hier lê gletsers in diep valleie en die hoogste berg, Mount Paget, is teen 2 934 m een van 13 pieke hoër as 2 000 m. Omdat die oorheersende winde van die suidweste af waai, is dit aan die noordoostelike kus waar mens en dier beskutting vind. Al die ou walvisstasies was hier, en op die oop strande trek verskeie pikkewynspesies, Antarktiese pelsrobbe en logge see-olifante (ook genoem die suidelike olifantrob) vroeglente hulle lywe uit die water om te paar en eiers te lê of kleintjies te kry.
Dié superkolonies is in die visier van ons groep van byna 80 ywerige natuurlewefotograwe. Ek en sowat 20 ander gaste is hier saam met Guts Swanepoel en Pangolin