Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

1 Recce, volume 2: Agter vyandelike linies
1 Recce, volume 2: Agter vyandelike linies
1 Recce, volume 2: Agter vyandelike linies
Ebook395 pages6 hours

1 Recce, volume 2: Agter vyandelike linies

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

1 Recce: Agter vyandelike linies neem die leser tot in die Recces se "binnekamer". In hul eie woorde vertel Recce-operateurs van die lewensgevaarlike operasies wat hulle onder groot geheimhouding in die laat 1970's in Angola, Rhodesië en Mosambiek uitgevoer het. Operateurs sweet in vliegtuie of in duikbote diep onder die see. Hulle trotseer in die nagdonker riviere vol krokodille. Recces plaas springstof in 'n tonnel diep in vyandelike gebied en omskep 'n groot brandstofbergingsplek in 'n Angolese hawestad in 'n vlammehel. Daar was hewige vuurgevegte, oorwinnings, maar ook verliese . . . Dié wat daar was vertel van die spanning, afwagting, vrees, adrenalien, moegheid, dors en hartseer wat hulle beleef het, maar ook van die humoristiese momente en die hegte vriendskapsbande wat hulle gesmee het. 1 Recce: Agter vyandelike linies is Alexander Strachan, bekroonde skrywer en gewese Recce, se vervolg op sy topverkoper 1 Recce: Die nag behoort aan ons.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateMar 10, 2020
ISBN9780624085218
1 Recce, volume 2: Agter vyandelike linies
Author

Alexander Strachan

Alexander Strachan is op 9 Junie 1955 in die distrik Ladysmith in KwaZulu-Natal gebore. Hy matrikuleer in 1972 aan die Hoër Landbouskool Tweespruit. Ná studie in tale aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat (en later in literatuur-wetenskap aan Unisa) word hy professor in Zoeloe aan die Universiteit van Zoeloeland. Ná sy bedanking skryf hy voltyds en sit sy wildboerdery voort. Alexander is ’n vlot Zoeloespreker en hou hom deeltyds besig met industriële teater wat hy volledig via die medium van die inheemse tale aanbied. Alexander se debuutbundel kortverhale, ’n Wêreld sonder grense (1984), is met die Eugène Marais-prys bekroon. ’n Wêreld sonder grense maak saam met die werk van ander skrywers (soos JC Steyn, Etienne van Heerden en Koos Prinsloo) deel uit van grensliteratuur. Daarna verskyn die romans Die jakkalsjagter (1990) en Die werfbobbejaan (1994). Hiermee wen hy De Kat en Antenne se Groot Romanwedstryd, en vir laasgenoemde word hy bekroon met die WA Hofmeyr-prys. Met sy derde roman, Dwaalpoort (2010), wen hy wéér die W.A. Hofmeyr-prys. In 2015 verskyn sy mees onlangse werk, Brandwaterkom.

Read more from Alexander Strachan

Related to 1 Recce, volume 2

Related ebooks

Related articles

Reviews for 1 Recce, volume 2

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    1 Recce, volume 2 - Alexander Strachan

    Alexander Strachan

    1 RECCE

    AGTER VYANDELIKE LINIES

    Tafelberg

    Opgedra aan al die operateurs

    en ondersteuningspersoneel van 1 Recce.

    Outeursnota

    Tydens die skryf van 1 Recce Die nag behoort aan ons, was dit gou duidelik dat daar te veel materiaal is om in ’n enkele boek te pas. Dié boek is dus geskryf met die gedagte dat nog volumes sou volg om die verkenningseenheid 1 Recce se geskiedenis meer vol­ledig te vertel.

    Waar die eerste boek oor die tydperk van 1966 tot die laat 1970’s gaan, begin 1 Recce Agter vyandelike linies in 1977 en dek die gebeure tot einde 1980.

    Dit is nie ’n akademiese werk of ’n militêre doktrine nie. Die boek is ’n vertelling van die wel en wee van 1 Recce se operateurs en ondersteuningspersoneel wat aan spesiale operasies deelgeneem het. In kort dus: Hoe dit was om destyds ’n Recce te wees. Die leser kry ’n blik op hierdie uitsonderlike groep mense se daaglikse belewenisse in moeilike situasies.

    1 Recce was die moedereenheid waaruit ook die huidige Recces ontstaan het, wat vandag (2020) sterk in getalle en besonder aktief is. Kenmerkend van die Recces dra die hedendaagse groep steeds die maroen baret met die kompasroos asook dieselfde operateurskenteken op die bors. Hulle word aan streng opleiding onderwerp en sit onder groot geheimhouding die Spesiale Magte-tradisie in die nuwe era voort, waar hulle klandestien en onder dekking in die buiteland ontplooi word.

    Van die operasies wat behandel word, is dalk bekend, maar met hierdie vertelling word die leser tot binne-in die vliegtuig of duik­boot geneem en aan die fyner besonderhede van ’n Spesmagte-operasie blootgestel. Daar word spesifiek na die Recces se ervarings gekyk en veral gefokus op hoe die individu die oorlog beleef het. Die klem val op die besondere en nie die algemene nie – die doel is dus nie om dié eenheid se plek in ’n groter militêre konteks te plaas of te bespreek nie. Die oogmerk is veel eerder om die leser tot in die Recces se binnekamer te neem deur nie net inligting oor spesiale operasies te verskaf nie, maar ook anekdotes en persoonlike en humoristiese momente te deel.

    Bykans al die destydse spanleiers het tydens operasies aanteke­ninge gemaak wat ook as dagboek gedien het van hul ervarings as Spesmagte-operateurs. Hierdie persoonlike aantekeninge is die hoof­bron waaruit hulle gedurende onderhoude oor spesifieke opera­sies geput het.

    Ek neem kennis van bestaande operasionele verslae, maar het gevind dat die persoonlike aantekeninge wat tydens operasies ge­maak is, ’n akkurater weergawe van die kleiner dinge gee. In sommige militêre verslae word mense byvoorbeeld as operasiebevelvoerders aangedui terwyl hulle glad nie deel van die operasie was nie. Dit beteken geensins dat operasionele verslae nie steeds ’n goeie oorkoepelende visie van die operasies verskaf nie. Maar die persoonlike aantekeninge gee die leser ’n blik op die spanning, afwagting, vrees, adrenalien, moegheid, dors en hartseer wat operateurs ervaar het. Dit laat die leser deel in die reuk van die slagveld en die vriendskapsbande wat gesmee word.

    In 1 Recce Agter vyandelike linies steun ek op hierdie persoonlike onderhoude met die betrokkenes. Die inligting is ook vir veri­fikasie voorgelê aan verskillende mense wat deel van ’n operasie was. So is daar telkens konsensus bereik oor gegewens voordat ek dit in die boek opgeneem het.

    In die eerste boek, 1 Recce Die nag behoort aan ons, is heelparty verwysings na die Rhodesiese Bosoorlog – hier word dit nou vollediger behandel. Die Recces was in Rhodesië (vandag Zimbabwe) by so baie operasies aan die sogenaamde Russian Front in Mosambiek se Gaza-provinsie betrokke dat almal nie hier ingesluit kan word nie. Daar word dus net op enkele sleuteloperasies gefokus. Dit sal die leser ’n goeie begrip gee van hoe 1 Recce hierdie operasies in die buiteland uitgevoer het.

    Heelwat aandag is in die eerste boek aan die vorming van die eenheid gegee en dit word as afgehandel beskou. In 1 Recce Agter vyandelike linies val die klem grotendeels op die operasies en kry die leser minder uiteensettings en meer beskrywings van die Recces se operasionele aanwending.

    Die konflik het in intensiteit toegeneem en spesialisoperasies is klandestien uitgevoer, seewaarts, landwaarts en lugwaarts. Die Recces is nie meer by infanteriewerk of basisaanvalle betrek nie. Verkenning en sabotasietake was nou die oogmerk. Daar is gefokus op strategiese operasies, onder meer om vliegtuie neer te skiet, brûe en treintonnels op te blaas en brandstofbergingsplekke te saboteer. Nuwe operateurs het na vore getree en daar was ’n groot ontwikkeling in gevorderde tegnologie, waaronder moderne uitrusting, radio’s en wapentuig.

    Angola bly ’n belangrike gegewe in die Grensoorlog. Die boek begin dan ook in dié land met ’n soektog na die Unita-leier, dr Jonas Savimbi, in die beboste en afgeleë oostelike deel van Angola. Daarna skuif die fokus 2 000 km weg na Rhodesië en word ’n verskei­denheid bosoperasies behandel – almal deel van die oorkoepelen­de Operasie Acrobat. 1 Recce se Alpha- en Bravo-groep los mekaar in hoogs geheime omstandighede in Rhodesië af. Hulle tree van­af hul operasionele basis op Mabalauta militêr in Mosambiek se Gaza-provinsie teen Frelimo en Zanla op. Die Recces deel dié basis met die Rhodesian Special Air Service (SAS)¹. Hulle het be­perkte lugsteun en word by geleentheid ook saam met die Rhode­sian Light Infantry (RLI) ontplooi.

    Die Rhodesiese ontplooiings word gekenmerk deur hewige vuur­gevegte, oorwinnings en ook verliese. In Desember 1979, met dié land se demokratiese verkiesing op hande, word begin om die Recces net so stil en geheimsinnig as wat hulle gekom het, uit Rhodesië te onttrek. Hoewel die oorlog aan die Angolese front nooit gedurende die Rhodesiese fase onderbreek is nie, fokus die Recces ná hul onttrekking nou weer ten volle op Angola.

    Met al die operateurs terug in Angola was daar ’n aantal unieke bosoperasies in dié landstreek waaroor geskryf word, onder meer die neerskiet van vyandelike vliegtuie en die sabotasie van strategiese teikens. Die boek sluit af met ’n epiese seewaartse operasie aan die weskus van Angola – ’n operasie waarin die Recces by uitstek op hul veelsydigheid moes staatmaak onder omstandig­hede totaal anders as in die Rhodesiese Bosoorlog. Die Recces se verkenningspan is in ’n duikboot na die teiken gebring en in ’n opvolgoperasie het die sabotasiespanne in aanvalsvaartuie geïnfiltreer. Dit het bekend gestaan as Operasie Amazon en het uitsonderlike deursettingsvermoë en inisiatief vereis.

    ALEXANDER STRACHAN

    Afkortingslys

    Inleiding

    Recces raap Savimbi voor vyand weg

    "Dit was omstreeks 23:00 toe die vlieënier sê ons nader nou die gebied waar ons gaan uitspring. Die vliegtuig skakel oor na die Unita-frekwensie en Unita antwoord sowaar en sê: ‘Reg so, maak gereed om die springers af te laai’. Hulle sê hulle kan die vliegtuig hoor en gaan nou die vure aansteek … En wragtig, doer onder sien ons hoe die driehoek vure skielik helder begin brand.

    "Ons is so effens van lyn af en die vlieënier moet ’n geringe aan­passing in sy aanloop maak. Toe gaan staan ons al drie agter in die vliegtuig op die ramp. Die laaimeester lê by die deur uit, hy wys met sy duim op. Op daardie oomblik gaan die groen springlig aan en hy swaai sy duim ondertoe – die teken waarop ons gewag het. Ons hou aan mekaar vas en gaan in ’n linked exit uit."

    Oomblikke ná die sprong loer Hennie Blaauw vinnig en sien dat hulle feitlik regoor die drie vure is – meer akkuraat kon hulle nie gespring het nie.

    Ons los mekaar, beweeg weg en maak die valskerms oop. Toe ek weer afkyk, sien ek ja, ons is steeds regoor daai drie vure.

    Dit was ’n helder maanligaand en Blaauw en sy twee makkers – Amilcar Queiroz en Gert Eksteen – land sonder probleme naby mekaar in die shona waar die vure aangesteek is. Hulle groepeer vinnig en sorteer die valskerms uit.

    Toe staan ons daar in die maanlig. Nie lank nie of ons sien hier kom gedaantes uit die donker na ons toe aan.

    Queiroz, ’n Angolees, praat Umbundu vlot en hy daag hulle. Umbundu word in Unita-kringe gepraat terwyl die regerende MPLA se soldate Kimbundu praat. Dit was die drie Recces se eskort wat hulle ingewag het.

    Die groep vat ons valskerms oor en daar gaat ons. Ons het net ons rugsakke op want ons valskerms word vir ons gedra. Hulle loop uit die shona in ’n noordelike rigting tussen die bome in. Sowat twee uur later, tussen 02:00 en 03:00, kom hulle by die Unita-basis aan waar hulle slaapplek kry en hul rugsakke en uitrusting afpak.

    In daardie stadium van die oorlog het Unita nie geweet waar hul leier, dr Jonas Savimbi, hom bevind nie. Die drie Recces se opdrag is om ’n soek- en reddingsoperasie onder uiters riskante omstandighede uit te voer en Savimbi te vind. Dit was die tweede poging nadat die eerste een afgelas is omdat inligting daarop gedui het dat Savimbi nie in die Cuando Cubango-provinsie was nie.

    Die volgende dag ontmoet hulle die basisbevelvoerder, genl Chi­wale, toe hoof van Unita se gewapende magte. Chiwale was ’n lang indrukwekkende man, baie gespierd en ’n aangename persoon. Hy het ’n goeie indruk op hulle gemaak en kon ’n bietjie Engels praat, genoeg om hom te verstaan.

    "Hy sê toe vir ons dat hulle nog nie presies weet waar Savimbi is nie, maar hy is uit die noorde in aantog. Ons hang toe maar daar in die basis rond, het ’n bietjie gewas en so aan. Die laaste paar dae het dinge vinnig gebeur. Sondag was ons nog in Durban, Maandagaand het ons ingespring en Dinsdagoggend word ons in ’n Unita-basis wakker.

    "Daardie aand nooi Chiwale ons vir aandete in ’n mooi plek wat hulle in ’n groot hut voorberei het. En die vreemdste ding van alles is die twee elektriese orkeste daar in die oerwoud, in die middel van nêrens. Hulle het mekaar afgelos. Daar is vroue ook, mooi aangetrek, en hulle kap dit uit op die dansvloer. Ek kan nie glo alles gebeur hier in die bos nie.

    Ná die ete gaan sit ons weer, maar hulle sê: ‘O, nee, nou moet julle dans!’ Dit was omtrent ’n storie gewees. En die Boere dans en ek sê vir Gert: ‘As ons voorvaders ons nou moes sien het hulle boedel oorgegee, heeltemal boedel oorgegee.’

    * * *

    Ná Operasie Savannah² is die laaste Suid-Afrikaanse magte teen 27 Maart 1976 uit Angola onttrek, met die gevolg dat die regerende MPLA en sy weermag, Fapla, die weerstandsbeweging Unita verdryf het uit al die dorpe en gebiede wat onder hul beheer was.

    Die Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) het ook alle kontak met Savimbi verloor. Selfs maj Isaías Samakuva, Unita se skakeloffisier op Rundu in die destydse Suidwes-Afrika (vandag Namibië), het nie geweet waar sy leier hom bevind nie. Hy het die SAW daar gevra om dringend te help om Savimbi op te spoor en hom vir sy eie veiligheid uit Angola te kry.

    Ná Operasie Savannah was die Suid-Afrikaanse regering heeltemal op sy eie in die SWA-Angola-konflik, sê genlmaj Chris Thirion, destyds adjunkstafhoof Militêre Inligting (MI) in die SAW. Van die verwagte Amerikaanse steun het niks gekom nie. Daar was slegs internasionale veroordeling van alle militêre optrede op Angolese grondgebied.

    Suid-Afrika was dus dringend op soek na militêre bondgenote. Met Portugal se onttrekking uit sy Afrika-provinsies in die middel 1970’s en die onafhanklikwording van Angola en Mosambiek het die situasie in Suider-Afrika ingrypend verander. Angola se buurstate (met die uitsondering van Suid-Afrika) het die MPLA as die land se nuwe wettige regering erken. Dit het die twee Angolese weerstandsbewegings, die FNLA en Unita, spoedig geïsoleer. Die MPLA het onmiddellik sy voortgesette steun aan die South West Africa People’s Organization (Swapo) en sy militêre vleuel, Plan, aangekondig.

    Die buurstate se steun aan die MPLA-regering het Unita van sy hulpbronne afgesny. Met die Russies-Kubaans-gesteunde MPLA as ’n gemeenskaplike vyand het Suid-Afrika en Unita dus gedeelde belange gehad, sê Thirion. Die sluit van ’n militêre verdrag was ’n logiese uitvloeisel hiervan – ‘my enemy’s enemy is my friend’.

    Enkele maande tevore nog het Suid-Afrika die Portugese in Angola gesteun en was Unita die vyand. Maar in die wêreld van die internasionale politiek en konflikte is daar nie permanente vyande of permanente vriende nie – daar is slegs eie belange. Dit het Suid-Afrika gepas dat Unita die uitgestrekte en afgeleë Cuando Cubango-provinsie noord van die SWA-Angola-grens beheer het.

    Volgens Thirion is ’n strategiese tipe militêre samewerkings­ooreenkoms toe voorgestel. Die probleem was egter dat Savimbi nie in die hande gekry kon word nie. Hy het iewers in Oos-Angola ’n oorlewingstryd gevoer en nie eens sy eie mense het met hom kontak gehad nie. Dit het tot maj Samakuva se versoek gelei dat die SAW moet help om hul leier op te spoor en te red.

    Die soek- en reddingsoperasie, uitgevoer onder uiters riskante omstandighede deur ’n klein groepie Spesiale Magte-operateurs van 1 Recce, was ’n belangrike gebeurtenis, sê Thirion. Dit was die eerste stap in die vorming van ’n militêre verdrag wat aan die SAW noodsaaklike taktiese beweegruimte sou bied wat oor langer as ’n dekade sou strek.

    * * *

    Bepaalde prosedures is gevolg voordat die opdrag gegee word om so ’n reddingsoperasie in die buiteland uit te voer.

    Spesiale Magte (Spesmagte) is onder direkte beheer van die hoof van die SAW en nie die hoof van die leër nie. Die hoof van staf Militêre Inligting (MI) moet versoeke aan Spesiale Magte se bevel­voerende generaal voorlê, wat dan sal besluit of dit ’n taak vir Spesmagte is en of dit uitvoerbaar is. Indien wel, doen hy aanbevelings oor hoe dit uitgevoer kan word. Dit word dan aan die hoof van die weermag voorgelê vir kommentaar en finale goedkeuring.

    Eers daarna kan die gesamentlike beplanning tussen Spesmagte en die kliënt voortgaan, waarna Spesmagte die operasie sal uitvoer. Die kliënt in hierdie geval was MI, wat die SAW en in werklik­heid Suid-Afrika se steun aan Unita beheer het.

    Met die eerste soektog na Savimbi het 1 Recce se bevelvoerder, kmdt Jakes Swart, van die Spesmagte-HK opdrag gekry om ’n klein­span te aktiveer. Die lede was maj Hennie Blaauw en twee Angolese, ssers Mourão da Costa en sers Amilcar Queiroz. Al drie was in Durban gestasioneer.

    Hulle het dadelik na Pretoria vertrek. By die Spesmagte-HK is hulle ingelig om na Rundu te vlieg. Daar moes hulle aansluit by die MI-skakeloffisier wat met Unita se skakeloffisier saamgewerk het. Die span sou dan verdere instruksies ontvang en voortgaan met die beplanning van en ontplooiing vir die operasie.

    Die probleem was egter dat Unita nie geweet het waar Savimbi is nie. Die Unita-skakeloffisier stel toe voor dat hulle in die ooste van Angola begin soek, in die Cuando Cubango-provinsie, wat aan Zambië grens. Unita se sekretaris-generaal, maj Nzau Puna, was in daardie stadium ook op Rundu.

    Hulle het na Bagani gery waar hulle met die brug oor die Okavango-rivier is. Daarna is hulle op ’n ou Portugese bospad al dieper Angola in.

    Amilcar Queiroz het ’n interessante geskiedenis. Hy was in ’n vroeë stadium van Operasie Savannah nog ’n aktiewe Unita-lid maar het Unita later in die konflik verlaat en hom by die Suid-Afrikaanse Spesmagte aangesluit. Hy was ’n besonder waarde­volle lid omdat hy, buiten sy ander hoedanighede, ook Portugees en Frans magtig was.

    In sy vroeë oorlogsdae het hy op dieselfde bospad geloop wat die groepie nou in hul soektog na Savimbi gevolg het. Fapla en die Kubane het tydens ’n operasie ’n hinderlaag op die pad gelê. Quei­roz het die aanval oorleef, maar een van sy makkers, Klein-Robbie Ribeiro, is daar dood.³ Queiroz het ná die aanval suid met die rivier langs na die dorpie Dirico geloop, en daarvandaan na die SWA-grens waar hy hom weer by die Suid-Afrikaners aangesluit het. Toe die Recces nou die plek van die hinderlaag bereik, het Queiroz die oorblyfsels van die loopgrawe aan Blaauw uitgewys.

    Jagters en houtkappers het vroeër die pad gebruik om noord na Coutado do Mucusso in die Cuando Cubango-provinsie te gaan. "Dit was ’n sanderige tweespoorpad wat byna toegegroei was en mens aan die kaplyn⁴ herinner het," vertel Blaauw.

    ’n Klein Unita-eskort op twee Unimogs wat MI beskikbaar ge­stel het, het die drie Recce-operateurs vergesel. Die eskort het ook opgetree as ’n soort lyfwag vir Puna, wat ook saam was.

    Hulle het die hele dag aan die sowat 120 km gery en laat die middag by Coutado do Mucusso – ’n klein Portugese nedersetting aan die Luiana-rivier – aangekom. Daar was ’n klein Unita-element wat nie eintlik na ’n militêre organisasie gelyk het nie. Ons kon geen inligting by hulle kry nie, vertel Blaauw, want hulle het geen idee gehad waar Savimbi is nie. Om die waarheid te sê, hulle het nie eens geweet wat ons daar kom doen nie. Puna het met hulle probeer gesels, maar hy kon niks wys word nie, hulle was heeltemal oningelig.

    Die span het die aand daar geslaap en die volgende oggend in ’n noordwestelike rigting al teen die Luenge-rivier opbeweeg. Om­dat dit winter was, het die rivier net uit waterkuile bestaan wat hulle taamlik maklik kon oorsteek. Ondanks die winter was die dae ongelooflik warm. En saam daarmee was daar vlieë – tsetse­vlieë en mopanievlieë. Oral om, oor en op jou, vlieë en nogmaals vlieë. Dit was ’n verskriklike affêre.

    Teen die middag het hulle gestop en besluit om die res van die dag daar te bly. Hulle het ’n lekker pot kerrie gemaak, goed geëet en toe onder die bome ontspan. Net toe hulle klaar geëet het, kom Puna na die Recces toe en sê hulle gaan nou stap, steeds op die roete maar nou te voet.

    In ’n stadium kom hulle by ’n poel water so groot soos ’n halwe rugbyveld in die rivier en daar is ’n seekoei in die water. Puna het ’n Amerikaanse militêre geweer by hom gehad en hy wil die seekoei skiet. "Elke keer as die seekoei sy kop uitsteek, skiet hy op hom. En dan duik die seekoei. Ons het seker ’n uur daar deurgebring terwyl ons nie kan verstaan hoekom hy dit doen nie. Dalk het hy gedink die Unitas kon die seekoei eet.

    Dit het my die hel in gemaak want ons is op die hitte van die dag uit die basis gejaag en nou staan ons hier by ’n poel water en hy skiet op ’n seekoei. Die rivier het glad nie daar gevloei nie en die waterkuil was stil. En Puna kry om die dood nie die seekoei raakgeskiet nie. Ná ’n klomp skote gee hy op en ons loop weer verder.

    Hulle is al langs die rivier op tot waar dit noord draai in die rigting van Mavinga, wat die naaste dorp was. Maar dit was nog ’n goeie 100 km van ons af.

    Die volgende dag sluit ’n klein groepie Unitas by hulle aan. Hulle was van Mavinga se omgewing met ’n bevelvoerder, kol Francisco, by hulle. Blaauw vermoed dat Puna heeltyd van die groe­pie se teenwoordigheid geweet het. Daar was geen vyand in die gebied nie omdat dit heeltemal te afgesonder was.

    Die bevelvoerder vra toe deur Puna of ons hom kan help. Dit was nadat die twee eers lank gesels het. Die groepie wou Mavi­n­ga aanval en wou weet of die Recces hulle met die operasionele beplanning kan bystaan.

    Toe sit ek, Mourão en Amilcar daar onder die bome en luister na die bevelvoerder se plan. Ek het gelukkig ’n kaart by my gehad van die hele Cuando Cubango-gebied. Daar was ’n paar dinge wat ek wou weet: Watse tipe magte het hy, waar is hulle, wat is hul logistieke vermoë en met watter wapens is hulle toegerus? Ek wou ook weet wie die vyand is en hoe sterk hulle is? Die bevelvoerder was besonder vaag oor die vyand en ek kon nie vasstel of dit Fapla of miskien ’n ander mag is nie. Al wat hy kon sê was dat daar Faplas op Mavinga was.

    Die man het nie geweet waar Savimbi is nie, maar het wel be­vestig dat hy nie in die Cuando Cubango-provinsie is nie. Daar was dus geen sin om langer te bly nie. Die span het omgedraai en al die pad teruggestap na die voertuie toe. Die uittog het niks opgelewer nie, behalwe dat hulle nou geweet het dat Savimbi nie in die provinsie is nie.

    Hulle het die voertuie ná sowat ’n dag en ’n half bereik en die nag daar geslaap. Die volgende dag is hulle terug na Coutado do Mucusso en het weer die ou bospad gevolg en die rivier by Bagani oorgesteek. Uiteindelik, twee weke ná hul vertrek, was hulle terug op Rundu.

    Die enigste belangrike inligting wat ons ingewin het, was dat Savimbi nie in die Cuando Cubango-provinsie was nie. Ek het Unita se skakeloffisier, Samakuva, en MI se skakeloffisier ingelig. Die drie Recces is hierna terug Durban toe, maar het eers in Pretoria geland waar Blaauw by die Spesmagte-HK verslag gedoen het. Hy het ook genoem dat Unita besluit het dit is die einde van die saak omdat hulle geen verdere inligting het nie. As die situasie in die toekoms verander, sou ons hopelik weer ontplooi word.

    Hulle het laat die Vrydagmiddag by die Bluff in Durban aan­gekom. Vroeg die Sondagoggend bel kmdt Swart en sê Blaauw moet dadelik hoofkwartier toe kom. Die ander twee spanlede was reeds daar. Hulle moet so gou as moontlik terug Pretoria toe want die operasie wat afgelas was, gaan nou weer voort.

    Mourão da Costa was egter klaar geoormerk vir ’n ander ope­rasie. Daar word toe besluit dat Gert Eksteen in sy plek sal gaan. Hulle moet nog dieselfde dag op die een of ander wyse vertrek. Swart skakel inderhaas met die lugmagbasis in Durban en daar is gelukkig ’n Dakota wat na Pretoria moet vlieg. Omdat dit so dringend is, sal die Dakota sommer die Sondagmiddag al vlieg.

    Almal skarrel nou om hul uitrusting weer reg te kry. Hul gewaste kamoefleerdrag hang nog aan die wasgoeddrade. Die nuwe driemanspan vlieg inderhaas terug Pretoria toe. By die Spesmagte-HK hoor hulle die rede vir die dringendheid: Unita het inligting gekry dat Savimbi iewers noord van die Benguela-spoorlyn is en suid in die rigting van die Cunene-provinsie beweeg. Unita het ’n basis daar in die Chimpolo-hoogland. Hy is waarskynlik na dié basis onderweg en sal binne twee dae daar wees.

    Blaauw en sy span moet sorg dat hulle Savimbi inwag as hy by die basis aankom. Unita wil hê dat die Recce-span Savimbi oor die grens moet help na die veiligheid van Rundu. Die inligtingsoffisier noem nie die vermoede dat Savimbi agtervolg word nie. Blaauw weet dus nie

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1