Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Katjagter: 'n Marion-eiland storie
Katjagter: 'n Marion-eiland storie
Katjagter: 'n Marion-eiland storie
Ebook377 pages6 hours

Katjagter: 'n Marion-eiland storie

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Heinrich van Vuuren het ‘n edel droom gehad, maar sy pa het dit uit hom uit verskreeu en beledig. Hy besluit om nog een keer te probeer. Sy laaste kans loop egter op die rotse en hy pak blindelings ‘n nuwe avontuur aan, klim op ‘n visserskip saam met bedenklike mense. So beland hy vir ‘n tweede keer op Marion-eiland, die eerste keer was hy deel van die span wat die katplaag uitgeroei het, die tweede keer is hy tussen ‘n klomp wapen- en diamantsmokkelaars.

Heinrich weet sy droom om ‘n mediese dokter te word, is ver verby die vervaldatum – so wat maak die gemors waarin hy beland het saak? Die vrede met sy lot hou net totdat hy een van die spanlede, wat die jaar op die eiland deurbring, deur die laboratorium se venster sien – Karin Wessels, ‘n passievolle entjie mens. Sy luister musiek terwyl sy insekte weeg en skielik moet hy weet, watter lirieke, watter wysie het haar so laat glimlag. ‘n Vreemde vriendskap groei tussen hulle en later, toe Karin se lewe in gevaar is, weet Heinrich dis sy skuld – hy moes haar nooit betrek het nie.

Selfs wanneer Karin se jaar op die eiland tot ‘n einde kom, volg die moeilikheid hulle Suid-Afrika toe en net wanneer dit lyk asof ‘n mooi pad vir hulle voorlê, word die grond wreed onder hulle uitgeruk.

Teen die agtergrond van die pragtige, maar ongenaakbare Marion-eiland, word ons herinner om nooit op te gee op ons drome nie. Katjagter is ‘n boeiende spannings-avontuur wat nogeens wys dat liefde meer kan vermag as wat menslik moontlik is.

LanguageAfrikaans
PublisherErika Nortje
Release dateAug 5, 2020
ISBN9781370628414
Katjagter: 'n Marion-eiland storie
Author

Erika Nortje

Erika Nortje is a passionate writer, inspired by moments, emotions, nature, beauty and pain, but always - a happy ending. She likes to entertain and inspire, to bring hope, healing, escape and joy. What defines her, she is our heavenly Father's daughter - and there's always a soundtrack, music moves the world.

Related to Katjagter

Related ebooks

Related articles

Reviews for Katjagter

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Katjagter - Erika Nortje

    Table of contents

    Hoofstuk 1

    Hoofstuk 2

    Hoofstuk 3

    Hoofstuk 4

    Hoofstuk 5

    Hoofstuk 6

    Hoofstuk 7

    Hoofstuk 8

    Hoofstuk 9

    Hoofstuk 10

    Hoofstuk 11

    Hoofstuk 12

    Hoofstuk 13

    Hoofstuk 14

    Hoofstuk 15

    Hoofstuk 16

    Hoofstuk 17

    Hoofstuk 18

    Hoofstuk 19

    Hoofstuk 20

    Hoofstuk 21

    Hoofstuk 22

    Hoofstuk 23

    About the author

    South Africa’s presence in the sub-Antarctic and Antarctica

    HOOFSTUK 1

    2 April 2001

    Heinrich van Vuuren staar na sy beeld in die spieël – lank, lenig, bruingebrand. Saam met die five o’clock shadow en saffierkykers is hy ‘n aantreklike prentjie. Tog, dis nie wat saak maak nie. Hy klem sy kake opmekaar. Hoe dit binne lyk – dis wat regtig van belang is. Sy gesig vertrek as hy aan sy binneste dink. Dit lyk soos ‘n dorp wat deur ‘n orkaan getref is, daar is nie ‘n heel gebou in sig nie. Die storm het huis en hoop uitmekaar gewaai en nou staar hy binnetoe in stil verslaentheid. Troebelheid spoel sy blou oë vol, hy draai van die spieël af weg. Die stilte ná die storm is soveel stiller. Heinrich sit die radio sagter, maar hy hoor steeds Rodriguez sing van hoe mens jou hart kan verloor en wanneer jy dit terug vind, het dit in pikswart steenkool verander.

    Klink omtrent reg, hy sit die radio af en maak die oproep wat hy nie langer kan uitstel nie.

    Yolandi antwoord vinnig, Heinrich...? Haar stem is onseker, dit vat aan hom, hy gee tog vir haar om en nou gaan hy die oorsaak wees dat haar groen oë vol hartseer word, Landi, ek wou nie oor die foon… met jou opgebreek het nie, maar ek kan nie langer wag nie. Ek weet nie waar ek môre gaan wees nie. Ons het in elk geval die laaste tyd net baklei.

    Hein… nee. Ek is jammer, sy is skoon kortasem, …my werk moenie so belangrik wees nie. Ek kan jou meer ondersteun. Ek het so meegevoer geraak met die hele ding van hoe anders vroue deesdae wil wees. Ek besef nou hoe nodig ek jou beskerming het – ek wil jou nie verloor nie.

    Heinrich trek sy asem diep in, as dit maar so eenvoudig was. Die stem aan die anderkant vervaag tot ‘n sagte gedruis… Die sekondewyser stap amper ‘n hele rondte om voordat Heinrich haar, nou baie dun stemmetjie, ferm onderbreek, Dis nie dit nie, Landi. Wel, miskien… maar dis iets wat jy vir jouself moet uitwerk. In sy gedagtes voeg hy by, liefde is iets baie groter as wat daar tussen ons is… Heinrich weet hy het geen versekering dat hy ooit die werklike ding van ‘n sielsmaat gaan beleef nie, maar hy kan nie settle vir dit wat hy met Landi het nie. Hy kan haar ook nie aan ‘n lyntjie hou tot hy iemand vind wat beter by hom pas nie, hy moet haar laat gaan, die kans vat dat daar in die toekoms ‘n beter verhouding op hom wag. Dis ook nie iets waaroor hy hom nou kan bekommer nie, hy moet wegkom.

    Yolandi was nie gereed vir hierdie besluit van Heinrich nie. Sy draai ‘n stringetjie van haar donker hare om en om haar vinger, iets wat sy doen wanneer sy op haar senuwees is. Sy wonder angstig hoe sy hom kan keer, ‘n swaar gevoel is besig om in haar hart te sink: hy is besig om deure agter hom toe te maak. Sy reik desperaat na hoop, Sal jy weer terugkom Pretoria toe?

    Ek weet nie.

    Dis lank stil oor die foon en Heinrich wik en weeg of hy haar wil troos of seermaak. Hy weet dis nie reg om seer te maak omdat jy seer het nie, maar hy is nie sterk genoeg om die regte ding te doen nie...

    Dit sal weer beter gaan, eindig hy tog die gesprek.

    Hy sit sy foon neer en staar by die venster uit. Die veelkleurige herfsblare en duifies wat koer op ‘n tak ontgaan hom. Hy bekyk die verlede, toe hy deel was van ‘n span wat katte gejag het op Marion-eiland. Vyf huiskatte is in 1949 na die eiland gebring om muise in en om die basis te vang en dit het ongelukkig gou handuitgeruk. Die muise het vroeër jare saam met robjagters en skeepswrakke daar aangeland en hulle is ‘n groot irritasie in die basis. Hulle vang ook stormvoël kuikens, tonnel deur die Azorella kussingplante en vreet skaars insekte en plante soos die vluglose Marion mot en die Kerguelen kool. Toe die huiskatte begin aanteel en versprei het, was die hoop steeds dat hulle ‘n verskil sou maak aan die muisplaag, wat soveel skade aan die ekosisteem aanrig. Soos almal eintlik weet, katte word nie voorgeskryf nie en muise was gou-gou nie meer hulle hoofprooi nie. In 1973 het die wilde huiskatpopulasie tweeduisend oorskry en hulle was oral om die eiland. ‘n Studie is gedoen wat gewys het dat die katte meer as vierhonderd-duisend voëls per jaar eet. Teen die tyd dat die kat getalle drieduisend-vyfhonderd genader het, is besluit om katgriep te probeer, omdat die virus slegs die katte sou affekteer. Hulle het egter ‘n immuniteit begin opbou en die biologiese-beheer was besig om die stryd te verloor. Dis hoe die katjagters in die prentjie gekom het en hoe Heinrich op Marion beland het. Hulle het in spanne meegeding, met die motivering, "Happiness is a confirmed kill. Die Katkommando, twee-twee, een met ‘n battery-aangedrewe lig, een met ‘n 12 boor haelgeweer – onverskrokke en dalk ‘n bietjie mal. Self was hulle die enigste mense wat geglo het hulle kan slaag en hulle het dit net geglo omdat Doc hulle laat glo het hulle kan. Daar was nog ‘n aanhaling in hulle handleiding, Pain forms the character".

    Waar het hy die woorde verloor? Mooi woorde soos "happiness en character". Heinrich trek ‘n album uit die boekrak, voorin is ‘n foto van hul katjagspan, hulle was deel van M46. Van die ouens saam met hom was rof verby. Waar het Doc hulle gekry? Die gesigte staar braaf uit die foto na hom terug. Cheetah, Ulrich, Rudi en Iron man. Oros, Snake, Ivan, Tertius en Ysie. Met die beginletters van hulle name en sommiges se byname kon hulle die woord curiosity spel. In groot vet letters onderaan die foto staan die welbekende woorde, met ‘n vars betekenis: "C.U.R.I.O.S.I.T.Y. killed the cat". Hy was Cheetah. Oefening was nog altyd darem ‘n bietjie ontvlugting en hy was lekker fiks. Heinrich raak die foto so sag aan asof hy bang is dit verdwyn. Hy glimlag skeefweg, Darem een goeie ding wat ek in my lewe gedoen het.

    Heinrich…

    Ma… sy stem is hees, hy kry nie nog ‘n woord uit nie. Hy staan op. Sy ma staar na die gepakte rugsak op die bed, Moet jy weggaan?

    Ek moet, kom dit gespanne.

    Waarnatoe?

    Ek weet nie. Kaap toe en dan… ek sal sien…

    Eers was Heinrich jammer vir sy ma, maar skielik is hy net kwaad. Vir soveel jare het sy toegelaat dat sy pa hom afbreek. Sy het nooit vir hom opgekom of hom gehelp om iemand spesiaal te word nie. Hy kan dit nie meer binne hou nie, Dink Ma mens se lewenspad word vooraf vir jou uitgewerk, of hang dit af van die keuses wat jy maak? Hoeveel hang dit af van die besluite wat ander neem? kom dit bitter. ‘n Karakter kan nie groei as hy nie bestaan nie!

    Die trane in sy eie oë verblind hom vir die in sy ma s’n. Die woorde storm lomp en oorhaastig by sy mond uit, As hy my eerder geslaan het Ma – dit kan mens dokter! Dit kan mense sien. Jy kan dit self sien, jy kan verstaan hoekom dit so seer is!

    Nadat sy ma uit die kamerdeur verdamp het, wurg die stilte hom. Hy skakel weer die radio aan en die omroeper se rustige stem help asem deur sy toegetrekte keel.

    Dit is kwart oor sewe en jy is ingeskakel by 94.2 Jakaranda FM. Kom ons steek die Maandagaand aan die brand met ‘n warm country nommertjie…

    Heinrich prop nog ‘n hemp in sy rugsak, rusteloosheid sy hele lyf vol. Skielik is daar motorligte wat by sy kamervenster inskyn, hy trek die gordyn weg – sy geleentheid hier uit. Riaan, ‘n vriend van skooldae af, is op pad Weskus toe en hy het aangebied dat hulle sommer saam af ry. Heinrich tel sy sak op, in die kamerdeur steek hy vas, die radio is nog aan. Hy draai om en asof sy lewe ‘n fliek is, perfek vir die oomblik, speel Garth Brooks se "Burning Bridges".

    Dis dan dit.

    Hy skakel die radio af en trek die deur agter hom toe.

    Dinsdagmiddag laai Riaan hom by die vulstasie op Yzerfontein af. Is jy seker jy wil nie ook vanaand op my oom se plaas kom oorslaap nie? Jy kan langer ook bly as jy wil.

    Dankie, Riaan, ek sal regkom. Dit was gaaf van jou om my saam te ry.

    Riaan kyk sy ou skoolmaat bekommerd agterna. Heinrich stryk aan strand se kant toe, rugsak op die rug, koeldrank en ‘n vetkoek van die tannie op die hoek in sy hand. In sy hart weet hy reeds – die Kaap is nie ver genoeg nie. Lank na sononder sit hy steeds na die golwe en staar. Die sagte pienk en oranje in die lug het plek gemaak vir ‘n egalige donkerblou. Die water word later swart en sy oë volg die wit skuim van die golwe wat rustig oor die donkerte bly aanrol. Eers toe ‘n kouefront die kus begin roer, staan hy op en stap tot by die rotse waar die dassies skuilhou – Koeskatgat sê ‘n naambordjie. Daar naby vind hy vir hom ook ‘n beskutte plek, haal sy slaapsak uit en kruip in. Hy raak feitlik dadelik aan die slaap, maar in die middel van die nag het die temperatuur so gedaal dat sy slaapsak nie meer die ding doen nie. Hy skuifel uit en met vingers seer van die koue, pak hy op. Hy grawe ‘n mus en handskoene uit sy sak en begin aanstap oor die rotse, dis al hoe hy nou gaan warm word. Die koue front wat oor die Atlantiese oseaan inwaai is ysig. Hy hou aan stap, onbewus van hoe ver en hoe vinnig hy loop. Waar daar geboue of te veel rotse is, sny hy in tussen stil huise deur. Later lê daar ‘n skynbaar eindelose stuk strand voor hom oop en hy word weer bewus van wat om hom aangaan. In die ooste begin ‘n sagte oranje skynsel die nuwe dag inkleur. Heinrich is nog nie gereed vir ‘n nuwe dag nie. Hy probeer sy gedagtes stilmaak deur na die stem van die see te luister. Daar is meeue en strandlopers wat begin skarrel op die koue sand. Die front is haastig – die binneland lê toe onder dik grys wolke, maar oor die see begin die dag belowend lyk. Heinrich weet dis nie die see wat hom roep nie, tog wil hy gaan.

    Hy draai weg van die water en stap na die verligte vulstasie oorkant die pad. Daar is genadiglik ‘n 24-uur eetplek en Heinrich gaan gretig binne.

    Môre, koffie asseblief.

    Seker, imm… wat loop jy so vroeg in die koue rond? kan die meisie nie help om te vra nie.

    Laat ek net eers die koffie drink, dan kyk ons of ek onthou, omseil hy die geselskap. Die sarkasme in sy stem verbaas hom, maar hy is seker daarvan sy word nie betaal om nonsens met klante te praat nie. Die warm, soet koffie is ‘n heerlike lafenis na die koue nag buite. Hy bestel ontbyt en nog koffie. Toe sy bord amper leeg is, maak die meisie weer haar opwagting.

    "As jy nog ver gaan stap, kan ek ons muffins aanbeveel, veral die sjokolade een – double-choc."

    Dankie, twee en ‘n botteltjie Coke asseblief.

    Sy kom terug met die padkos en sy rekening… en ‘n suigstokkie. Hy frons en sy verduidelik, Ons het nie meer pepermente nie. So, nou dat jy vol en warm is, kom dit met ‘n simpatieke glimlag, hoekom dwaal jy so sak-en-pak in die koue rond?

    Heinrich sug, wat is dit met haar!

    Dis die nagskofte, antwoord sy, asof sy gedagtes hoorbaar was. Dit was eers vir my baie stil en vervelig, maar nou het ek geleer hoe om dit te hanteer.

    Deur jou neus in ander se sake te steek? vra Heinrich knorrig. Daar is sekerlik ‘n ander manier om haar deur haar skofte te help.

    Sy houding steur haar nie, Party mense dink hulle het net kos en koffie nodig, terwyl dit eintlik hulle is wat die geselskap nodig het en nie ek nie.

    Sy glimlag selfversekerd as sy wegstap om vir hom kleingeld te gaan haal. Hy staan solank op en maak gereed om te loop, sodra sy die kleingeld bring is hy hier uit. Sy tel rustig die regte geld vir hom uit, maar stop skielik en kyk op na hom.

    Dis die teenstelling wat nie sin maak nie, kom dit asof sy ‘n ongelooflike feit weergee.

    Toe sy stilbly en steeds met die kleingeld in haar hand staan, vra Heinrich maar, Watse teenstelling?

    Haar oë rus sag op hom wanneer sy antwoord, Jy lyk of jy presies weet waarheen jy op pad is, maar terselfde tyd of jy verlore is…

    Die meisie vee haar hare oor haar skouer weg en bekyk die man voor haar rustig, sy wag vir ‘n antwoord. Sy gee die kleingeld vir hom en hy sit dit tydsaam weg. Die nuwe dag, waarvoor hy nie gereed was nie, is hier. Die son skyn nou helder deur die restaurant se venster en saam met hierdie meisie se reguit opmerking, is dit te skerp vir die vensters van sy siel.

    Hy sluit sy oë vir ‘n oomblik, skud sy kop, Dis omdat ek weet waarna ek soek, maar ek het nie regtig ‘n idee waar en of ek dit gaan kry nie.

    Rachel! roep iemand na haar vanaf die deur wat na die kombuis gaan.

    Sy waai om te wys sy het gehoor, Waarna soek jy? vra sy.

    Hy is ‘n oomblik stil, dan antwoord hy eerlik, "Myself. Hoe stupid is dit?"

    Sy skud haar kop, Glad nie, klink na ‘n waardige soektog.

    Hy dink oor haar woorde en sy word nog ‘n keer geroep.

    Ek moet gaan, weer die warm glimlag en Heinrich verstaan nie die teleurstelling in hom nie, hy is skielik so lus om te gesels. Sy begin wegstap, maar draai terug. Heinrich is besig om die bande van sy rugsak vas te maak en toe hy opkyk hou sy die suigstokkie, wat hy op die tafel laat lê het, na hom toe uit. Hy sluk, Dankie… dat jy so gaaf met my was, Rachel.

    Sy knik, As ek na iets soek, soek ek maar altyd saam met die Here. Dan, al voel dit soms nie so nie, is jy op die regte plek, op die regte tyd.

    Sy huiwer ‘n oomblik, dan vervolg sy, "Jy weet, dalk is dit waarna jy soek nie weg nie, dis net toe onder stuff. Raak ontslae daarvan, pak ‘n bietjie reg en dalk is dinge dan mooi helder en duidelik."

    Hy gee ‘n halwe glimlag en knik.

    Later die dag bevind Heinrich hom op Tafelbaai hawe. Die eerste skip wat hy sien is die SA Agulhas en as hy die aktiwiteit daar rondom dophou, lei hy af hulle vertrek vandag. Dis die vierde April, tyd vir die Marion Take-Over. Heinrich was nog net ter see aanboord die Agulhas. Die geliefde rooi skip word vir al drie die ekspedisies van die Suid Afrikaanse Nasionale Antarktiese Program (SANAP) gebruik. Sedert haar nooiensvaart in 1977 neem sy spanne Marion, Gough en Antarktika toe, nie maklike vaarte nie en daar sal seker oor ‘n paar jaar ‘n nuwe skip gebou word.

    Gaan jy Marion toe? praat iemand onverwags agter Heinrich. Hy draai om. Verbaas staar hy na die jong man voor hom – dan besef hy, hy het sy SANAP polar fleece aan.

    Nee, ek was destyds daar, ek stap sommer rond.

    Ek was ook daar, M55, het April 1998 vertrek en Mei ‘99 terug gekom. En jy?

    M46, ‘89 vertrek en terug gekom in 1990.

    Die jong man dink vir ‘n oomblik en vra dan, Was jy ‘n katjagter?

    Heinrich knik. Die man voor hom fluit deur se tande. Maggies, laat ek net jou hand skud! Hy kyk met respek op na Heinrich en praat opgewonde, As dit nie vir julle was nie, was daar verseker van die voëlspesies wat dit nie gemaak het nie. Om ‘n uitheemse spesie uit te roei is amper onmoontlik en katte boonop! Op Marion!

    ‘n Amperse glimlag pluk aan Heinrich se mondhoeke, hy kan nie besluit of die jong man se entoesiasme hom beïndruk of irriteer nie – dis duidelik dat hy nog nie die mooi woorde van die lewe verloor het nie.

    Die man steek weer sy hand uit en stel homself voor, "Louis Slabbert, ek werk nou vir Marine and Coastal Management (MCM). Ons vertrek volgende week met die Africana vir ‘n paar navorsingsprojekte in die verskillende seestrome."

    Aangename kennis. Heinrich van Vuuren. Dan gryp Heinrich die kans aan, Julle soek nie dalk ‘n assistent nie? Maak nie saak vir hoe lank nie, ek is tussen werke op die oomblik en sal graag weer betrokke wil wees.

    Frank het so iets gepraat, weet jy. Ons medic en nog iemand het onttrek, maar ek weet nie of hy reeds ander mense gehuur het nie.

    Ek sal beslis kan help as hy nog nie iemand het nie, ek het skoolgegee die laaste paar jaar, maar is ook ‘n gekwalifiseerde paramedic en werk soms op die ambulanse.

    Dis merkwaardig.

    Nie regtig, as jy eintlik ‘n dokter wou geword het nie, Heinrich spreek dit op so manier uit dat Louis weet hy moet nie vrae stel nie.

    Na ‘n oomblik se stilte vir ‘n droom se dood, praat Louis weer, Wel, Frank, ons koördineerder vir die vaart, gaan binne die volgende half-uur hier wees. Ek bel hom gou om seker te maak of ons nog iemand kort, dan kan jy hier vir hom wag.

    Louis maak die oproep en dit gee Heinrich kans om die verlede te bekyk. Die katjagtery was inderdaad nie kinderspeletjies nie. Heinrich het nie eens geweet presies waarvoor hy hom inlaat nie, hy het sommer blindelings die kans aangegryp. Nou is die kommunikasie na Marion beter, maar destyds was dit net teleks verbinding. Vir Heinrich was dit die beste ding ooit, sy pa se mag het nie tot in die sub-Antarkties gestrek nie. Hy kon sy eie besluite neem, dit was ‘n nuwe ding vir hom. Almal was nie noodwendig goeie besluite nie, maar dan leer jy daaruit en beweeg vorentoe. Vir die eerste keer in sy lewe het hy self gekies, hard gewerk en die erkenning daarvoor gekry. Om te dink dat party kinders van kleins af so kan lewe. Hy moes ongelukkig weer teruggaan Suid-Afrika toe en sy pa…

    Daar is nog iemand wat belangstel, ruk Louis hom terug na die werklikheid, maar hy is dalk nie vir die volle tydperk beskikbaar nie, so Frank sal graag met julle albei wil gesels. Ek moet nou gaan, maar Frank sal jou hier ontmoet oor so halfuur, veertig minute miskien.

    Baie dankie. Hulle groet en Heinrich bly alleen tussen die skepe staan.

    ‘n Uur gaan verby en nie ‘n siel daag op nie. Heinrich stap doelloos op en af, hy voel iets in sy sak – Rachel se suigstokkie. Hy haal die kleurvolle papiertjie van die lekkergoed af en sit dit in sy mond. Die geur-ontploffing van tropiese vrugte laat hom ‘n oomblik van stryk, nie juis geskik om ‘n peperment mee te vervang nie! Hoe langer dit egter in sy mond is, hoe lekkerder word dit. Heinrich gaan sit op die kaai en hou die meeue dop. Hy sit rustig totdat die suigstokkie op is, dan dink hy weer aan destyds. Sy pa was boos, om dit sagkens te stel. Sien, hy het vir sy ouers gesê hy het nie sy tweede jaar op Universiteit deurgekom nie en dat sy dosent hom gevra het om aan die Katjagprogram op Marion-eiland deel te neem. Hy kan weer na ‘n jaar met sy graad aangaan, die jaar oordoen. Dit sal dan nie so uitstaan dat hy dit nie gemaak het nie. Dit het gewerk, want sy pa hou tog so… het tog so daarvan gehou om mense te beïndruk. Dan sou hy steeds kon spog, al het Heinrich nie al sy vakke deurgekom nie. Vir sy pa was die beste van alles om te kan sê, Ek het jou mos gesê! Ek het jou gesê jy sal dit nie maak om Medies te studeer nie – jy slaag dan nie eens Dierkunde nie! Hy kan net lag as hy dink aan hoe groot skok dit vir sy pa was toe hy uitvind Heinrich het eintlik al sy vakke deurgekom en dat hy boonop uitstekende punte behaal het. Al sy pa se aggressie en verwyte daarna kon nie sy dankbaarheid oor die jaar op Marion uitwis nie. Hy het sy graad voltooi, Honneurs gedoen en toe ‘n Hoër Onderwys Diploma. Hy het begin skoolgee, dit was nie sleg nie, hy het die kinders geniet, maar iets het gekort – dit was beslis nie sy nis in die lewe nie. Toe hy begin het om ‘n salaris te verdien, het hy planne gemaak om uit die huis uit te trek – teen sy pa se wil in natuurlik. Hy sou ook, as sy ma nie siek geword het nie. Die dokter het gesê dis haar senuwees, maar dit kan ook dalk ‘n virus wees. Hy het in die huis aangebly, om haar te ondersteun. Selfs sy ma se siekte het sy pa nie laat verander nie, hy het onverbiddelik gebly. Sy woord was wet en hy het dit aanhoudend vir hulle duidelik gemaak dat hy soveel vir hulle doen. Dat Heinrich vreeslik ondankbaar is om uit die huis te wil trek. Hulle het hom grootgemaak en nou gooi hy dit als net so in hul gesigte terug. Hoe meer hy vir sy pa probeer sê het dat dit mos so werk, dat ‘n kind later uit die huis gaan en op sy eie voete staan, hoe harder het sy pa geskreeu en hom verseker hy sal dit nie op sy eie maak nie en dat hy niks werd is nie. Op daardie stadium het dit Heinrich al minder gepla. Hy het, as gevolg van sy pa se manier van dinge doen en sê, vir baie lank bitter min van homself gedink. Hy het glad nie in sy eie vermoëns geglo nie. Sy ervarings op Marion het hom egter geleer dat niks wat die moeite werd is maklik kom nie. Sy selfbeeld het met rasse skrede verbeter en hy het weer die lewe begin geniet. Na ‘n paar jaar se onderwys gee het hy dit sterk oorweeg om, selfs al is hy al drie-en-dertig, tog aansoek te doen om medies te gaan studeer. Hulle keur ‘n paar mense wat reeds ‘n ander tersiêre kwalifikasie en werkservaring het. As hy toe net nie so ‘n groot fout gemaak het die dag toe sy ma hom geroep het nie… Dit het al sy vordering vernietig, sy pa het tog die laaste sê gehad en hy het finaal geweet, ek gaan nooit ‘n dokter wees nie.

    Frank Visser wag gefrustreerd dat hulle vir hom ‘n nuwe band op sy kar sit. Darem het hy die hond misgery, maar toe beland hy op die sypaadjie en ry oor ‘n geroeste yster wat sy band flenters steek. Hy skakel vir Louis, in die hoop dat hy Heinrich se nommer gevat het. Dan kan hy sommer oor die foon met hom gesels oor die Africana se ekspedisie en hom vra om sy CV en details solank MCM toe te faks.

    Heinrich drentel rond naby die MCM skip, maar niemand daag op nie. Hy kan nie glo dis al elf jaar gelede dat hy teruggekom het van Marion af nie, die ervaring lê nog soos ‘n vars omgeploegde land in sy geheue. Hy onthou die rou-vulkaniese landskap, die ongenaakbare weer en hulle sukses. Die storie van die katjagters is merkwaardig – deur deeglike navorsing en beplanning, tesame met die volgehoue deursettingsvermoë van die spanne in die veld, is die wilde huiskatte heeltemal uitgeroei. Die ruwe, oop skoonheid van Marion-eiland steel maklik jou hart – soveel so dat jy bereid is om ‘n oorlog te baklei vir die voortbestaan en die integriteit daarvan. Dit is ook op Marion dat Heinrich besluit het avontuur sal hom aan die lewe hou as enigiets anders skeefloop. Want, dit het skeefgeloop… Hy en sy meisie van daardie tyd, Marilize het reeds vir twee jaar uitgegaan voordat hy Marion toe is. Sy het verstaan dat dit vir hom nodig was om te gaan en het hom aanvanklik ondersteun, maar wat maak ‘n mooi begin saak as dit nie volgehou word nie. Sy het verduidelik dat sy daar buite was waar alles woes gaan en sy kon nie regtig die kruising van haar en Deon se paaie vermy het nie. Asof Marion in ‘n ander wêreld is! Hoe ook al – op Marion is daar nie kruispaaie nie en hy moes ‘n plaasvervanger kry vir dit wat mooi en belangrik in sy lewe was. Hy was beslis in die regte posisie om onverskrokke en roekeloos te wees. Nie net met die katjagtery in die nag nie, maar ook om die berge en die lawatonnels op die eiland te verken. Die middelste gedeelte van die eiland hou vir hom soveel bekoring in. Blykbaar is daar nou ook ‘n oornaghut by Katedraalkrans, dit sal beslis help wanneer mens na die ysplato en die hoogste pieke wil gaan. Die weer bepaal grotendeels elkeen se dagboek op die eiland en as die weer daar bo by Katedraal versleg, is dit niemand se vriend nie. Dit is wreed en ongenaakbaar en jy sal maklik doodgaan as jy die verkeerde keuse maak. Tog, niks kon ooit Heinrich se hart losmaak van die berge op Marion nie. Van destyds af sweer hy daarby dat dit veiliger is om jou hart aan ‘n plek te verloor as aan ‘n vrou.

    Die SA Agulhas staan op die punt om te vertrek. Die spanlede van M58 bruis van opgewondenheid. Hulle is die agt-en-vyftigste span sedert die anneksasie van die eiland in Desember 1947 wat op Marion gaan oorwinter. Daar is spanne wat vir korter tye gegaan het, maar deesdae is dit altyd ‘n jaar. Marion is deel van die Prince Edward-eilande, twee eilande en die kleiner een, ook genaamd Prince Edward-eiland, is in Januarie 1948 geannekseer. Af en toe spandeer ‘n handjie vol wetenskaplikes ‘n paar dae op Prince Edward om navorsing te doen. Daar is geen infrastruktuur nie en hulle neem tente saam vir dié ekspedisies. Op Marion is dit gelukkig ‘n ander storie en Marion House, die basis op die eiland, word elke jaar ‘n groepie Suid-Afrikaners se huis. Die jongmense wat nou op pad is, het hulle span T-hemde aan. Elke span ontwerp ‘n wapen en laat maak dan goed soos baadjies, T-hemde en musse met hulle identiteit op. Dit word met trots gedra, net soos die SANAP klere – hulle verteenwoordig dan hulle land vir ‘n jaar op die enigste bemande eiland wat aan Suid-Afrika behoort. Dit is ‘n eer en ‘n voorreg. Gough Eiland word ook deur Suid-Afrika beman, maar dit is saam met Tristan da Cunha, Britse grondgebied.

    Almal op die kaai deel in die ekspedisie lede se opgewondenheid, alhoewel daar ook diegene is wat swaar groet. Daar is ‘n groot span wat net vir die oorname periode, van omtrent ‘n maand, saam gaan. Dit sluit mense in van die Departement Omgewingsake en Toerisme (DEAT), die Weerburo, die Publieke Werke Departement (PWD) en navorsers. ‘n Groot deel van die navorsingsgroep is oseanograwe wat nie op die eiland afklim nie, hulle werk word op die vaart soontoe en terug gedoen.

    Gedurende Take-Over word die basis se kosvoorraad en ander benodigdhede soos skoonmaakmiddels aangevul. Die veldhutte se voorrade word ook aangevul en PWD doen instandhouding en herstelwerk aan die basis. Daar moet ook genoeg diesel vir die jaar van die skip na die eiland gepomp word, aangesien die basis se krag deur dieselkragopwekkers voorsien word. Die nuwe span word opgelei in hulle take vir die jaar en die ekstra navorsers benut die tyd om waardevolle opnames en eksperimente op die eiland te doen. Dan, wanneer die Agulhas terugdraai Suid-Afrika toe, begin ‘n hengse avontuur vir die span wat agterbly. Vir party is die aanvanklike skok van alleen wees erg, maar vir die meeste is dit hemel op aarde. Jy het ruimte om te dink, om te wees, om te droom.

    Die jaarspan is die laaste om aan boord te gaan en dan word die gang-plank gelig. M58 gooi helder streamers toe die Agulhas wegbeweeg van die kaai af. Die skip blaas sy mishoring en dit trek selfs Heinrich se aandag waar hy op die kaai langsaan sit en wag. Hy hou hulle dop totdat die Agulhas net ‘n klein rooi spikkel op die horison is. Hy kan nie help om te dink aan hoe die span gaan voel wanneer hulle terugkom nie – so ‘n jaar verander jou. Die meeste mense is baie bly om terug op die vasteland te wees, ‘n jaar in die vreemde is genoeg, maar die aanpassing terug is oor die algemeen nie maklik nie. Om weer in te pas in die bekende normale wêreld wat in jou gekwyn het tot ‘n minder bekende, is ‘n uitdaging. Almal se lewens by die huis het aangegaan en jy het ‘n jaar daarvan gemis. Dan is daar natuurlik ook die groot verlange na die eiland se skoonheid en die eenvoud van die lewe daar. Daar is min mense wat verstaan hoekom jy op ‘n koue wintersoggend sonder jou baadjie uitloop, sodat die koue jou byt, net om ‘n tikkie van die Marion gevoel terug te vind. Soveel klein dingetjies wat ‘n eilander se lewe ryk gemaak het, is nie normaal in die samelewing nie. In jou jaar op die eiland word jou spanlede jou familie en jou kamerade. Daar is tog ook soms stryery, maar jy deel dinge op ‘n intense, diep vlak. Dit kan nie anders wanneer mens so ‘n afgeleë plek jou tuiste maak nie. In die middel van nêrens is ‘n gepaste beskrywing, want Marion lê omtrent halfpad tussen Suid-Afrika en Antarktika en die naaste ander eiland is die Franse Crozet, nege-honderd kilometer oos daarvan af. Op Marion is nie paaie, voertuie of winkels nie. As jy iewers wil kom moet jy stap en geld gaan jou nêrens bring nie. Daar is net die basis, laboratoriums en ‘n paar veldhutte en boonop het jy nie jou spanmaats gekies nie, dit is nie noodwendig mense met wie jy in Suid-Afrika sou gemeng of vriende mee gemaak het nie. Maar, daar ver op die spikkeltjie land in die Suidelike oseaan, het mens nie ‘n keuse nie. Dan leer jy om met die mense oor die weg te kom en jy probeer ook die goeie in elkeen raaksien. Mens faal dikwels en kyk vas in ander se foute, cabin fever is mos maar ‘n algemene ding in klein of afgeleë omgewings, waar mens jou blindstaar teen ander se foute. Tog werk dinge hulself uit en wanneer jy tuiskom vervaag die stryery en verskille. Jy onthou die opwinding, kameraderie en die wilde, ongetemde eiland wat jou binneste omgedolwe het soos nog nooit voorheen nie. Jy het verander en wat maak jy nou daarmee?

    Dit voel regtig nie asof daar al soveel tyd verloop het nie, die eeu het selfs gedraai, dis 2001. Heinrich se Marion ervaring bly uitstaan, seker omdat hy niks anders bereik het nie, in elk geval niks waaroor hy as kind gedroom het nie. Hy het toegelaat dat tyd en lewe maar net verby gaan. Marion-eiland het hom omgeploeg soos ‘n landery, maar hy wat Heinrich is het toe nooit iets geplant nie. Laas maand is sy pa oorlede. Die gedagte wurm hom van tyd tot tyd in sy brein in. Hy wonder hoe sy lewe sou verloop het indien sy pa nog geleef het. Hoe gaan dit nou verloop? Hoekom het hy toegelaat dat sy pa hom regeer. Regeer is inderdaad die gepaste woord. Sy oë word leeg. Hy is jammer vir sy ma en hy voel sleg dat hy sommer so uit haar lewe weggaan. Tog, sy het nooit vir hom opgekom nie. Hoe kon sy – sy was ook net ‘n onderdaan… Daar word nie verniet gesê, Buig die boompie terwyl hy jonk is nie. Sy pa het hom gebuig. En gebreek. Maar, dit help nie om vir homself te loop en jammer voel nie, hy sal tyd moet opmaak en iets met die res van sy lewe doen. Eers rondswerf vir ‘n jaar of wat en probeer uitpluis waartoe hy in staat is. Dan sal hy sy bes probeer om nie ‘n gemors van sy lewe te maak soos wat sy pa voorspel het nie.

    HOOFSTUK 2

    Heinrich kyk op en sien ‘n man in sy rigting aangestap kom. Hy stop hom, Hallo, is jy Frank?

    Die man knik, Frank Mouton. Hoekom?

    Sy onvriendelikheid verbaas Heinrich, maar

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1