Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Man van Cirene
Man van Cirene
Man van Cirene
Ebook336 pages5 hours

Man van Cirene

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Die klassieke topverkoper nou weer beskikbaar! Simon van Cirene word gelas om Jesus se kruis te dra, op pad na Golgota. Simon, die man wat nie glo nie. Maar hoe kan ’n mens onveranderd gelaat word deur ’n ontmoeting met Christus? Hierdie is die verhaal van Christus se aanslag op ’n heidense wêreld. Dit is ’n beeld van wroeging en botsing en van haat en liefde, van ongeloof teenoor geloof. Maar veral is dit die verhaal van verlossing: die oorwinning van die gees oor die aardse.
LanguageAfrikaans
PublisherLux Verbi
Release dateNov 1, 2016
ISBN9780796320223
Man van Cirene
Author

F.A. Venter

F.A. Venter was bekend vir sy geskiedkundige romans, kortverhale en jeugboeke. Die Hertzogprys vir prosa is in 1961 aan Venter toegeken vir Swart pelgrim en Geknelde land. Laasgenoemde was deel van die trekkertrilogie wat in die 1960’s verskyn het: Offerland, Gelofteland en Bedoelde land. Sy laaste boek, Van Botterkraal na Altena, het in 1996 ter viering van sy 80ste verjaardag verskyn. Dit was ’n keur uit sy vier outobiografiese werke. Sy outobiografiese vertelling, Die keer toe ek my naam vergeet het, is in 1996 met die Andrew Murray-prys bekroon. Dié boek handel oor sy herstel nadat hy in 1990 ’n beroerte gehad het. F.A. Venter is op 8 Julie 1997 op 80-jarige ouderdom oorlede.

Related to Man van Cirene

Related ebooks

Related articles

Related categories

Reviews for Man van Cirene

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Man van Cirene - F.A. Venter

    MAN

    VAN

    CIRENE

    F.A. VENTER

    Lux Verbi

    Vir Vader en Moeder

    DEEL EEN

    "Jy is uitverkies, dink ek …

    vir iets wat jy later sal verstaan."

    1

    Op ’n hoogland van Afrika, net bo die see, lê Cirene, haelwit stad wat die Grieke gebou het toe Rome nog ’n kind was. In die somergloed skitter die koepels en lok die koel suilegange van tempels.

    Rondom Cirene strek die vrugbare kontreie uit, al langs die see af; na die suide die woestyn wat selfs Rome nie kan tem nie. Noordwaarts lê die see tot aan die voetbanke van Rome, en ooswaarts tot aan die tempels van Alexandrië, die papirusvelde van Egipte, die vaal kuste van Judea …

    In die buurt waar die gewone volk in hul plat huise woon en dadelpalms en moerbeibome klein agterplase versier, pronk die praetorium van die Romeinse goewerneur, hoog en massief. ’n triomfboog verkondig ’n oorwinning van die legioene. Hoog bo-op die toring van ’n basiliek roer ’n duif sy vere.

    Op hierdie uur is dit stil in Cirene – geen vragwaens wat deur die klipstrate rammel nie, geen Romeinse soldate wat op die plaveisel dobbelstene gooi nie, geen smouse wat met belaaide esels rondtrek nie, geen vroue wat groot kruike op hul kop dra en agter sluiers uit na die wêreld loer nie, geen hamerslae in die smidswinkels nie, en geen groot karavane wat na die markte deurgedryf word nie.

    Want dit is die uur van stilstand en rus in die stad waaroor die fyn wasigheid lê. Die son brand fel en dryf die volk na die koelte van suilegange, onder bome in, of na die seilbedekkings op die markte. Dít is die tyd vir gesels, of sluimer, of bepeinsing.

    In die forum, na die see se kant toe, sit die geleerdes in hul wit togas, die perkamente oopgesprei. Adellike burgers loop naak in die ruim marmerbadplase rond. Die amfiteater lê en bak verlate in die son. Net die verstoorde grond getuig van die kragmetings wat kort gelede daar plaasgevind het – die bloed van ’n bul, die pootmerke van ’n leeu wat in die slag gebly het.

    Dit is die rustyd in Cirene. Behalwe op die terrasse. Daar word gewerk, want die wind waai van die see af en laat die olyfbome sing.

    Die wind waai uit die rigting van Rome …

    Cirene se terrasse, gebou uit die donker grond van Afrika, strek tot teenaan die see; vrugbare vlakke waarop die olyfboorde, wingerde en graanlande lê, gevoed deur slikwater uit die waterleiding wat keiser Augustus laat bou het.

    Op die terrasse rus hulle nie; daar soek hulle nie koelte nie. Oor die boorde en stoppellande huiwer ’n goue wolk, want dit is oestyd. Op die trapvloere sweet hulle en dryf die diere meedoënloos in die rondte. En wanneer die trapsels deur is, word houtgaffels hoog geswaai. Die wind vang die bondels strooi en dryf dit hoog deur die lug van Cirene.

    Die koringkorrels val ritselend op die hope wat hoër groei.

    Die wind suiwer die oes.

    Swaar houtskopgrawe glip onder die koringhope in, word in sakke omgekeer. Oë glinster in die gesigte, vaal van die koringstof.

    Die terrasse woel en wemel soos die burgers van Cirene vir Rome oes …

    Simon, die Jood, laat sy jaagbesem saggies oor die hoop glip en bring die litjies en stokkies kant toe. Hy doen dit behendig, streel al die los kluitjies uit die koring weg, want vir hom moet alles perfek wees. Vir hom is die arbeid hier in die son ’n vreugde en elke nuwe mud koring ’n oorwinning. Hy is ’n man van die grond. Die vrug van son en grond en reën is vir hom ’n seëning.

    ’n Groot man, hierdie Jood – groter as die meeste, nie log nie, maar kragtig en lenig, met yslike hande en arms wat twee mud koring op sy heupe kan swaai. En ’n nek soos die stam van ’n jong sipres.

    Sy gelaat is fors en vriendelik. En hy is donker. Amper so swart soos ’n Numidiër. Daarom noem hulle hom Simon Niger. Maar dit kwel hom nie, want hy is verdraagsaam, al kan ’n skewe woord sy oë laat gloei.

    Sy oë het die kleur van ou wyn. Hulle is nou kalm, maar diep agter die kalmte skuil die opstand. Sy mond is nou sag, want daar is vrede in sy hart, maar partykeer word dit ’n dun, woedende lyn.

    Hy is nie ’n ou man nie. Skaars veertig. Tog loop daar kepe oor sy gesig omdat hy al op sy dag gely het; nie soseer na die liggaam nie, maar na die gees, want hy is ’n vaderlander wat seerkry onder die hiel van die Ryk. Hy is ’n seun van Israel wat moet asemhaal in die lug van Tiberius se Rome.

    So, nou is die hoop skoon. Esegiël, die bejaarde Jood wat al so ver saam met hom gekom het, en Juba, die fris Numidiër, sy vrywillige slaaf, het hul laaste trapsel ook amper skoongegooi. Goeie werkers, hierdie Esegiël en Juba.

    Simon Niger leun op sy jaagbesem, kyk af na die see wat die Romeine Ons See noem, en die ou bitterheid wil net weer in hom roer.

    Maar dan verower die skoonheid voor hom sy gemoed – die wingerde wat groen in die son blink, die olyfboorde, koel en donker, die bondels kaf wat telkens in die son opbreek daar waar die ander manne staan en oes net soos hy. Hy kyk in die verte tot waar die ou Griekse pilare van Cirene in die son blink. Dan terug na die see, die wye see wat Cirene aanraak, asook die kuste van Rome – en dié van Judea.

    Simon kyk graag na die see. Altyd met verwagting, altyd soekend, steeds hopend. Met verlange en hunkering …

    Skielik verstrak sy oë. ’n Swaar vaartuig gly nader oor die baai van Cirene. Die vaarseil staan hoog en wit, en hy kan hiervandaan die kol sien wat die teken van die fasces moet wees. Die voorstewe pronk trots bo die wit skuim wat weerskante toe wegval. Simon verkyk hom aan die roeislawe wat die lang spane reëlmatig uit die water lig en hulle dan weer onder die branders wegdruk.

    Opstandigheid flikker in hom. Maar net ’n oomblik. Dan wel die ou hunkering weer in hom op, en hy sug. Sy Alexander … waar sou hy wees? Die jong man met die swart baard net soos hy, met sý skouers en sý oë.

    Daar kom die graanskip van Ostia af, sê Esegiël en leun op sy houtgaffel. In sy oë glinster die minagting. Kyk net hoe ry hulle die see asof die hele see hulle s’n is. Eendag sal hulle sê die lug is ook hulle s’n – en die son. En toe rustiger: Dalk is Alexander op daardie skip …

    Simon gooi die jaagbesem heftig neer en loop deur die jong wingerd na waar sy paar esels aan die vars kaf staan en vreet. Hy bring hulle na die suipgat in die leivoor en toe die diere hul bekke in die water steek, sê Simon: Suip, my diere, suip aan die water van Rome; suip die water uit die waterleiding van die groot Augustus.

    Hy draai om en kyk weer na die graanskip wat ver onderkant die wingerde en boorde nader sluip kus toe. Die skip verdwyn agter die streep olyfbome op die derde terras bokant die see.

    Simon jaag die diere terug na waar die kaf skitter en stap dan na die groot olyfboom wat seker amper so oud is soos die Romeinse oorheersing. Hy gaan sit sugtend in die koelte, trek die growwe werkskleed van sy bors af weg, draai die warm tulband om sy kop los en laat die koel seebries sy baard streel.

    Hy maak sy oë toe en leun met sy rug teen die stam.

    Simon Niger, jy word oud. Eers moes jy altyd op my wag, maar nou wag ek op jou.

    Daar staan sy voor hom, haar oë vonkelend, haar swart hare glimmend, haar liggaam lank en lenig, net soos toe sy nog jonk was.

    Hy glimlag en om sy oë lê fyn kepies. Saam met jou kan ek nooit oud word nie, my vrou, sê hy en steek sy hand uit. Sy kom nader en sit die mandjie neer wat sy gevleg het van biesies wat by die lekplek in Augustus se groot waterkanaal groei. Sy gaan sit langs hom, en hy raak aan haar keel. Jy sal nooit oud word nie, my Debora, sê hy. Sy streel oor sy baard en dit roer haar, net soos die dag daar in die boord langs die kanaal in Alexandrië toe sy hom ontmoet het. Toe was hy nog ’n karavaanhandelaar tussen Alexandrië en Cirene.

    Sy skuif nader aan hom, trek die mandjie voor haar en haal die doek af. Hy loer nuuskierig in die mandjie.

    ’n Hele maaltyd, my vrou!

    Daar is ’n vars roosterkoek, gemaak van hul eie koring wat sy self gemaal het, daar is bakvleis, vye uit sy eie laning, heuning uit sy eie korwe – en ’n klein karba koel wyn wat hy verlede jaar gemaak het. En daar is groot bruin dadels van die Nyl af, bokmelkkaas wat sy self gemaak het.

    Dit is nie ’n gewone dag nie, sê sy innig. Vandag is die laaste dag van die oes, nie waar nie? Is die oes goed?

    Hy kou aan ’n vy, maar sy gewaar die spanning in sy oë wanneer hy wegkyk na waar Jerusalem moet lê – ver oor die see.

    Dit is die laaste dag van die oes, sê hy onvergenoegd. Die oes is vet. Die vrate van Rome sal weer lekker kan vreet aan die graan van Simon Niger …

    Simon … Sy frons. Jy moenie so praat nie.

    Dit is waar, my vrou. Flus het hier weer ’n graanskip aangekom. ’n Mens is nog nie eens klaar geoes nie, dan kom ry hulle dit weg Rome toe.

    ’n Graanskip? ’n Groot skip? vra sy opgewonde.

    Sy hand, grof van die werk, sluit om haar ken. Jy moet jou nie so oor Alexander bekommer nie. Hy sal nog eendag kom. ’n Mens word ontydig oud as jy jou so oor die kinders verknies. En ek wil nie hê jy moet oud word nie. Hy lag, maar in sy donker oë merk sy die verlange.

    Debora vat die vy wat sy vir hom afgeskil het, en druk dit in sy mond. Dit is ’n teer gebaar asof sy hom met iets probeer versoen. As Rufus weer huis toe kom, dan hou ons hom hier, sê sy opgewek, maar hy kan haar hartseer aanvoel.

    Rufus … sê Simon. Hy leer slim dinge terwyl sy vader moet koring skoongooi. Hy hou meer van goddelose Alexandrië as van Cirene.

    Hy word slim onder die geleerde Philo, my man. Eendag is ons Rufus dalk ’n groot man.

    ’n Groot man in die goddelose tempels van Rome? Al wat hy hoef te ken, is die Wet en die Profete, en al wat hy hoef te doen, is om te werk soos ek. Op die grond waar daar nie sonde is nie.

    Oor die glinstering van die wingerd sien sy ’n visioen wat vir haar verder lê as alles hier om hulle – verder as die see, verder as die horison waar dit lyk asof die warm lug stomend aan die groen deining raak.

    As hy leer, kan hy dalk nog die Messias dien, sê sy begeesterd.

    Simon steek ’n stuk roosterkoek in sy mond en sy oë terg haar. Jy’s ’n goeie, gelowige Jodin, my vrou. Elke somer as die swaels kom, het ons ’n nuwe messias wat Israel gaan verlos, wat Jerusalem gaan groot maak …

    Ek het ’n gevoel Hy’s die Messias … Ek kan dit nie help nie.

    Simon verstik amper. Die Messias! Hy is net so min die Messias as wat die Doper die Messias was! Neerhalend, amper bitsig praat hy. Ons het geglo die Doper is die Messias – en ou Herodes het sy kop laat afkap! Nee, ek het al genoeg van hierdie Galileër gehoor om te weet Hy is nie die Verlosser nie.

    Maar hierdie Man is anders. Hy is groot. Rufus laat weet duisende volg Hom.

    Kyk hoe het hulle agter die Doper aangeloop. Wat is groot aan hierdie nuwe Man? Hy’s ’n timmerman wat ’n spul vissers op loop geja het. Op ’n keer het hulle glad gesê Simon van Samaria is die Messias …

    Maar hierdie Man doen wonderwerke en hulle sê Hy preek net liefde …

    Simon van Samaria doen ook wonderwerke. Hy is ’n towenaar. Dié Man is maar net ’n timmerman – en Hy het sy nering laat staan om slim praatjies te praat.

    Wil jy nie die Messias sien kom nie, my man?

    My vrou, antwoord Simon, sy oë skerp, ek smag na Hom soos Israel na Kanaän gesmag het – dit weet jy. Maar Hy moet nie ’n timmerman wees wat sy oë vir Rome sluit nie. Hy moet die tempels van Rome afbreek en Jerusalem groot maak. Hy moet Israel bevry. Hy moet die wêreld van ou Tiberius verlos. Hy moet nog groter wees as Jesaja. Hy moet ’n vors wees – nie ’n rampsalige timmerman nie.

    Hy praat driftig, half in vervoering.

    Hy moet ’n profeet wees, my man – ’n priester.

    Nee! Eers ’n groot vors; dan ’n priester.

    Sy sak agteroor op haar rug, en wens ’n groot hand wil teen die lug skryf sodat sy kan weet, heeltemal seker kan weet Hy is groter as Jesaja.

    Hulle sê Hy is die seun van Dawid. Hulle sê … hulle sê God het Hom gestuur …

    Simon deins verskrik terug. Jy moenie sondig nie, Debora. Die Allerhoogste laat Hom nie bespot nie. Net daardie gedagte kan jou siel vernietig. Dit is laster … laster teen die Here.

    Sy sit vinnig regop. Ek wil nie sondig nie, sê sy bang. Ek wil net glo. Hulle vertel dan sy geboorte was ook anders. Jy weet tog …

    Skaapwagterstories. Hulle weet nie eens waar Hy gebore is nie – een klomp sê in Betlehem; een klomp sê weer in Nasaret. Hulle sê sy eie familie glo Hom nie eens nie.

    Maar baie ander …

    Net ’n klomp vissers van Galilea. Hulle glo alles. As daar ’n kol om die maan is, glo hulle die visse sal beter byt. Hoekom glo Kajafas nie? Hy is die hoëpriester. Hoekom glo Philo van Alexandrië nie? Dis net die liggelowiges van Galilea wat agter Hom aanloop omdat hulle niks anders te doen het nie.

    Hy merk die twyfel in haar oë.

    Daarom leun hy oor, met sy gesig naby hare. As Hy die Messias is, waarom doen Hy niks aan Pontius Pilatus nie? Dit is hierdie Romeinse hond wat Jerusalem besoedel het met die Romeinse tekens wat hy daarheen gebring het. Het jy dit dan vergeet? As Hy die Messias is, waarom laat Hy toe dat ek aan Tiberius moet betaal?

    Sal Hy nog kom – die Messias? vra sy, haar gemoed skielik leeg.

    Simon beduie na die plato waar die Grieke vir Cirene gebou het toe Atene nog vry was. Sien jy die pilare wat die Grieke opgesit het? Sien jy hul suilegange? Sy stem is skerp en seker. Sien jy die see van Rome hier voor ons? So seker as al die dinge hier voor jou, so seker is dit dat die Messias sal kom, want die profete sê so. Maar Hy sal nie ’n timmerman wees wat bang is vir Rome nie. Hy sal ’n vors wees wat Jerusalem sal groot maak. Hy sal ons vry maak en Hy sal ons groot maak, soos die Woord belowe.

    Sy voel hartseer maar tevrede. Al het hy haar nuwe droom verwoes, het hy haar ou droom laat herleef.

    Simon vat haar hande styf vas en druk hulle teen sy baard. Ons moet net glo, my vrou. Ons moet glo soos Josua toe hy gebid het die son moet stilstaan.

    Toe bly hulle altwee stil. Twee ibisse vlieg ooswaarts na Egipte, waar hulle heilig geag word. Ek wens ek was een van daardie voëls, sê sy. Dan was ek môre by Rufus.

    Hy drink van die koel wyn wat sy gebring het. Rufus … Alexander, sê hy met sy ou hartlikheid. Jy dink net aan hulle. Is ek dan so oud dat ek niks meer vir jou beteken nie?

    Sy lag onverwags vrolik. Jy kan nooit oud word nie, Simon Niger … Haar teerheid ontroer hom.

    En jy sal altyd deel van my hart wees, goeie vrou, of ek jonk is en of ek oud is. Jou liefde is die beste wat ek het.

    Sy staan op. Ek moet loop. Ek het werk. Bring vir my ’n skepel koring saam sodat ek kan bak.

    En braai jy vir my ’n karmenaadjie, want vanaand wil ek rus en eet en met jóú praat, want my oes is af.

    Sy sien die hoop koring, die sakke wat reeds gevul is, en sy is skielik onrustig. Jy moet versigtig wees, my man, pleit Debora.

    Hy staan op en dit lyk asof sy liggaam die hele koelte vul. Ek vra my prys vir my werk, sê hy en rek hom uit.

    Jy ken hierdie goewerneur, Simon …

    Ja, ek ken die vetsak Quirinius.

    Hy is nie onbillik nie, maar hy is streng. Onthou, hy staan onder Rome, Simon.

    Hy’s ’n Romein … Simon sê dit minagtend.

    Waarom skop jy altyd teen die prikkels? Jy gaan nog dat die ongeluk ons haal.

    Ek gaan nie vir ’n appel en ’n ei help om die leeglêers van Rome vet te voer nie.

    Met ’n sug draai sy om en loop weg. Simon kyk haar ’n rukkie agterna, toe gaan stap hy deur die wingerd. Loer onder die blare in. Die klein trosse is stewig en vol.

    Hy loop deur die boord en raak die jong olywe aan asof hy hulle seën.

    Aan die kant van sy grond gaan hy staan. Op ’n stuk kaal grond werk ’n slaaf wat geketting is aan ’n groot ysterbal om sy bene. Die man is groot en swart, lyk soos ’n Siriër. Hy swaai die skoffelgraaf stadig en elke keer as hy vorentoe beweeg, sleep hy die ketting en die ysterbal met moeite verder.

    Simon hou die man ’n hele rukkie dop. Slawerny, onderdrukking, geweld – dit is Rome, dink hy. Hulle wil almal slawe maak, maar hy sterf liewer voor hy ’n slaaf word soos hierdie Siriër.

    Hy draai om en loop na die trapvloer terug, tel die jaagbesem op en piets weer liggies oor die hoop. Raps hier en daar nog ’n litjie weg wat oorgebly het.

    Esegiël en Juba het klaar geëet. Hulle kom terug en met die houtgaffels gooi hulle die laaste bietjie kaf in die lug op.

    Net toe Esegiël weer ’n bondel kaf opgooi, sien hy die ruiter op ’n stywe draffie aankom deur die jong wingerd wat hy Simon net verlede jaar hier help aanlê het.

    Esegiël se gaffel bly in die lug hang. Hy loer vinnig na Simon.

    Hier kom ’n Romein aan, sê Esegiël. Juba gaan staan opsy, onderdanig en bang.

    Simon Niger kom orent en gewaar die Romein wie se wit kleed in die luggie fladder. Agter hom twee soldate, hul rooi helmpluime wippend soos die perde draf.

    Simon loop drie tree vorentoe. Dit is die bullebak Vitellius, Quirinius se taksateur, sê hy oplopend.

    Hy kom sê seker vir jou vir hoeveel jy jou koring moet verkoop.

    Simon klem die steel van die jaagbesem stywer vas.

    Vitellius en die twee soldate kom ploeë hier in die dorsvloer op, vlak voor Simon.

    Vir wat vertrap julle my wingerd? kners Simon. Hier loop ’n pad oor die terrasse.

    Ek ry waar ek wil, antwoord die vet Vitellius. Ek het kom kyk hoeveel koring jy skoon het. Die koringskip is hier.

    Dis my wingerd …

    Jy met jou wingerd en al is die eiendom van die deurlugtige Tiberius. Vitellius lag uit sy maag. Jy is ’n Jood en jy benat jou grond met die water wat die groot Augustus hiernatoe laat bring het.

    Dit is my grond dié …

    Vitellius steek sy bruin perd met die hakke sodat die dier runnikend steier en Simon amper in die gesig kap. Die Romein lag uitbundig. As jy nie oppas nie, vat ons nog jou grondjie af en maak jou ’n galeislaaf. Jy het lekker sterk skouers vir die roeispane.

    Die twee soldate trek hul swaarde uit die skedes.

    Dit is toe dat Simon met die steel van die jaagbesem na Vitellius slaan. ’n Vinnige, moordende swaaihou.

    Esegiël verstar van die skok, want Simon is ’n Jood en Vitellius ’n Romein …

    2

    Simon het Vitellius amper uit die saal geslaan, maar hy bly sit, al staan sy perd verskrik op sy agterpote. Een van die soldate laat sy perd vorentoe spring, sy swaard omhoog, maar Esegiël vang hom met die tande van sy gaffel onder die blad en stamp hom uit die saal. Terselfdertyd steek Simon die perd van die ander soldaat met die steel van sy jaagbesem in die lies. Die perd maak sy rug krom en gooi die soldaat dat hy met ’n hik teen die koringhoop val.

    Toe bestorm die twee soldate vir Simon en Esegiël, hul swaarde omhoog. Maar Vitellius, sy pokkelgesig blink van die sweet, skreeu op hulle. Moenie die twee honde nou doodmaak nie. Ons sal hulle aan die wraak van Quirinius oorlewer. Die swaard is vir hulle te genadig. Ons het lanklaas iemand in Cirene gekruisig.

    As jy jou pote weer op my grond sit, steek ek jou met daardie gaffel deur jou groot maag, Lucius Vitellius, sê Simon, en staan dreigend nader.

    Daarvoor sal daar nie tyd wees nie, Simon Niger, sê Vitellius uit die hoogte. Ek sal nou dadelik vir Quirinius gaan sê twee Joodse honde het sy taksateur en twee soldate van Rome aangerand. Het jy vergeet wat die straf vir aanranding op ’n Romein is?

    Simon is so kwaad dat hy vir eers nie kan praat nie.

    Sononder, beveel Vitellius, moet al die koring in sakke wees, want vannag moet dit gelaai word. Die prys is een en ’n half denarius die mud.

    Ek vra twee denarii die mud, antwoord Simon. Ek verkoop nie vir minder nie. Jy kan dit vir Quirinius gaan sê; jy kan dit vir daardie ou kinds Tiberius gaan sê as jy lus het.

    Vitellius glimlag snedig en meerderwaardig, en die twee soldate vat hul swaarde vaster.

    Die prys is vasgestel deur Cornelius Marsus, hoofgraanbeampte in Rome, sê hy. Nie ’n quadrans minder nie en nie ’n quadrans meer nie. Ek het klaar gepraat. Vannag word die koring gelaai.

    Vitellius trek sy perd om en ry op ’n stywe galop deur Simon se wingerd weg, gevolg deur die twee soldate. Blare en teer lote breek om die hoewe.

    Simon gaan sit stadig

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1