Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Engele by ons
Engele by ons
Engele by ons
Ebook242 pages7 hours

Engele by ons

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Hoeveel beskermengele is daar per persoon? Word mense engele wanneer hulle sterf? Waarvandaan kom engele? Wat is hul aandeel in die geesteswêreld?
Engele by ons is ’n interessante studie oor engele en beantwoord die mees algemene vrae oor hierdie geestelike wesens. Dit beskryf verskeie persoonlike ontmoetings met engele, waarna die skrywer fokus op wat die Bybel oor engele sê. Sy tref ’n duidelike onderskeid tussen goeie en slegte engele en sluit ook afdelings oor drome, visioene en gesigte, die kwessie van beskermengele, gebedsverhoring en engele en spiritualiteit in.
LanguageAfrikaans
PublisherLux Verbi
Release dateApr 1, 2014
ISBN9780796317889
Engele by ons
Author

Susanna S.J. Wiese

Sannie Wiese het ’n groot rol gespeel in die stigting van die eerste NGK Bybelskool in die land (Aasvoëlkop). Sy was vir tien jaar verbonde aan dié Bybelskool. Sy lei steeds Bybel-studiegroepe en gee lesings by Bybelskole. Sy is sedert 1996 is ’n gereelde spreker by byeenkomste en het oor die jare ’n deeglike studie oor engele gedoen. Sy dien in die bestuur van die ACVV, Straatwerk en is lidmaat van die Groote Kerk in Kaapstad.

Related to Engele by ons

Related ebooks

Related articles

Reviews for Engele by ons

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Engele by ons - Susanna S.J. Wiese

    Die mens wat nie die Gees van God het nie, aanvaar nie die dinge van die Gees van God nie. Vir hom is dit onsin. Hy kan dit ook nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel moet word.

    – 1 Korintiërs 2:14

    Voorwoord

    Ek bied jare lank al lesings aan oor die onderwerp van engele. As gevolg van ’n groot behoefte aan nog inligting oor engele, het my lesings uitgebrei en mettertyd uitdrukking gevind in twee boeke, Engele by ons (1996) en Mense en engele as geestelike wesens (2002). Vir ’n omvattende geheelbeeld is hierdie twee boeke saamgevoeg as een.

    Vrae oor engele het egter intussen ’n aansienlike klemverskuiwing ondergaan. Aanvanklik was die vrae eenvoudig: Hoe lyk engele? Waar woon hulle, en hoeveel van hulle is daar? En dikwels ook: Het elke mens hul eie beskermengel?

    Gaandeweg het vrae egter begin verskuif na die meer geestelike vlak, asook na die groot grys gebied waar breinkrag, besluitneming, die werk van die Heilige Gees, gebedsverhoring en esoteriese tegnieke ter sprake is.

    Die doel van hierdie boek is om die algemeenste vrae te bespreek wat oor engele gevra word. Dit het gou vir my duidelik geword dat hedendaagse vraagstukke op teologiese sowel as sielkundige vlak ondersoek moet word. Hiervoor het ek Abraham le Roux, ’n kliniese sielkundige, genader om ’n bydrae te lewer tot van die aspekte wat in die boek bespreek word.

    Met die toenemende belangstelling in engele oor die afgelope jare, word daar nou groter klem gelê op geestelike dinamika. Dit is waarskynlik te wyte aan ’n gebrek aan begrip oor wat engele se aandeel in die geesteswêreld werklik is. Mense wil graag meer weet oor watter geestelike kragte inherent in elke mens is; watter aspekte van geestelikheid ’n mens self kan genereer en uitbou; en hoe ’n mens jou eie geestelikheid kan inspan om jou lewensgehalte te verbeter.

    Sommige mense is verward oor die rol van hul eie geestelikheid en die rol van engele, en hierdie verwarring word dikwels deur Nuwe Era-denke aangevuur; denke wat mense aktief aanmoedig om deur hul eie geestelike inspanning met engele kontak te maak. Die doel van hierdie boek is egter nie om as ’n handleiding te dien vir die leser wat deur sy eie geestelike inspanning met engele in aanraking wil kom nie. Dit is eerder geskryf vir Christene wat nie die nodige tyd het om self navorsing te doen nie, of wat nie toegang tot toepaslike navorsingsbronne het nie, maar nietemin graag groter duidelikheid wil verkry oor die ineengestrengelde terreine waarop die onderwerp van engele deesdae bespreek word.

    Hoewel daar heelwat boeke oor engele beskikbaar is en heelwat sprekers toesprake oor engele lewer, bevat sulke boeke en toesprake dikwels slegs legendes en mites, of hou hulle hul besig met dwaalleringe of die okkulte, sonder om aandag te gee aan wat in die Bybel oor engele vervat is. As ’n mens meer oor ’n spesifieke onderwerp wil weet, moet jy immers na die oorsprong teruggaan. Vir Christene is dit die Bybel, waar die meeste gelowiges waarskynlik vir die eerste keer van engele te hore gekom het.

    Mense het nou maar eenmaal die neiging om dinge wat buite hul begripsvermoë val as onsinnig af te maak. Almal praat graag saam, en bespiegel selfs, oor engele, maar hulle is nie bereid om te aanvaar wat in die Bybel oor engele geskryf is nie. Dit betaam gelowiges egter om met ontsag en in onderworpenheid aan die gesag van die Skrif verdere ondersoek na engele in te stel. En hiervoor het ’n mens die Heilige Gees nodig, wat in gelowiges woon.

    Ek hoop om op ’n toeganklike manier nog inligting te verskaf in antwoord op die algemeenste vrae wat deesdae omtrent engele gestel word. Ek vertrou dit sal groter duidelikheid en dieper insig tot gevolg hê aangaande wat in die Bybel vervat is omtrent engele – die magtige en heilige dienaars in God se hemelryk, wat vir elkeen tot diens is. Mag hierdie boek groter helderheid oor die mens as geestelike wese bring.

    Daar word eers gekyk na algemene vrae oor engele, waarna daar ’n afdeling oor persoonlike ontmoetings of ervarings met engele is. Daarna word stilgestaan by dit wat die Bybel oor engele openbaar.

    Om leesbaarheid te vergemaklik word daar telkemale na die manlike vorm verwys wanneer van ’n individu gepraat word. Dit sluit wel die vroulike ook in.

    Sannie Wiese

    Inleiding

    Wanneer ’n mens oor die onsienlike en die bonatuurlike praat, praat jy oor sake wat nie altyd deur die beperkte menslike verstand verklaar of verstaan kan word nie. Dit sou dus verkeerd wees om bloot uit nuuskierigheid meer oor engele te wil weet sonder om in Bybelse verband na hulle as God se dienende geeste te kyk.

    Ek glo die Here wil hê sy kinders moet elke aspek waaroor Hy in sy Woord praat gelowig en biddend ondersoek. Omdat die engele nie net ’n geringe plek in die Bybel inneem nie, is dit nodig dat ’n mens ook aan hulle aandag skenk en probeer uitvind wat God gelowiges in sy Woord oor hierdie hemelse wesens leer. Daarsonder sou ’n studie van die Bybel nie volledig wees nie.

    Boonop is dit vir kinders van die Here ’n wonderlike troos en bemoediging om meer oor die werk van engele uit te vind en te weet in hoe ’n groot mate hulle mense hulp, vertroosting, bewaring en bystand kan bied wanneer hulle dit die nodigste het.

    Christene kan in die versoeking kom om te dink dat iemand ’n spesiale uitverkorene van God is net omdat ’n engel aan hom verskyn het. Of dat so ’n verskyning ’n teken sou wees van die persoon se gevorderdheid in die geloof. Sulke uitgangspunte is egter mistastings en onbybels.

    In hierdie studie van engele, net soos in enige ander Bybelstudie, moet die klem altyd val op die Skepper, nie op sy skepsels nie. Hierdie studie wil ook hê dat alle oë op Jesus gerig sal word, die Skepper van en Heerser ook oor engele. Johannes Calvyn het destyds al gewaarsku dat mense geneig sal wees om sonder Bybelse getuienis na engele te kyk en wanneer dit gebeur, beland ’n mens vir seker op dwaalspore.

    Algemene vrae oor engele

    twirl.jpg

    1

    Beskermengele

    Die vraag wat ongetwyfeld die meeste tydens gesprekke oor engele bespreek word, is of elke mens sy eie beskermengel het.

    Die idee van ’n persoonlike beskermengel is baie sterk gevestig en daar word daagliks in gesprekke na hulle verwys: Sy beskermengel moes oortyd werk om hom veilig uit daardie situasie te kry; Dis ook maar goed elke kind het ’n beskermengel, anders het hy nou lelik seergekry; en Toemaar, sy beskermengel sal hom veilig terugbring. Mense voel veilig en geborge in die wete dat elkeen ’n engel het wat na hom persoonlik omsien en die verantwoordelikheid vir sy veiligheid dra.

    Mense verwys graag na Psalms, Handelinge en Matteus om hul siening oor persoonlike beskermengele te staaf. In Handelinge 12 staan daar dat die diensmeisie Rodé Petrus se stem herken toe hy uit die tronk kom en aan die deur kom klop. Die mense in die huis is egter nog onder die indruk dat hy in die tronk is en sê sy misgis haar – dit moet Petrus se engel wees wat gepraat het. Hulle aanvaar dus dat hy ’n persoonlike engel het wat met ’n stem praat wat nes syne klink. Hieruit word afgelei dat elkeen ’n persoonlike beskermengel het, wat per geleentheid namens jou optree en wat soos jy kan praat of selfs, indien nodig, soos jy kan lyk.

    In Matteus berispe Jesus sy dissipels wat die kindertjies wou wegjaag deur te sê dat hul engele voortdurend voor God in die hemel staan (vgl. Matt 18:10). Hieruit word afgelei dat elkeen ’n persoonlike beskermengel het wat met sy geboorte aan hom toegewys word om hom deur sy lewe heen en tot op sy sterfbed te vergesel.

    Tog is die getuienis waarop hierdie uitgangspunt berus skraal en is dit slegs afleidings wat uit teksverse gemaak word. Dis egter ook so dat niks in die Bybel dit weerspreek nie. Wat die Bybel wel sê, is dat daar miljoene der miljoene engele in God se diens is wat Hy tot mense se beskerming kan aanwend (vgl. Op 5:11; Ps 91:11).

    Hierdie idee van persoonlike beskermengele word daagliks by mense versterk: Dis die primêre begrip waarop mense wat hulle deesdae met engele bemoei, klem lê. Mense wat vanuit ’n Nuwe Era-perspektief na engele kyk, is nie die enigstes wat hoë prioriteit aan beskermengele gee nie; alle ander verwante groepe plaas ook baie sterk klem op persoonlike beskermengele. Ook in die mitologie figureer beskermengele sterk, tesame met wraak- of doodsengele. Wanneer werksessies aangebied word, word veral gekonsentreer op hoe om jou eie beskermengel te ontmoet. Jy word op sy naam aan hom voorgestel en verder word jy geleer hoe om met hom te kommunikeer. Jy word selfs begelei in die kuns van hoe om opdragte aan jou beskermengel te gee en hoe om hom vir jou te laat werk.

    Of daar nou vanuit die mitologie, vanuit ’n Nuwe Era-perspektief, vanuit ’n godsdienstige of kwasigodsdienstige oogpunt, of uit watter ander perspektief ook al na engele gekyk word, beskermengele is hoog op die lys.

    Deesdae word daar vanuit alle oorde al hoe meer klem gelê op ons spiritualiteit. Mense wil toenemend vanuit hul eie vermoëns beheer oor hul lewens hê. In die proses word verskeie spirituele tegnieke ingespan wat sogenaamd wonderlike resultate en genesings tot gevolg het. Daar word gepoog om energievelde op verskeie maniere te manipuleer en verskeie kognitiewe tegnieke word ingespan om byvoorbeeld trauma onmiddellik te verwerk of om positief te dink. Ek wil geensins ontken dat verskeie van die tegnieke wel verrassende resultate oplewer nie.

    Nou raak Christene verward, want aan die een kant weet hulle dat daar feitlik nie beperkings is op wat die mens met sy brein kan vermag nie en niemand wil ontken dat die mens nog nie naastenby die volle krag van sy grysstof ingespan het nie. Maar hiermee saam het mense nie beheer oor genesing, fisiek of psigies, nie. Hulle kan slegs die klimaat skep wat die beste omstandighede is waarin genesing vanself kan plaasvind. Mense kan nie self genees nie – selfs nie eens die beste mediese spesialis of die talentvolste geestelike geneser met die beste tegnieke kan ander genees nie. Mense kan net versorg. Deur versorging skep hulle die klimaat waarin genesing plaasvind. Genesing bly steeds ’n Goddelike wonder wat mense net met groot ontsag kan sien gebeur. In die uitvoering van hierdie wonder gebruik God ook sy engele.

    Mense moet dus nie engele verwar met spirituele tegnieke nie. Nee, engele is nie kragte, magte of idees nie. Engele is geskape geestelike wesens tot eer en in diens van God. Mense kan hulle gerus bemoei met enige geesteswetenskap of sielkundige stroming wat hulle verkies, maar hierdie dinge staan apart van engele.

    Engele is nie ’n geesteskrag wat ’n mens deur die inspanning van die brein kan optower wanneer jy hulle nodig het nie. Om die waarheid te sê, jy kan nooit deur middel van wilsinspanning, meditasie, konsentrasie of deur die dink van skoon en opheffende gedagtes self met engele in aanraking kom en so hul hulp verkry nie. Hiermee wil ek nie mediese, sielkundige of selfs esoteriese tegnieke afmaak nie. Die wetenskap kan nog baie verder ontwikkel om die ideale klimaat vir genesing te skep. ’n Mens moet onthou dat selfs die ingrypendste hartoperasie slegs klimaatskepping is vir genesing. Veral op sielkundige vlak begin mense nog net verstaan waartoe die brein werklik in staat is wat die bevordering van genesing betref. Al wat ek hiermee wil beklemtoon, is dat hierdie denkrigtings en wetenskappe nie betrekking het op engele nie, want hulle is nie gedagtes of idees nie. Engele is geskape wesens.

    Vir Christene is dit ’n groot versekering en troos dat ’n mens van God afhanklik is vir jou beskerming. Dawid bevestig dit in Psalm 3:9 wanneer hy sê: Hulp kom net van die Here af. Om die waarheid te sê, God het nie engele nodig om enigiets uit te voer wat Hy gedoen wil hê nie. God is almagtig en algenoegsaam, maar uit die Skrif is dit duidelik dat God kies om engele te gebruik wanneer daar diens aan mense gelewer moet word. Ek vra van God bewaring en veiligheid vir myself en almal vir wie ek bid, maar ek gaan beslis nie aan Hom voorskryf hoe Hy daardie beskerming moet voorsien nie. Ek vra van God, ek ontvang van God en ek dank God vir beskerming. God het die Heilige Gees en die ganse hemelryk (wat nie net uit engele bestaan nie) en Hy kan dit aanwend soos Hy goeddink. En ek prys Hom daarvoor.

    Psalm 91:11 is seker die teksvers wat die meeste aangehaal word wanneer daar oor beskerming deur engele gepraat word. ’n Mens moet net onthou wat daar presies geskryf staan: Hý [my beklemtoning] sal sy engele aangaande jou bevel gee om jou te bewaar op al jou weë (1953-hersiening). God sal besluit of engele ingespan moet word vir ’n mens se veiligheid. Engele is in God se diens vir jou bewaring. Jy vra van God volgens sy Woord, jy ontvang van God en jy dank Hom daarvoor.

    Hoekom gebruik God dan hoegenaamd engele as Hy hulle nie nodig het om dinge gedoen te kry nie? Calvyn gee dalk die beste ant­woord: om mense in hul swakheid te troos. Die volgende vraag is op ’n keer aan my gestel: Met Adam en Eva was daar net twee beskerm­engele – een vir hulle elkeen. Maar nou is daar miljoene mense op die aarde. Waar kom al die beskermengele nou vandaan? Dit weerspieël die uitgangspunt dat elke mens ’n persoonlike beskermengel het wat van geboorte tot afsterwe by hom teenwoordig is. As daar dus net twee mense is, is daar net twee engele nodig. Die Bybel leer ’n mens dat daar met die skepping reeds miljoene der miljoene engele geskape is en dat almal in God se diens tot mense se beskikking is (vgl. Op 5:11; Heb 1:14).

    Daar kan dus nie met sekerheid gesê word of elke mens net een engel het wat oor hom waghou nie. Een ding is wel seker: As gelowiges meer bewus was daarvan dat God deur engele beskerming voorsien – maak nie saak of daar net een of baie is nie – sou hulle beslis minder bang gewees het vir hul vyande en in hul omstandighede. Die probleem is, mense wil leef volgens wat hulle sien en nie deur geloof nie. Geloof maak voorsiening vir God se voortdurende bewaring deur middel van engele.

    Dit is te verstane dat mense deesdae angstig vasklou aan die idee van ’n persoonlike beskermengel; dit verskaf ’n gevoel van sekuriteit in ’n misdaadgeteisterde en soms chaotiese wêreld. ’n Mens sien al hoe meer dat mense na die bonatuurlike, die buiteruimtelike of die metafisiese uitreik vir uitkoms. Dit is asof daar iewers hulp en beskerming vandaan moet kom wat groter is as wat mense self kan genereer. Hulle wag op ’n soort innerlike sekuriteit wat vanaf ’n hoër liefde of wysheid moet kom en hulle deur die vrese en gevare van hul onmiddellike bestaan moet dra.

    Billy Graham sê tereg: Engele is dalk dikwels ons metgeselle sonder dat ons besef hulle is daar. Ons weet maar min van hul deurlopende bediening. Die Bybel beloof egter dat die skille eendag van ons oë sal val en dat ons dan die volle omvang sal begryp van die aandag wat engele aan ons gegee het.

    Miskien som Johannes Calvyn dit die beste op:

    Of spesifieke engele aangestel is vir individuele gelowiges se beskerming, kan ek nie met oortuiging beaam nie. Spesifieke engele is wel aangestel as bewaarders oor koninkryke en provinsies. Ons moet as ’n feit aanvaar dat die bewaring van elkeen van ons nie die taak van ’n enkele engel alleen is nie, maar dat almal met dieselfde doel oor ons veiligheid waak. As die feit dat ’n hele leërskare van hemelwesens oor sy veiligheid waak nie vir iemand genoeg is nie, kan ek nie sien watter voordeel hy kan trek uit die feit dat slegs een engel aan hom gegee is om toe te sien dat hy veilig is nie. God beloof om vir ons te sorg en dat Hy ontelbare beskermers het aan wie Hy opdrag gegee het om te sorg vir ons veiligheid.

    2

    Waar was die engele toe?

    Wanneer mense – meestal kinders of gelowiges – seerkry, word dikwels gevra: As elkeen ’n beskermengel het, waar was daar­die engel toe my kind verongeluk het?

    Die maklikste sou wees om te sê daar is nie ’n antwoord op so ’n vraag nie. Hoewel die Bybel nie ’n volledige antwoord hierop gee nie, sou dit onbillik wees om nie te let op wat die Bybel wel hieroor sê nie.

    Eerstens beweeg mense met die lewe en die dood op die terrein van God se toelaatbare maar ongeopenbaarde wil. God is die Een wat uiteindelik besluit wat waar sal gebeur. Selfs Satan staan onder sy beheer en ook engele voer nie hul eie besluite uit nie; hulle is volkome en onvoorwaardelik gehoorsaam aan God se opdragte en doen net wat Hy sê. Engele is dus heeltemal onskuldig aan die onverantwoordelikheid waarvan hulle met so ’n vraag beskuldig word.

    Die beste antwoord op die vraag lê opgesluit in Jesus se kruisiging. Hoekom het die engele Hom nie daar afgehaal nie? Of waarom het hulle nie die soldate wat Hom gekruisig het met lamheid geslaan nie? Hulle het nie, want hulle het nie so ’n opdrag van God ontvang nie. Die kruis was die kern van God se liefdesplan – sy verlossingsplan vir die wêreld. In sy groot liefde wou Hy Jesus nie die kruis spaar nie, want dan sou ek nie verlos kon word nie. Verstaan ek dit? Nee, maar ek aanvaar dit in die geloof, met onuitspreeklike dankbaarheid vir my verlossing.

    ’n Mens moet bid vir die genade om nooit aan God se liefde te twyfel nie en om altyd te aanvaar dat Hy sy volgelinge net die beste wil gee, al ervaar hulle slegte dinge en hartseer. As ’n mens terugskouend kon kyk, soos God nou reeds doen, sou jy dalk kon sien dat God sy kinders volgens sy wyse raadsbesluit ten goede lei, al ervaar hulle dit op daardie oomblik as uiters traumaties. ’n Mens moet altyd onthou dat God en sy engele buite mense se tyd en ruimte funksioneer. As ’n mens sê dat God weet wat goed is vir sy kinders, beteken dit dat God alles in die geheel en in volmaaktheid sien. Toe God op die sewende dag sien sy skepping is goed en toe gaan rus, het Hy sy skepping as volledig, afgehandel en

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1