Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Christo Wiese: Risiko en rykdom
Christo Wiese: Risiko en rykdom
Christo Wiese: Risiko en rykdom
Ebook291 pages4 hours

Christo Wiese: Risiko en rykdom

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Op sy dag eienaar van 'n diamantmyn, 'n wynplaas én die duurste huis in Kaapstad. Voorsitter van Suid-Afrika se grootste kleinhandelaar. Direkteur van die Reserwebank, en die rykste man in die land. As jong man het Christo Wiese sy tande by Pep Stores geslyp. Mettertyd bou hy 'n magtige sakeryk op, wat Shoprite en 'n rits ander maatskappye insluit. Sy wenresep: 'n eindelose liefde vir transaksies, 'n vreeslose aptyt vir risiko en 'n oog vir 'n winskopie. Dié sjarmante sakeman was nog nooit bang om 'n kans te waag nie. Die berekende risiko's wat hy oor 50 jaar neem, maak hom hoogs suksesvol. Tot hy die meubelgroep Steinhoff teëkom, en dinge lelik skeefloop. Sakejoernalis en skrywer TJ Strydom vertel die verhaal van een van Suid-Afrika se bekendste sakereuse op 'n vars, pakkende manier.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateApr 3, 2019
ISBN9780624085898
Christo Wiese: Risiko en rykdom
Author

TJ Strydom

TJ STRYDOM is 'n skrywer en sakejoernalis wat al vir Beeld, The Times en die nuusdiens Reuters gewerk het. Christo Wiese: Risiko en rykdom is sy eerste biografie, maar hy skryf ook fiksie onder sy bynaam, Wortel Strydom. Onder dieselfde naam het hy opgetree in die verhoogproduksies Retoer, Jammer, Ma en Geen kansvatters. Hy het vier van Jan Braai se resepteboeke vertaal. Hy hou van lees, fliek, reis, wyn, rugby kyk en braai. Sy gunstelingskrywer is Cormac McCarthy en hy is mal oor die TV-reeks The Simpsons. Hy is die eienaar van agt (ja, agt) Steinhoff-aandele en het verder geen direkte blootstelling aan enige Wiese-verwante maatskappye nie. Hy het in Pietermaritzburg grootgeword en op Stellenbosch studeer. Hy geniet vasvrakompetisies en as iemand ooit 'n biografie oor hom sou skryf, hoop hy hulle kan geen bewyse opspoor van sy katastrofiese verskyning in 2001 op die TV-program Who Wants to be a Millionaire? nie. Strydom is getroud en woon in Johannesburg.

Related to Christo Wiese

Related ebooks

Related articles

Reviews for Christo Wiese

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Christo Wiese - TJ Strydom

    TJ Strydom

    Christo Wiese

    Risiko & rykdom

    Tafelberg

    Aan die liewe Lejanie. My vennoot in alles.

    1.

    Bagasie

    As ’n man so ’n boek skryf, ’n biografie, dan moet hy die waarheid vertel. En as ek die volle waarheid vertel, sal ek ’n klomp mense in die verleentheid stel, insluitende myself.

    Christo Wiese in ’n aanvanklike telefoongesprek oor hierdie boek, 2018

    Slumdog Millionaire se temaliedjie pomp elke nou en dan oor die radio.

    Jai Ho! … Catch me, catch me, catch me, c’mon catch me, sing Nicole Scherzinger en die Pussycat Dolls op ’n koel oggend in Londen. Die liedjie is al drie weke onder Brittanje se toptien.

    Die kwik gaan vandag nie hoër as 11 grade Celsius styg nie. Dis bewolk en dit lyk nogal of dit gaan reën.

    Christo Wiese is op pad lughawe toe. Dit neem minder as ’n uur van die Ritz Hotel tot by die terminus. London City Airport is ’n gunsteling onder sakereisigers. Baie nader aan die stad as Heathrow of Gatwick en met ’n vinniger prosedure by die vertrektoonbank.

    Wiese wil vroeg Luxemburg toe vlieg en sommer dieselfde dag nog terugkom. Dis ’n Maandag in April en hy was die naweek by ’n troue in Rusland. Sy vlug Moskou toe is só bespreek dat hy die vorige Woensdag nog eers sy kruisie in Kaapstad kon trek voordat hy vertrek het.

    Ek het geen rede om te glo Jacob Zuma gaan ’n swakker job doen as enigiemand anders nie, het die Sondagkoerant Rapport hom gister aangehaal.¹

    Ongeag vir wie Wiese gestem het, Zuma en die ANC het 11,6 miljoen kiesers se steun gekry en die algemene verkiesing met ’n stewige meerderheid gewen. Ander sakelui is bekommerd oor die nuwe man wat na die Uniegebou op pad is, maar Wiese is die ewige optimis.

    Wat’s die moontlike voordeel daarin om negatief te wees? Ek weet ons land het probleme. Alle lande het, en jy’s tog beter toegerus om die uitdagings en probleme te hanteer waar jy bly en die terrein ken.

    Vandag betree hy onbekende terrein.

    ’n Doeanebeampte deursoek Wiese se handbagasie en kry ’n klomp banknote – altesame £120 000 (destyds meer as R1,5 miljoen) in gebruikte £50- en £20-note. Die beampte vra hom uit oor dié bonanza.²

    Dit kom uit ’n kluis in die Ritz Hotel, maar tot einde verlede jaar was dit in ’n kluis by UBS-bank hier in Londen, vertel hy. Op ’n vorm wat ’n beampte hom in die hand stop vul hy sommer vinnig in dat hy die geld saamdra om dit iewers veilig te gaan bewaar.

    Wiese gee die beampte die nommer van die persoon om te bel by UBS-bank. Hy gee ook sy boekhouers se nommer.

    ’n Rukkie later deursoek die personeel Wiese se ingeboekte bagasie en kry nog ’n spul note, party erg gehawend, wat sommer met rekkies in bondels gebind is. Hulle skat dit op tussen £400 000 en £500 000. Dit is eintlik £554 920 (nog sowat R7 miljoen).

    Nou hoekom het hy nie die klomp geld op daardie vorm verklaar wat hy nou net ingevul het nie?

    Nee, hy dog hulle vra net oor die geld in sy handbagasie.

    Wiese verduidelik dat hy ’n gereelde besoeker aan die Verenigde Koninkryk is. Hy vertel dat Pepkor 4 000 winkels het wat ’n verskeidenheid goedere verkoop. Die geld wat hulle hier in sy tasse sien, kom van Suid-Afrika en is verdien uit verskeie diamanttransaksies in die 1980’s en 1990’s. Die geld is as reisigerstjeks die land uitgeneem en in die buiteland gewissel en die opbrengs is toe gebêre, sê hy. Die geld is óf Brittanje óf Switserland toe gebring weens Suid-Afrika se valutabeheerreëls.

    Hy is nou juis op pad Luxemburg toe om die geld daar te laat belê of self ’n rekening oop te maak.

    Nou hoekom hou hy die geld dan al die tyd in ’n kluis en nie in ’n bank nie?

    Hy wil nie ouditspore agterlaat nie, want voorheen het Suid-Afrika jou nie toegelaat om geld in die buiteland te hou nie. Deur dit in kluise te hou is daar geen papierroete nie, verduidelik hy.

    Wiese is deurgaans hoflik en gee sy samewerking. Hy kan gaan. Maar sy geld bly in Brittanje. Die owerhede doen aansoek dat hy dit aan Haar Majesteit verbeur.³ Vir hulle lyk dit of die tasse vol note deel van ’n geldwassery is.

    2.

    Die retailer

    Hy het altyd sy eie klein besigheid gehad. En dit het altyd ’n kleinhandel-element gehad.

    Christo Wiese oor sy pa, in ’n TV-onderhoud, 2015

    Die lewe van ’n soldaat in die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC) is nie ’n piekniek nie. Jy onderneem lang seereise in haglike toestande. Dis gevaarlik. Jy vaar om die Kaap van Storms om by die eilande uit te kom wat eeue later as Indonesië bekend sal staan. Jy doen diens in onherbergsame plekke waar tropiese siektes jou lewe kan eis. En dan is dit boonop bedompig en minstens 10 grade warmer as Holland op sy ergste.

    In Amsterdam werk jy gewoonlik net as soldaat of matroos vir die VOC as jy geen ander keuse het nie. Miskien as die familiebesigheid in Nederland nie iets is waaraan jy jou lewe wil wy nie.

    Dit is wat die jong Benjamin Wiese in 1712 doen. Hy leen geld by sy vader, ook Benjamin, en sluit aan by kaptein Jan van der Merkt van die Arion, ’n seilskip wat ’n vrag van 630 ton kan dra, en met ’n bemanning van 158. Hy maak dit tot in die Kaap de Goede Hoop, waar hy vyf weke vertoef en dan na Batavia vaar.

    ’n Jaar later het hy genoeg gehad. Wiese vind sy pad terug na die Kaap, tree uit diens as soldaat en bly aan as ’n vryburger. Sy tydsberekening was goed én sleg.

    Goed, want in 1714 verdwyn die Arion op pad Japan toe in die Suid-Chinese See. Sleg, want daar is ’n pokke-epidemie in die Kaap. Siekte trek Wiese ook plat, hoewel dit nie duidelik is of dit pokke of ’n ander kwaal is nie, en hy is so bekommerd dat hy in Mei 1713 ’n testament laat opstel. Hy het geen kind of kraai nie.

    Hy herstel egter en trou vroeg in 1714 met Hester Mostert, ’n jong weduwee. Saam het hulle drie seuns. In die geboortejaar van hul jongste, Pieter, verlaat Benjamin die Kaap omdat hy sukkel om werk te kry. Hy wil ook na sy oorlede vader se boedel gaan omsien.

    Hester is ’n paar jaar later agter hom aan en los haar seuns in die sorg van die Weeskamer.

    Of sy en Benjamin dit ooit weer teruggemaak het tot in die Kaap, is moeilik om vas te stel, maar hulle het mekaar in Amsterdam gevind. Daar het hulle in 1728 die geboorte van ’n dogter geregistreer.

    Pieter Wiese, die enigste van die drie broers met opgetekende afstammelinge, is self ook ’n tyd lank ’n matroos vir die VOC. Nadat hy met Margaretha Swart op Stellenbosch trou, besluit hy boerdery bied dalk ’n beter lewe. In 1743 kry hy goedkeuring om sy skape by Vaderlandscherietkloof op Piquetbergen te laat wei. Hiervoor moet hy binne ’n maand 24 riksdaalder aan die Kompanjie betaal. Daarna moet dit jaarliks betaal word. In 1748 kry hy ook toestemming om skape op ’n lappie grond aan die Hollerivier te laat wei.

    Pieter is effe van ’n kansvatter want teen 1754 is hy al vier jaar agterstallig met sy jaarlikse betalings aan die VOC.

    So byna of dit is die einde van die Wiese-naam, want Pieter en Margaretha verwek vier dogters in ’n ry voor die koms van Petrus Benjamin rondom 1751.

    Terwyl die Industriële Rewolusie in Brittanje aan die gang is met fabrieke wat opspring en goedere vervaardig, is die ekonomie aan die Kaap hoofsaaklik op boerdery gerig. Daar word min aan die suidpunt van Afrika gemaak, behalwe kinders.

    Petrus Benjamin trou nog voordat hy 19 is met Isabella Loubser en saam het hulle 10 spruite. Die jongste is Tobias, gebore in 1791. Hy ervaar as kind die laaste doodsnikke van die Kaap wat Hollands is. Brittanje annekseer die nedersetting in 1795 tydens die Franse Revolusionêre Oorloë om te keer dat Frankryk beheer oor so ’n strategiese handelspos kry. Teen hierdie tyd woon daar meer as 60 000 mense in die kolonie, onder wie sowat 26 000 slawe.

    In 1803 neem die Bataafse Republiek die bestuur van die Kaap oor, maar drie jaar later besluit die Britse Ryk finaal dat hy eerder die nedersetting moet regeer. Tobias se kinders word groot in ’n land waar Engels die amptelike taal is.

    Sy seun Tobias Gerhardus is maar 10 jaar oud en nog te jonk om te boer toe slawerny in 1834 afgeskaf word. Baie van die boere, wat Nederlands praat en hulle teen dié tyd Afrikaners noem omdat hulle sterker bande met Afrika as Europa het, trek diep die binneland in om onder die Britse Kroon uit te kom.

    Tobias Gerhardus is nie een van die Voortrekkers nie. Hy trek Cederberge toe waar hy eers op die ouderdom van 45 die knoop deurhak met Christina Koch. Hoe nader jy aan die Kaap is, hoe minder grond is daar beskikbaar en hoe meer moet jy daarvoor betaal. Die regulasies en belastings wat die Britte met hulle saamgebring het, word ook baie beter toegepas wanneer jy Tafelberg kan sien. Daarom trek die boere al hoe verder noord van die Kaap op soek na geskikte grond.

    Dit is in die distrik Clanwilliam, in die wêreld waar sy oupagrootjie destyds skape laat wei het, waar Tobias Gerhardus se eerste seun, ook Tobias Gerhardus, in 1871 gebore word. Die jonger Tobias Gerhardus trek nóg 80 km noord en vestig hom op Vanrhynsdorp waar hy met ’n jong weduwee, Alida Hendrikse, trou.

    Hul seun Christoffel Hendrik (Stoffel) Wiese, ongeveer 1906 gebore, trek selfs vérder noord om te boer. In die Gordonia-distrik was daar baie grond vir veeboere. En saaiboere het al hoe meer geleenthede gesien danksy besproeiing uit die land se grootste rivier, die Oranje (deesdae die Gariep genoem). Upington, wat in 1884 gestig is, het ontpop in die streek se belangrike sentrum.

    Hy trou in 1935 met Jacoba Wilhelmina Hendrina (Kotie) Wasserfall, ’n nooi van die Boesmanland. Die paartjie het vier kinders. Een van hulle word op 10 September 1941 op Upington gebore. Hulle doop hom in die NG kerk op Keimoes en hy kry sy pa se name: Christoffel Hendrik.

    Toe Benjamin Wiese (jr) in 1712 nie sy vader se onderneming wou oorneem nie en Nederland verlaat het om ’n nuwe lewe te begin, sou hy nooit kon dink dat sy agter-agter-agterkleinseun Christo eendag ’n fabelagtige fortuin uit ’n baie soortgelyke besigheid as dié van sy vader sou maak nie.

    Benjamin Wiese (sr) was ’n koopman – ’n retailer.

    3.

    Van kaalvoetseun tot studenteleier

    Daar is diegene wat droom van die dag waarop hulle hul ideale verwesenlik sal sien, dat hulle sal bereik waarna hulle gestreef, geswoeg en gearbei het. So help ons Vader hulle om moed te hou deur die donkerste nag, want hulle weet dan dat hulle arbei en aanhou en volhou vir ’n ideaal, ’n droom.

    Christo Wiese in ’n skoolopstel, 1958

    As kind het Christoffel Hendrik Wiese gesê hy wil ’n magistraat word.¹ Dis ’n groot taak, want die streek Gordonia, waar hy sy kinderdae deurbring, is die grootste landdrosdistrik in Suid-Afrika.

    Upington, waar hy op laerskool en sy eerste jare van hoërskool was, is ’n plek van uiterstes.

    Die land se langste rivier loop deur die dorp, die lughawe het die langste burgerlike aanloopbaan ter wêreld en temperature styg in die somer maklik tot bo 40 grade Celsius.

    Dis ’n mooi, maar harde deel van die wêreld waar Wiese geleer het die lewe is nie altyd maanskyn en rose nie en dat ’n mens soms maar net daarmee moet aangaan.²

    En op so ’n warm plek is kaal voete beter as sokkies en skoene.

    Nie omdat ek nie skoene gehad het nie, maar omdat dit lekker is om daar kaalvoet te loop.³

    Wiese se pa, Stoffel, was die eienaar van ’n motorhawe en ook ’n Kalahari-boer. Die kombinasie was tipies van Upington in daardie dae, sê Wiese.⁴ By sy pa het hy geleer dat jy nooit iets van jou eie winkelrak vat sonder om dit op te skryf nie. Ook dat jy mense van alle range, agtergronde en rasse dieselfde moet behandel. Hy het met almal oor die weg gekom.

    Sy ma, Kotie, het ook later haar eie onderneming op die dorp bedryf – ’n bloemiste- en bruidswinkel. Haar lewensles vir hom was dat hy hom nie moet ophou met dinge waaraan hy niks kan verander nie en eerder moet fokus op die dinge waaraan hy wel iets kan doen.

    Daar was vir Wiese altyd ’n gevoel van betrokkenheid by besigheid.

    En ’n belangstelling in die politiek. Wiese sê hy kom uit ’n Bloedsap-familie.

    In dié stadium was daar in Afrikaner-geledere al dekades lank ’n stryd tussen die Natte (die Nasionale Party) en die Sappe. Die Sappe is die politieke nasate van Jan Smuts, wat in die Suid-Afrikaanse Party, en later die Verenigde Party sterk gevoel het oor samewerking tussen Engels- en Afrikaanssprekende wittes.

    Upington was al die jare ’n Sap-kiesafdeling. Tot 1948, toe die Natte daar gewen het en toe nie weer verloor het nie, vertel Wiese.

    Die Natte is JBM Hertzog, en later DF Malan, se volgelinge, wat eerder ’n tweestroombeleid wou volg om die Afrikaanse kultuur teen verengelsing te beskerm en Afrikaners uit armoede op te hef. In 1948 se algemene verkiesing wen hulle onverwags die meeste setels, onder meer te danke aan oorweldigende steun onder Afrikaners vir ’n beleidsrigting met die naam apartheid, wat later wêreldwyd ’n skelwoord vir segregasie en rassediskriminasie sou word.

    Teen dié tyd het Wiese nog maar net leer lees en skryf.

    Ek het ’n wonderlike grootwordtyd gehad. Aan vandag se maatstawwe gemeet was ons nie ryk mense nie, maar in ons omgewing was ons gegoede mense omdat my pa elke jaar of twee ’n nuwe motor gehad het, sê Wiese.

    In ’n skoolopstel verwys hy later na sy ouerhuis as ’n plek waar hy vrede, rus en geluk kan aantref en voeg oor Stoffel en Kotie by: Vir hulle liefde, leiding en tug is ek innig dankbaar.

    In standerd 9 (vandag se graad 11) stuur hulle hom na die Hoër Jongenskool (Boishaai) in die Paarl vir sy laaste twee jaar van hoërskool. Hy is nie die armste leerling in die skool nie – hy het ’n fiets én ’n kamera.

    Die láát 1950’s is droë jare waar hy vandaan kom en in ’n Engelse skoolopstel, beskryf hy dit so:

    The turbulent dust-devils dance across the lifeless flats – the only signs of movement on the stricken earth engulfed by vibrant waves of heat. The whirls of thick, red, suffocating dust seem to mock the death that triumphs over all.

    Glad nie slegte Brits vir ’n seun van die platteland nie. Dit is dalk daarom dat hy die naashoogste punte in Engels behaal het in sy laaste jaar op Boishaai.

    Wiese vaar goed op skool, maar is nie die top-leerling nie. Hy is tiende in sy matriekjaar en is die derde beste in Duits.

    Die naaste universiteit aan die Paarl is op Stellenbosch. Maar Wiese kies koers Kaapstad toe.

    My pa het ’n baie sterk beskouing gehad dat goeie Verenigde Party-kinders wat Stellenbosch toe gaan in Natte verander en hy was nie daarvoor te vinde nie.¹⁰

    Wiese laat hom inskryf om regte te studeer aan die Universiteit van Kaapstad, maar kom teen die middel van sy eerste jaar agter dat hy nie behoorlik daarvoor geregistreer het nie.

    Ek het na sekere klasse toe gegaan, veral waar daar mooi meisies was, skerts hy later.

    Maar dit was nie ’n suksesresep vir sy studie nie en hy verlaat noodgedwonge die Kaap. Later moet hy op ’n curriculum vitae invul wat hy direk ná die kortstondige universiteitsloopbaan gedoen het – hy skryf net boer.¹¹

    My minder-as-roemryke akademiese rekord het my na Upington laat terugkeer met die sterk oortuiging dat ek nie uitgeknip is vir die akademie nie. Ek wou ’n sakeman word.

    Wiese se pa sê dit is reg so. Hy koop toe ’n onderneming wat voertuie se verkoelers herstel en hulle betrek ’n geboutjie op die dorp waaruit die besigheid bedryf word.

    Ek sweer dit was die enigste gebou op Upington waar die son 24 uur per dag geskyn het, sê Wiese.

    Boonop is karbied in daardie dae gebruik om die verkoelers te herstel en teen ’n hoë temperatuur. Dan is Upington ook nie bekend vir sy matige somers nie.

    Die hitte, sê hy, het hom nogal laat dink dat dit dalk nie so ’n slegte idee is om weer te gaan studeer nie.

    Wiese het daardie tyd al ’n hele paar ysters in die vuur gehad. Binne twee jaar is hy in die bestuur van Upington se Afrikaanse Sakekamer en word as ’n afgevaardigde na die Handelsinstituutkongres gestuur, eers in Pretoria en die volgende jaar in Kaapstad.¹²

    Maar dié wêreld is te klein vir Wiese. En iemand sien dit raak.

    Renier van Rooyen, ’n aangetroude neef wat in daardie stadium ’n paar winkels op Upington bedryf, oortuig Wiese om weer te gaan studeer en gee hom ook die finansiële ondersteuning om dit op Stellenbosch te gaan doen, vertel die veteraan sakejoernalis David Meades in sy boek, Afrikaner-Kapitalisme: Van brandarm tot stinkryk.

    Toe Wiese in 1963 op Stellenbosch aankom, was hy op 21 betreklik oud vir ’n eerstejaar. Hy laat hom weer inskryf om regte te studeer. En hy bly in Wilgenhof, die oudste manskoshuis op die dorp.

    Dié koshuis, onder sy inwoners bekend as Willows of sommer net Die Plek en wat deur ander die spotnaam Bekfluitjie gegee is, het ’n ryke tradisie en was op sy dag die tuiste van die rugby-legende Danie Craven.

    Wilgenhof was in daardie dae beslis ’n relatief verligte plek onder die manskoshuise. Dagbreek, in dieselfde straat, het ’n reputasie gehad dat hy Nasionale Party-politici soos die eerste ministers Hendrik Verwoerd en John Vorster opgelewer het. Wilgenhof se bekendste politieke figuur was die anti-apartheidstryder Beyers Naudé. Wiese land in die koshuis saam met die toekomstige opposisieleier Frederik Van Zyl Slabbert. Later is James Wellwood Basson, ’n blondekop van Porterville met die bynaam Whitey, ook saam met hom in Wilgenhof.

    En soos op Upington is dit nie lank nie of Wiese is betrókke. Hy is ’n eerstejaarverteenwoordiger in die Juridiese Vereniging. Hy sluit by die US Debatsvereniging aan en is teen sy tweede jaar die tesourier. ’n Man wat duidelik op sy voete kan dink. Sy tydgenote bestempel hom as ’n baie doeltreffende spreker.

    Wiese word in sy tweede jaar tot Wilgenhof se huiskomitee verkies. Hy stel hom dieselfde jaar ook verkiesbaar vir die studenteraad (SR). In Die Matie se verkiesingsuitgawe sê hy ’n deel van sy beleid is: Om ’n basis vir nouer samewerking tussen Engels- en Afrikaanssprekende studente te verkry op ’n grondslag waar hulle sonder prysgawe van eie beginsels kan saamwerk.

    Wiese trek genoeg stemme om een van die studenteraad se 14 lede te word. Hy kry die portefeuljes verenigings en openbare betrekkinge.

    As deel van sy take moet Wiese die beoogde subsidies wat die SR aan die onderskeie verenigings toestaan, vir goedkeuring voorlê. Maar daar is ook baie algemene idees, beleid en die sake van die dag wat bespreek word.

    So stel Wiese op ’n SR-vergadering in 1965 ’n toer na Angola vir die Junie-Julie-vakansie voor. Die land is nog ’n Portugese kolonie en ’n baie eksotiese bestemming vir ’n groep Afrikaanse studente in die middel 1960’s.¹³

    Op die volgende vergadering hanteer hy ’n saak van groter politieke belang. Hy dien ’n mosie in dat die SR die Nasionale Unie van Suid-Afrikaanse Studente (Nusas) se aansoek om amptelike erkenning as ’n vereniging by die universiteit afkeur. Nusas is

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1