Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Die groot gedagte: Abstrakte weefsel van die kosmos
Die groot gedagte: Abstrakte weefsel van die kosmos
Die groot gedagte: Abstrakte weefsel van die kosmos
Ebook744 pages10 hours

Die groot gedagte: Abstrakte weefsel van die kosmos

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Hier staan ek in 'n heelal van dooie atome. Ook in my liggaam is nie 'n enkele lewende atoom nie. Maar ek lewe. Wat is lewe? Waar kom dit vandaan en hoe het dit ontstaan? En waar pas God in?


Die groot gedagte, die eerste omvattende kosmologie-boek in Afrikaans, het by eerste publikasie groot opslae gemaak. Dié boek is 'n uitgebreide uitgawe van daardie eerste een, en sluit nuwe kennis in oor die talle ontdekkings oor die kosmos en kwantumfisika die afgelope dekade. Veral data wat deur die Hubble-teleskoop deurgesend is, het baie teorieë laat wankel.

Bekende oud-joernalis Gideon Joubert bied die inligting pakkend aan vir kenners én leke, en maak met helder, verstaanbare taal selfs ingewikkelde begrippe toeganklik.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateSep 16, 2013
ISBN9780624052050
Die groot gedagte: Abstrakte weefsel van die kosmos
Author

Gideon Joubert

Gideon Joubert is in 1923 op Stellenbosch gebore. Hy matrikuleer aan Paul Roos Gimnasium op Stellenbosch. Hy behaal 'n BA-graad aan die Universiteit van Stellenbosch. Hy begin sy loopbaan as joernalis in 1949 by Die Burger. In 1951 sluit hy by die Suid-Afrikaanse Vloot aan. Gideon is een van die stigters van die Vlootgimnasium op Saldanha, en hy was ook die stigter van Suid-Afrika se eerste Duikskool. Ná 16 jaar het hy met die rang Kommandeur uitgetree en het hy tot met sy aftrede by Die Burger gaan werk. In sy loopbaan as koerantskrywer het Joubert dikwels vir die gewone leser oor wetenskaplike ontdekkings geskryf. Sy belangstelling in die sterrekunde is gevoed deur wye leeswerk en deeglike navorsing sodat hy op hoogte kon bly van die nuutste ontdekkings. In 1997 verskyn sy boek Die groot gedagte. Dié boek was 'n groot sukses en is met die Insig-prys vir niefiksie en die Andrew Murray-prys bekroon. Joubert is in 2010 oorlede in Somerset Wes op ouderdom 87.

Related to Die groot gedagte

Related ebooks

Related articles

Reviews for Die groot gedagte

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Die groot gedagte - Gideon Joubert

    DEEL 1

    Die makrokosmos

    1

    Die ontstaan

    Ek het alles gemaak en so

    het alles ontstaan, sê die Here.

    Jesaja 66:2

    In die begin het God die hemel en die aarde geskep

    Met hierdie woorde begin die Bybel. Só word die begin van alles beskryf. Maar wat was daar vóór die begin, vóórdat selfs die hemelgewelf of uitspansel daar was?

    Niks nie.

    Astrofisici is dit met die Bybel eens dat daar ’n begin was. En vóór die begin, volslae niks nie.

    Daar was nie ruimte nie. Daar was nie lig of donker, koue of warmte nie. Daar was nie eens ’n lugleegte nie, want selfs ’n vakuum is ook iets.

    Daar was nie tyd nie. Daar was hoegenaamd, volkome niks nie.

    Daar was selfs nie die afwésigheid van temperatuur, koue of donkerte nie; selfs nie die afwésigheid van tyd nie. Dit was net niks, hoe onbegryplik dit ook is.

    Teoloë noem daardie heel eerste bestaansoomblik, toe alles tot stand gekom het, die skeppingsoomblik. Astrofisici praat van die Oerknal, die breukdeel van ’n sekonde waarin alles, onverklaarbaar, uit niks ontstaan het.

    Om te vra wat vóór die Oerknal was, is net so onsinnig soos om te vra wat suid van die Suidpool is.

    In sy Confessionis (Belydenisse), waarin hy sy geestelike omswerwinge beskryf wat hom na die Kerk gelei het, het sint Aurelius Augustinus (354-430 n.C.) gesê dit is verkeerd om te vra wat daar was voordat God die heelal geskep het, want God, wat buite die heelal staan, het tyd saam met die heelal geskep.

    Die Britse sterrekundige sir Bernard Lovell (1913-2012) het dit só gestel: Hier val ons in ons eie denke vas. Ons worstel met begrippe van tyd en ruimte voordat dit . . . bestaan het. Ek voel of ek skielik in ’n digte misbank beland het waarin die bekende wêreld verdwyn het.

    Toe het God gesê: Laat daar lig wees! En daar was lig

    . . . die sigbare dinge het dus nie ontstaan uit iets wat gesien kan word nie.Heb. 11:3

    En toe, skielik, onverklaarbaar, uit die groot stilte, uit die groot niks, kom ’n ontságlike, gewéldige losbarsting van energie.

    Een oomblik, niks. Die volgende oomblik, alles. Die in die begin het begin. Tyd het begin. Die eerste breukdeel van die heel eerste sekonde van die Skepping was daar.

    Op daardie eerste triljoenste van die heel eerste oomblik het alles uit die niet, uit niks nie, gekom – alles waaruit die heelal, soos ons dit vandag ken, ontwikkel het.

    Dit was egter in ’n ander vorm. Die heelal was nét energie: lig en hitte, straling. Die ruimte was ’n ontsettende stralingsveld van hitte, die primordiale vuurbal waaruit die heelal gebore sou word.

    Einstein was die eerste wat dit ingesien en duidelik gestel het: Energie en materie is manifestasies van dieselfde verskynsel. Massa is gekonsentreerde energie, en energie kan in materie verdig word.

    Die skeppingsproses duur voort. Die omsetting van energie in materie en van materie in energie vind sonder ophou plaas, maar dit is nie dieselfde as daardie aanvanklike loslating van energie nie. Die prosesse wat vandag aan die gang is, is die omsetting van die energie wat by die Skepping ontstaan het in materie, en andersom.

    Met die Oerknal is energie sonder ophou in materie verdig, en materie is sonder ophou in ’n siedende kookpot van bedrywigheid in energie omskep.

    In die ruimte verskyn kort-kort onbeskryflike vrystellings van energie wat ons in die vorm van uitstralings kan waarneem. Dit gebeur as materie in energie omskep word wanneer ontploffings met sóveel geweld in die hemelruim losbars, dat dit meer energie vrystel en helderder skyn as al die miljoene sterre in ons ganse Melkweg saam.

    Nuwe sterre word elke dag gebore. Dit is materie in die vorm van gasse, wat só geweldig saamgepers en verhit word dat dit kernreaksies ontketen wat energie vrystel.

    ’n Ster is ’n kookpot waarin die stryd woed tussen energie-wees en materie-wees. Ná baie miljoene jare bly dikwels net ’n koue, uitgebrande kluit oor – ’n stuk materie in die vorm van yster, silikon en soms koolstof en ander elemente.

    Ons eie son en aarde het so ontstaan, uit siedende energie, baie miljoene eeue ná die Skepping.

    Vandag nog bestaan die ganse, groot heelal uit nét twee dinge: energie en materie. Materie is net gestruktureerde energie.

    Die skeppingsoomblik, daardie geweldige loslating van energie, was anders. Fisici noem dit die Oerknal.

    Hier het alles begin, hieruit het alles ontstaan. Wetenskaplikes het bereken dat alles in die grote heelal uit ’n plekkie gekom het wat duisende miljoene kere kleiner was as ’n enkele proton, een van die submikroskopiese deeltjies van ’n atoomkern. Baie fisici glo dit was net ’n denkbeeldige puntjie. ’n Enkelheid – ’n niksheid.

    In hierdie matematiese puntjie was álles saamgepers: al die biljoene galaksies met hul biljoene en biljoene sterre, planete, mane, newels, komete, stofslierte en meteoriete. Alle ruimte, alle tyd. Nie in die vorm van materie nie, net energie.

    En op ’n gegewe oomblik, die Oeroomblik toe álles begin het, het dit met onbeskryflike geweld ontplof. Losgebars. Uitgeskiet.

    Waarom? Hoe? Waarvandaan? Daar is teorieë wat oortuigend klink, maar wat nog groter vrae laat ontstaan. Net dít is seker: Die Oerknal was ’n ontsettende, ongelooflike ontploffing, só geweldig dat dit vandag nog voortduur. Die heelal bars steeds in alle rigtings uiteen.

    In sy boek Companion to the Cosmos (1997. Londen: Weidenfeld & Nicolson) skryf John Gribbin in die inleiding: Die sleutelontdekking van die totale kosmologie is dat die Heelal wat ons om ons sien, aan die ontwikkel (evolving) is – dit is nou anders as wat dit voorheen was, en dit het beslis op ’n bepaalde oomblik ’n oorsprong gehad.

    Dit sou verkeerd wees om die heelal voor te stel as ’n groot ballon of ’n borrel wat uitswel. So gesien, dink ’n mens aan ’n heelal met grense, iets met ’n buitekant en ’n binnekant.

    Hier kom ons voor nog ’n onbegryplikheid te staan. Daar ís en wás geen buitekant nie, net ’n binnekant. Om van ’n buitekant te praat, is betekenisloos. Dit is onbeskryfbaar. Dit is net so niks soos vóór die Oerknal.

    Die galaksies ontplof nie in ruimte soos die skerwe van ’n bom nie. Dit is ruimte self wat uitdy en die galaksies, en alles in die heelal, saamdra.

    Vandag nog is die binnekant so te sê ’n vakuum met hier en daar ’n stofnewel of ’n galaksie, of groepe daarvan.

    Verder, net leegte. Ruimtetyd. Dít is binne.

    Daar is geen buite nie.

    Wat nie ín die heelal is nie, is niks, nie eens ’n lugleegte nie.

    Daar is nie tyd, temperatuur of selfs ’n vakuum nie. Daar is net Tydlose Ewigheid.

    Tyd, ruimte, al die natuurwette en alle energie het met die Oerknal (die Skepping) begin. Dit was ’n ontploffing van ruimte wat oral gelyktydig plaasgevind en alle ruimte van die begin af gevul het, met elke materiedeeltjie wat van elke ander deeltjie wegstorm.

    Sterrekundiges weet hoe vinnig die heelal uitdy. Deur dit in trurat te bereken, kan hulle naastenby sê hoe oud die heelal is, met ander woorde, wanneer die Oerknal plaasgevind het.

    In die afgelope dekades het sterrekundiges daarin geslaag om die ouderdom van die heelal nogal akkuraat te bereken. Die algemene konsensus is dat dit nagenoeg 13,75 duisend miljoen jaar oud is, ± 170 miljoen jaar. Alle astrofisici se berekenings stem nie heeltemal hiermee saam nie. Eers met die koms van die Hubble-ruimteteleskoop is die ouderdom van die heelal met redelike sekerheid vasgestel. Maar daar wás ’n Skeppingsoomblik, op ’n presiese breukdeel van ’n sekonde.

    Fisici kan baie presies bereken hoe die heelal ’n miljoenste van ’n miljoenste van ’n sekonde ná die Skepping gelyk het, en ’n duisendste, honderdste, ’n vyftigste, ’n tiende en een sekonde daarna.

    Onmiddellik ná die Skepping was die heelal baie warm en dig. As huidige teorieë reg is, was die hittegraad van die heelal ’n tienduisendste van ’n sekonde ná die Oerknal, op die oomblik toe neutrone en protone uit die nóg fundamenteler kwarke ontstaan het, 1 000 000 000 000 grade Celsius.

    Die naaste aan die Oerknal wat fisici met hul berekenings kan kom, is ’n ongelooflike 10-43 van ’n sekonde. Toe moet die hittegraad 100 000 000 000 000 000 000 000 000 000 000 grade Celsius gewees het!

    As ons steeds verder terug na die oomblik van die Oerknal gaan, bereik die volume van die heelal mettertyd ’n nulpunt, en die hittegraad skiet onbeperk tot in die oneindige op.

    ’n Meer hanteerbare honderdste van ’n sekonde ná die Oerknal was die hittegraad moontlik 100 000 miljoen grade Celsius, heelwat warmer as die kern van die warmste ster. Die gemiddelde digtheid was waarskynlik 4 000 ton per kubieke sentimeter op álle plekke in die ruimte. Dit was toe só warm dat molekule, atome en selfs die kerne van atome nie kon bestaan het nie.

    ’n Sekonde ná die Oerknal het die heelal reeds só afgekoel dat die hittegraad van die vuurbal net sowat 10 000 miljoen grade Celsius was.

    Maar van die presiese oomblik van die Oerknal, die Skeppingsoomblik, en van vóór dit, weet fisici niks nie.

    Daar is gesaghebbende wetenskaplikes soos die astrofisikus Richard Gott (1947—) van die Universiteit van Princeton in Amerika, en voor hom Alan Guth (1947—) van MIT (Massachusetts Institute of Technology), asook Alexei Starobinski van Moskou, wat aan die hand gedoen het dat ons heelal maar een van ’n baie groot aantal heelalle is, moontlik selfs van ’n oneindige aantal heelalle wat soos borrels in ’n baie warm, digte vloeistof gevorm is.

    Volgens Guth sal elkeen van hierdie heelalle vir altyd uitswel en groter word. Aan die begin van die Skepping, of breukdele van ’n sekonde daarna, was die heelalle geweldig warm en ontsettend dig, ’n ondenkbare 10⁹² gram per kubieke sentimeter.

    [Omdat 10 x 10 = 100, en 10 x 10 x 10 = 1 000, kan 100 só geskryf word: 102. So ook is 10 000 dan 104 , en 105 is 100 000, 106 is 1 000 000, en so meer. Die eksponent (die klein syfertjie) verteenwoordig dus die getal nulle ná die een. Dit is lomp om 10 000 000 000 000 te skryf, maar 1013 is netjieser en leesbaarder, asook 1017 eerder as 100 000 000 000 000 000.]

    Guth vermoed dat miljoene heelalle aanvanklik gevorm is, soos borrels in ’n seeppot. Die heelalle het van mekaar weggedryf. Ons sal die ander heelalle nooit kan sien of met instrumente kan waarneem nie, omdat tussen ons en die ander heelalle ’n gebeurlikheidsgrens is.

    Geen lig kan deur ’n gebeurlikheidsgrens dring nie, omdat die gravitasiekrag anderkant die kim so geweldig is dat dit geen lig- of enige ander strale deurlaat nie. En as ligstrale nie deurkom nie, bly alles onsigbaar.

    Dit het aand geword en dit het môre geword . . .

    Die Skeppingsoomblik het dus aangebreek toe Iets die denkbeeldige wiskundige puntjie waarin álles was – alle ruimte, tyd en energie – met ontsettende geweld laat oopskiet het.

    Op daardie wonderlike oomblik het die heelal soos ’n blom oopgegaan. Kort na die Oerknal het die heelal bestaan uit ’n chaotiese maar homogene mengsel van net drie dinge:

    • straling,

    • waterstof en

    • helium.

    Daar was niks van die rykdom en verskeidenheid van dinge waaruit die heelal vandag saamgestel is nie. Nie eens die eenvoudigste chemiese reaksies was moontlik nie, wat nog te sê die ongelooflike komplekse reaksies wat noodsaaklik is om selfs die eenvoudigste lewensvorme te onderhou.

    Ons wêreld en alle lewende dinge is saamgestel uit swaarder elemente soos stikstof, suurstof, koolstof, kalium, kalsium, fosfor, swawel, yster en baie ander swaar elemente. Dié was nie ná die Oerknal daar nie. Alles moes nog uit die oorspronklike waterstof en helium voortgebring word, die eerste twee elemente wat ná die Oerknal uit die energie ontstaan het.

    Al die bekende elemente van vandag soos suurstof, stikstof, koolstof, goud, koper, silikon, kalium, natrium, stikstof, deuterium en yster het uit daardie twee eerste elemente gekom.

    Daar was minstens drie duidelike fases in die geskiedenis van die heelal. Die eerste twee fases behels die geskiedenis van die atome en die molekule, die basiese boustene waaruit alles vandag saamgestel is. Die derde fase was toe lewe op die aarde gekom het.

    Die eerste fase het miskien 6 000 miljoen jaar geduur. Die heel eerste sterre is toe gevorm. Daardie sterre was ’n kookpot van atomiese en chemiese transformasies wat tussen drie en vier persent van die oorspronklike waterstof en helium in swaarder elemente verander het.

    Die tweede fase, wat ook sowat 6 000 miljoen jaar geduur het, het tot die tweede geslag van sterre gelei. Dit was in hierdie fase dat ons son en die planete, en ook die aarde en sy maan, ontstaan het.

    Die derde fase was betreklik kort en het net enkele honderde miljoene jare geduur. Die eerste komplekse, organiese molekule wat op ’n gegewe tydstip op onverklaarbare wyse begin het om ewebeelde van hulleself te produseer, het verskyn.

    Hierdie molekule was die voorlopers van die eerste lewende selle. Presies hoe en waarom hierdie molekule hulleself verdubbel het, is ’n groot raaisel en ’n nog groter wonder. Dit is bekend dat komplekse organiese molekule soos aminosure, wat ’n voorvereiste vir lewe is, vandag nog op natuurlike wyse in die ruimtes tussen die sterre ontstaan.

    Bewyse hiervan is in meteoriete gevind wat die aarde van die buitenste ruimte bereik het.

    Iets uit niets?

    Die Oerknal was die oorsprong van alles. Geweldige, onbeskryflike energie is kwistig uitgestort.

    Alles wat in die heelal bestaan, het uit die energie van die Oerknal gekom. Waarvandaan het die ongelooflike oordadigheid van energie ontspring waaruit die ganse heelal sou ontwikkel?

    Dit is een van die groot raaisels van die fisika.

    ’n Grondwet van die fisika is die behoud van massa en energie. Anders gestel: Energie kan nie geskep word nie, en dit kan nie vernietig word nie. ’n Mens kry nie iets uit niks nie en as jy iets het, kan jy dit nie in niks wegtoor nie. Fisici noem hierdie grondwet die Eerste Wet van die Termodinamika.

    Die totale energie van ’n stelsel bly konstant, hoewel dit van een vorm na ’n ander kan verander. ’n Goeie voorbeeld is kinetiese energie, wat in die geval van ’n voertuig se remme in hitte-energie omskep word as die remme aangeslaan word.

    Energie kan wel in materie omskep word, soos gebeur het met ’n gedeelte van die Oerknal se energie wat in materie (atome, sterre en later planete en ander voorwerpe) verdig het. En materie kan weer energie word, soos met kernsplitsing. Die son se energie word vrygestel deur die omsetting van waterstofatome (materie) na energie (kernfusie).

    Maar energie kan nie uit niks te voorskyn kom nie. En sonder energie kan daar nie massa (materie) wees nie.

    Einstein het hierdie verskynsel in sy beroemde formule E=mc2 saamgevat, waar e energie voorstel, m massa en c die snelheid van lig. Hieroor meer in hoofstuk 10.

    Maar energie, of massa, kan nie uit niks kom nie. Tog, die heelal ís daar: propvol energie én materie (massa).

    Waarvandaan het die onbeskryflike, intense energie van die Oerknal gekom?

    Alles verval

    Daar is ook die Tweede Wet van die Termodinamika. Dit word dikwels die mees fundamentele natuurwet genoem. Dié is ook ’n geleerde naam vir ’n eenvoudige wet: Alles verval. Alles gaan tot niet. Chaos neem oor.

    Basies beteken dit dat hitte nooit spontaan van ’n stelsel met ’n laer hittegraad na ’n stelsel met ’n hoër hittegraad vloei nie. ’n Koppie tee sal nooit vanself warm word nie.

    Dit is die natuurlike neiging van alles om in ’n eentonige eendersheid te verval. ’n Warm koppie tee neem later die temperatuur van die kamer aan. ’n Blokkie ys smelt tot dit dieselfde temperatuur as die omgewing het. Net soos ’n koppie tee nooit vanself warm word nie, ontstaan ’n blokkie ys ook nie vanself in ’n glas water nie. Tensy energie gebruik word (werk gedoen word).

    ’n Yskas het energie nodig om af te koel. ’n Stoof het energie nodig om warm te word. Skakel die krag af, en die yskas word warm en die stoof word koud.

    Ek word oud. Een van die dae word ek begrawe. My motor gaan oproes en mettertyd op die ashoop beland. Berge verweer en bome waai om. Selfs ons son gaan eendag sterwe en die aarde sal vergaan. Verval is meedoënloos. Niks kan dit keer nie. Mense word grys en krom, geboue word bouvalle (tensy jy jou hand daaraan hou, wat energie verg), appels vrot en olifante vrek.

    Laat dinge aan hulleself oor, en geleidelik ontstaan chaos. Dinge raak deurmekaar, gedisorganiseer. Huise se dakke begin lek, mure verkrummel, paaie groei toe. En hoe moet jy nie elke dag alles aan die kant maak nie!

    Ook die heelal sal tot niet gaan. Ons heelal sal sy ordelikheid verloor. Hoewel energie volgens die eerste wet van die termodinamika nie vernietig kan word nie, kan dit ontaard. Entropie, die hoeveelheid wanorde in ’n stelsel, word nooit vanself minder nie. Soos ek, my hond en my motor is ook die heelal aan die verval.

    Sterre, en ons son, is aan die uitbrand. Die son brand miljoene tonne waterstof elke sekonde, om swaarder elemente voort te bring. Dit is ’n onomkeerbare proses. Die yster, kalium, swawel en stikstof wat voortgebring word, kan nooit weer waterstof word nie. Elke oomblik word die heelal se waterstof minder, die aarde draai stadiger, die maan verloor sy spoed en skuif elke dag ’n titseltjie nader aan die aarde. Materie word meer verstrooi, en daar is minder struktuur. Die heelal is ’n ontbindende lyk.

    Warmte vloei altyd van ’n warm na ’n koue voorwerp. Om ’n huis te bou, is om baie energie te gebruik om teen die tweede wet van die termodinamika te werk. Die bakstene en sement wil weer grond word, die hout wil vrot, die dak wil lek en die verf wil afdop.

    Die tweede wet van die termodinamika bewys dat daar ’n begin was

    Die tweede wet van die termodinamika wys na ’n baie geordende, eenvoudige begin.

    Daar was nét straling, hitte, verblindende lig. Energie. Die vraag ontstaan: As die heelal aan die verval is, vanwaar dan die aanvanklike orde? Wie of wat het daarvoor gesorg? Dit kon nie sommer vanself gebeur het nie.

    Daar is nie net die probleem van iets (’n ellendige gróót iets!) wat uit niets losgebars het nie. Hoe het dit gebeur dat die heelal se verstommende inhoud van miljoene galaksies, sterre, planete, mane, komete, asteroïede, bome, beeste, spinnekoppe, mense, visse, planete, sonne, vetplante, virusse, skilpaaie, muggies en volstruise, saam met die heirskaar van ongelooflike, ordelike natuurwette wat alles moontlik gemaak het, uit niks te voorskyn gekom het?

    Fisici het geen antwoorde nie. Daar is wel onbewysbare teorieë.

    Die natuurwette is nie willekeurig nie. Daar is patrone wat so akkuraat by mekaar invoeg, binne die engste parameters by mekaar inpas, dat dit onmoontlik is om dit aan die toevallige saamval van omstandighede toe te skryf.

    Die verloop van die Skepping, van die Oerknal af tot op hierdie oomblik, is ’n ongelooflike drama. Dit is vol wonderwerke en noodsaaklike, ingewikkelde faktore waarsonder niks tot stand sou gekom het nie.

    Baie wetenskaplikes sê al hierdie dinge kon nie toevallig gebeur het nie. Dit lyk te veel na ’n put-up job, soos Albert Einstein daarna verwys het, ’n fyn beplande opset.

    As enigeen van ’n legio faktore ’n ietsie anders was, sou die Skepping ’n miskraam gewees het. Sterre, die gloeiende sterrewiele, die planete, die lewe, en ons, sou nooit hier gewees het nie.

    ’n Breukdeel van ’n sekonde ná die Oerknal het die eerste toevallige wonderwerk gebeur. Op daardie oomblik was die presiese massa en samestelling van die heelal van deurslaggewende belang.

    Die Britse kosmoloog Stephen Hawking (1942—), soos aangehaal deur John Boslough (1985. Beyond the Black Hole: Stephen Hawking’s universe. Londen: Collins), het dit só gestel: "Die vinnig groeiende heelal kon só dig met materie gepak gewees het dat dit op homself kon ingestort het, soos ’n swartkolk. Of materie kon te yl versprei gewees het om in galaksies saam te koek.

    Dit kon in die ruimte rondgedryf het. Die heelal se uitdying vereis ’n merkwaardige tydrooster. Dít moet gebeur het binne die eerste 10-32 sekonde van die uitdytydperk. Tot vandag toe duur die uitdying steeds voort, maar teen ’n rustiger tempo.

    [Net soos groot syfers eksponensieel uitgedruk kan word, kan dit ook met klein syfers gedoen word: 10-1 =een tiende ; 10-2 = een honderdste; 10-3 = 1⁄1000, ensovoort.]

    Die eerste faktor wat moes sorg dat die heelal ontwikkel het soos dit ontwikkel het, het dus presies 10-32 van ’n sekonde na die begin van die uitdying plaasgevind. ’n Biljoenste van ’n biljoenste van ’n sekonde vroeër of later, en die heelal soos ons dit ken, en ons, sou nooit bestaan het nie. Dit is opwindend om die Skeppingsdrama vanaf die Oerknal tot op die hede te volg.

    DIE EERSTE FASE

    Onmiddellik ná die Oerknal het die heelal begin uitdy. Soos die ruimte gerek het, het die materie en die energie in die heelal ook uitgedy en vinnig afgekoel. Die ruimte het baie helder gegloei. Steeds het dit uitgedy, en daarmee het dit afgekoel tot ’n skemering. Later het dit pikdonker geword.

    Die oerheelal was vormloos, koud en donker. Daar was geen sterre, newels of lig nie. Die heelal was woes en leeg. Hier en daar in die duisternis het ’n eensame waterstof- of heliumatoom rondgesweef.

    Daar was egter geleidelike, millenniumstadige invloede aan die werk. Hulle was baie flou, onmeetbaar gering, maar daar wás beweging. Hier en daar was die atome van waterstof en helium ’n titseltjie nader aan mekaar as op ander plekke.

    Hier en daar in die groot duisternis was ’n verskuiwing van gas aan die gang. Ongelooflik stadig was die verdigting, die saamkom van gasatome. Steeds was dit koud, donker, leeg, amper bewegingloos en geluidloos. Maar met die verbygaan van duisende en duisende eeue het die gas op plekke digter geword soos die swaartekrag meer en meer van die gasatome saamgetrek het.

    Die ontsaglike gaskolke het stadig begin draai. Swaartekrag het toegeneem. Die malende gas-arms het teen ander gas-atome gestoot, wat verdere verdigting veroorsaak het.

    In die duisende miljoene reuse-draaikolke, elk duisende miljoene kilometers in deursnee, het gas verdig en slierte gevorm. Die atome in die kolke het gebots en die wrywing het hitte veroorsaak. Daar was nou duidelike beweging in die heelal: warmte en stadige beweging.

    Met die verloop van nog baie eeue het die malende, kokende kolke al meer saamgekoek, die drukking het toegeneem en die gasse het geweldig warm geword. Die atome het gewelddadig teen mekaar gebots.

    Waterstofatome se elektrone is van die protone losgeruk. Protone is positief gelaai en stoot mekaar af, maar weens die geweldige druk en hitte het die protone só kwaai teen mekaar gestamp dat hulle deur die elektriese weerstand gebars het.

    Waterstofgas is deur kernfusiereaksies omgeskakel na helium met die gepaardgaande vrystelling van energie. Energie het deur die gaskors buitentoe gebeur en in die ruimte uitgestraal.

    Die eerste sterretjie het in die duisternis geflonker!

    Toe God die dramatiese woorde gespreek het: Laat daar lig wees, was dit lank voordat die eerste ster begin flonker het. Dit was ook lank voordat die son op die vierde dag van die Skepping begin skyn het. Die ster- en sonlig was, en is, baie anders en flouer as die onbeskryflike loslating van energie (straling, lig) wat ná God se eerste Skeppingsbevel uitgebars het.

    Die Skeppingsoomblik was toe die Oerknal verblindende lig uitgestraal het – toe die ontsaglike hete energie losgelaat is waaruit álles in die heelal mettertyd met verstommende ordelikheid sou voortkom.

    God het gesê: Laat daar lig wees. Daar wás lig.

    Nadat die eerste sterretjie begin flonker het, het miljoene eeue verbygesleep, en nog sterre het verskyn. Diep in die hart van elke ster is waterstof in helium verander. Die massaverskil is in die vorm van energie vrygestel, energie wat lig en warmte in die groot, koue duisternis uitgestraal het.

    Daar was nou baie sterre, maar nog geen planete nie en nêrens in die heelal was daar ’n teken van lewe nie. Een na die ander het die sterre se waterstof, die brandstof vir kernkrag, opgeraak. Hulle het gekrimp. Die druk in die harte van die sterre het groter geword en breekpunt bereik.

    Soos die druk in ’n motorband toeneem as dit opgepomp word, en die toenemende druk die band laat warm word, word die binnekant van die sterre warmer soos hulle krimp en die druk toeneem.

    Eindelik word die druk só geweldig dat die sterre op hulleself instort. Die hitte neem duisendvoudig toe.

    Daar is nie meer waterstofatome vir kernreaksies nie. Dit is nou heliumatome wat in die ingewikkelde kernreaksies rondspartel. Die sterre swel op en word enorme rooireuse.

    Helium word in koolstof verander; koolstof in suurstof en magnesium; suurstof word neon; magnesium word silikon; silikon word swawel; en só borrel dit in ’n ontsaglike atomiese en chemiese hekseketel wat die hele aanskyn van die kosmos verander.

    Die groot, rooi en betreklik koel doppe van die reuse-sterre bars oop en dryf in die heelal uit. Die ruimtes tussen die sterre ontvang koolstof, suurstof, stikstof, fosfor en al die swaarder elemente.

    Af en toe ontplof ’n ster dat die buitenste stukke aan flarde geruk en in die ruimte uitgespuug word. Met geweldige kragte, ongelooflik magtig en ontsettend indrukwekkend, word brokke so groot soos vyf of vyftig sonne van die rooi sterre uitgeslinger.

    Soms blaas ’n ster soos ’n ballon af en kleiner flarde soos uitgebrande papier dryf die ruimte in. Só gee die ster aan die ruimte terug wat hy daaruit gehaal het, maar in ’n ander vorm.

    DIE TWEEDE FASE

    Die Skepping duur voort. Ook in die kosmos is die siklus van geboorte, verval, dood en geboorte die patroon. Die heelal het nooit opgehou om skeppend te wees nie.

    Oral in die heelal sterf sterre. Hul liggies verdof en gaan dood, terwyl nuwe sterre sonder ophou gebore word, tot vandag toe. Miljoene en miljoene sterre. Oor en oor word die proses herhaal, in siklusse van miljoene jare.

    Die sterre van die nuwe geslag is egter anders as dié van die eerste geslag. Dit is met swaarder elemente verryk, die elemente wat ontvang is van die gestorwe liggame van vorige sterre.

    Eeue en eeue gaan verby, miljoene eeue.

    Hier en daar in die hemelruim het ook kleiner kolkies in materie gekondenseer. Dié is te klein en te lig om hitte te ontwikkel wat kernreaksies kan aansteek. Die krummeltjies kan nooit sterre word nie. Dit is klein, koue kluitjies materie wat stadig in die gaskolk verkorrel het. Dít is die planete en mane wat om die sterre wentel.

    Tussen al die duisende miljoene sterre stel ons baie in een kleinerige, gelerige sterretjie belang, want dit is ons son. Soos stoffies in ’n draaikolk slinger ook stukkies koelerige materie om hierdie nietige sterretjie. Die korreltjies word dof deur die sterretjie verlig. Dit is klontjies yster, silikon en ander minerale: die planete van ons eie sonnestelsel.

    Party van die groot planete soos Jupiter en Saturnus is koel gasballe wat hoofsaaklik uit waterstof en helium bestaan, met ringe of satellietmane wat daarom hang. Ander planete is kleiner, digter en warmer as die gasballe.

    God sprei die hemel uit oor die leë ruimte, Hy laat die aarde hang waar niks is nie. – Job 26:7

    ’n Gedeelte van die gas om één van die ronde, tollende kluitjies het gekondenseer soos dit afkoel. Dit het ’n lagie vloeistof op die kors gevorm: die eerste oseane. Die planeet se ander gasse het nie gekondenseer nie, want die verdigtingstemperatuur is nie bereik nie. Dit word die eerste, primitiewe atmosfeer – ’n digte, troebel misgordyn waardeur die lig skemerig syfer.

    Só, in die ontsaglike, sidderende heelal met sy oneindige vuurwerk van sterre en hemelliggame, is ons aarde gebore. En veel later ons, die wonderwerk van die Skepping. Ons is deel van die Groot Werklikheid. Ons is egter ongelooflik, want ons is werklikheid wat kan dink.

    Die eerste aardse atmosfeer was baie anders as vandag s’n. Dit was hoofsaaklik metaan, ammoniak, swawelwaterstof, waterstof en waterdamp. Ons, en alle hoë lewensvorme, sou daarin verstik het. Daar was geen suurstof nie.

    Die aarde was woes en leeg, of soos dit in die nuwe Bybelvertaling staan, die aarde was heeltemal onbewoonbaar, dit was donker op die diep waters.

    Geweldige storms het gewoed. Die donderweer het gebulder. Die modderlandskap, met hier en daar swart rotse en vulkane, is deur die elektriese flakkering van onophoudelike bliksems verlig.

    Die aarde is deur geweldige skuddings geruk. Vulkane het rooi vlamme teen die wolke uitgeblaas, witwarm lawa het sissend in die modder gestort en stoomwolke omhoog laat ontplof.

    Gasmolekule is deur die weerlig en die kokende lawa versplinter. Nuwe, ingewikkelder molekule is gevorm. Organiese molekule het ontstaan.

    Toe het God gesê: Laat die aarde lewende wesens voortbring, elkeen na sy aard

    DIE DERDE FASE

    Wat is lewe? Wat is die verskil tussen ’n paar molekule wat in ’n ingewikkelde verbinding daar lê, ’n chemiese samestelling sonder lewe, en ’n identiese molekulêre samestelling wat lééf?

    Niemand weet wat lewe is nie. Niemand weet hoe die eerste lewe ontstaan het of waarvandaan dit gekom het nie. Al wat ons weet, is dat een mooi dag, naastenby 4 550 miljoen jaar gelede, lewe op die aarde opgewek is. Om die Bybel aan te haal: Toe het God gesê: Laat die aarde lewende wesens voortbring, elkeen na sy aard.

    Die kort, derde fase van die Skepping het begin: die fase van lewende wesens op die aarde.

    ’n Molekuul het ontstaan wat in staat was om in ’n ewebeeld van homself te verdubbel. Die eerste splytplante, dit wil sê bakterieë en eensellige blougroen wiere, het hul verskyning gemaak.

    Dít was ’n wonderwerk so groot soos die onverklaarbare Oerknal waaruit alles uit ’n tydlose niks tot stand gekom het. ’n Wonderwerk so groot soos die hele verloop van die Skepping tot vandag toe, tot met die koms van die mens met sy soekende verstand wat al hierdie wonderlike dinge probeer verstaan.

    Lewe het in die see ontstaan. In minstens sewe-agstes van die bestaan van lewe op aarde het die lewende organismes in die see gebly.

    Omdat sommige molekule hulleself kon vermeerder, het die getalle vinnig toegeneem. Bakterieë het in die see en moerasse gewemel. Die molekule het saamgekoek om ingewikkelder molekule te vorm wat na plekke kon beweeg wat vir hulle gunstiger was.

    Die eerste primitiewe plante het verskyn. Die see en moerassige waters het ’n sop van tierende eensellige lewe geword. Geleidelik het dit die aanskyn van die aarde verander. Groen plante het suurstof vervaardig. Dit was meer as 3 000 miljoen jaar gelede.

    Die atmosfeer het meer en meer suurstof ontvang. Die proses duur voort, tot vandag toe, tot 99 persent van vandag se atmosfeer ’n biologiese oorsprong het.

    ’n Duisendmiljoen jaar gelede het die klimaat matiger geword. Eensellige diere het verskyn. Diere? Dit is moeilik om te sê of die eensellige organismetjies plant- of dieragtig was. By primitiewe, eensellige wesens is dit byna onmoontlik om die streep tussen plant en dier te trek. Die eensellige wesentjies wat op daardie tydstip in die waters bestaan het, het nietemin begin om sekere dieragtige eienskappe te ontwikkel.

    Alle lewe was in die onstuimige, moerassige see. Die droë grond was steeds ’n verlate maanlandskap, totaal sonder lewe.

    Toe het God gesê: Laat uit die aarde groenigheid voortkom, groen plante wat saad gee

    Dit is nou 400 miljoen jaar gelede. Die eerste plante verskyn op droë grond – primitiewe, varingagtige plante sonder wortels of blare.

    Die kontinente het groen geword. Dit was een van die betekenisvolste gebeurtenisse in die geskiedenis van lewe op aarde. Dit het nuwe ekologieë tot stand laat kom. Dit het gehelp om die grond te ontwikkel en te stabiliseer. Dit het nuwe, groot bronne van atmosferiese suurstof geskep. In die see het yslike skerpioenagtige goggas geswem.

    Toe het God gesê: Laat die waters krioel van lewende wesens, en laat daar voëls onder die hemelgewelf oor die aarde vlieg

    Die eerste primitiewe visse het verskyn: haaie, longvisse en selakante. Die see het gewemel met ’n groot verskeidenheid van visse. God het die groot seediere geskep en al die ander lewende wesens waarvan die waters krioel.

    Op die aarde groei die eerste boomvormige varingplante, en later woude in die vogtige moerasstreke.

    Miljoene jare sleep verby. Daar kom diere wat op plante parasiteer. Die eerste gewerwelde amfibieë kruip op die strand uit. Duisendpote, myte en vlerklose insekte kruip op die land rond. Suid-Afrika is met ys bedek en Europa het ’n tropiese klimaat.

    Dit is 320 miljoen jaar gelede. Reptiele en vlieënde insekte wemel op die aarde. Die ys verdwyn oor Suidelike Afrika, maar Midde-Afrika is steeds toe onder gletsers.

    Groot plantvretende reptiele speel in die moerasse van die Karoo. Die lewe op aarde neem steeds toe in kompleksiteit en omvang. Tyd gaan verby. Die lewe word uiters gespesialiseerd, sodat dit by tallose mikro- en makrotoestande kan aanpas.

    Soogdiere verskyn. Die wêreld is nou oortrek met broodbome en ander keëldraende plante. Afrika en Suid-Amerika skei met ’n geskud wat berge ontwortel en kranse laat neerstort. Die Atlantiese Oseaan skeur oop en loop vol water.

    Dit is 180 miljoen jaar gelede. Eers krap lopende voëls in die naalde onder die denne en sipresse, en later sing vlieënde voëls in die takke. Dit is 100 miljoen jaar gelede.

    Die eerste blomme verf helder spatsels tussen die bome, en die eerste eike trotseer die storms. Dit is 70 miljoen jaar gelede.

    Die kontinente skei verder. Die aarde begin lyk soos ons dit ken. Bladwisselende bome word algemeen en daar is palmbome in Sentraal-Europa. Die voorvaderlike erdvark snuffel onder die bome.

    Dit is 35 miljoen jaar gelede en die eerste ape swaai waarlik in die takke van woude waar Egipte vandag is. Katte maak hul naels aan boomstamme skerp. En êrens blaf ’n hond! Daar is ook ystervarke, dassies en skurwepaddas. Nêrens is ’n mens nie.

    Die Alpe en die Himalaja stoot soos molshope uit die aarde op, gepaard met geweldige aardbewings. Dit word kouer. Harige olifante verskeur die bome. In die omgewing van Saldanha en Hopefield groei ruie oerwoude. Sabeltandtiere jag op oerolifante, -renosters en -buffels. Dit is 10 miljoen jaar gelede.

    Eeue en eeue gaan verby. Die eerste perd wei in die gras, en jou waarlik, daar tussen die ruigtes is die eerste aapagtige mens wat regop loop. ’n Miljoen jaar later sal sy beskaafde nakomelinge hom die spesienaam Homo erectus gee.

    Tiene miljoene spesies van diere het sedert die ontstaan van lewe bestaan. Die meeste het uitgesterf. Vandag is sowat tweemiljoen spesies oor.

    Van die primate is daar sowat tweehonderd. Diere het gespesialiseer om hulle by omstandighede aan te pas. Primate het harsings ontwikkel wat hulle goed te pas kom. Die groep of spesie van die Orde Primate met die grootste harsings is dié van die hominide.

    Toe het God gesê: Kom Ons maak die mens as Ons verteenwoordiger, Ons beeld

    Dit was al laat in die Skepping toe God volgens die Bybel die mens geskape het. Wetenskaplikes stem met hierdie chronologie saam. Kragtens die Skepping was dit soos gister dat Homo sapiens, die mens van ons tyd, sy verskyning gemaak het. Dit was minder as ’n halfmiljoen jaar, waarskynlik eers ’n kwartmiljoen jaar, gelede. Volgens die ouderdom van die aarde net ’n oogknip.

    Soos alle lewende en dooie dinge is ook die mens van die stof van sterre gemaak, die atome en molekule wat in die tweede fase van die Skepping in die kookpotte van sterre ontstaan het. Elkeen van ons is uit sterstof geformeer!

    Een van die grootste gebeurtenisse in die geskiedenis van die aarde was toe die mens met geluide begin kommunikeer het. Dit het beteken dat hy kennis kon oordra, van mens tot mens en van geslag tot geslag. Mense kon met mekaar praat. Spraak het tot ’n verdieping van denke gelei en die mens het geestelik ontwikkel.

    Eers 35 000 jaar gelede het die mens voldoende ontwikkel om eenvoudige voorwerpe soos spiese en else van klip en been te maak. Presies hoe lank gelede is onseker, maar daar was ’n groot deurbraak toe die mens ontdek het dat organiese materie met suurstof verbind as dit verhit word. Hierdie chemiese proses, wat intense en langdurige hitte opwek, word vuur genoem.

    Nóg ’n groot deurbraak kom 10 000 jaar gelede. Die mens vind uit hoe om ’n pyl en boog te maak. Hy word ’n jagter en ’n moordenaar. Eers 5 500 jaar gelede is hy slim genoeg om met eenvoudige beeldskriftekens boodskappe neer te krap. Dit was die begin van ’n baie groot deurbraak. Kennis kon opgeteken, bewaar en sonder spraak oorgedra word. Die eerste munte word 2 700 jaar gelede gebruik.

    Die Gutenberg-pers is in 1440 ontwerp. Boeke kon op groot skaal geproduseer word. In 1609 kry die mens die eerste keer ’n helderder beeld van die planete en sterre toe Galileo die eerste teleskoop ontwerp.

    Toe James Watt in 1765 die eerste stoommasjien bou, begin die nywerheidsrevolusie met al sy ellendes en deurbrake. Die eerste ysterbrug word in 1779 gebou en die eerste vliegtuig vlieg enkele treë in 1903.

    Eers in 1948 maak die eerste transistor sy verskyning en in 1993 word die eerste kommunikasiesatelliet gelanseer. Binne dekades bring die ontwikkeling van die rekenaarskyfie, rekenaar- en televisieskerms, en verbindingsatelliete ’n kommunikasie- en kennisontploffing soos die wêreld nog nie van gedroom het nie.

    Die elektroniese eeu het aangebreek. Dit laat mense dwarsoor die wêreld in mekaar se voorkamers verskyn. Mense op die mees afgeleë dele kan met mekaar praat en ingewikkelde inligting uitruil. Dit is byna asof elke mens met elke ander mens onmiddellik telepaties kan kommunikeer.

    Homo sapiens was die eerste landspesie wat die hele wêreld in so te sê al sy klimaatstreke bevolk het. Hy het die getalrykste spesie geword – geen ander spesie kon dit nog regkry om so ’n groot persentasie van die aarde se biomassa te vorm nie.

    Die mens word die planeet se heerser. Hy ontwikkel ’n selfbewussyn, ’n skuldgevoel, ’n wonderlike nuuskierigheid en ’n weetgierigheid.

    Die grootste wonder van die Skepping het gebeur met die ontstaan en ontwikkeling van ingewikkelde molekulêre samestellings wat ’n verskeidenheid van gespesialiseerde organe vorm, wat saamspan om die gevorderdste selle aan die lewe te hou: die menslike brein. Selle wat kan dink, wat soek, wat wil weet wát die werklikheid is, wáárom alles is, wáárvandaan dit kom, en wáár dit gaan eindig.

    Die mens: ’n Nietige gedeeltetjie van die natuur wat dit met groot erns en toewyding bestudeer, en met groot geduld en moeite die beginsels ontdek waarop die ganse heelal gegrond is.

    Tweeduisend jaar gelede ontvang die mens die

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1