Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Dokter in die huis
Dokter in die huis
Dokter in die huis
Ebook3,212 pages32 hours

Dokter in die huis

Rating: 5 out of 5 stars

5/5

()

Read preview

About this ebook

Dokter in die huis is jou A-Z-gids tot gesondheid. Hierdie nuwe uitgawe van die gewildste Afrikaanse gesondheidsensiklopedie is hersien en aangevul om feitlik die hele spektrum van die hedendaagse geneeskunde te dek. Dit is gegrond op die jongste mediese navorsing en spesifiek gerig op die behoeftes van die Suid-Afrikaanse gesin. Onontbeerlike feite word sistematies en lesersvriendelik aangebied sodat jy in ’n japtrap ’n ingeligte besluit oor jou en jou gesin se gesondheid kan neem. Die gids dek onder meer:• Riglyne vir optimale gesondheid • Siektes – oorsake, simptome, diagnose en behandeling• Beserings, operasies en chirurgiese prosedures • mediese toetse• Medisynegroepe – generiese middels en handelsname• Geïllustreerde noodhulpstappe
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateJun 15, 2012
ISBN9780624053163
Dokter in die huis

Related to Dokter in die huis

Related ebooks

Related articles

Reviews for Dokter in die huis

Rating: 5 out of 5 stars
5/5

1 rating0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Dokter in die huis - Dr. Jan van Elfen

    title.jpg

    Voorwoord by die derde uitgawe

    Dokter in die huis is dekades reeds Suid-Afrika se gewildste geneeskundige ensiklopedie, en dit bly in aanvraag, selfs meer as ooit. Die verskyning in 2012 van ’n derde uitgawe in vyftien jaar wys dié gids is kerngesond, en dat daar ’n ewe gesonde behoefte bestaan aan ’n omvattende geneeskundige verwysingsbron in toeganklike Afrikaans.

    Dokter in die huis is in pas met moderne geneeskundige praktyke en denke, maar dit vervang nie die besoek aan die huisarts en tandarts, of ’n verwysing na die pediater of ander spesialiste nie. Dit is ook nie veronderstel om die vertroulike en delikate dokter-pasiënt-verhouding te versteur nie. Dit bied wel die jongste mediese navorsing wat relevant is vir die behoeftes van die Suid-Afrikaanse gesin, saamgevat deur ’n emeritus spesialisgeneesheer met akademiese en navorsingsopleiding aan die Universiteit van Oxford en ’n agtergrond in ’n privaat praktyk. Die inligting is soos voorheen sistematies en toeganklik verpak, maar is nou omvattender en meer beskrywend.

    Hierdie gids dek feitlik die hele spektrum van die geneeskunde. Dit stel die gebruiker in staat om te midde van ’n voortdurende vermenigvuldiging van geneeskundige perspektiewe en menings ingeligte besluite te neem. Die inhoud is gegrond op gedokumenteerde medies-wetenskaplike feitekennis, en word in ’n maklik hanteerbare formaat aangebied wat meer gestruktureerd is as enigiets wat jy op die internet kan kry. Soos in die eerste uitgawe onder redaksie van dr. Jan van Elfen is die onderwerpe alfabeties gerangskik en die tradisionele vakrigtings duidelik herkenbaar. Op grond van uiters waardevolle terugvoering van gebruikers is leemtes aangevul en heelwat bywerkings gedoen.

    Ons vertrou dat hierdie derde uitgawe u met groot bevrediging sal laat naslaan en lees en dat dit vir u en u gesin van besondere waarde sal wees. Ek bedank Tafelberg se uitgewer Ansie Kamffer, die redakteur Riëtte Botma en proefleser Madaleine du Plessis, asook die tipograaf Wim Reinders vir buitengewone dienslewering, uitnemendheid en professionalisme. My dank en agting aan my gesin, leermeesters, voormalige kollegas, wyle dr. Jan van Elfen, die universiteite van Oxford en Stellenbosch, die Mediese Navorsingsraad, asook alle Maties wat in die geneeskunde en tandheelkunde studeer het.

    Donald Francois du Toit – D.Phil. (Oxon.), Ph.D., FCS (SA), FRCS; oudnavorser aan die Universiteit van Stellenbosch, Wolfson College en Radcliffe Infirmary (Universiteit van Oxford, Engeland) en die MNR.

    Bellville, Suid-Afrika

    2012

    A

    _MG_5338.tif

    A2

    ’n Mediese afkorting wat verwys na die aortiese tweede hartklank. Die tweede hartklank (S2) is hoorbaar weens die sluiting van die atrioventrikulêre en semilunêre kleppe.

    Aambeie

    Kyk Hemorroïede.

    Aandaggebrek-hiperaktiwiteitsteuring (AGHS)

    Die sindroom kom algemeen voor en ongeveer een uit elke 50 kinders word geaffekteer. Die oorsaak is onbekend, maar genetiese en oorerflike faktore mag ’n rol speel. ’n Ouer wat die sindroom ook onderliggend het, mag die toestand aan ’n kind oordra. In die geval van identiese tweelinge is die kans dat een die sindroom ontwikkel 75%. Tipiese gedragsafwykings is rusteloosheid (hiperaktiwiteit), afleibaarheid, impulsiwiteit, emosionele labiliteit, persepsie- en kognitiewe defekte, geheueverlies, spel- en wiskundige leerafwykings, spraak- en gehoorafwykings. Die sindroom was voorheen bekend as minimale serebrale disfunksie. Sommige kinders manifesteer ook met inkorting van die fyn koördinasie van die hande of lompheid. Die diagnose word dikwels gegrond op die gedragsafwykings, eerder as neurologiese tekens. Voordat daar met farmakologiese behandeling begin word, moet die diagnose eers deur ’n kinderpsigiater of kinderarts bevestig word. Stimulante en nie-stimulante word gebruik na gelang van die oorwegende kliniese beeld. Bekende medikasies sluit Ritalin®, Concerta® en Strattera® in. Daar is voor- en nadele verbonde aan medikasie en die beskikbare opsies moet met ’n kundige bespreek word. Baie kinders vind baat by medikasie, waarvan talle soorte al langer as 20 jaar in gebruik is. (Kyk ook Leerprobleme.)

    Voorbeelde van gedragsafwykings in die klaskamer en tuis

    Ondervind probleme met die organisering van take en aktiwiteite.

    Vermy take en opdragte wat huiswerk en skoolwerk behels.

    Verloor dikwels penne, ens. wat nodig is vir ’n taak.

    Aandag word vinnig afgetrek van ’n taak.

    Dikwels vergeetagtig m.b.t. daaglikse take.

    Luister nie as hulle opdragte ontvang nie.

    Kan nie volgehoue aandag gee aan ’n projek nie.

    Geneig om vele foute te maak met skoolwerk en take.

    Hiperaktiwiteit: vroetel met hande en voete en kan nie stilsit nie.

    Hardloop kort-kort uit die klaskamer wanneer hulle moet sit en werk.

    Rusteloos en hardloop rond.

    Raas baie terwyl hulle speel.

    Gedurig aan die gang, asof hulle deur ’n masjien aangedryf word.

    Praat baie, kan nie instruksies uitvoer nie, dring aan op meer aandag van die onderwysers.

    Emosioneel labiel, geneig tot gemoedskommelinge: begin skielik lag of bars in trane uit.

    Kan nie hul beurt afwag nie.

    Steur ander kinders wat wil werk en ’n taak voltooi.

    Onderbreek ander mense wat besig is om te praat.

    Tuis mag hulle impulsief wees, emosionele labiliteit toon en bombasties of prikkelbaar wees.

    Kinderpsigiaters dui aan dat AGHS soms met Tourette-sindroom gepaardgaan. Kinders kan reeds op die ouderdom van sewe tot tien jaar die mengbeeld ontwikkel. Dit maak die behandeling kompleks en uitdagend vir terapeute, pediaters, kinderpsigiaters en ouers. Tourette-sindroom kom in alle etniese groepe voor. Meer seuns word geraak as dogters. Volgens die beskikbare syfers ly ongeveer 200 000 mense in die VSA daaraan. Brink en Lochner (2011) definieer Tourette-sindroom as ’n neurologiese toestand gekenmerk deur swak koördinasie, spraakgebreke en konvulsies. ’n Kenmerkende teken is die ontwikkeling van trekkings (tics) soos herhaalde oogknip, gesigte trek, skouers wat kort-kort optrek en rukbewegings van die skouers of kop. In erge gevalle mag lyers hulle beseer deur hulself met die vuis in die gesig te slaan. Die trekkings word dikwels voorafgegaan deur ’n oura, in Engels bekend as ’n premonitory urge (kyk Trekkings). Ander simptome en tekens van Tourette-sindroom in kinders sluit in: obsessief-kompulsiewe steuring, emosionele labiliteit en skade (aangesien hulle gereeld verkeerdelik deur die ouers gestraf en geviktimiseer word), prikkelbaarheid, ontwrigtende van gedrag, depressie en impulsiwiteit. Navorsers meen dat Tourette-sindroom ook veroorsaak word deur ’n fout in die dopamiensisteem, aangesien pasiënte soms gunstig reageer op dopamien-inhibitore (Emsley et al., 2001). Behandeling sluit in gedragsterapie, die inwin van ’n opinie en kontrole deur ’n pediater en kinderpsigiater, asook farmakoterapie met spesiale doserings vir kinders (bv. haloperidol, pimosied, resperidoon en klonidien). In kinders met erge trekkings en aandaggebreksteuring mag middels soos disipramien en nortriptillien deur ’n kinderpsigiater voorgeskryf word. Kinders se toestand verbeter op medikasie, maar in sommige volwassenes (ongeveer 10%) het die steuring ’n chroniese, lewenslange verloop.

    Aandoening

    Verwys na enige siekte of geestestoestand.

    Aangebore

    Kyk Kongenitaal.

    Aangepak

    In die kliniese geneeskunde verwys dit dikwels na ’n aanpaksel van die tong a.g.v. dehidrasie of onlangse siekte. Dit gaan soms gepaard met glossitis (skarlakenkoors, moniliase, pellagra) en swak mondhigiëne in bejaardes en by terminaal siek bedlêende pasiënte.

    Aanhegting

    Kyk Inplanting, veral t.o.v. spiere en tendons.

    Aankapknieë

    ’n Wanvorming van die onderste ledemate (ook genu valgum, kapknieë of X-knieë genoem), wat veroorsaak dat die knieë teen mekaar raak of skuur wanneer die persoon staan of loop. Terselfdertyd raak die binneste enkelknoppe nie teen mekaar wanneer iemand met aankapknieë staan nie. Sulke mense is geneig om op die binnekant van die voetsole te loop. Dit kan voetprobleme, bv. platvoet en knokkels van die groottone asook van die ander tone veroorsaak. Die grootte van die gaping tussen die enkels dui die graad van die afwyking aan.

    Vanaf ’n kind se eerste tree tot ongeveer sy sewende jaar kan effense aankapknieë as normaal beskou en geïgnoreer word. As dit egter baie opmerklik is en die gaping tussen die enkels groter as 6 cm is, behoort ’n dokter geraadpleeg te word. Aankapknieë word vererger deur oorgewig en dik bobene.

    Oorsake

    Ragitis, ’n beenmisvormdheid weens ’n gebrek aan vitamien D, was voorheen ’n algemene oorsaak van aankapknieë. By sommige kinders kan aankapknieë aangebore wees of deur ’n beensiekte veroorsaak word. Benewens gepaardgaande lompheid, kan aankapknieë die kniegewrigte laat afslyt en osteo-artritis veroorsaak (kyk Bakbene).

    Behandeling

    As die diagnose vroeg gemaak word, kan dit reggestel word met korrektiewe skoeisel en/of nagspalke. Daar is dikwels ’n verbetering teen die ouderdom van nege jaar. Die toestand van skeletale displasie moet deur ’n ortopediese chirurg uitgeskakel word. ’n Operasie kan in uiterste gevalle nodig wees. Aanvanklik kan ’n biokinetikus of ortopediese chirurg besoek word. Rekenaargerigte beenbelyningstoetse word gedoen om te bepaal of die voete oormatig proneer of supineer. Biomeganiese en anatomiese belyningsafwykings word sodoende gedemonstreer. Kliëntspesifieke binnesole is aanvaarbare konserwatiewe behandeling. Die kosmetiese profiel kan verbeter word deur die groeiplaat aan die binnekant van die tibia en femur te kram. Dit behels egter ’n operasie en word normaalweg slegs in geselekteerde gevalle oorweeg ná die ouderdom van 10 jaar. In gevorderde gevalle en nadat die groeiplaat gesluit het, kan die misvormdheid nog doeltreffend gekorrigeer word d.m.v. óf ’n femorale óf tibiale osteotomie. Postoperatiewe fisioterapie is nodig om die dyspiere te versterk en rehabilitasie te versnel.

    Aanleg

    ’n Inherente kombinasie van intellektuele vermoë, begaafdheid of talent en spier-skelet-vaardigheid in ’n bepaalde rigting. (Kyk ook IK.)

    Aanmeldbare siektes

    Sekere aansteeklike siektes wat ’n dokter by die plaaslike owerheid moet aanmeld indien dit by ’n pasiënt gediagnoseer of tydens ’n lykskouing as doodsoorsaak vermoed word. Die hoof van die huishouding, die gebruiker van die perseel of enigiemand wat die pasiënt verpleeg of versorg, moet ook van die aard van die siekte verwittig word, asook van voorsorgmaatreëls wat die verspreiding daarvan kan voorkom. Versuim om dit te doen is strafbaar.

    Die pasiënt se gesinshoof of die persoon wat hom verpleeg of oor hom toesig hou, staan onder dieselfde verpligting. Die aanmeld van die volgende siektes is verpligtend ingevolge die Nasionale Gesondheidswet van 2003:

    Akute rumatiekkoors.

    Antraks.

    Brusellose (Malta-koors).

    Cholera.

    Difterie.

    Geelkoors.

    Hemorragiese koorssiekte (Kongo-koors, Lassa-koors, Marburg-koors).

    Kongenitale sifilis.

    Lepra (melaatsheid).

    Loodvergiftiging.

    Malaria.

    Masels (rubella).

    Meningokok-infeksies.

    Paratifoïed.

    Plaag.

    Poliomiëlitis.

    Legioensiekte.

    Pokke (nie waterpokkies nie).

    Rabies (hondsdolheid).

    Tetanus (ook by pasgeborenes).

    Tifoïedkoors.

    Tifuskoors (tensy weens luise of vlooie).

    Tragoom.

    Tuberkulose (bewese in die longe en by ’n kind onder vyf jaar met ’n opvallende tuberkulienreaksie); alle tipes met sisteemaantasting soos dié van die breinvliese, derms, buikholte, bene en gewrigte, geslagsdele, sowel as die tipes waar middelweerstandigheid voorkom (MDR- en XDR- tipes).

    Vergiftiging (weens landboubemestingstowwe of -rate en plaagdoders).

    Virushepatitis A, B (nie-A- en nie-B-variante ingesluit).

    Voedselvergiftiging (by meer as vier mense).

    Kinkhoes.

    Aanpaksel

    ’n Neerslag, veral t.o.v. die tong.

    Oorsake

    Droë mond, bv. weens ’n toe neus en asemhaling deur die mond; koorsigheid of dehidrasie; swak mondhigiëne en tandinfeksie of tabakrook.

    Behandeling

    Die toestand herstel vanself sodra die onderliggende oorsaak genees is. Moenie die aanpaksel probeer afkrap of afborsel nie, want dit maak die tong rou. ’n Mondspoelmiddel kan nuttig wees. ’n Droë mond en tong te wyte aan dehidrasie verbeter met verhoogde mondelikse voginname. Swak mondhigiëne, veral in die postoperatiewe fase by bejaardes, kan lei tot ontsteking van die parotisspeekselkliere wat voor die ore geleë is).

    Aansteeklik

    Die verspreiding van ’n siekte deur direkte kontak of ’n tussenganger. By sommige siektes word dit oorgedra deur druppeltjieverspreiding, kontak met menslike afskeidings of liggaamsvloeistowwe (bv. bloed en sweet), veral velaanraking in die omgewing van die mond en neus, en die deel van persoonlike artikels soos ’n kam of handdoek. MIV/vigs kan opgedoen word deur aanraking van virusbesmette membrane (deur die ejakulaat of semen) tydens onbeskermde (vaginale en anale) seks, en gekontamineerde bloed of plasma. Hepatitis A word veroorsaak deur die inname van kos wat met fekale organismes besmet is; hepatitis B en C deur kontaminasie van bloed- of plasma-transfusies of die gebruik van gekontamineerde spuitnaalde. Persoonlike higiëne speel ’n belangrike rol om aansteeklikheid te verhoed, asook die gereelde was van hande, drink van skoon water en beoefening van veilige seks met slegs een maat. (Kyk ook Besmetlik; Infektiewe siektes.)

    Aanvullende geneeskunde

    Dit is ’n breë term wat ook as komplementêre of alternatiewe geneeskunde beskryf word. Daaronder word verstaan mediese benaderings, behandelingsmetodes of terapieë wat nie op wetenskaplike, anatomiese, fisiologiese, patologies-geneeskundige en farmaseutiese dissiplines vanuit die hoofstroom- (ortodokse) benadering gegrond is nie. Aanvullende benaderings behels o.m. akupunktuur, chiropraktyk, homeopatie, kruiemedisyne en naturopatie (natuurgeneeskunde).

    Aanvullende medisyne word al hoe gewilder. Een van die redes is dat moderne geneesmiddels baie duur is en dikwels met ongewenste newe-effekte gepaardgaan. Die Suid-Afrikaanse Komplementêre Geneeskundige Vereniging is ’n oorkoepelende organisasie wat nouer samewerking met die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (SAMA) voorstaan. (Kyk ook Akupunktuur; Aromaterapie; Boererate; Chiropraktyk; Hidroterapie; Homeopatie; Naturopatie; Refleksologie; Tradisionele geneesmiddels.)

    Abbatoon

    Hallux valgus – ’n misvormdheid waar die groottoon bo-oor die tweede toon verplaas is. Dit gaan meestal gepaard met ’n knokkel (Engels: bunion) by die basis van die groottoon.

    Oorsake

    Abbatoon kan voorkom by mense met aangebore slap toongewrigte, maar dit is meestal aan swak skoeisel (skoene met nou punte en hoë hakke) te wyte. Vroue is drie keer meer daartoe geneig as mans. Dit kom dikwels voor by verskeie lede van dieselfde gesin.

    Komplikasies

    Abba- en knokkeltoon kan vererger word deur bursitis, liddorings, eelte en osteo-artritis wat dit onmoontlik maak om te loop.

    Behandeling

    Vroeë gevalle kan verbeter word deur die dra van breë, gemaklike skoene of beskermende eeltkussinkies en chiropodie.

    In pynlike gevalle is chirurgiese herstel van die misvormdheid uiteindelik nodig. Raadpleeg ’n ortopeed. By jonger en aktiewe mense lewer ’n verplasingosteotomie van die nek van die eerste metatarsale (groottoon-) been goeie resultate. By mense ouer as 60 jaar is ’n Keller-eksisie-artroplastiek doeltreffend. Tradisioneel word die voet postoperatief ses weke lank in gips gehou. Ná die rehabilitasieperiode is kwaliteitskoeisel nodig. Voethigiëne bly belangrik en gereelde besoeke aan ’n chiropodis mag nodig wees om aandag aan die toonnaels te gee.

    Abdomen

    Die deel van die romp tussen die toraks (borskas) en die pelvis (bekken). Die abdomen of buik word deur ’n plat spier, die diafragma, van die toraks geskei, maar is aaneenlopend met die bekkenholte. Van agter word dit beskerm deur die rugwerwels en onderste ribbe, maar van voor slegs deur die vel, ’n vetlaag, die abdominale spiere, nog ’n vetlaag en dan die peritoneum (’n vlies wat die binneholte uitvoer). Die peritoneum is ook ’n sak wat die ingewande in posisie hou.

    Die abdominale holte huisves die spysverteringsorgane: die maag, dun- en dikderm, sekum met appendiks, en die lewer, pankreas en milt. Die onderste deel van die kolon (dikderm) is in die pelvis geleë. Die niere en hul afvoerbuise, die ureters, lê aan die agterkant buite die peritoneum (ook bekend as die retroperitoneale ruimte). Die groot bloedvate, abdominale aorta en vena cava 1ê ook agter, sentraal en buite die peritoneum. Die blaas sowel as die voortplantingsorgane (uterus en ovaria by die vrou; prostaat en seminale vesikels by die man) lê in die pelvis. Stringe van die outonome senuweesisteem met hul ganglia lê aan weerskante van die vertebrae (rugwerwels). Aandoenings van die abdomen en pelvis word onder hul eie inskrywings behandel.

    Abdominale pyn

    Pyn wat in die abdomen gevoel word. Dit kan simptomaties van menige aandoening wees, sommige ernstig maar die meeste lig. Die oorsaak kan binne of buite die abdomen geleë wees. Dit kan akuut (skielik, erg) of chronies (langdurig, soms minder erg) asook aanhoudend of intermitterend wees.

    Pasiënte verwys dikwels na maagpyn wanneer hulle buikpyn bedoel en beskryf dit as skerp, dof, warm of kramperig. Chroniese ongerief op die buik word dikwels bestempel as indigestie, volheid, flatulensie, winderigheid of ’n dik gevoel.

    Somatiese buikpyn ontstaan weens die prikkeling van die pariëtale (buitenste) laag van die peritoneum en is gewoonlik gelokaliseer. Pyn komende uit die ingewande is nie duidelik gelokaliseer nie en kan ware pyn, d.w.s. komende van ’n aangetaste deel van die dermkanaal, of verwysde pyn (komende van elders in die liggaam) wees.

    Diagnose

    Die aanvang, duur, ligging, verspreiding, frekwensie, aard en erns van die pyn is van belang by die vasstelling van die oorsaak van abdominale pyn. Daar word ook gelet op of die pyn verband hou met en vererger of verlig word deur die inname van voedsel, liggaamsposisie, inspanning, medikasie en menstruasie. Die buik word betas vir drukteerheid, opsetting of massas. Daar word spesifiek gesoek na tekens van peritonisme. Ag word geslaan op moontlike ekstra-abdominale oorsake, d.w.s. wat buite die buik kan ontstaan, soos perikarditis, koronêre trombose, pneumonie, slukdermsiektes, gordelroos, psigosomatiese (neurotiese) ingesteldheid, metaboliese siektes soos diabetes, porfirie, bloedingsneiging en ander oorsake soos werwelgewrig-artritis, swaarmetaalvergiftiging (bv. deur lood of arseen), knopiespinnekopbyt, ruptuur van ’n abdominale aorta-aneurisme, ens.

    ’n Rektale ondersoek verskaf dikwels ’n leidraad. Spesiale ondersoeke m.b.v. radiografie, ultraklank, angiografie, flikkergrafie of rekenaartomografie is soms nodig. Etterselle in die urien mag dui op ’n onderliggende urienweginfeksie (bv. sistitis of piëlonefritis). Verhoging van die witseltelling of C-reaktiewe proteïene mag dui op infeksie. In uiterste gevalle word ’n laparotomie gedoen. ’n Diagnostiese laparoskopie mag van waarde wees by vroue met verdagte bekkeninflammasie (buisontsteking).

    Uit meer as 200 oorsake van buikpyn is die volgende miskien die algemeenste: akute appendisitis, peptiese ulkus (maag- of duodenale seer), akute dermobstruksie, afsluiting van ’n bloedvat, galblaasontsteking, galstene, fekale oorladingsindroom (oorbodige hardlywigheid met gepaardgaande problematiese simptome), spastiese dikderm, pankreatitis, nierstene, buisswangerskap, salpingitis, torsie (verdraaiing) van ’n ovariale sist, metaalvergiftiging, ’n neurologiese aandoening en aandoenings in die bors soos ’n hart- of longkwaal.

    By kinders kan erge maagpyn met talle koorssiektes gepaardgaan, veral tonsillitis en akute bolugweginfeksies. In dié ouderdomsgroep moet die moontlikheid van appendisitis, urienweginfeksies, virus-mesenteriese adenitis en fekale oorladingsindroom sterk oorweeg word.

    Belangrike oorsake van buikpyn of ’n akute buik by volwassenes sluit die volgende in: appendisitis, peritonitis, inflammatoriese dermsiekte, spastiese dikderm, porfirie, dermperforasie, maagseerperforasie, pankreatitis, dikdermdivertikulitis, bekkeninflammasie soos salpingitis by vroue, ektopiese swangerskap en dermobstruksie met torsie of steeldraaiing van ’n dermlus.

    Die genoemde oorsake word elders onder hul eie inskrywings of dié van die betrokke organe beskryf.

    Abduksie

    Die wegtrekking van ’n ledemaat of vinger vanaf die middellyn van die liggaam of ’n hand (teenoor adduksie, trekking na die middellyn toe). Belangrike abduksie en rotasie van die boonste ledemaat word deur die supraspinatus- en deltoïedspiere teweeggebring. In die onderste ledemaat is die gluteus medius, piriformis, obturator internus en gemellus o.m. belangrik.

    Aborsie

    Die beëindiging van ’n swangerskap in die uterus voor die 28ste week, volgens die internasionale definisie, maar die 26ste week volgens Suid-Afrikaanse regspleging. Hierdie definisie bly egter ’n aanvegbare punt. Hierna word die proses kraam genoem. Die fetus weeg op 28 weke 800 g en is moontlik lewensvatbaar. ’n Fetus van net 500 g is egter al aan die lewe gehou en gevolglik behoort die grenstydperk moontlik tot 22 weke verlaag te word. Jean Sierra was op 453,5 g een van die kleinste babas wat nog in Suid-Afrika gebore is (in 1934 in Kaapstad). Langtermyn- fisieke gestremdheid kan ’n probleem wees by babas wat voor 25 weke gebore word en minder as 500 g weeg.

    Frekwensie

    Na skatting eindig 10–15% van alle swangerskappe in aborsie. Die gevaarlikste tydperk is tussen die agtste en die 12de week.

    Oorsake

    Die vernaamste oorsake is eerstens fetale dood of siekte; tweedens onvermoë van die uterus om die fetus enduit te onderhou; en derdens premature (vroegtydige) skeur van die vliese (die vlieswandige amnion- of vrugsak waarin die fetus lê).

    Fetale dood of siekte. Dit kan te wyte wees aan asfiksie (suurstofgebrek in die fetus se bloedsomloop); (genetiese) wanvorming weens foutiewe konsepsie (bevrugting); vereniging van abnormale selle (om genetiese redes); defektiewe (gebrekkige) inplanting van die vrug; plasentale ontoereikendheid soos dit tydens pre-eklampsie (toksemie van swangerskap) voorkom; ’n siekte van die ma, veral virussiektes soos Duitse masels; sekere farmakologiese middels; en oormatige blootstelling aan bestraling. Asfiksie is die belangrikste van hierdie oorsake. Die bloedvoorsiening vanaf die plasenta (nageboorte) deur die naelstring kan belemmer word deur ongesteldhede by die ma soos nefritis (nierontsteking), hipertensie (hoë bloeddruk), MIV/vigs, eklampsie (nierstuipe) en plasentale abnormaliteite, bv. wanvorming, gewasse, vroegtydige loslating, sifilis en gifstowwe wat deur die plasentale skans dring.

    ’n Harde hou teen die ma se buik beskadig selde die fetus. Seldsamer, maar belangrike redes vir fetale dood is suikersiekte, genetiese afwykings, vigs, ondervoeding en ’n tekort aan skildklierhormone.

    Onvermoë van die uterus om die swangerskap enduit te akkommodeer. ’n Hormoontekort behoort teoreties die uterus se dravermoë te benadeel, maar dit is nog nie in die praktyk bewys nie. Toediening van die vroulike hormone estrogeen en progesteroon tydens swangerskap kan moontlik die fetus benadeel. Progesteroonbehandeling word slegs toegedien in gevalle waar ’n lutealefase-defek gediagnoseer is en herhaalde miskrame voorkom. ’n Wangevormde uterus kan ook ’n oorsaak wees.

    Premature skeur van die vliese. Dit kan tussen die 18de en 26ste week van swangerskap voorkom en veroorsaak dat van die amnion (vrugwater) uitlek. Die uitbulting en skeur van die vliese kan die gevolg wees van ’n slap, inkompetente serviks. Laasgenoemde kan behandel word deur die mond van die serviks m.b.v. steke toe te trek. Die steke word tydens kraam verwyder.

    Daar is nog talle ander onwaarskynlike, meestal uitwendige oorsake van spontane aborsie:

    Retroversie (agteroorbuiging) van die uterus.

    Buikoperasie vroeg in swangerskap.

    Tydelike hormoonversteuring.

    Oorbestraling deur kern- of x-strale.

    Skok deur elektrisiteit of weerlig.

    Seks – onwaarskynlik, behalwe by habituele aborsie (gewoontemiskraam).

    Reis – onwaarskynlik, tensy dit oorvermoeidheid veroorsaak.

    Uitwendige kneusing van die uterus.

    Tandheelkundige behandeling.

    Voorbehoedmiddels, met die uitsondering van intra-uteriene (binnebaarmoeder-) apparate vroeg in swangerskap.

    Rh-negatiewe bloed.

    Skok, droefheid en angs.

    Inwendige mediese ondersoek.

    Bad, swem of sportbeoefening.

    Soorte aborsies

    Dreigende aborsie. ’n Bloederige afskeiding of helderrooi bloed uit die vagina is die hoofsimptome. Effense kramppyne in die onderbuik of laag in die rug kan ondervind word sonder dat die serviks oopgaan. Dit is aan geringe loslating van die vliese of plasenta te wyte. Die differensiële diagnose sluit ’n ektopiese swangerskap in. Swangerskapstoetse en ’n ultraklankondersoek bevestig die diagnose en voorspel die prognose.

    Onvermydelike aborsie. Dit volg as ’n dreigende aborsie nie opklaar nie. Erger pyn en bloeding word ondervind. Sou die vliese skeur en vrugwater uitloop, word die uitwerping van die vrug onvermydelik. Stel die dokter dadelik in kennis, aangesien gevaarlike bloeding kan intree indien chirurgiese evakuasie (lediging oftewel uitsuig en skraap) van die uterus nie gedoen word nie.

    Onvolledige aborsie. ’n Gedeelte van die vrug, gewoonlik die fetus, word uitgestoot. Dit gaan meestal gepaard met kwaai pyn en ’n mindere of meerdere mate van bloeding. Agtergeblewe dele van die plasenta en vliese kan tot hewige bloeding en infeksie lei. Stel die dokter in kennis sodra ’n aborsie plaasgevind het, aangesien ’n evakuasie van die uterus nodig is.

    Teruggehoue aborsie. Dit gebeur as die fetus sterf, maar nie uitgewerp word nie. Indien toetse aandui dat die fetus dood is, is ’n evakuasie van die uterus nodig.

    Septiese aborsie. Hierdie soort aborsie word gekompliseer deur infeksie. Vrugafdrywing is dikwels die oorsaak. Dit kan lewensgevaarlik wees en vereis dringende kundige behandeling.

    Herhaalde (habituele) aborsie. Dit is die verskynsel wanneer drie of meer aborsies agtereenvolgens voorkom. Net 3,6–9,8% van alle aborsies is habitueel. Die behandeling van ’n habituele aborsie verg spesiale kennis en ’n omvattende bekkenondersoek, bloedondersoeke, hormoonbepalings, waarneming van die uterus en buise m.b.v. x-strale of endoskopie, asook ’n ontleding van die endometrium. Noukeurige waarneming van die vrou se gesondheid en die verloop van die swangerskap is nodig tydens daaropvolgende swangerskappe.

    Terminasie van swangerskap. Die Wet op die Keuse oor Beëindiging van Swangerskap, Wet nr. 92 van 1996, soos gewysig in 2005, vervang die Wet op Aborsie en Sterilisasie, Wet nr. 2 van 1975. Die nuwe wet fokus op die volgende aspekte: Enige vrou van enige ouderdom kan sonder om enige redes te verskaf ’n aborsie ondergaan vir ’n ongewenste swangerskap indien sy minder as 13 weke swanger is. Tussen 13 en 20 weke kan ’n aborsie om die volgende redes oorweeg word:

    Indien haar fisieke en geestelike gesondheid in die gedrang is.

    Indien daar ’n gevaar bestaan dat die baba serebrale of ander fisieke abnormaliteite mag hê.

    Indien sy ’n kind dra weens omgang met haar pa of ’n ander familielid (bloedskande).

    Indien sy swanger is weens verkragting.

    Indien terminasie van die swangerskap nodig is weens haar finansiële en sosiale omstandighede.

    Ná 20 weke mag die swangerskap getermineer word indien die fetus ’n afwyking het. Die wetgewing bepaal dat slegs ’n geregistreerde dokter of spesiaal opgeleide verpleegster ’n swangerskap mag termineer. In alle gevalle mag ’n terminasie slegs op versoek van die vrou geskied. Dit is dus uitsluitlik haar keuse. Dit is die individu se reg om beheer uit te oefen oor haar liggaam en lewe. Die staat moedig vrywillige ondersteuning voor en ná terminasie aan. Terminasie mag slegs plaasvind indien die swanger vrou skriftelik toestemming daartoe verleen het. Geen ander toestemming is nodig nie.

    Die chirurgiese terminasie van ’n swangerskap mag slegs in geriewe uitgevoer word wat deur die minister aangewys is. Dit is ’n kriminele oortreding om nie bestaande geriewe toeganklik te maak vir terminasie van swangerskap nie.

    Motivering vir die wetsverandering. Dit is bevorderlik vir menseregte en vryheid, wat deel is van ’n demokratiese Suid-Afrika. Die Grondwet beskerm die reg van die individu betreffende reproduksie (voortplanting), veiligheid en beheer oor die eie liggaam en verseker toegang tot gesondheidsdienste, wat uiteindelik ’n rustiger swangerskap en verlossing sal bevorder.

    Swangerskapterminasie deur die toediening van geneesmiddels binne sewe dae ná omgang. Die gewone gebruik is die toediening van ’n antiprogestogeen, gevolg deur ’n prostaglandien-analoog twee dae later.

    Abortus

    Swangerskapsprodukte (fetus, plasenta en vliese) wat voor die sewende maand uitgewerp word.

    Abrasie

    ’n Oppervlakkige skaafwond aan die vel of slymvlies (nerfaf).

    Abruptio placentae

    Bloeding in die uterus laat in swangerskap weens premature (vroegtydige) gedeeltelike loslating van die plasenta (nageboorte). Dit kom voor in 0,4–3,5% van swangerskappe. Die presiese oorsaak van abruptio placentae is onbekend. Risikofaktore sluit in hipertensie, pre-eklampsie (voorswangerskapstuipe), trouma, kokaïenmisbruik, rook en ’n vorige geskiedenis van abruptio placentae.

    Simptome

    Abruptio placentae kan óf versteek óf sigbaar wees. Die kliniese beeld wissel van gering tot ernstig. Belangrike simptome en tekens sluit in buikpyn, vaginale bloeding, uteriene hiperaktiwiteit, skok, fetale nood of dood. Hoewel abruptio placentae ’n kliniese diagnose is, kan die diagnose met ’n abdominale ultraklankondersoek bevestig word. Tydens ’n Doppler-ondersoek kan die fetale harttempo, wat fetale nood aandui, bepaal word.

    Patologie

    Bloeding vind plaas tussen die plasenta en die uteriene wand en lei tot verlies van plasentale funksie. Bloeding kan ook in die uteriene wand plaasvind en tot ’n Couvelaire-uterus lei. Belangrike komplikasies van abruptio placentae sluit in stollingsprobleme (intravaskulêre [binnevaat-] koagulopatie), skok weens bloeding, akute nierversaking, verhoogde moedersterftes en fetale dood.

    Behandeling

    Abruptio placentae is ’n noodtoestand, want dit hou gevare vir sowel die ma as die fetus in. Aanvanklike hospitalisasie en bedrus is die eerste stap in stabiele gevalle. As die toestand en parameters konstant bly, kan ontslag oorweeg word. Optimale resussitasie en vogtoediening word toegepas om komplikasies soos skok, fetale dood en nierversaking te verhoed. Bloed, suurstof, asook intensiewe monitering van die ma en fetale hartmonitering is nodig. ’n Bloedoortapping is dikwels nodig, en stollingsgebreke moet reggestel word. In geringe gevalle kan ’n vaginale verlossing oorweeg word. Sommige ginekoloë oorweeg amniotomie (doelbewuste sny van die vliese om kraam vinniger te induseer en intravaskulêre stolling en trombose te verhoed). ’n Diagnose van fetale nood noodsaak ’n keisersnee. ’n Vaginale verlossing word oorweeg in die geval van fetale dood in ’n andersins stabiele pasiënt. ’n Histerektomie kan nodig wees in gevalle van ernstige uteriene patologie.

    Abses

    ’n Plaaslike versameling van etter (leukosiete of witbloedselle), bakterieë en afgebreekte weefsel in ’n holte wat met ’n omhulsel van bindweefsel verseël is. Ook bekend as ’n pitsweer. ’n Samekoeking van pitswere in die nekgebied met ondermynende ettertonnels gee aanleiding tot ’n karbonkel.

    Oorsake

    ’n Abses ontstaan gewoonlik waar weefsel deur bakterieë of ’n ander stimulus soos ’n doring of verwonding beskadig is. Oorsake wat ’n goeie teelaarde vir absesse kan wees, sluit in swak higiëne, velwrywing, warm weer, adolessensie, steroïedbehandeling, gebruik van voorbehoedpille, aknee, vetsug, diabetes mellitus en ander sisteemsiektes. ’n Abses is die eindresultaat van ’n inflammatoriese reaksie wat nie daarin geslaag het om ’n infeksie te beëindig nie. Die meeste piogene absesse is te wyte aan ’n stafilokok-infeksie. Dit duur ongeveer vyf dae vir ’n abses om te vorm. Weens die druk wat opbou is die abses aanvanklik pynlik en kloppend, maar sodra dit oopbreek, verminder die ongemak en algemene toksisiteit, wat die koors laat daal.

    Simptome

    Die klassieke tekens sluit in hitte, velrooiheid, plaaslike (lokale) inflammasie, teerheid, swelling, verlies van funksie, koors of kouekoors. Kloppende plaaslike pyn dui op ’n onderliggende abses met ettervorming. Die abses bars oop tensy die etter deur ’n insnyding gedreineer word. Algemene plekke vir absesse sluit in die nek, oksels, lieste, boude, perineum, langs die anus, op die gesig en kopvel. Piogene absesse is warm en rooi, terwyl koue absesse a.g.v. tuberkulose (TB) minder pynlik is. Lg. kom voor in die nek en paravertebraal in die omgewing van die M. iliopsoas. Dié absesse kom redelik algemeen in Suid-Afrika voor in gebiede waar TB endemies is. In sulke gevalle volg die etter die spier afwaarts vanaf die torakale vertebra en vorm ’n abses in die lies. Gesondheidswerkers moet bedag wees hierop. Borskas- en werwel-x-strale is nodig. In die torakale gebied is werwel-TB onstabiel en fragmentasie of kollaps van die werwel kan skielik plaasvind. Dit kan lei tot hoëvlakparaplegie: dofheid, verlamming en parestesie van die onderste ledemate (onderste motorneuronletsel, gepaard met slapheid, asook afwesige reflekse met spierveselfassikulasies), en die ontstaan van ’n neurogene blaas met oorvloei-inkontinensie. Indien paraplegie voorkom, is dit permanent en die persoon word lewenslank in ’n rystoel gerehabiliteer. Permanente blaaskateterisasie is nodig met ’n inblywende urinêre Foley-kateter. Indien TB- torakale werwelkollaps (met minimale tekens van neurologiese of spinale uitvalle) binne ses uur gediagnoseer word m.b.v. RT of MRB, kan nood- spinale dekompressiewe chirurgie (deur ’n spinale chirurg) uitgevoer word met die oog op spinale fusie, eksterneraamstabilisasie of intervertebrale stabilisasie met outogene beentransplantaat. Herstel geskied dikwels stadig en onvolledig, maar die meeste pasiënte kan weer loop m.b.v. krukke of ’n loopraam. Langtermyn-TB-behandeling is nodig. Sommige pasiënte is chronies siek (met of sonder MIV/vigs) en moet vir lang periodes in ’n sanatorium of soortgelyke fasiliteit opgeneem word (kyk Tuberkulose).

    Behandeling

    Vroeë gevalle kan met antibiotika alleenlik behandel word. Amoksisillien, kloksasillien, ampisillien en eritromisien is populêre keuses vir stafilokokkale piogene absesse. Verneem eers of die persoon allergies is vir penisillien. ’n Ryp klein pitsweer kan oopgedruk word. Daarna word droë gaasverbande aangewend om die etter te absorbeer. Groter absesse wat fluktuasie toon, moet chirurgies gedreineer word onder algemene narkose. Die omliggende vel word met ’n antiseptikum behandel en die abses word met ’n pleister of verband bedek. Algemene liggaamshigiëne moet verhoog word deur gereeld te was, stort of bad. Was ook die hande ná aanraking van die geïnfekteerde gebied om verspreiding na aangrensende weefsel en ander pasiënte te voorkom (d.w.s. voor en nadat die verbande geruil word). Tradisioneel word absesse met fluktuasie (sagte kol) in die operasiesaal onder algemene narkose oopgesny en gedreineer. Die sentrale pit word gekuretteer, waarna die etter gekweek en bakteriologies ontleed word om antibiotikasensitiwiteit, -weerstandigheid en -keuse te bepaal. Bykomende sistemiese antibiotika (soos amoksisillien) is nodig om plaaslike inflammasie te verminder en satelliet- of verafgeleë absesse te voorkom. Etter behoort altyd gedreineer te word, aangesien antibiotika alleen ’n harde, chroniese knop, nl. ’n antibioom, vorm. Die ontstaan hiervan kan die onderskeid tussen ’n maligniteit (kwaadaardigheid) en ’n inflammatoriese toestand vertroebel. Dit is veral belangrik in die bors. Die dokter moet altyd die moontlikheid van onderliggende suikersiekte as oorsaak van die abses uitskakel. Nuwe verbande wat silwer en/of heuning bevat, het wondsorg baie verbeter. Dit bevogtig die oppervlakte en absorbeer sekresies. Verbande wat in wondsorgklinieke gebruik word, sluit Acticoat®, Aquacel®, Hydrofiber-wondbedekking (Convatec™), en L-Mesitran® Hydro (Triticum™)-wondsorg in.

    Absorpsie

    ’n Metode waarvolgens voedsel en ander stowwe (wo. geneesmiddels) in die liggaam opgeneem word deur o.m. die vel, neusslymvlies, longe en dermkanaal. Voedingstowwe word hoofsaaklik uit die dermkanaal geabsorbeer, maar vitamien D kan uit sonlig deur die vel opgeneem word.

    Ná inname bereik voedsel en vloeistowwe die maag. Afgesien van alkohol en eenvoudige suikers vind min absorpsie uit die maag plaas. Ná spysvertering in die maag beweeg die voedselbolus na die dunderm. Dit is 6,5 m lank en uitgevoer met villi (slymvliesvoue wat baie bloedvaatjies bevat). Weens die noue kontak met die verteerde voedsel kan dit deur die dun bloedvatwande in die bloedstroom geabsorbeer word.

    Medisyne word op dieselfde wyse as voedsel uit die ingewande geabsorbeer. Sommige geneesmiddels kan ook deur die vel en slymvlies van die oë, neus, mond, vagina en rektum geabsorbeer word.

    ACE-inhibitore

    ACE is ’n akroniem vir angiotensien-omsettingsensiem (angiotensin-converting enzyme in Engels). Dit is ’n peptidielpeptidase wat die omsetting van angiotensien I tot die vasokonstriktor (vaatvernouer) angiotensien II kataliseer. Angiotensien II is d.m.v. talle meganismes betrokke by vaskulêre (vaat) beheer en funksie, wo. die stimulering van aldosteroonafskeiding deur die bynierkorteks. Die opheffing van angiotensien II se negatiewe terugvoeraktiwiteit op renienafskeiding lei tot verhoogde plasmarenienaktiwiteit.

    ACE-inhibitore vervul sedert die 1980’s ’n belangrike rol as óf enkelbehandeling óf saam met ander antihipertensiemiddels in die behandeling van essensiële hipertensie (hoë bloeddruk) en kongestiewe hartversaking. Die gebruik van ACE-inhibitore verbeter die uitkomste van pasiënte met hipertensie, post-miokardiale infarksie, nier-ontoereikendheid en hartversaking. Voorbeelde sluit in quinapril, kaptopril, enalapril, lisinopril, perindopril en ramipril. Die ACE-inhibitore word dikwels gekombineer met diuretika soos hidrochlorotiasied. ACE-inhibitore is verwant aan angiotensienreseptor-antagoniste, wat ook vir die behandeling van hipertensie gebruik word. Voorbeelde sluit in kandesartan en valsartan.

    Hoewel dit meestal goed verdra word, kan die gebruik van ACE-inhibitore ook gepaardgaan met lastige newe-effekte soos lighoofdigheid of sinkopieë (floutes) weens hipotensie, oormatige perspirasie (sweetafskeiding) en dehidrasie, asook hoes en neutropenie (verlaagde produksie van witbloedselle).

    Achalasie

    Achalasie is ’n neurogene slukdermmotiliteitsiekte. Dit is ’n seldsame vorm van slukmoeilikheid waarby die ritmies gekoördineerde (peristaltiese) slukbewegings verlore gaan en spasmas van die onderste derde van die esofagus (slukderm) ontstaan. Dit laat die wand van die proksimale esofagus uitsit en verdik. Die gevolg is disfagie vir sowel vaste kos as vloeistowwe en regurgitasie van onverteerde kos. (Kyk Disfagie.)

    Oorsake

    Die toestand ontstaan as die outonome senuweepleksus, wat die spierwerking laag af in die slukderm beheer, versteur word. Histologie toon ’n verlies van ganglionselle in die miënteriese pleksus van die esofaguswand. Dit veroorsaak enervasie van die esofagusspier en -sfinkter. Chagas se siekte veroorsaak ook achalasie. Dié toestande lei tot ’n styging in laer-ent-sfinkterdruk (LES) in die esofagus. Dit veroorsaak ’n mega-esofagus wat met onwelriekende kosreste gevul is.

    Simptome en tekens

    Die toestand kom voor onder mense van 20–40 jaar. Ongerief en borspyn word gewoonlik ondervind tydens sluk. Omdat verrottende voedsel in die slukderm ophoop, is daar ’n slegte smaak in die mond en slegte asem (halitose). Soms wel voedsel ook in die mond op (regurgitasie). Aanvanklik sluk die pasiënt net swaar aan vloeistowwe, maar later wurg hy ook aan soliede kos. Die simptoom word disfagie genoem. Die persoon verloor massa, kan ander tekens van ondervoeding toon en ontwikkel longprobleme as die slukderm se inhoud tydens slaap in die lugweë beland. Dit staan bekend as aspirasie.

    ’n Diagnose van achalasie kan m.b.v. ’n bariummaal en/of endoskopiese ondersoek van die slukderm bevestig word. Kanker van die slukderm moet uitgeskakel word. Esofageale manometrie toon tipiese afwykings soos aperistalse, verhoogde laerslukderm-kringspierdruk en onvolledige lediging van die distale klep wanneer die pasiënt stik.

    Behandeling

    Die konvensionele behandeling is herhaaldelike pneumatiese ballondilatasie (verwyding) van die distale esofageale vernouing. Botox® kan ook via ’n endoskoop ingespuit word, wat verligting bring aangesien daardie stukkie slukdermspier naby die kardio-esofageale aansluiting vir periodes van drie tot ses maande verlam word. ’n Heller-kardiomiotomie (deursny van die distale esofagusspierlaag) word uitgevoer as dilatasie misluk. Die operasie slaag in 80% van gevalle. Verdere behandeling vir sooibrand kan nodig wees ná hierdie prosedure. Esofagusruptuur van ’n mega-esofagus en sekondêre mediastinitis kan voorkom. In sulke gevalle is noodchirurgie nodig.

    Prognose

    Die prognose word bepaal deur die aanwesigheid van longaantasting of die ontstaan van esofaguskanker (5% van gevalle).

    Achilles-tendon

    Die seningagtige inplanting van die sterk kuitspiere in die kalkaneus (hakbeen).

    Funksie

    Sametrekking van die tendon stel ’n mens in staat om op jou tone te staan. Dit word aan groot spanning onderwerp tydens vinnige wegspring, hardloop en hoogspring.

    Beserings

    Al is die Achilles-tendon die sterkste tendon in die liggaam, is dit kwesbaar vir inflammasie a.g.v. ooreising deur sportlui en bejaardes, d.w.s. chroniese herhalende tendonitis en ruptuur (skeuring). Eersgenoemde word behandel met rus, ’n anti-inflammatoriese middel en die dra van sagte skokabsorberende binnesole onder die hakke. ’n Volledige tendonruptuur moet chirurgies herstel word. Normale en veral veeleisende sportbedrywighede kan eers ná intense rehabilitasie hervat word. In sekere sportklinieke word plaatjieryke plasma (PRP) in die beseerde gedeelte ingespuit, wat die genesingsproses mag versnel. Een of meer inspuitings word dikwels een tot drie weke uitmekaar gegee.

    Achloorhidrie

    ’n Algehele gebrek aan maagsuur. Dit kom tipies voor by pernisieuse anemie (gebrek aan intrinsieke faktor). Die maagslymvlies is atrofies en skei nie soutsuur af nie. Weens die gebrek aan die intrinsieke faktor word vitamien B12 nie geabsorbeer nie, wat tot anemie lei. ’n Atrofiese maagslymvlies gaan gepaard met ’n verhoogde voorkoms van maagkanker. Hematologiese toetse en bloedsmere toon makrositiese anemie, anisositose, poikilositose, groot ovalosiete, hipersegmentasie van neutrofiele en retikulositopenie.

    Simptome

    Die simptome is vaag omskrewe, maar die bevinding van megaloblastiese anemie is tipies. Pernisieuse anemie gaan gepaard met neurologiese uitvalle soos perifere neuropatie, demensie en subakute gekombineerde degenerasie. Folaatgebrek kan ’n soortgelyke beeld toon. Gastroskopiese biopsies bevestig atrofie van die maagslymvlies. Maagsuurstudies bevestig die achloorhidrie.

    Behandeling

    Pernisieuse anemie word doeltreffend behandel met vitamien B12-inspuitings. Periodieke gastroskopiese ondersoeke kan nodig wees om maagkanker vroegtydig te identifiseer.

    Achondroplasie

    ’n Oorerflike groeiversteuring met verbening wat tot dwergskap lei. Sulke pasiënte het meestal ’n kop en borskas van normale grootte, maar kort bene en arms. Die oorsaak is onbekend, gevolglik kan dit nie behandel word nie. By ’n seldsamer soort dwergskap te wyte aan ’n groeihormoongebrek is die kop, romp en skouers klein, maar in normale verhouding.

    Adduksie

    Kyk Abduksie.

    Adenitis

    Ontsteking van die limfknope of -kliere, bv. in die nek, oksels en lieste. Algemene oorsake sluit in akute ontsteking te wyte aan streptokokkale of stafilokokkale infeksie, rubella, klierkoors, tuberkulose, kankeruitsaaiings en MIV/vigs (kyk Limfknope).

    Adenoïede

    Die adenoïede oftewel neuskeelmangels is sigbaar vergrote limfatiese weefsel in die nasofarinks (neuskeelholte) wat by kinders gewoonlik gepaardgaan met tonsillitis (mangelontsteking) en gelyktydig met die mangels verwyder word, veral as dit bydra tot otitis media (middeloorontsteking) en versperde asemhaling (kyk Keelmangels). Vergrote adenoïede kan moontlik verbind word met doofheid by kinders. Die volgende tekens is belangrik: mondasemhaling, probleme met suig, snork, versperring van asemhaling tydens slaap, rustelose slaap, enurese en tekens van swak slaap (prikkelbaarheid, lusteloosheid en swak aptyt).

    Adenomatose

    Die teenwoordigheid van baie adenome (kyk Adenoom).

    Adenoom

    ’n Onskuldige tumor of gewas bestaande uit klierweefsel. ’n Adenokarsinoom, daarenteen, is ’n gewas wat ook uit klier weefsel ontstaan, maar kwaadaardig is. Adenome word veral in klierryke weefsels aangetref, bv. die vel, maag, ingewande, skildklier, lewer, mammas (borste), byniere en ovaria (eierstokke). Dit is betreklik ferm swelsels en bestaan uit die weefsel waaruit dit ontstaan het. In teenstelling met kanker word adenome nie deur bloed of limf na ander liggaamsdele versprei nie. Dit kan egter hinderlik wees vanweë die grootte, of omdat dit kan ontsteek of bloei. ’n Adenoom kan ’n steeltjie ontwikkel waaraan dit hang (kyk Poliep). As dit bindweefsel bevat, heet dit ’n fibro-adenoom. Fibro-adenome is harde swelsels wat veral in die mammas of uterus voorkom. ’n Adenoom kan ook sisties word. ’n Sist is ’n voggevulde blaas wat veral in die borste en ovaria ontstaan.

    Simptome

    Klein adenome is nie lastig nie, maar kan opsigtelik wees, bv. in die vel. Groter adenome kan opsigtelik wees, of kan deur betasting (tydens ’n ginekologiese ondersoek) of as ’n toevallige bevinding tydens ’n x-straal- of ultraklankondersoek waargeneem word. Sommige adenome beïnvloed die werking van die orgaan waarin hulle voorkom, bv. dié van die hipofise of die bynier (kyk Adrenogenitale sindroom; Akromegalie). Fibro-adenome van die uterus kan vrugbaarheid benadeel of miskrame veroorsaak. Pasiënte (vroue en mans) kan ’n knop in die bors ontwikkel.

    Behandeling

    Adenome word gewoonlik chirurgies verwyder. Een rede hiervoor is dat dit onmoontlik is om die onskadelikheid van ’n gewas te bewys tensy dit mikroskopies ontleed word. Dit is veral relevant in die geval van ’n knop in die bors. ’n Naaldaspirasie en sitologiese ondersoek van die aspiraat is van groot waarde en behoort oorweeg te word saam met ultraklank, konvensionele mammografie of magnetieseresonansie-mammografie. ’n Tweede rede is dat ’n klein persentasie adenome kankeragtige veranderinge ondergaan en karsinome word. ’n Derde rede vir die verwydering van adenome is wanneer hulle die werking van ’n orgaan versteur, bv. as sistiese ovaria menstruasie beïnvloed of hirsutisme veroorsaak, of as ’n adenoom van die hipofise akromegalie veroorsaak.

    Adenosiendifosfaat (ADP)

    ’n Nukleotied saam met twee organiese fosfaatverbindings (kyk Adenosientrifosfaat). Nukleotiede is eenhede waaruit nukleïensuur gesintetiseer word.

    Adenosienmonofosfaat (AMP)

    ’n Nukleotied, ’n belangrike bron van selenergie, veral vir spiersametrekking (kyk Adenosientrifosfaat).

    Adenosientrifosfaat (ATP)

    ’n Nukleotied saam met drie organiese fosfaatverbindings. Adenosientrifosfaatverbinding word in alle selle aangetref waar dit ’n belangrike bron van energie vir fisiologiese werking is. Hierdeur word allerlei bewegings vermag, hetsy spiersametrekking, die wuiwing van cilia (haartjies) in die lugpype of die kruipgang van witbloedselle.

    ATP is noodsaaklik vir senuweegeleiding en die handhawing van die ordelike werking van alle lewende weefsel. Indien ATP nie voortdurend gesintetiseer word nie, kan lewe nie bestaan nie.

    Energie word vrygestel as een van die drie fosfaatverbindings van ATP afsplits en ADP gevorm word. Hierna word die siklus in trurat gegooi met die gebruik van energie wat verskaf word deur die oksigenering van suurstof, en ATP word weer gevorm.

    Adenovirus

    ’n DNS-virus wat dikwels koors, inflammasie van die respiratoriese en oogslymvliese, en vergroting van limfkliere veroorsaak. Pasiënte kry respiratoriese (asemhalings-) infeksies, seerkeel, faringitis, konjunktivitis en mesenteriese adenitis (vergrote limfkliere in die buikholte). Behandeling is ondersteunend, aangesien daar geen spesifieke behandeling vir die virus is nie.

    ADHD

    Die Engelse akroniem vir attention deficit hyperactivity disorder (kyk Aandaggebrek-hiperaktiwiteitsteuring [AGHS]).

    Adhesie

    Fibreuse weefsel (stringe of bande) wat aangrensende slymvliesoppervlakke aan mekaar laat kleef (vergroeiings). Belangrike vergroeiings kan na vorige operasies in die buik asook in die pleurale holte en gewrigte voorkom (bekend as peritoneale, pleurale en gewrigsvergroeiings). Die meeste adhesies veroorsaak geen simptome in die buik nie, maar kan wel die oorsaak van gevaarlike dermobstruksie wees. Chirurgiese behandeling waartydens adhesies deurgesny en organe van mekaar geskei word, is dikwels nodig. In sommige gevalle is dit moontlik om dit laparoskopies uit te voer.

    Adjuvant

    ’n Geneesmiddel wat die werking van ’n ander middel versterk, maar op sigself nie noodwendig oor heilsame eienskappe beskik nie. Adjuvante chemoterapie is dikwels nodig om sistemiese kankeruitsaaiings te behandel (bv. bors- of kolonkanker) en word dikwels deur ’n onkoloog in die vorm van siklies gekombineerde terapie toegedien. Dit kan pre- of postoperatief toegedien word.

    Adolessensie

    Die leeftyd tussen puberteit en geestelike en liggaamlike wasdom waartydens seksuele ryping intree (ongeveer 12–21 jaar).

    Adrenalien

    ’n Neurotransmitter of senuwee-oordragstof, ook bekend as epinefrien, wat afgeskei word deur die byniermedulla onder inwerking van die outonome senuweesisteem. Dit veroorsaak o.m. bloedvatvernouing, bloeddrukverhoging, hart- en polsversnelling, suikerstorting in die bloed deur die lewer, versterkte asemhaling en pupilvergroting wanneer hoë eise plotseling aan die liggaam gestel word, bv. wanneer gevaar dreig en geveg of gevlug moet word. In die geneeskunde word adrenalien gebruik om akute allergiese toestande soos urtikarie (jeukende, opgehewe veluitslag en swelling van die neuskeelslymvlies) te verlig. Dit word nog steeds gebruik om hartstilstand te voorkom en asmasimptome te beheer.

    Adrenogenitale sindroom

    ’n Soort biseksualiteit (hermafroditisme) waarby ’n aandoening van die byniere die belangrikste rol speel. Dit is aangebore. Adrenale virilisme (vermanliking) vanweë hoë androgeenvlakke is die algemeenste biseksuele (interseksuele) abnormaliteit by die vrou. Dit is die gevolg van foutiewe kortikosteroïedproduksie deur die ma se byniere, ’n lae kortikosteroïedbloedvlak en ’n hoë ACTH-vlak.

    By die vrou is die klitoris vergroot en lyk soos ’n versluierde penis. Die labia is saamgesmelt en bedek die uretra en vagina. Latere verskynsels van manlikheid sluit beharing, aknee, stemverandering en sterk spiere in. Word dit nie behandel nie, krimp die ovaria weg en vind menstruasie nooit plaas nie.

    By die man veroorsaak adrenogenitalisme vroeë ontwikkeling van die geslagsorgane (macrogenitosomia praecox of suigeling-Hercules) en vroegtydige puberteit.

    Toediening van ’n viriliserende hormoon soos progesteroon aan ’n swanger vrou kan die oorsaak van die sindroom by ’n meisiebaba wees. Adrenogenitalisme kan deur metings van 17-ketosteroïed en 17-hidroksikortikosteroon in die urien bewys word.

    Adrenokortikotrofiese hormoon (ACTH)

    ’n Hormoon van die anterior hipofise wat sekresie (afskeiding) van kortisol (hidrokortisoon) deur die adrenale kliere (byniere) stimuleer. Afskeiding daarvan word beheer deur kortikotropien-vrystellingsfaktor wat deur die hipotalamus afgeskei word. Terapeuties werk ACTH soos kortikosteroïede en het soortgelyke newe-effekte.

    Aërobies

    Tydens aërobiese oefening word groot spiere aanhoudend en ritmies gebruik sodat die hart- en asemhalingstempo verhoog. Goeie voorbeelde is draf, swem, roei, fietsry, dans, tennis en muurbal. Tydens die aërobiese proses word piruvaat, koolsuurgas, water en ATP gevorm. Die aërobiese sisteem voorsien meer as 90% van ATP, wat spiersametrekkings bevorder. Aërobiese oefening is suurstofafhanklik en glikogeen word in dié fase tot glukose afgebreek.

    Aërofagie

    Die sluk van lug of winde, die algemeenste bron van buikswelling of winderigheid. Haastige en angstige eters en drinkers maak hulle dikwels daaraan skuldig as hulle hulle versluk aan voedsel en drank.

    By hongerige babas gebeur dit ook wanneer die ma se melk te stadig of te vinnig na hul sin vloei, of as die botteltiet se gaatjie te groot is. Hou babas orent oor die skouer om van die ingeslukte winde ontslae te raak, anders is koliek dalk die gevolg.

    Mense met kortasemheid, bv. weens emfiseem, maak hulle daaraan skuldig wanneer hulle na asem snak terwyl hulle praat of eet. ’n Mens kan ook baie winde sluk wanneer jy sommige gasserige dranke inneem.

    Ná ’n laringektomie (verwydering van die strot en stembande, bv. vir kanker) kan willekeurige aërofagie vir stemproduksie gebruik word (esofageale spraak).

    Aërosol

    ’n Kolloïdale (gomagtige) of elektrolitiese oplossing wat aangewend word d.m.v. ’n bestuiwer, bv. reukweerders en asmapompies. Sommige aërosolprodukte wat vernietigend inwerk op die stratosfeer se osoonlaag (wat die lewe op aarde beskerm deur die meeste skadelike ultravioletstrale te filtreer) word sover moontlik deur omgewingsvriendelike aërosolprodukte vervang.

    Aërotitis

    Binneooraandoenings weens drukverandering soos tinnitus (suising) of gehoorverlies (kyk Barotrouma).

    Afagie

    Ook genoem disfagie.’n Onvermoë om te sluk weens senuweeverlamming, ’n gewas of vernouing van die keel of slukderm, of ’n angsneurose (kyk Disfagie). Die obstrukterende letsel kan in die lumen, in die wand of buite die esofagus voorkom. Peptiese esofageale strikture (weens suurrefluks) en esofaguskanker is belangrike oorsake van afagie.

    Afakie

    Die afwesigheid van ’n ooglens. Die oorsake is onderskeidelik kongenitaal, verwydering van die lens d.m.v. chirurgie of vernietiging daarvan deur ’n besering.

    Afasie

    Die gedeeltelike of algehele onvermoë om gedagtes in spraak om te sit of die gesproke of geskrewe woord te begryp weens ’n letsel in die spraaksentra en hul assosiasiebane in die brein. Dit verskil van disartrie en disfonie, spraakprobleme weens gebrekkige sig en gehoor onderskeidelik. Aleksie (woordblindheid) en agrafie (skryfmoeilikheid) kan met afasie gepaardgaan.

    Oorsake

    Twee tipiese neurologiese beelde wat in die sensorium en spraak ontstaan a.g.v. uitvalle van Brodmann se areas 44 en 22 sluit in:

    Broca se motoriese afasie (Brodmann se area 44 in die frontale lob): Die persoon weet wat hy wil sê, maar kan nie duidelik praat nie en soms glad nie.

    Wernicke se sensoriese afasie (Brodmann se area 22 in die superior temporale lob-girus): Die persoon se woordgebruik is sonder sinvolle verband (wartaal).

    Beroerte weens afsluiting (trombose, embolisme, aterosklerose) van die middelste serebrale arterie en breinbesering is die hoofoorsake. Veral twee gebiede in die dominante breinhelfte is by spraak betrokke, nl. die Broca- en Wernicke-gebiede (kyk Brein). Beskadiging van die Broca-gebied veroorsaak probleme met taaloordrag (ook bekend as motoriese afasie). Die spraak is eentonig en nie vloeiend nie. Die paar woorde wat uitkom, is wel betekenisvol. Die persoon praat stadig en in telegramstyl. Indien die Wernicke-gebied beskadig is, is die begrip aangetas (ook bekend as sensoriese of reseptiewe afasie). Hoewel die spraak vlot kan wees, is dit deurmekaar, sinloos en vol foute. Die pasiënt is nie bewus van sy taalfoute nie. Skrif is ook belemmer en bevele word nie begryp of uitgevoer nie. Die helfte van die gesig en ledemate is verlam a.g.v. beroerte (boonste motoriese neuronletsel), die pasiënt kan aanvanklik nie sluk nie en is inkontinent wat urien en feses betref.

    Afasie kan algeheel wees indien albei spraaksentrums ernstig beskadig is, of nominaal by geringer aantasting. Dan sukkel die pasiënt bv. bloot effens om ’n mens se naam en van bymekaar te bring (kyk Beroerte).

    Afdruk

    ’n Tegniek wat gebruik word vir die maak van o.m. kunsgebit (valstande), kroon- en brugwerk en ortodonsie (tandregstelling m.b.v. draadjies aan tande) met die doel om ’n identiese weergawe van die mond en/of tand(e) te verkry.

    Afebriel

    Koorsvry.

    Affek

    Die wêreldbekende Dorland’s Illustrated Medical Dictionary (2003: 35ste uitgawe), som affek op as ’n emosionele ekspressie van emosies verbonde aan idees of mentale verteenwoordiging van voorwerpe.

    Dit is dus ’n sielkundige term wat verwys na ’n gevoelstoestand, die luim waarin ’n mens verkeer; ’n sterk emosionele reaksie op ’n kortstondige psigiese toestand, bv. vrees, woede of hartseer. ’n Affektiewe handeling kan ’n (mis)daad presipiteer wat onder invloed van ’n sterk gemoedsaandoening gepleeg word. Brink en Lochner (2011) definieer affek as ’n geestelike of emosionele reaksie op ’n prikkel (Latyn: afficere = beïnvloed). Kaplan en andere (1994) verwys na die openbaring van ekspressie van emosie. Die outeurs subklassifiseer affek soos volg:

    Toepaslike affek (die emosionele status en temperament is in harmonie en dus basaal).

    Ontoepaslike affek.

    Afgestompte affek.

    Beperkte affek.

    Afplatting van affek.

    Labiele affek.

    Affektiewe versteurings

    Geestesteurings gekenmerk deur abnormale buie, bv. manie, depressie of maniese depressie. Sulke versteurings kan psigoties (sonder begrip vir die werklikheid) of neuroties (met begrip vir die werklikheid) wees, en kan ontstaan a.g.v. ’n ander liggaamlike of sielkundige siekte.

    Afhanklikheid

    Die bywerking van ’n chemiese stof of geneesmiddel wat by staking van gebruik ’n byna onhoudbare drang daarna veroorsaak. Daar word dikwels gesê ’n middelafhanklike is verslaaf aan ’n bepaalde stof. Onttrekkingsimptome kan wissel van prikkelbaarheid, rusteloosheid, doelloosheid of hoofpyn by betreklik ligte stimulante soos nikotien en kafeïen tot erge bedruktheid, slaapsteurings, neuroses en selfs psigotiese gedrag soos by sommige soorte hipnotiese stimulante, kalmeer- en slaapmiddels en antidepressante. Dit kan aanleiding gee tot middelverslawing. Alkohol en sigaretrook is voorbeelde van afhanklikheidsvormende middels wat wye sosiale gebruik geniet. Dagga, kokaïen, LSD en Mandrax tel onder dié wat plaaslik en in baie lande onwettig is (kyk Bensodiasepiene; Verdowingsmiddels).

    Aflatoksien

    ’n Toksien gevorm deur Aspergillus flavus, ’n swam wat soms op landbouprodukte soos grondboontjies groei. Dit is ’n potente hepatiese karsinogeen en oorsaak van lewerkanker.

    Afonie

    Stemverlies, ’n onvermoë om te praat weens ’n abnormaliteit van die stembande, bv. weens laringitis, ’n serebrale letsel met aantasting van die spraaksentrum, beskadiging van die rekurrente laringeale senuwee (die senuwee wat die stembande voorsien), bv. tydens ’n operasie vir verwydering van die tiroïed (skildklier), of ’n gewas op die stembande.

    Afrodisiakum

    ’n Middel wat die seksdrang prikkel. Die bekendste gewaande seksprikkelmiddel is kantaridien, ’n laktose van kantaridiese suur, wat verkry word deur verpoeiering van die Spaanse vlieg. Die poeier is bitter, veroorsaak velblasies en is eintlik ’n dodelike gif. Dagga, veral wanneer dit in verpoeierde vorm saam met Mandrax gerook word, is glo ’n goeie seksopkikker. Efedrien beskik oor soortgelyke hoedanighede. Strignien het vroeër veral in die Ooste dieselfde doel gedien, waar verpoeierde renosterhoring ook hoog aangeslaan word. Amielnitraat is ook nie te versmaai nie. Dopamien prikkel sommige Parkinson-pasiënte. Testosteroon (manlike geslagshormoon) prikkel vroue seksueel, veral as dit aan die klitoris gesmeer word, maar stel teleur by mans tensy hulle ’n bewese gebrek daaraan het.

    Alkohol kan seksuele opwinding verhoog, maar die vertoning ewenaar nie die fanfare nie! Die sg. seksuele opkikkering van gewaande afrodisiaka doen selde die aansprake gestand.

    Erektiele disfunksie (Latyn: erectio) is dikwels die rede waarom mans na ’n afrodisiakum soek. Erektiele disfunksie is die onvermoë om ’n voldoende ereksie te behou vir bevredigende seksuele omgang. Dit is ’n algemene en wêreldwye probleem wat dikwels tot sielkundige disfunksie lei. Belangrike oorsake is die inname van medikasie soos bloeddrukpille, diuretika, betablokkers, alkohol, opiate, estrogene, kankermiddels en amfetamiene. Stres en finansiële probleme speel ’n rol, asook ’n afname in belangstelling in hul bedmaat. Voorskrifmedikasies wat gebruik kan word om erektiele disfunksie tydelik te stuit, sluit in Cialis®, Levitra® en Viagra®. Direkte inspuitings in die penis voor omgang met Caverject® mag van waarde wees in sekere pasiënte. Al hierdie middels moet onder toesig van ’n spesialis-uroloog toegedien word aangesien newe-effekte soos oogirritasie, hoofpyne, bloeddruksteurings, duiseligheid, hartritmestoornisse, hartstilstand en spierpyne kan voorkom. Sommige vroue probeer die fisieke voorkoms van die vulva en vagina verbeter om die probleem by hul mans te oorbrug en ondergaan kosmetiese labioplastiek (kyk Labiaplastiek).

    Afskeiding

    Die vrystelling van waterige, slymerige, bloederige of etterige vog, ook bekend as sekresie, bv. neusslym, speeksel, maagsuur, gal en spysverteringsap.

    Afskilfering

    Die afval van lae oppervlakselle van die vel of ’n slymvlies, bv. by ekseem of psoriase. Dit staan ook bekend as eksfoliasie. In die skoonheidsbedryf word chemiese afskilfering van die gesig algemeen in skoonheidsalonne gebruik as verjongingsterapie. Konvensionele en oppervlakkige chemiese afskilferings is ’n veilige modaliteit om verjonging teweeg te bring. ’n Reeks afskilferings van die gesig word met tussenposes van twee tot drie weke in ’n skoonheidsalon gedoen. ’n Verdunde suuroplossing word aan die gesig geverf. Die konsentrasie wissel van 10–50%. Die skoonheidsterapeut begin met die swakste konsentrasie. Ná 5–10 minute word die suur geneutraliseer. Die plaaslike behandeling bevorder eksfoliasie en verwyder dooie velkeratinosiete. Die voorkoms van oppervlakkige plooie en fyn lyntjies op die wange en langs die oë verbeter tydelik vir tot drie maande. Daarna moet die proses herhaal word, aangesien permanente omkering van plooie nie moontlik is nie. Die vel voel en lyk egter goed ná ’n afskilfering. In sommige gevalle verbeter dit ook aknee, maar pasiënte moet gekeur word. Dit is uiters belangrik om ’n goeie sonskermroom te gebruik ná ’n afskilfering, aangesien die vel dan baie gevoelig is vir direkte UV-sonlig. ’n Afskilferingsbehandeling word soms gekombineer met terapie met ’n sagte rooi LED- (light-emitting diode-) lig.

    Afgesien van velverjonging kan afskilfering ook tot ’n mate melasma (hiperpigmentasie van die vel) verbeter. Die volgende afskilferings (Engels: peels) word in skoonheidsalonne gebruik: glikolisesuur, sitraat, trichloro-asetaat en salisielsuur. Verskillende sterktes wat wissel van 10–70% is beskikbaar. Ander salonne gebruik velterapie en -verjongingstegnieke wat van radiofrekwensie-, IPL- en fraksionele laserterapie gebruik maak in plaas van afskilfering.

    Afwyking, seksuele

    ’n Psigoseksuele aandoening of seksuele perversie (kyk Bloedskande; Fetisjisme; Homoseksualiteit; Masochisme; Parafilie; Pedofilie; Sadisme; Transvestisme; Verkragting; Voyeurisme).

    Agar-agar

    ’n Jellie verkry van seegrasse wat gebruik word om sekere voedingsbodems vir kiemkweking te solidifiseer.

    Aggressie

    Gedrag gekenmerk deur periodieke norsheid, buierigheid, uitlokking tot geweld en stryerigheid, veral t.o.v. ’n gesagvoerder. Dit is ’n persoonlikheidsaandoening of kan veroorsaak word deur middels soos alkohol, anaboliese steroïede, Mandrax®, kokaïen en dagga of gevoelens van teleurstelling. Sulke gedrag dien om ’n afhanklikheidsgevoel te ontken of te verberg. Dit is egter selfverydelend, want dit is aanstootlik en verhinder dat die persoon ’n normale mate van meegevoel of ondersteuning kry.

    Neuroloë kon nog nie ’n breinsentrum vir aggressie identifiseer nie. Sielkundiges meen dat die sneller vir dié impulse heel waarskynlik vanaf verskeie dele van die limbiese sisteem, insluitende die frontale en prefrontale area, die amigdaloïed, hippokampus en hipotalamus ontstaan, terwyl die serebrale hemisfere meer inhiberend is. Elektriese stimulasie van dié dele mag ’n massiewe ontlading van aggressie teweegbring, met moorddadige gevolge. Dit is moontlik dat persoonlikheidsafwykings gepaard met die stimulasie van die limbiese sisteem bydraende faktore kan wees wat aanleiding gee tot beplande gesinsmoorde.

    Gesinsmoord

    Aggressie speel ’n sleutelrol in gesinsmoorde, ook bekend as familiemoord. Gesinsmoord is ’n wêreldwye verskynsel en behels ’n beplande moord op ’n hele gesin. Die man of hoof van die gesin wis meestal op onvoorspelbare wyse doelbewus sy hele gesin uit. Die statistieke toon dat dié verskynsel onder alle bevolkingsgroepe en ekonomiese klasse voorkom, maar dit is die algemeenste onder wit mense. Die Sentrum vir die Studie van Geweld en Versoening van die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing beskik oor heelwat data oor gesinsmoorde in die jare voor en ná apartheid in Suid-Afrika. Die aggressor is gewoonlik een van die ouers (die pa óf ma), maar ’n enkele presipiterende faktor is nie identifiseerbaar nie. In verreweg die meeste gevalle is mans verantwoordelik vir gesinsmoorde in Suid-Afrika. Aandaggebrek-hiperaktiwiteitsteuring in die kinderjare en manies-depressiewe buie of psigose mag tot antisosiale-persoonlikheidsindroom lei en kan moontlik ’n rol speel. Sulke mans het moontlik op skool tipiese boeliegedrag geopenbaar. Introversie mag ook ’n rol speel. By vroue wat gesinsmoord pleeg, mag endokriene faktore ’n rol speel en gekoppel wees aan die menstruele siklus. In die meeste gevalle is die man emosioneel onstabiel en onvolwasse ten tye van die daad, het hy ’n gelisensieerde vuurwapen in sy besit en volg die moord ná ’n onlangse argument met die vrou (die gesin verbrokkel omdat een van die ouers die huis verlaat). Dikwels is daar ’n narsistiese, moorddadige en sadistiese element betrokke en put die aggressor genot daaruit om sy kinders voor hul ma dood te skiet (om haar te straf), of in hul slaapkamers. Vroue wat gesinsmoord pleeg, is geneig om hul kinders (een of meer) te versmoor of te vergiftig, te verwurg, op te hang, te verdrink, te begrawe of te verbrand. Daarna pleeg hulle selfmoord, dikwels deur hulle op te hang aan ’n trapreling in die huis. Hulle laat gewoonlik ’n selfmoordbrief agter. Enkelma’s en hul kinders val dikwels in dié groep.

    Vergiftiging van kinders en mans deur vroue is ook ’n eeu oue wyse om mense van kant te maak weens jaloesie en haatgedagtes. Die verskynsel is baie volledig gedokumenteer in die geneeskundige literatuur, dagblaaie en media.

    Sommige navorsers wat gesinsmoord bestudeer, beklemtoon die rol van stres en die onvermoë om stres te hanteer, affek-afwykings, onvolwasse persoonlikheid, ’n ongelukkige huwelik, werkloosheid, middelmisbruik, alkoholmisbruik, jaloesie en besitlikheid. Onvolwassenheid, swak interpersoonlike kommunikasie, ontrouheid, ekonomiese en finansiële faktore, aggressiewe en impulsiewe gedrag, asook ’n patriargale ingesteldheid teenoor die vrou en kinders in die gesin kom algemeen voor. Daar is dus talle emosionele faktore wat met die disfunksie van die limbiese lob en sisteem te doen het. Die verskynsel is ook gedokumenteer onder lede van die polisiediens, waar stres ook ’n rol speel, sowel as ’n macho werkomgewing. Persoonlikheidstipe (outoritêre gedrag), veral by mans, speel ongetwyfeld ’n groot rol in gesinsmoord. Sommige mans wat gesinsmoord pleeg, glo dat hulle altyd die finale sê het, selfs oor lewe en dood. Dié denkwyse lei daartoe dat die man vas glo dat sy gesinslede ook moet sterf as hy sterf. Van dié mans is oortuig dat hulle hul gesin beskerm deur hulle saam met hom te laat sterf, want hulle sal sukkel sonder hom. Daar is baie jare lank gespekuleer dat daar ’n noue verband bestaan tussen gesinsmoord in Afrikaanssprekende gesinne en die onsekerheid a.g.v. politieke veranderinge. Die tragedie volg dikwels nadat ’n vrou dreig om haar man te verlaat en die verhouding te beëindig.

    Slagoffers en oorlewendes van gesinsmoorde ly dikwels aan lewenslange emosionele probleme wat besondere uitdagings skep wat geneeskundige en sielkundige rehabilitasie betref. Kinders wat ’n gesinsmoord oorleef, is meestal erg getroumatiseer en ly vir die res van hul lewe aan posttroumatiese stres en nagmerries (veral waar hul ma voor hulle vermoor is). Die grade van emosionele skade en skok wissel na gelang van die ouderdom van die kind.

    Agitasie

    Rustelose gedrag wat gepaardgaan met angs en opwinding. Dit kom voor by sommige geestesaandoenings soos maniese depressie, by vergryping aan middels soos dagga, amfetamien en alkohol, of by onttrekking van afhanklikheidsvormende stowwe soos morfien en bensodiasepiene.

    Agnosie

    Sigmund Freud (1856–1939) het die term die eerste keer in 1891 in kliniese neurologie gebruik. ’n Onvermoë om ’n sensoriese prikkel te herken in die afwesigheid van ’n letsel van die betrokke sensoriese orgaan, weens ’n breinletsel, beneweling deur ’n verdowingsmiddel soos alkohol, dagga of LSD, swakhoofdigheid of demensie. Die neurologiese letsel is dikwels die kortikale sensoriese

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1