Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Die A tot Z van Klassieke Musiek
Die A tot Z van Klassieke Musiek
Die A tot Z van Klassieke Musiek
Ebook824 pages11 hours

Die A tot Z van Klassieke Musiek

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Die A tot Z van klassieke musiek, 'n Gids met beknopte biografieë van belangrike komponiste en besprekings van hul belangrikste werk. Dit bevat ook die verhale van bekende operas en ballette en besprekings van simfonieë.
Kyk, Franz Liszt word dikwels onderskat: ‘n vertonerige virtuoos wat oppervlakkige musiek geskryf het bloot om sy pianistiese vernuf ten toon te stel. Koos Human sê so in sy Die A tot Z van klassieke musiek.
LanguageAfrikaans
Release dateDec 17, 2016
ISBN9780798173056
Die A tot Z van Klassieke Musiek
Author

Koos Human

Koos Human was maar in sy twintigerjare toe hy Human & Rousseau in 1959 saam met Leon Rousseau gestig het. Hierdie vernuwende jong uitgewery het baie gou ’n beduidende bydrae gelewer tot die bevordering van die boekebedryf in Suid-Afrika. Human & Rousseau is tot vandag toe, as deel van NB Uitgewers, een van ons voorste drukname. Human was meer as veertien jaar lid van die uitvoerende komitee van die voormalige Kaaplandse Raad vir die Uitvoerende Kunste en was ’n trustee van die Oude Meester-stigting vir die uitvoerende kunste (nou die Distell-stigting). Hy het verskeie reekse musiekprogramme oor die radio aangebied en sestien jaar lank ’n rubriek oor klassieke opnames vir Die Burger behartig. By die beëindiging daarvan het die kunsredakteur geskryf: “. . . hy het oor jare kennis, insig en liefde vir die onderwerp uitgedruk in leesbare, fynversorgde rubrieke wat getuig van sy woordgevoeligheid en sin vir humor.”

Related to Die A tot Z van Klassieke Musiek

Related ebooks

Related articles

Reviews for Die A tot Z van Klassieke Musiek

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Die A tot Z van Klassieke Musiek - Koos Human

    Koos Human

    Die A tot Z van

    Klassieke Musiek

    HUMAN & ROUSSEAU

    Die uitleg van teks in hierdie digitale uitgawe van Die A tot Z van Klassieke Musiek mag verskil van dié van die gedrukte uitgawe, afhangende van die instellings op u leestoestel. Die uitleg vertoon optimaal indien die standaardinstelling op u leestoestel gebruik word. Lesers kan egter eksperimenteer met die instellings vir verskillende perspektiewe.

    Vir J.T.H. en S.H.

    VOORAF

    Die bedoeling met hierdie boek is om aan die luisteraar inligting te verskaf oor die standaardwerke van die klassieke repertoire. Die woord klassiek word hier in sy alledaagse betekenis gebruik: werke in tradisionele vorms, gekomponeer deur erkende komponiste en deur die ingeligte publiek aanvaar as komposisies wat die toets van die tyd deurstaan het of vermoedelik sal deurstaan.

    In hierdie boek is alleen komponiste en hul werke opgeneem, en daarnaas die meer algemene terme (soos die aanwysings van tempo en dinamiek), begrippe (soos die verskillende komposisiestyle, rigtings, ens.) en die vernaamste instrumente. Geen uitvoerende kunstenaars, orkeste, operageselskappe of organisasies word behandel nie. Daar is enkele uitsonderinge: persone wat so ’n groot rol gespeel het dat daar herhaalde verwysings na hulle voorkom, bv. Von Bülow of Diaghilef. Dit is egter ’n handjievol.

    Ek moes ook ’n streep trek by die behandeling van ligte komponiste, bloot weens oorwegings van ruimte. Slegs werke van die twee algemeen aanvaarde meesters word bespreek: Johann Strauss II en George Gershwin. Albei hierdie komponiste se musiek word ook in die konsertsaal en die operahuis aangetref. Om egter die hele wêreld van die operette en die musical in te bring, sou prakties onhaalbaar wees, afgesien van die feit dat dit dan noodwendig sou moes lei tot die insluiting van ander manifestasies van ligte musiek, bv. die belangrike eksponente van jazz in al sy vorme, en ook volksmusiek.

    Die keuse van komponiste wat behandel word, bied ook baie probleme. Naas die welbekende name is daar ’n groot aantal grensgevalle. Hier het ek probeer om persoonlike voorkeure te neutraliseer deur die getal plaat- en ander opnames van individuele komposisies deur sulke grenskomponiste as maatstaf te gebruik. Ook hierdie maatstaf moet aan die werklikheid getoets word: Daar is komponiste van wie, danksy staat- of ander subsidies, uitermatig veel opnames beskikbaar is.

    Die besluite oor Suid-Afrikaanse komponiste was seker die moeilikste, maar ook hier het ek probeer om objektiewe maatstawwe te gebruik. Eerstens het ek probeer om ’n sin vir verhouding te handhaaf: al sal Suid-Afrikaanse komponiste hier voorkom wat moontlik nie in ’n soortgelyke buitelandse boek opgeneem sal word nie, moet mens tog sorg dra dat daar nie meer ruimte aan Suid-Afrika as bv. aan Frankryk of Italië gewy word nie. Tweedens het ek die algemeen aanvaarde status van bepaalde komponiste gekoppel aan objektiewe gegewens soos die gereeldheid waarmee hul musiek uitgevoer of uitgesaai word, die aantal kommersiële opnames wat beskikbaar is en die aandag wat in ander publikasies aan hulle gewy word. In hierdie verband was inligting van die SAUK en SAMRO besonder nuttig. Derdens wou ek vermy om patroniserend voor te kom – die komponiste in ’n internasionale boek soos dié behoort aanspraak te kan maak op ’n posisie in die geselskap waarin hulle verskyn.

    By die keuse van die komposisies wat behandel word, het ek ook objektiewe maatstawwe probeer aanlê, waarvan die belangrikste weer was die getal opnames van ’n werk. In sommige gevalle is die intrinsieke historiese belangrikheid van ’n komposisie ook in ag geneem. Die gemiddelde tydsduur van elke werk word verstrek, maar daar kan tussen verskillende uitvoerings variasies van tien persent en selfs meer wees. Die tydsduur van lang werke soos operas sluit geen pouses in nie. Komposisies word by elke komponis in die volgende orde behandel: orkeswerke, ander instrumentale musiek beginnende by die grootste ensemble tot by solowerke, vokale musiek en ten slotte operas. Binne elke groep word ’n streng alfabetiese orde gehandhaaf, behalwe die vorms soos simfonieë waar werke bloot genommer word, en daar word die numeriese volgorde gebruik. Die ouvertures van Beethoven word dus alfabeties volgens titel behandel, maar die simfonieë volgens nommer. Kruisverwysings word met ’n * aangedui.

    Oor die algemeen word die titels van komposisies in die oorspronklike taal aangegee met ’n vertaling daarby, behalwe in daardie gevalle (bv. van Russiese werke soos Skilderye op ’n uitstalling) waar dit skoolvossig sou wees om die leser met ’n totaal onbekende en onverstaanbare titel te konfronteer. Hier word die oorspronklike titel in die tweede plek verskaf.

    Ook by die terme moes noodwendig ’n keuse gemaak word en daar het ek my bepaal by dié wat in die teks self voorkom, d.w.s. dié wat gewoonlik gevind word in die komponis se aanwysings oor die uitvoering van sy musiek, of die benoeming van vorms, danse, ens.

    In enkele gevalle wyk ek af van spellings en terme wat dikwels in Afrikaans gebruik word. Waar ’n persoon self op die transkribering van sy naam besluit het, of die spelling daarvan uit eie beweging verander het, eerbiedig ek dit, bv. Stravinsky of Schoenberg. Ek gee ook voorkeur aan die woord concerto i.p.v. konsert, eerstens om verwarring te vermy en tweedens ter wille van die afleidings soos concertino, concerto grosso, ens. Ek gebruik ook beweging i.p.v. deel as onderdeel van ’n simfonie of dergelike uitgebreide werke. Dit is m.i. noukeuriger. Die Matteuspassie bestaan uit twee dele en in Afrikaans het ons nie die onderskeid wat Duits tref tussen Teil en Satz nie.

    Omdat die hele boek alfabeties is, is daar geen bladwyser nie. Daar is wel agterin ’n register van titels van komposisies, ’n lys name van karakters in operas of ballette en ’n uitspraaklys van ongewone name en woorde.

    Wat die bespreking van die werke betref: Ek het, op hoogstens ’n tiental na, elkeen van die meer as 700 komposisies waarna verwys word, gehoor, in werklike uitvoering of in opnames. Tydens die skryf van die boek het ek opnuut na die meeste geluister. Die boek probeer nie om revolusionêre herwaarderings van komponiste of hul werk te gee nie: dit verteenwoordig die gevestigde, aanvaarde oordele.

    Vir inligting het ek, naas die bladmusiek en partiture self, vrugbare gebruik gemaak van programme, waarvan ek die meeste bewaar het sedert ek in 1945 op dertienjarige leeftyd simfoniekonserte en opera-opvoerings begin bywoon het, asook van aantekeninge wat by plaatopnames gevind word, en boeke. ’n Bibliografie verskyn agterin.

    Ten slotte bedank ek graag almal wat my oor meer as drie jaar raad en aanmoediging gegee het. Ek wil die name uitsonder van mnr. Hans Büttner, op wie se wye kennis en nugtere oordeel ek altyd kon staatmaak, en dr. Hans Roosenschoon vir heelwat gespesialiseerde advies. Mnr. Paul Roos jr. van die Suid-Afrikaanse Musiekregte-organisasie het waardevolle besonderhede oor die uitvoering van Suid-Afrikaanse musiek verskaf, sonder om enige vertroulikheid te skend. Magda Herbst het die hele manuskrip ingetik en my vrou, Trewhella, het besondere bystand gegee.

    KOOS HUMAN

    A

    A cappella Onbegeleide koorsang, gewoonlik meerstemmig.

    Abstrakte musiek Formeel gestruktureerde musiek, nie *programmaties nie.

    Accelerando Al hoe vinniger.

    Adagietto Minder stadig as adagio.

    Adagio Stadig.

    ADAM, ADOLPHE (24 Jul 1803–3 Mei 1856) Franse komponis. Ten spyte van sy musikus-vader se skerp teenkanting, het hy ’n musiekloopbaan gevolg en in 1849 professor aan die Paryse Konservatorium geword. Hy is vandag hoofsaaklik bekend as komponis van die ballet Giselle en die operette Le postillon de Lonjumeau (Die voorryer van Lonjumeau).

    BALLET

    Giselle (77 min) Ballet in twee bedrywe. Bedryf I. Giselle (’n boeremeisie) en Albrecht (’n edelman) is op mekaar verlief. Giselle is onbewus van Albrecht se stand. Albrecht se verloofde, prinses Bathilde, is in ’n jagparty en daag by Giselle se huis op. Hilarion, die boswagter, verlief op Giselle, verklap Albrecht se geheim. Giselle sterf in waansin. Bedryf II. By Giselle se graf kom Hilarion te staan voor die Wilis, die geeste van jong vroue wat gesterf het voor hulle kon trou. Hulle dwing hom om tot die dood te dans. Daarna kom Albrecht en dieselfde eis word aan hom gestel. Giselle se gees verskyn uit die graf en dans in sy plek wanneer hy uitgeput raak. Met dagbreek is die Wilis se mag gebreek, maar Giselle moet ook na haar graf terugkeer.

    Ad libitum Soos die uitvoerder wil, wat betref tempo, weglating van ’n deel, ens.

    Affetuoso Met gevoel.

    Agitato Opgewonde, nerveus.

    Agnus Dei Lam van God, onderdeel van die *Mis.

    Air Wysie, lied, aria, vokaal en instrumentaal.

    Akoestiek Geluidsleer. Ook die kenmerk van ’n konsertsaal, operahuis e.d.m. wat die reproduksie van klank betref.

    Akkoord ’n Aantal tone wat gelyk gespeel word.

    Akkordeon Musiekinstrument met klawers en ’n bas (knoppies) wat op die blaasbalkbeginsel berus. Soms word die klawers ook deur knoppies vervang.

    ALBÉNIZ, ISAAC (29 Mei 1860–16 Jun 1909) Spaanse komponis. Hy was ’n wonderkind wat as sewejarige toegang tot die Paryse Konservatorium geweier is omdat hy te jonk was. Later het hy, danksy hulp van die Spaanse koning, klavierlesse by Liszt geneem. Hy het self onderrig in Barcelona en Madrid gegee, maar later na Parys verhuis waar hy o.a. met Debussy bevriend geraak het. Sy bekendste werk is die klavierreeks Iberia, waarvan enkele dele georkestreer is.

    ALBINONI,  TOMMASO (8 Jun 1671–17 Jan 1751) Venesiaanse komponis wat 48 operas gekomponeer het, maar vandag om sy instrumentale musiek bekend is. Die gewilde Adagio (7 min) vir orrel en strykers wat dikwels aan Albinoni toegeskryf word, is in 1958 deur Remo Giazotto gekomponeer, gegrond op ’n vermeende fragment van Albinoni.

    Allargando Geleidelik stadiger en harder.

    Allegretto Lig en opgewek, nie so vinnig as allegro nie.

    ALLEGRI, GREGORIO (1582–17 Feb 1652) Italiaanse komponis. Sy beroemdste werk is ’n negestemmige Miserere wat soos ’n kleinood in die Sixtynse kapel bewaar is en wat op straf van ekskommunikasie gekopieer sou word. Mozart as seun het dit gehoor en agterna uit herinnering neergeskryf.

    Allegro Vinnig.

    Allemande Duitse dans in tweeslagmaat en rustige tempo.

    Alt Die laagste vrouestem; ook ’n sleutel waar die C-noot op die derde streep van die notebalk verskyn.

    Altviool ’n Strykinstrument met vier snare in die vioolfamilie. Dit is iets groter as die viool met ’n register wat vyf tone laer lê as die viool, van C onder middel-C tot sowat drie oktawe hoër. Die instrument is ook effens groter as die viool. Vir tekening, sien Strykers.

    Amabile Liefdevol.

    Andante Wandelend; matige, rustige tempo.

    Andantino Verkleinwoord van andante; soms beteken dit stadiger, soms vinniger as andante.

    Anglaise Engels.

    Animato Skielik vinniger tempo.

    Anthem Ernstige, meestal gewyde Engelse koorwerk in die styl van ’n *motet of *kantate.

    Antifonaal Die styl van wisselsang tussen twee kore, hoofsaaklik in kerkmusiek.

    Appassionato Hartstogtelik, passievol.

    Arabesk Ligte, speelse komposisie. Ook geskryf Arabesque.

    ARENSKI, ANTON (12 Jul 1861–25 Feb 1906) Russiese komponis wat op 21 professor aan die Moskouse Konservatorium geword het. Hy is veral bekend om sy Klaviertrio in D min op 32.

    Aria Lang begeleide solostuk vir een stem in ’n opera, oratorium, passie, e.d.m., of ’n alleenstaande werk vir solostem met orkes (bv. Mozart se konsertarias) of ander begeleiding (bv. Handel se Deutsche Arien). Word ook t.o.v. instrumentale werk gebruik. Sien ook Air.

    Arietta Kort aria. Ook instrumentaal, bv. tema van die slotdeel van Beethoven se Klaviersonate op III.

    Arioso ’n Sangstuk wat ongeveer tussen die styl van die *resitatief en die *aria lê. Ook ’n kort, sangerige instrumentale werk.

    ARNE, MICHAEL (ong. 1740–14 Jan 1786) Engelse komponis. Seun van Thomas Arne, veral bekend om sy lied The lass with the delicate air.

    ARNE, THOMAS (12 Mrt 1710–5 Mrt 1778) Engelse komponis. Hy was een van die vooraanstaande komponiste van sy tyd en het talle operas, masques e.d.m. gekomponeer, asook bykomstige musiek tot dramas, o.m. sewe van Shakespeare. Die lied Rule Britannia kom uit een van sy masques.

    ARNOLD, MALCOLM (21 Okt 1921) Engelse komponis. Hy is ook ’n trompetspeler en het verskeie concerto’s vir blaasinstrumente geskryf.

    Arpeggio Die tone van ’n *akkoord word na mekaar gespeel, soos op ’n harp.

    Assai Baie.

    A tempo Op maat, gewoonlik ’n terugkeer tot die vaste tempo na ’n vinniger of stadiger passasie.

    Atonaliteit Die afwesigheid van ’n spesifieke toonaard, soos bv. C majeur, wat meebring dat die tone in ’n werk nie aan ’n sentrale toon gebonde is nie.

    Aubade Oggendlied; ’n komposisie (vokaal of instrumentaal) wat die oggend verheerlik.

    AUBER, DANIEL (29 Jan 1782–12 Mei 1871) Franse komponis wat ’n tyd lank in Engeland gewerk het. Sy bekendste opera was La muette de Portici (Die stom meisie van Portici) terwyl sommige van die ouvertures tot sy talle operas vandag nog gehoor word, o.m. Fra diavolo (Broer duiwel) en Le cheval de bronze (Die bronsperd).

    AURIC, GEORGES (15 Feb 1899–23 Jul 1983) Franse komponis. Hy het heelwat orkes-, instrumentale en vokale musiek geskryf. Sy bekendste komposisie is die wals vir die film Moulin rouge.

    Ave Maria Die begroeting van die engele aan Maria, waarvan die eerste woorde in Luk 1:28 verskyn. Getoonset deur talle komponiste. Die Latynse teks lui soos volg:

    Ave verum Motet van onbekende herkoms wat soms gesing word tydens die benediksie in die Rooms-Katolieke kerkdiens. Daar is toonsettings deur o.a. Mozart, Gounod en Elgar. Die Latynse teks lui soos volg:

    B

    Bacchanale Losbandige, orgiastiese dansmusiek, bv. in Samson et Dalila (*Saint-Saëns).

    BACH Een van die omvangrykste families in die musiekgeskiedenis, indien nie in alle kunste nie. Komende uit Turinge, was die musikale stamvader Hans Bach (geb. ong. 1520) en die familie het oor ’n tydperk van nagenoeg twee eeue in vyf geslagte 50 musici opgelewer, met as hoogtepunt Johann Sebastian. Na J.S. Bach se kinders het die musikale drif verdwyn en in die negentiende eeu vind mens nog net twee Bach-name van wie die laaste in 1845 oorlede is.

    BACH, CARL PHILIPP EMANUEL (8 Mrt 1714–14 Des 1788) Duitse komponis. Die tweede seun van J.S. Bach. Hy het sy opleiding aan die Thomasschule in Leipzig geniet en is daarna na die Universiteit van Frankfurt a.d. Oder. In 1738 is hy aangestel as klavesimbelis aan die hof van Frederik die Grote in Potsdam. Hy het egter nie goed met die vors oor die weg gekom nie; Frederik was ’n fluitspeler, maar temperamenteel, en hy en Bach kon nie oor die begeleidings saamstem nie. In 1767 het hy Telemann (sy peetvader) opgevolg as kerkmusiekdirekteur in Hamburg, ’n pos wat hy tot sy dood beklee het.

    C.P.E. Bach was ’n skitterende klavesimbelis en het ’n standaardwerk oor klawerspel geskryf wat o.a. deur Haydn en Mozart hoog aangeslaan is. As komponis van sowat 700 werke is hy ’n oorgangsfiguur tussen sy vader en Haydn; lg. was veel aan C.P.E. Bach verskuldig en het dit ook gesê. Vandag hoor mens hoofsaaklik sy instrumentale werk: simfonieë, concerto’s en solowerke; sy aansienlike hoeveelheid kerkmusiek is vrywel onbekend.

    BACH, JOHANN CHRISTIAN (5 Sept 1735–1 Jan 1782) Duitse komponis. Die jongste seun van J.S. Bach. Na sy vader se dood het hy musiekopleiding van C.P.E. Bach ontvang. In 1756 is hy na Milaan en neem hy op koste van ’n goedgesinde edelman verdere musiekles in Bologna. Hy word Rooms-Katoliek en word in 1760 orrelis van die Katedraal in Milaan. Twee jaar later gaan hy na Londen waar hy koningin Charlotte se Music Master of the Queen’s Household word, vandaar sy bynaam die Londense Bach. In Londen was hy besonder aktief op die terrein van die opera. Hy self het dertien gekomponeer, maar het ook operas van ander komponiste opgevoer. Daarbenewens is hy die komponis van heelwat simfonieë, concerto’s, sonates, kerkmusiek, kantates, e.d.m.

    BACH, JOHANN SEBASTIAN (21 Mrt 1685–28 Jul 1750) Duitse komponis. J.S. Bach was nie net die kulminasie van die luisterryke musiekfamilie Bach nie, maar een van die grootste komponiste van alle tye. Sy bydrae tot die musiekskat van die Weste is enorm, hoewel talle werke verlore geraak het, en sy invloed werk tot vandag toe na.

    Bach se ma is dood toe hy nege was, en sy pa ’n jaar later. Hy het by ’n ouer broer ingewoon. Daar het hy teen sy broer se opdrag saans by slegte lig musiek gekopieer, wat sy oë waarskynlik toe al beskadig het.

    In 1700 verlaat hy sy broer se huis en word ’n sopraan in die koor van die Michaelis-kerk in Lüneburg. In hierdie tyd ontstaan sy eerste bekende komposisies, variasies en koraalvoorspele vir orrel. In 1703 word hy violis in die kapel van die Hertog van Weimar, maar vier maande later kry hy ’n aanstelling as orrelis in Arnstadt, waar hy die orrel bemeester.

    In Oktober 1705 kry hy ’n maand verlof om te gaan luister na *Buxtehude in Lübeck, maar hy bly drie maande weg. By sy terugkeer is daar probleme met die kerkraad van Arnstadt wat beweer dat hy te ingewikkeld speel en dat sy vreemde tone en harmonieë die gemeente verwar. Sy posisie is pynlik, maar in 1707 kan hy wegkom wanneer hy in Mühlhausen tot orrelis benoem word. Dieselfde jaar trou hy met sy niggie Maria Barbara Bach, ’n sangeres. Ernstige kerklike geskille ontstaan egter ook hier, en in 1708 gaan hy na Weimar as hoforrelis en kamermusikus van die hertog.

    In 1716 sterf die kapelmeester van die hertog, maar tot sy teleurstelling kry Bach nie die pos nie. Sy roem as uitvoerende kunstenaar was reeds groot: in 1717 sou hy in Dresden ’n orrelspelkompetisie met die gevierde Franse virtuoos Marchand onderneem; nadat die Fransman Bach gehoor het, het hy stilletjies verdwyn en nie meegeding nie. In dieselfde jaar word hy egter oneervol in Weimar ontslaan en tree hy in diens van prins Leopold van Anhalt-Köthen. In Weimar het Bach ’n groot aantal belangrike komposisies gelewer, o.m. die *Passacaglia en fuga in C min, belangrike preludes en fugas en toccatas, die Orgelbüchlein en die eerste koraalvoorspele, wat Albert Schweitzer beskryf het as die woordeboek van Bach se musiektaal.

    Die hof van prins Leopold was streng gereformeerd en geen kerkmusiek is geduld nie. Hier ontstaan dus van Bach se belangrikste instrumentale werke, soos die 24 Inventione, die *Franse en *Engelse Suites, die *Brandenburg-concerto’s, boek I van *Das wohltemperierte Klavier, die *Chromatiese fantasie en fuga en die *Concerto vir twee viole.

    In 1720 sterf sy vrou en in 1721 trou hy met Anna Magdalena Wülken, ook ’n sangeres, aan wie hy sy Clavierbüchlein sou opdra.

    In 1722 raak die pos van kantor aan die Thomasschule in Leipzig vakant. Telemann word eenparig tot die pos benoem, maar wys dit van die hand. Die tweede keuse, C. Graupner, kan nie toestemming van sy landheer kry om die aanstelling te aanvaar nie en, soos ’n raadslid dit gestel het, aangesien die twee beste kandidate nie beskikbaar was nie, moes ’n middelmatige persoon geneem word. Dit was J.S. Bach.

    Die Thomasschule is in 1212 opgerig en was onder beheer van die stadsraad van Leipzig. Bach, ’n streng aanhanger van die Lutherse leer, moes aan vier klasse van 55 leerlinge sangonderrig gee. Hulle het die kore vir die kerke van Leipzig verskaf. Hier het Bach verreweg die meeste van sy kerkmusiek gekomponeer, o.m. die meerderheid kantates, die *Johannes- en *Matteuspassies, die *Weihnachtsoratorium en die *Mis in B min. Hy skryf ook hier groot instrumentale werke soos die *Goldberg-variasies en boek II van *Das wohltemperierte Klavier.

    Vanaf 1723 tot sy dood was Bach in Leipzig. Hy was ’n moeilike man en het dikwels met die owerhede gebots. Na talle petisies is hy aangestel as koninklike hofkomponis vir Augustus III, Keurvors van Sakse-Pole, wat sy situasie effens verstewig het. In 1730 word die onsimpatieke rektor van die Thomasschule opgevolg deur ’n musiekliefhebber, maar hy vertrek weer na vier jaar van goeie samewerking met Bach en word opgevolg deur die 27-jarige J.A. Ernesti, wat geen belangstelling in musiek het nie. Daar volg talle botsings, maar in 1738 kom die Keurvors met besoek en beslis in Bach se guns, wat verligting bring.

    Intussen het Bach se roem gegroei en dit bereik ’n hoogtepunt toe hy in 1747 sy seun C.P.E. Bach in Potsdam besoek en met groot eerbetoon deur Frederik die Grote ontvang word. Hy improviseer ’n sesstemmige fuga op ’n tema van Frederik en na sy terugkeer in Leipzig gebruik hy die tema as basis vir een van sy kontrapuntale meesterwerke, *Das musikalische Opfer, wat hy aan Frederik opdra.

    Aan die einde van sy lewe het Bach se oë ernstig verswak. Hy het twee operasies ondergaan, maar hulle het misluk en hy het heeltemal blind geword. Tien dae voor sy dood het hy sy gesig herwin, maar hy het ’n beroerte gekry en is op 28 Julie 1750 oorlede. Sy graf is nie deur ’n teken aangedui nie; daar is alleen later ’n plaket in die nabyheid aangebring. In 1894 is drie geraamtes gevind en ’n destyds gevierde anatomis het bevind dat een dié van Bach was.

    Bach het ’n moeilike lewe gehad. Afgesien van sy talle teleurstellings en botsings met verskillende owerhede was sy huislike lewe ook droewig. Sy eerste vrou, wat jonk gesterf het, het hom sewe kinders geskenk van wie drie vroeg dood is; uit sy tweede huwelik is dertien kinders gebore van wie sewe gesterf het, terwyl die oudste swaksinnig was. Hy het wel die vreugde van drie uiters begaafde seuns gehad en albei sy vroue was beminlike eggenotes.

    By sy dood was Bach eerder as virtuoos bekend dan as komponis. Hoewel musici soos Mozart en Beethoven sy werk geken en bewonder het, was dit eers ’n driekwarteeu na sy dood dat die jeugdige Felix Mendelssohn die Matteuspassie aan die vergetelheid ontruk en in die openbaar uitgevoer het, en Bach sodoende aan die breë publiek bekend gestel het.

    Bach het ’n ontsaglike hoeveelheid werke gelewer en was op feitlik elke terrein werksaam behalwe die teater. Hy het vorme soos die fuga vervolmaak, haas ongeëwenaarde hoogtepunte bereik in kerkmusiek en allerlei vorme in instrumentale musiek, van solo- tot orkeswerk, tot hoogtepunte gevoer wat in sy tyd ongekend was.

    ORKES

    Brandenburg-concerto’s BWV 1046-51 ’n Reeks van ses concerto’s in die styl van die *concerto grosso wat Bach in 1721 opgedra het aan die markgraaf Christian Ludwig van Brandenburg. Elke concerto is in die majeur-toonaard en in elkeen word aan enkele instrumente solorolle toegeken. Hierdie werke verteenwoordig die hoogtepunt van die concerto grosso-styl en het, na ’n lang tyd in die vergetelheid, die afgelope dekades gewild geword.

    No 1 in F (21 min) is die omvangrykste van die ses, met die grootste aantal soliste: viool, drie hobo’s, twee horings, en fagot plus die continuo wat in al ses ’n belangrike rol speel. Die werk bestaan ook uit vier bewegings, teenoor die ander vyf se drie. Die vierde is ’n uitgebreide menuet met twee trio’s en ’n polacca.

    No 2 in F (12 min) se soliste is trompet (wat ’n besondere prag aan die eerste en tweede bewegings verleen), fluit, hobo en viool. Die derde beweging is uiters moeilik vir die trompetspeler.

    No 3 in G (11 min) is vir drie viole, drie altviole, drie tjello’s en basviool. Dit is die kortste van die ses, maar een van die bekendstes.

    No 4 in G (17 min) is vir viool en twee fluite, met die viool as hoofsolis. Bach het dit verwerk as concerto vir klavesimbel en orkes in F.

    No 5 in D (23 min) is vir viool, fluit en klavesimbel, hier duidelik as solis en nie net as continuo nie. Dit is trouens ’n hoogtepunt in Bach se klawerbord-komposisies.

    No 6 in B-mol (19 min) is vir twee altviole, twee *viole de gamba, tjello en basviool. Die lae toon van die strykers gee ’n donker klank aan die werk.

    Das musikalische Opfer BWV 1079 (50 min) Hoewel Bach nie by al die dele van hierdie werk instrumente aangedui het nie, kan dit gevoeglik deur ’n strykorkes gespeel word. Die titel beteken Die musiekgeskenk en is gegrond op ’n tema wat Frederik die Grote in 1747 aan Bach gegee het toe hy die koning besoek het. Die werk bestaan uit nege kanons, een kanon-fuga, ’n uitgebreide trio-sonate in vier dele en ’n vorstelike ricercare. Hierdie ingewikkelde meesterwerk is een van die toppunte van kontrapuntale komposisie.

    Suites BWV 1066-9 Bach het vier suites (ook genoem ouvertures) vir orkes geskryf. Soos die Brandenburg-concerto’s het elkeen ook enkele soliste, maar hulle word suites genoem omdat elkeen bestaan uit ’n ouverture en ’n aantal danse. Oor die algemeen is die werke opgewek en dartel. Elkeen het die klavesimbel as continuo.

    No 1 in C (23 min) is vir twee hobo’s en fagot, en die danse is courante, gavotte (2), forlane, menuet (2), bourrée (2) en passe-pied (2).

    No 2 in B min (21 min) is vir fluit met as danse rondeau, sarabande, bourrée (2), polonaise, menuet en badinerie.

    No 3 in D (19 min) het ’n air, gavotte (2), bourrée en gigue. Die air het algemeen gewild geword en word soms die Wysie op die G-snaar genoem.

    No 4 in D (21 min) is vir drie trompette, drie hobo’s, fagot en pouke en die danse is bourrée (2), gavotte, menuet (2) en réjouissance.

    SOLO EN ORKES

    Klawerbordconcerto’s Bach het altesaam dertien concerto’s vir klawerbord en orkes gekomponeer: sewe vir solo, drie vir twee soliste, twee vir drie soliste en een vir vier. ’n Hele aantal hiervan is verwerkings van sy eie vroeëre komposisies of van dié van hoofsaaklik Vivaldi.

    Concerto no 1 in D min BWV 1052 (24 min) Dit is waarskynlik die bekendste van die reeks, hoewel dit gegrond is op ’n vioolconcerto (wat verlore is). Bach het baie moeite gedoen en die klavierbewerking drie keer hersien. Soos die ander concerto’s is die begeleiding net strykers. Die werk bestaan uit drie bewegings, ’n pragtige Allegro wat Bach ook later vir twee kerkkantates gebruik het, gevolg deur ’n Andante en weer ’n Allegro.

    Concerto no 5 in F min BWV 1056 (11 min) Ook ’n verwerking van ’n vioolconcerto met ’n aangrypende stadige middeldeel, Largo, ’n verwerking van die ouverture tot die kantate Ich steh’ mit einem Fuss im Grabe (Ek staan met een voet in die graf).

    Concerto vir twee klavesimbels in C BWV 1061 (19 min) Dit is ’n oorspronklike werk, maar die stryker-ensemble is so yl dat dit na ’n nagedagte klink. Die slotdeel is ’n fuga.

    Vioolconcerto’s Vir die viool het Bach drie meesterwerke geskryf: twee vir solo en een vir twee viole. Die viool was een van sy eie instrumente: sy eerste aanstelling was as violis. Hy was ’n groot bewonderaar van Vivaldi en in sy Weimar-periode (1708-17) het hy ’n grondige studie van dié Italiaanse meester gemaak en tien van sy vioolconcerto’s vir die klawerbord verwerk. In sy eie drie concerto’s vir viool (al drie uit 1720) het hy die Italiaanse tegniese vorm vervolmaak, maar met ’n diepsinnigheid wat sy werk by dié van die Italiaanse meesters laat verbystreef.

    Dit is opvallend van Bach se erns dat in albei concerto’s vir soloviool die stadige beweging besonder lank is. In die Concerto no 1 in A min BWV 1041 (17 min) is die Andante bykans so lank soos die ander twee saam; en in die Concerto no 2 in E BWV 1042 (17 min) is die Adagio iets korter as die eerste Allegro en bykans drie maal die lengte van die slotbeweging.

    Concerto vir twee viole in D min BWV 1043 (17 min) Soos die twee hierbo genoemde concerto’s is ook die dubbel-concerto net met strykorkes. Dit is ’n meesterstuk van asembenemende skoonheid. Hoewel geen outentieke tempo-aanwysing vir die eerste beweging bestaan nie, word dit altyd lewendig uitgevoer. Die stadige beweging, ’n elegiese Andante, is pragtig en meevoerend en is bykans so lank soos die eerste en laaste (Allegro) bewegings saam.

    KLAWERBORDSOLO

    Met sy werke vir solo-instrumente, meer nog as met sy orkeswerke, het Bach gesorg vir ontsagwekkende innovasies, venuwings en vervolmakings.

    Chromatiese fantasie en fuga in D min BWV 903 (12 min) ’n Werk van unieke oorspronklikheid wat sy tyd ver vooruit is in die gewaagdheid van sy vrye vorm en die absolute beheersing van die fugavorm. Die fantasie veral, in sy vrye vlug van chromatiek en fantasering, is al in die sfeer van latere meesters, van Mozart tot Liszt en Wagner. Dit is ’n mylpaal in die ontwikkeling van klawerbordmusiek.

    Engelse suites BWV 806-811 Hierdie ses suites is nie deur Bach self Engels genoem nie. Hulle volg al ses ’n betreklik streng bou met slegs geringe onderlinge afwykings van die verskillende danse en is oor die algemeen ernstig, selfs somber van aard.

    Franse suites BWV 812-7 Die ses Franse suites is ook nie deur Bach so genoem nie. Hulle is korter en eenvoudiger as die Engelse suites en het ’n sekere Franse lighartigheid; sommige kritici bespeur die invloed van Couperin. Ook hulle volg ’n taamlik presiese patroon met die opeenvolging van die danse.

    Italiaanse concerto in F BWV 971 (12 min) In hierdie driedelige werk voer Bach die Vivaldi-styl tot sy hoogtepunt. Dit is ’n solowerk waarin die manipulasie van die instrument sowel orkes as solis suggereer. Hy bring ’n nuwe rykdom tot ’n konvensionele vorm.

    Partitas BWV 825-30 Bach het die terme partita en suite sonder onderskeiding gebruik. Hierdie ses partitas vir klawerbord is eintlik ook suites. Elk bestaan uit ’n reeks danse, telkens voorafgegaan deur ’n inleidende deel. Die ses partitas oorskadu Bach se ander klawerbord-suites totaal. Dit is sy laaste woord oor die onderwerp vir klawerbord. Die inleidende deel tot elk van die ses partitas is telkens ’n meesterwerk in ’n ander vrye vorm. Dit is een van die slegs sewe werke wat in Bach se eie leeftyd gepubliseer is: in 1731, op die komponis se eie koste. Ironies genoeg is hulle as oefeninge vir sy leerlinge bedoel en vorm die eerste deel van die Clavierübung. Dat Bach dit laat uitgee het, toon wel watter waarde hy self daaraan geheg het.

    Die Kunst der Fuge BWV 1080 (92 min) Dit is Bach se laaste groot werk en is nie heeltemal voltooi nie. Dit verteenwoordig sy slotwoord oor die fuga. Hy het dit nie vir enige spesifieke instrument gekomponeer nie, dus kan dit op ’n klawerinstrument, orrel of deur ’n strykkwartet uitgevoer word. Die werk is lank bloot as ’n pedagogiese handleiding beskou, maar latere geslagte het ontdek watter vormverfynings Bach hier aan musikale skoonheid gekoppel het. Bach was van plan om vyftien fugas en wie weet hoeveel kanons in te sluit; hy het slegs dertien voltooi (insluitend dubbel-, tripel- en omgekeerde fugas) en is dood terwyl hy besig was met die veertiende, ’n omgekeerde vierstemmige fuga gebaseer op sy eie naam (in Duits beteken H die noot B).

    Goldberg-variasies BWV 988 (48 min) ’n Stel van dertig variasies op ’n sarabande uit die Clavierbüchlein vir Anna Magdalena. Die werk is volgens oorlewering geskryf in opdrag van een van Bach se leerlinge, Goldberg, maar dit is waarskynlik apokrief.

    Das wohltemperierte Klavier, boeke I en II, BWV 846-93 (225 min) Hans von Bülow het hierdie werk die Ou Testament (en Beethoven se 32 klaviersonates die Nuwe Testament) van die klavier genoem. Bach het dit geskryf om te toon dat ’n nuwe metode wat so pas in swang gekom het om die klawerbord te stem, prakties is en daarom het hy vir elkeen van die toonsoorte, in majeur en mineur, ’n prelude en fuga geskryf. Saam vorm dit een van die hoogtepunte nie net in sy eie oeuvre nie, maar in alle klawerbordmusiek, veral in kontrapuntale skryfwyse. Soos gewoonlik het pedagogiese oorwegings ’n rol gespeel; die titelblad van die eerste uitgawe sê dat dit tot nut en gebruik van die leergierige musikale jeug en tot genot van diegene wat reeds die kuns bemeester het, opgestel en vervaardig is. Mozart het ’n aantal van hulle vir strykkwartet geïnstrumenteer en Beethoven het hulle gereeld gespeel. Schumann het dit die daaglikse brood van die klavierstudent genoem. Hul invloed op die musiekontwikkeling is onmeetbaar.

    TJELLOSOLO

    Tjello-suites BWV 1007-12 Die ses suites vir onbegeleide tjello toon Bach se meesterskap oor die instrument. Hy gee daaraan ’n resonans wat soms aan sy orrelmusiek laat dink. Hierdie suites bied die grootste denkbare uitdaging aan die tjellis. Tog het hulle, soos soveel ander werke van Bach, lê en stof vergaar. Hulle is eintlik eers in die huidige eeu ontdek en onder die openbare aandag gebring deur die onvermoeide ywer van Pablo Casals.

    VIOOLSOLO

    Vioolsonates en -partitas BWV 1001-6 Die ongelyke nommers is sonates met die gebruiklike tempo-aanduidings en die gelyke nommers is partitas, of suites, bestaande uit versamelings danse. Al ses is vir onbegeleide viool. Ook hier, soos in die tjello-suites, openbaar Bach sy volslae meesterskap van en beheer oor die instrument. Beroemd is veral die magistrale chaconne uit no 4, ’n werk wat al verskeie kere herinstrumenteer is, o.m. deur Brahms (linkerhand-klavier), Busoni (klavier) en Stokowski (orkes).

    ORRELSOLO

    Dit was as orrelis dat Bach se eietydse roem gevestig was en hy het ’n enorme hoeveelheid werke vir dié instrument gekomponeer: dit is byna onoorsigtelik, maar as voorbeeld kan genoem word dat band 3 van die Clavierübung 17 sg. kategismus-voorspele bevat; daarnaas bevat diverse ander versamelings 67 koraalvoorspele en die Orgelbüchlein 46 koraalvoorspele.

    Hierbenewens is daar ook formele werke. Die bekendste orrelwerke by die breër publiek is die Passacaglia en fuga in C min BWV 582 (14 min) waarin Bach aan dié statige dansvorm ’n onthutsend dramatiese inhoud gee, beginnende in die laagste register en opbouend tot ’n oorweldigende klimaks, gevolg deur een van sy beste fugas.

    ’n Ander indrukwekkende kontrapuntale werk is die Fantasie en fuga in G min BWV 542 (12 min), waarvan die fantasie Beethoven se dramatiese kuns in die vooruitsig stel, en die bykans speelse fuga die spanning van die fantasie verlig; die dartele klein Fuga in G min BWV 578 (4 min), so genoem in teenstelling tot die pas genoemde groot fuga in G min; die dromerige Prelude en fuga in A min BWV 543 (11 min) en die buitengewoon gewilde en opwindende Toccata en fuga in D min BWV 542 (10 min).

    VOKAAL

    Bach het min kort liedere geskryf en Bist du bei mir (As jy by my is), lank aan hom toegeskryf, is eintlik deur ’n tydgenoot, Stölzel. Hy het egter ’n aantal groots opgesette werke, meestal van kerklike aard, gekomponeer, waarmee hy weer eens in byna elke geval ’n bepaalde vorm vervolmaak het. Bach het 295 kerkkantates gekomponeer, waarvan 93 verlore geraak het, en 26 wêreldlike kantates. Dit is onmoontlik om hulle te behandel, maar die Afrikaanse luisteraar sal dikwels bekende psalm- of gesangmelodieë herken. Hiernaas het Bach ’n aantal omvangryke religieuse vokale werke nagelaat.

    Passies Bach het volgens ’n vroeë lys komposisies vyf *passies geskryf, maar net die Johannes- en Matteuspassie het bewaar gebly. Die fragmente uit ’n sg. Lukaspassie word nie as eg aanvaar nie.

    Johannespassie BWV 245 (125 min) Hierdie werk is ses jaar voor die Matteuspassie geskryf. Dit is dramaties, in teenstelling tot die meer liriese aard van die ander passie. Hoogtepunte is die openings- en slotkoor (Herr, unser Herrscher – Heer, ons Heerser en Ruht wohl, ihr heilige Gebeine – Rus soet, o heilige gebeente). Hiernaas is daar verskeie solistiese dele soos Ich folge dir gleichfalls (Ek volg u ook – sop), Ach mein Sinn (Ag my gees – ten), Betrachte meine Seel’ (Bedink, my siel – bas) en Es ist vollbracht (Dit is volbring – alt).

    Matteuspassie BWV 244 (204 min) Hierdie passie vir dubbelkoor, vier soliste en evangelis is meer liries en melodieus as die dramatiese Johannespassie en gryp die luisteraar van die begin af aan met sy dubbelkoor Kommet ihr Töchter (Kom, o dogters) tot by die ewe meevoerende slotkoor Wir setzen uns mit Tränen nieder (Ons gaan sit in trane). Bekende arias uit die passie is Buss und Reu (Boete en rou – alt), Blute nur, du liebes Herz (Bloei nou, geliefde hart – sop), Ich will bei meinem Jesu wachen (Ek wil by my Jesus waak – ten), Erbarme dich, mein Gott (Ontferm u, my God – alt met viool-obligaat) en Aus Liebe will mein Heiland sterben (Uit liefde sal my Heiland sterf – sop).

    *Magnificat BWV 242 (31 min) Hierdie werk, bedoel vir uitvoering op Kersfees, is ’n toonsetting van die Latynse teks van die Lofsang van Maria soos dit staan in Luk 1:46-55. Die besetting is vir vyf soliste (twee soprane, alt, tenoor en bas) met koor en orkes. Soos mens kan verwag, is dit jubelende musiek wat die vermoëns van die orkes (veral ’n instrument soos die trompet) en die menslike stem in solo en koor tot die uiterste benut. Die Magnificat bestaan uit twaalf dele waarvan vyf vir solosangers is, twee duo’s en een ’n trio. Daar is vyf indrukwekkende koordele, en die koor steun ook soms die solostem.

    Mis in B min BWV 232 (110 min) Vir baie musiekliefhebbers is dit Bach se grootste werk. Die Mis het tussen 1733 en 1738 ontstaan en Bach het ’n deel daarvan saam met ’n aansoek om ’n pos aan Augustus III van Sakse gestuur as ’n onbenullige voorbeeld van my vernuf. Die werk (ook bekend as die Hohe Messe) volg die liturgiese patroon van die Roomse *Mis, maar elk van die tradisionele vyf dele van die Mis is hier saamgestel uit ’n verskeidenheid onderdele soos arias, duo’s en kore. I. Kyrie Die twee kyrie’s is fugas vir die koor en die Christe eleison is ’n duo vir sopraan en alt, begelei deur die viole wat eenstemmig speel. II. Gloria Dit is in agt seksies verdeel. Sowel die begin- (Gloria) as die slotkoor (Cum sancto spiritu) eindig met ’n fuga, die twee middelkore (Gratias agimus en Qui tollis) is in skerp kontras met mekaar. Tussendeur is die solistiese dele ook presies uitgewerk: Laudamus te is vir alt met ’n soloviool, Dominus Deus is ’n duo vir sopraan en tenoor met ’n solofluit, Qui sedes is vir alt met solohobo en Quoniam vir bas met solohoring en fagotte. Dit is ’n meesterlike voorbeeld van Bach se argitektoniese konstruksie en indien moontlik word dit nog beter gedemonstreer in III. Credo waarvan die eerste en laaste koordele, Credo en Confiteor, gebaseer is op ou Gregoriaanse melodieë, terwyl drie kore die middeldeel vorm (Et incarnatus, Crucifixus en Et resurrexit). Die Crucifixus is ’n manjifieke *passacaglia. Et in unum Deum is vir sopraan en alt, Et in Spiritum sanctum ’n basaria begelei deur twee hobo’s. Heel aan die einde (Et expecto) word die Gregoriaanse melodieë weer gebruik. IV. Sanctus ’n Sesstemmige koor tree hier op met een solistiese bydrae deur die tenoor (Benedictus). V. Agnus Dei Dit is vir die altsolo, begelei deur strykers. Die koor sluit af met die versugting Dona nobis pacem.

    Weihnachtsoratorium BWV 248 (Kersoratorium) (140 min) Dit is geen oratorium in die ware sin van die woord nie, maar bestaan uit ses kantates wat Bach in 1734 vir die ses feesdae van Kerstyd geskryf het, nl. vir Kersdag en die twee dae daarna, Nuwejaar, die Sondag ná Nuwejaar en Epifanias, die fees van Christus se verskyning (6 Januarie). Dit is dus nie ’n eenheidswerk soos die ander kerklike werke nie en effens ongelyk van gehalte. Die bekendste uittreksel is die sg. Pastorale, die pragtige orkesinleiding tot die tweede kantate.

    BACH, WILHELM FRIEDEMANN (22 Nov 1710–1 Jul 1784) Die tweede kind en oudste seun van J.S. en Maria Barbara Bach. Hy is die derde van die drie seuns wat onthou word, maar verreweg die mins belangrike. Wispelturig en ongedurig van geaardheid, het hy kort-kort van werk verander en in sy laaste twintig lewensjare eintlik geen vaste betrekking gehad nie. Hy het heelwat kerkmusiek asook ’n aansienlike hoeveelheid instrumentale musiek gekomponeer.

    BADINGS, HENDRIK (17 Jan 1907–26 Jun 1987) Nederlandse komponis. Henk Badings is as myningenieur opgelei maar het komposisielesse ontvang van Willem *Pijper. Hy het kamermusiek, verskeie simfonieë en concerto’s geskryf en is in Suid-Afrika veral bekend as komponis van die radiofoniese opera Asterion op ’n teks van N.P. van Wyk Louw wat in 1957-58 in opdrag van die SAUK geskryf is.

    Bagatelle Kort instrumentale werk in vrye vorm.

    BALAKIREF, MILY (2 Jan 1837–29 Mei 1910) Russiese komponis wat veral deur sy invloed op andere ’n toonaangewende rol in die geskiedenis van Russiese musiek gespeel het. Hy was die leier van ’n groep komponiste wat Borodin, Moessorgski en Rimski-Korsakof ingesluit het, en hy het selfs op Tsjaikofski ’n sekere invloed gehad. Hy het orkeswerke, klavierwerke en ’n groot aantal liedere gekomponeer. Sy bekendste werk is die klavierstuk Islamey, wat ook soms in orkesverwerking gehoor word.

    Balalaika Russiese tokkelinstrument met driehoekige romp.

    Ballade In die Middeleeue en later was die ballade ’n dansliedjie. In die negentiende eeu is dit ’n sangstuk (lied of operaaria) met as teks ’n verhalende gedig. Schubert en Loewe het talle ballades gekomponeer. Terselfdertyd het instrumentale komponiste die woord gebruik vir ’n korterige werk met ’n sekere dramatiese en emosionele karakter (Chopin en Brahms).

    Ballet ’n Verhoogwerk waarin, met musiekbegeleiding, ’n verhaal of bloot ’n bepaalde sfeer deur dansers voorgestel word. Slegs in uitsonderlike gevalle word daar gesing; die handeling bestaan uitsluitlik uit dans en mimiek. Die ballet dateer uit die sewentiende eeu. Russiese komponiste is sterk op die voorgrond soos Tsjaikofski en in die twintigste eeu Prokofiëf, Sjostakowitsj en bowenal Stravinsky wat saam met *Diaghilef en sy Ballets Russes die ballet ingrypend hervorm het. In New York het George Balanchine die abstrakte ballet vervolmaak en ballette geskryf op alle denkbare musiekwerke. Soms vorm ’n ballet ’n onderdeel van ’n opera, soos in Faust (*Gounod).

    Banjo ’n Kitaaragtige snaarinstrument met ’n lang nek en ’n tamboerynagtige romp wat met vel oorgetrek is. Dit het veral deur gebruik deur swart Amerikaanse musikante bekend geraak.

    BARBER, SAMUEL (9 Mrt 1910–23 Jan 1981) Amerikaanse komponis. Hy het sy opleiding in Philadelphia ontvang. Sy werke word deur ’n liriese toon gekenmerk en hy kan as ’n moderne romantiese komponis beskou word. Barber was een van die belangrikste Amerikaanse komponiste en het musiek in ’n groot aantal vorme en vir ’n hele spektrum van vertolkers geskryf. Hy is veral beroemd om sy Adagio vir strykorkes, die opera Vanessa en Knoxville: Summer of 1915, ’n lang, stemmingsvolle werk vir sopraan en orkes.

    Barcarolle Bootlied; kort musiekwerk, instrumentaal of vokaal, wat die glyende gang van ’n roeiboot suggereer.

    Bariton Lae manstem, tussen *tenoor en *bas.

    Barok Musiek gekomponeer ruweg tussen 1600 en 1750. Die term is ontleen aan die argitektuur, waar dit ingewikkelde, versierde bouwerke, dikwels in bedenklike smaak, beskryf. In musiek verteenwoordig die barok die tyd toe kontrapuntale skryfwyse tot sy hoogtepunt gevoer is en die orkes meer gekompliseerd geword het. Hoogtepunte van die barok is Vivaldi, J.S. Bach en Handel.

    BARTÓK, BÉLA (25 Mrt 1881–26 Sept 1945) Hongaarse komponis. Bartók het aan die Koninklike Musiekakademie van Boedapest gestudeer en vroeg besef dat daar ’n skat aan Hongaarse volksmusiek bestaan. Saam met *Kodály het hy hierdie musiek begin versamel en ’n groot deel van sy lewe aan die taak gewy. In 1907 het hy professor geword. In 1927 is sy opera Hertog Bloubaard se kasteel opgevoer en is sy naam as komponis in sy geboorteland gevestig. Hy het ook gaandeweg internasionale bekendheid verkry en verskillende konsertreise deur Europa en Amerika onderneem.

    Die opkoms van Nazi-Duitsland het Bartók met onrus vervul, en reeds in 1938 het hy begin om sy manuskripte uit Hongarye te verwyder. In 1940 het sy weersin in die nazifikasie van Hongarye hom genoop om sy vaderland te verlaat en in die VSA te gaan woon. Hy is goed ontvang en is, naas ’n eregraad, ook ’n tydelike pos in volksmusieknavorsing aan die Columbia-universiteit gegee. Dit het egter net tot 1942 geduur. Daarna het Bartók se posisie agteruitgegaan. Hy het geen ander aanstelling gekry nie, sy gesondheid het verswak sodat hy nie klavieruitvoerings kon gee nie en sy inkomste uit outeursregte was karig. Sy laaste jare is in armoede en vereensaming geslyt.

    Bartók is een van die belangrikste twintigste-eeuse komponiste, maar sy musiek is, soos Schoenberg en Hindemith, minder toeganklik vir ’n breë publiek as bv. Stravinsky of Prokofiëf. Dit word daarom ook minder gehoor en daar bestaan minder opnames van.

    ORKES

    Concerto vir orkes (36 min) Hierdie werk, sonder opusnommer, is in 1944 die eerste keer uitgevoer. Bartók het dit ’n concerto vir orkes genoem omdat hy probeer het om groepe instrumente solisties te gebruik. Die werk bestaan uit vyf dele, ’n Inleiding, ’n Allegro scherzando, ’n Elegie (Andante non troppo), ’n Intermezzo (Allegretto) en ten slotte ’n Presto. Die laaste deel is sterk Hongaars gekleur.

    Danssuite (16 min) ’n Vyfdelige orkessuite waarvan die dele nie dansname het nie, maar tempo-aanwysings: Allegro vivace, Poco adagio, Presto moderato en Molto vivace. Die suite, ook sonder opusnommer, is in 1923 gekomponeer vir die vyftigste herdenking van die vereniging van die stede Boeda en Pest. Dit is een van Bartók se gewildste werke.

    SOLO EN ORKES

    Klavierconcerto’s Bartók het drie klavierconcerto’s geskryf, onderskeidelik in 1926, 1931 en 1945. Die Concerto no 3 (24 min) is waarskynlik die bekendste en is trouens Bartók se laaste werk. Sy leerling Serly moes die laaste sewentien mate aan die hand van sketse voltooi. Dit sou oorspronklik vir twee klaviere gekomponeer wees, maar Bartók het van plan verander. Die werk bestaan uit drie dele: ’n opgewekte eerste deel in sonatevorm, ’n Adagio religioso, gebou op ’n koraalmelodie, en ’n rondo, Allegro vivace, met ’n besonderse metrum.

    KAMERMUSIEK

    Strykkwartette Bartók het ses strykkwartette gekomponeer, die eerste in 1908 en die laaste in 1939. Net die eerste twee het opusnommers (7 en 17). Hierdie ses kwartette weerspieël Bartók se ontwikkelingsgang as komponis en is van die belangrikste kamermusiek wat in die twintigste eeu gekomponeer is.

    KLAVIER

    Mikrokosmos Bartók se omvangrykste klavierwerk. Soos Bach met soveel klawerbordmusiek, bied Bartók ook hier basiese oefenstukke vir die klavierleerling. Hulle word geleidelik ingewikkelder. Die Mikrokosmos bestaan uit 153 afsonderlike stukke, verdeel in ses bande.

    OPERA

    Hertog Bloubaard se kasteel (A kékszakállú herceg vára) (60 min) Opera in een bedryf. Daar is slegs twee karakters: Bloubaard, die legendariese vroue-moordenaar (bas of bar), en Judith, sy jongste bruid (mezzo). Bloubaard lei Judith deur verskillende deure wat haar uiteindelike lot suggereer en ten spyte van sy sinspelings stap sy tog deur die sewende en laaste deur, wat agter haar toegaan.

    Bas Die laagste manstem. Daar is verskillende soorte basse, bv. basso profundo (besonder diep en waardig) en basso buffo (ligter en meer geskik vir komiese rolle). In Frans word ’n basse chantante onderskei wat bietjie hoër lê as die profundo, maar nie heeltemal ’n bariton is nie.

    Basso continuo Sien Continuo.

    Basso ostinato ’n Kort tema wat gereeld in die basparty herhaal word, soos bv. in ’n passacaglia.

    Basviool Ook kontrabas genoem. Dit is die grootste en donkerste instrument in die vioolfamilie, het vier snare en word met ’n strykstok bespeel. Die register strek ongeveer drie oktawe van G net onder die bas-notebalk. Vir tekening, sien Strykers.

    BAX, ARNOLD (8 Nov 1883–3 Okt 1953) Engelse komponis. Hy het aan die Royal Academy of Music gestudeer en het in 1942 Master of the King’s Musick geword, d.w.s. die Britse hofkomponis wat musiek vir amptelike geleenthede moet komponeer. Bax het ’n groot hoeveelheid orkes-, kamermusiek- en klavierwerke geskryf.

    BEETHOVEN, LUDWIG VAN (16 Des 1770–26 Mrt 1827) Duitse komponis. Beethoven se pa en oupa (’n emigrant uit Vlaandere, vandaar die van) was albei in diens van die Keurvors-aartsbiskop van Bonn, die oupa as kapelmeester en die pa as tenoor. Die pa, Johann, was die enigste oorlewende kind van die oupa Louis van Beethoven. Johann van Beethoven was getroud met Maria Magdalena Keverich en hulle het sewe kinders gehad van wie vier gesterf het. Die oudste oorlewende kind was Ludwig. Johann was ’n drinker, onbetroubaar en humeurig, en hy het die jong Ludwig se jeug verswaar, maar sy vrou was sagsinnig en ingetoë. Na haar dood het Ludwig aan ’n vriend geskryf dat sy moeder sy beste vriendin was.

    Beethoven het reeds op vroeë leeftyd ’n buitengewone musiektalent geopenbaar en sy pa het probeer om ’n tweede Mozart van hom te maak deur hom as wonderkind te paradeer. Op sewejarige leeftyd het die seun sy eerste konsert gehou. Gelukkig is die dwingelandy, wat dikwels gevolg het op laat aande in die kroeg, nie volgehou nie. Ten spyte van sy pa se ambisieuse planne het die jong Beethoven by onbevoegde onderwysers musiekles gekry en is sy algemene opvoeding totaal verwaarloos.

    Eers toe hy elf word, kry hy sy eerste behoorlike onderrig by Neefe, die hoforrelis in Bonn. Neefe het hom Bach, Haydn en Mozart laat bestudeer. Later in sy lewe sou Beethoven sy adellike Weense gehore verstom met sy vermoë om al 48 preludes en fugas uit Bach se *Das wohltemperierte Klavier van buite te kan speel. Op veertienjarige leeftyd het Neefe hom die aanstelling besorg as assistent-hoforrelis van die orkes in die hofteater.

    In 1787 gaan Beethoven na Wenen met die hoop om by Mozart les te kry. Die getuienis is gering, maar waarskynlik het Mozart hom ’n paar lesse gegee. Wat egter wel gedokumenteer is, is dat Mozart, nadat hy Beethoven die eerste keer ontmoet en na hom geluister het, aan omstanders gesê het: Let op na hom – hy sal nog die wêreld aan die praat sit. Beethoven se eerste verblyf in Wenen was egter van korte duur – sy ma het ernstig siek geword en gesterf. Sy pa se hele situasie het a.g.v. drankmisbruik versleg en hy is eindelik ontslaan. Beethoven was op agtienjarige leeftyd prakties hoof van die huishouding. Ten spyte van sy haglike huislike omstandighede en sy eie gebrek aan ’n behoorlike opvoeding en agtergrond, was hy reeds in dié stadium bekend en het bevriend geraak met belangrike mense in hoë kringe wat hom hul lewe lank geldelik en andersins sou steun, soos graaf Waldstein, die gesin Von Breuning en die violis Franz Ries.

    In 1788 word Beethoven aangestel as altviolis in die teaterorkes (naas sy posisie as assistent-orrelis) en maak hy kennis met die belangrikste operas van daardie jare: werke van Gluck, Mozart, Cimarosa, Pergolesi e.a. Hy besluit egter in November 1791 om weer na Wenen te gaan. Die volgende maand sterf sy pa. Graaf Waldstein het hom bekendstellingsbriewe aan vername families in Wenen gegee en so het hy vroeg reeds in aanraking gekom met huise soos Lobkowitz, Van Swieten en Kinsky. In dié mense se salons het hy gereeld klavier gespeel en prins Karl Lichnowsky het hom twee jaar lank onderdak gegee.

    Beethoven het na Wenen teruggekeer met die doel om verder te studeer. Aanvanklik het hy les by Haydn geneem, maar dit het nie gedeug nie. Vir sy ongeduldige temperament was Haydn te stadig en agtelosig. Hy is dus na Albrechtsberger, ’n kenner van kontrapunt, en die teoretikus Schenk. By Salieri het Beethoven jare lank les geneem.

    Beethoven was die eerste komponis wat feitlik van die begin af onafhanklik probeer wees het. Mozart het die laaste deel van sy lewe geen direkte patronaat gehad nie, maar Beethoven was van die begin af sonder enige posisie, hoewel hy gul steun uit hoë kringe ontvang het. Hy was verbitterd oor sy vermoënde vriende wat deur afkoms en stand ’n kommervrye bestaan kon voer terwyl hy, met sy genialiteit, moes sukkel om aan die lewe te bly, en van gunste en gawes afhanklik moes wees.

    Hy het egter verdienste gehad uit sy klavieruitvoerings, weliswaar hoofsaaklik in die salons van die hoëlui. Hy het sy debuut as pianis in Wenen reeds in 1795 gemaak en is volgens eietydse getuienis beskou as een van die grootste uitvoerende kunstenaars van sy tyd. Verder het hy ’n inkomste gehad as leermeester, veral van kinders van vooraanstaande mense, en ook uit sy komposisies, waarvoor hy altyd hoë pryse beding het. Later in sy lewe het hy ’n jaargeld ontvang wat geborg is deur o.a. aartshertog Rudolf, Lichnowsky, Lobkowitz en Kinsky.

    In 1796, toe hy 26 was, ontdek Beethoven die eerste tekens van doofheid, seker die ergste ramp wat ’n musikus kan tref. Hy het die tekens probeer wegsteek, geselskap vermy en nog meer swaarmoedig en misantropies geword. Intussen is allerlei rate beproef. In 1802, toe dit duidelik word dat niks gaan help nie, vertrek hy vir ’n kort besoek aan Heiligenstadt, ’n dorpie buite Wenen. Daar skryf hy ’n brief aan sy twee broers, Caspar en Johann. Dit is ’n aangrypende dokument van persoonlike smart en verwildering en wanhoop; dit klink na die somber woorde van iemand wat afskeid neem van die lewe, vandaar dat die brief bekend staan as die Heiligenstadt-testament.

    Hierdie tragiese situasie, wat seker sonder weerga in die geskiedenis is, het gelei tot ’n ewe weergalose sublimiteit van reaksie, soos William McNaught dit gestel het. Van nou af kom (sonder om die vroeër komposisies gering te skat) die groot werke wat die verbeelding van die mensdom sou aangryp, waarvan een van die eerstes die *Simfonie no 3 (Eroica) was.

    Beethoven het die res van sy lewe in Wenen deurgebring, maar baie dikwels na die platteland uitgewyk, soos na Heiligenstadt, waar hy o.m. sy *Simfonie no 5 en 6 (die Pastorale) gekomponeer het.

    Beethoven se gehoor het nie dadelik heeltemal verdwyn nie, maar was hopeloos ontoereikend. Dit het hom aanvanklik menssku gemaak, maar later moes hy hom by die onvermydelike neerlê en het hy gespreksboekies gebruik waarin hy sy antwoorde op vrae van gespreksgenote geskryf het. Hierdie boekies is uiters belangrike dokumente al is dit nie altyd duidelik wat die vraag was waarop hy antwoord, of wie dit gestel het nie. Hy was ook gedurig in struwelinge met uitgewers betrokke. Hy het by almal voorskotte gekry en aan almal beloftes gemaak. Ook sy liefdeslewe is in geheimsinnigheid gehul. Hy was verlief op talle vroue – altyd uit ’n hoë of bemiddelde stand – maar nooit het iets daarvan tereggekom nie.

    In 1815 het hy die voog geword van sy bedorwe neef Karl wat talle pynlike, selfs banale situasies laat ontstaan het en op ’n keer selfs probeer het om selfmoord te pleeg. Tog het Beethoven hom sy pligte as voog besonder sterk aangetrek. Sy private probleme het erger geword en sy gesondheid al swakker. Met baie van sy ou vriende kon hy nie meer oor die weg kom nie, hoewel talle hom tot die einde getrou gebly het.

    Op 26 Maart 1827 is Beethoven na ’n siekbed oorlede. Schubert was ’n lid van die begrafnisstoet en Mozart se Requiem is uitgevoer terwyl ’n huldigingsrede van die dramaturg Grillparzer by sy graf voorgelees is.

    Beethoven het ’n groot aantal meesterwerke in verskillende vorms en vir verskillende instrumente (ook die menslike stem) gelewer. Vorms soos die simfonie, strykkwartet, trio, sonate, e.d.m., wat deur Haydn en Mozart tot formele volmaaktheid ontwikkel is, is deur Beethoven omgeskep tot feitlik nuwe vorms. Nie alleen het hy hier die laaste woord van die klassieke tyd gespreek nie, maar ook die eerste woord van die romantiese en moderne tyd. Beethoven oorspan die verdeling tussen klassieke en romantiese musiek. Soos ’n kolos staan hy met sy voete in albei tydperke en domineer hy die toneel.

    Beethoven se musiek het die publiek altyd diep ontroer en die verbeelding aangegryp, nie net omdat dit op sigself aangrypend en emosioneel is nie, maar ook omdat dit ’n wonderwerk bly dat ’n dowe man die meeste daarvan gekomponeer het. Sy komposisies kan in drie periodes ingedeel word. Die eerste periode duur tot die leeftyd van sowat dertig en bevat relatiewe jeugwerk. Die tweede periode begin omtrent in die tyd toe hy besef het dat sy doofheid nie genees sal word nie; die *Simfonie no 3 is ’n vroeë voorbeeld. Die derde periode, waarin hy sy subliemste musiek geskryf het, strek van omtrent 1820 en sluit in die *Simfonie no 9, die laaste vyf strykkwartette en vyf klaviersonates, en die *Missa solemnis.

    ORKES

    Ouvertures Beethoven het nie konsertouvertures geskryf soos sommige romantici nie; afgesien van vier ouvertures vir sy opera *Fidelio is die ander almal bykomstige musiek van groter of kleiner omvang vir toneelwerke. (Die Fidelio-ouverture word by die opera behandel.)

    Coriolanus op 62 (8 min) is geskryf vir ’n drama van die Duitse skrywer Collin. Die onderwerp (’n eerlike man wat die stryd teen ’n korrupte wêreld verloor) pas Beethoven presies. Na drie harde akkoorde volg die eerste sterk, onrustige tema wat Coriolanus se vasberadenheid uitbeeld om Rome aan te val. ’n Liriese, sangerige tweede tema stel sy sagsinnige vrou voor en die twee temas word pragtig verwerk. Die ouverture gee ’n voorstelling van Coriolanus se stryd en eindelike toegewing aan die smeekbede van sy vrou.

    Egmont op 84 (8 min) Beethoven het ’n volledige stel bykomstige musiek tot Goethe se tragedie Egmont geskryf, waarvan die ouverture die bekendste deel is.

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1