‘EK SOU GRAAG HIER IN MY EIE HUIS WOU STERF, MAAR DIT IS SUID-AFRIKANERS NOG NIE BESKORE NIE’
SAAM met haar regterbeen is haar lewe van haar weggeruk. “Ek is ’n wandelende lyk,” sê Carol de Swardt.
Jy glo haar.
Onder die velkanker wat byna haar hele lyf oortrek, skuil die vrou met ’n gladde vel vol sproete en ’n bos rooi hare en turkoois oë. ’n Gebore Zimbabwiër wat altyd in die son wou wees op vakansie in Mosambiek. Op haar foon het sy ’n foto van die vrou wat sy was, agter op ’n bakkie iewers op die strand van Richardsbaai in KwaZulu-Natal. In die een hand ’n bier. In die ander ’n visstok. Op ’n ander foto dra sy ’n vraggie dryfhout op haar rug waaruit sy versierings gaan maak. “Daardie vrou is nog hier binne my. Dis wat dit so erg maak.”
Want nou sit sy in ’n rolstoel en het net een been. Haar lyf is deurtrek van pyn. Die hande waarmee sy eens so avontuurlustig doenig was, lyk nou soos