![f0046-01](https://article-imgs.scribdassets.com/7x4ufduge8cify8b/images/fileV9LCBIPT.jpg)
ALLES is in skakerings van groen. Swartgroen struike groei welig in die skadu van die fluoressente geelgroen koorsboom. ’n Groepie unieke blougroen broodbome word deur olyfgroen siergras omsoom. Eenkant groei die skoonma-se-tong. Geharde blaartonge kunstig afgewerk met bleekgroen en donkergroen strepe.
Toegedraai in haar wit kamerjas, krom vingers gehaak om die knopkierie en dan om ’n blou plastieksak, skuifelstap sy tot by die bedding naaste aan haar kothuis. Haar oë is op soek na beweging, maar niks roer in die digte mis nie. Kort-kort loer sy oor haar skouer terwyl haar bewerige linkerhand sommer vanself haar doepa uitstrooi.
“Watse wit gedaante sweef innie mistigheid?” Abel sit sy bril op en stap op die balkon uit. “Eleina, dis mos jou ma!”
In haar pantoffels kom staan Eleina langs hom. “Sowaar, en so vroeg in die oggend. Wat op aarde máák sy?”
“Ek gaan nóú uitvind. Sy moenie neuk met blomme nie. Ek hou van groen in my tuin.”