![f042-01](https://article-imgs.scribdassets.com/3q287f7n40ba3ysp/images/fileKUD4BGFU.jpg)
Niemand kan die Baviaanskloof so akkuraat beskryf as sy eie boorlinge nie. Luister maar net na P.H. Nortjié se beskrywing in die openingsparagraaf van sy boek Die wildedruif val: “Faans is ’n puntenerige man wat sy huis en boerdery met ’n streng hand regeer. ’n Saak is vir hom óf reg óf verkeerd. Hoe kan dit dan ook anders hier in die Baviaanskloof tussen die Kouga- en die Winterhoekberg – in hierdie harde, ruwe wêreld met sy rotssteiltes en diep bergskeure, sy pendoring-, wildepruim- en turskvyruigtes en sy skroeiende somers en ysige winters – baie myle van die naaste dorp en spoorlyn?”
Sit ’n paar dae opsy en ry saam met ons deur dié ruwe wêreld. Ons verken diep bergskeure en ry oor 6 bergpasse – en nie minder nie as 80 keer deur riviere.
Die Baviaanskloof is 99 km lank, soos die kraai vlieg en padlangs 130 km op ons GPS-toestel. Die westelike deel (Willowmore se kant) staan bekend as die Baviaanskloof se Hartland en is toeganklik vir dapper bestuurders in ’n sedanmotor. Die oostelike deel (Patensie se kant) is ’n bergagtige natuurreservaat met uitdagende bergpasse wat viertrek verg. Jy kan hom in enige rigting ry – sommige mense sê dis makliker van oos na wes – maar op hierdie toer vertrek ons uit Willowmore sodat ons die roete op ’n hoogtepunt kan afsluit – letterlik – die Combrinkpas is die hoogste bergpas in die kloof.
Eers ry ons met die N9-snelweg in die rigting na Uniondale, maar 2 km buite Willowmore tref ons ’n padpredikant aan wat ons links stuur na die Baviaanskloof. Volg die grondpad tot jy ’n smal poort tussen hoë kranse binnery.