Die Popa-waterval grom liggies in die agtergrond terwyl ons kyk hoe die sonsondergang oor die Kavangorivier begin pierewaai. Seekoeie nurk iewers rivieraf en ’n visserman kom verby op sy mokoro. Alles word in ’n sagte skakering van oranje gebaai terwyl ek en my lewensmaat, Steph Perrin, ons wynglase klink.
Ons is in ’n deel van Namibië wat voorheen bekend gestaan het as die Caprivistrook – daai vreemde “vinger” wat grens aan die noorde van Botswana, en ooswaarts strek tot teen Zambië. Vandag is die amptelike streeksname Kavango-Oos en Zambesi.
Toeriste wat hou van kamp, sal dol wees op hierdie streke, want hier is verbasend baie kampe én toegang tot wonderlike wildreservate. Boonop is die verblyfpryse dikwels laer as in Botswana, en die parktariewe is aansienlik goedkoper.
Maar die groot vraag bly: Kan jy aan diékant van die grens ’n ervaring geniet wat net so wild en wonderlik is soos wat jy in Botswana kan geniet?
Rofweg in Rundu
Wanneer jy in die noorde van Botswana toer, kan jy hierdie gebied deur twee grensposte bereik. Indien jy van Kasane af ry, gebruik jy die Ngoma-grenspos waarvandaan jy vinnig in Katima Mulilo uitkom. Indien jy van Maun teen die westekant van die Okavangopypsteel toer, gebruik jy die stillerige Mohembo-grenspos net noord van Shakawe.
Ek en Steph het egter van Windhoek af gery, want ons was reeds in Namibië. Daarom was ons eerste kennismaking met die Kavangorivier reeds by Rundu.
Dié rivier vorm die grens tussen Namibië en Angola vir ’n lang ent en is veral gewild onder hengelaars wat tiervis, nembwe of ander