Twee vir die prys van een
As jy by Cintsa-Oos se hoofstrand staan en links en regs kyk, lyk dit asof dit groot genoeg is vir ál die strandhanddoeke in Oos-Londen. Tipies Wildekus rol die groen heuwels tot teen die Indiese Oseaan met net ’n dik strook sand wat die twee skei.
Ek staan met my tone in die water, want vir ’n Kapenaar is die verskil in temperatuur van die water merkbaar. Buiten vir swem – in die see én in die rivier – is Cintsa gewild onder branderplankryers, vlieërplankryers en vissermanne. Ek kan dink dat dit in vakansietye vól is.
Dis egter nou Mei en oor ’n vertrapping hoef ek my nie te bekommer nie.
Die enigste mense op die strand is die locals wat gaan vir ’n laatmiddagstap en ’n gesin wat vir hulle honde Frisbee gooi terwyl hulle kleinding doelgerig oor die sand agter iets kruip wat net hy kan sien.
’n Informele sokkerwedstryd is ook aan die gang en dit blyk dat daar sowat 30 mense per span is, maar ag, die “veld” is immers groot genoeg vir almal.
Vir die volgende paar dae gaan ek die pad tussen hierdie luilekker kusdorpie(s) platter ry op soek na doendinge hier op die Wildekus se drumpel.
’n Backpackers is vir almal
Is Cintsa tegnies deel van die Wildekus? Op pad hierheen tref ek Oos-Londen skrams met die N2 en net buite die stad dui ’n bord aan dat ek nou amptelik op die “Wild Coast Route” is.
Vir dié wat glo die Wildekus is eintlik die destydse Transkei, begin dit by die Keirivier, sowat 70 km verder noordwaarts en strek nog 250 km tot by die Mtamvunarivier op die voorstoep van Port Edward.
Maar dis hare kloof, veral aangesien jy pas deur ’n stad gery het wat nie regtig die oostekant van die Britse hoofstad is nie.
Net soos die res van die plekke tussen Oos-Londen en Keimond
You’re reading a preview, subscribe to read more.
Start your free 30 days