Met die son agter my strek my skaduwee lank en dun oor die grond van die bek tot teenaan die agterkant van die grot. Bo die donker kop van my skaduwee gloei die rots geeloranje in die namiddagson. Tientalle handafdrukke in verskillende skakerings van rooi pigment is duidelik sigbaar. Tussenin kan jy die strepiesfigure van mense en diere uitmaak en in die middel van die muurskildery pryk die uitgebleikte lywe van drie groot elande.
“Daar is twee dinge wat die San nagelaat het,” vertel die gids Johnny van Rooyen. “Eerstens het hulle in baie van ons mense ’n bloedlyn gelaat. En die tweede ding is hulle rotskuns. Presies hoe oud dié tekeninge is, kan niemand sê nie, maar daar word geskat dat dit enigiets tussen 200 en 6 000 jaar oud kan wees.”
Terwyl die son oor Elandsbaai sak, drink ons ’n skemerkelkie. Johnny vertel die verlate radarstasie langs die grot is tydens die Tweede Wêreldoorlog gebou om veral Duitse duikbote op te spoor.
Hy vertel ook hoe die s.adm. G.W. Hallifax aan die begin van dié oorlog in Maart 1941 met ’n Lockheed Lodestar-vliegtuig noodlottig teen Bobbejaanpunt vasgevlieg het. Nader aan die see staan ’n verlate kreeffabriek. Johnny sê dis nog aan die gang, maar met ’n veel kleiner span as in die kreefbedryf se gloriedae.
’n Mens wonder of die San destyds ook so gesit en klets het terwyl hulle die sonsondergang dopgehou het. Dalk het dié jagterversamelaars ook ’n