KALAHARI
Die dele van die aarde waaroor jy loop, vergeet nooit dat jy daar was nie. Ook nie wat gebeur het toe jou voete daar gestap het nie. Selfs jou gedagtes kan opgeroep word. En elke keer as jy daar kom, word hulle aan jou terugbesorg. Herinneringe en gevoelens syfer uit die grond en klim by jou borskas in. Daarom laat sekere plekke jou benoud voel. En ander gee vir jou asem.
As ek in die Kalahari kom, sak ek diep in die rooisand en emosies weg. Al het ek net ’n bietjie meer as vyf jaar lank hier geleef, het mooi duine en hartseer stories agtergebly. Daarom voel ek altyd effens ontstig wanneer ek in Upington stilhou. Ek is lief vir hierdie woestyn vol kameeldorings, versamelvoëls en bakoorjakkalsies. Maar ek onthou ook droogte en ander verliese.
Duine moet nie rooi wees nie
Die Oranjerivier-wynkelder se proelokaal het ’n gawe restaurant, Die Kerkmuis. Maar dit het nie bestaan in die jare (1999 tot 2005) toe ons gesin 250 km se sand- en grondpad van ’n huurplaas naby Van Zylsrus na Upington gery het vir inkopies en besigheid nie.
Nou kan ek en vriend Japie Kruger aansit vir heerlike kos en goeie wyn. Ek het nie vroeër jare wyn gedrink nie – my predikantpa het my van kleins af geleer dat dit sonde is. Deesdae raak ek heel neusoptrekkerig as die vrug van die wingerd nie goed behandel en gebottel is nie.
Die kelder het die afgelope paar jaar ’n klompie mooi wyne begin maak met name wat lekker oor die tong rol: Omstaan, Sterkstaan, Regopstaan.
Die volgende oggend begin ons noordstaan. Ek en Japie wil vanaand op die Koppieskraalgasteplaas se wye pan slaap. Dis basies teenaan Hakskeenpan, die enorme wit oopte waar die Bloodhound- supersoniese kar getoets is. Doer bo, net regs van daai lang vertikale stuk grenslyn met Namibië.
Ons ry ’n draai deur die dorp en later