Ek sit tussen my spanmaats op ’n paviljoen in Tbilisi, Georgië, en kyk rugby. Ná twee verloorwedstryde in ’n toernooi het ons uitgeval en kou nou aan komplimentêre worsrolletjies.
Dit reën, maar ek voel dit skaars. Die saligheid van ’n oormaat endorfiene spoel nog deur my. Maar sodra my spiere begin koud word, sal ek ontdek dat my ribbes gekraak is – dis wat gebeur wanneer ’n mens voor ’n Georgiese missiel beland! ’n Dokter sal my dan inlig dat daar g’n salf aan gekraakte ribbes te smeer is nie; dit herstel mettertyd vanself. En vir die volgende twee maande sal my lyf van binne af met sy eie duikklopping besig wees terwyl elke lagbui my weer aan dáárdie laagvat herinner. Maar dis orraait. Om die waarheid te sê: Ek wíl hierdie dag graag vir altyd onthou.
Twintig jaar gelede is ek tydens ’n o.14-wedstryd op Somerset-Wes uit my skoolspan gehaal. Op pad kantlyn toe kon ek uit die hoek van my oog sien hoe die Koreaanse uitruilstudent my