MYVROU, Catharien, terg my soms en sê my hart is van marmer gemaak. Ek ervaar sterk emosies, maar dit gebeur bitter selde dat ek ’n traan stort. Selfs al probeer ek my bes.
Maar ek onthou ’n middag voor die TV in 1989, by my ouerhuis op Uitenhage, toe die trane vrylik gevloei het. Ek was nege jaar oud en besig om ’n dokumentêre program genaamd Springbok-sage te kyk.
Die program het die geskiedenis van Springbokrugby vertel, met die fokus op die isolasiejare, toe Suid-Afrika nie internasionaal kon meeding nie. Die Bokke het in die 1980’s slegs 27 toetse gespeel, wat vier teen die Nieu-Seeland-Kavaliers (die nieamptelike All Blacks) in 1986 ingesluit het.
Springbok-sage het my bekendgestel aan onvergeetlike rugbyoomblikke, wat ek net te jonk was om self te beleef: Die omstrede meelbomtoets teen die All Blacks op Eden Park in 1981. Die Springbok Danie Gerber se drie (’n “droomdrie”, volgens die verteller) teen Ierland op Nuweland in dieselfde jaar. Die legendariese rugbykommentator Gerhard “Spiekeries” Viviers wat uitbasuin: “En hier is spoed, hier is spoed, hier is spoed! Hier is spoed, hier is spoed… Jaco Reinach!” Dit was ten aanskoue van die regtervleuel Jaco Reinach se puik drie ná ’n blitslopie van byna 50 meter teen die Nieu-Seeland-Kavaliers op Loftus.
Maar toe wonder die verteller teen die einde van die program wanneer Suid-Afrika ooit weer die geleentheid sou kry