Nadat ons brandstof, water en voorrade in Faya aangevul het, is ons noord na die Tibesti-berge, in die hartjie van die woestyn. Aanvanklik is die roete deur duine oorheers. As ons bestuurders drome gehad het om ooit aan die Dakar-tydren deel te neem, het hulle beslis goeie oefeninge gekry! Met die petrolpedaal plat, het hulle die duine teen skrikwekkend mal hoeke opgeklim en dan anderkant afgeduik. Die voorste Land Cruiser het nie ‘n baie goeie voorbeeld gestel nie en het twee keer vasgeval…
Konflik in die sand
Een oggend het ons aan die voet van ‘n sandsteenplatorand stilgehou. Dit was blykbaar nou tyd vir oefening! Ons moes tot bo opdraf en dan vir ‘n paar kilometer stap om weer by die voertuie aan te sluit. Die piste (roete) was met rooi en wit klippe besaai en ons is streng aangesê om níé oor die klippe te trap nie. Pierot het verduidelik dat ons in die middel van ‘n mynveld, waar landmyne tydens die Tsjad-Libië oorlog van die 1970’s geplant is, was.
Hierdie konflik het sy oorsprong in die verdeling van Afrika deur die Europese moondhede gehad en het op die Aouzou-strook, ‘n gebied in die mees noordelike deel van Tsjad langs die grens tussen die twee lande, gefokus. Wyle kolonel Muammar Gaddafi het altyd beweer dat die gebied deel van Libië is. Hy het sy eis gegrond op ‘n ongeverifieerde verdrag wat in 1935 deur die Franse en Italianers, destyds die koloniale moondhede van Tsjad en Libië onderskeidelik, onderteken is. Libiese troepe het Tsjad in 1972 binnegeval en eers in 1981 onttrek. Gedurende hierdie tydperk het gevegte nie net in die Aouzou-strook nie, maar ook tot by Faya (sowat 300km suid van die grens) plaasgevind.
Daar is hope landmyne geplant en ons was nou midde in ‘n mynveld! Toe