Ek kom uit die rigting van Johannesburg, en tuimel KwaZulu-Natal binne op ’n donderwolkryke somerdag waar die mielielande kiertsregop staan en vir die hemele salueer. My plan is om oor die volgende week by van die provinsie se kleiner provinsiale reservate aan te ry om te kyk hoe dinge gaan. By sommige was ek nog nooit nie, en by ander járe gelede – soos die Spioenkopnatuurreservaat waar ek seker meer as 15 jaar laas was. By die ingangshek stop ek en klim uit om my R50-toegangstarief binne die kantoortjie te betaal. Teen die muur hang ’n handgeverfde plakkaat getiteld “Natal Grassland Birds – Natalse Veldvoëls” waarop ’n bloukraanvoël, mahem en sekretarisvoël pryk. Dié plakkaat lyk asof dit al sedert die vorige eeu daar hang. So ook die houtkissie vir fooitjies (iemand het sy ClemenGold-plakker van ’n vrug afgetrek en daarop geplak).
Die hek word vir my Mahindra oopgemaak en ek let op die klassieke Ezemvelo KZN Wildlife-bordjie waarop twee horlosies verskyn wat die hektye aandui – 6 vm. oop en 7 nm. toe.
Dis ’n Dinsdag en daarom stil aan die soom van die dam – hier is net een groepie mense wat besig is om hulle sportnutsvoertuig af te pak: visstokke, kleurryke kampstoele en ’n koelboks.
Ek stap na die naaste ablusieblok. Binne broei ’n swaeltjie, en teëls het van een deel van die muur af geval. Die toiletdeure het elkeen ’n gat in – seker geskop deur ’n ou wat niks vis gevang het nie. Maar die toilette is skoon, hier is water in die krane én ’n toiletrol. Dis ongelukkig waar dat jy deesdae by baie van ons provinsiale reservate tevrede sal moet wees met net daai toiletrol, en nie veel verder nie.
Buite in die son korrel ek met my kamera na ’n reusereier wat in die vlakwater staan. Die doringbosse groei dig langs die paaie – kom ry liewer hier met ’n bakkie, want die pad is plek-plek grof. Na die noordekant van die dam troon die koppie wat die reservaat én die dam hulle naam