Net buite die dorpie Alice in die Oos-Kaap draai die R345 noord en kronkel deur landerye verby ’n handjievol landelike woonbuurte en die Tyumedam voordat dit met die Hogsbackpas teen die voetheuwels van die Amatolaberg uitklim.
Hoe hoër jy vorder, hoe digter word die woud en aan die bopunt van die pas laat die blaredak skaars enige sonlig deur. Dan, net anderkant ’n naambord met ’n prentjie van ’n bosvark, verander die teerpad in ’n grondpad. Dié grondpad is Hogsback se hoofstraat.
Hier’s nie rye winkelvensters, tjokvol parkeerterreine of verkeersligte nie. Die sypaadjies is oortrek met gras en jy moet tussen die stamme van bloekoms, dennebome en stinkhoute soek vir ’n parkeerplek.
Van die pad af kan jy nie regtig sien hoe lyk die winkels, blyplekke of die inwoners se huise nie, want die paadjies verdwyn tussen die bome se donkertes in. Hier heers ’n byna geheimsinnige atmosfeer... Dís juis wat Hogsback so ’n lekker plek maak om te verken.
Woude en ’n arboretum
Toe ek en my meisie, Sam, op ’n Sondagmiddag in Julie hier aanland, ry ’n streep karre die dorp uit. “Dis elke naweek só bedrywig, hier word baie troues gehou,” vertel die ontvangsdame by The Edge Mountain Retreat.
Die oord is óp die rand van die platorand. Van ’n uitkykpunt hoog bo-op ’n krans lê die ganse Tyumevallei onder jou – doer links verdwyn die teerpad waarmee jy netnou na Hogsback gery het die digte woud in.
Laatmiddag mik ons terug middedorp toe en stap ’n draai deur die arboretum. ’n Arboretum is ’n versameling van verskillende bome of struike gewoonlik