Op die breë stoep van die Sabie Brewing Company ding vrolike stemme en die geklink van bierbottels met rockmusiek mee. In die straat brom ’n groep motorfietse agter ’n lorrie oorlaai met houtstompe.
Hierdie is bosbouwêreld, en van die brouery af kan jy sien hoe die Noordelike Drakensberg die dorpie omvou – elke heuwel toegegooi onder ’n laslappiekombers van plantasies en inheemse woude.
Vroeër vanoggend het ek in die Bosboumuseum gelees dat plantasies net aangeplant word in gebiede met ’n jaarlikse reënval van hoër as 800 mm – dus meestal hoog bo in ’n opvangsgebied waar daar ook volop riviere en forel is.
Byna elke restaurant op die dorp het dié pienk vis op sy spyskaart – hier kan jy forel op verskeie maniere eet: gerook, gebraai, gerol of as ’n smeer.
Maar vir eers terug na die bier. Ek vat ’n sluk van die Glynn’s Gold Ale, genoem na Henry Thomas Glynn wat een van die eerste plase in die distrik gekoop het. Een van die stories loop dat ’n verdwaalde koeël ’n goudrif tydens ’n jagekspedisie in 1871 (gelei deur Glynn) getref het.
Die nuwe nedersettinkie en die ondergrondse myne het vuurhout en stutpale gevreet. Joseph Brook Shires sien ’n gulde geleentheid en plant toe die eerste plantasie hier in 1876.
Maar lank voor Glynn en Shires het die Sjangaan-stam na die Sabierivier as “ulusaba” verwys. Dit beteken “om bang te wees”. Destyds het die rivier gewemel van seekoeie en krokodille.
Deesdae is die mynbedryf grootliks iets van die verlede en Sabie is omring deur een van die grootste mensgemaakte woude in die land. En dié rivier vol stroomversnellings en watervalle sorg vir groot pret. Op die eerste naweek in Februarie laat waai sowat 1