WANNEER jy van die hoofpad afdraai, hoor jy dit reeds. Die geblaf. En dis nie net ’n hond of twee of drie nie. Dis ’n trop. ’n Trop wat bláf.
Kronkel van die N1 tussen De Doorns en Touwsrivier op die R318-grondpad in die rigting van Ashton, en dit raak ál meer en ál harder. Dis tjankblaffies en diep blawwe, knorblawwe en skel blawwe.
En dan, wanneer jy ’n stukkie stofpad volg verby die gehuggie Matroosbergstasie en indraai by die ingang na Roscan Sanctum, kom hulle aangedraf.
Dis sterte en snoete en snorbaarde, en ’n groot gesnuif hier by jou bene.
En hulle bláf.
Só klink dit as 47 honde saam op een werf woon.
Maar die kakofonie kom nie net uit hul kele nie. Hier is ook twee skape, 30 ganse, 30 varke, ’n hele klomp hoenders en eende, en een kalkoen. Die hele lot blêr en sis en snork en kwaak een stryk deur, so asof hulle beaam wat die honde sê.
En wat álmal sê, is: Dis etenstyd.
Dis seweuur die oggend – voertyd, soos dit hier bekendstaan – en die hand vol mense wat op die erf ronddrentel, kry rigting na ’n klein pakhuis met ’n kennisgewing wat lui: “No dogs allowed.”
Dit is die enigste plek waar honde nié op hierdie stukkie hemel in die Karoo toegelaat word nie. Want dis hulle plek dié – selfs jou GPS dui Roscan Sanctum op die kaart aan met ’n rooi “pin drop” met ’n hondepoot.